Woensdag 25 September 2019

WINDE VAN VERANDERING


Gister was dit weereens een van daardie dae – jy weet mos, man, dáárdie dae! Nie? Sjoe, dan weet ek nie so mooi nie. Dalk is jy dan nie ‘n ma nie of daar is ander reëlings in jou huis as in myne. Overgesetsynde, dit was vir my een van daardie dae wat vir altyd en altyd onthou sal word.
Ek praat natuurlik van die dae wat jy jou kind vat om óf ‘n leerlinglisensie, óf die ware Jacob te gaan kry. Nou moet jy asseblief weet ek het drie kinders. Indien elkeen net een maal vir elkeen sou gaan, bring dit my op ‘n totaal van ses keer. Soos dit maar deesdae in die meeste huishoudings gaan, was ek egter nie so geseënd om net die minimum kere daar te gaan sit en wag nie.
Alles gaan goed en is voor die wind, totdat jy die kind (nou op pad na die kantoor toe) groet en alles van die beste toewens. Daar gaat kind en hier sit jy in die kar. Ek het al gewonder of al die ma’s so voel wanneer daardie kind so aanstap om die toets der toetse te gaan aflê. Dis ‘n soort van ‘n verlatenheid wat ek nie in woorde kan uitspreek nie, hoor. Op daardie oomblik voel dit of jy alleen op hierdie aarde is en daar is niemand, maar niemand, om jou stress mee te deel nie.
Ek meen nou te sê, jy bel tog nie op daardie oomblik iemand en sê vir haar dat jy nou so panic dat al die hare op jou lyf regop staan nie? Dis tog laf, is dit nie? Dus, in daardie lig gesien, hou jy jou bek en jou selfoon waar hulle hoort en suffer en bloei alleen.
Want, jy sien, as daardie kind wat nou so manhaftig daar ingestap het, kom uitstap met ‘n ‘dit was alweer ‘n flop’ houding, is jy die een wat moet smile en maak asof dit die mooiste dag op aarde is. Maar jy is ook die een wat presies moet weet om nie jou mond verkeerd oop te maak nie. Seker dié dat die spreekwoord lui: ‘n Toe bek is ‘n heel bek!
Onrustige wese wat ek is, kan ek sowaar nie vir so lank agter die stuurwiel bly sit nie. Uit die kar uit. Oor die staal kabel wat dien as afskorting vir motors om te parkeer. Kry jou sit op die bankie. En bid.

Nee, eintlik begin jy al veel vroeër bid. Ek dink dit begin die oomblik wat hy/sy uit die kar uit klim al. Jy sê: “Jy moet lekker maak, hoor,” maar intussen bid jy al kliphard. Jy bid vir die kind om logies te kan dink. Jy bid dat die kind mooi vriendelik sal wees, al is die stress so hoog soos die hemel daar bo ons. Jy bid vir die spietkop. Ja, jy bid veral vir die spietkop om tog met sagte oë na jou kind te kyk en met nog sagter woorde jou kind sal hanteer. Want sien, jy praat nie hard met ‘n kind wat stress nie ... maar dit behoort hulle mos al te weet, dan nie?

Net gister sit ek weer op daardie bankie. Die wind waai my in ‘n ander bloedgroep in. Die stof doen ook niks goeds aan my sinus nie. Ek sit daar en probeer so waardig as moontlik my kapsel in bedwang hou terwyl my neus voel soos ‘n verstopte worsmeul. Ogg, dis regtig nie goed vir my selfbeeld nie, hoor.
En toe kom dit by my op: Waarom moet die wind altyd, maar altyd waai wanneer ek daar moet gaan sit? Of is dit net dat ons die dae wat die wind waai mooi versigtig uitkies? Of, en dit klink vir my na die beste antwoord, is dit net my stormagtige geaardheid wat die wind met ope arms uitnooi om asse groot blief tog te waai?
Ek het so pas besluit dit is maar goed dat my sittery op daai bankie nou einde se kant toe staan. ‘n Mens kan dalk net op ‘n dag besluit genoeg is nou genoeg, nou gaan slaan ek ‘n tent op daar voor daardie kantoor. Dink nou net hoe lekker sal dit wees? Kampstoel, gasstofie vir koffiewater kook en ‘n agterna ‘n bietjie skuins lê. En wanneer kind uiteindelik opdaag, mét of sonder die papier in die hand, is jy uitgerus en perdfris.
Ek dink nogal dit kan werk, man!

Saterdag 21 September 2019

BYGELOWIG? NOOIT NIE, MAN!


Of ek bygelowig is? Nee, hoekom vra jy? Ek het nou wel ‘n ding oor ‘n paar goedjies, maar ek kan nou nie eintlik sê dat ek bygelowig is nie.
Ek glo jy stem saam met my as ek sê dis baie, baie ongelukkig as die sout in jou huis op raak. Ja, ek sweer ek maak nie daardie aand kos as ek die laaste teelepel sout in die vleis moet gooi nie. Ha-a, daai aand eet ek en my liefie brood, maar die laaste sout sal nie gebruik word nie.
En as my spieël breek? O, my aardetjie tog! Onthou jy die gediggie wat ons in die skool geleer het? Martha het haar spieël gebreek en Martha is so naar. Nou gaan sy ongelukkig wees vir bykans sewe jaar. Ek hoef nie verder uit te brei nie, ha? Moeilikheid is jou voorland, my maat!
Wat my laat dink aan die dag wat ek my pa se skeerspieël gebreek het, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Ai, wat ‘n seën is dit om te kan onthou, dink jy nie ook so nie?
In elk geval, ek is alweer besig om myself in die rede te val ... kan mos nooit ‘n storie vertel en klaar kry daarmee nie. Ek wou jou eintlik vertel van my dertiende verjaardag.
Hmmm, da gaat ons alweer! Dertiende verjaardag, sê jy? Glo jy dat dertien ‘n ongelukkige getal is? Ek dink nogal nie so nie, dis net dat my dertiende verjaardag so ‘n bietjie van ‘n ramp was.
Die hele familie is in Windhoek vir die troue van ons ‘groot’ niggie. Jong, dis ‘n storie en ‘n half. Vroeg Saterdagoggend is almal haarkapper toe. Ja, hierdie dogtertjie van amper dertien se hare word ook getease en bygekom met die spray. Die kapsel is so hard, g’n niks sal hom kan versteur of van my kop af breek voordat ons klaar gekerk en getrou het nie. Maar ons het mos in daardie dae geglo jy sit nie jou voete by die kerk se hekkie in as jy nie ‘n  hoed op jou kop het nie. Nou hoekom is die hare so styf en kliphard die lug in gestuur as die hoed moet op die kop? Vra jy my! Soos my kind altyd sê: “Nee, sê jy maar, netnou sê ek verkeerd.”
Die onthaal was laat namiddag klaar en ons sou nog terug ry Maltahöhe toe. Maar ken jy hoërskool kinders? Lida (my ousus) en Koeks (my niggie) wil asseblief vanaand eers nog gaan fliek. Hulle wil Hawaii gaan kyk. Ek kla nie, ek is tog te bly ons kan ‘n slaggie moevies toe gaan. Al wat my toe pla, is toe ek daardie hoed van my kop af breek, is die hare soos ‘n verskrompelde piramide vasgemessel op my kop. Ek kan nie onthou wat ek gedoen het om beter te lyk nie, maar ons is moevies toe saam met my pa.
Hier moet ek my storie eers onderbreek. Ek weet nie van jou nie, maar ons is geleer dat jy sekere klere na sekere plekke toe aantrek. As koshuiskind was daar mos nie baie nie, maar jy het geweet: hierdie een trek jy Kinderkrans toe aan, hierdie een trek jy kerk toe aan as Ma en Pa vir die kerknaweek in die dorp is en so het elke rokkie sy doel gehad.
Toe ek hierdie Sondag opstaan in Windhoek, traak ek vir ‘n oomblik g’n niks oor wat Ma gaan sê nie en ek trek my Kinderkrans romp en trui aan. Vreemd genoeg het Ma geen kommentaar daaroor gelewer nie. Dalkies wou sy nie met die kind raas op haar dertiende verjaardag nie? Ag, vandag maak dit mos ook nie meer saak nie.
Nou moet eers verduidelik wie is ons almal wat die dag die pad terug vat. Lida en Koeks was toe in Mariental in die hoërskool en ek en Belia (my sus) in Maltahöhe. My pa en oom Andy, Koeks se pa, het beurte gemaak om die ‘groot’ kinders Mariental toe te vat na ‘n uitnaweek. Hierdie keer was dit oom Andy se beurt om Mariental toe te ry, maar hy het ‘n hartprobleem gehad en het daardie dag glad nie goed gevoel nie. Die pad Mariental toe en daarna nog Maltahöhe toe, was net eenvoudig te veel vir hom.
Ons stop op Kalkrand. Ou Andy is regtig nie lekker nie, hoor. Daar word toe besluit my pa en tannie Leentjie sal met Lida en Koeks Mariental toe ry met ou Andy se Holden. My ma, ek, Belia en ou Andy is in Pa se Ford-bakkie op pad Maltahöhe toe. As jy op die kaart kyk, sien jy die pad van Kalkrand af Maltahöhe toe word nie eens aangedui nie. Dit was ‘n grondpad, maar gewoonlik in ‘n baie goeie toestand.

