Maandag 21 September 2020

DAARDIE TYD VAN DIE JAAR!


“Baie geluk met jou verjaardag, my maat!” of “Alles wat mooi is vir die toekoms.” Of “Mag daar nog vele wees.”

Dit begin vroeg-oggend, nog so deur die slaapnewels en hou nie op voordat jy vanaand – helaas! – jou kop in die kussing verberg nie.

Nee, kyk, ons almal hou mos daarvan om aandag te kry, nie waar nie? Jy voel so high and mighty vir die enkele paar ure en jou skouers is sommer ‘n bietjie meer regop en jou smile dreig om die son te oortref.

Maar ...!

En dis ‘n baie groot maar daardie.

Jy het gisteraand al gaan slaap met hierdie ding wat jou nie wil los nie. En ja, hoe ouer jy word, hoe knaender is daardie treitering in jou binneste.

Dis ‘n ding wat jou ál terug in die verlede in wil laat neuk. Hoe jy ookal probeer vorentoe kyk, bly jou kop (en hart) terug dwing na gister en eergister en dae en dinge wat was.

Vir wat?

Wil ek mos ook weet, man. Vir blerriewil wat!

Tot jy maar toegee en stil gaan staan en omdraai.

Ja, kom ons kry dit maar oor en verby, dit help tog nie om dit te wil ontken nie, ek is ‘n sentimentele skepsel en eintlik wil ek ook nie anders wees nie.

Die pad lê op hierdie stadium al redelik lank agter jou. Jy kan dit ook maar erken – terug is baie langer as wat vorentoe is. G’n mens weet hoe lank nog vorentoe nie, maar dit kan regtig nie meer so baie wees soos dies wat agter is nie.

Bakens. Versperrings. Triomfe. Neerlae. Vuurwerke. Vloede en brande. Noem dit, en dit was daar.

Nou hoekom is dit dan dat die neerlae en vloede en brande en alles wat duister is, altyd vorentoe dring, terwyl die mooi en lekker so half sku in die donker bly staan? Vir wat is dit dat ‘n mens altyd die negatiewe loop uitgrawe en vergrotings daarvan wil maak? Hoekom is dit dat jy die mooi en die lekker so half soos ‘n klein toffietjie in die kies sit en net so terloops suig-suig daaraan?

En toe tref dit my soos ‘n voorhamer voor die kop! Dis so selfsugtig soos ‘n mens (of is dit net ek?) gebore is, man. Jy glo die goeie moet mos maar altyd daar wees, maar eintlik verdien jy nie die swaarkry wat soms soos doringdraad oor jou pad gespan lê nie. Dit maak dat ek die lekker en die mooi baie maal nie eens raaksien nie, want wees moet dit mos daar wees! Die swaarkry voel allesoorheersend, want ek verdien dit g’n om so te moet ly nie.

Stry?

Net daar neem ek ‘n besluit ... ‘n besluit waarby ek, kom wat wil, gaan hou in die toekoms. Ek sal daardie klein toffietjies suinig in my kies koester. Ek sal hulle suig en rondrol op my tong, totdat die volle smaak vir altyd en altyd in my mond en hart en siel gevestig sal wees. Ek sal hulle een-een uithaal en met groot eerbied, maar ook groot lekkerte, hulle suig en proe en geniet.

En die doringdraad?

Wat daarvan? Ek kan oor ‘n rol doringdraad klouter en klim ... met my toffietjie in my mond!

 

Saterdag 12 September 2020

GEE MY JOU RESEP!

Ons het mos maar almal ‘n gunsteling dis by iemand. Jy weet mos – as ek by die of daai gaan kuier, vra ek vooruit: “Ag, maak tog weer vir my van jou lekker …” Sy lag tog al te lekker en jy weet dat sy jou nie teleur sal stel nie.

My kinders weet dat ek weke voordat hulle kom kuier, vir hulle vra wat hulle graag sal wil eet. Afhangende van die tyd wat hulle kuier, sorg ek dat daar ten minste een van daardie versoeke op die dag se spyskaart is. En intussen ruil ons resepte uit dat dit ‘n naarheid is, want ons wil, wanneer ons verlang, daardie lekkerte maak en sommer nog meer verlang terwyl jy eet.

My tannie Leentjie het ‘n paar sulke spesialiteite gehad. Maar jy moes vir Leentjie geken het om dit te kan waardeer. Jy sien, sy was ‘n gasvrou van formaat ... niemand kon by haar kers vashou nie. Onder andere het sy geglo dat dit ‘n verleentheid vir haar is as ons eet en iemand skep ‘n bak leeg. Ja! Dit het eenvoudig vir haar beteken dat haar kos nie genoeg was nie. Groot bakke kos. Groot bakke lekker kos!

My ma se pannekoek was baie lekker, maar Leentjie s’n was lekker in die oortreffende trap. As jy daardie bak oopmaak, het dit gelyk of pannekoek se kind so half dryf in die suikerstroop. Dit was natuurlik (dit weet ek vandag) die baie kaneelsuiker en groot hompe botter op elke pannekoek. Man! Dan was daar mos meer as genoeg ook – niemand mag honger huis toe gaan nie – en jy kon kry soveel soos jou hart begeer.

Nog ‘n ding wat sy beter as my moeder kon doen, was om ‘n sjokoladekoek te versier met ‘n botterversiersel wat om wraak geroep het. Ma s’n het altyd nog so ‘n ‘suikerige’ tekstuur gehad, maar Leentjie s’n was glad en sag soos ... ja! sag soos botter. Noudat ek self koek bak en versier, weet ek dat botter nie ‘n geringe rol gespeel het in daardie hemelse samestelling op die koek nie. Maar dis nie al nie, hoor. Ek weet mos hoe lank ek my icing klits om daardie gladde tekstuur te kry! Die verskil is dat Leentjie nie ‘n elektriese klitser gehad het nie. Nou hoe dan so? Hoe het sy dit gedoen? Iets wat my ma nie gehad het nie, maar Leentjie wil, was Maria, oftewel Marja. Ek kan net dink hoe die stomme Marja staan en klits het tot die blou wolke spat. Maar eet het ons gevreet aan daardie koek!

Elke, elke, elke keer wanneer ek kerriekos maak, dink ek aan my moeder. Die kinders het gepraat van geelkos, want dit het nooit gebrand nie en dit het so ‘n lieflike geel kleur gehad. Onthou soos ek wil, weet ek nie hoe sy daardie spesifieke smaak in haar geelkos gekry het nie. Ek moes baie maal die mengseltjie aanmaak en oor die vleis gooi, maar vandag wil my mengseltjie nie maak soos Ma s’n gemaak het nie. Die kambeentjies, almal ewe dik deur Ma met die hand gesaag, kwart aartappels en dik wortelringe was die lekkerste lekker op aarde. Met lepelsvol van daardie sous op jou reis, het die hemel self voor jou oopgegaan.

So van Ma gepraat – as sy moet weet hoe lyk my daaglikse spyskaart, sal ek sweerlik in baie groot moeilikheid wees. Ma het elke dag van die week ‘n spyskaart vir ‘n koning gehad. Vleis, reis (altyd!) halwe aartappel vir elkeen in die vleis, twee groentes (een sout en een soet) en ‘n slaai. Ha? Is waar, ek lieg nie. En dit op ‘n plaas daar diep in die Namib waar nie so dikwels dorp toe gegaan is nie. Groente het sy self geplant en slim plannetjies is baie gemaak.

Iets wat ek nog net by my ouma en my ma geëet het, is macaroni met kaneelsuiker oor. Weet jy hoe lekker is dit? Ek neem aan dit was Ouma Lida se uitvindsel en Ma het net voortgegaan daarmee. Nou wonder ek net hoeveel van julle wat hier lees, gril nou tot in jou tone daarvoor. Moenie! Probeer dit self en proe – dis vrekkens lekker, my maat.

Lang, lang jare gelede het ek my een tannie bloediglik beledig. Sy was besig om, soos ons dit geken het, transportkos te maak. Dit is niks anders as vandag se potjiekos nie. In my kinderlike onskuld het ek hierdie storie so staan en betrag en by myself gedink dat dit darem ‘n vreeslike deurmekaar spulletjie is. Die naaste waaraan ek kon kom, was nie juis vir my tannie Miesie ‘n kompliment nie. “Dit lyk soos opgooi,” het ek saggies gesê. Wat sy gedoen of gesê het, kan ek nie meer onthou nie. Al wat ek weet, is dat ek dadelik besef het dat dit nie ‘n mooi ding was om te sê nie.

Pa kon ‘n niertjie en vetderm braai dat jy wens daar was nog baie, baie meer. En ja, die stukkies lewer ook nog. As hy so sit en braai het, het ek heeltyd gewag vir daardie opstaan en vir my ‘n stukkie van dit of dat kom gee. Niks is mos lekkerder as wanneer jy dit so reguit van die rooster af eet nie.

Dan is daar my groot onthou van koffie in die bed by Oupa en Ouma. Die gewoonte het later jare uitgesterf, seker toe ons lotjie heeltemal te veel geword het. Dit was nog nagdonker wanneer Boesman (dit was regtig sy naam, al was hy nie ‘n Boesman nie) voor jou bed kom staan met ‘n koppie koffie ... lekker soet en spierwit van die plaasmelk. Manne, manne! Jy slurp hom in en raak net daar weer aan die slaap. Vandag is ek jammer dat Boesman so vroeg moes opstaan om ons almal te kom bederf met koffie. Jy moet weet dat hy, om daardie koffie te kon maak, eers die vuur in die stoof aan die gang moes kry en als ...

