Maandag 16 Maart 2020

KWARANTYN BLY KWARANTYN, VRYWILLIG OF NIE


Jy hoor dit eers net hier en daar en as jy, soos ons, nie tv kyk nie en dus geen of baie min nuus kyk, is die nuus rakende die virus eintlik minimaal. Maar soos die dae – ure? – aanstap, hoor jy meer en meer daarvan, totdat dit sowaar AL is wat jy hoor.
Ek hoor jou sug! Ja, so wraggies sit ek ook my pen op papier oor die virus. Maar moenie te erg stress nie, jy gaan nie ‘n mediese verklaring kry of aanwysings hoe om dit vry te spring nie.
‘n Mens is mos ‘n snaakse ding, jong. Maar aan die ander kant, ek dink hierdie een eienskap deel ons met die diereryk ook: veg of vlug. Is mos so, ha?
In elk geval, toe die ding begin lyk of dit ernstig kan wees, raak my kop aan die hol. Kan ‘n mens iewers heen gaan om voorsorg te tref? Kan ‘n mens iewers ietsie kry om jou te vrywaar van die virus en sy nagevolge? Of nog beter: Kan ‘n mens iewers heen vlug om dit totaal en al te ontkom?
Op al my vrae was die antwoord negatief. Nee, Marthamaria, jy sit gestrand en jy sal moet face wat na jou kant toe kom. Want, jy sien, hierdie virus het nie gunstelinge of vyande nie – almal is gelyk voor hom ... president, straatveër, ma of pa of kind of ouma of oupa.
Ek soek na inligting en luister vraatsig na elke praatjie wat my meer ingelig kan laat voel. Dan begin ek die inligting sif en sif en sif. Nie almal praat die waarheid nie en nie almal bedoel dit ewe goed met die mensdom nie. Luister, Martha, en dink mooi voordat jy jou move maak.
Die slotsom waartoe almal kom, is vrywillige isolasie. Hmm, dit klink darem maar te maklik, ha?
Maar dis regtig so – bly by jou huis en wees rustig.
My geliefde met wie ek al (byna) lewenslank getroud is, is baie sinies oor die hele storie en laat hom nie sommer op hol jaag nie. Dis sekerlik waarom ons twee moes trou – die een hou die ander so ‘n bietjie in toom, sien. Dis nou veral waar dit by die emosies kom. Hierdie ekke is ‘n ander een met gevoelens wat soos warrelwinde kan swiep deur die hart sodat jy teen vanaand stokflou en ooreis op die bed neerslaan. Nie omdat jy so hard gewerk het deur die dag nie, maar oor alles wat in jou kop gebeur het heeldag lank.
Ek wil nie ‘n lang storie van die storie maak nie, want niemand het tyd om nou stories te lees nie. Almal is te besig om die virus dop te hou, sien.
Wat ek toe vanoggend ervaar, is hierdie groot vrede en rustigheid oor alles. Dink ‘n bietjie mooi oor wat aan die gebeur is en jy sal saamstem met my.
Om vrywillig of onwillig by die huis te bly, dwing jou terug na jou binneste toe. Jy word, vrywillig of onwillig, gekonfronteer met hulle wie die naaste aan jou is. Daar is nie plek vir buitestaanders nie, want elkeen van hulle word ook terug huis toe gedwing.
Hmm? En nou? Nou is dit ek en my naaste liefdes en my eie gedagtes. Skielik jaag niemand meer vinnig hiernatoe of daarnatoe nie. Jy word gedwing om stil te raak en te fokus op die dinge hier by jou ... dis amper of die buitewêreld nou nie meer bestaan nie, ha? Dis nou nie asof ek volstruispolitiek beoefen nie, maar as ek nie meer strate toe kan gaan nie, kan hulle mos net sowel nie meer bestaan nie.
Waaroor gaan my hele relaas dan nou eintlik?
Maar net dit: Ek is stil en rustig in my eie nessie. Ek het skielik baie meer tyd om my dinge te bedink en my geliefdes sommer dubbeld lief te hê. Ek het selfs genoeg tyd om jammer te voel vir die ‘wilde perde’ daarbuite wat glo hulle kan nie lewe as hulle nie rondjaag en rondkuier nie.
My raad aan jou? Maak toe die hek, trek toe die deur en geniet wat rondom jou is! Lees daardie boek waarvoor jy nooit tyd het nie. Beproef daardie resep waarvoor jy altyd wegskram omdat jy nie die tyd het daarvoor nie. Maak die koffie, gaan sit met jou geliefde en kuier tot die koppies yskoud is en jy nog moet gaan maak.
Gebruik die tyd, my maat. En bo alles – wees rustig, want net so min soos jy die wind kan beheer, kan jy hierdie virus beheer.
My wens aan jou is dat selfs hierdie vrywillige of onwillige kwarantyn sal geniet en skatte in jou hart sal vergaar vir die dag wanneer jy weer moet jaag en hardloop en tyd het vir niks nie.

Maandag 09 Maart 2020

TROUPRAATJIES EN ANDER DINGE


Wat ek nou besef, is dat jy nie vir die familie vra wat hulle weet van toentertyd se dinge nie – daar kom stories uit waaroor jy jou hande saam kan slaan. Genadiglik hoef nie een daarvan gesensor te word nie!
Neef Tielman vertel my oor sy ouers se ontmoeting en daarna. Ou Tilla (dis nou neef Tielman se pa) was verloof aan ‘n ene nooi Mavis. Ek kan my indink dat sy pragtig moes wees, want die Van Lill-manne hou van die meisies mooi en met heelwat kurwes op die regte plekke. Ouboet Jacob (vir ons is hy sommer Koppie) gaan kuier in Jeffreysbaai en ontmoet daar vir Miesie. Hy besluit dat ou Tilla die verkeerde meisie op sleeptou het en beveel vir Miesie om haar koffers te pak en saam te kom Suidwes toe – hy het die regte man vir haar.
Miesie is nie links nie en klim die kar terug Suidwes toe. Die uiteinde van die storie is Mavis met ‘n gebreekte hart en ou Tilla en Miesie haak af. Na die troue ry die nuwe egpaar plaas toe in ou Tilla se groot bakkie. Hy stop en klim uit, maar hy sien nie dat sy verliefde bruidjie sommer agter hom wil uitklim nie. Hy slaan die bakkie se deur toe en ... Miesie se vinger sit in die toe deur vas. Van honeymoon was daar daardie nag nie veel nie, want die vinger het so gepyn dat sy heelnag met hom in die lug gelê het.
Oupa en Ouma van Lill kom van kindsbeen af saam. Die twee plaashuise waarin hulle gewoon het, was letterlik geskei deur ‘n rivierloop. Die grootmense het gesien dat hierdie twee darem te danig is met mekaar en Ouma se ouers besluit om ‘n plan te maak. Nou, hoor vir my, hierdie plan was gewigtig! Van die plaas af moes sy per ossewa Walvisbaai toe ry. As my somme reg is, moet dit byna 400 kilometers. Vir ons is dit mos niks nie, maar dink jou nou in om dit per ossewa af te lê.
In Walvisbaai is sy op ‘n boot gesit Port Nolloth toe. Daarvandaan was dit weer ‘n keer die ossewa Mesklip toe. Nou vertel ek vir jou vandag dat ek in my lewe nog nooit gehoor het van so ‘n plek nie. Waar sou haar ouers daaraan kom?
Ek reken Oupa en Ouma Esterhuizen was baie desperaat om hulle dogter uit die Van Lill-jongetjie se hande uit te hou.
Dit het egter toe glad nie die gewenste uitwerking gehad nie. Toe ouma Martha klaar is met skool, is dit reguit in Jacob se wagtende hande!
Wat baie min van ons weet, is ietsie baie persoonlik wat ouma Martha later jare met ‘n niggie van my gedeel het. Haar en Jacob se huweliksnag moes hulle voor haar ouers se bed slaap! Kan jy nou meer. Hoekom? G’n mens weet nie en Ouma is al lank heen, dus kan ons haar ook nie vra nie. Ouma het met ‘n stout glimlaggie vertel hoe sy die hele na moes sukkel om Jacob se soekende hande van haar lyf af te hou.
Hierop kan ek maar net sê: Arme Ouma! Dit kon nie ‘n maklike takie gewees het nie, voorwaar.
