Donderdag 28 Desember 2017

DIE STORIE VAN GESKENKE

Ek is seker elkeen gee 'n geskenk met die grootste liefde


Wat is dit aan 'n geskenk dat jy so mal is daaroor? Of, vir die minderheid van die menslike spesie, wat jou nie interesseer nie?

Waarom kan (sommige) mense ‘n geskenk ontvang en dit doodluiters iewers neersit vir later? Hoe kry hulle dit reg? O ja, ek het iewers gelees dat dit glo baie goeie maniere is om dit so met (wat my betref) minagting te hanteer. Goeie maniere? Se voet!

Nee jong, gee vir my ‘n geskenk en sy papiere moet waai! Nou dadelik. Nie later nie. Nou! Ek kan dit eenvoudig nie verhelp nie, man. Ek moet dadelik sien en weet...

Waarom dan? Ja, die grootste rede is definitief my allesoorheersende nuuskierigheid. Ek kan nie daarmee stry nie. Almal wat my ken, weet dat ek so is oor ‘n geskenk.

Maar, en dit sê ek met groot versigtigheid, want dit kan dalk vorentoe teen my tel. ‘n Geskenk praat met my op verskillende maniere. O, het jy nie geweet hulle kan praat nie? Ai, dan het jy mos jou lewe lank groot uitgemis, jong!

Nommer een: die geskenkpapier. Ek is ook skuldig daaraan om sommer ‘n sakkie te koop en die geskenk daarin te sit. Dit is maklik, ekonomies en gewoonlik baie handig. Veral vir wesens soos hierdie ek wat nie ‘n pakkie netjies kan toedraai nie is die sakkie die ideale oplossing. En ja, ek fokus dan nie regtig daarop nie, want ek wil weet wat is binne-in. Maar, hoor vir my, as jy moeite gedoen het met die papier, het jy al klaar my hart in jou sak. Iets soos bruin papier met ‘n paar strepe verf is die mooiste wat met my kan gebeur. Hoekom dan? Omdat ek weet jy moes beplan, jy moes gaan sit en jou tyd opoffer om dit vir my te doen, dis hoekom. Ek is nie ‘n strikkie/blommetjie/goetertjies-mens nie, dus pla die afwesigheid van sulke goetertjies my glad nie.

En dan, nommer twee: die geskenk. Natuurlik is ek altyd baie bly oor enige geskenk, moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Maar, het jy geweet dat hierdie geskenk ‘n storie vertel? Ja, as jy mooi genoeg luister, hoor jy ‘n storie. Hierdie geskenk vertel vir jou mooi goedjies of teleurstellende goedjies. Ek hou daarvan as die geskenk vir my vertel dat die gewer my regtig ken vir wie ek is. Sou jy byvoorbeeld vir my ‘n bottel duur parfuum gee, weet ek dat jy my glad nie ken nie. Aan die anderkant, sou jy vir my ietsie kleins gee wat jy self gemaak het, is ek in ekstase. Of, dalk gee jy vir my ietsie vir my kombuis en dit is iets waarna ek al jare soek – wow! Jy weet wat my hart begeer en ek weet jy lief my baie.




Hiermee wil ek dan verskoning vra vir die kere wat ek iets vir jou gegee het en die bal geheel en al misgeslaan het. Ek pleit skuldig, want dan ken ek jou sowaar nie so goed soos ek gedink het nie.

Sondag 24 Desember 2017

OUJAAR KRY SY LÊ

En so, sommer so half suutjies, het Oujaar sy lê gekry. G’n mens het dit sien kom nie, maar ewe skielik is dit soos ‘n stokou man wat sonder asem en blus is. Hoe op aarde? Dit kan mos nie wees nie, kan dit?

Dit was maar anderdag wat hy soos ‘n jong kalf gebokspring het. Daar was net geen keer aan hom nie. Sowat van lewenslus! Sowat van opgewondenheid vir dit wat voorlê.

Die oues van dae het gekerm: “Ag nee man, wat is dit met jou? Kan jy nie net ‘n bietjie stadiger nie? ‘n Mens kan nie byhou nie, asseblief tog!”

Die kindertjies was stiller in hulle ervaring – die meeste het grootoog gewonder waar gaan hy heen. Vir hulle was dit nog te vreemd en nuut om werklik te kan reageer daarop.

Die jongmanne het hierdie jongman met vreugde verwelkom. “Kom, ons wil werk, ons wil lewe. Kom, jy is ‘n bietjie stadig vir ons, jong!”

Ekself het hom met huiwering verwelkom. Wat gaan hy vir my bring? Wat gaan hy van my steel? Daar was so baie vrae, maar hierdie outjie wou my nie antwoord nie – ek moes maar wag en sien. En ek het gewag. En ek het gesien.

Soos reeds gesê, daar was nie tyd vir hierdie outjie om sy ding te doen nie. Om een of ander rede was hy so half woedend somme daar aan die begin al. Ek wou nog vra, ‘Asseblief, net so ‘n bietjie stadiger, net so ‘n bietjie rustiger!’ maar hy was verwoed aan die hardloop met my.

Februarie gee hy vir my die slaapplek op die vloer voor my liefmoeder se bed. Ek besef toe dat daar nie keer aan hierdie outjie is nie. Ons moet saamhardloop, of agterbly. Die keuse is elke arme siel onder die son s’n. Hol jy saam, gaan dit woes. Bly jy agter, gaan dit erger. Slaap jou slaap op die handdoek, Meisie, slaap! En ek het (probeer) slaap daarop die vloer.

Uitgewas en moeg vat Maart my. Ja, jy sien, hulle is ‘n span wat die aflosstokkie aangee en elkeen wil kyk of hy meer en beter kan doen as die vorige. Ek sluit ‘n hoofstuk af en ek sê vir die outjie ek bly nou eers ‘n bietjie lê, hy moet maar alleen verder woed. Te moeg. Te seer. Te alles! Hy wuif vir my met ‘n sluwe glimlag. Jy sien, hy weet dat dit nie so werk nie. Hy weet dat ek vorentoe my spoed sal moet verdubbel om weer te kan inhaal. Verdomp tog!

En dit was toe ook net so. Vinnig. Vinniger. Vinnigste. Vorentoe. Nooit agtertoe nie, net vorentoe. Daar is nie tyd om terug te kyk na Januarie en Februarie en Maart nie, dis net al vinniger vorentoe.

Ek wil met hom ‘n ooreenkoms aangaan, maar hy wil nie luister nie. Ek wil vra dat ek net vir een of twee daggies stil kan staan en so ‘n bietjie agtertoe draai vir ‘n slag, maar hy wil nie hoor nie. Hy het nie ore nie, kom ek later agter.

Maar die outjie raak toe sommer self so ‘n effentjies rustiger. Sowaar, dit lyk soms vir my die outjie kan glimlag ook. Regtig! Het jy dit  nog nie opgemerk nie? As jy vir hom lag, kry hy amper so ‘n trekkie wat lyk na ‘n smaail. Ja, ek is doodseker daarvan, jy hoef nie so te frons nie.

Een aand in Julie kom vat die outjie my aan die hand. “Kom, ek het iets vir jou.” Regtig? Is dit dan nou moontlik? Wat is daar wat goed is in jou hand? Is hierdie 'n triek?

Maar ek wil nie te lank wag nie, netnou raak die outjie weer boos en ek het al gesien wat doen hy as hy nie lekker is vir my nie. Behoedsaam stap ek saam om te sien wat hy dan nou enigsins kan hê wat ek graag sou wou hê.

Ek staan verdwaas en kyk na die tafel voor my. “Tadaaaa!” Hy swaai sy arm oor die tafel wat vol...penne is! Penne? Om wat mee te doen? Regtig tog? Is dit nou ‘n flou grappie?
Hy nooi my om te gaan sit op die enigste stoel by die tafel. En ek gaan sit. En hy los my, wonder bo wonder, alleen. Sommer net so, sonder ‘n woord loop hy en los my daar alleen.