‘n Gereg wat ek met groot vrymoedigheid maak, is aartappelslaai. Ma het altyd gesê myne is die lekkerste op die hele wêreld. Maar dan luister ek so na ander mense en ek wonder by myself of myne nou werklik so lekker is? Om mee te begin, reken die aartappelslaai foendies mos jy moet, moet, moet kondensmelk ingooi. Dit is glo die wet van Mede en Perse. En tog doen ek dit nie. Nou wil jy by my weet hoe maak ek dan aartappelslaai? Heheheee! Ek gaan jou nooit my geheim vertel nie, jy kan maar los.

En dan is daar my eie liefie se patties! Wat hy alles in daardie mengsel gooi, is om enige huishoudkundige ‘n hoe bloeddruk van te gee. Mince (afgeweeg), eiers, brood, meel, uie, en sy geheime spices. Ek het eers gekeer, want brood EN meel? Maar nee, hy is seker dis hoe sy Mutti dit gemaak het en dis hoe hy dit maak. Ons het later uitgevind dat skoonma dit g’n so gemaak het nie, maar teen daardie tyd was Liefie al so tuis met sy resep, dat niks meer verander kon word nie. En so van ons kinders gepraat – hulle kan nie huis toe gaan as hulle nie van Pa se patties gehad het nie. Saam daarmee maak hy die lekkerste, fynste mash en gewoonlik soet ertjies. Jy kan maar kom sit en eet, hoor! Hy weet wat hy doen. Oja, die mash is ook ‘n resep op sy eie met onder andere melk EN poeiermelk saam met die homp botter.

Dis nou die ou wat op ‘n stadium geglo het hy kan niks anders as roereiers maak nie. Op ‘n slag was ek op pad iewers heen. My seun was diep bekommerd. “As Ma weer huis toe kom, is ons almal geel van al die eiers.”

So het elke huis seker maar sy eie stories oor of van kos. Gelukkig hoef ons nie van die flops te vertel nie, hoef ons? Of dalk is dit ‘n storie vir ‘n ander dag.

Intussen: Lekker eet!

 

 


 

Donderdag 10 September 2020

ONS GROET VIR EERS ...

 Dink soos ek wil, maar ek kan nie onthou wánneer hy in my lewe gekom het nie. Vir my voel dit of hy maar net altyd deel van my lewe was. Nee, dis nou nie dat ons beste vriende of iets was nie, hoor. Dis net ...

Net wát, Martha? Jy wou sê?

Ek moet erken dat ek sit en wroeg om hier te kan skryf. My hele hart roep om hulde te bring aan hierdie man – hierdie allemansvriend – ja tog was hy ‘n vriend van my ook.

Hy was die voorbeeld vir elke onderwyser met wie hy te doen gehad het. Ek is seker hy sou, as hy moes, enige vak denkbaar kon aanbied. Hoe dan so? Bloot omdat die lewe nooit, ooit vir hom ‘n las was nie. As daar ‘n berg voor hom was, het hy hom geklim met mening. Afdraandes? Man, al moes dit gly-gly gaan, hy sou die pad voluit loop.

Kerkman. Gesinsman. Vriend. Noem maar op!

As ou Coets in ‘n vertrek gestap het, het jy geweet: Hier is ou Coets. Glad nie omdat hy luidrugtig was of opgedruk het nie, hoor. Bloot daardie persoonlikheid wat niemand mis kon kyk nie.

Jare terug verloor hy sy been. Ek is behoorlik in sak en as. Wat gaan nou van hom word? Hoe gaan hy dit verwerk? Hoe gaan hy hierdie krisis oorleef?

Toe ek nog dink hy is in die hospitaal, of ten minste by die huis in die bed, loop ek hom raak iewers. My hart gaan aan die klop en ek is kortasem. Hoe maak ek nou? Jy weet mos, ‘n mens soek so half na die ‘regte’ woorde vir die ‘regte’ situasie.

Ek loop nader met ‘n bedrukte gesig. En ou Coets? Die glimlag op sy gesig is so helder soos ons son daar buite. Hy loop, man, hy loop ... en hy lewe!

Soos met enige vriend wat gaan, kan ‘n mens jouself oorgee aan ‘As ek maar dit ...’ of ‘As ek maar dat ...’. As jy soek, kry jy altyd ‘n goeie rede om jouself met daardie swepie op die rug by te kom tot die bloed in strale loop.

Maar nee, los daardie selfverwyt, man. As jy mooi dink, gee hy nie nou ‘n snars om oor my en my worries nie. Hy is vol vreugde en liefde en alles wat mooi en heilig is.

Dus ...! Kom ons vier die lewe wat ons saam met ‘n vriend geken het. Kom ons onthou die mooi en die goed en bou daarop voort.

Ou Coets, dit was goed om jou te ken!




OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...