Vrydag 21 Februarie 2020

VIOOLTJIES VAN PUTSONDERWATER

Jy woon ‘n dinee by. Daar is regtig te veel mense dat jy hulle almal persoonlik kan ontmoet en jouself aan hulle kan voorstel. Jy konsentreer dus maar op die paar van die gaste wat saam met jou aan tafel sit by hierdie deftige dinee ... gewoonlik mense wat jy lank reeds persoonlik ken.

Deur die loop van die aand vang iemand jou oog. Sjoe, dis nou vir jou ‘n mooi vrou! Jy leun oor na die Annetjie toe hier langs jou. “Wie is daardie vrou met die mooi blou rok?”

Sy probeer ongemerk kyk in die rigting wat ek beduie. “O sy? Ag aardetjie tog! Niks besonders nie, hoor. Sy mag haar verbeel sy is die kat se snor, maar sy kom maar net van Witdoringfontein af ... grootgeword met ‘n pa wat so drink.”

Ek sit verstom. Sy kom van Witdoringfontein af en daarom is sy niks besonders nie. Boonop het haar pa gedrink en dit maak dat sy nooit, ooit iets of iemand van belang sal kan wees nie. Ek kom eers later agter dat Annetjie toe nooit eers vir my gesê het wat die mooi vrou, wat niks besonders is nie, se naam is nie.

Maar kom ons los eers vir katterige Annetjie en die mooi vrou vir ‘n oomblik of twee. Ek is eers lus om viooltjies te plant.

Het jy geweet dat jy net ‘n blaar van hierdie kosbare, tengerige plantjie nodig het om ‘n nuwe plantjie te kan ‘begin’? Ons kry soveel geharde plante wat omtrent ‘n drama vereis as jy dit wil kweek. Vir hierdie een het jy hormoonpoeier nodig, vir daardie een dit en vir die ander, dat! ‘n Mens sou dink dat die viooltjie, juis omdat dit so soveel aandag verg, veel moeiliker sal wees om aan die groei te kom.

In elk geval, sê nou maar jy tref ‘n geluk en iemand in Putsonderwater gee vir jou tien van hierdie blaartjies – elk van ‘n ander soort/kleur. Jy tref dit nog beter en almal groei tog te fluks. Dit gaan só goed met jou en die viooltjies, dat jy ‘n hele kwekery aan die gang sit. Almal wat jy ken en nie ken nie, koop viooltjies by jou.

Waarop stuur ek nou eintlik af, wil jy dalk weet. Byt vas, ek kom daarby.

Petronella Kotze koop ook op ‘n dag ‘n hele paar potte met viooltjies en, net soos ek, begin sy mettertyd haar eie kwekery. Sy gee vir haar beste vriendin, Petra, ‘n plantjie wat tog te pragtig in blom is.

Petra se ma kom kuier. “My kind! Dis te pragtig vir woorde. Waar kom dit vandaan?”

“Ma sien, antwoord sy, “dis ‘n plantjie wat kom van die plantjies wat Petronella by Martha gekoop het. Martha het oorspronklik hare van iemand in Putsonderwater gekry en toe het sy haar eie kwekery begin en, dankie tog! nou het ek ook ‘n viooltjie, net omdat Petronella vir my ook van hare wat sy by Martha gekry het, wat Martha by die vrou op Putsonderwater gekry het, gegee het.”

Ma gaan sit bewerig. Sy is byna bewoë toe sy die storie hoor. “So, jy wil vir my kom vertel hierdie viooltjies kom van Putsonderwater af? Wil jy nou meer! En ek het al die tyd geglo daar kan niks goeds van Putsonderwater af kom nie!”

“Nee, Ma ...”

Ma maak my stil met ‘n waai van die hand. “Natuurlik kom hulle van Putsonderwater af! Dit is dan wat jy so pas vir my staan en vertel het.”

Om terug te kom by die mooi vrou by die dinee – sy is toe glad nie so ‘n nikswerd soos wat Annetjie wou voorgee nie. Toe sy later op die podium verskyn om ‘n toespraak te maak, besef ek eers wie sy is! Dis nou geen geringe ou vroutjie daai nie, hoor! Tersia Linde is ‘n dame wat gerespekteer word deur menige staatsman en regeringamptenaar.

