Dinsdag 31 Desember 2019


Sit ek nou, so op die oujaar, en bedink dinge. Ek en die liefie is alleen tuis en niks, maar heeltemal niks is anders as enige ander aand die afgelope maande nie. Ek hou myself die tyd van die namiddag besig met wat ookal, terwyl liefie die African Grey vermaak.
Want, jy sien, Gracie hou nie van vroumense nie. Miskien het sy darem iewers ‘n sagte plekkie vir my, maar weet nie hoe om dit te wys nie? My ydele hart wil maar so hoop! Sy was ‘n geskenk, met baie liefde, aan my ... na ek jare en jare lank gesmag het om ook ene te hê. Nou het sy vir Liefie aanvaar en ek kry so nou en dan ‘n pik op die kop as ek nie gou genoeg koes nie.
Maar eintlik wil ek jou vertel van oujaar in die Namib. Die lewe was mos anders daardie jare – stadiger en met minder komplikasies, dink ek. Kinders was nog gesien en nie gehoor nie en grootmense se woord was so wragtag as wragtag die begin en die amen. Maar ek dwaal alweer af. My kop is propvol gedagtes en verlangens en smagtings en what ever there may be!
Ek weet dat daar altyd in die dorp groot makietie gehou is op oujaar, maar by ons op die plaas was dit maar stillerig, glo vir my.
En tog het die dag altyd so half anders as die ander dae gevoel. Jy het nog altyd opgestaan en jou dagtakies in die huis gedoen, maar daar was net daardie gevoel wat sluimerend was die hele dag. Teen sononder het ons, opgetof en grênt toegedraai, almal in Pa se plaaskar gebeur. Ons het gaan braai by tannie Magdalena en oom Andy, oftewel Leentjie en Monie.
Wat my laat wonder – het jy ook ooms en tannies vir wie jy nie ‘tannie’ en ‘oom’ nie? So het niemand geweet wie is tannie Dina nie, maar almal het vir Nana geken. Dan nog was tannie Annette ‘n vreemde benaming vir ons liewe Netta. So kan ek nie een na die ander noem – almal met ‘n liefnaampie.

Somersaande in die Namib is magies! Die gekriek en krits van insekte, met die grote hemel vol sterre wat lyk of jy hulle kan pluk, so naby lyk hulle vir jou. Almal, grootmense en kinders, daar om die vuur, met die geblaas van die gaslamp skuins agter ons. Gaslamp? Dis eintlik ‘n vreemde benaming vir ‘n lamp wat met paraffien gewerk het, maar jy moes hom mos so oppomp om hom aan die gang te kry.

Leentjie het geweet van uithaal en wys! Die bykosse by die braai was met groot moeite en baaaaaie kalorieë gemaak. Baie maal was die poeding pannekoek wat so geblink het van die botter en die kaneelsuiker. Hemels!

Ek voel te arm in woorde om myself uit te kan druk hoe om daardie samesyn te omskryf. Liefde. Vrede. Welbehae. Warmte om die hart. En die stilte, ten spyte van die geselskap van die grootmense.
Dit is na daardie stilte in die hart wat ek soms verlang. Kry ‘n mens dit iewers anders soos daar in die Namib met jou geliefdes? Waarom, o waarom kon ‘n mens dit nie maar in ‘n botteltjie sit en saamdra vir die res van die hele ewigheid nie?
Wanneer die kleintjies al slaperig begin raak, het Ma traag aangekondig dat ons huis moet kry. Pa het vir sussie kar toe gedra en op Ma se skoot neergesit. Ek of Ousus het hek oopgemaak. Snaaks dat ek nooit bang was om in daardie donkernag hek oop te maak nie, ha?
Nuwejaar het altyd gevoel soos lekker soet poeding met vla oor. Is regtig so! Ma was altyd op ‘n merkbare stadiger spoed ingestel en Pa het ook net gou die lammers gaan haal en dan by ons kom sit in die kombuis. En dan die lekkerte van alle lekkertes so in die middel van die week! Leetjie-hulle het kom tee drink. Ma het altyd gesorg vir koek so saam met die tee in die middel van die week.
Vervelig? Allermins!
My hart verlang na die vrede en stilte en warmte en allesoorheersende gevoel van geborgenheid ... so in die middel van die week.


