“Juffrou, juffrou!” skree almal gelyk. Elkeen wil asseblief
vertel wat hy of sy dink ‘n juffrou is.
“Kom nou, julle. Elkeen sal ‘n beurt kry om te antwoord. Ons
gaan nie vandag wiskunde doen nie, ons gaan net gesels. Is julle nie bly nie?” Die
groepie voor haar is in ekstase, want hulle hou daarvan om met hulle juffrou te
gesels.
Elkeen het ‘n ander antwoord en juffrou skryf dit op die
bord. Vir ‘n tienjarige is ‘n juffrou iets uit ‘n ander wêreld, kom sy gou
genoeg agter. Juffrou is slim. Juffrou is goed. Juffrou ken alles. Juffrou gee
drukkies. Juffrou ruik lekker. Die lys hou aan en aan. Sommige van hulle laat
sak eenvoudig nie die hande nie, want hulle wil nog en nog en nog antwoord.
Toe klein Pieter egter begin vertel van die mooi juffrou wat sy oom van vertel het, stop sy hom dadelik. Sy ken daardie oom van Pietertjie en sy wil glad nie sy stories hoor nie.
Toe klein Pieter egter begin vertel van die mooi juffrou wat sy oom van vertel het, stop sy hom dadelik. Sy ken daardie oom van Pietertjie en sy wil glad nie sy stories hoor nie.
Heel agter in die klas sit Katryn. Sy het nog nie ‘n woord
gepraat vandag hulle oor juffrou gesels nie. Sy sit met haar ken op haar hand gestut
en staar voor haar uit.
“Katryn, en wat dink jy is ‘n juffrou?” daag Dina haar uit.
Katryn lyk vir ‘n oomblik heel verwilderd. Nee, sy kan
regtig nie voor al hierdie baie kinders antwoord nie. Juffrou staan later hier
langs haar en por haar aan om ook te antwoord.
“Juffrou,” begin sy saggies. “Ek wens net Juffrou was my
mamma.”
Die klas raak doodstil. Niemand roer nie. Almal weet dat
Katryn al klaar ‘n ma het. Maar almal weet ook dat Katryn se ma baie maal saans
in die strate loop en raas.
Dina is self ook ‘n oomblik te uit die veld geslaan om te
antwoord, maar gee die kind ‘n drukkie voordat sy omdraai na haar tafel toe. Sy besluit om tog maar later 'n bietjie met haar daaroor te gesels.
Sy kom by die huis, pootuit en glad nie lus vir vanmiddag
se vergadering nie. Aan die etenstafel wil haar man goedig weet: “En wat pla
vandag, Juffrou Dina?”
“Ag, sommer dit en dat,” antwoord sy ontwykend. Sy kan vir
Katryn nie uit haar kop uit kry nie, maar sy weet ook dat sy haar liewer moet
bepaal by haar eie dinge. Mense wat voorheen wou help het sleg tweede gekom by
die pa van die huis.
Toe haar man klaar geëet het, los sy die res van haar toebroodjie
en staan op om af te dek en op te ruim. Sy het regtig nie tyd om te mors nie,
sy is ook nie lus vir eet nie.
Die namiddag kry sy nie veel gedoen nie, want die vergadering
hou toe baie langer aan as wat sy gehoop het dit sou. Sy moet jaag om vir klein
Danie by die bewaarskool te gaan haal. Sy maak verleë verskoning dat dit alweer
so laat is, sy weet hulle maak eintlik al halfdrie toe. Die altyd vriendelike
hoof van die skooltjie lyk skielik ook nie meer so vriendelik nie. Dina
besluit om aan die einde van die maand maar vir haar ‘n ietsie ekstra te betaal
vir al haar moeite en verdriet.
Petronel bespring behoorlik haar ma toe sy by die huis
stop. “Ma het geweet ek moet hokkie toe gaan! Ma het dit alweer gedoen! Hemel,
Ma, hoe dink Ma moet ek in die span bly as ek nooit gaan oefen nie?” Sy loop
gillend en huilend voor haar ma by die voordeur in. Sy gooi die hokkiestok dat
hy trek in die gang af. Die volgende oomblik klap haar kamerdeur en Dina weet
dat hulle haar nie vanaand weer gaan sien nie.
Graad 8 en vol buie! Sy wens sy kon die kind ‘n klap gee,
maar die klein wysneus is in staat om haar te gaan aankla, dus los sy maar
liewer.
Mismoedig stap sy kombuis toe om die kos op die stoof te
kry. Danie hou nie daarvan dat hulle te laat eet nie, want hy wil nog gym toe
gaan na die tyd. Klein Danie moet gaan bad ook nog, want na ete raak hy
gewoonlik sommer daar op die bank aan die slaap. Net toe sy begin dink die dag het eintlik heel rustig
verloop, lui die telefoon.
Dis Danie. "Vrou, ons kry vanaand gaste. Die grootbaas van Johannesburg is hier. Hulle is ses mense. Sal jy vir ons iets lekkers kan maak?" Voordat sy kan antwoord, sit hy neer.
Daar is nou geen ander genade nie. “Petronel!” gil sy die
gang af, maar sy weet reeds dat die kind nie gaan reageer nie. Sy storm die
gang af en ruk Petronel se deur oop. Dina haal die kind se oorfone sonder
seremonie van haar ore af. Sy kyk gesteurd op waar sy op die mat met haar selfoon besig is.
“Kom kombuis toe, jy moet my kom help.”
“Ma! En wat dan van my huiswerk? Ma weet mos hoe baie werk
ons het,” kla sy. Haar ma gee nie aandag daaraan nie, want sy weet dat die kind
altyd ‘n antwoord terug het.
Die ete was 'n sukses. Grootbaas en sy gevolg het die een na die ander 'n klomp komplimente oor haar kookvernuf gehad. Danie is in sy noppies. Sy bevordering is voor die deur.
Almal slaap. Die kombuis is opgeruim. Die huis is stil.
Dina trek die hoop boeke nader. Gelukkig is die nag nog lank, dink sy by haarself.
Almal slaap. Die kombuis is opgeruim. Die huis is stil.
Dina trek die hoop boeke nader. Gelukkig is die nag nog lank, dink sy by haarself.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking