Woensdag 31 Mei 2023

Die drie (kerk)sondes

Sit ek mos toe een aand en dink doer waar baie ver is. Dis nou daar waar jy skoon vergeet van die hier en die nou rondom jou. My man het my al baie maal so betrap en dan wil hy weet waar in die wêreld is ek nou ... Ongelukkig sal die meeste van my omswerwinge (dis nou in my gedagtes!) hom nie saam laat lag of huil of wat ookal nie, want hy was nie dáár nie.

In elk geval, dit gebeur toe met die afsterwe van iemand uit my kinderdae. En daar gaat die gedagtes soos perde op ‘n stywe galop.

Ek kom uit ‘n era waar daar twee groot taboes was in die kerk. Ag, dis seker vandag nog so in ‘n mindere mate, maar daardie tyd was dit regtig gereken soos sonde. Nommer een: ‘n Mens lag nie in die kerk nie. Nommer twee: ‘n Mens slaap nie in die kerk nie – ook nie ‘n kind nie.

Vaak in die kerk is mos ‘n anderster vaak, ha? Dis asof daar aan elke ooglid ‘n ding ondertoe rem en rem en al swaarder rem. Probeer jy nog die dominee in die oë kyk, is dit deur so ‘n mistige waas en probeer jy dan jou oë knip ...

Maar dis mos nou nie waaroor ek met jou wil praat nie! Ek het daardie lag in die kerk beet vandag. Jy weet mos, daardie een wat dit smaak jou longe gaan bars as jy dit nog net een oomblik moet binne hou. Eintlik is enigiets mos net eenvoudig snaakser in die kerk as op straat.

Ek dink nou aan die dag wat hierdie kranige gryskop orreliste die stoeltjie waarop sy gesit het gespeel het dat die een poot afgebreek het in die middel van ‘n dawerende orrelspel. Die wat daar was het vertel dat sy ‘n oomblik heel skuins geneuk het maar op ‘n wonderbaarlike manier haar ewewig herwin het. Dis mos toe wat haar gimnastiek-ondervinding van haar skooljare inskop! Sy het die stuk klaar gespeel terwyl sy haarself op die driepootstoeltjie moes balanseer.

O ja! Ek wou mos sê daar is drie sondes in die kerk, nie net twee nie. Die derde groot sonde is om nie kollekte in die bordjie te gooi nie.

Een mooi Sondag is dit toe my beurt ...

Met dié dat die diakens opstaan om die kollekte op te neem, ontdek ek dat ek nie geld gebring het nie. Ek word yskoud en bedink my opsies.

Gelukkig het niemand nog ooit gesê dat ál ons sondes aan die wêreld bekend gemaak moet word nie. Ek het besluit dat niemand hoef te weet nie ... dis nou behalwe ek en die kind hier langs my ... mos. Toe die bordjie vir my aangegee word, hou ek die denkbeeldige munt tussen my vingers en druk dit mooi in die middel van die bordjie. Ek gee vir bordjie verder aan en leun terug teen die kerkbank – baie tevrede met myself. Dis nou totdat die kind hier langs my (het ek genoem dat dit mý kind was?) onbedaarlik aan die giggel gegaan het.

As student woon ons een aand ‘n Nagmaaldiens by. Jy moet onthou Nagmaal is nie bedoel vir ligsinnige studente nie. Jy moet jou gedra! Alles het goed gegaan totdat die bordjie met brood aangegee word vir die mense reg voor ons. Die seuntjie kon sy oë nie glo nie! “Pappa, hier bring hulle nou kos ook!” kondig hy opgewonde aan. Die arme pa het sy hande vol gehad met sy honger seuntjie wat nie saam kon eet nie.

En dan is daar die storie van die drie beertjies. Hulle was die dierbaarste seuntjies met sulke ronde lyfies en blonde hare. As die gesin die kerk in stap, is Ma en Pa altyd voor en die drietjies volg in gelid. Ouboet Beertjie loop voor, dan volg Boeta Beertjie en heel agter kom Boetietjie Beer aangewaggel, nog nie heel vas op die voete nie.

Soos kinders maar is, is Boetietjie Beer daardie dag ook redelik woelig en Mamma Beer kon hom nie regtig in toom hou sonder om ‘n bohaai op te skop nie. Sy besluit toe later om hom maar te los, hy raas tog ten minste nie.

Redelik aan die einde van die diens staan ons op om te sing. Ek staan tussen Ma en Pa reg agter die Beertjies. Boetietjie Beer sit eers doodstil en kyk om hom rond. Meteens besluit hy dat ‘n mens nie so ‘n geleentheid kan verspeel nie. Hy begin rol op die kerkbank van die een kant na die ander kant en weer terug. Ek hou asem op! Ek ken moeilikheid as ek hom sien. Ek vergeet skoon om te sing want ek weet hier kom ‘n ding.

Ons sing die laaste woorde van die laaste versie en terwyl die orrel nog die laaste note speel, gaan almal sit. Arme Boetietjie Beer is op daardie stadium reg agter so ‘n groot oom ...

Ja, jy het reg geraai. Groot Oom gaan sit op Boetietjie Beer!

Ek dink nie iemand in die kerk het gehoor toe die dominee nie seën net daarna uitspreek nie. Wie die grootste geskrik het, weet ek ook nie. Was dit Groot Oom ... of was dit Boetietjie Beer ... of dalk Mamma Beer?

Besluit maar self daaroor.

Ek wil baie graag hoor van jou sondes in die kerk. Deel dit met ons, toe?

 

Sondag 21 Mei 2023

Berge, val op my en heuwels, bedek my!

 

Hoeveel maal het jy al so gevoel? Jy weet mos, daardie een (of is dit duisend) maal in jou lewe wat jy so skaam was dat jy gewens het jy kon liewer maar onder die mat in seil as om te moes aangaan met dit waarmee jy besig was.

Nou kyk, ek het al ‘n hele paar sulke episodes in my lewe gehad. Sommiges was minder traumaties – natuurlik is dit traumaties! – ander meer.

Ek spesialiseer daarin om my naam met ‘n plank te slaan. Vra maar vir hulle wat my ken hoeveel maal ek rooigesig gestaan het oor ‘n blaps wat ek oorgekom het. Jy weet mos, soos om jou beste vriendin aan iemand voor te moet stel en opeens het jy haar naam vergeet! Hoe gebeur dit? Maar meer nog, hoe verduidelik jy dit aan jou vriendin wat daar en dan besluit sy is mos nie goed genoeg vir jou nie ... waarom anders onthou jy dan nie haar naam nie?

‘n Vriendin van iemand se man is oorlede en sy gaan om simpatie te betuig. En hoor hier, ek het hierdie een vir die waarheid gehoor, ek lieg nie! Vriendin kom by die voordeur uit en die twee omhels mekaar. Hierdie een vryf liggies oor haar vriendin se rug en sê met ‘n simpatieke stem: “Baie geluk, hoor!” Nouja, ons kan giggel daaroor, maar ek wonder nog altyd hoe het sy daardie blaps reggestel.

Ons het jare gelede in ‘n buitewyk van ‘n stad gewoon en ek het hierdie spesifieke klein inkoopsentrum gereeld besoek. Op ‘n dag stap ek die sentrum binne en hier kom hierdie ‘bekende’ man van voor af.

Ek groet ewe opgewonde: “Hallo, hoe gaan dit deesdae? Ons het mekaar darem lanklaas gesien.”

Hy kry so ‘n vreemde uitdrukking op sy gesig en antwoord: “Nee, goed dankie, en met jou?”

Ek brei uit oor hoe ons onlangs getrek het en wat alles nog. Hy staan so half en trippel en ek neem aan hy is seker baie haastig.

Ek druk deur! “En hoe gaan dit deesdae met Anneke?” wil ek weet.

“Hmmm, met wie?”

Dit toe dat ek besef ek het ‘n totale vreemdeling voorgekeer en my hele lewe in kort met hom gedeel. Ek kan regtig nie meer onthou wat ek hom geantwoord het nie, maar ek belowe jou, my ore brand nou nog van skaamte as ek daaraan dink.

Ek werk op ‘n stadium by iemand en moet onder andere mense skakel wat nie gereeld betaal nie. Ek werk die lysie van bo af weg, tot ek by hierdie kwaai Meneer Smit kom. Ek weet baie goed, want ek het al met hom te doen gehad.

Die telefoon lui aan die ander kant en ek weet presies hoe hy dit gaan beantwoord: “Smit, mirrag.” My maag bewe en ek voel half naar, want daardie man is niemand se speelmaat nie. Ek hoor al in my verbeelding sy “Smit, mirrag.”

En toe gebeur dit! Hy tel sy foon op en voor hy nog kan groet, blaker ek dit uit: “Smit, mirrag!”

Ek het die foon so vinnig as moontlik neergesit en kan nie eens onthou of ek hom toe ooit weer probeer bel het oor sy agterstallige rekening nie.

Maar die grootste en ergste was die dag van die visbak!


Almal van ons se kinders het op een of ander stadium ‘n visbak gehad. Jy ken mos daardie plastiek rondes wat net groot genoeg is vir ‘n paar goue vissies. Dis nou die einste plastiek visbak wat my allergrootste skande veroorsaak het.

Ek en my oudste, toe seker so drie jaar oud, is die dag winkel toe om vir visbak te gaan koop. Sy wil vissies hê, maar eers moet ons die bak gaan koop. Dit was in die jare toe daardie hoë platformskoene nog so erg in die mode was ...


Nou moet jy asseblief net eers die prentjie kry: Sussie is ‘n redelike woelige enetjie en ek, bo-op hierdie paar platformsandale, het haar styf aan die hand beet met my regterhand. Sy stap naaste aan die winkelvensters. Aan my linkerhand hang plastiek visbak in ‘n inkopiesak. En! Hou jou asem op, asseblief! Ma is swanger met nommer volgende. Ek het die gewoonte gehad om redelik vinnig te stap, maar ek dink daardie dag was ons nog haastig ook.

Ons kom so aan na ‘n opelug restaurant toe en ek sien iemand sit wat ek ten alle koste wil miskyk daardie dag. Jy weet mos – ‘n ou familievriend wat nie noodwendig jóú vriend ook is nie.

Ons is lekker op spoed en ek dink ek gaan dit verby hierdie restaurant gaste maak sonder dat die ‘vriend’ my sien. Dis toe dat die noodlot met alle wreedheid op my toeslaan: Kindjie sien iets in ‘n winkelvenster ...

“Mamma, kyk hier!” is die laaste wat ek hoor voordat sy my van balans af ruk toe sy wegdraai en venster toe beduie.

Die volgende oomblik (hoe het dit gebeur???) hol ek handeviervoet in die arkade. Elke keer wat my linkerhand grond toe gaan, tref visbak se kind die grond met ‘n magtige slag! En natuurlik skree ek van pure skok soos maar net ek dit kan doen!

Het ‘vriend’ my toe gesien? Vir seker! Maar seker eers lank nadat hy my benoude gille gehoor het.

Het ek ooit gesien wat my liefiekind vir my wou wys? Mos toe glad nie.

Hoe het ek by die huis gekom?

G’n mens weet nie!

Sondag 14 Mei 2023

Moedersdag ... of is dit Onthoudag?


 Ja, die kindergesiggies,

Soos die sterre se liggies,

Is die hemelse pêrels vir Jesus se kroon.

As jou hart naastenby soos myne klop, het jy vandag al ‘n duisend maal jou kinders beleef van hul geboortedatum af tot vandag toe en moontlik nog iewers in die toekoms ook. O ja, ek is ‘n meester van ou koeie uitgrawe – vra gerus maar vir hulle wat my ken.

Maar neem jy my kwalik? As ‘n mens kinders het en kinders verjaar of dis Moedersdag of enige moontlike dag wat hulle almal bel, dan lóóp die gedagtes!

Sê nou maar net dat ons nie kon onthou nie. Mens! Watter vreeslikheid sou die lewe gewees het as jy alles net een maal kon beleef en dan is dit poef! uit jou gedagtes uit. Ek wil my dit nie indink nie ... en daarom is die vergeetsiekte vir my een van die ergste dinge wat ‘n mens maar kan tref. Maar ons gaan nie vandag gesels oor vergeet nie, ons gaan gesels oor onthou – alle lekkertes wat ‘n mens moontlik kan onthou.

Ek’t jou gesê dat ek gereeld die ou dinge uitkrap en uithaal en afstof en versigtig in my hande ronddraai en bekyk en bewonder. Ek is ‘n meester van “Onthou jy nog?” Ek ken net een mens wat dit beter as ek kan doen: my oudste. Sy kan vir jou dag en datum en oomblik vir oomblik uithaal en weer lewendig maak. Ja nee, sy is die beste!

Maar dit eers daar gelaat. Ek wonder baie maal of daar op hierdie aarde ‘n suiniger swanger mamma is as wat ek was. Kyk, my lyf (met baba knus binne-in) was myne en myne alleen. Jy moes nou nie kom staan en sukkel en vir my vra of jy kan voel nie. Nee! G’n niks se gevoel aan my lyf nie! Hierdie baba is myne en myne alleen! Ek was regtig so selftevrede met hierdie bondeltjie onder my hart, dat hy/sy maar vir ewig daar kon bly. Want sien, die oomblik dat bondeltjie gebore is, kan enigeen hom mos gryp en loop. Het dit my kwaad gemaak as hulle so voorbarig is! Los my kind! Dis myne! Maar ja, die lewe het my geleer om anders daaroor te dink.

Die grootste skok was die oggend van my oudste se geboorte. Ek lê daar soos die koningin van watter land en verlustig my in al die aandag. Dis nou totdat die dominee begin bid: “Dankie dat U haar vir ons geleen het.” Ek skrik my in ‘n toestand! Geleen? Ja, Martha, geleen. Sy gaan nie altyd en altyd joune wees nie. Sy gaan groot word en weggaan en haar eie pad loop en uiteindelik het ons mos maar almal een pad wat nie een van ons vry kan spring nie ...

Dan word die goetertjies mos groot en elkeen het ‘n wil van sy eie. Dit bly vir my ‘n wonderwerk hoe hulle almal in dieselfde huis grootword, maar elkeen is so verskillend van die ander. Nogtans wil jy elkeen van hulle soos die spreekwoordelike moederhen onder jou vlerk in krap en hulle daar wegsteek teen die wêreld se swaarkry en (moontlike) ellende. En al word hulle ook hóé oud, jy sal seker maar altyd daardie beskermingsdrang in jou dra.

Verskillend? Beslis!

Ons oudste met ‘n eie koppige willetjie van haar eie wat op alles geantwoord het: “Sal self!” O my aardetjie tog, en al vat die haar jare, sy wou dit self doen en het dit self gedoen. Dit is waar die spreekwoord “Job se geduld” gebore is, glo ek.

Ons seun, weer, het kleintyd ‘n fobie gehad vir (onder andere) damesonderklere. Dit was sy suster se grootste plesier om een van haar ‘undies’ aan sy deurhandvatsel te hang. Hy sou vir ewig nie in sy kamer gaan nie terwyl daardie kledingstukkie daar hang. Hy het vuur geblaas van woede, maar niks sou hom oortuig om eens te probeer om dit af te haal nie. Nooit nie! Hy vat eenvoudig nie aan sulke goed nie. Wat my mos laat wonder hoe hy vandag daaroor voel? Ek sal maar liewer nie probeer om dit weer te doen nie!

Ek en my jongste het een aand ‘n effense verskilletjie in die sitkamer. Toe sy gaan slaap, ruim ek op en kyk of daar nie van haar potlode of iets is wat sy nie in haar tas gesit het nie. Dis toe wat ek die ‘briefie’ ontdek wat sy daar vir my gelos het. Ek is lief vir Ma, maar ek hou nie van Ma nie. Waar kry jy eerliker? Agterna het ek baie maal ook al so gevoel, maar ek het net nog nooit die moed gehad om dit uit te spreek nie.

