Sondag 31 Maart 2019

OOR VERGANKLIKHEID EN OUDERDOM EN ANDER DINGE

Ek en my seun gesels gister oor die oumatjie wat ook al twee jaar lank in die hemel is. Jy weet mos, dit gebeur sommer so spontaan dat jy iewers vashaak en eers jou praat klaar moet praat oor wat/wie ookal.

My ma was (ek glo ek het jou al vertel!) ‘n vrou van formaat. As ek aan haar dink, sien ek net die twee kort beentjies wat so op ‘n drafstap is. Haar lewe op die plaas het bestaan uit baie harde werk en om ander te dien. Niks was ooit vir haar te veel nie. Niks, behalwe natuurlik om tyd aan haarself te spandeer. Sy het nie daarin geglo dat sy mag stilsit en ontspan nie, hoor. Die ouma was ‘n besige vrou!

Maar dis nie waaroor ek met jou wil gesels nie. My storie gaan eintlik nie oor die ouma nie, maar om my punt te maak, moet ek eers vir jou van haar lewe in haar later jare vertel.
Sy was hier in die ouetehuis en het gereeld naweke kom kuier by ons. Eers was dit goed en lekker, maar toe begin die dinge pla.

“Twee aande is te veel, jong. Ek wil asseblief net Vrydag by julle slaap en dan wil ek na my plek toe gaan.”

‘n Tyd later: “Hierdie inpakkery is ‘n gemors! Ek hou nie daarvan nie. Ek sal by julle kom braai Saterdag, maar ek wil in my eie bed slaap.”

Nog later: “Los tog maar vir my waar ek is, toe? Kom kuier julle maar vir my hier.”
Ons het so baie daarvan gehou om te gaan shop. Ek laai vir Ouma op en sy koop haar goedjies en ons gesels ‘n hond uit ‘n bos uit so tussen die winkelrakke. Ons het elkeen ons eie trollie en ons pak hulle vol!

Opeens sukkel die kopery. Sy wil seep koop. Ek loop tot voor die rak en wag dat sy die seep moet vat. Sy sien nie waar is die Dove seep nie. Ek wys vir haar waar en sy pak dit in. Dit gaan goed vir ‘n tydjie, totdat sy aankondig dat sy g’n daarvan hou om winkel toe te gaan nie. Van toe af gaan ek alleen winkel toe en koop als wat nodig is vir ons albei.

Om terug te kom by die kuiertjies by ons ... Sy het nog af en toe by ons kom kuier, maar dan moes dit vroeg wees, want Ouma wil terug by haar plekkie wees en gaan regmaak en slaap.

Daar was sekere geregte wat ek altyd spesiaal vir haar gemaak het. Sy was nogal nie skaam om vir jou te vertel hoe lekker dit of dat was nie. “My kind, niemand op aarde maak aartappelslaai soos jy nie!” Of my valskywe. Of my patats.

Toe Ouma nie meer by ons wil kom eet nie, het ek op spesiale dae (verjaardae, Kersfees, ens.) my kos gepak en ons het by haar gaan eet in haar kamer. Alles was nog net so lekker soos altyd, behalwe dat Ouma nie die moeite gehad het om na ons toe te kom nie.

Tot die laaste Kersfees! Ouma het in stilte die kos wat ek vir haar ingeskep het geëet en die leë bord vir my gegee. Ek wag toe al lank vir ‘n kompliment vir alles wat lekker was. Maar moenie glo nie!

“Alles was baie goed voorberei, maar dis baie vreemde kos hierdie.”

Toe ek en Seun klaar gesels het, dink ek by myself dat dit werklik is soos ons lewens maar is – die aardse ou tentjie verweer en die tentpenne ruk een-een los en uiteindelik is daar niks van jou oor nie. 

Maar, hoor hier, toe tref ‘n ander gedagte mos vir my. Is ons werklik besig om minder en minder te word? Is Tyd werklik ons vyand? Is die ouderdom werklik ‘n ding wat jou aftakel tot daar niks meer oor is behalwe om dood te gaan nie? Met ander woorde, is ons lewens ‘n lyn wat boontoe loop en dan, met die ouderdom, ‘n lyn onder toe maak tot by die dood. En skielik is daar niks!

Voordat ek die gelowiges ontstel – ek praat hoegenaamd nie van die lewe na die dood nie, asseblief. Ek praat van die dinge hier op aarde en hoe ek en jy en almal dit ervaar.

Ek dink opeens heeltemal anders oor die hele ding. Dis ‘n groot leuen wat ons vir onsself vertel dat alles dan tot ‘n einde kom ... jy is nou dood en weg en vergete. Is nie!