Ek tel die eerste pen op en probeer daarmee skryf – sommer so op die tafelblad. Wow! Dit is sowaar lekker! ‘n Tweede een voel selfs beter as die vorige een. En so bly ek naglank wakker met my ontdekking van hierdie lieflike klomp gekleurde penne. Teen die oggend is die tafel ‘n bont blad vol skryfsels en ek soek vir papier, want hier moet geskryf word, besluit ek.

En so het die outjie my heel dikwels alleen gelos om my eie ding te doen. As ek gaan sit by my bont tafel is hy weg – seker by iemand anders wat nog nie sy tafel ontdek het nie. Jy sien, eintlik het hy vir elkeen 'n tafel vol van sy eie dinge, ons moet net saamloop as hy ons nooi.

En dis nou waarom die verskyning van Oujaar so ‘n skok is. Jy sien, die tyd het so voortgesnel terwyl ek daar by die tafel doenig was dat ek dit nie sien kom het nie. Ek voel so half hartseer om die ouman te groet, man. Hy was moeilik, maar hy was ook goed. Kyk, hy het dan vir my ‘n tafel vol penne gebring!


Ek groet die ouman met ‘n heimwee, maar ek wag vir die nuwe outjie wat weer propvol planne en lewenslus sal opdaag en voorthardloop met ons. 


Gaan ek saam hol? Vir seker! Ek durf nie agterbly nie, want die inhaal agterna is net te vrekmoeilik.

En buitendien, wanneer ek toe moeg raak, is daar mos nog altyd my tafel met sy baie penne!

Donderdag 21 Desember 2017

HOE VER SKYN MY (dowwe) LIGGIE?

Ek kry hierdie lieflike video van iemand en ek weet dat ek dit eenvoudig met almal wil deel. Eintlik is daar niks meer wat ek kan byvoeg nie, behalwe om my waardering daarvoor uit te spreek. 
In ons huidige kultuur is dit mos glad  nie snaaks om nou en dan saans in die donker te sit nie. Die krag is (weereens) af en niemand weet vir hoe lank dit gaan duur nie. Elke huis het dus 'n olielampie of twee wat gereed staan vir sulke aande. 

In ons huis is daar net een olielamp en 'n kers of twee. Ek staan dan maar op en gaan haal die olielampie en steek dit op. Lig! Dankie tog, nou kan 'n mens darem weer sien waar jy is. Maar dis nie lank nie, dan wil ek gou iets in die kamer gaan haal. Hoe nou gemaak? Ek kan so voel-voel loop met die voete, bang dat ek dalk iewers gaan struikel en val, of ek kan mos maar die lamp saammet my vat en die kombuis in die donker laat. 

Ek lees die volgende kort storietjie raak en dit tref my tussen die oë! 'In die ou dae van die paraffien straatligte het 'n seuntjie die mense dopgehou as hulle in die donker die straatligte aansteek. Hy hardloop toe eendag na sy pa toe en sê: Pappa, Pappa, kyk daardie mense maak gate in die donker.'

Is dit nie presies wat ek en jy ook moet doen nie? Ons moet die ligte wees wat gate in die donker maak. Ons moet ons lig saamdra oral waar ons loop, sodat die Lig die donker kan verdryf.

Baie jare gelede ry ek eendag verby 'n ou omie wat met sy kierie straat-af sukkel. My eerste gedagte is: Here, seën hom, asseblief. Weet jy, die volgende oomblik 'hoor' ek dit hard en duidelik: Gaan seën JY hom!

Nou is my vraag vandag: Is ek in hierdie tyd 'n seën vir diegene rondom my? Of is ek bloot die voortsetting van die donkerte wat daar heers rondom ons?






Woensdag 20 Desember 2017

WAT IS DIE SLAAP 'N WONDERSOETE DING


Image result for tired person free download

Jy kry oggendmense, jy kry aandmense, en dan kry jy vir my...! Oggend- en aandmense sit nie om dieselfde vuur nie. Nee, glad nie. Die een irriteer die blou blitse uit die volgende een uit, dis vir seker. Hulle kom eenvoudig nie oor die weg nie, want die een meng in met die ander se slaaptyd, sien.
‘More! More! Is dit nie 'n liefffflike oggend nie, hmmmm?’ En, nog voor jy kan antwoord, gaan dit eenvoudig aan. ‘Goeie more, my skat. Lekker geslaap?
Kom, kom, kom, die dag wag nie vir ons nie. Tyd om aan die werk te spring, jong.’
Die ontbyt staan reeds skottelsvol op die tafel. Jou koffie is yskoud. Die vroegoggend-beskuit is lankal weggesit. ‘Kom, kom, kom! Ek is reeds laat vir my oggenddraffie. Geniet die broodjies, my skat.’
Die hele dag gaan dit so aan. Alles met 'n laggie en 'n trippeltjie, want die lewe is dan tog so baie lekker. Jy sien, oggendstond het goud in die mond.
Vanaand, hier by ses- of sewe-uur, raak die ooglede slapperig. Die spraak raak minder. Die tjirpende stemmetjie raak dof. Die bewegings raak stadiger. Die bad en die bed wag, want more is 'n nuwe dag.
Die aandmense wil nie wakker gemaak word in die oggend nie. Hulle wil self, op hulle eie tyd, wakker word en stadig opstaan. Daar heers 'n doodse stilte rondom hulle.
Geen ontbyt vir my nie, asseblief. Los my nog net 'n tydjie uit, asseblief. Ek sal nou-nou wakker wees, dan kan ons gesels.
Dit neem dan ook 'n redelike tydjie van afsydige stilte voordat daar 'n effense woordjie of twee geuiter word. Stadig-aan raak dit beter. Die tong raak losser. Die ogies is minder dof en die mondjie kan al so effens glimlag.
So teen middagtyd begin die planne vir die dag oorweeg word. Ja, ons gaan sus en so. Ja, dit gaan 'n baie besige dag wees vandag. Met vasberadenheid word die dag en sy dinge aangepak en kafgedraf. Die een na die ander kom die dinge verby. Vanaand, so by elfuur, raak dinge weer rustig. Dit was 'n besige dag en nou moet jy darem 'n tydjie aan jouself ook afstaan, nie so nie?
Twaalfuur of later is badtyd. 'n Heerlike skuimbad en (soms) 'n kers of twee wat brand, 'n koppie lekker koffie en (soms) 'n lekker eetdingetjie sluit die dag perfek af. Ons moet nou tot rus kom, want more is nog 'n dag.

En dan, helaas, is daar ek...! 






Dinsdag 19 Desember 2017

OM DIE 'PRAM' OM TE GOOI OF NIE...

Ons sit in ‘n groot kring. Dit is die laaste byeenkoms van ‘Gooi ‘n tantrum of nie’ vir hierdie jaar. Al die lede is vanaand teenwoordig. Almal sien uit na ‘n heerlike vakansie, maar hier moet vanaand ‘n paar poppe gegooi word.

Die woedende Martha spring sommer eerste op. “Goeienaand, ek is Martha en ek wil my poppekar omgooi.”

Die voorsitster trek haar asem skerp in. Soveel van banaliteit! En dit in die afskeidsvergadering, nogal. Vanaand moes rustig verloop het. Almal was veronderstel om met behae te kan terugkyk na ‘n jaar waarin hulle geleer het om maar die ou poppies rustig in die ‘pram’ te los. Kyk nou hoe staan en ontwrig Martha nou die hele vergadering!

Sy spring regop en klap haar hande driftig. “Asseblief, Martha, hoe het ons dan geleer moet ons maak? Kom, word nou rustig en sê agter my aan: Ek voel lus om die ‘pram’ om te gooi, maar ek sal eers ‘n paar keer diep asemhaal en dan liewer maar die poppe los waar hulle is.”

Maar moenie glo nie. Die res van die vergadering luister nie eens na haar nie. Hulle het lankal gewag vir ‘n kans om net ‘n slag te kan wys hoe hulle voel.

Martha laat haar nie keer nie. “Soms, net soms, wil ek so graag my poppe uit die ‘pram’ uit gooi!”

Nou bars pandemonium los tussen die lede van die vergadering. Vir ‘n hele jaar lank moes hulle ewe suutjies vertel hoe kwaad hulle vir iemand was en hoe hulle die drang na poppekar-gooi onderdruk het. Dan het almal hartlik hande geklap en soet geglimlag. 

Uiteindelik het hulle die kans om behoorlik te wys hoe hulle voel.

Ina Cantoni spring op met gebalde vuiste. “Gooi, sussie, gooi. Moenie dat iemand jou keer nie!” Sy gaan sit met ‘n uitdagende glimlag in Mevrou die Voorsitster se rigting.

Helena Rhodes reageer meer bedees. “Ek voel ook soms so.”

Josie Becker laat hoor van hom daar van heel agter in die saal. Hy was laat, maar hy sien hier is ‘n lekker ding aan die kom. “Doen so!” skree hy.

Maretha Bruwer staan op en gaan staan voor, langs Martha. “Ek doen dit soms. En soms is ek spyt. Ander kere nie.”

Dina Cilliers reageer rustig: “Dis ‘n baie goeie idee, Martha.”

Marlene Loftie-Eaton Vollgraaff is reeds lekker opgewerk en reken sy moet haar stem laat hoor voordat Mevrou die Voorsitster die hele storie stop. “Martha, moer hulle!” skree sy. Die hele vergadering gee haar ‘n staande applous.

Maar tussen die oproermakers is onse mooi vriendin, Esma Fourie. Sy kan nie sien dat ons onsself so verloor nie. Sy probeer sagkens die vrede herwin. “Ag, ou Marthakind...”

Mevrou die Voorsitster het intussen ‘n sakdoekie met 4711 parfuum natgemaak. Sy vee haar voorkop daarmee af en probeer dan weereens om die vergadering tot orde te roep. Om te dink dat sy gereken het die jaar se klasse was suksesvol! Kyk nou net wat gaan alles hier aan!

Walta Herron en Marie Szewzyk spring saam op. “En dan, wat stop jou?” wil die een weet. Die ander een eggo: “Doen so!”

Dawid Andries Reyneke staan op en hou sy hande in die lug. Hy vra ‘n oomblik se stilte voordat hy sy opinie lug. “Asseblief, wag net eers tot ek op verlof is.”

Maar Elsabe Smith laat haar nou nie meer keer nie. "Mik maar na 'n oop venster met 'n nie breekbare pop, dit help soms om die poppe uit te gooi, want gewoonlik kan 'n mens dit self weer optel. Sterkte met die optel."

Adri du Toit staan met 'n groot glimlag op. Almal kan sien sy het nou 'n briljante idee en wag in spanning dat sy tot voor in die saal loop. "Weet jy wat ook lekker werk? Dis om saam met 'n 2 jarige kleinkind 'n lekker vloermoer te gooi! Jy voel stukke beter daarna."

Almal juig en klap hande vir Adri se wonderlike idee. Hulle gaan dit beslis in die toekoms probeer. 

Annatjie Sandrock is meer prakties. Sy weet dat daar nagevolge is oor so 'n gooiery. "Doen dit, dis lekker. Die terugpak uiteindelik is nie so lekker nie, maar soms is dit nodig."

Hans de Ridder het baie op die hart. "Doen dit. Gooi sommer die tietiebottel ook agterna." Ja, dis 'n man met 'n hart hierdie! Hy verstaan hoe dit voel, sowaar.

Toe almal weer rustig is, is dit Patrys Marais Heunis se beurt. Sy kyk die lede van die vergadering stip aan en draai dan na Martha toe. "Doen dit net, miskien is dit hoog tyd. Partykeer moet 'n mens jou maniere vergeet. Dan word jy beter verstaan."

Intussen het Mevrou die Voorsitster die koffie en koek gaan haal. Almal is uitgewoed en almal het nou vrede.


Maandag 18 Desember 2017

KOM TOT RUS, MY (ondankbare) HART

hoe klop jy dan nou
my hart
wat is dit wat kwel en dring en druk
in my te klein borskas?
kom tot rus
my hart
kom tot rus

woeste storms woed
vyf dae lank
woeste storms van die siel
vyf dae lank
grys dae
donker nagte
vyf dae lank

sy is so stukkend
Heer
stukkend en afgebreek
tot byna niks
nog net
die lag het oorgebly
sy lag
Here
sy lag

en dan
sy wag donkernag
vir my seer siel om op te daag
sy wag
gesonde ek
ondankbare ek
sy skud haar haarlose kop
my suster

jy het gekom
My een vriendin is verinneweer deur Parkinsons, die ander en veg met kanker.
En ek?

Vrydag 15 Desember 2017

WEERSIENS

Soms, net soms, loop jy so iemand raak. Jy weet nie hoe dit werk nie, maar dit is net so – sonder dat jy dit gevra het en sonder dat jy daarvoor gesoek het, is dit so.


Jy sien hierdie persoon en jy weet bo alle twyfel! Jou siel en die siel van hierdie mens is iewers in die wye heelal ineengestrengel om nooit weer los te kan gaan nie. Ja, iewers in die blou heelal sweef hierdie twee siele soos twee vredesduiwe stil langs mekaar. Hulle hoef nie te praat nie (kan siele dan praat?) want woorde is nie eintlik nodig nie.

Eintlik ken julle mekaar al dertig/veertig jaar, maar het dertig jaar laas mekaar gesien. Sy klim uit die motor en julle gaan aan’t gesels so asof julle gister of vanoggend nog laas gesels het. Julle groet nie met ‘n ‘hallo’ of wat ookal nie, want dis nie nodig nie. Julle gaan bloot aan waar julle siele netnou ophou kommunikeer het.


En dan, ‘n dag of wat later, groet julle weer. Hierdie keer met die innige wete – hierdie was nie die laaste keer nie. Maar, al sou ons nie weer sien nie, ons weet dat ons weet – iewers daar bo...!

Dinsdag 05 Desember 2017

DIT IS KERSFEES, maar hoe lyk my hart?

Dit is byna alweer Kersfees.


"Kersfees?" vra jy my. Dit was dan sommer nou die dag nog Januarie, ha? Is dit dan moontlik?

Wat gebeur in jou gedagtes wanneer jy in die winkels loop en al die groen en rooi en wit versierings sien?


Wat gebeur in jou hart wanneer jy 'n Kersliedjie oor die radio hoor?

Wat gebeur in jou menswees wanneer jy 'n Kersverhaal op tv sien?

In 'n  wêreld met so baie onlus, of onrus en wreedheid wil ons sowaar 'n 'tyd van vrede' vier vir 'n dag of twee. Ons wil maak asof alles daar buite okay is. Ons wil kuier en eet en geskenke gee (of is dit liewer ontvang?) en daarna genoeglik op die bed gaan  lê. Ons wil Kersfees vier, man!

Ons hang liggies en balletjies en lintjies en kantjies op in die huis. Ons maak 'n reuse kersboom met kamma-kamma sneeu staan in die sitkamer. Ons hang liggies in die tuin. O jimmeltjie tog, dis mos Kersfees!

Vir hierdie paar dae kyk ons nie tv nie. O nee, die nuus pas darem nie in by die atmosfeer van Kersfees nie. Kom ons kyk liewer 'n mooi storie oor Die Geboorte. En ons luister sommer heeldag na Boney M se 'Hark now, hear the angels sing'. Ag, hoe aandoenlik is dit nie alles nie.

Nou waarom kerm ek so oor dit alles? Omdat ek nie saamstem nie? Of is dit omdat ek 'n ou bitterbek is? Ek hoor jou vra: "Wat gaan aan met jou, Martha?" 

Ek wil self ook weet, glo my vry, ek wil ook weet wat is my pyn met dit alles. Hier is 'n saak wat ek vir myself moet uitmaak, besef ek. Ek gaan soek na ander se opinies oor die groot fees wat aan die kom is.

Weet jy wat is die heel eerste antwoord wat Meneer Google vir my gee? "Die ware betekenis van Kersfees is om mense op te kikker tydens 'n koue en depressiewe tyd van die jaar. Dit beteken baie kos saam met familie en vriende, die gee van geskenke, vriendelikheid teenoor ander, en om diegene in nood te help."

Nou toe nou!

'n Ander ou wat 'n selferkende ateïs is, se opsomming van Kersfees lees so: "Hier is die goddelose eerlike waarheid. Beide die beweerde geboorte van Jesus en die wintersonstilstand is net verskonings om iets te vier. Die winter is dikwels koud, dit word vroeër donker, en die bome het hulle blare verloor en lyk dood. Dit is 'n depressiewe tyd van die jaar, en dit kan net een ding beteken: dit is tyd om partytjie te hou!"

'n Kommediant op tv het dit so opgesom: As Jesus sou besluit om Sy kinders op Kersdag te kom besoek, sal hy net die taxibestuurder op die lughawe kry. As Hy dan sou vra: "Nou waar is My kinders?" Sal die taxibestuurder antwoord: "Hulle is mos by die boom! Hulle is by die Kersboom!"

En dan, helaas, is daar die kerkmanne wat ook reken hulle vier nie Krismis nie, want dit is so en so en so!

Ek vier Kersfees, ja. Vir my is dit 'n kosbare tyd wat my herinner aan die groot offer wat God gebring het om my lewe te red. Ja, ek koop ook geskenke en ons eet ook dat dit knetter. Maar ek besef dat dit nie in elke huis so gaan nie. Vir baie gesinne is dit 'n tyd van groot hartseer. Sommige het nie die geld om geskenke en selfs kos te koop nie. Ander is in diepe rou oor 'n geliefde wat iewers deur die jaar dood is.

Bogenoemde is alles waar, maar my hart pyn vir die kinders van ons wêreld - die seer kinders, die alleen kinders, die hartseer kinders, die stukkende kinders!

Ek het jare terug die volgende stukkie geskryf oor ons kinders en Kersfees. Ek deel dit graag met jou.


KERSFEES
'n Kind is vir ons gebore
'n Seun is vir ons gegee...!

Ag Here, hoekom dan?
Sodat ons ons kinders kan verniel?
Sodat ons hulle kan laat verhonger en doodgaan?

Het U geweet wat ek met my kind sou doen toe U hom vesel vir vesel geweef het in my skoot?

Het U geweet van my ongeduld en selfsug; van my (soms) intense begeerte na stilte en (selfsugtige) behoefte aan privaatheid?

Ja, U het.

En tog...

'n Kind is vir ons gebore
'n Seun is vir ons gegee

Sodat EK weer kind mag word.
----------------------------------


      Dan is dit seker nou tyd om te sê: "Heppy Krismis en 'n nat nuwejaar." Of hoe klink die ou rympie nou weer?

Maandag 04 Desember 2017

DIE GROOT VERLANG



Was jy al daar waar dit gevoel het jy verlang so baie dat jou hart bloei? Nee, nie pyn nie, man, ek sê mos bloei!

Soms, wanneer die heimwee jou vat, kan jy dit met ‘n skud van die kop of ‘n veeg van die hand afmaak. Jy besef dit is ‘n seer area waar jy liewer nie moet gaan nie. Jy draai jou gedagtes net daar om en jy gaan aan met jou dag.

Maar soms...!

Ek weet nie of dit net ek is nie, maar dis ‘n ding wat so seer maak dat dit sowaar bloei. Die bloed loop ‘n stroom uit jou hart uit tot op die grond. Maar nee, jy hou nie op met grawe nie, o nee. Jy krap en krap al dieper. Vir een keer WIL jy onthou. Jy wil voel. Jy wil hoor. Jy wil wees.

Jy pak hulle een vir een uit en bekyk hulle. Jy stof hulle af en vertroetel hulle. Dis nou die gedagtes, die onthou! En nou is daar niemand om voor te sê ‘Onthou jy nog?’ nie. Dis net jy...en die groot onthou.

Onthou jy hoe dit gevoel het in die aande met die olielamp op die bedkassie? Almal slaap, maar jy lees jou geliefde storieboeke. En onthou jy hoe moeg was jy môreoggend as Ma roep het dat jy moet opstaan. En as jy buite kom, is die wasgoeddrade vol wasgoed en ou Fien is besig om die witgoed uit te spoel in die blouselwater. En natuurlik, die wit skoolsokkies wat ingeseep staan en wag dat jy hulle kom was.

As Ma vanaand brood knie, weet jy môreoggend kry ons lekker warm broodjies saam met die pap en worsie. Hoe Ma dit reggekry het op die koolstoof, weet ek sowaar nie, maar as die Landy by die hek indraai, is die kos op die tafel.

Onthou jy Pa se musiek? Pa se mooi, mooi musiek...! Jy soek hulle een-een op Youtube en luister na elkeen asof vir die heel eerste keer.



Jy luister en luister en jou hart bloei tot op jou voete. Jy luister want jy wil bloei. Vir een maal laat jy jouself toe om sommer net te laat gaan daar waar jou hart jou lei. (of is dit daar waar jou hart jou laat ly?)
Onthou jy toe ons Duine toe getrek het? Die opgewondenheid was groot. Nadat Pa vir vyf jaar gehuur het, het ons nou ons eie plaas gehad. Pa was trots. Ma was bly. Onthou jy dat Ma self die binnemure van ons huisie geverf het? Ja, sy het op die drom gestaan om daar hoog by te kom. Jacobus, klein ou seuntjie wat hy was, se reaksie: “Tannie Aggie, nou sal my ma sê, ‘My sissster, maar nou is julle darem grint!” En hoor vir my, grint was ons grint!

En onthou jy hoe ons in die somer saans buite geslaap het? Pa en Ma op die groot kliptafel en ons op ons bedjies langsaan. Die lekker koue nagte! Maar onthou jy hoe die son jou vroegoggend onder daardie komberse uit gekook het? Onthou jy die nag wat die hondjie ‘n muishond onder daardie einste kliptafel beetgekry het? Onthou jy hoe die muishond se spuitsels gestink het in die windlose nag? Die muishond moes later die aftog blaas, want hond se kind wou nie laat los nie.

Onthou jy die Sondag wat ons net poeding vir middagete wou hê? Ma het regtig uitgehaal en alles wat lekker is gemaak, maar helaas, dit was toe glad nie so lekker soos wat ons gedink het dit sou wees nie.

Onthou jy die sussie se orrelspel op die meelbin in die kombuis teen die muur? Grietjie Loubser, die kerk se orreliste, was haar heldin, haar alles. Wanneer sy haar stoel daar gesleep het, het sy verander in Grietjie Loubser en het sy haar hart uit gespeel.

Kersfees was op Oupa en Ouma se plaas, maar Oujaar en Nuwejaar was ons by die huis. Onthou dat ons Oujaar by die oom en tannie gaan braai het? Onthou jy dat hulle môreoggend weer vir teetyd na ons toe gekom het? Dit was elke keer vir my so ongewoon, maar so baie, baie lekker om so te kuier.

Onthou jy van die keer wat ons op die donkiekar na die oom en tannie toe gery het? Ons was mal van opgewondenheid daaroor. Pa was skepties - die goed is wild, hulle kon aan die hardloop gegaan het met julle.

Onthou jy Ma se mooi tuin? Onthou jy Estelle se pophuis wat toe ons spens geword het?
Onthou jy? Onthou jy?

foto met vergunning van Namibrand Family Hideout

 En toe daar niks meer oor is nie, toe begin  die groot verlang!





Woensdag 29 November 2017

TOE BOKVEL EDDIE GERAAK HET: Die storie van die totale omwenteling van een man se lewe

Ek ken hom al jare. Of, sal ek liewer sê, ek weet al jare van hom. Ja, hy was deel van my lewe, lank, lank gelede.

Ek het op Maltahöhe gebly. Hy ook. Ons albei het daar grootgeword. Hy het saam met sy ouers en ‘n ouer broer op ‘n plot so ses en ‘n half kilometer uit die dorp uit gewoon.

Almal het vir almal geken. Almal het die ou oom (toe 60) en tannie (toe 45) geken wat ‘n baba gekry het. Die grootmense het ge-oe en ge-aa, want ‘n mens kry mos nie ‘n baba op daardie ouderdom nie, kry jy? Noudat ek daaraan dink, daar was ‘n ander oom wat 60 was toe sy laatlam skool toe is en ek het gewonder of sy ooit haar pa nog sal hê by die tyd wat sy in matriek is. Jy sien, vir ons as kinders was 60 ‘n getal wat baie na aan die dood gegrens het.

Die wonder van die geboorte van hierdie kind is dat hy nooit moes gewees het nie. Die dokters was bekommerd oor die tannie se gesondheid en toe haar lewe bedreig word, besluit hulle om die baba te verwyder. Sy kry narkose, die baba word verwyder en al die ander gepaardgaande prosedures, word gedoen. En toe? Na ‘n paar weke kom die tannie agter dat sy sowaar nog altyd swanger is! Die dokter bevestig dit – hulle het een van ‘n tweeling verwyder... Die ander enetjie is maande later perdfris en gesond gebore. Is dit moontlik? sal jy my nou vra. Ja, dit is.

Die seuntjie het grootgeword en moes skool toe gaan. Pa boor elders in die land en daar is ook nie ‘n kar nie. Die logiese oplossing is dat hy en sy ouer broer skool toe draf. Soggens skool toe en middae huis toe. Heen en weer. Ses en ‘n half kilometers twee maal op ‘n dag. Winter en somer. Later begin Ma in die hospitaal nagdiens doen. Nou slaap hulle in ‘n kamertjie in die hospitaal. Soggens gaan hulle skool toe. Na skool gaan hulle huis toe, maar wanneer Ma moet gaan werk, loop hulle saam met haar dorp toe. Hulle dra vir haar die brode wat sy vandag vir die hospitaal gebak het.

Dit gaan nie goed met hom in die skool nie. Hierdie leerdery is glad nie vir hom nie. Aan die einde van standerd ag besluit hy om uit die skool uit te gaan. In daardie dae was dit ‘n goeie opsie vir seuns – hulle gaan werk op die spoorweë of hulle gaan polisie toe. Bokvel kies die spoorweë, maar later gaan hy polisie toe.

Ek kry met Bokvel en sy vriend te doen toe ek as getroude vrou weer op Maltahohe gaan bly het. Twee stowwerige, vaal seuns. Ja, dit was my indruk van die twee. Veral stowwerig.

Die plot waar Pa en Ma gebly het, maar sommer die hele Maltahohe en sy buitewyke, was hierdie twee se plaas. As hulle nie op die perde was nie, was hulle aan die hase of bokkies jag vir die pot. Die perde is bloots gery totdat die bloed letterlik teen die bene afgeloop het.

Wanneer jy met hulle te doen gehad het, was daar een ding wat my opgeval het. Die vriend het die praatwerk gedoen. Bokvel het jou nooit in die oë gekyk nie en hy het ook nie met jou gepraat nie. Soms het ek gewonder daaroor, maar ek was self te onkundig om iets daarvan te probeer maak. ‘n Mens kan mos praat of nie praat nie soos jy wil, is dit nie?

Hierdie jongman is so bewus van die armoede waarin hy grootgeword het. Hy is so bewus van die feit dat hy nie matriek gemaak het. Hy is skaam vir wie hy is. Hy wil nie wees wie hy is nie. Om die waarheid te sê, miskien haat hy dit ‘n bietjie dat hy is wie hy is. Die lewe is sleg! Die lewe is onregverdig.

Ek woon nie meer in Maltahohe nie en die inwonders daar raak ook maar so half weg uit die gedagtes. Nee, jy vergeet hulle nooit nie, maar jy dink minder aan hulle en hulle omswerwinge is ook nie meer van belang vir jou nie.

Jare later kuier ek en my gesin by my ouers op Hentiesbaai. Ma is opgewonde want ons gaan vanaand na ‘n vertoning kyk van Eddie en Linda. Eddie en Linda? Ek ken hulle glad nie, sê ek vir Ma. Ma verduidelik met ‘n lang storie. Onthou jy die ou oom en tannie wat daar buite die dorp op ‘n plot gewoon het? Hulle seun is Eddie en hy en sy vroutjie sing pragtig.

Ek weet nie so mooi nie. Dis mos Bokvel, is dit nie? En ek dink nie hy sal kan of wil sing nie, ha? Vol vertwyfeling klim ek saam met die res in die motor om te gaan hoor hoe sing hierdie nuwe sangsensasie.

Voor die vertoning kom stap ‘n man na ons toe aan. Ek sien heel eerste die mooiste mooi blou oë wat nie skroom om jou vol in die oë te kyk nie. Wow! Wat ‘n netjiese man, dink ek by myself. Hy groet my met ‘n stewige handdruk en volg dit op met ‘n broederlike drukkie. Sy glimlag is oop en gemaklik.

Hy klim op die verhoog en sing so bitter mooi. Hy is gemaklik met die gehoor en maak geselsies tussen-in met hulle. Sy Linda het nie gekom nie, maar dit skrik hom nie af om ‘n lieflike konsert te hou nie.

Hierdie is Eddie. Nie meer die onseker Bokvel nie. Nie meer die man wat nie weet waar hy hoort nie. Nie meer die man wat nie wil wees wie hy is nie. Hierdie is Eddie wat nuut gemaak is deur die liefde van Jesus. Hy weet wie hy is en hy weet waarheen hy op pad is.

Sondag 26 November 2017

FRANKIE EN LETTIE SIEN DIE EERSTE KEER DIE SEE: Soos vertel deur Beulah Cronje

 “Wag, wag, wag nou, julle twee! Stadig nou daar by die trappe. Ons wil nie dat een van julle vannag in die hospitaal gaan slaap nie. Kyk, as jy boontoe of ondertoe wil klim, draai net jou voet so ‘n bietjie dwars. Sien julle? Dan is dit heeltemal veilig en sal julle nie val nie.” Beulah grinnik by haarself, maar maak seker dat die ander twee dit nie sien nie. Vir hulle is hierdie vreeslike styl trappe na hulle kamers toe ‘n bedreiging en ‘n spoedbreker op sy beste.

Frank en Lettie juig hulle vreugde uit toe hulle sien dat hulle die boonste vloer van die huis vir hulself het. Daar kan hulle lekker ontspan en op hulle gemak voel (en dalk ‘n bietjie skinder ook?)

Die dag was propvol opwinding en nuwe dinge. Of hierdie twee vannag ‘n oog gaan toemaak, is ‘n goeie vraag. Toe hulle in Jeffreysbaai aankom, wou twee asse-groot-blief eers nog langs die strand gaan stap. Hulle kon nie dink dat hulle nou by die see is en hulle mag nie by hom wees nie. Dit het mooipraat gekos om hulle anders te oortuig, want hulle moes tog eers uitpak en seker ‘n ou teetjie drink voordat hulle die see aanvat.