Dit het min gebeur dat al drie van hulle as ‘n span saam ‘n ding aangevang het. Maar een ding wat hulle my lekker ‘n rat voor die oë gedraai het, is die dag wat hulle drie (met die oudste agter die stange) die kombi byna omgegooi het. In die proses was die kar so van die modder, dat hulle dit moes was. En ja, reg geraai! Toe Ma by die huis kom, word dit vertel hoe dierbaar hulle was. Hulle het vir Ma die kar gewas. En Ma glo dit! Watter ma sal dan nou nié dankbaar wees oor so ‘n mooi gebaar nie? ... tot jy jare later die waarheid uitvind ...

Verjaardagkoeke was vir my ‘n nagmerrie. Ek het altyd gewag totdat hulle in die aand bed toe is voordat ek dit begin versier het. Nou hoor nou vir my: my idees van hoe die koek moes lyk en die eindproduk was nooit, ooit dieselfde nie. Hoeveel keer ek in daardie laat ure alles afgekrap en oor begin het, kan ek nie vir jou opnoem nie!

Die ergste was toe ek die dag toe die skool uitkom vra: “Wat het die kinders van die koek gesê?” (‘n Mens mág mos vra!) Jy hoop stilweg dat dit vir hulle mooier was as wat dit vir jou laasnag was.

Eers antwoord die kind nie en jy vra weer: “Hmm? Wat het hulle gesê?”

Die antwoord kom redelik nors (of was dit die gevoel van skaamte wat nog nie gewyk het nie?!) “Hulle het almal gelag vir die koek!”

Dit voel vir my ek kan elke mooi en kosbare onthou hier neerskryf, maar dit sal nie regverdig wees nie. Jy het jou eie onthou en eie mooi herinneringe wat jy sekerlik op ‘n dag soos vandag weereens bedink het.

Soms – en dit is gewoonlik in die nag wanneer ek nie kan slaap nie – kom die aanklagte soos hamerhoue teen jou hart. Jy onthou elke onnodige pak slae, afjak of straf wat jy so vryelik uitgedeel het. Vandag besef ek hoe onverantwoordelik ‘n mens met die klein mensies te werk gaan.

Hoeveel maal het jou kind vir jou iets gevra en het jy, net omdat jy kon, geweier. Wees nou eerlik, as jy terug kyk, besef jy dat hulle nie altyd die ‘nee’ verdien het nie. Dit was bloot omdat jy as ouer die mag het daartoe. Bloot omdat jy nie lus was nie. Bloot omdat jy sommer net ... wát wou bewys?

En stadig maar seker wissel die rolle tussen jou en jou broedsel. Hulle begin gee raad, moedig aan, wys tereg, bied hulp aan en soms kry jy selfs raas ook! Dit is mos maar die pad wat ons loop, is dit nie?

Ek dank die Vader vir kinders wat vergewe het. Ek dank Hom vir die band van liefde tussen ons. Ek dank Hom dat Hy hulle vir my gegun het.

 

 

Saterdag 06 Mei 2023

(van die) Mense in my lewe

 


Tog snaaks dat ‘n mens soms op ‘n vreemde manier gedwing word om jou aandag so ‘n bietjie van jouself en jou omstandighede weg te vat en te begin kyk na die mense rondom jou.

Ek het nogal ‘n manier om vasgevang te raak deur die hier en die nou om my, en te vergeet daar is nog ‘n wêreld daarbuite ook. Wel, soos die Ingelse altyd sê: Wake up and smell the coffee! Die lewe gaan oor baie meer as net dit wat jy rondom jou kan sien, Martha!

Ek sit die dag en wonder oor ‘n vriendin en hoe sy nooit ophou goed doen aan ander nie. Sy het dit self glad nie breed nie, maar daar is net eenvoudig altyd genoeg in haar huis om ‘n lekker warm bord kos voor ‘n ander een neer te kan sit. Hoe kry sy dit reg? Waar kry sy die tyd ... en die lus ... en die geld om dit te kan doen? G’n mens weet nie, maar as daar gebrek iewers is, is sy daar om te help.

Maar dit stop nie daar nie, hoor. Wanneer iemand iewers heen geneem moet word, is sy daar om te help en aan te ry en weer te gaan haal en dan nog te versorg ook. My vraag is net: hoe weet sy dan áltyd waar sy moet/kan help? Hoe weet sy dit as niemand anders om haar daarvan weet nie? Môre is sy bevrees haar petrol gaan haar nie by die werk bring nie, maar vanaand doen sy wat gedoen moet word daar waar sy besig is.

En al brand haar voete van die hele dag se staan, het sy boonop nog genoeg tyd om geduldig te luister na elke klagte van ellende en saggies te bemoedig en raad te gee. Jy kry die idee sy vergeet sy half dat sy moeg is, want sy moet eers hierdie wa deur die drif trek. O my aardetjie tog, ek skiet so ver te kort! As ek moeg is, is dit mos oor my hele gesig geskryf!

Ek besef dat sy hier op aardbodem is om te saai. Sy saai daar waar sy gaan en daarom het sy altyd om te kan gee (of is dit saai?) Ek haal my hoed vir haar af, want ek weet sowaar nie of ek rolle met haar sou wou ruil nie.

En dan is daar Ouma Toeks. Nee, ek ken nie noodwendig iemand met die naam Ouma Toeks nie, maar die klank van haar naam laat my huis toe verlang – na geborgenheid en veiligheid. Dit herinner my aan aande by die olielamp om die kombuistafel en Pa met die Bybel, hande weerskante daarvan op die tafel. Dit herinner my aan aande onder die sterrehemel en die klik-klik-klik van die grondgeitjies daar naby in die donker. Dit herinner my aan aande wat ek gaan slaap het met die wete dat Pa en Pa daar is en dat hulle vir altyd en altyd daar sal wees. ‘n Mens se pa en ma gaan mos nie dood nie, gaan hulle? Maar jy het in elk geval nooit eens gedagte daaraan gegee nie.

Ouma Toeks het dit nie breed nie, en tóg kom sy nooit by die winkel uit sonder ‘n toffie of twee vir die kinders wat daar buite rondhang nie. “Ag kind, ek weet ek moenie vir hulle gee nie. Ek weet, ek weet ... maar los my tog maar dat ek dit doen, toe?”

Sy deel in al jou vreugdes en moedig jou voortdurend aan tot hoër hoogtes. En as jy dan slaag in ‘n halfhartige poging omdat jy nie in jouself geglo het nie, kom die opmerking gereeld met ‘n ondeunde glimlag: “Het ek jou nie gesê nie?”

Ouma Toeks is net altyd daar wanneer jy haar die nodigste het. As jou moed tot in jou skoene is (ken jy die gesegde: Op moedverloor se vlakte?) dan is sy sommer net daar. Sy doen nie veel nie, maak hoogstens ‘n koppie tee en dan sit sy en luister. Luister, luister, luister. Af en toe is daar ‘n knik van die kop, maar andersins is sy maar net daar.

As sy huis toe gaan en jy voel beter, bel jy haar en bedank haar vir alles wat sy vandag vir jou beteken het. Haar antwoord is gewoonlik iets soos die volgende: “Mensekind, maar ek het mos niks gedoen nie, jong. Ek was dan maar net daar!”

Vanaand wil ek dankie sê aan elke saaier en elke Ouma Toeks daar buite. Weet vir seker: jou loon sal groot wees!



Dinsdag 02 Mei 2023

Laataand gedagtes


 Ek het kom hallo , my vriend …

Ek moes ... ek weet jy het vir my gewag.

Daardie gevoel wat jy ervaar wanneer jy ‘n vriend of vriendin na jare weer sien! Dis mos ‘n ding wat hier in jou binneste soort van losgaan en jou hart so ‘n innige warmte laat ervaar. Julle kyk vir mekaar en die jare tussen-in word asof dit nie bestaan nie.

Die twee van julle kan letterlik voortgaan met die laaste gesprek waarmee julle weke/maande/jare gelede besig was. Dit is net nodig om een enkele woordjie te sê en albei bars uit van die lag, of albei kry trane in die oë.

Dis net dat ek en hierdie groot vriend van my glad nie in woorde met mekaar gesels nie. Ons harte hoor mekaar s’n en dit is vir albei van ons genoeg. Ek luister die meeste van die tyd, maar ek weet my vriend hoor my dankbare hart.

Ek kyk boontoe en fluister: “Dankie, Heer, dat ek dit weereens kan beleef. U is werklik goed vir my.”



OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...