Twee en twee is mos vier, is dit nie? Mmmm jaaaaa, hoor ek jou antwoord. Jy wonder waarom ek nou enigsins daaraan kan twyfel. Want sien, jy is mos Juffrou Wiskunde en vir jou is daar net een reg en die res is verkeerd. In hierdie geval gee ek jou gelyk, hoor. Twee appels en nog twee appels is gewis vier.
Maar!
Sy sit kruisbeen op haar bed. Die nag is lank en alleen. Sy wag vir die slaap om te kom, maar hy is weg – daar waar niemand hom kan gaan haal nie.
In die kamer langsaan lê hy ook wakker. Hy slaap aan haar kant van die bed, want dan voel die bed nie vir hom so vreeslik groot nie.
Jy sien, hierdie storie kom van ver af. Die man met die rondloper-gene in sy lyf. Die man met die ‘drugs’ in sy sak, in sy kop, in sy lyf. Die vrou met die doring in haar vlees soos 'n Paulus van ouds. Die vrou wat toe besluit het sy is nie goed genoeg vir niemand nie, want kyk hoe maak hy dan nou!
Hy loop weg. Sy sê: Amen! en gaan aan met haar lewe.
En toe kom die groot man en begin stap sommer so half ongemerk saam met haar. Sy sien hoe sy pas in sy skaduwee, in die holte van sy hand, in die liefde van sy hart. Daar is geen blitse en donderende slae toe hy opdaag nie, hoor. Dit was ‘n stil, sagte dag met sagte kleure in die lug. Gewoonlik glip sulke dae ongemerk verby, maar hierdie dag is ingeëts in haar brein, in haar hart, in haar wese. Dit is die dag toe die groot man met die sagte hande saam kom loop het.
Maar nee tog man. Sy besluit dit werk nie so nie. Goed genoeg is nie goed genoeg nie. Hy is ‘n Gucci-man. Sy is ‘n Pep Stores-vrou. Dit kan nie werk nie. Dit sal nooit werk nie. Dit is waarom goed genoeg nie meer goed genoeg is nie. 'n Klavier sonder klawers is mos lankal nie meer 'n klavier nie, dit weet jy tog.
En albei wag vir die oomblik wanneer haar skaduwee weer gemaklik in syne sal val en hulle in pas kan stap tot daar waar die eindes van die aarde lê.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking