Sondag 26 Augustus 2018

EENDAG GAAN EK NOG...

Ek het grootgeword met die algemene idee: gaan skool toe, gaan studeer, werk ‘n paar jaar, trou en kry kinders, werk nog ‘n paar jaar en dan tree jy af en ‘doen waarvoor jy nooit tyd gehad het om te doen nie’. Ek sien jy knik met die kop, ha? Ja, ons het so grootgeword en baie van ons het maar nog redelik dieselfde idee in die kop.
Wat presies 'dinge waarvoor jy nooit tyd gehad het nie' is, kon ek nog nooit uitvind nie. Die omies sit dalk nou meer op die stoep, maar ant Sannie doen maar nog wat haar hand vind om te doen in die huis, nie waar nie? Ek meen nou, die skottelgoed en wasgoed en vuil vloere verdwyn nie eintlik omdat jy afgetree het nie, doen hulle?
Ek hoor jy skree vir my van tv kyk en naaldwerk doen en wat alles nog. Ek is baie bly as jy dit het om te doen. Regtig. Ek is ook baie bly as dit jou tevrede hou. Maar nou wonder ek nog altyd presies wanneer het jy genoeg tv gekyk? Nee, ek vra maar net, hoor.
Ek lees van die tannie (ek sweer sy gooi met my met ‘n klip as sy hoor ek ‘tannie’ haar!) wat op 95 graad gevang het in geskiedenis. Sy sê hulle vier gereeld haar verjaardag, maar sy wil g’n weet hoe oud sy is nie ... het dit glo al vergeet. Nou vra jy my wat wil sy met die graad maak? Haar woorde: "I plan to seek employment on a cruise ship, going around the world as a storyteller."
Of die 85 jarige Willadene wat 70 jaar nadat sy klaar is met die skool, haar graad gevang het saam met haar kleinkind. Sy is nou ‘n assistent by ‘n dokter.
Een ander omie het gereken dat solank jy leer, jy nie oud is nie.
‘n Mens is baie geneig om te dink: Eendag sal ek so of sus. Mettertyd besef jy dat eendag toe blerrie nooit gekom het nie. En nou? Aag ja, nou sit ek maar hande gevou en wag tot ek oud is en doodgaan? Of dalk nie?
Maar nee, jy raai verkeerd as jy dink ek het so pas ingeskryf om ook te studeer vir die een of ander hogere graad of iets. Hoegenaamd glad nie!
Kom ek begin maar weer by die begin, dan verstaan jy dalk beter. Ek verwys na die stukkie van “...werk nog ‘n paar jaar en dan tree jy af en ‘doen waarvoor jy nog nooit tyd gehad het nie’.” Jy is nou by my, nê?

My cv sal op die huidige oomblik min of meer só lyk as jy dit nou moet lees:
Werk: Onderwyseres by NIMT – Junie 2012 tot Augustus 2018.

Jip, jy lees reg, jy maak nie ‘n fout nie. Hierdie antie het toe ook by die einde van die onderwysloopbaan gekom...sommer so skielik, onbeplan, uit die bloute. Soos jy sê ‘mes!’ toe is alles oor en uit en verby.

Ek kan nou nie stories gaan vertel op ‘n vakansieboot nie, maar ek dink ek het ‘n paar dingetjies waarmee ek nog hierdie ou aarde (en myself) ‘n hupstootjie kan gee.

Ek wil nou ook nie iemand se woorde na-aap nie, maar mag ek maar sê: Watch this space?

Dinsdag 21 Augustus 2018

GERED ONDER DIE WASBAK UIT (3)

SY NAAM WAS JOSEF
[My dogter is vir ‘n jaar oorsee en die verlies aan haar teenwoordigheid was te seer om te verwerk. Dit het eers later tot my deurgedring dat ek die Here daarvoor die skuld gegee het.]

Sy sit net daar.  Vir dae lank al is dit al wat sy doen.  Sy sien niks.  Hoor ook niks.  ‘n Vriendin kom hoor hoe dit gaan.  Sy prewel ‘n paar woorde, maar die vrou se oë is genael op die baba wat saamgekom het.  Haar Josef was ook so groot.  Hy kon al lag en kraaigeluidjies maak.  Hulle’t hom van haar bors af gegryp.  Hy het nog nie klaar gedrink gehad nie.  Hulle wou nie wag nie.  Haar man was by Herodus se klipgroewe.  Hy’t eers laataand kom hoor hulle seun is ook gevat.  Hy was mal van opstand.  Toe vat hulle hom ook weg.  Hy wou ‘n soldaat versmoor in die sand.  Hy’s ook nog nie terug nie.  Sy sit maar so en wag vir haar Josef en sy pa.  Sy moet hier wees as hulle kom.  Hulle sê dis die Jesus-baba se skuld.  Sy weet nie of dit so is nie.  Sy wag maar.

EINA
 En skielik kom die hele wêreld tot stilstand.  Skielik maak niks op aarde meer saak nie.  Niemand verwag iets van jou nie en dit vererger net daardie gevoel van nutteloosheid.  Dit staaf dan tog die feit dat jy totaal sonder waarde is, dan nie?  Jy word huis toe gestuur en niemand gee om nie.  Jy het dus geen doel of nut op hierdie aarde nie.  En dan wou almal gedurig met jou stry daaroor.
     Hoe bitter hartseer is dit dat ‘n mens gedurende hierdie tyd so ongeliefd, selfs deur God, voel.  Jy glo in jou hart dat God jou verlaat het en moed opgegee het met jou.  Jy glo [maar sal dit nie eens aan jouself erken nie] dat dit indirek God se skuld is dat jy is waar jy is.  Dit is omdat jy nie goed genoeg was nie dat God jou alles van jou gevat het – jou lewe, jou liefde, jou vrede – ALLES.
     Ek wil nie ‘n lang relaas lewer oor al die emosies wat my oorval het nie.  Ek sal dit egter kortliks noem omdat jy dalk sommiges daarvan ervaar en mag dink jy is die enigste mens wat nog ooit so gevoel het.  Jy sit dalk met ‘n hoop selfverwyt en –kastyding omdat jy nie kan glo dat nog ‘n mens op aarde soveel gemors met hom/haar kans saamdra nie.  Jy is so ‘n nikswerd, so ‘n mislukking.  Waar gaan dit alles eindig?
     Baie dikwels hoor ‘n mens die aanmerking:  “Ek kan nie so goed soos ander mense werk/preek/skilder/kook/sing nie.”  Het jy ook as so gesê?  Ek het hierdie stelling vervang met:  “Wat kan ek nou eintlik goed doen?”  Dit het my gedagtegang begin oorheers – so erg was dit later, dat ek dit weer vervang het met:  “Ek kan niks en ek is ook niks.”
     Sien jy wat gebeur het?  My sogenaamde nederigheid het my verander in ‘n minderwaardige stuk jellie.  Ek kon net eenvoudig geen kompliment aanvaar nie, want ek het die gewer daarvan nie geglo nie.  Ek wou ook niks meer begin nie, want daar is mos die wêreld se mense wat dit beter as ek kan doen.
     En skielik was hierdie vrag vir my te swaar om verder te sleep.  Ek het ‘n punt bereik waar ek niemand meer geglo het nie, hoe goed sy of haar bedoelings ookal was.  Wanneer mense sien dat jy nie lekker voel nie, troos hulle jou baie graag met:  “Ek is lief vir jou, man!”  Kom kuier ‘n slag, dan drink ons tee en dan voel jy sommer weer beter.”
     Weet jy wat het ek sulke tye ervaar?  Soms het ek vies geword en gewonder wat die persoon behaal deur so te lieg.  Ander kere het ek dit nogal vermakerig gevind dat mense kon dink ek is so ‘n groot gek om dit te moet glo.
     My dag was vol vrees, wantroue, agterdog, opstand en pyn.  O, die pyn wat in jou liggaam broei soos ‘n fetus wat sy tyd verloor het!  Maar kan vrees jou dan laat pyn?  En wantroue?  Of agterdog?  Of opstand?  Ja, dit kan!  Die fisiese liggaamlike pyn is so intens dat jy nie weet waar in jou liggaam dit seer is nie.  Jy weet net dat jy een groot stuk pyn is… en dat die dood baie soet en mooi vir jou lyk.
     Dit is in hierdie tyd dat selfmoord na ‘n wonderlike uitkoms begin lyk het.  Daar was die keer wat ‘n vragmotor so verskriklik naby was en dit vir ‘n oomblik so maklik gelyk het om vinnig voor hom in te stap.  Agterna het my hart in my geruk en pluk van skok, want ek het besef hoe vinnig so iets werklik kan gebeur.  Die genade van dit alles is dat God mens juis in tye soos hierdie beskerm en omring met sy genade.
     Bogenoemde emosies het weereens ‘n woede in my ontketen.  Hierdie keer was dit nie teen mense nie, maar teen myself en teen God gerig.  Ek was woedend vir myself omdat ek “toegelaat” het dat ek in so ‘n toestand was.  [Het jy al aan jouself erken dat dit ‘n siekte is wat jy het, of vertel jy gereeld vir ‘n ieder en ‘n elk dat jy mal is?]  ek wou myself vernietig, want “dan is ek tog uit almal se pad uit” en “dan hoef ek nie met myself verder voort te leef en te sukkel nie.”
     Ek was woedend kwaad vir God.  Ek kon dit byvoorbeeld op ‘n dag nie hanteer dat ‘n jong vroutjie [sy het ‘n ou klein dogtertjie gehad] moes sterf in ‘n motorongeluk nie.  Ek wou weet waarom ‘n seun van agt jaar kanker moes kry.  Ek kon en wou nie verstaan waarom daar soveel swaar in die lewe moet wees nie.  Ek het gevoel of ek die ganse aarde met al sy probleme op my skouers gedra het en het besef dat dit vir my te veel was.  Waar was God dan tog?
     My eie toestand het ek ook voor God se deur gaan plaas.  Ek haal vir jou ‘n brief aan wat ek een aand vir God geskryf het.  Ek was op ‘n punt waar ek nie meer omgegee het wat van my word nie.  God het [na my mening] nie meer vir my omgegee nie, waarom sou ek dus traak?  En tog het ek ‘n noodkreet uitgegil tot Hom.
     Hulle sê U maak nie flops nie.  Ek sê vanaand vir U dat ek ‘n flop is.  Ek is ‘n flop!
As ek nie ‘n flop is nie, bewys dit dan aan my.  Ek is kwaad omdat ek so ‘n nikswerd is.  Ek is vir almal ‘n aanstoot en ‘n verleentheid.  Ek is vir myself ‘n aanstoot. Here, ek pyn so, ek wens ek kon liewer sterf as om dit te moet verduur.  Verlos my van die boosheid binne my siel!
     Klink dit vir jou soos laster?  Ja, dit klink nou vir my ook so.  Maar weet jy, ons Hemelse Pappa se liefde is so geweldig groot, Hy het my lankal reeds vergewe vir my opstand.  Daardie laaste hulpkreet was al wat nodig was vir Hom om in te gryp.
     Ek glo vandag dat dit die keerpunt van alles was.  Loof die Here, my God.  Groot en ewig is ons Heer.