Kom ons bou ‘n standbeeld. Ons gebruik goud, edelstene en alles wat kosbaar en mooi is. Die ding is net dat ons dit nie kan gaan koop iewers nie. Ons moet uitgaan en dit gaan optel en aandra voor ons dit bietjie vir bietjie kan bou. Ek sien jy knik, want jy weet nou waarop stuur ek af.

Terwyl jy ‘n kind is, gaan die bouery redelik stadig, want jy is onkundig om jou boustene te gaan optel. Dan word jy ouer en wyser en die bouery tel spoed op. Mettertyd kom jy agter dat die bouery nou stadiger en stadiger raak. Dis nie dat jy nie meer kan bou nie, maar dit vat tyd en moeite om uit te gaan en op te tel.

Stadiger en stadiger vorder die standbeeld. Stadig, baie stadig.

Jy sien self nooit die eindproduk nie. Jou laaste woorde, jou laaste glimlag, jou laaste vriendelike knik met die kop, is die laaste edelstene om die standbeeld te voltooi. Jy traak eintlik lankal nie meer daaroor nie, maar steeds bou jy voort.

Wanneer alles verby is en almal reken jy is 'weg', draai iemand op ‘n dag om (soos ek en my seun weer gister gedoen het) en sien die volmaakte standbeeld wat niemand ooit kan vernietig of miskyk nie. Dis byna soos 'n vuurtoring in die nag. Al slaap almal, is daar iemand wat hom raaksien en met vreugde die warm lig daarvan indrink en waardeer.





Dinsdag 19 Maart 2019

DIE ANDER LOTJIE

Ek ken vier vrouens. Hulle is almal min of meer ewe oud, maar as jy hulle bekyk, sal jy dit nooit raai nie. Hierdie viertjies verskil soos dag en nag, maar nogtans is hulle (soms!) beste vriende.

Kan ek jou aan hulle voorstel?

Liewe Katie is ‘n dierbare, sagsinnige wese. Sy glimlag altyd – of dit warm of koud of donderweer is, Katie glimlag! Niks en niemand kan haar van stryk bring nie, hoor. ‘n Mens wil soms glo sy is met daardie glimlag op haar dierbare gesiggie gebore. Al weet jy dat Liewe Katie so pas deur ‘n geweldige storm is, jy sal haar nie sonder daardie glimlag betrap nie. Vra jy hoe dit gaan, is die antwoord altyd (maar altyd!) “Goed, dankie!” ... en dan kom daardie sonskynglimlag weer op die vol wange sit. Soms, maar net BAIE soms, loop die trane oor die volronde wangetjies, maar die glimlag sit of hy geplak is.

Hoe kry sy dit reg? G’n mens weet nie, jong. Ek het al probeer afloer of sy dalk ‘n doepa of ‘n ding drink, maar niks! Wat ek wel al gehoor het, is dat sy haarself voortdurend aanmoedig en aanhits tot hoër hoogtes. Dinge soos ‘Kom nou, Katie, jy weet mos dat hierdie een ook sal oorwaai,’ of ‘Regtig? Dit kan nie erger as die Boere Oorlog wees nie, kan dit?’ En dan kyk Katie op en die glimlag sitttt!

Martie Jammergat is ‘n ander vriendin. Nee, haar van is nie regtig Jammergat nie, maar ek dink nie daar is ‘n mens op aarde wat haar regte van ken nie. Haar klaagliedere en jeremiades ken geen perke nie, hoor. As sy in die oggend opstaan, kan jy seker wees ‘n been of ‘n arm of ‘n heup of haar kop pyn so dat sy dit tog nie kan uithou nie. En heeldag moet al wat leef en beef hoor van hierdie moordende pyn wat sy hier of daar of oral het.
Voel sy darem ooit beter? Nooit nie! Hou sy ooit op met kerm? Nooit nie! Die lewe het haar aan die hakskeen beet en dit pyn dat dit bars. As jy mooi kyk, sal jy selfs die bloed sien afstroom langs haar voetsole. Is! Sy het dit regtig nie maklik nie. Sy is nou maar vir eens en altyd gestraf met alles wat aaklig en onhanteerbaar is. Net gister nog het haar oorle antie se suster se skoonma mos so lelik met olie gebrand in die kombuis. Ja, dit was net nadat sy gehoor het van haar eks wat sowaar nou weer ‘n nuwe meisie het. Sien jy? Sy het dit regtig nie maklik nie. Shame tog, man!

Die derde lid van die viermanskap is mos daardie doofstom vrou. Niemand ken haar naam of van nie. Nou hoe dan nou so? Dis logies, man. Die vrou kan nie praat nie en hoe op aarde kon sy al vir iemand vertel het presies wie sy is? Sy praat nie. Nou vra jy my of sy nie WIL praat nie en of sy nie KAN praat nie. Ek weet nie, hoor. Ek weet regtig waar nie wat presies die vrou se probleem is nie. Jy kan maar doen wat jy wil, praat sal sy nie praat nie.
‘Kan ek vir jou ‘n gunsie vra?’  STILTE. ‘Wil jy saam met my dorp toe gaan?’ STILTE. ‘Voel jy nie lekker nie? Jy is regtig baie bleek.’ STILTE.


Dit dryf almal die mure uit, maar dit pla haar blykbaar glad nie. Sy knip nie oog of roer ‘n skouer nie, hoor. Sy gaan haar gang asof niemand nog ooit met haar gepraat het nie. Ek wil nogal sweer sy kan ‘n mens hoor, want party kere is dit asof daar ‘n soort van ‘kyk’ in daardie twee oë kom wat nie altyd daar is nie. Maar die oomblik wat ek weer kyk (mos om seker te maak!) dan is die oë ook weer stil soos ‘n Sondagmiddag op Keetmanshoop.
Jy kry niks uit haar uit nie. Sy het, so lyk dit vir my, ook geen behoefte aan geselskap nie. Hoe kom ‘n mens so? Wat maak jou dat jy nie wil praat of luister nie? Dis ‘n vreemde spulletjie, as jy my vra. Nee man, sy’s g’n getoor nie. Dis nou nie wat ek bedoel het nie. Sjoe, dit kom nou daarvan om te sê wat ‘n mens dink.

Wat my mos nou laat wonder – is dit nie juis hoekom sy is soos sy is nie? Dan hoef sy mos nooit niks aan niemand te verduidelik nie, ha?

Nommer vir is ‘een van ons’. Daar is niks vreemds of snaaks omtrent haar nie. Eintlik is sy maar redelik vervelig, as jy my vra. Gewone (lui) huisvrou, lid van die plaaslike Help Mekaar-klub, sing in die kerkkoor, en wat nog alles. Jy sal nie twee keer na haar kyk nie en, as jy saam met haar ‘n geselligheid sou bywoon, gaan jy teen more nie eens meer haar naam onthou nie. Vaal. Vervelig. Alledaags. So terloops, ek kan ook nie haar naam onthou nie.

Op ‘n dag is hierdie vier om die koffietafel. Dis nou Liewe Katie, Martie Jammergat, die doofstom vrou en die anner een wat so vaal is dat niemand haar raaksien nie. Hulle doen soms die ding met die koffie – glo om so ‘n bietjie ‘op te vang’ wat in almal se lewens aan die gang is.

Een van hulle stel voor dat hulle gerus ‘n slag ‘n groepfoto moet neem. Ek meen te sê, dis min genoeg wat hulle vier so saam is. Dit loop amper op ‘n oorlog uit, man. Liewe Katie gaan staan op die trappie en beduie liefdevol vir die ander om langs haar te kom staan. Martie Jammergat gaan onmiddellik aan die kerm omdat Liewe Katie die beste plek vir haarself gekies het. Snot en trane, hier kom ons! Die doofstom vrou hoor nie wat sy moet maak nie en gaan aan die loop, op met die trappe en af anderkant. Sy loop die loop van 'n vasberade mens, hoor. Iemand moes haar doer op die vlak gaan vang en terugbring foto toe. Die valetjie gaan staan tussen hulle, maar die fotograaf skree: “Waar’s die vaal vrou? Sy’s dan nie hier nie!” (ek het jou mos gesê niemand sien haar ooit raak nie).

Mensekind! Dis toe daardie foto ontwikkel is by die fotowinkel, dat ek die skok van my lewe kry. Maar ek vertel jou nou-nou daarvan. Die foto is toe nie so 'n sukses nie. Jy sien, Liewe Katie smaail dat jy net tanne sien. Martie Jammergat staan en snik dat die blink strepe onder haar neus tot by haar mond loop. Die doofstom vrou is besig om haar bra se 'strap' stywer te stel sodat dit nie so uithang hier langs die kant nie. Die valetjie ... kan 'n mens glad nie sien nie.

Nou, om te kom by die skok toe ek die foto die eerste keer sien. Ek bekyk hom van alle kante af, maar dit wat op daardie papier is, bly daar. Dit wil nie verander nie, dit wil nie anders lyk nie, verdomp! Dit lyk vir my dit raak net erger en erger by die oomblik. 

Ek bekyk die ou viertjies so en ek snak na my asem. Dit kan nie waar wees nie, man. Dit is net nie moontlik nie!

Want sien, hulle almal lyk op ‘n haar na presies dieselfde ...


... soos ek!

Maar as ek nou so dink ... IS dit toe nie maar al die tyd ekke nie?

Vrydag 08 Maart 2019

SEWENTIG SOMERS VERDER deur Ina Cantoni

In die na-nag as slaap jou ontwyk en net jy jou eie geselskap is, is dit die soort gedagtes wat jou metgesel is. Wat ’n voorreg om jou gedagtes in woorde te omskep. Miskien is daar iemand wat met my wil deel. 

Van nou af is dit nog ’n paar uur dan is dit my sewentigste verjaardag. Sommige mense beskou dit as ’n triomf, sommige ’n mylpaal, ander ’n doelwit. Hoe sien ekke dit? Wat ’n journey was dit vir my! Sou ek dit anders wou hê? Natuurlik! Elke mens sal die gate, hobbels en dorings wou delete, of sommer net met ’n ompad benader. Met ’n diep sug aanvaar ek nou in hierdie laat uur van die nag! Tuffies! Jy kan dit nie verander nie , aanvaar en lig jou kop.

Nou giggel ek saggies by myselwers. Ek lig my kop, ek kyk vorentoe en dan besef ek, die voor is sommer hier vlak voor. Nie meer donkiejare of ’n lang beplanning nie, o nee! Ek is om die laaste draai van die ovaal baan, in die laaste pylvak. Nou wat nou?

Skielik is alles so duidelik soos daglig. Voor, aan die einde van die baan, is ’n lint oor die pad! Nie ’n wit of swarte nie, maar ’n helder gekleurde lint, regoor die bane van my lewe en ek moet daardie lint gaan breek. Dit is ’n lint wat niemand gaan vryspring nie. Ons is mos nie op aarde vir altyd nie?

Ek spoor myself aan. Suster, jy moet nou asem skep en alles insit. Daar is nie tyd vir bly lê en jou pyne vertroetel nie. Al hink jy op een been en klou die rugpyn vas, sorg dat jy die wenpaal haal. Miskien sal ’n nuwe bril help om beter te sien, maar vir hierdie laaste aanloop hoef jy nie te sien nie.

Ek dink, oor ’n leeftyd heen is die pad mos nou baie duidelik? Langs die baan sien ek baie gesigte: my kinders, kleinkinders, familie, vriende en kennisse. Of hulle my aanmoedig of bejammer weet ek nou nie, maar ek gee nie om nie. In my hart is ek net flink op pad. My seer voete en pynende bene pla nie meer nie. Al beland ek op my rug, ek beweeg nog steeds na die lint oor die pad.

Miskien moet ek bietjie stap, stadiger en mooi kyk wat wag vir my. Genade, na sewentig jaar se gedraf mag ek mos nou rustig en stadig stap ook? Daar is mos nie haas nie. So-ja dis beter! So duidelik asof dit reeds gebeur het kan ek sien. 

Aan die ander kant van die doellyn is ’n hemelse oop veld, die mooiste gesig. Blomme, bome, berge en watervalle wat strome van seën voorspel. 

Ek sien mense in ’n yslike pawiljoen en ek weet as ek nader kom, gaan almal opstaan, arms in die lug en juigend vir my waai en roep. My hart galop vol vreugde in my borskas. Hulle is lamal daar! My ouers wat bly na my roep, ooms tantes, oumas en oupas. Vriende en geliefdes dans van vreugde as hulle my deur die lint sien bars. 

Opgewondenheid maak my kortasem, ek het die wedloop voltooi, ek het gewen!

Hoekom moet ek ’n graf en die einde van alles sien, as ek dan weet dat die reis op aarde is net ’n korte voorlopigheid na die ewigheid? 

Môre gaan almal se wens wees: geluk met jou verjaardag en ek gaan die lekker warmte teen my vasdruk vir elke wens aan my. Maar ek gaan hierdie laaste pylvak vasgryp en elke oomblik waardeer, ek gaan my geliefdes net nog liewer hê, ek gaan elke dag ten volle LEEF.

Maar ek sien ook reikhalsend uit na die dag wat ek deur die lint mag breek. My lewensreis was goed, foute en teleurstellings ingesluit, maar na die einde wag die oorwinning. 