Aan moederskant is daar ook ‘n storie wat jou na jou asem kan laat snak. Ouma Lida moes iewers heen en die enigste een met ‘n motor was Lourens Fouche. Hulle het mekaar beswaarlik geken, maar haar ouers het uit desperaatheid ingestem dat sy saam met hom ry. Soos die noodlot dit wou hê, breek die kar toe tussen êrens en nêrens en daar sit die twee! Die son het gesak en die nag het op die twee vreemdelinge neergedaal. Hoe hulle uiteindelik geholpe geraak het die volgende dag, weet ek nie vandag meer nie.
Die ding is net dat Ouma sowaar die nag met ‘n man spandeer het! Skande op die familie! Haar ouers het besluit die enigste manier om haar naam te red, sou wees om met Lourens te trou. Ek wil nie weet wat alles daar gesê is nie, maar sy het geen ander keuse gehad nie. Alida is toe met Lourens getrou en hulle het baie, baie goeie jare saam gehad.
My ouers het ook ‘n storietjie gehad om te vertel. Die mooie nooi, Aggie, was verloof aan ‘n ene Faan. Hulle huweliksdatum was nie meer so ver nie, maar Faan sou vir ‘n tyd lank nie in die dorp wees nie. Hy vra toe sy goeie vriend, Attie, om tog maar ‘n ogie te gooi oor sy Aggie. Terloops, Attie sou ook die strooijonker wees!
Attie het sy plig baie ernstig opgeneem en het regtig mooi na die ou meisietjie gekyk. Ek verbeel my hulle was per geleentheid saam na ‘n dans toe ook ... alles baie vriendskaplik, sien. Alles sou seker goed afgeloop het, maar ‘n mens kry mos soms vriende wat nie dink voor hulle praat nie.
So vra die vriend vir Attie: “So, jy gaan die strooijonker op die troue wees? Nou hoekom is jy nie sommer die bruidegom nie?”
Nou kyk, as jy hom geken het soos ek hom geken het, sal jy weet dat Attie nie ‘n bang haar op sy kop het nie en ook nooit vir ‘n uitdaging gestuit het nie. Net daar verander hy van strategie en sleep vlerk dat dit ‘n naarheid is.
Aggie, daarenteen, het eers glad nie van hierdie jong bankklerkie gehou nie. Sy het gedink hy is net ‘n bietjie te windmakerig na haar sin. Dit het hom egter nie afgeskrik nie en ons weet mos teen hierdie tyd dat aanhouer (gewoonlik) wen.
Sy het snags op die sentrale gewerk. Daardie tyd was die sentrale deel van die poskantoor en sy was dus naglank daar om haar werk te doen. Dit is waar Faan haar toe een aand gaan besoek. Faan, totaal en al onbewus van wat aan die gang was terwyl hy nie in die dorp was nie, gaan met groot opgewondenheid om sy verloofde te groet.
Dis toe dat hy hom vasloop in Aggie met die verloofring in die hand. “Nee, Faan, ek kan nie met jou trou nie.”
Al wat Moederlief kon onthou van sy reaksie, is dat hy die ring in daardie kamertjie gegooi het dat hy so hop-hop op die vloer.
Arme Faan!
Gelukkige Attie!
Nou wie sê dat daar nie meer gelukkige eindes in moeilike stories kan wees nie?



OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...