OPENBARINGE
            Ek weet nou dat God deurentyd met my besig was en dinge aangaande myself aan my geopenbaar het.  Ek dank Hom daarvoor, want dit het die saailand gereed gemaak vir die dag wanneer die reën sou kom.
            Jy sal onthou dat ek genoem het van die geweldige vrees in my vir alles en almal…  Dit was by tye so erg dat ek glad nie tussen mense kon kom nie want ek was eenvoudig te bang vir hulle.  Op ‘n dag was ek en my dogter in die winkel en daardie vrees het my gepak daar tussen almal.  Dit sou vir my makliker gewees het om onder een van die winkelrakke in te klim as om voort te gaan met inkopies doen.  My arme, arme kind.  Sy was sekerlik baie skaam vir haar ma, maar tot vandag toe het sy nog geen woord van verwyt gehad nie.  Sy het my baie ferm aan die arm geneem en na ‘n stiller plek in die winkel gelei totdat ek rustiger was.
Ek droom een nag dat een van ons skool se seuns my en my gesin terroriseer.  Ek was werklik angsbevange in die droom.  Herman [nie sy regte naam nie] het my selfs op ‘n stadium met ‘n mes gegooi en ons huis se vensters met bakstene verwoes.  Ek kon totaal en al niks aan hom doen nie.  Ek wou hom skiet, maar die pistool wou nie vuur nie.  Dit was werklik paniek in die ergste graad.
Toe ek die oggend opstaan, wou my man by my weet wat dan so erg kan wees dat ek so praat en stoei in my drome.  Ek het hom vertel van die droom, maar ek het nie dadelik begryp dat die Here iets wou duidelik maak aan my nie.  Ek het dae lank loop en dink en wonder oor die droom, want jy sien, Herman was ‘n ou liefkindjie wat nooit, ooit vir my enige bedreiging ingehou het nie.  Ek kon nie insien waarom ek so ‘n nagmerrie oor hom moes kry nie.
En toe [loof die Here!] breek die lig deur vir my.  Net so onsinnig soos wat hierdie nagmerrie was, net so onsinnig was my vrees vir mense.
Ek lees daardie dag in Jesaja 33:16  “So ‘n mens sal sy woonplek in die hoë berge hê, sy skuilplek sal ‘n rotsvesting wees.” Wat het ek dus te vrees?  Ek is veilig in my God.
Ek en jy is veilig, want ons behoort aan die Rots van alle rotes.  Ons dank U, Here, dat ons nou weet ons hoef niks en niemand meer te vrees nie.
‘n Ander wonderlike, maar baie pynlike ervaring het oor my pad gekom.  Vandag kan ek my Heer dank daarvoor, maar dit was verskriklik seer om dit deur te maak.  Ken jy die liedjie oor die pottebakker?  Dit lui min of meer soos volg:  “Soos die klei in die hand van die pottebakker, so is jy in die hand van die Heer…”  Ja, dit is soms seer om klei in Sy hande te wees, maar Hy maak ons so verskriklik mooi.
My ou moeder was per bus op pad na my oudste suster toe.  Ek sou haar die aand net vir ‘n paar minute sien, want die bus staan nooit baie lank hier nie.  My sus was baie siek en moes ‘n operasie ondergaan, dus het ons ou ma [soos altyd] gepak en die bus geklim.
Toe die bus na ‘n paar minute weer moes vertrek, kon ek dit glad nie hanteer nie.  Ek het haar gesmeek om asseblief nie te ry nie, terwyl ek tog geweet het sy het geen ander keuse gehad nie.  Ek is huis toe en het die grootste gedeelte van die nag sit en huil en stoei met ‘n bondel onbekende emosies en vrae.  Die hartseer was oorweldigend.
Vir twee dae lank het ek vir almal vertel ek het gehuil soos toe ek in Sub. A na ‘n skoolvakansie by die koshuis afgelaai is.  Ek het dit gesê, maar nie gehoor nie.  Ewe skielik, toe ek hoor wat ek sê, besef ek dat ek met ‘n groot suk verwerping te doen het.          
Hoewel ek dit nooit bewustelik ervaar het nie, het ek my lewe lank verwerp gevoel deur my ouers.  Hulle het geen ander keuse gehad as om my in die koshuis te sit in Sub. A nie, maar ek het in my agterkop geglo hulle gooi my weg.  Is dit hoekom ek myself ook nog nooit kon aanvaar nie?
Dink jy dit was belaglik van my om so te dink?  Ek weet nou dit was belaglik, want ek weet hulle het my baie lief.  Loof die Here!  Ek het my lewe lank gesê ek wil ook voel ek hoort; nou weet ek dat ek hoort.
Op ‘n dag het iemand vir my die volgende vraag gevra:  “Sê vir my, vir wie lewe jy?”  Ek kon hom nie antwoord nie, want ek het nie sy vraag verstaan nie.  Mettertyd het ek begin besef dat my hele doen en late gerig was daarop om ander mense tevrede te stel.
Ek noem vir jou ‘n voorbeeld of twee.  As ek ‘n les aanbied in die klas, doen ek dit die hele tyd so dat die vakhoof my nie kan uitvang dat ek iets verkeerds sê of doen nie.  As ek koor sing, doen ek dit omdat ons net twee is wat alt sing, daarom is ek nodig.  As ek dorp toe gaan op ‘n Saterdag, bly ek ekstra lank weg, want my man en seun speel graag hulle soort musiek as ek nie daar is nie.
Jy sien dus, ek hou so skool dat ander mense daarmee tevrede kan wees.  Dit is dus nie ‘n natuurlike proses nie – ek bly voortdurend gespanne.  Ek sing graag koor, maar ek het nog altyd gevoel ek moet dit doen; nie ek wil dit doen nie.  Saterdae het ek soms niks in die dorp nodig nie, maar ek voel so in die pad in my eie huis dat ek liewer ry.  Verstaan my mooi, my man en seun het nooit gesê dat ek in die pad was nie.  My seun het wel op ‘n dag gesê:  “Ma, weet Ma, as ek en Pa alleen is, raas ons darem baie lekker!  Pa speel vir my al daai ou goed.  Dis darem lekkerrr!”  Het ‘n mens meer as dit nodig?  Vir my was dit meer as genoeg rede om op die vlug te slaan.
My hele lewe was een groot moet.  Ek wou altyd almal tevrede stel, anders was ek nie goed genoeg nie.  Ek moes ten alle koste presteer.  Foute was ontoelaatbaar want wat sou die mense van my dink?
Waarmee ek dus eintlik besig was, was om die guns van mense en God te probeer koop.  As ek dit tog maar geweet nie, dan sou ek ook besef het dat dit nie moontlik is nie.
My predikant en sovele ander wou my gedurigdeur oortuig van hulle liefde vir my, asook die liefde van God vir my.  My verstand het dit aanvaar, maar my gees het dit totaal en al ontken en verwerp.
Ek het die groot begeerte uitgespreek dat ek dit asseblief tog kon sien.  Ek wou sien hoe lief God my het, want ek kon dit nie glo nie.  Ek wou asseblief net sien, Here.  Ek weet regtig nie hoe ek dit moes sien nie [in ‘n droom dalk?], maar dit het ‘n uiterste smagting geword.
Op ‘n aand lees ek Lukas 18:35-43.  Dit is die verhaal van die blinde man by Jerigo.  “Jesus het naby Jerigo gekom.  Toe ‘n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel, die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is.  Hulle vertel hom toe:  ‘Jesus, van Nasaret gaan hier verby.’  Toe roep hy uit:  ‘Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!’  Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep:  ‘Seun van Dawid, ontferm U oor my!’”
En skielik is ek die blinde man!  Ek sit daar langs die pad en almal loop verby en hulle het nie ‘n saak met my nie.  Die van hulle wat my wel hoor, beveel my nog om stil te bly ook, want ek is lastig, ek is in die pad, ek is nie die moeite werd nie.  Waarom sou Jesus aandag aan my wou gee?
Ag Here, ek wil asseblief ook sien!  Ek is blind, Here.  Help my om te sien.  Jesus, help my!  Stop asseblief net een kort oomblikkie by my, ek het U nodig.
Terwyl ek so sit en bid en pleit by Jesus, kom die gedagte by my op om Psalm 31 te lees.  Ek skuif dit egter opsy, want ek was nie lus vir Psalms nie, ek was besig met ‘n groot saak en ek was nie bereid om ‘n oomblik langer te moes wag nie.  Sien wou ek sien, nog daardie selfde aand.
Maar, getrou soos die Here is, herhaal Hy die gedagte oor en oor.  Ek vat toe maar die Bybel en lees.  Ek was eintlik baie moedeloos, want ek was nie bewus daarvan dat dit ‘n boodskap van God af was nie.  Jesus het gestop, maar ek het in my blindheid dit nie gesien nie en het aanhou skree agter Hom aan.
Heilig is die Here, ons Koning.  Ek haal die gedeelte vir jou aan.  Lees dit asseblief baie stadig en oordink dit in jou hart.
“Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.  Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.  Ek het rus en kalmte gevind.  Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.  Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”
En ek sit daar – verslae en oorwonne.  God kom sê vir my om stil te wees.  Hou op met roei en stoei, hou op met vrae vra, hou op om self te wil.  Jy gee nie vir God ruimte om te werk as jy nog altyd alles self probeer doen nie.
Ek is daardie aand bed toe sonder ‘n verdere woord aan God.  Ek kan die ontsettende rus en kalmte nie beskryf nie.  Ek het besef dat ek moet los – God sal.  Jesus sê vir my:  “Goed, jy kan sien.  Jou geloof het jou gered.”
Twee aande later gee Hy vir my Jesaja 33:10-24.  Ek haal net enkele verse aan, maar jy moet asseblief die hele gedeelte gaan lees en oordink.
Vers 10:  “Ek gaan nou ingryp, sê die Here, Ek gaan optree, Ek gaan my mag laat geld.”
Vers 17:  “Jou eie oë sal ‘n koning sien in al sy prag in ‘n land wat wyd lê.  Jy sal terugdink aan die vrees wat jy gehad het.”
Vers 20-22:  “Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste vier:  jou eie oë sal Jerusalem sien, ‘n veilige woonplek waar jou tent nie versit hoef toe word nie, sy tentpenne nooit uitgetrek hoef te word nie, sy toue nooit weer breek nie.  Daar sal die Here vir ons die magtige God wees, daar waar die strome, die riviere breed vloei sonder dat die vyand se roeibote daarop vaar, die oorlogskepe daar verbykom.  Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning, Hy sal ons red.”
Vers 24:  “Niemand in die stad sal meer sê:  ‘Ek is siek’ nie; die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe.”
Wat kan ‘n mens meer sê?  Ek kan Hom net loof sonder einde.  Daar was nog verskeie bevestigings van hierdie wonderlike belofte van verlossing uit my ellende, maar ek volstaan met hierdie gedeelte.
Waar staan jy op hierdie oomblik?  Is jou riviere nog vol van die vyand [satan] se roeibote?  God wil jou laat woon daar waar alles vol oneindige rus en vrede is.  Laat Hom asseblief toe om beheer oor te neem.  Gee dit vir hom – nou!

