Vrydag 29 September 2017

MENSGEMAAKTE BOEIE

Wanneer jy snags nie kan slaap nie, gaan jou gedagtes baie maal heeltemaal op loop. Dit is so half of dit iets buite jou is en jy is net die toeskouer, of in hierdie geval, die toehoorder. Soms gaan jy op 'n ongekende reis, ander kere is dit ou bekende stofpaaie waarlangs jy al male sonder tal geloop het, maar jy loop hom weer 'n keer met die vaste oortuiging dat jy sowaar hierdie keer nie by dieselfde eindbestemming gaan uitkom nie. (kan 'n mens so dom wees?)

Ek sien op die internet 'n foto van 'n grafsteen wat 'n pa vir sy verlamde seuntjie opgesit het na sy dood. Die rystoel staan leeg en die seuntjie is regop, rykend na die sterre. Wat 'n wonderlike wete vir dipa – my  kind is uiteindelik vry van sy gebrek. Hoeveel maal het die kind, of die pa, begeer dat hy kon losbreek uit die stoel met sy beperkte vryheid? Hoe sou ons kon weet wat die kind gedink het as sy boetie en sussie buite baljaar terwyl hy moet sit, sit, sit! Hy sit in die stoel sonder dat daar enige sigbare tekens is waarom hy nie kan opstaan nie. Hy sit asof geboei aan die stoel. Of het hy nou en dan wanneer niemand kyk nie, probeer opstaan? En as hy dan pletterend terugval in die stoel, die boeie verwens en vervloek?

En ek dink aan eie boeie. Sommige is oorwin en afgeskud, ander klou onversetlik en onbeweeglik aan 'n voet of 'n hand. 

Wat is dit met die mens dat hy so maklik aanvaar dat dinge maar moet gaan soos hulle gaan? Waarom is die een of twee wat boeiloos loop die uitsondering en nie die reel nie? Waarom sal 'n dier sy eie poot afvreet in 'n poging om uit 'n slagyster vry te kom, maar ek en jy glo nou maar eenmaal dit is beter om die waters oor die akkers te laat loop?

Die kind word groot in 'n huis waar die pa naweek na naweek dronknes hou. Pa slaan vir Ma en die kinders kruip onder die beddens weg tot ligdag. Die barmhartigheidsdiens van die kerk bring ou klere en (soms) 'n gekookte ete. Die ma kyk nooit meer op nie, haar oë is dof. Kind is slim, hy doen goed in die laerskool. Die pad is oop voor hom, reken die oumense. Op 'n dag besluit kind om die boeie van ellende om sy eie enkel vas te maak. Hy word groot. Hy word sterk. Maar die boeie van ellende is sterker. Hy bereik niks. Hy wil ook niks. Hy loop tevrede met die boeie om sy enkel. Die belofte van 'n lieflike skoenlapper het nou verdor tot die werklikheid van 'n kleurlose, onaansienlike mot.

Vroutjie en haar man is baie gelukkig getroud. Nie lank nie, toe verwag sy 'n baba. Hulle geluk ken geen perke nie. Baba word gebore en nou speel sy huis-huis wanneer Pappa werk. Sy en babakind is saans baie opgewonde wanneer hy huis toe kom, want almal is so lief vir almal. Op 'n aand slaap Baba en Pappa en Mamma gaan bad. Sy trek uit om in die bad te klim en hy sluit die swaarste, donkerste boei in 'n oomblik om haar nek vas. "Goeie dôner! Jy is darem gebreklik gebou." Sy vat hierdie sware ding gewillig en maak hom nog stywer aan haar lyf vas. Sy dra hom gewillig en tevrede. Niks wat niemand ooit kan sê of doen kan haar oortuig om die las af te gooi nie. Dit is mos my las, waarom wil jy met my sukkel daaroor?

Sy is in die koshuis. Sy is klein. Die nagmerries is eindeloos. Sy piepie in haar bed. Sy weet van twee ander maatjies wat ook in die bed piepie, maar niemand praat daaroor nie. As sy in die oggend opstaan, is alles nat. Dit stink. Sy trek die bed toe en sit die nat slaapbroek in die vensterbank in 'n bondel. Vanaand is die broek nog nie droog nie. Alles stink. Die koshuistannie word kwaad. Sy skel. "Julle bedpisters moet nou ophou. Ek gaan julle almal in 'n ry voor die kamer op die stoep laat staan sodat almal kan sien wat doen julle." Ek is 'n bedpister. Sies. Die ketting skaaf om my enkel, maar hy moet maar skaaf. Ek is mos 'n bedpister.