Saterdag 28 Desember 2019

MY VOORKOP IS TE GLAD VIR ETIKETTE

Jy woon ‘n byeenkoms by en word saam met vreemdelinge ingedeel by ‘n tafel. Jy maak, soos almal maar doen, geselsies.
“Hallo, ek is Martha.”
“Aangename kennis. Ek is Drien.”
“O? Hallo, Drien.”
“Snaaks dat ons mekaar nog nie raakgeloop het nie. Ons ou dorpie is mos darem nie so groot nie.”
“Ja, ek hou skool by die ABC Skool.”
“Ek is Die en Daai se sekretaresse.”
“O, en jou man?”
“My man is Prokureur Smit.”
****
Ek het voorheen dit nie eens agtergekom dat ons onsself so met etikette beplak nie. Drien hou skool en sy is die vrou van ‘n prokureur. Indrukwekkend! Inderdaad ‘n prestasie wat sy behaal het, of wat?
Toe ek ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede moes aftree, het dit my baie sleg getref. Ek het geglo ek is tuis in my vel en weet presies wie ek is, maar moenie glo nie! Die oomblik toe ek by daardie voordeur uitstap, het my identiteit ook daar agtergebly saam met die werksklere wat ek daar gelos het vir ander om te gebruik.
Opeens was ek so half rigtingloos en, glo my, baie besluiteloos. Ek het nie ‘n plan vir môre of oormôre gehad nie. Waar ek voorheen presies geweet het wat ek gedurende ‘n vakansie sou doen, het ek nou huis toe gekom en hier kom sit soos ‘n mens sonder rigting. Skielik was my dae my eie en heeltemal te lank. Almal het aangemoedig: “Skryf!” maar ek het niks gehad om oor te skryf nie.
Saans het ek gaan slaap met ‘n matelose gevoel van mislukking omdat ek (weereens) die dag vermors het met my niksdoenery en rondsittery. Soggens het ek opgestaan met ‘n uitsiglose dag voor my en heeldag gewag vir die son om onder te gaan.
Hoekom dan so? Waar was die vrou wat so presies geweet het wie sy is en dan nog baie trots ook was daarop? Wat het van haar geword?
Dit het my ‘n lang tyd gevat voordat ek tot die kern van hierdie aaklige probleem van my gekom het.
Ons word van dag een af gemeet en geweeg. Ons word geleer om te presteer en altyd beter te moet doen, anders is daar ‘n paar fronse op ‘n paar gesigte.
“Kyk, Pa, ons kind kan al van daardie trappie af klim! Is dit nie te pragtig nie? En reken, sy het nie eens geval nie.”
Pa kyk van sy koerant af op. “Hmm, ja, maar ek wag vir die dag wat sy hulle twee-twee afspring soos ons altyd gemaak het.”
En net daar voel Sussie sy moet begin oefen om daardie trappies te spring, anders gaan Pappa nooit dink sy is oulik genoeg nie. Sy val haar des dinges, maar spring sal sy daardie trappies spring!
Dan kom ons in die skool. Ek was byvoorbeeld in my Sub A-klas in die Hasies-ry. Ek weet nie wat die eerste ry was nie, maar die laaste ry was die Skilpaaie. Is dit nie verskriklik om so ‘n etiket om ‘n kind se nek te hang nie? Jy is net ses jaartjies oud, maar jy weet reeds dat jy nie goed genoeg is nie.
So gaan dit aan en aan sonder dat dit ooit ophou. Ek verpes ‘n rapport met alles wat in my is! Waarom moet jy punte kry vir iets wat jy glad nie aan kan verander nie? Kan daar nie maar net op die rapport staan Martha slaag hierdie eksamen nie? Wat maak dit saak met hoeveel?
Nog steeds is dit het einde niet. Nou gaan studeer Sannie en sy behaal haar graad en slaan ‘n wonderlike werk los. Maar na ‘n jaar of twee ontmoet sy hierdie outjie en die liefde is allesoorheersend. Nou kom die probleem!
“Haai, Marie, ek hoor jou Sannie is toe verloof?”
Marie word rooi om die kiewe en sy kug ‘n slag of twee voordat sy antwoord: “Ja, dis net jammer die mannetjie het g’n geleerdheid nie ... maak karre reg of iets.”
Liewe hemel, Marie! wil ek gil. Kan jy ‘n kar regmaak? Weet jy ooit waar die ding se enjin sit?
Standaarde, standaarde, VALSE standaarde wat ons onsself mee opsaal en die lewe vir onsself so onaangenaam maak. As jy nie perform nie, is jy nie in tel nie. As jy nie kan wys nie, is jy ‘n nul op ‘n kontrak.
Is dit dan nie maar die rede waarom daar soveel depressiewe en ongelukkige mense op hierdie aardbodem rondval nie? Ek sal gelukkig wees AS dit of dat gebeur. Ek sal gelukkig wees WANNEER ek dit of dat onder die knie het. Ek sal tevrede wees WANNEER ek ...
So gaan die storie aan en aan. En weet jy wat? Wanneer of as jy dan uiteindelik daardie ding kry of behaal, het jy lankal vergeet dat dit jou so gelukkig sou maak. Want, jy sien, jy het jou etiket op jou voorkop al lankal weer verander na die volgende ding wat jy moet baasraak, anders het jy nie jou brood vir die dag verdien nie.
Thich Nhat Hanh skryf die volgende baie waar woorde: “Peace can exist only in the present moment. It is ridiculous to say “Wait until I finish this, then I will be free to live in peace.” What is “this”? A di­ploma, a job, a house, the payment of a debt? If you think that way, peace will never come. There is always another “this” that will follow the present one. If you are not living in peace at this moment, you will never be able to. If you truly want to be at peace, you must be at peace right now. Otherwise, there is only “the hope of peace some day.”
En ek weet ... ek wil my lewe leef sonder daardie etikette. Ek wil vrede en liefde en geluk en tevredenheid smaak in die klein dingetjies rondom my. Ek wil net EK wees en vanaand die dag afsluit met ‘n glimlag in my siel ... want niemand kan meer enige etiket op my voorkop plak nie.



Woensdag 11 Desember 2019

VISVANG OF HENGEL?