Tersia kom van Witdoringfontein af, ja. Sy het gely onder ‘n alkoholis van ‘n pa, ja. Sy moes vakansies werk om skoolfonds te kan betaal, ja. Sy het vir haar eie studies betaal met geld wat sy vakansies verdien het, ja.

Maar! Tersia het ontwikkel in ‘n formidabele vrou wat vir niks skrik nie. Sy het na skool gaan studeer. Sy het ‘n goeie werk gekry. Sy het getrou met ‘n goeie man en het drie kinders. Sy doen liefdadigheidswerk oor die wêreld heen. Almal wat iemand is, ken vir Tersia.

Nou waarom, of waarom! moet sy nog met die etiket om haar nek rondloop dat sy van Witdoringfontein af kom? Verstaan my mooi: sy ontken glad nie dat sy daarvandaan kom nie, maar dit is nie wie sy is nie! Sy het ontwikkel. Sy het gegroei. Sy is nou Tersia. Sy is nie Tersia wat van Witdoringfontein af kom nie.

Daar is ‘n baie fyn lyn tussen ‘om jou wortels te minag’ en om net eenvoudig aan te beweeg. Niemand vra dat ek moet ontken waar ek vandaan kom en waar ek my opvoeding gekry het nie – allermins! Die feit van die saak is dat ek, soos ek nou hier sit en skryf, die produk is van baie meer as net my geboorteplek, nie waar nie? Wie ek vandag is, is ‘n samestelling van my doen en late oor baie jare.

Dus, as jy my nou sou vra wie ek is, sal my antwoord baie kort en bondig wees: Ek is Martha Poller. Geen aanhangsels of byvoegsels of wat ookal nie. Ek is wie ek is.

En jy? Wie is jy?