Pa en Ma gaan skei. Ek hoor hoe hulle baklei en Pa sê dis oor Ma 'n boyfriend het dat hy liewer loop voor hy 'n moord pleeg. Jou ore slaan toe, jy wil dit nie hoor nie. Ma kan mos nie 'n boyfrienhê nie, sy is al te oud. Die dominee lees uit die Bybel uit dat egbrekers en moordenaars nooit by die poorte van die hemel sal ingaan nie. Ek trek my hoed tot laag oor my skaam gesig. Dis verskriklik! My pa en ma gaan nie eendag hemel toe nie. Ek dink ek wil dan ook maar liewer nie hemel toe gaan nie. Wat moet ek daar gaan maak as hulle nie saam met my gaan nie? Ek is skaam. Ek is kwaad. Ek is woedend omdat ek nie kan hemel toe gaan nie. Ek tel die boeie op en sleep-dra dit saam met my. Ek sit dit nooit neer nie, want ek en Pa en Ma kan nie hemel toe gaan nie.

Hoeveel laste kan 'n mens jouself ophaal voordat jy nie meer vorentoe kan nie? Hoe swaar moet jy dra voordat jy besef die sleutels van hierdie baie boeie is in jou eie hande? Of raak dit 'n soort prestasie om te kyk wie se las is nou eintlik die swaarste?

Maar soms, net soms, breek daar 'n oomblik van helderheid deur en jy worstel los uit die laste van ellendigheid. Jy bars deur die mensgemaakte grense van skandes en veroordeling.

Jy is lig en vry. Jy weet dat jy jare en jare vermors het op jou selfopgelegde smarte. 


En jy belowe jouself en die hele heelal – nooit, ooit tel ek weer ‘n las op wat nie my naam dra nie!

En ja, laste kom nie met name op nie, kom hulle?


Vrydag 22 September 2017

MY WORTELS

So laat ‘n mens jou deur jou gedagtes beheer, is dit nie? Anderdag laat my seun, Nico, getroud met my oudste dogter, my weet hy is in Maltahöhe. Hy wil weet waar presies het ons gebly. Die rede? Dit is waar sy liefievrou haar eerste lewenslig aanskou het. Na ‘n paar foto’s en 'n oproep of twee weet hy presies waar dit is. Hy is gewapen met genoeg foto’s om by die huis te gaan wys.

En ek? Ek beleef weer driekwart van my lewe. Want dit is wat daardie klein dorpie vir my is – my wortels, my begin.

So baie het verander, maar eintlik ook maar so min. Al wat regtig nie meer daar is nie, is die ou groot koshuis met sy buitetoilette. Dit voel vir my al die Sub A’s was in dieselfde kamer. ‘n Paar ‘groot’ meisies het by ons geslaap om die orde te hou. Siestog, hulle was ook maar nog klein, maar hulle was die ja en die amen in daardie kamer.

Ek wonder wie onthou nog die aande na die ligte-uit klok gelui het. Dan begin die eerste een en sê vir elkeen in die kamer nag. As jy die aand kwaad is vir een, slaan jy eenvoudig haar naam oor. Sy (en al die ander) weet dan baie goed hoe jou hart daardie aand klop. Elkeen kry ‘n beurt om nag te sê. Ek glo aan die einde van die sessie was die helfte seker al aan die slaap. En ja, as jy vinnig genoeg was nadat die studie uitgekom het, kon jy ‘n piepiepot vir jouself gaan haal. Dit staan onder jou bed en jy bepaal wie mag dit deur die nag gebruik. Weereens, die een wat moeilikheid gemaak het, mag glad nie vannag jou pot gebruik nie.

Saterdag gaan ons dorp toe. Die koshuistannie het ons geld gehou en jy gaan ‘trek’ geld by haar. Almal stroom na oom Fanie se winkel toe vir ‘n lekkertjie. Die lekkerste was mos maar die suurklontjies wat jy so in ‘n gedraaide papiertjie gekry het. Hulle het lekker lank gehou as jy hulle nie kou nie, net so suig-suig loop daarmee.

Oorkant die straat was tannie Drieka se kafee. As Pa onverwags dorp toe gekom het, het hy altyd daar gaan koffie drink en ek het ‘n koeldrank gekry. Hy het my nooit terug gevat koshuis toe sonder ‘n kardoesie lekkers in die hand nie.

Ai, die een groot aanloklikheid was die bakkery. Oom Hottie se bakkery het die lekkerste varkore gebak! Dit was 'n baie groot versoeking, want as jy 'n varkoor gekoop het, is jou sakgeld amper alles op en jy weet daar gaan nie sommer weer sakgeld kom nie.

Die jare het aangestap en dinge het verander. Die groot koshuis is afgebreek en ons trek in ‘n splinternuwe dubbelverdieping koshuis in. Ons is tog so belangrik! So deftig!

Ek is weg uit my 'home town' hoërskool toe en kom weer jare later daar bly as getroude vrou. Dit was vreemd, maar ook baie lekker om die ou dinge te beleef. Ek hou skool in die skool waar ek leer lees en skryf het en beleef weer die dinge van lank gelede. Ek gaan staan op die plek waar Lukas die dag van bo af afgespring het tot op die gras. Sy voetspore het twee dooie kolle gelos as getuie dat hy dit wel gedoen het. Ek staan in die klas waar ons in standerd 5 was en ek roep die gesigte een na die ander op. 

