Woensdag 27 Desember 2023

OUJAAR EN SY DINGE

 

Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor?

Dalk in afwagting op die nuwe jaar? In afwagting en hóóp op die nuwe jaar? In afwagting, hoop en vásberadenheid op die nuwe jaar?

As kind op die plaas was Nuwejaarsdag regtig vir my ‘n baie lekker dag. Ons sou die vorige aand by familie langsaan gaan braai het. Tannie Leentjie was ‘n voorslag in die kombuis en die tafel het altyd gekreun onder die oorvloed kos wat daar was. Jy moes my tannie persoonlik geken het om die omvang daarvan te besef.

Ek het baie maal gewonder wat agterna van al die oorskietkos geword het. Dalk het hulle dit ook (soos ons) die dae daarna geëet ... of dalk ook nie? Ek weet nie, maar ons het nooit in al die tye iets op tafel gekry wat jou enigsins sou laat dink het dat dit iets van gister was wat sy weer opgedis het nie.

In elk geval, die oggend van Nuwejaarsdag het hulle dan by ons kom koek en tee. Dit was so buite die gewone handel en wandel op die plaas, dat dit my áltyd laat trippel het van opgewondenheid. Ma was ‘n uithaler bakster en die koek was altyd die lekkerste van alle lekker dinge. Ma kon eintlik (so glo ek) alles op aarde doen! Niks was ooit te veel of te moeilik vir haar nie.

Nog een van die lekker dinge was dat Pa en oom Andy het ook nie op Nuwejaarsdag gewerk nie. Hulle het saam gekuier en saam sommer net niks gedoen nie daardie dag. Die geselskap tussen die grootmense was ontspanne en vrolik. By tye was hulle sommer lekker verspot ook. Ek kon my verkyk aan my stil pa wat ewe skielik vol grappies was. As ek vandag dink aan daardie dae, voel dit vir my of hulle so half verlig was dat die jaar op sy einde was.

Nou sien ek jy frons omdat ek dink hulle was verlig? Hmm, ja, dit kan dalk vreemd klink, maar in my hart dink ek hulle was verlig omdat die moeilike, droë jaar op die plaas verby was en het, soos baie van ons, geglo (of gehoop?) dat die jaar wat voorlê dalk beter sou wees en meer vreugde sou verskaf. Hoe sal ek weet?

Dit was dan my ondervinding van wat Nuwejaar is – geen gewonder en gesoek na nuwe (onuitvoerbare) voornemens vir die jaar wat voorlê nie. Geen gesukkel om die bedrading in my kop stil en rustig te kry soos deesdae nie. Dit was vir ons genoeg om die dag met familie te deel. As kind het ek nooit meer as dit verwag nie.

Mettertyd het ek anders begin dink oor Nuwejaarsdag. Eers sou ek die jaar wat verby is tot in die fynste besonderhede ontleed – al die mooi dinge en dan al die swaarkry dinge. Waarom voel dit ewig of die swaarkry meer as die mooi in die lewe is?

Ek het begin wonder oor wat alles voorlê. Ek het begin vrees vir dinge wat dalk kón gebeur. Ek het halsreikend begin uitsien na dinge wat asseblief tog dalk móés gebeur.

Dis asof jy op daardie laaste oomblik van die jaar op ‘n mespunt balanseer – óf jy het iets om oor opgewonde te wees in die jaar wat voorlê, óf jy het niks nie, amper soos om in ‘n uitsiglose tonnel te wees. Jy het niks om na uit te sien nie, jy traak dus ook nie oor dit wat kom nie.

Ongelukkig is die lewe om ons mos nie net mooi en lekker en goed nie, ha? Dit is dus ‘n gegewe feit dat teleurstellings deel van die jaar wat voorlê sal wees. Maar seblief tog, laat ons nie nou al daaroor begin top en huil nie.

Op Oujaarsdag die oggend bel ek ‘n vriendin. “Gaan ek en jy netnou ‘n koffietjie iewers drink? Ons het so lank...” nooi ek uit.