Nou moet jy asseblief net weet hoe dit toe voor in die Ford lyk. My ma het haar lewe lank die gewoonte gehad om die hele spasie by haar voete vol te pak. Waar sy haar voetjies gesit het, weet g’n mens nie. Ons was mos in Windhoek by die winkels en daar was onder andere ‘n klomp geelwortels en wat nog als. Moenie my nou vra  nie, ek weet net dit was ‘n pakkasie daar by die voete. Onse oom Andy moes toe maar sy trap daar tussen als kry toe hy op Kalkrand by ons kom inklim.

Die pad is stil en ons ry dat ons anderkant kan kom. My ma is ‘n versigtige bestuurder en het nooit die spoedgrens oorskrei nie, maar daardie dag is daar nie tyd vir hana-hana nie. Ek het ‘n slag of twee gekyk, maar sy het sowaar nie te vinnig gery nie, glo my maar.
Ek sit en blaai in ‘n Huisgenoot. Ma het hom nooit gekoop nie, maar hierdie een het op een of ander manier by ons beland.
Skielik is Ma op die briek, maar die Ford het sy loop gekry en ons is op ‘n skerp hoogte en van stadiger is daar geen sprake nie. Die pad is vol perde en die outjie wat na hulle moet kyk, is doer onder iewers besig met sy eie dinge. Jy sien, die pad is hoog opgevul sodat daar so ‘n bietjie van ‘n klein afgrond is na waar die mannetjie ronddwaal.
Ma mik hier en mik daar, maar Ford gly op die los grondpad. Van stop is daar hoegenaamd geen sprake nie. Die perde maak so ‘n bietjie pad vir ons, maar een steeks een besluit dit werk nie vir hom nie. Sien hy sowaar kans vir die Ford! Dis met ‘n aaklige slag wat ons hom tref. Die enjinkap vlieg oop en is skielik hier teen die voorruit.
Skielik is als stil. Grafstil! Vir ‘n lang oomblik sit ons daar. En toe ... stadig, stadig, stadig begin Ford se kind na links oorhel. Dit kraak en raas. Ek kan nie onthou dat een van ons ‘n geluid gemaak het nie. Dit was net die Ford wat murmureer het oor hierdie skuinsneukery die afgrond af.
En daar rol ons om en om tot onder.  En toe weer hierdie onaardse stilte.
Ons is almal uit en gaan sit ‘n endjie weg van Pa se stukkende Ford af. Ma is uit haar skoene uit en stuur my om dit te gaan soek in die kar. Jare later het sy erken dit was ‘n poging om my asseblief te laat ophou huil. Ja, die vrou kan mos oor als tjank, man. Op daardie stadium was dit uit jammerte vir Pa oor sy kar nou min of meer in sy maai was ... en vir Ma wat seker nou raas gaan kry by Pa.
Nou moet ek jou vra, het jy al ooit in ‘n omgekeerde kar probeer soek na skoene? Die dashboard is onderstebo, onthou. Al wat ek kon sien, was (soos dit vir my gelyk het) honderde wortels, maar geen skoene van enige aard nie. Waar Ma haar skoene gekry het, weet ek nie meer nie. Ek weet net ek kon dit sowaar nie kry nie.
En daar sit ons in die sand en wag vir ‘n geleentheid Maltahöhe toe. Liewe oom Andy het kort-kort ‘n hartpilletjie onder die tong gedruk en Ma het heeltyd gepleit: “Ou Andy, moet tog net nie nou doodgaan nie, my broer.”
Ma sit opeens regop en kyk na my. “Ja, dit het jy nou daarvan om jou goeie klere vandag te wil aantrek. Kyk hoe lyk jy nou!”
Nou vra jy my hoe voel ek oor die dertiende van die maand? “Nee, sê jy maar, netnou sê ek verkeerd.”