DIE JAKOB IN MY
Jakob het baie, baie swaar in sy lewe beleef, maar ook net soveel seën uit die hand van God ontvang.  Hy was brutaal in sy soeke na dit wat hy gereken het vir hom die beste sou wees.  Dink maar aan die pot lensiesop, die ete aan sy blinde ou pa, die veertien jaar se harde werk vir die vrou van sy hart, die geveg by die rivier.  [Gen. 32]
“Ek weet alles wat julle doen.  Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding.  Verder volhard julle ook;  julle het baie vir My Naam verduur, en julle het nie moeg gevord nie.  Maar… julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”  [Openbaring 2:1-4]
Iewers het alles begin verander.  Ek weet net nie waar en wanneer nie.  Ek wens eintlik ek kon dit naspoor.  Dit sou alles dalk soveel makliker maak.
Die eerste vreugde, my intense blydskap, onwrikbare geloof, my hoop op wat ek nie kan sien nie, blydskap ten spyte van…  Alles het verflou.  Alles is afgewater.  O ja, ek weet.  Satan het gekom om te roof en te moor.  Wanneer?  Waar?  Hoe?
Ek betrap myself dat ek vlug.  Ek vlug vir my eie ek.  Hardloop.  Stop nooit.  Jakob vlug vir Esau!
“Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom.  Hy kan dalk kom en my doodmaak…”
Waarom hardloop jy, Jakob?  Maak vrede en kom tot rus, Jakob.  Gaan lê met jou kop op die harde klip.  Sien God se bemoeienis met jou.  Ervaar Hom eerstehands.  Want,  “My las is lig en My juk is sag.  Neem dit op.  Volg My.”
By Bet-El sê God:  “Ek sluit ‘n verbond met jou.  Ek bewaar jou.  Ook seën ek jou, Jakob.”
Ek sien dit.  Ek glo dit.  Ek ervaar dit.  Maar ek vat dit nie.  Ek staan op van die harde klip af en laat lê dit net daar.  Ek bly bang.  Ek bly vlug.  Hardloop.  Van wat?  Esau?
“Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.” 
Sonder U seën laat ek U nie gaan nie, Here.  Net met U alleen sien ek kans, Here, al sou ek dan moet mank gaan vir die res van my lewe.
En tog kom daar tye wat jy twyfel.  Twyfel oor die bestaan van jou Bet-el en Pniël.  Dit voel soos ‘n skoenlapper wat vlugtig op jou skouer gesit het en toe weer vort is.  Dit bly hamer in jou kop hoe jy jou pa met ‘n ete bedrieg het, hoe jy jou broer omgekoop het met ‘n pot lensiesop, hoe jy die aardse dinge voorop gestel het vir jou eersgeboortereg.  En jy gaan lê maar weer op jou harde, ruwe klip.  En jy onthou weer die seën van ‘n Ragel, ‘n Lea en die dag by Pniël.
Jy gryp Jesus vas en skreeu dit uit:  Sonder U kan en wil en sal ek nie een tree verder gaan nie!