Sy val my vervaard in die rede: “Nee, glad nie vandag nie, Vriendin. Hoe werk jou dinge dan? Ons maak mos skoon!”

Ek het my verbeel sy klink ‘n bietjie uitasem toe sy die telefoon antwoord en nou weet ek waarom! Hulle maak skoon!

“Nou hoe dan nou so?” vra ek verbaas.

In die agtergrond hoor ek iets val en sy skree op ‘n kind om dadelik die water daar op te droog.

Dis vir ‘n oomblik of twee stil voordat sy my antwoord: “Ons het ‘n bietjie laat begin vanoggend, jong. Ek weet nie of ons alles skoon gaan kry nie. Die lakens hang al op die draad en die laaste klere is nou in die masjien. Gelukkig is die goed deesdae mos nie meer alles katoen dat dit stryk nodig het nie.”

Ek trek my asem verbaas op. “Jy bedoel jy was en stryk op hierdie Sondag en die huis moet ook nog aan die kant en skoon kom? Ek verstaan glad nie hoekom nie.”

Sy lag. “’n Mens gaan mos nie Nuwejaar in met ‘n vuil huis nie! Dit bring net skade en skande oor jou huis in die jaar wat kom.”

Ek sluk ‘n slag as ek dink dat my skottelgoed nog op die droograk staan en my wasgoedmandjie loop oor. Met al die kuiermense bly die wasgoed mos opgaar – as hulle weg is, sal ons heeldag was, glo ek.

Voordat ek verder kan praat, sny sy die oproep kort: “Dankie vir die uitnodiging, my vriendin. Ons moet regtig iewers in die jaar wat kom weer ‘n slag lekker kuier.”

Ek kyk om my rond en besef dat ek darem regtig die onheil oor my huis bring met alles wat so half ... nie skoon is nie?

Natuurlik kuier ons toe die Sondagaand tot amper ligdag met die familie. Die kinders is later almal bed toe, maar ons grootmense sit om die vuur pas die honde op. Die hele dorp skiet klappers en ons honde is angsbevange ...

Ons sit en gesels oor die jaar wat verby is. Hier en daar pink een ‘n traan, maar net daarna skree ons weer soos ons lag. Ag, dis lekker om met jou hartsmense te kuier en weer ‘n keer sommer net jouself te kan wees.

Ons praat oor Nuwejaarsvoornemens. Ek vertel vir hulle dat ek voorheen so ver gegaan het om ‘n joernaal met al my voornemens te begin – twee jaar na mekaar – maar dit nooit gebruik het nie. Natuurlik dink die mans dat ek iewers ‘n klein skroefie los het om so oor “net nog ‘n dag op die almanak” te voel! Ek erken skaam dat ek nog altyd daarvan hou om dit te doen, maar dat ek besluit het ‘n joernaal is darem seker nie nodig nie.

Vra een spottend vir my: “Nou waar skryf jy dit deesdae neer ... teen die toiletmuur?”

Ek vervies my bloedig en antwoord hom nie. En dadelik weet ek: ek moet in die jaar wat kom beslis leer om my humeur te beteuel. (Ek mag seker?)

Vroeg op Nuwejaarsoggend is daar ‘n klop aan die deur. Die hele huis slaap nog, maar ek probeer nou orde in die kombuis kry voordat almal kom ontbyt soek. Die manne sou kamma gisteraand skottelgoed gewas het, maar daarvan het niks gekom nie.

Toe die klokkie ‘n tweede keer dringend skree, draf ek deur toe. Ek stryk my hare vinnig plat en knoop so in die loop my japon toe. Wie op aarde is so vroeg op straat? As daar so vroeg aan die deur geklop word, kan dit net siekte of dood wees. ‘n Yskoue gevoel kriewel met my ruggraat af.

Ek maak die deur oop ... regtig? Ek sukkel om nie te wys hoe verbaas is ek om te sien wie dit is nie.