Sondag 08 September 2019

AREND OF KALKOEN?


Jy het vir seker al die storie gehoor van die arend wat deur die moeder-kalkoen uitgebroei is. Die gevolg was dat die klein arend op die grond loop en pik het saam met sy stiefboeties en -sussies en nooit bewus was daarvan dat hy eintlik kan vlieg nie. Op ‘n dag sien hy toe ‘n arend hoog in die lug vlieg en hy besef – ek is ‘n arend. Ek hoort in die lug!

Ek het hierdie storietjie al baie maal gehoor, maar nog nooit op myself van toepassing gemaak nie. Nee, ek weet regtig nie hoekom nie, hoor.
Ek sit nou weer en kyk na ‘n program waar hierdie klein arendjie bespreek word ... en dit daal op my neer! Sowaar! Ek is 65 en ek het vanaand vir die eerste keer in my lewe besef ek is ‘n arend. En hoe meer ek die ding bedink, hoe meer besef ek dat ek eintlik al hoeka vlieg, maar dat ek nog altyd saans saam met die kalkoene en hoenders kom slaap.
Simpel? Laf? Ja, seker. Maar ek het ‘n ander woord daarvoor. Ek hoor nie dat mense nog baie praat van iemand wat ‘steeks’ is nie, maar dis nou ek daai. So steeks soos ‘n hardegat donkie wat besluit het hy staan waar hy staan. Ja, dis nou ek daai.
Ek moes nou behoorlik inventaris hou van al die redes waarom ek in die lug behoort te bly. En sowaar, daar is nogal ‘n lysie en ‘n half, hoor.
Nou hoekom dan die stupid gewoonte om maar liewer saam met die hoenders in die aand te gaan slaap? Hoekom bly ek dan sommer vir weke en maande saam met hulle? Hoekom, vra ek jou?
Die slotsom is die vreeslike mooi woordjie: nederigheid. Ja, dis mooi en goed en baie beskaafd om nederig te wees, maar elke ding het sy perk.
Waarom, o waarom wil jy jou lampie onder die spreekwoordelike maatemmer wegsteek? Of nog erger, waarom blaas jy vir lampie dood en bêre hom in die besemkas? Ja, hy kry nie eens ‘n ereplekkie iewers in ‘n vertoonkas nie, hy word onseremonieel in die besemkas tussen die besems en skottels en skoonmaakgoed gedump.
Hoekom sou jy so ‘n dom ding wou doen?
Opeens spring die waarheid vierkantig voor my: Jy doen dit omdat jy nog nooit in jou eie vermoëns geglo het nie. Die hele heelal sien dat jy ‘n arend is en respekteer jou daarvoor, maar jy ...? Wat doen jy?
Jy sit daar op die mishoop saam met die hoenders en Arend vra jou wat maak jy daar. Jou antwoord? Ag, ek doen maar my dingetjie so stilletjies, hoor. Ek is nou maar wie ek is en ek geniet wat ek doen, maar moet tog net nie ‘n ophef daarvan maak nie, seblief tog nie.
En nou wil ek vir jou kom sê: Sies vir jou! Gebruik jou vlerke en vlieg hoog, arendskind.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...