Ek ken nie ‘n mens wat nie van visvang hou nie. Hetsy dit ernstige hengel is, of bloot visvang omdat jy langs die see is en dit is mos wat ‘n mens langs die see doen. Ons Namibiërs is maar so, jong. Jy glo jy moet Desember see toe gaan en jy glo jy moet huis toe kom met ‘n rits foto’s van die vis wat jy uit getrek het.
So van vis uit die water uit trek gepraat! Gaan ek, my liefie en ons klein snip des jare gelede ook see toe vir ‘n paar dae. Kom ons terug, vra die vriende vir snipkind: “En het jou pa baie vis gevang?”
Sy antwoord eerlik en opreg: “Nee, hy steek elke keer die stok in die water, maar hy haal niks uit nie.”
Dis dalk juis met hierdie storietjie in gedagte dat ek nie heeltemal so skaam is om my visvang-ervarings met jou te deel nie.
Ons is ‘n hele spul langs die see – Pa, Ma, elkeen van my en my susters se manne en nog die spruite ook. Ouma het soos maar die gewoonte was, gesorg vir alles wat geëet en gedrink kan word. Almal hou almal se kinders in die oog en die manne vang vis. Let net daarop dat ek nie sê hulle het gehengel nie, hoor. Hengel is wanneer jy nie net die stok in die water steek en met niks opeindig nie.
Ek bekyk die manne so op ‘n afstand en ek dink by myself: Ek het al ‘n duisend maal probeer om ‘n vis gevang te kry, maar vandag is sowaar die dag! Ek kan nie eendag hierdie ondermaanse verlaat met geen vis op my kerfstok nie. Wat moet my kinders van my dink? Maar meer nog: hoe moet ek oor myself voel? ‘n Mens het mos ook ‘n hart, ha?
Ek stap doelbewus water toe en kommandeer vir liefie op om vir my ‘n stok reg te kry. Het hy dalk onderlangs gesug? Ek kon sweer dit klink so, maar die water raas ook so dat ek nie met sekerheid kan sê dit is so nie. Dalk het hy my rekord van ‘niks uit die water uitgehaal nie’ onthou? Ek maak maar net of ek niks hoor nie en wag angstig vir die stok.
Nou moet jy net weet, terwyl ek gaan vis, moet een van die manne geduldig by die Ouma en kleingoed gaan sit. Daar is nie stokke wat rondlê nie, dus moet die ongelukkige een maar net wag totdat ek met my fonds van die water af kom.
Liefie is baie geduldig ... behalwe mos nou vir daardie lang sug! Hy beduie mooi vir my hoe ek moet maak. En ja, die eerste gooi doen hy ook sommer vir my. Ek staan en wag en wag, maar daar gebeur niks nie. Ek staan so halfbeen in die water en die branders spoel soms redelik gevaarlik hoog teen my op.
Ek sien die manne wag ook net so ‘n rukkie, dan katrol hulle die lyn in en gooi weer in. Nou maar hoekom nie? Ek skrik mos nie vir koue pampoen nie, man. Ek probeer ‘n paar keer, maar dit werp geen vrugte, of is dit nou visse, af nie. Ek moet net weer probeer, dit moet net werk!
Ek stap weer ‘n entjie in die water in, maar dit voel darem vir my so half vlakkerig. Moet ek nie maar nog dieper ingaan nie? Dit sal mos darem help dat die lyn dieper en verder kan gaan? Want sien, vandag is die dag wat ek hulle almal gaan wys hoe hengel ‘n mens!
Ek kry my staan en ek bring die stok lekker hoog bo my kop en nog so ‘n bietjie na agter toe. Hierdie gaan ‘n gooi wees wat gaan trek tot halfpad oor die wye oseaan. Ek voel hoe my hele lyf saamtrek van inspanning toe ek daardie lyn gooi ... sowaar as vet is dit ‘n mooi gooi!
Ek wag om die klein plonsie te sien waar hy op die water land, maar niks gebeur nie. Dit kan nie wees nie! Hoe lank trek so ‘n hoek en aas voordat hy op die water land? Ek buk so half vorentoe, met die hand oor die oë om die son te keer. Ek wag in groot afwagting. Ek kyk ook nie hier vlak voor my nie, hoor. Ek kyk doer oor die water, want dis waar hy gaan land.
Die volgende oomblik tref iets my op my stuitjie. Wat op aarde?
Nee, jy is nie verkeerd nie, my maat. Jy het reg geraai. Daardie hoek en sinker wat vir die diepwaters bedoel was, het hemel toe en terug getrek en op my behind kom land.
En ek?
Ek het met wroeging in my hart die visstok gaan afgee. Ek moes vrede maak met die feit dat my kinders en kleinkinders vir altyd en altyd sal lag oor hulle ma wat toe nooit ‘n vis uit die water uit kon trek nie.
My ego is vir ewig en altyd geknou deur daardie slag op my agterkwart, glo my maar. En as iemand my nou sou vra of ek al ooit ‘n vis gevang het, is my stroewe antwoord: “Ek verpes visvang!”


Saterdag 07 Desember 2019

OOR 'LEGACIES' EN ANDER DINGE


Ons gesels oor dinge wat saak maak en dit pla hom dat hy niks gaan nalaat wat saak maak wanneer hy die dag heengaan nie. Jy sien, dis mos maar hoe die samelewing ons gebreinspoel het – as jy dit nie kan sien en daaraan kan vat en bewonder nie, is dit mos eintlik maar ‘niks’ nie.
Ek is seker jy het ook al gewonder oor die feit dat jy niks gaan nalaat vir jou kinders nie. Reg? Hmm, ja, dis nou ‘n gemors, jong. Dit sal net ‘n dag of twee wees, dan het jou voetspore toegewaai en niemand weet meer dat jy ooit bestaan het nie.
Wanneer iemand sterf en, tot almal se ontsteltenis, vind sy geliefdes uit dat hy net ‘n powere bankbalans en geen skatte en besittings nagelaat het nie. En dit nogal terwyl almal gedink het hierdie ou is ‘n geldmagnaat! Kan ons dan aflei dat hy geen legacy agtergelaat het nie? (Dis seker by hierdie persoon wat die gesegde Brandarm, maar windgat ontstaan het.)
Een verklaring wat die woordeboek gee van ‘legacy’, is: an amount of money or property left to someone in a will. (My grandmother died and unexpectedly left me a small legacy)

