Saterdag 24 Augustus 2019

SPYT KOM MOS MAAR ALTYD TE LAAT


Ek luister gereeld na ‘ons’ Mengelmoes op Kanaal 7, maar vanaand vang die tyd my en ek skakel ‘n bietjie te laat in. Ai, vir ‘n oomblik wens ek dat ek maar liewer glad nie die radio aangesit het nie...
‘n Vriend van ‘n vriend is oorlede, hoor ek. Ai man, het ek dit maar nie gehoor nie. ‘n Hartseer so groot soos die heelal oorval my. Ek sit verstar. My hart pyn. Ek is diep seer.
Hoekom? Nie omdat ek hom regtig geken het nie, hoor. Dis bloot die gedagte aan daardie skeiding tussen geliefdes wat my tussen die oë tref. Daardie  hartseer wat ‘n mens nie ontslae van kan raak nie. Daardie hartseer wat jou soms wil laat uitroep: “Stop net ‘n slag, wêreld, stop net ‘n oomblik en gee vir my ‘n klein kansie om net my asem asseblief tog terug te kry.”
Nou weet ek nie van jou nie, maar ek het mos daardie aaklige manier om te gaan grawe in die verlede. Ek grawe sowaar elke keer wat ek lelik was met my geliefde uit. Ek grawe hulle uit en ek wroeg daaroor. Ek vat daardie spreekwoordelike swepie en ek slaan en slaan my rug tot hy rou is. Ek gun myself geen rus nie, want ek is so bitter, bitter jammer oor daardie oomblik of twee wat ek toegegee het aan my humeur.
Ek wroeg en ek ween oor dinge waaraan ek niks kan verander nie. Ek probeer in my gedagtes om die omstandighede van daardie oomblik te verander – asof ek ooit daarin sou kon slaag!
Ek weet ek is laf, maar ek is soos ‘n blindemol in die grond – ek moet dieper en dieper delf in die seer.
Nou vra jy my: Waarom dan Martha? Wat wil jy daardeur bereik?
En ek antwoord: Ek weet nie, man. Al wat ek weet is dat spyt altyd, maar altyd te laat kom. Ek besef dat ek vandag my ALLES sal gee om sekere dinge ongedaan te maak, maar helaas, dit sal nooit kan gebeur nie.
Dan kom ek maar net by die een groot gedagte: Gee vandag die liefde, die blomme, die komplimente wat jy daar by die graf wou gee. Die aaklige werklikheid is dat jou geliefde glad nie meer traak oor blomme en dinge die dag wanneer hy of sy by Jesus is nie. Maar ja, die heerlike waarheid is ook dat hy of sy ook glad nie meer traak oor die lelike dinge wat jy of wie ookal aan hom of haar gedoen het hier op aarde nie.
Dan kom ek by die slotsom: Sit jou swepie weg, Martha! Hou op om jouself te kasty met dinge van die verlede. Wanneer jy dan die dag wel aan jou geliefde dink, doen dit met ‘n glimlag en vrede in jou hart.
En dan? Dan dank jy die Vader vir die voorreg wat jy gehad het om daardie liefmens in jou lewe te hê.

DAARDIE TYD VAN DIE JAAR!

“Baie geluk met jou verjaardag, my maat!” of “Alles wat mooi is vir die toekoms.” Of “Mag daar nog vele wees.” Dit begin vroeg-oggend, nog...