 
geleen by Google


Donderdag 20 Februarie 2020

RIGTINGBEDONNERD IS GEEN GRAP NIE

My inniger verskoning aan elkeen wie se ore nou gaan tuit en wie se oë gaan wyd oop rek, maar ek ken geen ander woord om in hierdie geval te gebruik nie. Dus: as jy jouself verskoon en ander keer weer marthamaria se goetertjies lees, is dit okei met my.
Ken jy iemand wat rigtingbedonnerd is? Voor jy ‘nee’ antwoord, wag eers. Want sien, as jy mý ken, ken jy vir rigtingbedonnerd in die ergste graad.
Hemel mens, dis vir ander ‘n grap, maar vir diesulkes van ons wat daaraan ly, is dit ‘n lewenslange krisis en kruis. Ogg! Om strate toe te gaan, beteken om snaarstyf gespanne te wees net by die gedagte daaraan dat jy weer op een of ander ongure plek gaan opeindig ... hoekom is dit so? Jy sal nooit verdwaal en in ‘n mooi ruskamp eindig nie. Nee! Jy verdwaal en eindig tussen ou lusernbale en doringdraad op. Of, nog erger, jy beland tussen die grootste, wreedste ... maar wag, ek kom daarby.
So ry ek eens op ‘n dag saam met my pa en ma in Windhoek se strate. Ouma was die navigator – en sy het wraggies nooit (of miskien amper nooit) ‘n fout gemaak nie. Haar enigste probleem was die manier hoe sy Oupa op ‘n plek wou kry.
“Hottie, jy moet nou hier voor OP draai,” sou sy sê. Dan wonder ek mos by myself, watter kant toe is OP? En sowaar, Oupa grom: “Watter kant toe is OP?”
Die spesifieke dag besluit Ouma ek moet voor sit by Oupa ... die navigator ry back seat en dit maak die sakie ‘n bietjie meer ingewikkeld. Nou kan Oupa nie sien as Ouma sê “Draai hier OP” en sy beduie met die handjie na links of na regs nie. Baie gou is die spanning in die motor dat jy dit met ‘n mes kan sny en ek sit hande geklem en mond toegebyt dat die sweet op my voorkop uitslaan.
Ouma se OP is Oupa se regs en dan is Ouma se af weer Oupa se regs en da verdwaal ons dat jy weet: nooit, ooit kom ons weer by die huis nie. Oupa trap die briek en gryp die stuurwiel vas met albei hande. Hy kyk nie links of regs nie, staar net voor hom uit teen die gebou voor ons. Ouma is ook nou stil.
Dan gee Oupa die uitspraak: “As ek nou weer hier kom, sal dit die tweede keer wees.”
Nee man, toe kan ek dit nie meer hou nie. Ek bars uit van die lag dat die trane loop. Die twee oues het geen ander keuse gehad as om ook maar te lag nie.
Nou het jy seker ‘n klein bietjie begrip vir my dat ek ook soos die Oupa nie OP van links of regs kan onderskei nie. Hemel tog, dis nie snaaks nie hoor! En hoor hier, moenie dat die son sak nie, dan kan ek maar liewer uitspan langs die pad en môre verder probeer.
So sal jy my nooit vang sonder my selfoon in die kar nie. Nee, nie om te gesels op hom nie, man, ek weet mos dis gevaarlik! En as ek nou so daaraan dink, vir ons outjies wat nie OP van links of regs af ken nie, seker nog meer as vir ander. Jy durf nie gesels en dan nog probeer rigting bepaal ook nie, my nonna, dit werk eenvoudig nie.
Die selfoon het mos darem ‘n GPS en daai tannie vat my op paaie waar ek alleen nooit sou gekom het nie, glo vir my. Maar dan het ek dit ook al oorgekom dat sy baie bedees vra ek moet links draai daar voor, dan gaan neuk ek OP! Dan ken julle mos daardie stilte wat neerdaal, want dan het ek nou vir antie op my fountjie totaal en al verwar.
En wat maak ‘n mens dan? Ag wat, jy trek af, maak of jy op jou foon praat, maar al die tyd sukkel jy dat die dit en datse ding net moet rigting kry om vir jou weer op die regte pad te kan sit.
Op een van my menige togte, draai ek ook laat een namiddag AF waar ek moes OP draai en dinge loop sleg skeef vir my. Dit was nog voor die dae van GPS! Die son sak vinnig en ek sien ek is in een van Windhoek se woonbuurte waar niemand, maar niemand na donker wil ry nie. Ek weet ek kan glad nie stop nie, want oral langs die strate sit (so lyk dit toe later vir my) die grootste, sterkste, wreedste mense by hulle vuurtjies en (so lyk dit toe vir my) drink die een bottel soetwyn na die ander.
Ek bel iemand. Sy sê vir my: “Ry net suid, jy sal in die dorp kom.”
Ek ry suid. Regtig, dit WAS suid! Ek ry en ry, maar die vure langs die strate word meer en die manne langs die vure raak groter en wreder – stop en vra is dus nie ‘n opsie nie. Ek hou net die brandstofmeter dop, want so voor die vet! hier mag my kar my nie in die steek laat nie.
Ek bel weer. Die raad van die ander kant af bly dieselfde: Ry suid!
Dis nou sulke tyd wat jy leer bid soos nog nooit tevore nie, glo vir my. Ek bid vir die petrol om te hou. Ek bid vir die bande tussen die blikke en bottels op die pad. Ek bid dat daai sterk, wrede mense nie sien ek is vrou alleen in die kar nie. Later bid ek maar net, al weet ek nie waarvoor nie.
Die uiteinde was toe ek ‘n liewe oumatjie met ‘n string kleintjies agter haar langs die pad sien. Sy lyk nie groot nie. Sy lyk nie wreed nie. Sy lyk ook nie of sy ... wat nie? Ek weet nie meer waarvoor was ek alles bang nie.
Oumatjie en kinders klim toe saam met my in die kar, want hulle was juis op pad ‘dorp’ toe. Die gevolg is dat ek dit oorleef het om vanaand vir jou van die groot verdwaal te kan vertel.
Lag jy dalk vir my? Toemaar, dis okei dat jy lag. Want ja, as die son skyn en ek sit salig by my huis, kan ek ook lag vir almal wat nie so lekker OP van AF af ken nie.

Maandag 17 Februarie 2020

A NIGHT AT THE MOVIES

Gesels ‘n paar van ons vanaand by ‘n vergadering. Eintlik is ons baie ernstig, want daar is dinge wat beplan en gereël moet word. Maar nou ken jy mos ‘n klomp vroumense bymekaar – die een ding lei tot die volgende en voor jy jou kom kry, beplan jy hoeka nie meer nie. Hoe so? Mos oor die gesels te lekker is, man!
“Ons moet ‘n movie night hou,” reken een.