Ja, en my ouma was nog nie ses maande onder die grond nie, toe is daardie legacy ook in sy maai. Vandag kan ek niks wys wat Ouma vir my nagelaat het nie, want haar legacy is in die plaaslike supermark se kasregisters opgeneem.
Aaklig! Het Ouma dan verniet gelewe?
Kom ons draai dit nou om. Gestel alles wat jy vandag kan sien en bewonder en gebruik, raak weg en jy sien dit nooit weer nie. Maar! Alles wat jy vandag nie kan sien nie, kry lyf en jy kan dit op die rak sit, of gebruik (sonder dat dit opraak, natuurlik), of jy kan dit bloot saam met jou dra van dag tot dag.
Ek wil my pa as voorbeeld gebruik. Almal weet dat hy nie ‘n welgestelde man was nie. Almal weet dat dit broekskeur gegaan het om sy drie dogters te laat leer. Almal weet dat hy nooit die voorreg gehad het om wild en wakker met vakansie te gaan en sy vrou en kinders bederf nie. En tog is hy dood as die rykste man op aarde en het ek dus skat-, skatryk geërf.
Hoe dan nou so? As jy nie geld geërf het nie, het hy mos niks nagelaat nie, ha? Dan was sy lewe ook so half sonder doel, nie waar nie?
Glad nie! Kom ek vertel jou van Adriaan Pieter se legacy.
Ek het geweet dat hy my lief het met die diepste liefde wat bestaan. Niks, maar niks kon of sou my beroof van daardie liefde wat hy uitgestraal het wanneer ons mekaar gesien het nie. Hy het die diepste dieptes van my diep hart verstaan sonder dat dit vir my nodig was om te please explain waarom ek so of so optree. Ek het dit geweet, al het hy dit weinig male so uitgedruk. By hom het ek veilig gevoel – veilig soos ‘n klein kindjie wat slaap in haar mamma se arms.
Hy het my vertrou. Hy was trots op my. Hy het geweet wat in my steek, al het ek dit eers baie jare na sy dood self ontdek. Hy het geglo dat ek in staat is tot baie, baie hoogtes. Male sonder tal het hy my aangepor: “Martha, jy KAN!”
Hy het my blindelings vergewe vir alles wat ek aangevang het in my jong dae. Toe ek op sy siekbed hom vra om my asseblief te vergewe vir al daardie dinge, weet jy wat sy reaksie was? “Pa weet glad nie van dinge wat jy gedoen het wat my hartseer gemaak het nie!”
Ha? Is dit nie allesoortreffende liefde en vergifnis nie? Daarmee het hy my selfrespek herstel en my bevry van skuldgevoelens wat hemelhoog op my skouers gerus het.
Hy het, deur sy voorbeeld, vir my geleer om nooit moed op te gee nie. As jy sukkel en handdoek wil ingooi, kyk net ‘n slag op en hoor “Martha, jy kan!” en probeer weer ‘n keer ... iewers sal jy dit regkry en met genoegdoening terug kan staan.
Ek kan boeke vol skryf oor hierdie mooi pa van my, maar ek volstaan hiermee. Sy legacy, wat my aan betref, is wat hy in my wese ingebou het. As ek dit sou mos uitpak, sou dit te veel wees om in een plek te huisves, glo my. Maar ja, ek dra dit in my hart. Om die waarheid te sê, ek is ek as gevolg van hierdie nalatenskap van my liefste, liefste pappa.
Nou vra ek jou, moet tog nooit weer sê jy het niks om agter te laat nie, toe?

Sondag 24 November 2019

IS DIE LIEFDE DAN BLIND?


Het jy al gewonder wat maak mense lief vir mekaar? Ek meen nou, soms sien jy hierdie hunk van ‘n man wat getroud is met die vaalste, oninteressantste ou vroutjie. “Gits, wat sien hy in haar?” wil almal weet. Hy hang aan haar lippe en kan nie genoeg van haar kry nie. “Hy kon darem regtig beter as dít gedoen het!” woord gereeld agter die hand gefluister.
Jy sien hulle gereeld op straat; die kolos van ‘n vrou met ‘n mannetjie wat iewers hier langs haar in haar skaduwee saam trippel. Ja, ek weet jy ken ook ten minste een so ‘n onpaar paartjie. Wat, vra ek jou, het hom in die eerste plek na haar toe gestuur? En wat, vra ek jou weer, het haar oortuig dat daar ‘n groot genoeg liefde in die outjie skuil? Ek moet bely dat dit regtig vir my een van die grootste geheimenisse in die lewe is. Hoe op aarde begin so ‘n verhouding ... en vorder dit tot innige liefde en ‘n troue?
Dan is daar die oupa en ouma van tagtig. Hy noem haar nog altyd ‘My Blom’ en sy aanbid die grond waarop hy loop. Hy sukkel die trappies op en slaan sukkel-sukkel vir haar ‘n spyker in die muur. Sy straal! Hy bly maar net haar held. Nou vra ek jou: Sien sy nie die plooie en krom kniegies nie? Of kom hy nie agter dat sy lankal nie meer die seksie beentjies het waarop hy so verlief geraak het nie? Wat, wil ek weet, hou hulle so lief vir mekaar?

Heel op ‘n ander vlak. Sy soek al jare na ‘n hondjie. Sy weet presies hoe hy moet lyk en weier om sommer enige gebroedsel te aanvaar. Op ‘n dag kry sy hom. Ag, is hy nie pragtig nie? Sy kan nie genoeg met hom speel en genoeg foto’s neem nie. Dit is die mooiste ding wat nog ooit hierdie aardbodem bewandel het. Vreemd genoeg is daar baie min mense wat haar sentiment deel. ‘n Vriend noem onse klein Billy ‘Die mongrel’ en iemand anders praat van die ... Wag, kom ons maak nou nie gevoelens seer deur al die byname hier te noem nie. My vraag is net, kan sy dan nie sien hoe lelik is hy nie?

So terloops – Billy en Soetseun is groot vriende daar op die plaas. Soetseun is eintlik baie jaloers op Perd, maar as hy met Billy gesels, besef hy net weer opnuut dat die plaas tog ‘n lekker plek is en dat hy ook sy plekkie onder die son het.

Wat maak dat ‘n jong meisie kan sê: “Ouma is vir my so, so, so mooi.” Ouma is oud en ou mense is vol plooie en wat nog als. Maar hierdie jong meisie spandeer ure om Ouma se naels te knip en vyl, Ouma se gesighaartjies uit te trek en dan nog die voetjies ook te versorg. Dan, voordat sy groet, is daar nog tyd vir grappies ook en sy stap met ‘n lied in die hart daar by die kamer uit. Sien sy nie dat die ouma lankal die fleur van jeug verloor het nie? Wat is dit wat maak dat sy nie die ouderdom in haar ouma raaksien nie?

