Het jy al gewonder wat maak mense lief vir mekaar? Ek meen nou, soms sien
jy hierdie hunk van ‘n man wat getroud is met die vaalste,
oninteressantste ou vroutjie. “Gits, wat sien hy in haar?” wil almal weet. Hy hang
aan haar lippe en kan nie genoeg van haar kry nie. “Hy kon darem regtig beter
as dít gedoen het!” woord gereeld agter die hand gefluister.
Jy sien hulle gereeld op straat; die kolos van ‘n vrou met ‘n mannetjie wat
iewers hier langs haar in haar skaduwee saam trippel. Ja, ek weet jy ken ook ten
minste een so ‘n onpaar paartjie. Wat, vra ek jou, het hom in die eerste plek
na haar toe gestuur? En wat, vra ek jou weer, het haar oortuig dat daar ‘n
groot genoeg liefde in die outjie skuil? Ek moet bely dat dit regtig vir my een
van die grootste geheimenisse in die lewe is. Hoe op aarde begin so ‘n
verhouding ... en vorder dit tot innige liefde en ‘n troue?
Dan is daar die oupa en ouma van tagtig. Hy noem haar nog altyd ‘My Blom’
en sy aanbid die grond waarop hy loop. Hy sukkel die trappies op en slaan sukkel-sukkel
vir haar ‘n spyker in die muur. Sy straal! Hy bly maar net haar held. Nou vra
ek jou: Sien sy nie die plooie en krom kniegies nie? Of kom hy nie agter dat sy
lankal nie meer die seksie beentjies het waarop hy so verlief geraak het nie? Wat,
wil ek weet, hou hulle so lief vir mekaar?
Heel op ‘n ander vlak. Sy soek al jare na ‘n hondjie. Sy weet presies hoe
hy moet lyk en weier om sommer enige gebroedsel te aanvaar. Op ‘n dag kry sy
hom. Ag, is hy nie pragtig nie? Sy kan nie genoeg met hom speel en genoeg foto’s
neem nie. Dit is die mooiste ding wat nog ooit hierdie aardbodem bewandel het.
Vreemd genoeg is daar baie min mense wat haar sentiment deel. ‘n Vriend noem
onse klein Billy ‘Die mongrel’ en iemand anders praat van die ... Wag,
kom ons maak nou nie gevoelens seer deur al die byname hier te noem nie. My
vraag is net, kan sy dan nie sien hoe lelik is hy nie?
So terloops – Billy en Soetseun is groot vriende daar op die plaas. Soetseun
is eintlik baie jaloers op Perd, maar as hy met Billy gesels, besef hy net weer
opnuut dat die plaas tog ‘n lekker plek is en dat hy ook sy plekkie onder die
son het.
Wat maak dat ‘n jong meisie kan sê: “Ouma is vir my so, so, so mooi.” Ouma is
oud en ou mense is vol plooie en wat nog als. Maar hierdie jong meisie spandeer
ure om Ouma se naels te knip en vyl, Ouma se gesighaartjies uit te trek en dan
nog die voetjies ook te versorg. Dan, voordat sy groet, is daar nog tyd vir
grappies ook en sy stap met ‘n lied in die hart daar by die kamer uit. Sien sy
nie dat die ouma lankal die fleur van jeug verloor het nie? Wat is dit wat maak
dat sy nie die ouderdom in haar ouma raaksien nie?
Ek glo ek het die geheim ontdek. Ek deel met jou ‘n klein storietjie van
groot hartseer. Lees maar en besluit dan self.
Sy het lekker gebad en hare gewas. Sy’s nou baie moeg, maar roep my: “Suster,
kom sny my hare, asseblief.”
Ek is onmiddellik terug by my pa, so ‘n paar jaar terug. Hy het intensiewe
bestraling teen breinkanker gehad en die ou haartjies het bosse uitgeval.
Vreemd genoeg, net die grys hare het gebly – sulke lang slierte wat glad nie
gepas het by die netjiese beeld wat ek van my pa gehad het nie. Hy het so half
kop onderstebo gesit en ek het ‘n bietjie gesny aan die yl kapseltjie. Ai! My hart
het gebreek, want ek het geweet dit sou die heel laaste keer ooit wees wat ek
sy hare sou sny. My ma en ousus het doodstil staan en kyk na my poging om hom
netjies te kry.
En hier roep my ousus my om haar haartjies te sny. Sy was aan die herstel
van ‘n breinoperasie en die een kant van haar kop was byna kaal geskeer. Ek moes
dít wat oor was, probeer netjies kry.
Sy kyk my in my oë in die spieël voor ons. “Suster, ek dink mos nou aan
daardie dag ...”
Ek het haar hard in die rede geval: “Ek ook, maar ons gaan nié nou daaroor
praat nie.”
Sy het nie geantwoord nie. Ons albei het geweet hierdie sou waarskynlik ook
die laaste keer wees wat ek haar hare sou kon sny.
Ons is klaar. Ek sit die skêr neer. Ek buk af en maak die haartjies op die
grond bymekaar. Ek probeer so gou moontlik maak, want sy is moeg en wil gaan
slaap.
Met die opstaan, sien ek wat sy doen. “En nou, Ousus?”
Sy is besig om haar wolmussie oor haar kop te trek – mooi netjies en stewig
tot oor die ore.
“Ek slaap nie met so ‘n kop saam met my man nie.”
Nou moet ek jou sê, ek is g’n Shakespeare fan nie, maar daar is een
aanhaling in sy werk wat ek seker al ‘n duisend maal herhaal het sedert daardie
dag in my sus se kamer.
Love looks not with the eyes, but with the mind, and
therefore is winged Cupid painted blind. (A Midsummer Night’s Dream)
Sy het nie daardie keer die mussie afgehaal nie, maar die woorde het
ingesink, dit weet ek. Toe haar haartjies min word as gevolg van die
behandeling, het sy dit laat afskeer en koelkop kaalkop die wêreld in die oë
gekyk. (pun intended)
Na alles bly vir my ‘n troos dat ek weet jy en jy en jy het my lief, ten spyte van ...