Voor my staan die bure: Pa, Ma en vier orrelpypies. Almal is netjies uitgevat in, soos dit vir mý lyk, hul Sondagklere. Die seuntjies se wilde hare is nat gekam en die sussie se haartjies is styf in ‘n bokstert.

“Môre,” groet ek so half huiwerig. Hulle reageer glad nie. Ek frons liggies en vra: “Wil julle in kom?”

Buurman skud sy kop. “Nee, ons kom julle net ‘n heppie New Year toewens,” kondig hy aan en steek sy hand na my toe uit.

Ek skud verbaas hand met hom. “Mooi Nuwejaar vir julle ook, Buurman.” Ek wys na die kleintjies wat so netjies aangetrek is. “Gaan julle iewers heen? Julle is so deftig aangetrek,” wil ek nuuskierig weet.

Buurvrou kyk my verontwaardig aan. “Nee, hoekom sal jy nou so dink? Ons het nie geld vir uitgaan nie. Die nuwe klere het te veel gekos.”

Sy sien die verwarring in my oë en lag simpatiek. “Dit lyk vir my nie jy verstaan nie. ‘n Mens moet mos nuwe klere op Nuwejaarsdag aantrek. Jy gaan die jaar nuut in, sien. Dit bring voorspoed in jou huis.”

Sy kyk so in my sitkamer rond en ek is seker sy sien die skeur in die sitkamerbank se bekleedsel. “Julle kan dit gerus ook probeer, hoor. Dit werk regtig!”

Nadat hulle weg is, kyk ek met ander oë na die verweerde sitkamerstel. Ai, dink ek so by myself, dis jammer dat al die winkels vandag toe is. Waar kry ek nou skielik nuwe klere om aan te trek?

En net daar pak die ding my beet. Ek het gesweer ek maak nooit weer in my hele Nuwejaarsvoornemens nie, maar sowaar, ‘n mens moet mos darem beplan vir die toekoms, ha?

Ek tap water in om die skottelgoed te was, maar vergeet byna om die kraan weer toe te draai. My kop is by Oujaar ... en Nuwejaar ... en die verganklikheid van alles ... en dat ‘n mens ‘n keuse het met sommige dinge, maar nie altyd nie.

My gedagtegang word wreed onderbreek deur die gaste wat nou almal gelyk opgestaan het. Die mans vra vir koffie en die kinders kla hulle is honger. Ek besef ek het nog my slaapklere aan en verskoon myself om te gaan aantrek.

My man kry my waar ek op die hoek van die bed sit met my kop in my hande.

“Vroutjie, is daar fout iewers?” wil hy besorg weet.

Ek skud my kop. “Ha-a, ek sit maar net en wonder oor die jaar wat kom – watter versekering het ons dat ons volgende jaar hierdie tyd weer so saam met almal sal kan kuier?”

My man verstaan nie my skielike diepsinnige denke nie. “Nou hoe dan nou so, my liefde?”

“Ag nee wat, los maar, my man. Ek wonder mos maar so oor dinge. Jy weet mos, ha?”

Nou is dit jare later en alles het verander. Ek en manlief is op ons eie in ons klein nessie. Niks meer groot familiekuiers nie. Niks meer bure met stringe kindertjies nie. Net ek en hy en ons ‘onthou-jy-nogs’ van gister en eergister en lank gelede.

Ons wag ook nog vir die Oujaar om te kom en verby te gaan, ja. En ons dank Hom wat ons die genade gee om nog saam te kan wees. Ons bid van Hóm die genade om die jaar wat voorlê tot sy eer te kan gebruik.

 

Maandag 18 Desember 2023

DIE DAG TOE DIE KIND IN DIE HEMEL WAS

 


Marthatjie was maar drie toe haar babasussie dood is. Die slim mense reken dat ‘n kind nie so ver terug kan onthou nie, maar Martha sal vandag ten sterkste met jou daarvan verskil.

Van die feit dat haar ma toe reeds meer as ‘n week lank nie by die huis was nie, kan sy glad nie onthou nie. Dat die sussie vir net so lank baie siek was, weet sy ook niks van nie. Toe Mamma teruggekom het huis toe na ‘n dooie sussie toe, kan sy ook glad nie onthou nie.

Wat sy wel onthou – dit is in haar verstand gegraveer met letters van vuur – is die dag van die begrafnis. O ja! Daarvan kan sy jou vandag, baie jare daarna, nog in detail vertel.

Weet jy dat sy in die hemel was? Kom ek vertel jou daarvan ...

Toe die sussie dood is, het almal vir haar vertel dat sussie hemel toe is na Liewe Jesus toe. Waar is die hemel? En waar is Liewe Jesus? Sy het hierdie goed glad nie verstaan nie, maar was te ... ek het nie die woord om haar gemoedstoestand van daardie dae te beskryf nie ... om eens te probéér om te vra waar die hemel en Liewe Jesus is. Al wat sy geweet het, is dat Sussie nou nie meer by hulle was nie en nooit weer terug sou kom nie.

Op die dag van die begrafnis het iemand haar kom haal en haar na hierdie plek toe gevat. Is dit hoe die hemel lyk? Is dit regtig die hemel hierdie?

Die sussie was in haar klein kissie op ‘n stoel in die oupa se kantoor wat buite op die voorstoep was. Niemand was ooit toegelaat om in daardie kantoor te kom nie. Al sou die deur ook oop staan, sou jy in jou lewe dit nie waag om daar in te gaan nie. Vandag kan Martha dit nie probeer verduidelik van wanneer presies die kind begin glo het dat sy in die hemel was nie. Dit was maar net al die jare so dat sy dit geglo het.

Iemand het vir Marthatjie gesê om haar sussie te groet. Sy het nader gestaan en moes so amper op haar tone staan om by te kom ... of dalk het iemand haar dalk opgetel? Haar ma het vanuit die bondel mense in die vertrek gesê: “Moet haar nie op haar mondjie soen nie.” Marthatjie het gemik vir die sussie se wangetjie, maar iemand anders het bygevoeg: “Ag, soen haar maar op haar mondjie!”

Wat sy toe ook gedoen het daardie dag wat sy in die hemel was.

Baie, baie mense. Baie, baie mense wat baie, baie huil. Die kind se pa en ma huil die meeste. Op ‘n manier maak dit haar baie bang om naby hulle te wees. Hulle sien haar nie. Hulle hoor haar nie. Hulle weet nie van haar nie. Hulle huil net die hele tyd.

Toe is dit dat daardie een tannie, tannie Belia, haar oor hierdie verwilderde kind van drie ontferm. Marthatjie was nie ‘n klein dogtertjie nie en dit moes seker baie swaar gewees het om haar die hele tyd op die arm te hou, maar dit is presies wat hierdie engelvrou gedoen het – sy het die kind nooit neergesit nie. Hoe lank die diens daar by die graf was, weet ons mos nie nou meer nie, maar tannie Belia se arms het geweier om moeg te word.

By tyd wou Marthatjie gaan seker maak of Mamma en Pappa nie al ophou huil het nie. Dan het sy vol hoop tot by hulle geloop daar waar hulle op stoele langs die graf gesit het. Hulle het haar nie gesien nie. Hulle het haar nie gehoor nie. Hulle het nie van haar geweet nie. Hulle het net die hele tyd gehuil. Dan het sy weer stil en stokkerig omgedraai na die arms van die engelvrou wat haar styf vasgehou het. Die arms van die vrou wat haar veilig laat voel het. Die arms van die vrou wat gemaak het dat haar hartjie nie so erg in haar keel geklop het nie.

Dit is hierdie dag van die begrafnis wat hierdie kind se lewe totaal en al verander het. ‘n Lewe waar sy onder andere geglo het dat sy vir ‘n oomblik in die hemel was ...

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...