En net daar verloor die vergadering sy draad. Gee nou vir ‘n klomp vrouens wat jarre der jarre terug in ‘n skool-movie was, net ‘n gap, en jy sien hoe blink die oë. Want, jy sien, elkeen van ons het mos maar daardie klein onthou-skatte wat jou vir altyd en altyd jonk sal hou ... soos die gedagte aan ‘n aand by die movies.
Dis seker nou hier wat ek my jonger lesers gaan verloor, maar vergewe my tog maar hierdie een keer dat ek so blatant met my ouderdom te koop loop. Hoe bring ek movies en ouderdom by mekaar? Maklik. Vandag se kinders is eerstens nie meer almal in ‘n koshuis nie en tweedens het die televisie mos kom nesmaak in ons huise.
In Mariental het dit so gewerk: óf jy gaan fliek in die seunskoshuis se eetsaal, óf oom Emmit kom Saterdagmiddag uit Windhoek uit aan gejaag en ons kyk fliek in sy flieksaal. Dis nou nie asof een van die twee hierbo vreeslik gereeld gebeur het nie, hoor. Maar dis juis daarom dat dit altyd, maar altyd vir groot opwinding gesorg het.
As jy nie gekys was nie, het die opwinding eintlik al so vroeg as Maandag begin. Want, jy sien, jy wil mos ook ‘n brief kry en ‘gevra’ word. Ek sit nou so en giggel my myself, want daar is mos net ‘n soort taal aan sekere dinge. As jou vriendin vir jou sou vra: “Is jy al gevra?” het jy geweet sy wil weet of iemand jou fliek toe wil vat.
So wag jy dan maar van oomblik tot oomblik en van dag tot dag om gevra te word. As die skoolklok eenuur lui, weet jy dat jy nie vandag gevra gaan word nie ... en more begin jy weer wag vir DAARDIE brief wat van wie ookal af moet kom.
Kom ons veronderstel dat jy toe wel ‘gevra’ is voor die einde van die Vrydagmiddag. Mense! Die opgewondenheid is iets uit ‘n ander wêreld. As julle die Saterdag by oom Emmit gaan fliek, is daar nie ‘n probleem met klere nie. Dorp toe, het jy geweet, dra jy jou skooldrag. Maar as die fliek in die seunskoshuis was, het die kopkrap begin oor wat jy moes aantrek. Dit was niks vreemds om vir ‘n maatjie te gaan vra om tog vir jou ‘n romp of ‘n mooi bloesie of iets te leen nie. Dis mos die eerste keer wat jý dit dan dra en dan voel jy tog alte mooi in jou maatjie se klere ... terwyl sy dalk weer iets van jou dra vir die aand.
Uiteindelik breek die uur aan! Jy moet nou net onthou dat dit die eerste keer is wat jy saam met hierdie seun gaan fliek. Julle is heelwaarskynlik nie in dieselfde klas nie, dus het julle dalk nog nooit eens ‘n woord met mekaar gepraat nie. Praat van ongemaklik en op jou senuwees!
Julle stap stokkerig tot by die naaste oop stoele en gaan sit stywe rug langs mekaar. Daar word darem ‘n woord of twee gepraat, maar hoor hier, dit neuk maar! Altwee van julle bid net dat die ligte af moet gaan dat die fliek kan begin – dan hoef julle ten minste nie te praat nie.
Uiteindelik begin die fliek en jy voel hoe die spanning in jou vir ‘n oomblik afneem. Maar dan is dit die volgende ding wat pla – jy sien sy hand is so half skewerig op sy knie. Dit beteken net een ding – hy soek kans om jou hand te vat.
Ag, o hemeltjie tog! Die sweet slaan op jou handpalms uit en jy probeer dit ongemerk aan jou rok afvee. Jy skaam jou dood as hy nou jou hand vat terwyl dit so nat is van die sweet.
Hy skuif kamma reg in sy stoel, maar dit is net om so ‘n klein bietjie nader aan jou te kan sit. En daar is die hand weer op sy been ... net ‘n bietjie nader aan jou as netnou. Jy weet hy gaan nou enige oomblik die moed hê om jou hand te vat. Dankie tog dat dit nie meer so nat van die sweet is nie.
En dan! Agge neeeeee! Jy hoor daardie krrrr geluid en almal om jou hoor dit en ‘n harde ‘aaaaagggg neeeee’ trek deur die saal. Die film het gebreek. Iemand skree: “Lights, please!”
Die ligte gaan aan en jy en die outjie sit weereens stokstyf en stram langs mekaar. Hy het sommer sy arms voor sy bors gevou uit pure frustrasie. Jy vee weereens die sweet ongemerk teen jou rok af.
Na ‘n ewigheid gaan die ligte weer af en kan die fliek verder wys. Dankie tog!
En daar begin dit weer ... sy hand op sy knie ... die sweet in jou handpalms ... hy skuif ongemerk nader ... jy weet hy gaan nou jou hand vat.
Verdomp! Daar staan dit helder en duidelik op die doek voor jou: “The end!”