En toe! Die groot mylpaal. Ek is swanger. Ag, was ek trots om swanger te wees. Dit was al of ek geglo het ek is die eerste een in die lewe wat dit reg kon kry om ‘n baba te verwag. Die ou dingetjie het ook haar tyd gevat en my lekker lank laat wag vir haar geboorte.

Ouma was by ons en het die hele nag langs my bed gestaan. Hoe moeg haar ou beentjies moes wees, weet ek sowaar nie. Sy het nie een maal (waarvan ek kan onthou) selfs gou gaan koffie drink of gesig was nie. Troue moeder van my, ‘n ware engel op aarde.

Dwarsdeur die nag het ons geveg en kindjie is net na tien die oggend gebore. Ek wens jy kon my sien, man. Trots. Supertrots. Ek het die mooiste baba wat nog ooit gebore is, jy kan nie stry nie!

Opeens is die kamer vol mense. Almal kom kyk na my mooiste baba. En die dominee bid en ruk my terug aarde toe dat die stofwolke hang. “Dankie, Here, vir hierdie baba wat vir hulle geleen is.”

Geleen? Ja, Martha, sy is nie joune nie. Sy behoort aan Hom soos wat jy aan Hom behoort. Niks wat jy gedoen het of ooit nog gaan doen, kan maak dat jy haar verdien het nie. Kyk om jou rond en sien dat jy toe glad nie so ‘n prestasie bereik het soos wat jy gedink het nie.

Sjoe, dit was ‘n lae hou, maar dit het my nederig en dankbaar gemaak.

En jou, baie jare later, sit ek en bestudeer die kaart op Google. Daar is die hospitaal. Die skool. Ons huisie, so skuins-oor die hotel. Oom Weswin se winkel. Die BSB-dorpskamers. Die kerk.


Daar lê my voetspore en daar lê my wortels. Dit voel vir my dat as ek naby genoeg inzoom sal ek die mense kan hoor praat en lag in die strate. Ek sal weer kan jonk wees en drome droom oor die toekoms. 'n Toekoms wat toe nie gelyk het soos wat ek in my jeugdige voortvarenheid verwag het nie.

Donderdag 21 September 2017

STUKKENDE MURE

Ek is besig met ‘Raaiselkind’ van Annelie Botes. Dit is die tragiese verhaal van ‘n ma se lewe met haar outistiese kind. Wat ‘n openbaring is dit nie! Annelie beeld dit so werklik uit dat jy nie anders kan as om saam met hierdie ma te ly nie. Elke aand lees ek net ‘n paar bladsye, want jy moet hierdie toffie stadig suig sodat jy hom intens kan proe en beleef.

Maar bedags loop my kop sy eie rigting. Ek dink. Ek wonder. Eers stry ek daarteen, maar dan weet ek dit sal nie help nie. Die waarheid bly die waarheid.

Ek kom tot die groot besef dat ons almal maar eintlik ‘n groot stuk stukkend in ons omdra. Hoe graag ons elkeen ookal wil glo ons is eintlik ‘n hele end beter as die volgende persoon, is dit toe glad nie die geval nie. Ons is stuk-stuk aanmekaar gelas en dis hoe dit nou maar eenmaal is. Soms bly die stukke klou, ander kere klou hulle nie genoeg nie en jy kom ‘n bietjie kaler aan die anderkant uit.

Boetakind hou van sy beiteltjie. Hy loop van muur tot muur en kap die sement af. Hy kap totdat die rou stene daar sit. Kap. Kap. Kap. Eindelose, onvervullende proses. Kap. Kap. Kap. Eers wanneer die stene rou voor hom lê, hou hy op. Hy gaan soek na die volgende plek waar hy kan kap, kap, kap. Sonder einde. Sonder rede. Sommer net omdat hy wil.

Waaraan loop en kap ek? En jy, kap jy ook sonder doel? As ek eers op ‘n onderwerp loop vassteek, kry jy my nie sommer gekeer nie. Vorige week was dit die dominee se onsinnige preek. Ure kon ek daaroor uitbrei. Wat het die mens besiel om oor daardie onderwerp te preek? Stiksienig, as jy my vra. Almal moet hoor. Almal moet kennis neem dat ek regtig nie tevrede is met die stand van sake in die kerk nie. Ek hou aan en aan en aan, sonder om op te merk dat niemand eintlik meer luister nie – hulle het eintlik van die begin af nie geluister nie. Hierdie week is dit die onregverdige bankbestuurder en volgende week is dit waarskynlik die skynheilige skoolhoof.

Of, as die gier hom pak, begin hy doelloos hardloop. Om die huis. Om die huis. Al om die huis. Hy word nie moeg nie. Hy het nie nodig om te rus nie, want hy weet nie dat hy (dalk) moeg is nie. Hulle los hom, want keer kan hulle hom nie keer nie.

Ek kry ‘n storie beet. My suster se skoonsuster se jongste boetie se meisie se ma het gesê... Regtig? Is dit moontlik dat dit kon gebeur het? Ek weier om dit te glo, man. Maar ek los dit nie daar nie, want sê nou maar net daar steek ‘n stukkie waarheid in. Sê nou maar net iemand weet presies wat gebeur het? Ek vra. Ek luister fyn na wat gesê of nie gesê word nie. Genugtig! Die waarheid moet mos uitkom, ha? Oor en oor en oor, totdat ek opeens belang verloor en verbaas om my rondkyk waarom almal so ontstig is.

Ander kere, wanneer dinge nie meer lekker is vir hom nie, hardloop hy van ligskakelaar tot ligskakelaar en sit dit aan en af, aan en af. Sonder einde. Sonder (oënskynlike) doel. Niemand gaan hom teë nie, hy doen dit sonder ophou. Lig. Donkerte. Lig. Donkerte.

Is dit nie maar soos ek ook maak nie? Soek die lig...of die Lig, net wanneer dit my pas. Soms verkies ek die donkerte, al is dit ook net vir daardie een oomblik wat ek weet ek wil dat niemand nou sien of hoor waarmee ek besig is nie. Netnou is ek weer ewe vroom die vriendelike vrou van die lig. Ha? Is dit hoe dit werk? Aan en af, aan en af. My lewe lank, aan en af.

Die ou stukkende seuntjie eet net pampoen of peanutbutter. Arme, arme kind lyk verhonger en maer. Hy eet sy pampoen of peanut tot daar niks oor is nie, maar moet net nie waag om vir hom iets anders te gee om te eet nie. Hy weet nie dat sy lyfie ander dinge ook nodig het nie. Hy is lief vir sy pampoen en peanut, en hy is tevrede wanneer dit voor hom neergesit word.

Ek dink ek en jy is ook maar so. Ek hou daarvan om dit of dat te doen en basta met die res. Waarom wil jy my nou kom staan en dwing om jou te ondersteun in jou poging om die gemeenskap te bou? Ek doen mos my ding, is dit nie? En buitendien, ek het nog nooit daarvan gehou dat iemand my moet voorskryf nie. Los my asseblief uit dat ek dit wat ek doen, goed kan doen. Doen jy maar jou deeltjie, toe?

Hallo! Is daar iemand daar buite wat my hoor? Is ons nie maar op die ou einde almal so ‘n bietjie stukkend nie?


Ek vra maar net.

Donderdag 14 September 2017

EK EN FIBROMIALGIE

Ek is al te skaam om dit met ‘n dokter te bespreek, man. Ja, natuurlik kan ek hom vertel van die pyn, maar dat ek so moeg is? Jy is mos lekker laf! Die eerste ding wat hy vir my gaan vra is of ek genoeg slaap. Nee, ek slaap nie genoeg nie. Nou, waarom kom kerm jy dan by my oor moeg?

Waar pyn jy? Ag, dokter, eintlik mos maar oral, jy weet. Waar voel jy sleg? Ag, dokter, eintlik mos maar oral, jy weet. Wanneer is jy so moeg? Ag, dokter, eintlik mos maar altyd, jy weet.

Jy voel soos ‘n gek. Vir vyf of ses maande pyn jou arm en skouer so erg dat jy nie jou klere oor jou kop kan kry nie. Opstaantyd. Maak klaar vir werk. Roep jou man om te kom help aantrek. Vanaand roep jy jou man om te kom help uittrek. Oor en oor dieselfde proses totdat jy dit nie meer kan verduur nie.

Die dokter vind geen fout nie. Nee, ek het niks buitengewoon swaar opgetel nie. Nee, ek het dit nie met oefening beseer nie. Gmf, ek oefen nie eens nie! Ja, ek sal in die vervolg beter oplet na wat ek doen. Ja, ek sal die pille getrou drink en terugkom as dit nie help nie.

Mettertyd kom jy tot jou vreugde agter dat aan- en uittrek nou makliker is. Dankie tog! Die man is seker nog meer dankbaar as jy, want nou pla jy nie so baie nie. Wat ‘n lieflike verligting!

Maar nee, nou maak die heup en laerrug seker dat jy weet hulle is deel van jou lyf. Dit pyn. Jy smeer salfies. Dit pyn net meer. Jy drink pille. Dit pyn en pyn.

Dokter, my heup en laerrug...! Nog pille. Nog salfies. Nog baie ander dinge. Ons probeer alles op die mark. Ja, die botteltjie dagga-olie was ook lank op my badkamerrakkie. Tevergeefs. Los alles. Wat help dit in elk geval?

Buiten vir die pyn, het my lyf iewers die gier gekry om nie meer te wil slaap nie. Ek is doodsmoeg, maar as dit slaaptyd is wil die lyf nie slaap nie. Dit ontwikkel in ‘n aaklige wakker-slaap-wakker roetine. Wanneer ek moet wakker wees, wil ek slaap. Wanneer ek moet slaap, wil my lyf nie lê nie. Ek raak aan die slaap met die beste bedoelings, want jy sien, ek is so bitter moeg! Iewers in die nag skrik ek wakker en my lyf is onmiddellik regop en uit die bed uit. Die lyf wil nie lê nie – nooit weer nie, want dit maak te seer om te lê. Die lyf is in opstand, want die pyn is net eenvoudig oral!

Jy sit en gesels en staan op om tee te maak. Die lyf wil nie opstaan en loop nie. Dis kompleet asof die ou spulletjie eers so ‘n bietjie moet opwarm voor jy lekker spoed kan vat en aanbeweeg. Stram. Pynlik.

Op ‘n dag lees ek ‘n woord raak en ek wonder wat dit beteken. Natuurlik bestaan daar nie iets soos ‘toevallig’ nie, daarom besef ek vandag dat dit eintlik maar vir my daar geskryf was. Ek raadpleeg ons goeie vriend Google en, wat sal ek daar sien? Ou Google weet toe al baie lankal wat ek makeer.

Maar voordat jy jou mond uitspoel oor mense wat hulself diagnoseer, wees gerus, ek het dit nie gedoen nie. Met my volgende besoek aan die (baie, baie geduldige dokter) vertel ek van die artikel wat ek gelees het. Sy reaksie? ‘O, fibromialgie? Ja, ek is al lankal besig om te soek na die regte medikasie wat jou daarvoor kan help.’

Hierdie onsigbare siekte/kwaal/hindernis (noem dit net wat jy wil!) openbaar homself glad nie dieselfde aan al die ander (een uit elke twintig mense) nie. Dank die Vader dat ek nie nodig het om in die bed te bly daarvoor nie – ek is in elk geval te kwaai met myself dat ek dit eens sal oorweeg om by die huis te bly daarvoor. Ek lees onlangs van mense wat moes ophou werk as gevolg van hierdie goggading.

Dan is daar die wisselende grade van spanning. Dit word nogal gereeld verwar met depressie, en wie wil nou depressie hê? Ruk jou tog net reg, asseblief man! Anderdag het ek die dokter baie lekker laat lag vir my ‘formule’. “Dokter, jy weet, stress = pyn.” Ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit is deesdae nogal seer om te stress. Grappie? Nee.

Nou raak jou kop ook soms steeks om saam te werk. Iemand vra ‘n vraag en wag vir my om te antwoord. Die antwoord is in my kop, maar die woorde wil nie by my mond uitkom nie. En die mense dink jy luister nie. En jy weet nie hoe om dit te verduidelik sonder om ‘n treurmare te skryf daaroor nie.

Die gevoeligheid vir temperatuurwisseling kan ook soms nogal ‘n stremming op jou plaas. Niemand kry koud nie, dan is jy aan die bewe. Niemand kry nog regtig warm nie, dan loop jou sweet. In my huis het ek die mandaat op elke waterverkoeler in elke vertrek. Soms voel ek baie skuldig omdat ek so selfsugtig is, maar as ek my kom kry het ek alweer die verkoeler direk op my gedraai en die res van die gesin moet maar sien en kom klaar.

Klank. Praat asseblief tog net sagter! Draai net die musiek asseblief sagter, toe? Waarom praat julle so aanhoudend? Hou net ‘n slag op, want my ore is nou moeg geluister.

As ek dit so op papier sien, dink ek by myself: Sies, jy is ‘n regte klagat! Ruk jou assebief net reg en gaan aan met jou lewe. En ja, dalk is ek maar net ‘n klagat, ek weet nie. Wat ek wel weet is dat dit nie aldag ewe maklik is nie, maar ek is oneindig dankbaar vir die feit dat ek lewe en kan werk en kan liefhê.


My motto is eenvoudig dit: Wees dankbaar en leef die lewe wat jy gekry het voluit. Sing jou eie lied, want niemand anders gaan dit namens jou sing nie.



Maandag 11 September 2017

AS DAAR NIKS MEER OOR IS NIE

Vir dae aaneen is dit al wat jy sien op tv – Orkaan Irma. Jy kyk daarna so half op ‘n afstand, is dit nie? Ja, natuurlik het jy meegevoel met die slagoffers! Dit is tog wat van jou verwag word. Jy sien die verwoesting en is in jou hart dankbaar dat jy veilig is, dat jy veilig en geborge is.

Ek kyk na die vreeslike werk van die natuur en die beelde raak gemeng met vreemde emosies in my draadwerk. Wat as...? Ja, wat as!