Ek glo ek het die geheim ontdek. Ek deel met jou ‘n klein storietjie van groot hartseer. Lees maar en besluit dan self.
Sy het lekker gebad en hare gewas. Sy’s nou baie moeg, maar roep my: “Suster, kom sny my hare, asseblief.”
Ek is onmiddellik terug by my pa, so ‘n paar jaar terug. Hy het intensiewe bestraling teen breinkanker gehad en die ou haartjies het bosse uitgeval. Vreemd genoeg, net die grys hare het gebly – sulke lang slierte wat glad nie gepas het by die netjiese beeld wat ek van my pa gehad het nie. Hy het so half kop onderstebo gesit en ek het ‘n bietjie gesny aan die yl kapseltjie. Ai! My hart het gebreek, want ek het geweet dit sou die heel laaste keer ooit wees wat ek sy hare sou sny. My ma en ousus het doodstil staan en kyk na my poging om hom netjies te kry.
En hier roep my ousus my om haar haartjies te sny. Sy was aan die herstel van ‘n breinoperasie en die een kant van haar kop was byna kaal geskeer. Ek moes dít wat oor was, probeer netjies kry.
Sy kyk my in my oë in die spieël voor ons. “Suster, ek dink mos nou aan daardie dag ...”
Ek het haar hard in die rede geval: “Ek ook, maar ons gaan nié nou daaroor praat nie.”
Sy het nie geantwoord nie. Ons albei het geweet hierdie sou waarskynlik ook die laaste keer wees wat ek haar hare sou kon sny.
Ons is klaar. Ek sit die skêr neer. Ek buk af en maak die haartjies op die grond bymekaar. Ek probeer so gou moontlik maak, want sy is moeg en wil gaan slaap.
Met die opstaan, sien ek wat sy doen. “En nou, Ousus?”
Sy is besig om haar wolmussie oor haar kop te trek – mooi netjies en stewig tot oor die ore.
“Ek slaap nie met so ‘n kop saam met my man nie.”
Nou moet ek jou sê, ek is g’n Shakespeare fan nie, maar daar is een aanhaling in sy werk wat ek seker al ‘n duisend maal herhaal het sedert daardie dag in my sus se kamer.

Love looks not with the eyes, but with the mind, and therefore is winged Cupid painted blind. (A Midsummer Night’s Dream)

Sy het nie daardie keer die mussie afgehaal nie, maar die woorde het ingesink, dit weet ek. Toe haar haartjies min word as gevolg van die behandeling, het sy dit laat afskeer en koelkop kaalkop die wêreld in die oë gekyk. (pun intended)



Na alles bly vir my ‘n troos dat ek weet jy en jy en jy het my lief, ten spyte van ...

Saterdag 16 November 2019

STOP EN RUIK DIE TAMATIEBOS


Ek kyk na Herman Lensing. Hy en ‘n gas kook dat die sop spat. Dit bly maar vir my ‘n plesier om te kyk wanneer iemand uit sy/haar hart uit kook. Deesdae voel dit so half vir my kosmaak het sy lekkerte vir my verloor. Dalk is dit maar net omdat die kinders uit die huis uit is en ek en liefie eet maar so-so.
Herman se gas (ek is so jammer ek het haar naam gemis!) vertel hoe haar ma, wanneer sy by die tamatiebos verby stap, altyd ‘n blaartjie gepluk het. Sy het hom dan so tussen die vingers gekneus en geruik daaraan. Hoekom? Omdat dit vir haar baie, baie lekker geruik het.
Nou moet ek aan jou erken: ‘n Tamatiebos was nog nooit vir my die mooiste plant wat in die tuin groei nie. Ja, natuurlik is die tamaties ‘n heerlike ervaring, maar die bos? Ha-a, stowwerig, met so ‘n half dowwerige donkergroen kleur. Stem jy saam? Is!
Maar ek wil nie oor tamatiebosse praat nie. Dis net daardie vrou wat my aan die dink gesit het. Jy sien, ons storm mos deur die lewe asof vandag die laaste dag gaan wees. Gaan winkel toe en koop dat dit bars, want sê nou maar die winkels is almal môre leeg? Ry van punt A na punt B en jaag asof jy al gister daar moes gewees het. Gaan drink jy tee met ‘n vriendin, sluk daai tee kokend in. Die koppie is nog nie koud nie, dan spring jy op en jaag weer voort. Want sien, daar is nie tyd om te mors met sit en gesels nie – daar is dinge wat gedoen moet word. Gaan bad en jy sit nog skaars, dan skrop jy dat die skuim spat en woerts, uit is jy alweer. Wie het tyd om in ‘n bad te mors? Daar’s dinge wat gedoen moet word, jong.
Hoekom is dit so? Hoekom kan ek ure spandeer aan ‘n stuk werk, maar die oomblik wat dit vir my lyk die mense gaan dalkies dink ek is ledig, dan pla dit my. Ek wil tog so graag bekend wees as die vrou wat die hardste gewerk het in die dorp. Ek wil geken word aan my uithaler konfyt wat ek gereeld aan my vriendinne uitdeel. Ek wil onthou word as die vrou wat dit kon regkry om vir sewe dae aaneen beskuit en koekies gebak het vir die kerkbasaar. En o ja, hulle moet tog nooit vergeet hoe ek my hande stompies gewerk het vir die of daai organisasie nie.
Hokaai! Stop die lorrie ‘n slag. Briek en trek af. Staan stil. Stol in jou spore. Verdomp, luister na jou hart!
As ek die ding so bekyk, gaan alles oor ‘die mense’ en wat hulle sal dink en sê. Wat sal ‘hulle’ dink? Wat sal ‘hulle’ sê as ek so of so?
Nou, kom staan nader dat ek ietsie in jou oor kan fluister. Nee, ek het gevra jy moet briek, man. Kom ons sit sommer hier op die sypaadjie, dan luister jy gou na my.
Jy sien, dit lyk my alles gaan oor ‘hulle’ en ‘die mense’ en elke jan rap en sy maat. Nou is my vraag net dit: Wanneer gaan dit ‘n slag oor jou? Wanneer gaan jy met dieselfde ywer as wat jy ander mense vermaak en bly maak en beïndruk, jouself ‘n slaggie eerste stel? Wanneer gaan jy ‘die mense’ ‘n slag tweede stel en hardloop om by daardie lui, bederflike skuimbad te kom? Jy los jou selfoon in die kamer, sluit die badkamerdeur, tap die bad tot bo vol en gooi die badskuim dat dit halfpad teen die mure staan? Kom, wees eerlik. Gun jy jouself die klein bederfies, of moet dit altyd agter in die ry staan omdat ‘hulle’ nog dit of dat nodig het? Hmm, ek het so gedink.
Dalk sit jy nou en dink dat ek nie kan praat nie, want ek weet nie hoe ‘n besige lewe jy ly nie. Jy is reg, ek weet nie, want ek het nog nie in jou skoene geloop nie.
Maar kan ek jou een klein ietsie vra? In jou besige lewe, stop net een keer op ‘n dag en ruik die tamatiebos, toe? Nie omdat ek dit vra nie, sommer net omdat jy  is en dit verdien.

