Donderdag 11 Januarie 2018

PREDIKER 12 in leketaal

Ek lees anderaand Prediker 12 en ek besef hoe min verstaan ons eintlik van hierdie lieflike beeldspraak. Dit gaan so half verlore, want ons weet nie regtig wat ons lees nie. Ek soek na die verklarings vir die verskillende beelde en, met groot respek, skryf ek dit nou in allemanstaal. Vergewe my asseblief as jy nie met my saamstem nie.
Dink aan jou Skepper in jou jong dae...
1. Dink aan die Here terwyl jy jonk is, voordat die moeilike tye kom waarvan jy sal sê: “Hierdie is ‘n baie slegte tyd in my lewe. Wanneer ons baie oud word, raak ons korttermyngeheue weg en onthou ons net die dinge van ons jongdae. As God nie deel daarvan was nie, sal ons Hom nie nou onthou nie.
2. In daardie tyd sal ons soveel pyn hê dat dag, nag, son, maan, sterre – alles sal vir ons soos donkernag voel. Soms, net vir ‘n oomblik, sal ons goed voel. Dit sal voel soos wanneer die son deurbreek ná ‘n lekker bui reën, maar ook dit sal net vir ‘n oomblik of twee wees voordat die pyn weer oorneem.
3. Ons kon nog altyd staat maak op ons hande. Hulle is behoorlik soos soldate wat ‘n stad oppas – altyd daar en altyd betroubaar. Opeens sal hulle nie meer kan doen wat hulle moet doen nie. Ons hande en arms is nou soos oumanne wat bewe en kromgetrek is. Selfs ons tande laat ons nou ook in die steek. Ons het hulle verloor en die paar wat oor is kan nie meer die kos fyn kry nie.
4. Ons sal minder en minder praat. Die dinge wat in ons binneste is, sal daar bly soos agter geslote deure. Ons sal selfs ook nie meer goed kan sien nie. Om te slaap sal ook nie meer lekker wees nie. Ons sal lank voor die hane kraai opstaan, baie verlig omdat die bed ook nie meer ‘n troos teen die pyn is nie. Wanneer die hane later kraai, hoor ons dit ook nie meer nie. Die oggend is ‘n verligting ná die nag se pyn.
5. Ons sal altyd bang wees dat ons sal val. Selfs om regop te staan sal vir ons ‘n bedreiging inhou, want sê nou maar ons val? Ons sal ons grys hare verloor soos wat die amandelboom sy wit blomme afgooi. Ons liggame is so vertrek van die ouderdom, dat ons al meer soos ‘n sprinkaan lyk – oud en verweerd, die knieë vorentoe, die armpies so half agteruit, met ‘n té groot kop vir die ou lyfie. Ons kan glad nie meer so maklik loop soos voorheen nie. Eintlik is jy nou selfs ‘n las vir jouself. Niks kan ook meer op hierdie stadium jou liggaamlike begeertes opwek nie.
6. Nou breek die tyd aan om na jou ewige woning toe te gaan. Ons is soos ‘n kosbare lamp wat aan ‘n silwer draad uit die dak uit hang. Wanneer hierdie draad breek, val die lamp stukkend en daar bly niks van oor nie.
Wanneer jy by ‘n put water trek, is daar ‘n wiel wat draai om die kruik of houer te laat afsak tot by die water. Wanneer hierdie wiel breek, kan daar nie meer water getrek word uit die put uit nie.
7. Dit is dan, na al hierdie dinge, wat jy terugkeer na die aarde toe en weer stof word en jou gees terugkeer na God toe wat dit vir jou gegee het reg aan die begin.

Soos dit in die Bybel opgeteken is:

1EN dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie —2voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën,3dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word,4en die deure na die straat gesluit word, terwyl die geruis van die meul verswak; en hy opstaan as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied dof sal word.5Ook sal hy bang wees vir ’n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.6Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val7en stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het. Alles tevergeefs, sê die Prediker, dit is alles tevergeefs.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...