AS EK MAAR KON…

Ek sou so graag wou…
Na stukkende kinders omsien –
   luister, vashou, sommer net wees
Opstaan, my Bybel vat en werk toe loop
Hemelkindertjies liefhê en versorg –
   in daardie sonskynogies kyk en die liefde daarin lees
My seun se vriendin en vertroueling wees – saam ernstig of
   verspot gesels en geheime deel
Jesus se liefde uitleef sonder om te bodder met skoolwerk
‘n Minnares vir my man wees
En ‘n rêrige-êrige ma vir my kinders wees
Of daglank by Jesus se voete sit en luister na sy stem
Tyd wou hê om te skryf tot my siel moeg is, en dan nog skryf
Ek sou so graag wou…
sommer net ekke wees.

KERSFEES 
‘n Kind is vir ons gebore,
‘n Seun is vir ons gegee
Ag Here, hoekom? Sodat ons ons kinders kan verniel? Sodat ons hulle kan laat verhonger en doodgaan?
Het U geweet wat ek met my kind sou doen toe U hom vesel vir vesel geweef het in my skoot? Het U geweet van my ongeduld en selfsug; van my [soms] intense begeerte na stilte en [selfsugtige] privaatheid?
Ja, U het.
En tog
‘n Kind is gebore
‘n Seun is gegee
sodat ek weer kind mag word.

DIE OU VROU EN DIE KIND
Vir baie jare het ek hierdie innerlike tweestryd in my gemoed ervaar.  Ek was bewus van twee persone in my lyf – die een ‘n jong kind, die ander ‘n ou vrou wat verwoesting saai waar sy gaan.  Haar mikpunt was telkens hierdie jong, lewenslustige jong kind wat die lewe voluit wou leef en nie die swaar saam met haar wou dra nie.  Haar wapens was vernedering, teleurstelling, onwaardigheid, selfhaat, verwerping en baie ander neerdrukkende emosies.  Ek het met ander woorde toegelaat dat my eie negatiewe gevoelens en selfhaat van tyd tot tyd my hele menswees kom vernietig en ek het nie geweet hoe om daardie negatiewe sy van my karakter uit die weg te ruim nie.
Die kind was vrolik en opgewonde oor die lewe.  Sy het elke dag lag-lag gegryp en dit voluit geleef.  En tog…!  Sy het saam met die ou vrou in dieselfde huis gewoon en nooit werklik die kans gehad om dit te vergeet nie.
Die ou vrou het haarself in ‘n kamer toegesluit en van tyd tot tyd haar bose verskyning gemaak.  Die kind het die dae gevrees wanneer die ou vrou die sleutel in die slot sou draai en uitkom.  Op hierdie dae het die ou vrou die kind geslaan, haar aan haar hare rondgesleep, haar in die grond getrap en teen die aand vir dood op die grond laat lê.  Die ou vrou het dan doodluiters weer na haar eie kamer toe gegaan, die deur gesluit en daar gebly tot ‘n volgende keer.
Na so ‘n sessie het die kind vir dae lank op die grond bly lê – te moeg om op te staan en voort te gaan met die lewe.  Die slaan- en skopmerke het oor haar hele lyf gelê en sy het nie die moed of krag gehad om dit te probeer verberg vir die buitewêreld nie.  Sy sou dan vir weke onttrek van die samelewing en niemand naby haar toelaat nie.  Sy kon niemand vertrou met haar probleem nie en dus was daar ook niemand om haar wonde te verbind en te versorg nie.
Deur die jare het sy sterker geword en vir lang tye kon sy die ou vrou uit haar deel van die huis hou.  As sy niks anders kon nie, het sy styf teen die deur gaan staan en op so ‘n manier die ou vrou se koms vertraag.  Natuurlik het sy nou en dan haar waaksaamheid verloor en dan het die ou vrou net weer ingekom en haar chaos gesaai.
Die kind het nooit daaraan gedink om hulp te kry nie.  Sy het nie besef dat iemand dalk vir haar kon help om die huis af te breek en ‘n nuwe huis te bou waar daar geen plek vir die ou vrou sou wees nie.  Sy het maar bly glo haar enigste vorm van verdediging was om die deur so styf as moontlik toe te hou en te bly hoop en bid dat die ou vrou dit nooit weer oop sou kry nie.  Kan ‘n mens so dom wees?
Deur die Here se groot genade het iemand op ‘n dag hierdie jong kind onder hande geneem.  Hulle het saam na God toe gegaan en die hele huis afgebreek totdat daar nie meer een steen op die ander was nie.  Ja, tot die fondamente is uit die grond gegrawe en voor Jesus se kruis gaan neersit.  Die kind was vry om uit te gaan en die lewe voluit te lewe.  Haar nuwe huis is vry van die ou vrou en haar verwoesting.  Daar is geen vrees vir die verlede meer in hierdie nuwe huis nie.
Die kind sien nog die ou vrou in haar omswerwinge.  Die verskil is dat die ou vrou nou geen mag meer oor haar het nie.  Sy is vry in die nuwe huis wat opgerig is met Jesus Christus as hoeksteen.

REëNGOGGATJIES
‘n Kleinood wat ek voel ek moet met jou deel, is die storie oor die reëngoggatjies.
As laerskooldogterjie het ons nie baie gehad om mee te speel in die koshuis nie.  Wanneer dit die slag gereën het, was ons almal op die uitkyk vir daardie bloedrooi reëngoggatjies.  Hulle het sulke gladde fluweellyfies en was vir ons baie mooi.
Wanneer jy dan een van hierdie gediertejies gekry het, het jy dit in jou hand gesit en saggies, baie saggies met die vinger daaroor gestreel.  Jy het jou hand so half toe gehou en met die ander hand gekeer dat niemand anders dit kan sien of daaraan kan vat nie.  Net jou beste maatjie is [soms] die kans gegun om ook oor hom te streel, maar niemand mag hom in sy/haar hand gehou het behalwe jyself nie.  Jy was so skatryk dat niks anders saak gemaak het nie, ook nie eens omdat die ander kinders vir jou dikbek is omdat jy nie wil deel nie.
Ek kan nie onthou wat ons dan later met hierdie goedjies gedoen het nie, want jy kon hom tog nie vir altyd hou nie.  Ek neem aan jy het hom seker later op ‘n bossie neergesit, of salk sommer iewers verloor, kind soos jy maar was.
Ek weet net dat niks anders meer opwindend en spesiaal was as om so ‘n reëngoggatjie te kon kry in die veld nie.  Jy het so spesiaal en besonders gevoel, want al die kinders het om jou gedraai en gesmeek om tog net een keer bietjie te voel aan “jou” goggatjie.
Ek was al baie ver op die herstelpad, maar by tye nog glad nie baie seker van God se allesoorheersende liefde vir my nie.  Terwyl ek en ‘n vriendin eendag oor hierdie saak bid, gee God vir my die volgende visie:
Ek is hierdie bloedrooi reëngoggatjie en God tel my versigtig in sy hand op.  Hy vertroetel my, Hy streel oor my en wil my met niemand anders deel nie.  Ja, God is jaloers oor my.  Hy is so vreeslik opgewonde omdat Hy my gevind het.
In plaas van om my weer na die eerste opwinding iewers op ‘n bos neer te sit of te laat val, hou Hy my vas en beskerm my teen almal wat my wil deel met Hom.  Hy maak seker dat ek nie verloor nie.  Hy sorg vir my en Hy wil my nooit weer laat verlore gaan nie.  Hy is gedurigdeur bewus van my en laat my nooit onder sy oë uit nie.
Ek is mooi vir God!  Dit is die een gedagte wat nog altyd baie moeilik inslag kon vind in my gedagtes – dat ek beeldskoon is vir my Vader.
Dit bly vir my een van die kosbaarste openbarings van God aan my, want nou weet ek dat ek baie, baie spesiaal is vir my Vader in die hemel.
Ek wil ‘n reëngoggatjie bly vir die res van my lewe.  Ek wil nooit vergeet hoe kosbaar ek vir God is nie.  Hy het my duur gekoop en betaal met die bloed van sy Seun, Jesus Christus. 

