Maandag 08 Januarie 2018

'n KLEIN STORIETJIE VAN GROOT LIEFDE


So ongelooflik soos dit ookal vir my voel, is dit al byna ‘n jaar gelede wat die dinge met ons liefste moeder verkeerd geloop het. Eers was dit die maag, toe die bloedklont, hartversaking, niere, en...!

Dit is nie moontlik om te probeer vertel van die oneindige liefde en sorg wat sy in daardie dae daar in die ouetehuis ontvang het nie. Elkeen het uit hulle pad gegaan om die laaste tydjie vir die ouma so maklik as moontlik te maak. Elkeen het haar oorlaai met liefde tot op die laaste oomblik van haar bestaan op aarde.

Eintlik kan daar van elke personeellid ‘n storie geskryf word, maar hierdie een wag al lankal om geskryf te word. Almal ken die foto, maar niemand weet van die gesprek wat daar gevoer is daardie aand nie.

Sien, die ouma en Mina was nie baie groot vriendinne terwyl die siekte nie gepla het nie. As die een nie dikbek was nie, was die ander. So het dit deur die tye gegaan – ‘My kind, dis alweer ek en ou Mina...’ En dan luister ek en ek hoor dat die ouma ook maar lekker skuld het aan die situasie. Die vrede wou maar net nie sy lê kry tussen hierdie twee hardekoppe nie.

Maar, toe raak Ouma siek en dit verander die hele storie. Op ‘n aand (ja, Mina het nagdiens gedoen) kom Mina in. “Luister nou mooi na my, Ouma. Jy moet nou mooi luister, want jy moet onthou wat ek vir jou gesê het.” Ouma is die ene ore, want hier kom nou ‘n belangrike aankondiging.

“Van nou af is jou naam Liefie. Hoor jy? Jy is van vandag af Liefie. En ek is ook van vandag af Liefie.” Ouma knik instemmend, maar dit is nie genoeg vir lief-Mina nie.

“Wat is my naam nou, Liefie?” Sy por vir Ouma aan om haar nuwe naam hardop te sê en Ouma gehoorsaam alte mooi.

Ja, toe is die liefde amptelik tussen die twee. “Hallo, Liefie, hoe gaan dit vanaand hier?” “Hallo Liefie, dit gaan goed met my, dankie. En met jou?”

En toe Ouma se praat opgeraak het, het dit glad nie gemaak dat Liefie-Mina nie meer praat nie. O nee, die liefde het bly brand tussen die twee.

Ouma is so swak dat sy haarself met niks meer kan help nie. Sy kan nie eens haar arm optel om met die handjie iets te vat nie. Ons gee water met ‘n druppertjie, Ouma word gevoer (die kere wat sy bereid was om te eet) en al die ander noodsaaklike dingetjies word vir haar gedoen.

Maar Mina-Liefie is nie tevrede dat haar liefie net daar lê en nie eens ‘n ou handjie na haar toe uitsteek nie. Sy vat die handjie en sit hom hier so styf teen haar eie wang. Soja, dis mos nou hoe ‘n mens met jou liefie kuier, is dit nie?

“Nou Liefie, wanneer staan jy dan nou hier op?”

Ouma skud die kop, want hoe sal sy nou opstaan?

“Nee, Liefie, dit werk nie so met my nie. Jy moet hier opstaan, hoor jy vir my. Ek sal jou kom vat die dag as ek aftree. En dan maak Ouma mos Ouma se hare mooi grênd, en Ouma trek daai smart hoëhakskoene van Ouma aan. Dan vat ek vir Ouma uit die dag as ek aftree. As Ouma se hare en skoene net smart is, kan jy maar die leeelikste rok ook dra..."

En Ouma luister, en Liefie vertel hoe lekker gaan hulle uitgaan en die dorp rooi verf.

Dan wonder ‘n mens mos nou agterna oor hierdie soort van geselsies. Was dit om vir Liefie op te beur en die gedagtes so ‘n bietjie af te lei, of was dit ‘n sug van haar eie hart dat hierdie asseblief tog nie die einde moet wees nie?


‘n Mens sal nooit weet nie, sal jy?

1 opmerking:

  1. Dis baie besondere soorte mense wat die liefde en geduld het om 'n oue van dae op te pas en so mooi te hanteer. My ma was ses jaar lank in 'n ouetehuis en daar was baie van hierdie Liefies wat na haar omgesien het toe ek dit nie self kon doen nie.

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...