Frank besluit dat ‘n mens vis en tjips eet by die see. Lettie vra dat hulle dit asseblief by die huis moet eet. Vir haar gaan dit nie net oor die see nie. Nee, sy wil die lekker nabyheid van haar miss Beulah ook geniet. Hulle twee is, behalwe dat die een vir die ander werk, meer soos susters en vriendinne. Hulle harte klop dieselfde taal – die liefde vir die mensdom.

Met ‘n salige glimlag gaan sit Beulah op haar bed. Die uitpakkery kan maar wag vir later, besluit sy. Sy wonder oor die twee op die boonste vloer. Sy kan hoor dat hulle glad nie aan’t uitpak is nie, want dit gesels dat hoor en sien vergaan. Sy begeer om te kan hoor waaroor hulle praat, want dat hulle baie het om te bespreek is nou maar seker.

Sy gaan skuins op die bed en lê en luister na die geluide wat van bo af kom. Dit raak nou stiller, dus is hulle seker besig om uit te pak, elkeen in sy eie kamer. Lettie het by die huis al vir Frank gewaarsku: “Jy moet net nie dink ek gaan vir jou was en stryk da’ by die see nie. Jy beter vir jou genoeg klere inpak, hoor jy my.” Nou pak ou Frankie seker uit, want hy weet niemand gaan sy klere stryk as dit gekreukel is nie.

Vanoggend was dit die mooiste gesig om te sien hoe albei in hulle beste klere opdaag vir die groot vlieg. Ag, en die tweetjies se gesigte toe hulle uiteindelik op die aanloopbaan op pad vliegtuig toe is. Die verstomde uitdrukkings op albei se gesigte is iets om altyd te onthou. Hier was hulle nou sowaar op pad vliegtuig toe! Lettie het jare terug as ‘n groot versugting haar droom met hulle gedeel – as sy tog net eendag ook kan vliegtuig ry. “Waarnatoe dan, Lettie?” wou hulle weet. Maar Lettie het nie omgegee waarheen nie. Vlieg wou sy vlieg, maak nie saak waarnatoe nie.

Die planne om te vlieg kom al ‘n redelike tydjie aan. Arme Lettie was baie, baie bekommerd toe sy nie haar ID kon kry nie. Hoe nou gemaak? Hulle doen toe maar aansoek vir ‘n nuwe een, want onthou, Lettie is die een wat wil vlieg! Hoe nader die tyd gekom het, hoe groter het die opgewondenheid geraak. Beulah het alles mooi beplan. Saam met die vliegkaartjies gee sy toe sommer ‘n reissak en hier en daar ‘n nuwe stukkie klere. Die dankbaarheid en opgewondenheid het geen perke geken nie. Nou het hulle uiteindelik geglo hulle gaan regtig, egtig see toe.

Frank en Lettie is model passasiers en sit nie ‘n voet verkeerd nie. Die lugwaardin wys vir Lettie hoe om haar sitplekgordel vas te maak en Frank volg die instruksies noukeurig en doen dit toe sommer self. Hulle dierbare gesiggies straal van opgewondenheid vir die vlug wat voorlê. Maar wat ‘n ontnugtering! Dit is onweer en die vliegtuig stamp geweldig en natuurlik maak dit hulle toe erg senuweeagtig.

Frank is die hele tyd bewus daarvan dat die vliegtuig steeds aanhou styg. Vir hom maak dit glad nie sin nie. “Ons is mos nou hoog genoeg, is ons nie?” wou hy op ‘n stadium weet. “Tot waar toe wil hy nou opklim?”

“Miss Beulah, hierdie stampery moet nou ophou, sowaar, my maag sit al in my keel!” kla hy ‘n slag of wat. Lettie beaam dit heelhartig, want “Hierdie man wat die vliegtuig bestuur, kan nie mooi bestuur nie. Hulle moet iemand anders kry om te bestuur!”

Lettie lyk skielik baie benoud. Sy leun oor na Beulah toe en fluister iets. Eers kan Beulah nie uitmaak wat die probleem is nie, tot sy agterkom dat onse Lettie seker ‘n bietjie te veel koeldrank en tee gedrink het en dit eis nou sy tol. ‘n Lugwaardin kom juis toe verby en sy vat Lettie na die nodige plekkie toe. Lettie kom terug met ‘n groot glimlag op haar gesig. “Sjoe, die meisiekinders sorg darem mooi vir ‘n mens hier op die vliegtuig. Het miss Beulah geweet hier is ‘n toilet ook?"

En toe, opeens, is hulle bo die wolkmassa en skyn die son helder oral om hulle. “Hoe het ons dan nou hier gekom so bo die wolke?” Die skielike helder son is so skerp dat Frank en Lettie besluit dit is tyd om die sonbrille op te sit. Dit is natuurlik vir hulle baie snaaks en hulle lag uit hulle mae uit vir mekaar. Miss Beulah kan toe nie anders as om maar hare ook maar op te sit nie.

Beulah glimlag by haarself. Siestog, die vlug was regtig ‘n groot ontnugtering vir die twee. Dit was glad nie wat een van hulle verwag het dit sou wees nie. Op ‘n stadium het albei geglo dit is die laaste dag van hulle lewens, want vandag val hulle binne-in daardie blou see daar doer ver onder hulle. As die vlug terug huis toe tog net beter verloop...

Uiteindelik hoor sy dat die twee nou wil afkom ondertoe. Dankie tog, hulle is seker nou klaar. Sy staan op om haar handsak te vat, toe Lettie se benoude skree die hele huis vul: “Nou waar is daai steps nou weer?” Sy skree sommer so van onder af: “Lettie, draai net om, die trappe is aan die anderkant van die gang.” Natuurlik lag Frank dat jy hom waar kan hoor omdat sy vriendin verdwaal het.

 Die twee kom met die trappe af. Dit gaan nog stadig, want die ou lywe sukkel so ‘n bietjie en hulle is baie onseker op die styl trappe.

“Lettie, jy het mos vir my tee belowe en jy het dit sowaar nie gemaak nie. Is dit nou hoe dit die hele tyd gaan wees hier by die see?” kla Frank. Maar Lettie steur haar nie aan hom nie, sy is haastig see toe.

Beulah sit die ketel aan. Sy het self lus vir ‘n lekker warm koppie tee en maak asof sy nie hoor dat Lettie nou lank genoeg gewag het om see toe te loop nie. Ou Frankie laat hom nie twee maal nooi nie en in ‘n ommesientjie het hy twee koppies tee en ‘n hele paar koekies agter die blad. “Dankie, miss Beulah, nou voel ‘n man se maag mos beter. Daardie vliegtuig het sowaar nie vir my lekker laat voel nie. En het julle gesien hoe groot is hy? Daar kan sowaar drie busse se mense in daai vliegtuig pas, ek sê vir julle,” praat hy eenstryk deur.


Lettie is nie nou lus om oor die vliegtuig te praat nie. Inteendeel, sy wil nooit weer daaroor praat nie. Sy hoop net daar is volgende keer ‘n beter drywer agter die wiel. Sy staan ongeduldig by die deur en wag terwyl Beulah die koppies uitspoel en op die droograk sit.

Hulle besluit die see is na genoeg, hulle stap sommer. Hoe nader hulle kom, hoe harder hoor hulle die dreuning van die branders. Frank gaan staan ‘n oomblik, te verwonderd om ‘n woord te sê. “Is dit die see wat so praat, miss Beulah? Dit klink mos baie erg, ha?”

En toe, om die draai, lê die grootse watermassa voor hulle. Lettie sien dit eerste en gil dit uit van opgewondenheid. “Daar’s hy! Daar’s hy!” Sy sit sommer ‘n stywe passie in om gouer daar te kan kom en Frank is nie ver agter haar nie. Beulah weet dat hulle wel vir haar sal wag voordat hulle die water aandurf.

“Miss Beulah, loop hy dan net vanself so? Of is dit die Here wat die waters so roer? Bly die Here hier in hierie waters?”

“Miss Beulah, hoekom loop hy nie verder nie? Hoekom stop hy daar op een plek as hy so spoel?”

Die vrae is eindeloos, maar nie een van hulle wag regtig op ‘n antwoord daarop nie. Albei is onder die grootse besef van die wonderlike groot see wat voor hulle lê. Eers staan hulle net en kyk. Hulle kyk na die grootste wonderwerk wat hulle nog ooit gesien het. Lettie staan met haar gesig in haar hande. Frank staan, asof in gebed, met sy hande op sy bors. Dit is nou stil tussen hulle. Dit is net die branders se gedruis en die seevoëls wat hoorbaar is iewers daar ver op die agtergrond. Die totale wêreld het gaan stilstaan vir hierdie twee mooi mense.

Beulah huil. Sy huil van vreugde. Sy huil omdat sy hierdie ervaring saam met hierdie twee hartsmense van haar kan meemaak. Sy huil omdat sy besef die see het lankal sy ‘wow’ vir haar verloor. Sy huil omdat sy dit van nuuts af kan sien asof deur die oë van ‘n kind.

Die bruggie waaroor hulle stap is vir Lettie die aanduiding dat dit nou tyd is om die plakkies uit te trek soos miss Beulah gesê het hulle moet maak by die see. Toe sy van die bruggie af op die sand kom, lag sy haar skril opgewonde laggie. “Die sand hou my voete vas!” skree sy oor haar skouer terwyl sy aanwikkel water toe. Die plakkies is heel vergete daar op die bruggie.

Frank volg huiwerig, maar hy kla oor die ‘skerp klippertjie wat so oral lê.  Hy vertrou nie hierdie besigheid nie. Lettie roep hom en moedig hom aan om saam met haar te kom. Sy is reeds waar die eerste watertjies breek en skree van lekkerte toe die skuim so opspat teen haar bene.

Toe Frank by die water kom, buk hy dadelik af en skep ‘n handvol water om te proe daaraan. Hy wil mos weet of die water regtig so sout is soos wat dit altyd proe in die bottel wat miss Beulah altyd van die see af bring. Hy vee sy mond driftig af, want hierdie water is wraggies vreeslik sout!

Lettie draai om om vir Frank te roep toe ‘n reuse brander van agter kom en haar tussen die blaaie slaan. Eers skrik Frank hom lam, want wat het nou van Lettie geword? Maar toe sy skreeuend en gillend saam met die brander strand toe rol, kan hy nie anders as om te skree van die lag nie. Die stomme Lettie is sopnat, maar tog so vreeslik in haar noppies dat sy nou regtig geswem het in die see.

Mettertyd raak Frank ook meer gerus en die twee staan later op hulle knieë in die vlak water om van die skulpies wat uitspoel te probeer vang. Die hele tyd hou Beulah hulle dop met die innige liefde van ‘n suster, ‘n goeie vriendin.

Dit is Frank wat besluit dat Beulah nie net daar kan staan en kyk nie. Hy roep haar om ook saam te kom swem. Sy gaan nader, maar, tot hulle groot vermaak, hardloop sy weg toe ‘n brander naby hulle breek. Dit lag en speel sonder einde. Die see is die beste plek waar ‘n mens ooit kan wees, dit is nou seker en gewis.

Hulle ontdek dat as jy plat sit op die grond net voor die brander breek, maal die sand onder jou en draai die water jou na die ander kant toe. Oor en oor word daar gesit, gedraai en gelag. Die feit dat die water ysig koud is maak nie saak nie, dit is te lekker om so te speel.

Toe die twee later uit die water uit kom, sopnat en yskoud, is die eerste ding wat hulle vra, “Gaan ons nou roomys eet?” Maar Beulah weet van beter as om roomys te koop. Elkeen vat ‘n lekker warm stort en daarna drink hulle ‘n koppie stroopsoet tee. Met koekies, natuurlik.

Albei se voete is ‘n bietjie skrynerig van die skulpies op die strand en hulle sit en vryf kort-kort die voete. “Miss Beulah, wat se soort klippertjies lyk dan soos hierdie hier by die see?”
Met groot omsigtigheid verduidelik sy aan hulle dat dit nie klippies is nie, maar skulpies. Sy belowe dat hulle volgende keer sal soek vir mooi heel skulpies sodat hulle dit kan optel en huis toe vat.

“Ag, miss Beulah, dis so lekker dat ek dit tog nie kan help nie. Ek wens ek kan vir altyd en altyd hier by die see kom bly,” sug Frank sy genoegdoening uit. “As ek net genoeg geld gehad het, het ek sowaar hier kom bly.”

Later, baie later, besluit hulle dit is tyd om huis toe te gaan. Hulle wil nog baie in die see kom swem. Hulle wil nog op daardie mooi rotse gaan klim, want miss Beulah sê daar sit sommer baie skulpies op hulle en hulle wil dit self gaan kyk. “Maar, miss Beulah, hoe is dit dan dat die water wat so sterk is so oor daardie klippe spoel en hulle bly net daar staan? Hulle spoel dan nie eens weg nie, ha?”

Oe, hulle wil nog so baie dinge doen, maar die tyd is so bitter kort.

Saam met die baie lag en spot met mekaar, kom Beulah een ding agter – nie een van haar twee maters praat selfs vir ‘n oomblik oor die dinge by hulle huise nie. Hulle is so in verwondering oor alles, dit is asof die res van die wêreld nie meer vir hulle bestaan nie. Vir eers is dit net Frank en Lettie en Beulah en die groot see en die lekker kuier.

Toe hulle die aand gaan sit om te eet, staan Frank op. “Nee julle, ons kan nie sommer so begin eet nie.” Hy trek vir Lettie regop langs hom. “Miss Beulah, ek en Lettie wil net sê dankie oor ons see toe gekom het. Ons harte is baie bly vanaand. Ons sê regtig baie dankie.” Lettie knik instemmend hierop. Albei lyk regtig aangedaan en Beulah besef dat dit die naaste is wat sy seker ooit in hulle harte sal kan sien.

Die etenstafel word toe sommer die konferensietafel. Beulah sit met ‘n notaboek en Frank en Lettie mag besluit wat hulle moet doen die vier dae by die see. Die lys is lank, maar Beulah gee nie om nie. Hulle het gekom om hulself te geniet en dit is wat hulle gaan doen.

-Roomys koop. Ja, hulle moet elke dag klomp soorte roomys koop.

-Skulpe optel om in hulle kamers te gaan sit – hulle het reeds vanmiddag al ‘n klomp mooies gesien.

-Uiteet in die middag. In die aande wil hulle by die huis by die tafel met miss Beulah eet.

-Seewater in bottels opvang – Frank wil sorg dat sy mense ook proe aan hierdie vreeslike sout besigheid van die see.

-Seesand in bottels gooi, sodat die kinders ook kan sien hoe lyk die see se sand.

-Persente koop vir almal by die huis wat nie kon saamkom nie. Ja, master Chris moet die grootste persent van almal kry.

Elke dag het sy eie lysie en elke lysie word getrou gevolg. Niks mag agterbly nie. Een dag is daar ‘n fliek gegaan, die ander dag die inkopietog in die ‘mall’ en so het elke dag sy eie dinge.

Wanneer hulle saans na die dag se foto’s kyk, is dit asof alles weer van voor af met hulle gebeur. “Lettie, kyk hoe bang lyk jy! Hoekom lyk jy so bang? Jou ogies is dan glad toe, ha?” terg Frans haar omdat sy so bang was om by die vliegtuig se venster uit te kyk. Hulle lê soos hulle lag vir elke foto. Lettie laat nie op haar wag om vir Frans terug te kry nie. “Kyk hoe sit en klou jy aan die stoel se armleunings. Wil jy vir my vertel jy was nie bang nie, ha?”

“Maar, miss Beulah, hoe weet ons nou waar is ons nou? Jy sê dis Jeffreysbaai, maar waar is Pretoria dan nou?”

Beulah vat ‘n groot stuk papier en teken vir hulle ‘n kaart. “Kyk, hier is Pretoria. Hierlangs het ons gevlieg. Sien julle? Dit is nogal ver, hoor. Met die motor sal dit baie ure vat, maar met die vliegtuig was ons mos sommer gou-gou hier. En kyk, hier is ons nou in Jeffreysbaai.” Lettie het die storie so sit en bekyk en besluit dat hierdie prentjie saam moet gaan huis toe. “My kinders moet sien waar hulle ma rondgekuier het.” En so half onderlangs brom sy: “En waar hulle se ma amper met die vliegtuig en al in die see geval het.”

Lettie is al halfpad met die trappe op, toe sy omdraai. Sy kom sit weer langs Beulah by die tafel. “Miss Beulah, jy moet asseblief nou eers weer vir my ‘n ding vertel. Sê vir my presies hoekom jy vir my en Frank hiernatoe gebring het.” Sy vra dit met trane in haar oë terwyl sy Beulah se hand tussen haar twee hande vat.

Beulah sit ‘n oomblik doodstil. Sy weet dat hierdie ‘n heilige oomblik is tussen hulle drie. Al die lag en skerts is opeens weg. Voor haar sit twee mense wat haar aankyk met groot bewondering in hulle oë. Sy staan op en sit die ketel aan, want hier gaan nie gou geslaap word nie, besef sy.

“Lettie, Frank, julle is so goed vir my en my man. Julle is lankal ons familie. Maar dit weet julle tog? Ons wou so graag vir julle iets gee wat julle harte baie, baie bly sou maak. Ons wou vir julle dankie sê vir twaalf jaar se harde werk. En ja, ons wou vir julle wys hoe lief is ons vir julle ou tweetjies. Dit is waarom ons drie vanaand hier om hierdie tafel sit.”

Dit is stil tussen hulle. Niemand praat ‘n woord nie, want woorde is eintlik nou so half oorbodig. Lettie staan op en kom sit haar arm om Beulah se skouers. Sy is stil, maar haar gesiggie straal van vreugde en liefde vir die vrou voor haar.

Met slapenstyd is almal ewe moeg, maar baie opgewonde oor die dag wat voorlê. Toe Beulah dink die ander twee slaap al, kom Frank eers weer ondertoe om nog melk vir tee te kom haal in die yskas. Hy reken Lettie is baie suinig met die tee, hy het nog net twee koppies gehad en nou kla sy oor sy weer moet maak. “Maar, miss Beulah, daardie koekies wat jy vir ons daar gesit het, is darem baie lekker. Dis net dat Lettie sê ek mag nie daarvan eet as daar nie tee is nie.”

Dis nog donker die volgende oggend, toe is Lettie en Frank reg vir die dag. Hulle het hulle tee gehad en Lettie het Frans selfs toegelaat om ‘n derde stukkie beskuit te eet. Hulle sit nou in die onderste kombuis en wag vir Beulah om groot asseblief tog klaar te maak, want hulle het nie tyd saamgebring nie.

“Môre, julle twee. Het julle lekker geslaap?” vra sy gemaak rustig. Sy kan sien hulle is haastig, maar terg hulle eintlik ‘n bietjie.

Frans vertel hoe lekker hy geslaap het onder die duvet en twee komberse. Hy het glad nie eens tyd gehad om te dink nie, toe is hy aan die slaap. Lettie, wat skynbaar ‘n bietjie gesukkel het om aan die slaap te raak, antwoord: “Tsaag, jy was maar net baie moeg, man.”

Beulah sien dat Frank sy beste skoene aanhet vir die dag by die see. Dit kan mos nie wees nie, want hoe mog hulle lyk as hulle by die see was? Gelukkig is daar ‘n ou paar skoene van haar seun in die kas. Frank is baie opgewonde oor die skoene en hy steur hom min daaraan dat dit reeds baie jare in die kas staan en dus stokoud is. Hy trek ewe windmakerig die skoene aan en begin buitentoe stap daarmee.

Die volgende oomblik weerklink sy benoude stem deur die hele buurt: “Lettie, kom kyk hier!” Beulah, wat nog in die huis is, hoor die skreeu en dan die histeriese gelag wat daarop volg. Sy kry die twee plat op die grond. Hulle lag te veel om weer regop te kom en hulle kan haar ook nie vertel wat dan nou so snaaks is nie. Frank wys net aanmekaar na sy voete. En toe sien sy dit! Toe hy begin loop met die skoene, het die sole net daar bly staan en ou Frankie loop net met die bostukke van die skoene op sy voete. Nodeloos om te sê dat Beulah ook op die grond langs hulle gaan sit het en net so hard gelag het.

Die dae spoed verby. Die drie van hulle is soggens vroeg op die strand, selfs al het dit soms gereën. Ja, selfs die reën kon nie hulle vreugde demp nie. En elke aand is dit dieselfde storie om die etenstafel – foto’s, video’s, lag, spot, nog lag, nog spot, nog lekker gesels. En helaas – baie, baie tee vir ou Frankie.

“Frank, jy maak vir master Chris bankrot met jou teedrinkery. Jy kan nou asseblief end kry daarmee.” Frank is vir ‘n oomblik stil voordat hy antwoord. “Miss Beulah, hierdie vrou moet haar woorde tel, ek sê vir jou vandag, sy moet haar woorde tel!” En saam bars die twee uit van die lag, want hulle weet ‘n pakkie tee kan niks aan master Chris se saligheid verander nie.

Die dag van die geskenke was ‘n belewenis op sy eie. Die groot ‘mall’ was ‘n eerste vir hulle en hulle kon hulle verkyk aan die Kersversierings en ander mooi goed in die winkels. “Hierdie winkel het klomp skulpiesgoed, miss Beulah. Ons moet hierso koop.” En so het hulle toe gemaak. Klomp skulpiesgoed vir hulle eie huise, maar ook vir die familie tuis. Die aand aan tafel pak hulle die skulpe wat hulle opgetel het op die tafel uit. Nou kon hulle mooi sit en vergelyk watter skulpiesding is met watter soort skulp gemaak.

Vir master Chris het die twee ‘n boot gekoop. Master Chris moet mos sien hoe lyk die bote wat ons op die water gesien het. “En, miss Beulah, jy sê hulle haal die vis daar ver op die see uit die water uit?” Die ongelooflike bewondering vir vissermanne is sigbaar in hulle oë, want “dit is mos nie kinderspeletjies om so die vis te gaan haal nie, ha?”

En so het die vier dae by die see te gou na almal se sin ten einde geloop. Beulah ry vir oulaas stadig deur Jeffreysbaai se strate. Sy maak ‘n punt daarvan om die strate te volg waar die see sigbaar is. Lettie is hartseer. Sy sit en waai vir die see. Sy weet in haar hart dat hierdie ‘n eerste was, maar vir seker ook ‘n laaste. Frank is stil. Hy kyk en kyk om dit diep in sy hart te kan bêre vir die dag van môre en oormôre.

DAARDIE TYD VAN DIE JAAR!

“Baie geluk met jou verjaardag, my maat!” of “Alles wat mooi is vir die toekoms.” Of “Mag daar nog vele wees.” Dit begin vroeg-oggend, nog...