WEGGOOI-LAMMERS
As ‘n mens hom so staan en betrag, kry jy amper begrip vir die ooi se argelose houding teenoor hom – hy’s dan lelik, man!  Hy lyk mos sommer of niemand hom sal wil hê nie.  Wie kan dan nou sy ma daarvoor verkwalik?
Sy ou haartjies is kroes en yl – so min, die vel skyn vaal-vaal deur.  En ai, die ou poeppensie wat nooit genoeg kry nie!  Almal kry hom jammer, maar niemand wil eintlik iets met hom te doen hê nie.
Ek het ook so ‘n lam geken.  Net – haar ma het haar nie een gemaak nie – sy was sommer een.  Van haar soort sien jy baie: hulle is gewoonlik half laf, lawaaierig, nooit baie [of selfs net ‘n ou bietjie] mooi nie, of brandmaer, of oorgewig.  Weggooilammers het gewoonlik nie baie vriende nie.  As hy ‘n vriend het, laat hy toe dat die persoon hom trap tot die bloed loop – solank hy hom net nie weggooi nie, sien.
Maar, loof die Heer, ek het nie ‘n lammer gebly nie!  Ek is jubelend in Jesus.  Hy’t my opgehef uit die nikswees van ‘n lammer en my een van sy ewigekinders gemaak.  Ek loof sy wonderlike Naam – Hy het mos juis vir die lammers aarde toe gekom.

WARE VRYHEID
Met die opkykslag sien sy dit.  Die son se blinkwit lig wat roep met ‘n magtige, oorweldigende skreeustem.  So skoon.  So wit.  So groots.  Tekenend van Goddelike lewe.
     Die vlerke sprei tot die uiterste.  Sy span elke spier en strek haar liggaam.  Haar kop gerig na die son, vlap sy haar vlerke een, twee maal.  Nog strek.  Nog verder reik na die son.  Sy word ligter … sy verloor grond onder haar voete.  Die grond was tot nou toe al wat sy geken het.  Die wit vlerke werk haar ritmies op, boontoe.  Son toe.  Sy sien niks nie.  Nie dit wat agterbly nie.  Ook niks voor of langs haar nie.  Dis net die duif, en die son wat roep.  Nog hoër.  Nog nader.  Die kop bly son toe gerig.  Sy word nie moeg nie.  Sy word ‘n graniet-torpedo.  Verby die top van ‘n berg, deur ‘n wolk wat skaduwee wil maak.  Die skreeuende lig word verblindend.  Sy moet haar oë daarteen sluit.  Nog hoër, altyd hoër, haar spiere is sterk, die vlug: ‘n storm na bo.
     En dan…  Stilte.  Die lig word ‘n heerlike sagte mat.  Sy ontspan en dryf op die liggolwe.  Die vlerke is nou stil, hoewel nog wydoop.  Sy baai in die heerlikheid van lig en stilte.  Sirkel ver en wyd.  Die lig strek eindeloos ver.
     Opeens sien sy hulle.  Tien.  Twintig.  Nog word hulle meer, tot die lig oortrek is van duisende ander soos sy.  Tog konsentreer hulle nie op mekaar nie.  Elkeen is hom net bewus van die oneindige Lig en Vrede.  En sy weet – hier is sy tuis.  Hier wil sy bly.

 WENKE WAT WERK
 1. Erken dat jy siek is.
2.  Vra gebedsteun – ons kan nie alleen staande bly nie.
3.  Gaan sien ‘n dokter.  Soms word hierdie dinge veroorsaak deur wanbalanse in jou liggaam.  God seën ook medikasie.
4.  Kom tot stilstand.  Om te maak of dit nie bestaan nie, gaan nie die toestand verbeter of net eenvoudig laat verdwyn nie.
5.   Leer jouself ken.  Dit help om met iemand te gesels oor dinge wat jou pla.  As jy iemand baie naby ons Koning ken, [as dit ‘n berader is, sal dit baie help] gaan sien hierdie persoon gereeld en sorteer jou emosies en gevoelens uit.
6.   Skryf die name van mense neer wat moeite doen om jou beter te laat voel, hetsy met ‘n blommetjie, ‘n oproep of net ‘n mooi woord.  Jy sal verbaas wees as jy sien hoe daardie lys groei – en dit terwyl jy glo dat niemand omgee nie!
7.   Moenie jouself afsonder nie.  Dwing jouself om ten minste een mal per dag uit die huis uit te kom.
8.   Doen daardie dinge waarvoor jy nog altyd lus was en laat staan die res.
     9.   Moet asseblief nooit ophou bid nie. 

Saterdag 18 Augustus 2018

DIE STILTE VOOR DIE STORM

Dis helder oordag, maar selfs die son het bang-bang gaan skuiling soek. Die wolke hang donker en laag. ‘n Vreemde stilte hang in die lug. Dis asof die hele natuur in ‘n swanger stilte is – in afwagting op dit wat kom. Dis asof elke klank, elke reuk en elke sigbare beeld sterker raak by die oomblik. Elkeen reageer anders daarop, maar jy probeer om die skrik in jou lyf stil te hou. Wat klink so? Wat ruik so? Wat? Het? Nou? Gebeur? Wie het nou weer wat gesê?
Wees stil, my hart, wees stil.
‘n Doodse stilte van oraloor. En jy weet! Enige oomblik gaan die hel self losbars! Niemand hoef jou dit te sê nie, want jy weet dit, jy voel dit, elke vesel in jou liggaam is bewus van dit wat kom. Maar wanneer? Nee, dit weet jy nie. Jy wag saam met alles anders rondom jou.
Jy het dit self nog nooit ervaar nie, maar jy het al gehoor daarvan. Geen slagoffer kom sonder letsels uit hierdie storm nie. Iewers slaan die storm wel sy seermaak-hou wat lewenslank ‘n swartblou groef laat, dáár waar hy getref het ... opgehewe en (soms) uiters pynlik ... ander loop net later so half kruppel-kruppel met ‘n ‘askies tog’ houding oor die klein gebrek wat oorgebly het.
En wanneer die eerste blitse aankondig “Die storm is hier!” probeer jy jou lyf klein hou, maar jy weet hierdie keer is dit jou beurt. Of jy hardloop en of jy stil bly staan, jou beurt is jou beurt!

Die enigste vraag is net: Sal ek kan opstaan wanneer die laaste donderslag geslaan het?

Donderdag 09 Augustus 2018

GERED ONDER DIE WASBAK UIT (2)

Ek wil jou net herinner dat hierdie 'n stuk seer uit my verlede is. Ek is, deur genade, genees van depressie!

ALLEEN
[Een aand by ‘n geselligheid van die skool toe die verwerping en eensaamheid hoogty gevier het.]
My hart is rooi soos die rooi-rooi servet op my skoot.  Hy skree die skelskree van ‘n pou wat roep na ‘n maat – die bloedgil om aandag.  Kom vat my hart, my lewe, wring die ellendepyn daarbinne na die son.  Sy ongenadige strale skroei die are tot bloedgeklotte massas.
Dis okay om se te lyk, man.  Wie gee om?  Wie traak?  Wie sal kla, jou gek.  Strompel voort in jou stofpad – val en rol in jou eie gemors.  Ek gee nie om waar jy eindig nie.
Jy laat my pyn, my hart.
Steek daai dolk diep in.  Draai hom.  Om en om.  Pyn dit genoeg?  Nog ‘n keer.  Soja, genoeg van selfbejammering.  Tel op jou kop.  Smile vir die wêreld.  Jou simpele nar.  Gek.  Stupid wese.  Sot.