Maandag 11 November 2019

DIE BOEMELAAR BINNE MY


Skatryk. Nee, stinkryk is ‘n beter beskrywing van hom. Hy woon in ‘n posh buurt in ‘n posh huis en ry met ‘n posh kar. Sy vrou is gewoond aan oorsese vakansies en het meer juwele en skoene as wat die gemiddelde mens ooit sal van kan droom om te sien, wat van nog droom om te kan besit! Hy is ‘n uitstekende sakeman en besit die helfte van die stad se geboue.
En tog het hy hierdie vreemde ... afwyking. Afwyking? Siekte? Gebrek? Nee, deesdae is die ‘in’ woord mos ‘sindroom’. Hmm ja, hy het hierdie vreemde, ongediagnoseerde sindroom waarvoor daar geen behandeling is nie. Jy sien, sy lewe lank soek hy al na daardie iets wat hom volkome gelukkig en tevrede sal maak. As hy dit of dat of wat ookal kan kry, sal sy hart vrede hê en sal hy gelukkig wees tot aan die einde van sy dae.
Dis ‘n ware verhaal van ‘n miljoenêr wat van tyd tot tyd dros van die huis af en op straat gaan bly saam met die boemelaars. Hy los sy foon, sy beursie en sy kar by die huis en veg om oorlewing op straat. Snags slaap hy onder ‘n karton nadat hy vanaand met sy nuwe vriende ‘n brood gedeel het. Die versoeking om deel te hê aan bloutrein[1], moet hy met alles in hom beveg. Die ander drink dit teen die koue, maar hy weet te veel daarvan om te val vir die versoeking.

‘n Voortdurende kuggie word ‘n hoes wat nie ophou nie. Een nag sleep ‘n weldoener hom hospitaal toe. Die dokter het geen voorliefde vir boemelaars soos hy nie en stuur hom weg met ‘n hand vol pille. Hy gooi dit buite die gebou in die naaste asdrom.
Eers toe hy besef hy gaan dalk nie hierdie koue oorleef nie, bel hy vir James, sy chauffeur, om hom te kom haal.
James praat nie. Hy weet dit sal nie help nie. Hierdie ding het seker al vyf keer die afgelope tien jaar gebeur – Meneer raak weg vir ‘n tyd en op ‘n dag word hy gebel ...
Althea, sy vrou, is lankal gewoond aan hierdie patroon. Sy het die eerste keer wat dit gebeur het, die polisie gebel en almal rondom haar op hol gejaag. Nou weet sy van beter. Sy weet hy sal huis toe kom wanneer die regte tyd daar is.
Ongelukkig was daardie een winter te koud en sy longe toe al te swak om genoeg weerstand te bied. Toe James se foon weer eendag lui, was dit ‘n vreemde stem wat hom vra om Meneer se lyk te kom oplaai.
Die vraag kom by ‘n mens op: Hoekom doen hy dit? Wat is dit waarna hy so soek? Liewe aarde, hy het alles wat sy hart begeer, maar hy soek na ...
Soek na wat?
En ek besef ek het ook maar ‘n boemelaar in die hart. Daar is altyd daardie ‘iets’ wat net buite bereik bly en wat oornag ‘n obsessie, groter as my logiese denke, kan word.
ü  As ek net dit of dat kan kry, sal ek tog so gelukkig wees.
ü  Wanneer ek daardie ding regkry, sal my lewe volmaak wees.
ü  Teen hierdie tyd volgende jaar sal ek soveel of soveel in die bank hê en sal ek nooit weer ‘n slapelose nag deurbring nie.
ü  Ek sal tevrede wees as my harde werk erkenning kry.
ü  As ek net daardie ekstra paar kilogramme kan afskud, sal ek ook weer soos ‘n mens voel.
Ek skud my kop in stomme verbasing. Kan ‘n mens, nee, kan EK so dom wees om nie die oorvloed rondom my raak te sien nie? Wat as ek môreoggend wakker word en al wat ek het, is die dinge waarvoor ek vandag dankbaar was.
WAT. AS?


Ek sit my hand op my hart en sug diep. Ek weet ek is skuldig aan my eie ontevredenheid. Ek weet ek het die sleutel tot daardie onbereikbare vrede in my eie hand.
Kom tot rus, my onrustige hart, kom tot rus! Besef hoe geseënd jy is en kom tot rus.



[1] One makes a blue train by filtering methylated spirits through a loaf of bread in order to remove the bitter-tasting purple dye (In South Africa, the dye is mandatory in order to prevent it's used as a beverage). Since only the dye is removed, not the kerosene, methanol, isopropanol etc, it gets you smashed off your head, but may cause vomiting, headaches, seizures, blindness and/or death.

Sondag 03 November 2019

VERDWAAL ... EK?


Ek loop al lank met die ding in my kop – ek is waar ek is en ek is wie ek is as gevolg van waar ek was. Hmm, ek sien jy frons. Met ander woorde, ek is vandag marthamaria omdat ek die pad geloop het wat g’n ander skepsel geloop het nie. Dieselfde geld vir jou en jou en jou. Dus, as ek nie daardie pad met sy kronkelpaadjies en verdwaalpaadjies geloop het nie, was ek soveel armer.
As kind het ons ure spandeer om dit reg te kan kry: Die hasie wat deur die gangetjies moet loop om by die wortel uit te kom en baie ander soortgelyke speletjies. Ja, ons ken dit vandag as ‘n labirint  en/of ‘n doolhof. Die Engelse labyrinth/maze, glo ek, is meer bekend op die oor.

Glo my, ek het nie geweet daar is ‘n verskil tussen die twee nie. Al wat ek weet, is dat ‘n mens soms lekker kan sukkel met die potlood om uiteindelik daardie hasie by sy wortel te kry.
Hoekom, het ek myself afgevra, bou of plant hulle hierdie strukture? Nou glo my vry, soveel soekenjins soos wat daar op die internet is, soveel oorspronge is daar van die labyrinth/maze. Geestelikes het dit begin om te kan ontspan. Mitologiese figure het dit begin om hulle teenstanders daar binne te kan verslaan. Ander het dit begin om weg te kruip ten tye van oorlog. Nog ander het dit gebruik om ‘n skelm liefde ongesiens te kan ontmoet.
Die verskil tussen ‘n labyrinth en ‘n maze (doolhof) is eintlik baie klein en mag vir jou en vir my nie juis ‘n verskil maak nie. Ek meen te sê, as jy verdwaal het, het jy verdwaal. Dit maak nie saak wat die ding se naam is nie, ha?
‘n Labirint het kronkelende, geboë gange en vorm 'n ‘eenmalige’ of eenrigtingpad van buite na die middel. ‘n Doolhof, daarenteen, is gevul met dooie punte. Die idee is om 'n paar keer te verdwaal voordat jy die regte pad kan kry.
“It is a confusing path, hard to follow without a thread, but, provided [you are] not devoured at the midpoint, it leads surely, despite twists and turns, back to the beginning.” — Plato

‘Sê nou maar’ is ‘n lekker sê, alles wat ‘n mens wil hê ...
Wel, sê nou maar ‘n mens het iets gewen elke keer wat jy in die doolhof verdwaal en dan later die regte pad gekry het om verder te kan stap. Sê nou maar jy het nooit geweet wat die prys is wat jy gewen het nie, maar dat dit ‘n opgegaarde skat is wat eers eendag, baie later, sigbaar sal wees?
En sê nou maar jy verloor elke keer dubbel daardie skat as jy ‘n uitkomplekkie kry en wegstap sonder omkyk? Ja, reg geraai – jy sal ook eendag (dalk) bewus word van die feit dat jy eintlik ‘n groot verlies gely het ... dat jy eintlik maar ‘n loser is.
En is dit nie maar wat die lewe is nie? Is dit nie maar hierdie groot maze wat ons blindelings moet stap en vashaak en omdraai en weer probeer om by die einde te kom nie?
Wanneer ons begin stap, is ons opgewonde en sien uit na die lewe. Jy het nie die vaagste idee van wat wag nie, maar loop sal jy hom loop. Vreemd genoeg, dit wil mos altyd vir jou lyk of die een voor jou die pad so maklik kry en so salig aanstap. Maar is dit nie dalk daardie een wat hom voel-voel en dink-dink loop nie?
Ek het by ‘n punt gekom wat ek weet dat elke verdwaalslag vir my ‘n skat gebring het. Nee, verdwaal is mos nooit lekker nie, ek weet. Verdwaal kan vrek sleg wees. Dit is mos sulke tyd wat jy so alleen voel dat jy glo daar is nie ‘n ander wese naby jou nie en niemand weet of traak oor jou nie. Is mos so, nie waar nie?
Ek dink aan die swaarkry tye in my lewe – tye wat ek gewonder het waarom op dees aarde moet alles so verkeerd neuk. Waar het ek die spreekwoordelike pad dan so byster geraak dat ek nou in hierdie gemors sit?

Jy kan nie eintlik gaan staan nie, want wat word dan van jou? Jy kan ook nie terug nie, kan jy? Vorentoe, dus. Soms vat dit ‘n hele paar probeerslae om weer aan die gang te kom, want jy bly jou vasloop in doodloopstrate. Omdraai, weer probeer, dalk weer omdraai en weer probeer, om uiteindelik weer ‘n klein entjie te kan vorder. Is mos nou sulke tye wat party ouens ‘n uitkruipplekkie soek, maar ook maar later besef jy moet maar aanhou probeer.
Ag, en ander kere sou mense sê jy het ‘n luck gestrike, want kyk nou net hoe goed gaan dit met jou! Jy loop behoorlik met ‘n huppel in jou stap en het nog tyd om te sien hoe mooi alles om jou is. Hoog bo jou vlieg die voëls en hier voor jou spring dalk nog ‘n hasie of twee ook uit om die pad net nog mooier en beter te maak. Dis sulke tye wat jy kliphard kan loop en sing en jy is so baie bly jy lewe!
Wanneer jy dan oor ‘n dag of wat weer vir jou vasloop in ‘n afdraaipad, gaan dan sit en rus ‘n bietjie, toe? Rus en kyk op – jy sal sien daardie mooi voëls is nog steeds daar. En as jy lank genoeg sit, gaan daardie hasie weer ‘n draai by jou voete kom maak, jy sal sien. Moenie moedeloos word nie. Moenie wegkomkans soek nie, rus net eers ‘n bietjie en jy sal sien, môre is toe glad nie so sleg soos wat jy gedink het dit sal wees nie.
Vandag weet ek dat die skat wat ek na elke verdwaalslag ontvang het, is wysheid. Wysheid om by die volgende vashaakplek ‘n beter keuse te kan maak. Wysheid om liewer nie daardie draai in die pad te vat nie. Wysheid om te weet wanneer om liewer te gaan sit en ‘n bietjie dinge te bedink en oordink. Wysheid om myself nie meer te kasty as ek vashaak nie. Wysheid om myself te waardeer vir elke aanhou en uithou. En helaas, wysheid om vir myself te kan sê: Stadig oor die klippe, Martha, jy is eintlik baie orraait!

Woensdag 30 Oktober 2019

GAAN GROOT OF GAAN HUIS TOE!


Weke voor die tyd, kom die nuus: Ons gaan ‘n potjiekos-dag by Ons Tuiste hê. Ek sug innerlik. Ai, ek weet dan die oues is nooit lus vir niks nie, nou wat nou? Want, jy sien, dis nie net vir gaan sit en eet nie, hoor. Daar word allerhande dinge beplan om die oues van dae mee besig te hou en te vermaak.
Ek lug nie my mening nie, want woorde het krag! As ek nou gaan staan en sê, “Nee los tog maar, want dit gaan nie werk nie’, dan gaan dit mos regtig nie werk nie. So, met my beswaarde gemoed belowe ek nog ek sal met die wyses en gryses gaan praat oor die groot aand ... wat ek ook gedoen het en baie min positiewe reaksie op gekry het.
Ons hou vergadering, want daar is dinge wat gedoen moet word. Ons stel ‘n kort programmetjie op en beplan die eetgoed wat saam met die potjie bedien sal word.
“Ek maak ‘n warm poeding.” “Ek maak twee koue poedings. “Ek maak ‘n warm poeding en ‘n koue poeding.” Die lys word net langer en langer.
Iemand keer: “Nee, dis te veel poedings, jong.”
Iemand anders skud die kop. “Nee, daar moet lekker baie poeding wees. Die oues moet lekker kan eet.”
Toe ek my kom kry, is dit die groot dag. Ons ruk soos een man op om by ons oupas en oumas te gaan kuier. Uitgevat in hulle mooiste outfits, wag hulle vir ons in die eetsaal. Die tafels is buite toe uitgedra en die stoele staan al langs die mure. In die middel van die eetsaal is die rooi mat – spesiaal vir die okkasie geleen by ‘n vriendelike ondersteuner.