Dankie, Heer, dat U na sewentig jaar nog nie opgegee het op my nie. Dankie, vir al daardie klomp dae en nagte. Die grootste dankie is die besef dat ek geen dood vrees nie, dat ek voluit wil leef tot aan die einde. Miskien nog twintig jaar of meer? Miskien net tien dae van nou? Maak nie saak nie, ek is voorbereid en met dieselfde oorgawe wat ek leef gaan ek die doelpaal bereik. 

Natuurlik het ek nog drome en ideale. Ek wil my man nog baie geniet, my kleinkinders baie bederf en my kinders: siestog ek het nog tyd om hulle opdragte te gee. Natuurlik ook die dekselse stories wat my nie toelaat om te slaap nie moet tussen boeke se blaaie lewe kry. 

Ontspan maar, julle, ek het nog ’n groot vrag werk wat wag, op stuk van sake is sewentig ook net ’n nommer, dielfde as een-en-twintig, dertig en vyftig!

Vrydag 01 Maart 2019

DIE SOUT VAN DIE AARDE?

Dis vandag twee jaar gelede ...! Twee kort jaartjies, maar ook twee ontsettende lang jare sedert my liefmoeder daardie oggend nie meer verder kon stry nie. Ek is al sedert die begin van Januarie besig met hierdie gedagtes oor haar. Want, jy sien, dit is werklik hoe lank dit geneem het voordat die eindfluitjie geblaas het.

Maar ek wil nie sanik nie. Ek is ook nie lus vir ‘n treurmare nie; glad nie iets in daardie rigting nie, hoor. Ek lê nou in die bad en dink oor haar. Ek wonder hoe kan ek eer aan haar nagedagtenis gee sonder om te kerm en kla.

En toe weet ek! Kom ek vertel jou wat broei alles eenuur in die nag in my kop uit.
Gestel jy kry die keuse om jou liefmens met ‘n aardse element te vereer – wat sou jy kies? Onthou, dit mag niks wees wat jy kan koop of kan maak nie. Dit mag bloot iets wees wat die natuur vir jou gee. Wat sou jy kies om jou geliefde mee te gedenk?

My moeder laat my dink aan lekker soet heuning. Hoewel ek net by geleentheid heuning eet, is daar regtig niks anders in die natuur wat vir my meer verteenwoordigend is van my mammatjie nie. Want, jy sien, heuning is soet en die mense wat daarvan hou, kan hulself byna nie ‘n lewe sonder heuning voorstel nie. Vra maar vir die heuningverslaafdes, hulle sal jou sê ek is reg. Maar dan! Hoewel heuning deur baie baie mense geëet word, besef baie min van hulle dat dit ‘n besondere genesende waarde het. Dit is bekend dat ons voorouers dit selfs op oop wonde gesit het vir die genesende krag wat dit het.

En dit is presies wie my moeder was! Kom by haar met ‘n seer hart, en jy kan maar weet dat sy in haar wysheid jou sal help om dinge in ‘n beter lig te sien. Verder was sy bekend daarvoor dat sy haar beentjies stomp gehardloop het vir wie ookal haar nodig gehad het. Spog ek met haar? Nee, glad nie. Dik ek aan? Ook nie, hoor. Sy het ‘n dienende gees gehad waarvan ek nog nie die gelyke gesien het nie.

As ek aan my pa dink, is daar geen ander simbool in die natuur anders as ‘n groot, swaar rots waarmee ek hom wil vergelyk nie. ‘n Rots wat ongestoord in die magtige berg sy doel dien. ‘n Rots wat nooit wankel en bewe nie. ‘n Rots wat maar net altyd daar is vir wie ookal ‘n skadukolletjie wil soek. ‘n Rots wat skuiling bied aan ‘n menigte diere in die veld. Hy hoef nie aan te kondig: “Kyk, hier is ek,” nie. Hy is daar! Hy was maar nog altyd daar en sal, al soek jy hom eers weer oor ‘n jaar of twee, nog stil daar op sy plek staan.

Dit is hoe ek Adriaan Pieter van Lill ervaar het – stil, sterk en standvastig. Hy was vir my die sekerheid en die rustigheid wanneer die lewe my in woeste storms rondgeskud het. Hy was stil, eenkant en (soms) moeilik om te ‘lees’, maar vir my was hy ‘n hartsvriend en die stilte en vrede waarheen ek altyd, en nog steeds! gehunker het.

Op hierdie manier sou ek graag vir elkeen in my lewe ‘n simbool toeken – iets wat eie is aan daardie persoon.


Onwillekeurig wonder ek nou watter aardse simbool ek aan myself sal toeken. Gits, kom ons los dit maar vir later. Dalk, ja dalk, skryf ek dit eendag op ‘n stukkie papier en gooi dit dan maar liewer weg.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...