ONGENOOIDE GAS
rooi
bliksempyne
snaar
ongenooid,
onverhoeds
aan
pantserhart
wat snak en skram teen etterpyn en huis-uit vlug

GEVAARTEKENS
Depressie is ongelukkig een van die siektes van die dag wat jou bekruip soos ‘n dief in die nag.  Wanneer jy agterna daaroor dink of jouself ontleed, besef jy dat dit al ver gevorder het voordat jy uiteindelik besef het jy is in die moeilikheid.  As dit maar iets soos griep was wat met ‘n hoofpyn of loopneus sy kop uitsteek, sou dit soveel makliker wees om te gaan aanklop vir hulp.  En wat meer is, ander mense sou dalk meer begrip gehad het vir die feit dat jy nie jouself is nie.
     Ek noem ‘n paar van daardie “simptome” wat voor die tyd te voorskyn gekom het, maar waaraan ek my nie gesteur het nie bloot omdat ek nie die nodige insig gehad het nie.
     Ek het nog altyd gesukkel met ‘n groot ongeduld en, as resultaat hiervan, hewige woedebuie.  Ek met dit vir jou vertel, sodat ek dit duidelik kan maak dat hierdie nuwe woede totaal iets anders was.
     Ek het iets diep binne my ervaar.  Iets wat ek vir myself nie kon identifiseer nie.  Dit het vir my gevoel asof ek met ‘n ding in my binneste rondloop.  Die ding het van dag tot dag, ja selfs soms van oomblik tot oomblik gegroei.  Ek het geweet daarvan, maar ek het nie besef dat dit ‘n groot stuk woede was nie.  Ek het dit so erg ervaar dat ek geweet het dit sou op ‘n dag my liggaam laat oopbars.  Ken jy daardie gevoel?
     Soms het dit vir my gevoel asof die ding my totaal en al lamlê.  Ander tye was dit weer asof ek ‘n lewe binne-in my ronddra.  Wanneer ek dan so kwaad word, het hierdie aaklike ding hier van binne af gedruk en gedruk totdat ek letterlik nie asem kon kry nie.  As ek nou daaraan dink, weet ek dit was soos ‘n baba wat sukkel om gebore to word – daar is lankal nie meer genoeg plek in jou liggaam vir hom nie, maar jy is nog nie gereed om geboorte te skenk nie.
     Ek het gehyg en gesnak na asem, want ek was gedurigdeur kortasem.  Tog snaaks dat ek nooit daarmee na ‘n dokter toe is nie.  Miskien het ek onbewustelik geweet dit sou nie help nie; ek weet ook nie.
     Die nietigste gebeurtenis [“Juffrou, my boek is by die huis” of “Mamma, my potlood is weg”] sou hierdie ding laat groei en groei.  Nee, ek praat nie van raas en baklei nie, hoor.  Ek praat van ‘n fisiese ervaring.  Ek het dikwels die wens uitgespreek dat ek tog net my lyf kon oopsny om vir ander mense te kon wys hoe dit in my lyk.  Ek was oortuig daarvan dat hulle die ding sou kon sien en dan begrip sou hê vir dit wat aan die gang was in my hart, my lyf, my kop!
     Hoe verduidelik ‘n mens so iets aan iemand wat dit nog nooit ervaar het nie?  Jy gaan mos nie dokter toe en sê vir hom daar groei ‘n ding in jou nie.  Jy verstaan dit self nie, hoe moet hy dit dan verstaan?  Hoe kon ek aan iemand verduidelik van hierdie monster wat teer op frustrasie, teleurstelling en irritasie?  Hy vreet en vreet en word net groter en groter.
     Ek wil hê jy moet vir ‘n oomblik die boek neersit en dink aan jouself.  Deel jy hierdie gewaarwordinge?  Is iets hiervan vir jou bekend?
     Sê dit dan op hierdie oomblik vir Jesus.  Hy is ons groot Geneesheer en Hy wil jou help.  Moet asseblief nie verder lees as jy dit nie eers vir Hom vertel het nie.
     Ek dank U, Jesus, dat U juis aarde toe gekom het vir ons wat siek en moedeloos is.  Binne-in my is ‘n monster wat ek glad nie kan hanteer nie.  Dit is besig om my te vernietig.  Ek weet nou dat net U dit kan wegneem.  Maak my kalm en rustig sodat ek U stem kan hoor.  Ek dank U dat daar geen veroordeling is vir die gebrokenes van hart nie.  Ek bely dat die enigste oordeel wat ek ervaar, die oordeel in my eie hart is.  Wis dit asseblief op hierdie oomblik uit my hart, siel en verstand.
     Weet jy dat satan soms God se Woord gebruik om Sy kinders aan te kla?  Ja, jy het reg gelees.  Soos wat satan Jesus in die woestyn versoek het met aanhalings uit die Woord, so kla hy ons ook aan uit die Woord.  Probeer gerus hierdie een:
     Esegiël 7:4  “Ek gaan jou nie verskoon nie, jou nie jammer kry nie.  Ek gaan die straf vir wat jy gedoen het, oor jou laat kom; jou afskuwelike dade sal jou tref.  Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”
     Skrifgedeeltes soos hierdie het my so skuldig, so onwaardig, so sondig voor God laat voel.  Maar nou moet ons onthou dat die Heilige Gees ons nooit aankla nie.  Hy beweeg en praat baie saggies en maak ons bewus van ons sondes sodat ons dit voor God kan bring en vergifnis daarvoor kan vra.  Satan is die groot aanklaer en hy gebruik ons om onsself aan te kla.
     Ek gebruik baie selde ‘n dagboek met uitgewerkte dagstukkies vir my persoonlike Bybelstudie.  Ek besef nou dat dit juis dit was wat satan die gaping gegee het in my lewe.  Ek begin met ‘n boek in die Bybel en werk dit dan deur.  Dit neem my soms baie lank om so ‘n boek deur te werk, omdat ek al wat ‘n kruisverwysing is lees en bestudeer.  So kan dit gebeur dat ek byvoorbeeld met Markus besig is, maar die kruisverwysing lei my na drie, vier ander Bybelboeke.  Ek werk dit dan eers deur voordat ek weer by Markus uitkom en verder kan aangaan.
     Kan jy glo dat ek op hierdie manier vir etlike maande net veroordeling en verdoeming gelees het?  Ek was later so desperaat, ek het paniekerig heen en weer begin blaai en lees in die Bybel.  Dit was natuurlik ‘n groot fout, want satan saai en geniet verwarring – dis sy speelplek.
     Ek het hulp en raad gevra in verband met my twyfel oor God se genade vir my, maar ek kon en wou dit nie aanvaar nie.  Ek het geglo dat God sy rug vir altyd op my gedraai het.  Het ek dit dan nie in sy Woord gelees nie?  Ai, ek kon myself soveel ontsettende ellende en verdriet gespaar het as ek dit net aan my hemelse Vader vertel het.  Hy antwoord altyd ons gebede, want Hy is getrou en regverdig.  As ek maar net kon/wou glo!
     Ek dink dit het ook baie te doen gehad met die feit dat ek myself nie kon of wou aanvaar nie.  Hoe op aarde kan jy van ander verwag om jou lief te hê en te aanvaar as jy nie vrede met jouself het nie?  Ek was vir myself regtig nie iemand om lief te hê nie.  Die oorsprong van hierdie selfhaat kom natuurlik tot so ver as uit jou jongste kinderdae.  Die mens se verstand glo eenvoudig alles wat hy hoor en dit vorm uiteindelik die verwysingsraamwerk waarvolgens ons lewe.
     Het jy al jou twyfel met God gedeel?  Hoekom sit jy nie die boek neer en doen dit dadelik nie?  God wag vir jou – Hy het jou oneindig lief.
     Johannes 3:16 sê dat God jou so lief gehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat jy wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
     Dankie, my Koning, dat U nie my aanklaer is nie.  U is dan juis my Trooster en Redder.  Ek loof U vir die openbaring van U goedheid en liefde vir my.
     Die gevolg van die monster van woede en die twyfel oor my redding was ‘n moedeloosheid so groot soos die heelal.  Jy kan maar sê ek het boedel oorgegee – ek het geen hoop of raad vir myself gehad nie.  Ek kon byvoorbeeld eindeloos loop en kla omdat niemand in die huis self kan besef dat die tafel gedek moes word nie.  Dan sou ek vrae vra soos:  “Wie vertel vir my om kos te kook?”  of  “Wie sê vir my jou klere is stukkend?”  of  “Hoe weet ek wanneer jy dokter toe moet gaan?”  Ek kon sommer begin huil as ‘n kind nie dadelik ‘n opdrag uitvoer nie.  Sulke tye sou ek dan ‘n stil plek soek en sit, en sit, en sit.
     Ag ek ken ritse en ritse van hierdie selfbejammerende vrae; ek sou boeke vol daarvan kon skryf.  Gelukkig het my arme gesin sulke tye liewer geswyg as om eens te probeer antwoord.  Vandag dank ek die Here dat hulle nie almal hulle tasse gepak en geloop het nie.
     Op ‘n dag [ons was besig om tee te drink in die personeelkamer by die skool] het ek kliphard gewens ek kon huis toe gaan.  Om wat  daar te gaan doen?  Ek wou onder die wasbak in my badkamer gaan sit.  Op daardie stadium was dit vir my die enigste plek waar daar geen, maar geen konflik sou kon plaasvind nie.  Ek was oorweldig deur die begeerte na stilte en vrede.
     Ek wens jy kon my kollegas se gesigte gesien het.  Een of twee het senuagtig begin giggel, sommige was geskok en een wou my met geweld letterlik onder die naaste wasbak laat sit – sodat ek kon voel of dit lekker is daar.  Laasgenoemde het haarself bewys as ‘n steunpilaar en vertroueling deur die hele tyd wat ek onder die wasbak was.  Ek was toe al baie siek, maar ek het dit nie besef nie.
     Voel jy ook so op hierdie oomblik?  Of is jy reeds verby hierdie gevoel van los-my-net-onder-my-wasbak?  Dalk het jy lus om daar te sit met ‘n masker op jou gesig, in geval iemand jou daar sou opmerk en jou vrede wou versteur.
     ‘n Kostelike vers waarmee ek kon identifiseer, is Psalm 10:27.  “Ek voel so verlate soos ‘n pelikaan in ‘n woestyn, soos ‘n uil tussen murasies.”  Maar lees dan nou vers 18 van dieselfde Psalm.  “Hy luister na die gebed van die wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.”
     Uiteindelik het ek ‘n stadium bereik waar niks meer saak gemaak het nie.  Ons sou dit die toedeur-stadium kon noem.  Ek het totaal en al afgeskakel en my onttrek van alles en almal.  En weet jy wat?  Ek het gedink dit was tog te wonderlik vir woorde en ek het gedink ek het ‘n geweldige oorwinning behaal oor myself en my emosies.  Kan ‘n mens jou so laat mislei?
     As die kinders in die klas raas, steur ek my net nie daaraan nie.  Ek stap in, ignoreer hulle, gaan sit op my stoel en doen my eie dinge.  Ek hoor hulle nie, ek sien hulle nie, ek weet ook nie van hulle nie.  Kortom: geen rasende skoolkind het meer vir my bestaan nie.  Dit het my goed laat voel dat ek nie meer toegegee het aan die begeerte om te skree en te skel nie.  Ek het so in beheer gevoel.  Enige probleem by die huis het my laat slaap.  Ek het dae aaneen geslaap, want dan het ek nie tyd gehad om te dink nie.
     My emosies het ook nie meer wipplank gery met my nie.  Ek het ‘n punt bereik waar daardie monster my totale liggaam beset het.  Ek was ‘n wandelende niks, want alle lewe is uit my liggaam en siel gesteel deur satan.  Lees asseblief weer Johannes 10:10.
     Sien jy wat doen hy?  Hy sus ons aan die slaap en dan vat hy alles wat vir ons kosbaar is.  Ek kon nie verstaan waarom my man en kinders nie meer aandag aan my gee nie, maar intussen was dit ek wat alle deure van my emosies gesluit het.  Ek het so ontsettend gesmag na liefde en nabyheid, maar ek kon dit nie aanvaar as ek dit gekry het nie.
     Kan jou deure nog oopmaak?  Of is hulle al vasgeroes?  Soek dadelik hulp!  God wil dat jy gesond word.
     Jesaja 41:17-19 sê vir ons:  “Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie.  Hulle versmag van dors.  Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor.  Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.  Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel.  Ek sal woestyngebied in rietvlei verander, dor land in fonteinwêreld.  Ek sal in die woestyn seders laat groei, doringbome, mirte en olyfbome.  Ek sal in die barre wêreld sipresse laat groei saam met platane en denne.”
     In jou dorre, droë siel wil en kan en sal Hy nuwe lewe bring.  Glo jy dit?  Dank God dan daarvoor.  Nou dadelik.  As jy egter moeilik sluk daaraan, moenie moed opgee nie – ek het dit ook nie geglo of aanvaar nie.

DRENKELING
Branders so hoog soos huise
skuimend
donderend
malend
ek is klein, ek
vergaan
o God my God
waar is U dan
dit gooi my neer
maal my, rol my, moor my
bloed en hart en siel
verlore in brute krag
moeg Here
help my
‘seblief

DIE GROOT VAL
Dit was ‘n dag soos elke ander dag.  Ek het opgestaan en nie geweet [of omgegee] hoe ek deur die dag sou kom nie.  Dit was soos een lang eindeloosheid voor my.
     Ek glo jy sal verstaan as ek vir jou vertel hoe ek ‘n dag in my lewe ervaar het.  Met die opstaanslag in die oggend het ek gewonder hoe op aarde ek daardie dag verby sou kry, want ek was so bitter moeg.  Vanaand weer wou ek nie kamer toe gaan nie, want ek het my bed gehaat met alles binne my.  Die nagte was eindelose leë ure met baie gedagtes en onrustige drome.  Van rustig slaap was daar geen sprake ooit nie.
     Vandag weet ek dat dit satan se manier is om jou liggaam af te breek totdat daar van hom niks oor is nie.  Hy val ons liggaam en verstand aan in ‘n poging om by ons gees uit te kom, maar loof God, satan is reeds oorwin.
     Johannes 6:33 sê vir ons:  “In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
     Hierop kan ons maar net sê: Halleluja, loof die Here, want Hy is groot.
     Ek wil nie uitbrei oor wat presies alles gebeur het daardie dag nie.  Ek kan ook nie, want dit sal nooit ‘n getroue weergawe wees daarvan nie.  Ek was by die skool en die kinders is by my klas in nadat die klok gelui het.  Ek was buite op die stoep en moes ingaan vir die periode.  Daar by die deur, toe ek die klas so sien, het ‘n ontsettende vrees van my besit geneem.  Met geen wil op aarde kon ek terug in my klas in nie; dit was net nie moontlik vir my nie.  Ek was te bang!  Vir wat?  Vir wie?  Ek weet nie.  Geen mens kan so ‘n vrees korrek beskryf nie, daarom gaan ek nie probeer om verder te vertel van daardie dag nie.  Wie sal my tog glo?  Net God weet.
     Ek dank ons Vader vir ‘n vriendin wat die insig gehad het om my dadelik dokter toe te stuur.  Ek dank Hom vir die dokter wat besluit het ek moet vir ses weke lank gaan rus.  Ek dank my Vader vir sy groot ontferming en genade.  Loof Hom, prys sy heilige Naam.
Uiteindelik is ek huis toe, maar dit was maar nog net die begin van ‘n baie moeilike en alleen pad wat ek moes loop.  Ja, om depressief te wees is om alleen op die aarde rond te dwaal.  Al is jy tussen duisende ander mense, is jy afgesper van alles en almal.  Ek sou liewer op die Noordpool gaan bly tussen niks en ys, as om ooit weer so eensaam te moet voel soos daardie tyd.
     En tog, wanneer iemand wel die slag probeer indring in jou eensaamheid, ervaar jy dit as ongevraagd en onwelkom.  Jy sal later luister, net tog nie nou nie.  Nou is jy moeg en wil jy eers bietjie alleen wees.

please explain

Was daar al ‘n dag op aarde toe niemand niks wou uitrafel nie? ‘n Dag wat stil en vredig verloop het met geen klop aan daai deur nie? ‘n Dag met geen vingers wat na jou wys en wys en wys nie – ook nie jou eie nie?

‘n Dag wat jou maag kon ontspan en daai deur nie oop of toe ge-rem is nie? Ag Here, sal daar dan ooit so ‘n dag kom?

Ek’s bang, Here. Ek’s bang vir die bang en ek hou nie van fronte voorhou en verduidelik nie. Kan ek tog nie maar ‘n slag net èk wees nie? Kom staan tog in daai deur…

gooi almal uit wat wil rafel en krap

ek’s rêrig moeg


van self probeer

Maandag 06 Augustus 2018

OUMA BAK KOEKIES - 'N STORIE MET 'N SLENTER

Oupa en Ouma kom van die plaas af. As hulle kom, is dit ‘n aardigheid. Jy moet weet, hulle kan nie sommer in die kar klim en ry nie. O nee, daar is dinge wat gedoen moet word voor hulle kan gaan kuier – baie dinge! Belangrike dinge!

Oupa moet vir Ouma ten minste twee weke voor die tyd waarsku as hy die gier kry om by die kinders te gaan kuier. En hy moet ook g’n in die aand met slaaptyd daaroor praat nie, dit werk glad nie so nie. O nee, daarvoor het hy te slim geword so met die jare.

Een aand met slaaptyd – hy’t al gelê en Ouma was nog aan die klaarmaak, roer hy toe mos die onderwerp aan. “Vrou, ek wil na die kinders toe gaan. ‘n Mens weet nooit wanneer is dit die laaste keer nie.”

Ouma ruk haar regop uit haar gebukkende houding uit. Siestog, sy het staan en sukkel met die stywe goedjies wat sy dra om darem respektabel te kan lyk. “Wat praat jy nou? Hermaans, wat is dit van gaan kuier by die kinders?”

Oupa skrik hom heel wakker. Demmit, hy kan ook net leer om sy mond te hou! “Nee, ek het maar net gedink daaraan. Ons kan môre daaroor praat.” Maar dit het nie meer gehelp nie, want Ouma was terug in die stepping en die orders het gerol. Hulle het glad nie daardie nag geslaap nie. Oupa moes opsluit opstaan en die mense roep dat hulle ‘n slagding kan gaan kry en slag. Ouma het begin bak. Ouma bak nie effentjies nie, hoor. Ouma bak om klaar te bak!

In elk geval, die storie gaan nie oor Oupa en Ouma en hulle dinge nie. Die storie kry sy begin daar in die dorp by die kinders. Laat middag, dis amper sononder, trek die bakkie by die werf in.

Oupa vra hulp om alles afgelaai te kry. Dit lyk kompleet of die twee op pad is om uiteindelik in te boek by die ouetehuis. Soveel van koffers en sakke en wat alles word afgelaai dat die kleinkinders later begin kla omdat hulle nou moeg gedra is. Heel laaste laat klim Oupa die oudste tweetjies op die bakkie om die groot kis af te laai. “Wat is dit, Oupa?” Oupa antwoord met ‘n snork en beduie na Ouma toe. 

Hulle sleep-sleep die kis kombuis toe op Ouma se orders. Koekies! Blikke en blikke vol koekies. Hulle ma en Ouma wil nog keer, maar hulle hoor nie. Elke blik word oopgemaak en van elke blik se koekies moet geproe word.

Die eerste blik is gemmerkoekies. Jakkie en Poenie, die tweeling, trek hulle neuse op. "Sies, Ouma, dit brand my mond, Ouma." Ouma het by hierdie tyd 'n koppie tee en steur haar nie aan die lotjie nie. Sy weet dat elkeen iewers iets sal kry wat na sy of haar smaak is. Sy roep die pa nader: "Kom, Seun, Ma het vir jou iets baie spesiaals gebring hierdie keer."



Die tweede blik lyk maar valerig vir die kinders en hulle staan langtand en kyk daarna. "Aaaiii!" sanik Soenatjie, want sy het gedink dit gaan iets baie lekker wees. Moeder kom loer in die blik en is in haar noppies. "Ma het sowaar vlakoekies gebak! Dankie, Mamma. Dit is nou sowaar baie bedagsaam om ('n slaggie) aan my ook te dink."


Die kinders trippel op en af van ongeduld, want wat het hulle nou om te eet? Die volgende blik is die heerlike klapperkoekies. Jakkie en Poenie gaan sit met die blik tussen die bene op die vloer. Moeder probeer keer, maar hulle het gekry waarna hulle gesoek het. Hulle sal later vir Ouma haar soentjie en drukkie gee. Ouma knik tevrede. Sy weet hoe lief is die tweetjies vir haar klapperkoekies.



Soenatjie wil nie alleen verder soek nie. Sy roep vir Koosman en Ousus nader om haar te kom help. Koosman kom nader met 'n frons. As sy Ouma nie vandag vir hom brownies gebring het nie, kan sy maar los. Sy het wie weet wanneer laas vir hom brownies gebak. Sy maak verniet of sy vir hom lief is, hoor. Hy het al gesien sy traak g'n meer met hom nie. Maar ja, Ouma het hierdie keer die groot glimlag van haar kleinseun dubbel en dwars verdien. Hy vat die blik brownies en verdwyn kamer toe.

Ousus kom doodluiters nader. Sy weet presies wat nou nog in die trommel oor is. Maar een ding weet sy, as Ouma net een blik gebring het, gaan daar vanaand moeilikheid wees. Sy deel sowaar niet weer met Soenatjie nie, dis nou maar seker. Sy loer in die kis - mooi so! Ouma is baie slimmer as wat sy gedink het. Sonder om dit oop te maak, vat sy een blik en stap vermakerig kamer toe. Soenatjie wil aan die grens gaan, maar Ouma keer haar. Kom, Ouma wys jou wat is daar vir jou. Die hertzoggies laat haar skree van plesier. "Ouma is darem baie, baie slim!"

Die die opgewondenheid oor al die blikke en blikke koekies bedaar, sit Ouma met haar derde koppie tee en Oupa sit en kerf aan 'n stukkie biltong. In hierdie huis is nie vanaand enige kos gemaak nie. Oupa sug lank en hard. Hy is verbitterd oor die behandeling wat hy by die kinders kry. Dit het hy nou van lus voel om by die kinders te kom kuier. 'n Man sal ook nooit leer nie, sal hy?

Hy sit en more kliphard, maar niemand hoor hom nie. In die kamer kry Ouma hom beet: "Vir wat sit en kerm jy die hele aand so? Dis g'n meer 'n plesier om saam met jou iewers heen te gaan nie. Ek het my morsdood geskaam vir jou ... so onsgeskik ... en dit nog voor die kinders ook nog."

Oupa het genoeg gehad. Hy ontplof byna van onsteltenis. "Die kinders is uitgevreet in hierdie huis. Wat vir 'n ding is dit dat elkeen sy eie blik met koek kry? In ons dae was ons maar alte bly as daar 'n stuk brood was met jam, wat nog van koek! Nee, hierdie was die laaste keer wat jy met suffil blikke koek hier aangery gekom het."

Ouma wil nog antwoord, maar Oupa draai op sy ander sy en gee voor dat hy slaap.

En daar kan Ouma die nag toe nooit slaap nie! Die ouman is reg, ja. Die kinders is uitgevreet, ja. Maar dit is nie wat haar wakker hou nie. Die groot hindernis is waarom elkeen dan nou opsluit van 'n ander soort koekie moet hou? Kan hulle nie maar net van koekies hou en klaar nie? 

Dis nog diep in die nag toe Ouma op en uit is. Nee, die ding met die koekies pla haar heeltemal te veel ... sy't glads gedroom van koekies wat soos mense lyk vannag. Kan jy jou dit indink! En het hierdie koekies nou vir jou baklei! G'n mens kon dit hou nie.

Ouma wag vir die lotjie in die kombuis. Almal is haastig skool toe, maar sy het haar mes in vir hulle. Sy het lank gedink oor die storie met die koekies. Hulle sal eers moet luister voordat hulle vandag uit hierdie huis uit loop skool toe.

"Julle weet, die koekies van gisteraand..." begin sy. Elkeen wil eerste vertel hoe lekker dit is, maar sy maak hulle stil. "Nee, nou luister julle 'n slaggie na my," kom dit amper met 'n dreigende stem. Ouma praat en praat en die kinders trippel rond van ongeduld. Sowaar, as hulle vandag laat is by die skool, moet Meneer maar met Ouma kom afreken. Niemand luister nie, want Ouma hou nie op met praat nie. Wat gaan vandag met hulle ouma aan? Nou klink dit of sy lankal nie meer van koekies praat nie, ha? Waar loop draai Ouma nou die storie? 


Toe hulle uiteindelik by die deur uit is, vra Jakkie vir Poenie: "Nou wat is dit wat Ouma nou eintlik bedoel het met 'Aljander, aljander, die een is soos die ander, al lyk hulle ook verskillend'? Ek verstaan nou wragtie nie wat dit beteken nie.



OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...