En het hy toe my hand gevat?
Nee, hy het nie. Daar was nie tyd daarvoor nie. Jy weet mos sulke dinge het tyd nodig om te gebeur!
Net miskien vra hy jou weer en NET miskien gebeur dit dan?

Saterdag 15 Februarie 2020

SONNEBLOM OF LAVENDER?

“En saam met ons is Hottie … of moet ek jou Pieter noem?” kondig Eddie sy vriend se teenwoordigheid in die ateljee aan.
Hy lag by homself. “Nee, noem my Hottie. Ek is Hottie!”
Ja, daar is dié van ons wat doodtevrede is met wie ons is, maar daar is so baie van ons wat tog so bitter graag iemand anders sou wou wees ... of anders sou wou lyk ... of anders sou wou lewe.
Hoekom is dit dan so? Wat is dit dat ons almal gebore is met hierdie ingebore ontevredenheid met wie en wat ons is? Wat maak dat dit altyd vir my lyk dit gaan met jou beter as met my? Waarom is daar altyd iemand wat mooier of beter of gelukkiger is as ek?
Ja, dink net as ek nou dit het wat jy het, sal ek darem baie gelukkig en tevrede wees. As ek net soos jy gelyk het, sou die lewe soveel makliker en beter gewees het.
My kleindogtertjie, nog nie eens ses jaar oud nie, het anderdag met haar pa ‘n interessante bespreking: “Pappa, sê nou maar ‘n mens het ‘n sonneblom en ‘n lavender. Nou wat sal gebeur as die lavender saadjies in sy blommetjies het soos ‘n sonneblom? En wat as die sonneblom besluit hy wil liewer so pers wees soos die lavender? Hoe sal ‘n geel lavender lyk?”
Die klein wysneus het my regtig aan die dink gesit, hoor. In haar onskuld het sy reeds die besef dat ons altyd streef na iets anders, iets beter, iets mooier ... iets wat regtig net so onmoontlik is soos dat ‘n sonneblom skielik pers sal wees of ‘n lavender skielik saadjies in die middel van sy mooi blommetjies sal hê.
Nou wat kan ek dan doen dat ek ook ‘n slag gelukkig en tevrede kan wees? Waarom is die lewe so onregverdig dat ander mense altyd gelukkiger as ek is? Wat het ek verkeerd gedoen om dit te verdien?
Daar is ‘n geheim – ‘n baie groot geheim! Luister mooi, want jy gaan dit dalk nie weer hoor nie. Luister mooi sodat jy dit môre en oormôre en die res van jou dae sal onthou.
Gaan kyk vanaand in die spieël en besluit wie jy is. Is jy ‘n lavender, of ‘n sonneblom of sommer (in jou eie oë) ‘n kaktus? Kyk daardie een vierkant in die oë en weet dan: Ek is ‘n sonneblom en ek sal in al my dae nooit ‘n lavender wees nie, al probeer ek ook hoe hard. Ek is wie ek is en niks gaan iets daaraan verander nie.
Nee, dis nie klaar nie, hoor!
Terwyl jy dan nou ‘n sonneblom is, besluit dan: Ek gaan die beste, mooiste, gelukkigste sonneblom wees wat nog ooit bestaan het. Ek gaan my kop na die son toe lig en elke oomblik van my bestaan geniet. Ek is gelukkig en tevrede om te wees wie ek is.
En weet jy wat? Skielik lyk die lewe toe glad nie so sleg soos wat ek gedink het dit is nie. Skielik lag ek en die hele mensdom lag saam met my.
My wens aan jou is: Wees geseënd, sonneblom! Jesus het jou lief, JUIS omdat jy ‘n sonneblom is.



OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...