Maandag 02 Oktober 2023

TRANSFORMASIE

 

So vra iemand my anderdag ‘n vraag wat my aan die dink sit dat jy net rook sien trek! Jy sien, ons as gesin het hierdie lieflike gesin geken en die voorreg gehad om menige vakansie met hulle te deel. In die wintervakansie was hulle by ons op die plaas in die Namib en iewers in Desember het ons by hulle in Suid-Afrika gaan kuier.

Hoe dit presies gebeur het kan ek nie onthou nie, maar ons het byname gekry wat tot vandag toe nog gebruik word. Hulle is vandag nog die “Knopgatte” en ons die “Duinebolle”.

Intussen het baie jare verby gegaan en, hoewel ek nie meer tussen die duine bly nie, was ek maar altyd nog Duinebol. In April trek ek en my liefde see toe en daar raak ek toe mos nou Seeskulp. En dit is presies waar die vraag toe anderdag op my skerm verskyn: "Wanneer kry ek iets filosofies om te lees oor die metamorfose van Duinebol na Seeskulp?"

My eerste gedagte was: As jy dink ek is sommer so ‘n ou skulpie, maak jy ‘n groot fout, my maat. Ek is ‘n seeskulp van formaat!

Maar kom ons begin by die begin van hierdie metamorfose. Iewers in Mei 2022 oorval ‘n probleem met my rug my. Eers probeer ek wag tot die pyn oorgaan, maar daarvan kom niks nie. Toe besoek ek ‘n plaaslike dokter en ons probeer pilletjies en goed, maar dit werk toe ook nie. Hierdie rug soek na aandag, en glad nie net ‘n bietjie nie! Jy moet verstaan, ek is in ‘n oomblik van my voete af gehelp. Ek sit letterlik my dag om. Van koek bak en ander dinge is daar opeens toe niks oor nie.

My liefde het al jare lank ‘n probleem met sy knie en ons weet almal dat daar net een oplossing voor is – ‘n knievervanging. Maar as jy nou ‘n man ken soos ek myne ken, sal jy weet dat dinge nie sommer skielik gebeur nie. O nee, daar moet nog eers baie water in die see loop voordat daardie knie vervang sal word!

Op ‘n dag sit ons twee (soos al baie male vantevore) in ons kombuis in Keetmanshoop en bespiegel oor wat ons vorentoe te doen staan. Ons albei besef die huis is te groot vir ons en iewers sal iets nou moet begin gebeur. Dit is wanneer my liefde my daaraan herinner dat daar ‘n woonstel by die kus is – ‘n woonstel wat my seun lankal aangebied het. En net daar het die dinge stadig maar seker begin roer.

Ons ry Walvisbaai toe en praat met ons kinders. Ja, dan sal dit nou so wees. Ons sal moet wortels uittrek en verplant.

Maar hoe doen ‘n mens dit? Hoe trek jy uit ‘n huis uit waarin jy jou kinders gesien grootword het? ‘n Huis wat vir jare der jare jou toevlug en veilige skuilplek was? Hoe los jy dit sommer net agter jou? My gedagtes is deurmekaar en ek kan nie lekker sit en logies beplan en besluit nie.

Een aand (waarom moet dit altyd wees as die son onder is?) besluit ek om die olifant happie vir happie te eet. Selfs Rome is steen vir steen gebou, nie waar nie?

Ons adverteer die huis. Die stories oor hoekom ons nie die huis verkoop sal kry nie is byna soveel soos wat daar mense in die dorp is. Ek en my liefde is egter rustig. Niks jaag ons mos nie. Ons vat hom maar soos hy kom.

Ek begin my kaste die een na die ander opruim. Dit gee weg, verkoop en gooi weg dat dit ‘n aardigheid is. Die heel eerste rak – my handdoeke – het my hart gebreek. Elke handdoek is spesiaal en elkeen het sy eie storie. Om te dink dat ‘n ander dit nou gaan gebruik en later weggooi ...! Gelukkig het dit later baie makliker geraak. Dis selfs lekker om iets sommer net te vat en in die asdrom te gooi.

Waarom gaar ‘n mens so baie op? Waarom dink jy dat jy dit dalk volgende jaar of die jaar daarna nodig gaan kry? Dis ‘n ingebore vraatsigheid wat jou laat vasklou aan die aardse dinge, niks anders nie.

In November sien ek ‘n spesialis in Windhoek. Ons spandeer ‘n dag om al die toetse en plate te kry. Ons ry die volgende oggend terug Keetmanshoop toe, want die dokter sal nie daardie dag in sy spreekkamer wees nie. Ons kom by die huis en probeer so gou as moontlik uit te pak en in die bad te kom – Windhoek toe ry en terug is nie vir sissies nie, hoor.

Toe ek dit die minste verwag daardie aand, bel die dokter. Die woorde is soos stormwater bo-oor my kop. Ek is te verslae om hom te antwoord of dalk ‘n vraag of twee te vra.

“Vyf werwels sonder kussinkies.”

“Erge skoliose.”

“Gebreekte werwel.”

Ek sluk-sluk ‘n slag om asem te kry. “Maar Dokter ... operasie?”

Hy antwoord my net so vinnig soos wat hy die probleme opgenoem het: “Ons kan dit sommer iewers inpas.”

Gelukkig het ek die teenwoordigheid van gees om hom eers te stop in sy planne. “Kom ons wag eers, asseblief. Ek dink ons moet eers daaroor praat.”

Hy stem saam en groet. My volgende afspraak is in Februarie volgende jaar. Ons sal dan die operasie bespreek en sommer dalk laat doen ook.

Mense wil gereeld by my weet hoe voel ek oor die trekkery Walvisbaai toe. Ek kan hulle eerlik antwoord dat ek eintlik half nie dink aan die trek nie. Ja, jy’s reg, ek dink nie aan die oppak en weggaan van Keetmanshoop af nie. Al waarop ek fokus, is die eerste oggend wat ek in my nuwe tuiste wakker sal word en sal besef: “Hier is ons nou!”

Dom? Volstruispolitiek? Noem dit wat jy wil, maar dit het nogal vir my gewerk. Ek het nie swarigheid gesien in die inpak nie. Ek het nie swarigheid gesien in die groet van vriende nie. Ek het, om die waarheid te sê, swarigheid in niks gesien nie. Ek het net op daardie eerste oggend in my nuwe plekkie gekonsentreer.

Ek het met dankbaarheid begin dink aan die voordele wat ons trek sou meebring: Naby mediese sorg, koeler klimaat, die wye oseaan wat wag dat ek daar op die rotse kan gaan sit en die vrede kan indrink. Vriende wat ek jare laas gesien het, sal ek nou weer kan sien en mee kuier. Hmmm, dankbaarheid, beslis!

Kersfees kom en gaan en ons begin beplan vir die besoek aan die dokter in Windhoek. Eers wil ek niks weet van ‘n operasie nie. Ek was, om die waarheid te sê, vrekbang vir daardie operasie. Ek wou nie dink aan die pyn daarna nie – die huidige pyn was dan vir my meer aanvaarbaar.

My man laat my later besef dat dit tog maar vir die beste is om te laat opereer. Natuurlik is dit! Dis mos net my eiekoppigheid wat dit nie wou erken nie. Ek besluit om maar toe te gee. Ek sal dit laat doen. Ek gaan koop vir my mooi nagklere en kry my gedagtes agtermekaar – dit is net vir my eie beswil, nie waar nie?

Toe dit tyd raak, pak ek twee tassies: een vir oornag in die gastehuis, en die ander vir die hospitaal. Ek is reg. Ek is gemotiveerd. Ek wil hospitaal toe gaan en gesond huis toe gaan later.

Wat ‘n skok! Die dokter vra dat ek weer moet laat plate neem. Hy sit en kyk daarna en lees die verslag. Dan kyk hy op.

“Mevrou, ek kan jou nie opereer nie. Die osteoporose is net te veel. Ek sal jou breek as ek enigiets probeer doen in jou rug.”

Mensdom! Die skok is baie groter as die aand wat hy my gebel het. Ek voel of ek so pas deur ‘n groot hand van my voete af geklap is. Ek is stom. Verward. Ek voel beroof van iets wat ek nog glad nie gehad het nie. Wat nou verder?

Ons ry gastehuis toe en voor ons ry ‘n motor met die nommerplaat Ps 91. Ek sien dit, maar steur my eers nie daaraan nie. Dit bly egter voor ons van robot tot robot. Die dankbare wete kom in my hart lê: Ek is veilig en Hy weet van my!

Ps. 91:1. HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. 4. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.

Ons gaan huis toe en ek pak nog steeds in. Nou moet ek erken, al het ek geweet dat ek nooit weer ‘n koek sal kan bak nie, was ek glad nie bereid om my groot oond en al my toerusting weg te maak nie. Ek het alles ingepak en myself belowe dat dit wel beter sal gaan vorentoe en dan sal ek weer bak dat dit klap ... wat toe uiteindelik glad realiseer het nie!

Wat is dan nou die geheim daaraan om te trek en nie in ‘n diepe depressie te verval nie? Daar is soveel wat jy verloor! Jou huis, jou vriende, jou sommer álles! Nommer een: aanvaar! Jy het die besluit gemaak dat jy gaan trek. Niemand het jou gedwing om dit te doen nie. En dan nou wat? Nou aanvaar jy dit wat na jou kant toe kom. Nee, jy omhels die verandering en koester dit. Dit is die geleentheid om nuwe horisonne te ondersoek. Daar waar die liggaam reeds beperkings stel aan jou vermoëns, vind jy bloot iets anders wat jou siel kan voed en die toekoms dag vir dag tegemoet mee kan gaan.

Ons lewe in ‘n verganklike wêreld, in ‘n verganklike liggaam. Dit is nou my keuse om op die hier en die nou te fokus en om elke dag te geniet. So deur die nuwe koue omgewing, die stof wat die ooswind bring en die mistige oggende en aande, het die vrede in my hart plek kom maak.

Ek fokus op die huidige oomblik. Ek vind my vreugde in die klein dingetjies van elke dag ... en in die proses sluit ek my hart vir dit wat dalk verlore gegaan het met ons trek hierheen.

Wat presies is metamorfose? Dit is die proses van transformasie (in 'n insek of amfibie) van 'n onvolwasse vorm na 'n volwasse vorm in twee of meer verskillende stadiums.

Daar het jy dit dan nou! Die Seeskulp is nou mooi snoesig in haar plekkie en steeds aan’t ontwikkel tot ons uiteindelik die eindstreep sal bereik.

 


OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...