Woensdag 11 November 2020

DIE KLEIN ONTHOU-OOMBLIKKE

 


Hoeveel van hierdie onthou-oomblikke is daar in jou bestaan? Hoeveel maal per dag gaan jy ‘n oomblik stilstaan en glimlag stil oor ‘n kleinood wat in jou hart kom nesmaak het. Oomblikke wat jou na die een naaste aan jou laat draai en vra: “Onthou jy...?”

Maar ja, daar is ook, deesdae meer as vroeër, daardie oomblikke wat jy onthou, maar met niemand kan deel nie. Hartseer, maar waar!

Kry ek anderdag so ‘n lekker giggeltjie toe ek aan my dae as verliefde jong vrou dink. Daardie tyd was Carike Keuzenkamp hoog op elke trefferlys. Een van haar liedjies was ‘Lang maer blonde man’. Mense, dit was vir my die allerlieflikste liedjie en was op ‘n stadium 24 uur van die dag in my kop. Hoekom? Heheheee! Ek was verlief, man! Die liedjie het begin met: “Ek is verlief op die lang, maer blonde man ...”

Was hy lank? Nee, nie regtig nie. Was hy maer? Nee, ook nie. Was hy darem blond? Hmmm, so ampertjies, dink ek.

Maar dit is nie wat saak gemaak het nie, man. Die feit is dat ek oor en oor kon sing dat ek VERLIEF IS!

Wie onthou vir Francois von Heyningen? Google reken hy was ‘n akteur, maar ek onthou hom net omdat my ouers dol was oor sy sang.

So is ons almal die aand op pad bed toe in ons piepklein huisie daar doer in die Namib. Francois sing luidkeels op die radio in die oues se kamer. “Jy is vir my ‘n melodie van rus ...” en onse pa sing teatraal saam en hou sy arms oop vir Moeder. Sy was nogal nie een om openlik drukkies en soentjies uit te deel nie, dus was sy seker maar ‘n bietjie verleë by die uiterlike vertoon van liefde. En haar antwoord: “Ag, dit lieg jy tog!” voordat sy glimlaggend haar rug op hom draai.

Hoe maak jy as jy iets skelm doen en die noodlot ry jou? Kom ek vertel jou. Ons kry een Kersfees elkeen ‘n fiets – Ousus ‘n grote, myne so ‘n bietjie kleiner en die babasussie s’n ‘n kleintjie. Nou kyk, op daardie stadium kon ek nog glad nie fiets ry nie, dus was dit ‘n hele gedoente om net bo-op te kan bly. Ek het soveel keer geval, dat my ma haar byna morsdood geskrik het toe sy ‘n slag my agterstewe te siene kry. Dit was blykbaar geheel en al potblou van al die harde landings tussen die klippe. Maar as jy wil ry, moet jy seker val ook?

Ek raak toe mettertyd so ‘n bietjie meer tuis op die fiets en ek begin sien kans vir Ousus s’n. Die probleem is net dat Ousus g’n stuk wou toelaat dat ek op haar fiets ry nie ... ek het mos my eie! Nouja, dan maak ‘n mens mos maar ‘n plan.

Sy slaap een middag baie lekker en ek vat vir fiets klippe toe. Waarom ek in my klein koppie kans gesien het vir die rivier, weet ek tot vandag toe nog nie. Moontlik het ek gedink ek sou makliker op die fiets bly as dit self afdraand ry en ek nie hoef te trap nie. In elk geval, dis ‘n redelike diep rivier, dus is die afdraand tot onder nogal nie ‘n grap nie. Om dit erger te maak, is die hele pad so van de klippe, dat ‘n bobbejaan met ‘n kierie sal moet loop daar. Maar Martha sien kans om met die te groot fiets daardie afdraand aan te vat.

Ek dink nie ek was halfpad met die afdraand af nie, toe tref ek (natuurlik!) ‘n klip skeef en daar trek ek en fiets in twee rigtings. Die stomme fiets se wiel is heel skeef geval, maar dis die minste van my ellende op daardie oomblik. My kleintoontjie staan heel in die verkeerde rigting en hy pyn dat ek sterretjies sien. Ek sluip huis toe met skewe fiets en skewe toon en gaan lê maar op my bed en probeer vergeet van die seer toon ... die fiets heel vergete op daardie stadium!

Ek kan nie onthou wat die uiteinde van die storie was oor die fiets en my sus nie, maar wat ek wel onthou, is dat daardie gebreekte kleintoontjie my weke se ellende besorg het ... ellende wat ek uit vrees vir ‘n loesing, nie by Ma of Pa kon of wou gaan bekla nie!

My droom om ‘n beroemde aktrise te word, is in die laerskool in Maltahöhe gebore en het ook min of meer daar gesneuwel. Dit was groot opwinding in onse skooltjie – ons sou ‘n operette hou. Mensig man, dit was nie bietjie groot nie, dit was grooooot! Ons is dan ook vir oudisies geroep in die aande nadat ‘die grotes’ klaar studie gehad het.

Eintlik was dit meer die ‘groot kinders’ wat daarin opgetree het, maar daar was twee klein dogtertjies in die storie en so is ek toe ook een aand geroep om my beste voetjie voor te sit. Wat ons moes doen, kan ek glad nie onthou nie, maar dat ek die rol verower het, is ‘n feit.

Og, dit was heerlik om elke aand te gaan konsert hou, man. Tannie Muriel (ek hoop ek spel haar naam reg) het daardie klavier gemoker en ons het gesing dat hoor en sien vergaan.

“Soetkoek” was nie sommerse storietjie nie, hoor. Die hele plaas se diere was daar ... hoenders wat eiers lê en koeie wat melk gee en wat nog alles. Ek onthou van die een aand wat die koei my moes jaag en ek moes skree van skrik. Ai man, hoe skree ‘n mens nou vir twee seuns wat nou ‘n koei is? Jy weet mos, die een buk agter die ander en hou die voorste een om die lyf vas. Die voorste een het ewe sy vingers hier langs sy kop soos die horings staan. En skree kan ek nie skree nie, want ek lag te veel.

Dis toe dat Meneer Otto besluit daardie koei sal my op daardie verhoog jaag totdat ek skree! Ek kan net onthou van hoe ons al in die rondte gehardloop het totdat ek toe later regtig bang is hierdie twee groot seuns hardloop bo-oor my en daar los ek toe ‘n bloedstollende gil ... tot groot plesier van die grootmense.

Maar helaas, soos reeds genoem – my loopbaan op die planke het nie baie lank geduur nie en het ook geen roem en/of groot koerantopskrifte gebring nie.

Maar ‘n mens weet nooit wat volgende om die draai vir jou wag nie, weet jy?

Saterdag 07 November 2020

MY PENNE IS WEG!

 

“Ek soek na my penne, man!” kerm ek.

“Watter penne? Kyk, hier op jou tafel lê handevol penne. As jy wil skryf, skryf met hierdie een of daardie een, of vat sommer die potlood. Wat makeer hulle dat jy nie met hulle wil skryf nie?”

Ek sug lank en hard. Kan niemand dan verstaan dat ek nie sommer enige ding kan gryp om mee te skryf nie? Kyk, elke tweede een se ink is op, of die punt is gebreek, of die ding is pleinweg net nie meer bruikbaar nie.

Ek weet ook nie waarom ek nog nie elkeen van hulle gevat en weggegooi het nie. Wat maak ‘n mens in elk geval met goed wat jy nie meer (kan) gebruik nie?

Dalk is dit pure sentiment, of dalk ‘n soort van ‘n selfsugtigheid wat my daarvan weerhou om die penne in die drom te gooi. Want, jy sien, die klein bietjie twyfel is tog mos nog daar agter in my kop: wat van as een van hulle net dalkies nog kan skryf? Wat van as ‘n wonderwerk gebeur en ek staan een oggend op en almal van hulle is splinternuut en ek kan weer met hulle skryf dat die spoeg so spat? Wat van? Wat van AS?

Nou los ek hulle eers doodstil daar op die tafel en ek loop so nou en dan daar verby en bekyk hulle en belowe hulle ...!


OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...