Nou moet jy weet, daar moet vanaand op hierdie einste rooi mat geparadeer word. Die tannies en omies moet meeding vir die kroon: Mevrou Diamant en Meneer Sjarmant moet uit hierdie mooi mense gekies word. In my hart sê ek dankie dat ek nie hoef te kies nie, want ek is sommer al klaar jammer vir die outjies wat nie gaan wen nie.
Elke kandidaat wat (onder protes) ingeskryf het, kry ‘n groot nommer aan die lyf vasgesteek. Hulle sit met groot, bevreesde ogies die mensdom en bekyk. Toe hulle uitvind ek gaan vir hulle vrae vra, is die een en elk se dringende versoek: “Moet asseblief nie vir my moeilike vrae vra nie!” Natuurlik belowe ek vir elkeen dat ek dit nooit sal doen nie. Ek gaan net vra wat is jou naam en hoe lank is jy al in die ouetehuis. Dit laat hulle so ‘n klein bietjie rustiger asemhaal.
Eers moet daar gespeel word. Ek moet erken, toe daar by ons vergadering besluit is op Musical chairs, het ek ernstige bedenkinge gehad. Regtig? Musical chairs met die oues van dae? Nooit gesien nie!
Ek bekyk hulle so en ek wonder! Baie sit met looprame en ander is selfs in rystoele. Hier en daar sien jy ‘n kierie ook. Hoe gaan ons hulle oortuig om saam te speel?
Dirk is nie ‘n ou wat skrik vir koue pampoen of ja, vir oues met kieries nie. Hy gee ‘n lang, skril fluit om die aandag te kry. Onmiddellik is hulle stil, want die hoofman het gefluit.
“As jy kan loop, staan op!” bulder hy.
Ha-a, hulle staan nie op nie. Inteendeel, die ogies is alweer so groot soos pierings. Hy roep weer: “As jy kan loop, staan op!” Niks gebeur nie.
Toe tref dit my: Hulle dink almal van hulle moet nou op die rooi mat kom loop en hulle wil nie. Of hulle is nog nie gereed nie. Of wat?
“Dirk, hulle dink hulle moet nou paradeer vir ons, jong,” fluister ek.
Dirk bulder: “Dis nie vir modeparade nie, ons wil speel. Staan op as jy kan loop!”
En sowaar, die een na die ander kom regop – party kry dit maklik reg, maar ander kom so half in sarsies regop. Jy weet mos, as die rug nie wil nie of as die knieë te stram is, sukkel so ‘n skielike opstanery mos maar.
Hy verduidelik mooi hoe dit gaan werk en almal knik die kop. Ja, hulle verstaan mooi hoe dit werk. Daar is net een ding wat vir Dirk pla: die rooi mat waaroor hulle moet loop. Ek dog hy is jammer vir die mat en probeer hom troos dat dit mos darem nie duisende voete is wat die mat gaan tref en verrinneweer nie.
Ek gee die teken en die musiek begin. Asof dit ‘n trein is wat eers spoed moet vat, begin die oues stadig in ‘n kring beweeg. Dis toe wat Dirk weer skree: “Moenie val nie! Moenie val nie!” en ek besef waarom hy so ontsteld was oor die mat op die vloer.

Ag, was dit ‘n fees om dit te aanskou! Dit lag en jil en stap met ‘n spoed van stoel na stoel. Elke keer wanneer die musiek stop, is dit ‘n geskarrel uit ‘n ander wêreld om ‘n stoel te kry. Hulle gaan sit selfs op mekaar se skote om asseblief net ‘n sitplekkie te kry. Dan is dit tot groot vermaak van die res dat daardie een moet hoor sy/hy is nou uit die speletjie uit. So kom dit toe ook dat oom Piet sommer op die rooi mat gaan sit toe hy nie ‘n stoel het nie.
Uiteindelik het ons ‘n wenner! Oom Hennie was die bittereinder en kry toe sommer ‘n prys ook. Op my vraag of hulle nog ‘n keer wil speel, kom die onderlangse antwoord van een: “Ons is nou moeg, man. Môre gaan ek spierpyne hê.”

En toe is dit etenstyd! Afvalpot en skaappot: Watter een sal ek nou kies? Og, albei lyk dan so lekker ... Die poeding kry toe nie so ‘n groot aftrek as wat ons gedink het nie, want die potjiekos was meesterlik gekook.
Die kroning van Meneer Sjarmant en Mevrou Diamant lewer die mooiste liefdesverhaal op. Tannie Grieta het twaalf jaar terug haar man verloor en in ‘n woonstel by die ouetehuis kom bly. Met die jare het oom Arthur hierdie mooie meisie gesien en nou en dan kom inloer. Hyself het nog in die dorp gewoon. Ses jaar later kom trek hy ook in. Hy bly in ‘n kamer en tannie Grieta in haar gerieflike woonstel. En weet jy wat? Minder as ‘n week later besluit die ou tweetjies hy hoef nie in daardie verkrampte ou kamertjie te sit nie en hulle haak af. Op my vraag aan die omie, wat die mooiste ding is wat die ouetehuis vir hom opgelewer het, was sy antwoord: “My vrou, natuurlik!”
Die tweetjies is eenparig gekies om die kroon te dra. Skaam-skaam het hulle op maat van Fires en oom Piet se musiek vir ons ‘n paar danspassies gemaak voordat hulle weer uitasem by die tafel gaan sit het.

Na alles kan ek maar net sê: Dankie, julle mooi gryses, vir ‘n wonderlike aand. Julle maak die lewe die moeite werd.


OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...