foto met vergunning van Maria M Oosthuizen
https://www.facebook.com/maria.m.oosthuizen/
'n Ware verhaal van 'n sussie van 9 wat haar sielsmaat, haar boetie van 7 verloor in ñ skietongeluk.
Sy gaan staan by die kas met die foto’s. Die foto trek haar, dit praat vandag weer met haar. Sy
hoor nog altyd, na vier en twintig jaar, daardie vrolike laggie. Die pyn is
opeens weer so fel soos die dag toe dit alles geëindig het. Sommer so opeens
was alles oor en was haar boeta weg.
Sy sit in die kombuis in die hoekie. Sy dink nie iemand kan haar hier sien sit nie. Nee, niemand weet van haar nie. Hulle is almal te besig – Ma en Pa het nog nooit ophou huil nie. Die twee ouer sussies het ook baie gehuil, maar hulle lag nou weer partykeer. Die baba is nog te klein om te weet.
Om wat te weet?
Sy wil dit glad nie sê nie. Sy wil dit ook nie dink nie. Iemand het vir haar gesê dat haar boetie-maatjie na Jesus toe is. Hoe kan dit dan waar wees? Het hy haar sowaar hier alleen by die huis gelos? Regtig? Sommer net so? Nee, hy sou dit mos nooit aan haar gedoen het nie, sou hy?
Hy het.
As sy doodstil sit, hoor sy nog hoe hy haar vanoggend gejaag het buite op die sementvloer. Sy het die hele tyd gehoor hoe klap-klap sy kaalvoete op die vloer en sy het geweet hy kom nader en nader en hy gaan haar sowaar vang. Plaas dat sy hom gelos het dat hy haar vang, dan kan sy nou onthou het hoe voel sy armpies om haar lyf. Maar sy het vinniger as hy gehardloop en hy kon haar nie vang nie. Ai.
Sy loop saggies uit buitentoe. Die maan skyn net nie helder genoeg om alles te kan sien hier langs die koeler nie, maar sy staan by hulle ‘plaas’ waar hulle so lekker geboer het. Kyk, hier is die kraal vir die beeste. Die ou dikpenskriek het ontsnap, maar hy was ‘n lekker groot, vet bees in hulle kraal. Kyk, hier is nog ‘n paar toktokkies ook. Hulle wou nog môre die ‘skape’ op die lorrie laai om te gaan verkoop. Boeta was ‘n fluks boer, want hy het altyd gekyk hoe werk Pappa met die regte skape.
Boeta! Het hulle regtig gesê jy is dood?
Waar moet ek vanaand slaap?
Boeta en sy het ‘n bed gedeel. Hy het by die kop geslaap en sy by die end. Party aande het hulle sommer vir snaaksigheid omgeruil sodat hulle kan voel hoe slaap dit op die ander end van die bed.
Waar gaan ek vanaand slaap? By die voete of by die kop? Wie sal groot asseblief by my kom slaap vanaand?
Sy sluip kamer toe. Dit is donker, maar dit maak nie saak nie. Gaan lê op die bed. Sy voel-voel onder die kussing. Haar handjie klou krampagtig aan die nagklere wat sy daar kry. Boeta se nagklere. Sy druk dit voor haar gesiggie en gaan troosteloos aan die huil. Haar boeta gaan nooit, ooit weer hier saam met haar kom slaap nie.
Dit was Junie-maand. Dit was snerpend koud. Daardie troostelose koue wind wat nie wou ophou waai nie. Die begrafnis op 'n ander plaas ‘n paar dae later. Die slaap in die vreemde huis. Die baie mense. Alleen. Die hele tyd alleen.
Terug skool toe sonder haar liefboetie. Alles loop verkeerd – by die skool ook. Die lewe het sy sin verloor. Sy druip. ‘n Tweede verlies vir hierdie hartseer dogtertjie, want nou is al haar maatjies in die volgende klas...
Vakansies het sy saam met Pa veld toe gery, want sy seunskind was dan nou weg hemel toe. Het Pa dit ooit agtergekom dat sy probeer het om dit vir hom makliker te maak?
Sy staan vermoeid op en stap kombuis toe. Hoeveel keer het sy gewens om ook maar hemel toe te kon gaan saam met Boeta? Maar nee, jare later het sy nog steeds (alleen) op hulle bed geslaap – soms by die voete, soms by die kop.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking