Soms, maar net soms, wonder ek oor die
lewe en die manier wat ons hom lewe. Is dit regtig nodig dat alles so mooi
netjies in kassies geplaas moet wees? Jy weet, alles moet net so of so gedoen
word, anders is dit nie reg nie. En alles wat nie so of so gebeur nie, is ook
nie reg nie. Dan vra ek myself af waarom dit so moet wees? Kan ‘n mens nie maar
die lewe leef soos hy homself aanbied nie?
Ek het probeer om met die volgende
beskrywing my stelling te regverdig. Besluit jy nou maar self hoe jy daaroor
voel.
Ons is almal maar swerwers van hierdie lewe. Wat die lewe ons bied, is nie altyd wat ons gekies het nie, is dit?
Ons is almal maar swerwers van hierdie lewe. Wat die lewe ons bied, is nie altyd wat ons gekies het nie, is dit?
Ons kan onsself vergelyk met iemand wat
op die dak van die eerste en beste trein spring en swerf van plek tot plek [die
Engelse noem dit “train jumping”]. So ‘n persoon weet baie maal nie waar
die volgende trein hom heen gaan neem nie. Soms is dit skrikwekkend om
nie te weet waar die trein gaan stop of waar dalk nie, maar meestal is dit
uiters opwindend. Eintlik hang dit maar af van die swerwer self en hoe hy
reageer op elke stasie waar hy afspring.
‘n Swerwer gryp elke dag wat die lewe
hom bied; hy wonder nie oor die dag wat nog agter die horison lê nie. Al
wat vir hom saak maak is die hier en die nou. Hy weet hierdie dag is vir
hom gegee en hy moet die beste daarvan maak. Hy moet hom leef, want môre is hy
weg. Jy kan nie môre eers vandag se lewe leef nie, of kan jy?
Net soms misgis ons onsself. Die dag was dalk bedoel om saggies en
ongesiens verby te glip. Dan het hierdie swerwer vroegdag sy verfkwaste
uitgepluk en die dag met helder kleure gestreep-streep. En dan,
wel… Dit is dan sulke dae waarop dinge nie so lekker loop nie en jy nie
kan verstaan wat op aarde is aan die gang nie. Jy kan nie verstaan waarom
niks reg wil uitwerk vir jou nie en waarom jy so miserabel voel nie. Jy
is dan so positief en probeer dan so hard, wat kon dan verkeerd geloop het?
Ander dae word jy wakker met ligte pastelkleure rondom jou. Jy ervaar
hierdie sagte kleure in en om jou en jy voel die sagte windjie waarin die Here
met ‘n fluisterstem met jou gesels. Dit is op sulke dae wat jy die Here
se goedheid en liefde in oorvloed ervaar en sy stem diep in jou hart
hoor. Op hierdie dae is Hy so naby dat jy net jou hand so effentjies kan
uitsteek om aan Hom te raak.
Dan, daardie heerlike dae wanneer die lug ruik na nat grond en alles om jou
klink soos basuine en trompetgeskal. Jy kan rondomtalie draai en sing en
ver hardloop sonder om moeg te word. Dit is die mooiste, mooiste
dae. Jy lag en die wêreld lag saam met jou. Jy wil die ganse
skepping omhels, want die lewe is mooi en God is goed. Dit is wanneer jy
lighoofdig raak van die suurstof van die lewe – jy is so vol van leef dat dit
jou seermaak. Dit is sulke tyd wat jy op ‘n huis se hoogste punt wil
uitklouter en dit wil uitjubel dat dit wonderlik is om mens te wees.
Ag, en dan is daar mos die dae wat aanbreek in ‘n diep grou kleur.
Eers lyk dit asof die son nooit sy kop wil uitsteek nie en jy voel om jou kop
onder die kussing te hou vir die ganse dag. Jy weet nie waarom die dag moet
begin of eindig nie. Jy wil sommer net so in jou bondeltjie bly lê totdat
die donkerte van die oomblik/dag/maand/jaar verbygetrek het en jou alleen
gelaat het. Maar dit werk nie so nie – die lewe sleep jou saam al is hy
self ook nie lus vir lewe nie.
Die lewe is ‘n molshoop, ‘n bynes, ‘n
ruiker, ‘n grafsteen, ‘n bossie kosmos.
As ‘n mens ‘n molshoop sien, weet jy
diep in die grond, onder daardie hopie grond, is ‘n blindemol. Hier bo
die grond lyk dit vir jou asof daar niks, niks aangaan nie. Dit is
vervelig en verbeeldingloos. Jy staan en aanskou daardie hopie grond en
jy wonder waarom die mol hoegenaamd leef. Dit moet verskriklik wees om
sonder oë deur die lewe te moet tonnel en ploeter. Jy dink so half
minagtend aan die mol en sy hopie. Vir wat is daar goed soos molle?
Dit lyk so totaal onnodig en onsinnig.
Maar is dit onnodig of onsinnig?
Die mol dien ook sy doel in die grond, dan nie? Wanneer jy nie die
kringloop van die plante en grond en humus en wat alles ken en verstaan nie,
kan jy amper wonder waarom die Here dan hierdie ding sonder sy twee oë geskep
het om so swaar te moet kry.
Die een of ander tyd in ons lewens het ons die tyd van mol-wees
nodig. ‘n Tyd om te delf en te tonnel en stil en onopsigtelik te wees vir
almal en alles. Dit is soms die tyd wat [agterna] die mooiste vrugte in
jou lewe voortbring.
As ons onderdeur ‘n boom loop en
ons sien ‘n bynes so tussendeur die takke, is ons dadelik op ons hoede.
Oppas! Daar’s ‘n bynes! Dis sekerlik reg so, maar baie maal is
daardie nes dolleeg en dan hardloop ons verniet weg van die boom af. In
daardie boom is dalk die mooiste, soetste vrugte denkbaar, maar omdat ons glo
die bynes hou gevaar in, gee ons maar liewer pad. Dis so verkeerd, maar
ons staar onsself blind teen iets waaraan ons verkeerdelik glo. Tog het
almal van ons al male sonder tal gesien ‘n bynes kan ook vol bye wees en dan
doen nie een van daardie bye ons skade aan nie. Ons laat ons afskrik deur
dinge wat deur die jare in ons koppe gehamer is: “Oppas! ‘n By
steek seer. As daar ‘n bynes is, is daar miljoene bye wat jou gaan
aanval. Bly weg.”
As die volgende voetganger dan onder die boom se koelte gaan sit en eet van
die heerlike vrugte, is ons bitter jammer dat ons so ver in die warm son moet
staan. Dan is dit egter te laat om terug te draai, want die son is aan
die sak en jou pad lê voor. Kans vir terugdraai in die lewe is daar nooit
nie.
Ons sal altyd bly wonder hoe
anders dit sou wees as ons op daardie warm dag ‘n blaaskansie sou vat onder die
boom met die bye. Sou ek nie dalk groot baat kon vind by die vrugte van
die boom nie? Dit sou my dalk die krag kon gee om my pad enduit te
loop? Dit sal ek nou nooit weet nie, sal ek? Kanse wat ek misgeloop
het in die lewe is vir altyd verlore.
Het jy al gesien wanneer ‘n
gegoede werkgewer vir sy sekretaresse blomme gee omdat hy dink sy doen goeie
werk? Hy gee vir haar die mooiste en die duurste ruiker beskikbaar.
Sy slaan haar hande saam en is verstom dat haar werkgewer soveel geld aan haar
spandeer. Sy gooi die bakkie vol water en sit dit op die hoogste plek in
haar kantoor – sê nou maar iemand stamp aan die tafel en die ruiker val
om! Wat ‘n skade sal dit tog nie wees as een van hierdie lieflike blomme
se stele breek nie. Dit sal mos die hele ruiker beskadig, sal dit nie?
Hierdie ruiker is saamgestel sodat almal daarna kan kyk en sugte van
verwondering kan slaak. Niemand, maar niemand, mag aan een van daardie
lieflike rose raak nie. Want sien, as jy aan so ‘n roosknop vat, verwelk
daardie blaartjie soveel gouer as al die ander roosblaartjies. Met ander
woorde, jy mag kyk, maar nooit raak of ruik nie.
Is dit nie hoe ons die mooi dinge in die
lewe hanteer nie? Ons lewe soos armes, maar hoog op die rak staan die
mooi dinge – die beloftes wat ons oorvloediglik van God ontvang. Ek weet
daarvan, ek spog daarmee, maar my eie kan ek dit nooit maak nie. Waarom
nie? Omdat ek glo ek verdien dit nie? Of dalk is ek bang dit raak
op en dan het ek niks oor vir anderdag nie.