Hoe moet dit voel om uit jou plek uit te hardloop en jy weet dat jy nooit, ooit weer oor daardie trap in jou huis in sal loop nie? Jy sal nooit weer op jou bed gaan sit na ‘n dag se harde werk en jou skoene uittrek en klaarmaak vir ‘n lekker lang bad nie. Jy sal nooit weer hierdie kasdeur oopmaak en klere uitsoek vir vanaand se geselligheid nie. Jy sal nooit weer kla oor die gebarste muur of die verf-af plek langs die deur nie. Hierdie kas wat jy nog by Ouma gekry het en waarvan die laai so sukkel om uit te trek, sal jy nooit weer mee hoef te sukkel nie. Want, jy sien, alles gaan môre weg wees. Jy gaan niks, niks meer hê om op trots te wees of om oor te kla nie. Ja, daar gaan niks meer wees nie. Niks.

Nou sê ons ewe vroom vir mekaar dis aardse goed – hulle sal wel weer opstaan.

Dit pla my die hele tyd – hoe moet dit voel om niks oor te hê nie? Gelukkig het jy darem jou tekkies aangetrek voordat jy weg is daar by die huis. Dit klink soos ‘n banale grap. Wat wil jy met jou duur tekkies maak as jy nie eens ‘n teelepel het om daardie koppie koffie waarna jy so verlang te maak nie? Niks.

En ek dink. Die gedagtes hinder my – hierdie argelose manier waarop ek alles en almal aanvaar wat in my lewe is. Ek gaan slaap en ek staan op en alles is maar altyd nog daar.

Nee, nie aardse goed nie, hoor. Wat as ek môre alles verloor waarvoor ek nie vandag dankbaar was nie? Wat as? Wat as ek opstaan en daar is niemand met wie ek kan deel nie?

Los nou maar die huis en die kar en die boot en die uitspanplekkie langs die see. Vergeet vir ‘n oomblik van die dinge wat jou geld kan koop.

Ek kom van die werk af en my man wil graag vir my wys hoe mooi dra die mangoboom, maar ek is nie lus om op te staan en te gaan kyk nie. Ek weet ek moes my vriendin al weke terug gebel het, maar ag wat, sy kan mos ook ‘n slag eerste bel. Ek was regtig lanklaas by my ouers, maar ek het nie lus om perd op te saal en daarnatoe te ry nie, ek is naweke te moeg daarvoor. My buurvrou se kind is al vir maande siek, maar ek het nog nie kans gekry om te gaan inloer nie. Môre is mos nog ‘n dag. My kind bel gereeld en vra waarom is ek so skaars, maar sy weet mos tog ek is besig, waarom kerm sy so? Regtig, die lewe is so ‘n gejaag dat ‘n mens behoorlik moet sukkel om by te hou. As almal net nie so om jou ore kerm vir ‘n bietjie aandag nie.

En ek staan een oggend op en niemand is oor nie. Ek het alleen oorgebly. Ek is alleen in my eie genoeglike selfsugtigheid. Ek het so lank en so intens gebou aan die mure rondom my siel dat ek niemand meer aan die buitekant kan sien nie. Hoe hard ek ookal probeer, ek kan glad nie meer bo-oor sien nie. Ek is nou uiteindelik alleen soos wat ek die hele tyd probeer het. 


Hoe moet dit voel om NIEMAND oor te hê nie? Is dit werklik wat ek van die lewe verwag? Regtig?

Donderdag 07 September 2017

DIE SPOKE VAN LANK GELEDE

Skielik is sy nie meer so tuis in haar eie vel nie. Vir die laaste hoeveel jaar is sy rustig en tevrede – sy voel gemaklik met haarself – eintlik baie trots op wie sy is. En nou? Wat het dan nou verander? Waarom voel sy dat sy haarself (weereens!) moet bewys? Waarom voel sy (weereens!) so vreeslik common (met ‘n hoofletter K) en onwaardig?

Sy kom ‘n ver pad met hierdie gevoel. En sy het regtig gedink dit is iets van die verlede. ‘Ek weet wie ek is en wat het jy daaroor te sê?’ Haar motto. Haar opstaan en gaan slaap. En dan nou?

Sy probeer dit ontrafel, maar dit werk nie. Sy voel uiters bedreig. Deur wie? Deur wat? Sy kan nie sê nie. Sy probeer die deurmekaar drade mooi glad vee om daaruit sin te maak, maar hulle hou aan om rond te spring. Buite beheer. Wanordelik. Sy kan nie orde skep in die chaos in haar kop nie. Demmit tog! Kan niemand dan help nie?

Sy kry iemand wat (so hoop sy) sal hoor wat sy sê. Sy praat. Sy tjank snot en trane. Wat gaan aan in my kop? Hoekom is ek so bang?

Jy sien, hierdie ding kom nie van gister af nie. Op skool was sy was maar altyd die ‘loner’ – nie goed genoeg vir die res van die groep nie.. Glad nie akademies sterk nie. Glad nie ‘n atleet nie. Glad nie ‘n goeie hokkiespeler nie. Glad nie ‘n gesellige mens nie. Glad nie geld om mee te maak aan skooltoere en ontspanning nie. Lelik. Vet.

En hier kom stort alles weer op haar neer. Ongevraagd. Onnodig. Sy word teruggeruk na daardie tyd. Sy wil nie daar wees nie, maar sy moet. Die lot wil reünie hou. Dit gesels oor en weer dat die spoeg spat en sy word doodsbenoud. Daardie stokou minderwaardigheid kom sit netjies op haar kop en druk haar oë toe vir die hier en die nou. Sy wil dit nie sien nie. Sy wil dit nie hoor nie. Waarom moet sy so voel? Vlug is die beste opsie. Hardloop vinnig en hardloop ver!

Haar man is mooi. Hy praat rustig en met groot oortuiging. ‘Kom ons kyk ‘n bietjie weg van die ander mense af. Kom ons kyk waar jy voorheen was en waar jy vandag is. Kom ons kyk na die oorwinnings op jou pad. Wie was jy? Wie is jy nou? Hoe het jy gekom waar jy vandag is?’ Sy wil nie. Hy doen dit vir haar. Sy kyk deur sy oë na die beeld in die spieël en sowaar, eintlik hou sy van dit wat sy daar sien.




En die slotsom van dit alles?

Dinsdag 05 September 2017

DIANA

Met die herdenking van Diana se dood herinner dit my weer aan daardie dag. Ek het van die kerk af gekom en die bure se dogter het my draad toe geroep...!

Die verwarring wat dit in my (baie deurmekaar) hart veroorsaak het, is onbeskryflik. Die volgende het een aand uit my pen uit gevloei.

"I've seen myself as a queen  
I've seen myself as a beggar
I've seen myself as someone who could love and live forever. (Writer not known)

My suster is dood. 'n Sielsvennoot is opgefrommel en rondgemaal tussen glas en metaal. Opgemors. Gebreek. Geslentervang deur die totaal (vir my) ontydige besoek van die groot D. Of was dit dalk juis die begeerte van haar hart om te ontsnap aan 'n lewe waarin sy nooit kon of wou pas nie? 'n Lewe wat haar versmoor het met wette van 'so verwag ons dat jy moet wees'? 'n Groot oerwoud van stroewe wette wat haar dogterjie-hart in die mot en roes van klatergoud laat vergaan het tot 'n uitroep na liefde en vryheid?

Die probeer-om-in-te-pas dae. Die ek-weet-ek-hoort-nie-hier dae. Die ek-veg-om-my-lewe dae. En dan...die groot oorgee. Ek klim oor die muur na die anderkant. Daar waar ek my tuis voel en waar ek nog altyd koningin kan speel. 'n Absurde spel met geld en mag en my patetiese poging om guns te koop om op te gaar vir die dag van môre.

En toe. Wat 'n fees! Ons kamp uit langs die strate en dra groot bosse blomme aan. Nog nooit was daar soveel opwinding nie. Wat 'n sensasie. Bring nog blomme. Stuur nog kos - die skares is honger. Of wag, los alles, sy's op pad! Sy beweeg só stadig, só waardig. Sy's dood. Stof. Niks.

Vir hierdie een dag kan ons spoeg op almal wat nie weet van swaarkry nie. Jy sien, dis goed om 'n eetsteurnis te hê en vir almal daarvan te vertel. Of, drink pille tot jy neerslaan en hou 'n perskonferensie! Verneuk jou man en huil daaroor voor die kameras. Jy mag maar voete van klei hê. Jy mag maar jou kinders los en rondrits op stralers en oorslaap in goudpaleise. Seks buite die huwelik is ook okei, hoor. Ons praat net nie daaroor voor die oumense en kinders nie.

Nou's jy dood en verhef tot 'n heilige...! Vir wat? Sodat ek kan bly klou aan 'n strooihalm. Sodat ek kan glo. Of hoop. En aanhou lewe.

Eendag sal hulle my ook dalk ken.
Of onthou.
Of...?

Image result for diana

Maandag 04 September 2017

DAISY KOM KUIER

Vandag is dit g’n lekker in die huis nie. Hy weet nie wat die antie oorgekom het nie, maar alles is verkeerd vandag. Dis vandat die meisiekind vanoggend vroeg geroep het dat alles so sleg is hier.

Hy en die hond het buitekant gaan piepie. Dit was nog amper donker en hy wou nie die antie pla nie. As hy in die badkamer gaan piepie, is die antie dadelik wakker. Hy weet nie hoe hoor sy hom nie. Hy kan probeer soos hy wil, maar elke keer as hy by die deur wil uit, vra sy met ‘n kwaai stem: “Gaan jy nie afspoel nie, Johannes?”

Net toe hy die agterdeur oopmaak, roep die meisiekind kliphard. “Koeiii! Is julle wakker? Daar’s foun vir jou, antie Hêppie.” Hy wou haar nog gaan roep, maar die antie is by hom verby met ‘n groot spoed. Sy’t nie eens vir hom môre gesê nie.

En toe sy daar terugkom, is alle duiwels los. Hy sit nog en wag vir sy brood en koffie, maar nee, daar is nie tyd nie. Die antie is kwaai en hy moet spring om alles te doen wat sy sê. Die hond het sommer daar buite onder die bossie gaan lê van die groot bang vir die antie.

“Kind, jy bly dan vandag onder my voete. Loop buitekant toe en gaan tel die blare onder die boom op. Het jy nog nie gesien hoe vuil is ons plek nie?”

Toe gaan sit hy maar by die hond en wonder wat gaan aan. Wie het so vroeg gebel en hoekom is dit nou so sleg in hulle huis? Hy het net gisteraand gedink dit raak nou lekker hier, maar nou weet hy ook nie meer nie.

Middagtyd roep die antie hom. Sy het nie kos gekook nie. Vir wat nie? Hulle eet vanoggend se brood en koffie. Sy gooi vir hom ‘n bietjie ekstra suiker in.

Skielik draai sy na hom toe. “Seuna, luister nou mooi na my. As die mense netnou kom, moet jy baie soet wees. Jy moenie vir ons in die skande steek nie, my kind. Gaan bad gou vir jou, dan trek jy Sondag se kleertjies aan. En as jy klaar is, kom dat ek jou hare kam – jy kry hulle nooit mooi plat agter nie.”

Sjoe! Hy mag nooit sy Sondagklere aantrek nie. Net as hulle kerk toe gaan mag hy die rooi hemp en jeans aantrek. Dis seker baie ryk mense wat kom kuier.

Toe die mense stop, wil hy sommer weghardloop. Die vrou spring uit die kar uit en kom gryp hom om die nek. En sy wil nie los nie, al probeer hy hoe hard. Sy ruik soos die meisiekinders in die weeshuis. Sies. En haar lippe is rooi. Sies.

Die man is kwaai. “Los die kind, jy kan sien jy krap hom om,” sê hy en groet vir antie Hêppie. Maar antie Hêppie lyk nie bly om hulle te sien nie. Nou vir wat moes hulle die huis so skrop as die antie nie van hulle hou nie?

“Daisy, kom groet jy nie jou ma nie?” Die antie staan met die hande in die sye en wag vir die vrou om haar te gaan groet. Dankie tog, dan sal sy hom seker nou uitlos.

“Spiere, as ons klaar koffie gedrink het, moet jy saam met my kar toe kom. Ek het vir jou ‘n baie groot present gebring. Jy gaan baie, baie bly wees, ek weet sommer.”

Hy en die hond gaan buite sit toe die antie koffie maak. Die grootmense lyk nie of hulle baie bly is om mekaar te sien nie. Dis sleg as die antie nie lekker voel nie. Hy wil dit nie hoor nie en hy wil dit nie sien nie.

Toe die stink vrou hom roep, maak hy eers of hy nie hoor nie. Sy roep en roep en hy weet hy moet gaan kyk wat sy wil hê. Sy staan langs die kar en wag tot hy by haar is. Sy maak die kattebak oop. Daar lê sy fiets. Sy pikswart fiets. Hy kyk en kyk en kan nie glo dat dit waar is nie.
“Spiere, kyk wat het ons vir jou gebring. Is jy nie bly nie? As jy nou by ons kom bly, kan jy elke dag op hierdie mooi fiets ry. Dit is nou joune. Is jy nie bly nie?”

Sy hart sink in sy skoene. Hy kyk na antie Hêppie. Sy staan daar met yslike groot oë en kyk na hom. Hy wil hê dat sy hom moet help, maar sy kyk nou anderpad. Die vrou praat en praat en praat oor die fiets en die groot erf en sy eie slaapkamer, maar hy hoor haar nie. Hy kyk net na antie Hêppie.

Die man klim in die kar. “Kom, Daisy, jy sien dit gaan nie werk nie. Ek wil huis toe gaan, ons het nou genoeg tyd hier gemors.”

Toe hulle wegry, staan hy lank en kyk na die stoffies waar die kar nounet gestaan het. Dit is waar sy eie fiets vir hom gewag het. Sy fiets wat hy nou nie meer wil hê nie.


“Kom, Ouma se kind, kom ons twee gaan koop vir jou ‘n roomys.”

DAARDIE TYD VAN DIE JAAR!

“Baie geluk met jou verjaardag, my maat!” of “Alles wat mooi is vir die toekoms.” Of “Mag daar nog vele wees.” Dit begin vroeg-oggend, nog...