Vrydag 23 Junie 2023

Van nuuskierigheid is die tronk vol ...


 As jy nou vir my die hoenders in wil hê, moet jy vir my so in die verbygaan sê dat jy nog anderdag vir my iets wil vertel. Jou gesig is die ene ernstige fronse en plooie en ek besef dis groot goed waarna sy verwys.

Nou vra ek jou, hoekom moet dit anderdag wees? Hoekom nie vandag nie? Nee, meer nog: waarom nie nou dadelik nie?

Wat moet ek nou eintlik met die kennis maak dat jy iewers in die duister toekoms iets wil kwytraak? Maak dit enige verskil aan jou? Nee, seker nie. Maar hoor hier, dit maak my wragtag nie lekker voel nie.

Die rede vir hierdie moerigheid van my? Nuuskierigheid! Ek dink nie daar is ‘n mens wat meer nuuskierig as ek kan wees nie. Ha-a, jy dink verkeerd! Dit het niks te doen daarmee dat ek wil weet wat in jou huis aangaan nie. Daai een skeel my min, hoor. Ek is oor eie goed nuuskierig.

Om terug te kom by die iets wat jy my wil vertel. Dit werk mos nou maar so dat as julle oor twee weke weer iewers raakloop, het julle albei al hoeka vergeet daarvan. Nou vir wat op aarde was dit nodig om dit so dramaties aan te kondig.

Ek het ‘n manie oor geskenke. Jou vriendin nooi jou na haar verjaardag toe. “Niks besonders nie,” laat sy hoor. Ek bak net ‘n koek en ons kuier lekker op die stoep.”

Kom jy daar, staan daar ‘n hele plaat karre in die straat. Jy hoor by die hek al hoe kuier dit. Jy skrik, want wat het nou geword van ‘niks besonders nie’? Jy kyk af en sien jy het sowaar nog vanoggend se sloffies aan. Gelukkig het jy darem so ‘n smeerseltjie eyeshadow en mascara gemaak ... dalk kyk hulle die sloffies mis.

Ek soek haar tussen die opgewonde gesigte en spoor haar op waar sy met ‘n vreemde vroutjie sit en gesels. Sy kyk beswaarlik op en ek staan half verlep met die geskenk in die hand ... ‘n geskenk wat ek met groot opgewondenheid gekoop en toegedraai het. Iemand beduie ek moet dit op die tafel daar vóór by die deur gaan neersit.

Wat? ‘n Geskenk wat op ‘n tafel neergesit (en vergeet) word? Oor my dooie liggaam! Jy sal in my huis nie so ‘n tafel voor by die deur kry nie, my maat. Ek wil daai geskenk vat en die papier af skeur en geniet wat te geniete is in daai paarselkie. Ek wil bly wees en ek wil dieselfde tyd die gewer daarvan bedank daarvoor.

Dis om bogenoemde rede dat ek lekker in die bek gevat voel as iemand my beduie na die tafel daar vóór by die deur ...

Sit ons nou deesdae met die raserigste bure denkbaar. Man, jy wil nie weet hoe erg nie. Die Ingelse praat van baie loud mense. Luidrugtig klink nie vir my so lekker op die oor nie, want luidrugtig kan lekker vrolik wees of besope wees of wat ookal. Hierdie vrou is loud! Sy irriteer die wit waks uit my uit!

Nou het ek net een probleem: ek is nie lank genoeg om oor die muur te kan sien hoe sy lyk nie. Jy sien, ek wil die stem by ‘n gesig sit en volgende keer weet wie is dit wat my vrede steel. My seun spot en reken hy sal vir my ‘n trappie by die muur bou sodat ek bo-oor kan kyk, maar dit sal te veel moeite wees, man. Ek wil net een keertjie sien hoe sy lyk, dan sal ek (hopelik) vrede daaroor hê.

Ek kan vir jou ‘n lys maak van goed wat my nuuskierigheid prikkel, maar jy sal my dalk nie glo nie.

Gelukkig het ‘n oond ‘n liggie, maar as dit nie het nie, vat jy eenvoudig ‘n flits en kyk hoe rys die koek wat jy vandag vir die eerste keer probeer bak. En nee, vir ingeval jy dalk vra, ek kan nié wag tot daardie halfuur om is en ek dit uit die oond kan haal nie. Ek móét nóú sien! Want sê nou maar dit flop? Dan wil ek mos nie later weet nie, ha? Ek móét nóú sien dit flop. En as hy mooi rys moet ek dit ook mos weet, ha? En as hy lekker is? Dan moes ek dit eintlik mos al gister geproe het ... nie eers wanneer dit uit die pan uit is en afgekoel het nie.

Moet tog asseblief ook nie in my nabyheid vir mekaar fluister en ronde ogies gooi nie. Regtig? Behalwe dat ek dink jy het swak maniere, span die nuuskierigheid ‘n draad in my binneste wat alle ander denke oordonder. Ek verloor my ordentlikheid net daar, hoor. Dis sulke tyd wat ek liewer iewers gaan sit en salf aan my nuuskierige wonde smeer.

En noudat jy weet – onthou om asseblief volgende keer te ...

Hahahaaa! Nou is dit jou beurt om nuuskierig te wees oor wat ek jou wou vra oor volgende keer.

 

 

 

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...