Soms is ons lewe soos die van ‘n persoon
wie se geliefde deur die dood weggeneem is. Jy moet besluit watter
grafsteen is die beste en die mooiste vir hierdie liefmens van jou. Jy
spandeer ure aan die uitsoek van die steen en die samestelling van die bewoording
daarop. Dit neem jou dae en weke om te besin daaroor. Voortdurend
is jy besig om weer ‘n lewe saam met die oorledene te leef. Jy beleef
letterlik elke oomblik, elke asemhaling saam, want jy het by die punt gekom
waar dit die laaste afhandeling is van ‘n lang lewe saam met iemand na aan jou
hart. Jy kies die grafsteen, jy skryf jou laaste boodskap in jou mooiste
handskrif op ‘n stukkie papier en oorhandig dit aan die grafsteenbouers.
Wanneer alles afgehandel is, gaan jy die graf besoek en bewonder jou eie
handewerk. Jy staan weereens ure daar en herleef die tye wat nooit weer
geleef kan word nie. Jy kan jouself nie daar wegskeur nie. Enersyds
omdat jy nie afskeid kan neem nie, maar ook omdat jou gewete vir jou sê dat jou
lewe ook verby is bloot omdat jou mens nie meer lewe nie. Jy staan
soggens op en beur deur die dag, net om laatmiddag weer by die graf te gaan
staan en die lewe agter jou te probeer asem inblaas. Dit maak jou grensloos
moeg, maar jy glo dit is hoe dit hoort en daarom doen jy dit. Jy besef
nie dat jy in die proses besig is om self te sterf nie, dat jy besig is om die
heerlike lewenstrein by jou verby te laat jaag nie.
Hoekom bly ek staan by dit wat agter my
is? Hoekom loop ek so omkyk-omkyk? Ver voor my is die wenstreep en
dit is waarheen ek moet mik. Ek moet my uitstrek na dit wat voor my lê en
die verlede laat staan by die graf van teleurstelling, mislukking, belediging,
vernedering, ensovoorts. Waarom vergewe en vergeet ek nie maar nie?
Om weg te draai van daardie “graf” af en dit te vergeet, is soveel makliker en
so heerlik bevrydend.
Wanneer ‘n mens na ‘n lang siekbed uit
die bed uit opstaan, is jou bene sonder krag en voel jou hele liggaam of dit in
opstand kom teen hierdie skielike beweging. Jy staan op en probeer ‘n
endjie loop, maar jy besef dit is beter om maar eers weer ‘n tydjie te sit en
asem te skep. Jy drink dalk ‘n koppie lekker soet tee. Later
probeer jy weer opstaan. Jy stap stadig tot by die naaste kas en gaan
daar staan om weer te rus.
Terwyl jy daar staan, val jou oog op die
gordyne wat dae lank toe was teen die skerp lig. Jy skuifel nader en trek
dit stadig oop. Jy skreef jou oë teen die helder sonlig, maar kyk nogtans
na die [soos jy dit onthou] vaal en verlate aarde om jou huis.
Wat ‘n verrukking! Die hele veld is oortrek met kosmos en
varings. Jy vergeet van die moeg in jou lyf en hardloop deur toe.
Droom jy? Jy ruk die agterdeur oop en storm uit.
Die hele wêreld is geverf in skakerings
van pienk en wit en groen. Alles net vir jou om te geniet. Jy gaan
staan ‘n oomblik in ‘n waan van verbystering. Kan dit waar wees? Is
dit dieselfde wêreld waar nog nooit ‘n grassie of ‘n blom wou groei nie?
Is dit ‘n werklikheid, of is dit net ‘n hemelse gesig wat nou-nou sal
verdwyn? Jy loop tussen die kosmos en voel hulle skuur teen jou bene.
Opeens besef jy dit is jou eie stukkie
hemel. Die res van die wêreld kan dit nie sien nie. Hulle is te
blind vir hierdie skoonheid. Jy buk en pluk armsvol. Jy omhels die
blomme, druk dit teen jou vas, druk dit tot in jou hart. Jy skaterlag so
by jouself. Die lewe in mooi en God is goed.
Ek mag nie die kosmos van die lewe
misloop nie. Ek moet elke oggend die gordyne wyd ooptrek en uitkyk na
buite. By watter stasie die trein my ookal afgooi, vir seker wag my
lappie kosmos daar vir my.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking