Maandag 01 Januarie 2018

'n ODE AAN MY PA


Toe my pa oorlede is in 1999, het dit vir my gevoel of my hele lewe iewers gaan stilstaan het. Hy was my vriend, my sielsgenoot, my eie! Weet my, op 'n stadium was ek nogal kwaad vir hom omdat hy my alleen gelos het. Ja, want hy weet mos dat ek hom nodig het, was my redenasie. Met wie moet ek nou praat? Wie sal my verstaan sonder dat ek 'n woord hoef te praat oor wat in my hart aangaan?

Ek kry 'n paar boeke van hom by my ma en oral is los papiertjies en briefies wat ek vir hom gestuur het. Ek wonder net wat het hy gedink dat ek Antjie Krog drie keer vir hom gestuur het. Hy het nooit daarop reageer nie. Nooit 'n woord daaroor gepraat nie, dit net aanvaar en... ja, hy het dit gebêre. Dit wat so kosbaar vir my was, is die feit dat hy nie die tweede en derde afskrif van die gedig weggegooi het nie. Nee, soos die eerste een het hy dit gebêre.

En ja, dit is nie asof ek ooit getwyfel het of ek sy eie, eie dogtertjie is nie, hoor. Veral in die later jare van sy lewe was ons so innig naby aan mekaar. Hy het my beter geken as wat ek myself ooit sou ken. Ek, met die deurmekaar gedagtes, die (soms) knellende vrese/ambisies/hoekoms en waaroms/begeertes. Hy het my geken soos hy homself seker nie geken het nie, dink ek.

Dit het een vakansie gebeur, hierdie ontdekking van die groot, groot ooreenkoms van ons twee se diepste menswees. Hy was siek. Baie siek. Hy het geweet sy tyd loop uit. Hy het hom onttrek van almal. Hy was so baie kwaai. Ag, eintlik was hy sommer erg befoeterd! ('skuus dat ek so praat, Pappa). Niemand het dit naby hom gewaag nie, want hy het niemand naby hom toegelaat nie. Ons is almal by die see. Die manne vang vis. Die vrouens en kinders sit onder die sambrele en vermaak mekaar. Hy vat sy stok en gaan sit daar ver, heeltemal weg van almal af. Sy hele houding spel dit uit: Los my, ek wil alleen wees. En toe tref dit my. Daardie man wat daar so alleen sit is 'n eensame man. Hy smag na nabyheid, maar hy weet nie hoe om homself toe te laat om dit te waardeer nie.

Ek stap nader. Gaan sit langs hom. Stilte. Groot stilte. Die gesprek is een-een woorde. Niks groots nie. Niks aardskuddends nie. Ons is net saam en geniet mekaar se menswees.

Jy sien, in sy seer het hy alleen in sy hoekie gaan sit, maar eintlik het hy begeer dat iemand asseblief tog sy hart moet sien. En ek het. Want ek ken daardie hoekie...! Ek klim maar alte graag in my eie hoekie en bou die mure rondom my hoog, hoër, hoogste. 

Baie later vra een: "My suster, hoe doen jy dit?" My antwoord? "Ek trek kop in en storm!"
Want, jy sien, jy moet eers deur daardie rotsharde skans breek sodat jy die sagte binnekant kan bereik. Die Here het my daardie wysheid gegee om dit te doen en ek is so baie, baie dankbaar daarvoor. Ek het daar by die sagte pappa-hart uitgekom. Die pappa-hart waarna ek in Antjie Krog so gesoek het.

Soos in Antjie se gedig, is daar vir my soveel spesiale oomblikke met hom wat ek onthou. Soveel liefde wat hy uitgestraal het in sy stil, half eenkant manier.

As klein dogtertjie het ek die vreeslikste groeipyne in my bene gekry snags. Dit was my sagte pappa wat opgestaan het en op my bed kom sit het om my bene te vryf tot hulle beter voel. Ek dink nie ek het ooit vir hom dankie gesê daarvoor nie, dis so jammer. En toe hy so baie gepyn het was ek nie daar om net so 'n ou klein bietjie die pyne minder te vryf nie. Ai!

Ek weet nie of alle klein kindertjies maar so lomp is nie, maar ek kon nie hardloop sonder om neer te slaan nie. En as die knieë so brand en bloei, was dit my pappa wat met sy groot sakdoek dit styf vasgehou het en trooswoordjies gepraat het.

Ag, daar is so baie sulke onthou-oomblikke. So baie. So kosbaar. 

Ek lief jou, my pappatjie. Ek lief jou gister, vandag, altyd!

Mart-Mari

KAN EK JOU DOGTERTJIE WEES?
kan ek maar vanaand jou dogtertjie wees?
ene met vlegsels en blindelinge oë
  met dun skurwe bene
en rowe wat altyd van voor af begin bloei
sal my my in jou hande toebind
as ek sku, met my voete na binne gedraai
langs jou stoel kom staan
en vra om op jou skoot te sit
sal jy die kinders wegjaag wat vir my skoene lag
wat my haartjiespot in die lug gooi
en haar oë in haar kop in druk
sal jy dat ek eenmaal allen op die bakkie staan
  terwyl jy lande toe ry
sal jy afklim en my help met die slap-arm hek
  sonder om kwaad te word
sal jy vir my lang soetriet in die mielieland pluk
en groen waatlemoentjies oopsny in die veld
sal jy vir my 'n lammetjie huis toe bring
  of 'n patrysie
  of 'n sproesige stokstertjie
en as ons van die inry af kom
sal jy my in 'n kombers toedraai en afdra van die kar
sal jy my voete warm vryf en gout op die vuur gooi
sonder om jou hande te brand
sal jy my lig aansit en vir my water bring
as ek na jou roep in die nag
wanneer die klein aardbol van die kas af val
en ek my kinderdae
soos hanskuikens na jou toe dra
kan ek maar vanaand jou dogtertjie wees?
- Antjie Krog



1 opmerking:

  1. As ek maar nog éénkeer

    Saam met hom kon kuier,
    My arms om sy lyf kon vou;
    Sy gesig se dierbaarheid kon sien,
    Sy warm liefde vir my voel …

    Ek sal grootoor na hom luister,
    Sy wysheid met ontsag bejeën;
    Die vreugde van sy lag waardeer,
    En my seëninge tel, en tel, en tel …

    Ek sal dankie sê dat hy my pa is;
    Vir sovéél wat hy vir my gedoen het;
    Hom kan en sal ek nóóit vergeet nie,
    Diep in my hart sal hy vir ewig bly ...

    Ek sal my arms wéér om hom vou;
    My gesig teen sy bors verberg;
    Ek sal luister na sy hart se klop,
    En weet hoé groot dié voorreg is …

    En is …, en is …, en is ...

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...