Sondag 12 September 2021

EK IS 'N MANGOBOOM

 

Het jy al na ‘n mangoboom, oorlaai met blomme, gekyk? Nee, ek bedoel nou nie of jy so in die verbygaan gesien het hoe oorlaai die boom is met blommetjies nie. Ek bedoel, het jy al gaan staan by die boom en daardie swaar vrag aanskou? ... en ook soos ek gewonder waarom dan? Waarom so ‘n magdom blommetjies as net ‘n klein deeltjie daarvan uiteindelik ‘n vrug in jou hand sal wees?

Wou jy al by Boom weet of sy wéét hoe onnodig dit is om so swaar te dra? Ek bedoel nou maar net, die helfte blommetjies minder ... die helfte minder hoef sy dan kos te gee, nie waar nie? Of is dit nou net ek wat ‘n bietjie dommerig redeneer?

Ons het drie mangobome in ons erf – al drie nou in die pronk! Hulle lyk vir my kompleet soos ‘n  vierjarige dogtertjie wat ‘trou-trou’ speel. Jy weet mos hoe hulle maak, ha? Alles wat lap of valletjie of blink is, moet om die nek en oor die kop en sommer om die lyf ook gedrapeer word. Vir hulself lyk hulle al te pragtig, maar ai! Jy ander moet maar die lag inhou en ewe sedig beaam “Jy lyk pragtig, Ma se kind. Ja, Ma sien jy gaan trou.”

Dis toe wat ek onse vriend Google gaan raadpleeg. Nee, reken hy, al daardie blommetjies is glad nie met die doel om soveel vrugte te dra nie. Nee, daardie 2 000 tot 4 000 blommetjies is bloot om die moontlikheid van bevrugting te vergroot. Met ander woorde, die boom is toe veel slimmer as wat ek gedink het.

Sy laat niks aan die toeval oor nie, hoor. Sy maak vrek seker dat daar iewers genoeg bye, motte, miere, of wat ook al sal wees om darem ‘n goeie aantal blommetjies te kan bestuif. En so gaan die storie voort tot Boom uiteindelik die lekkerste, soetste, mooiste vrugte dra. Maar ja, dit is nie ‘n tiende van die aantal blommetjies waarmee sy haarself oorspronklik getooi het nie.

En net daar gaan my kop weer aan die loop. Smaak my mos nou ál ek en die mangoboom is eie, bloedsusters! Regtig, hoor. Ek dink my derde of vierde naam is iets wat met ‘n mango te doen het. Sowaar soos vet, hoor!

Die enigste verskil tussen my en Boom is dat dit my ‘n hele leeftyd gevat het om te bereik wat Boom jaarliks bereik. Maar kla sal ek nie kla nie, ek is knus-tevrede met my tooiseltjie vrugte, baie dankie.

Jy vat die lewe aan en kleintyd wil jy ‘n dit of ‘n dat word. Jy wend selfs bewustelike pogings aan om jou doel te bereik, maar iewers besef jy dan later dit gaan nie werk nie. Soms maak jy dit nog af as onsinnig of dom of sommer net kleintyd se drome.

So wou ek so bitter graag ‘n omroepster op die radio word. Ja, regtig! Maar helaas, dit het nooit realiseer nie. Dis nou behalwe vir ‘n praatjie hier en daar, wat ek uit my hart uit geniet het. Maar ek het besef: hierdie een is nie regtig vir my nie.

Ek het my hand aan naaldwerk gewaag en, al moet ek dit nou self sê, dit was nogal soms iets waarop ek trots was. Maar weereens – nie die vrug vir die seisoen (lees: my lewe) nie.

Altyd het ek geweet dat moet daardie iets wees wat die ding gaan doen ... maar wat? Ek wou myself soms hard teen die kop klap as ek sien hoe ander ‘n ding begin en net eenvoudig aan en aan en aangaan en ‘n groot sukses daarvan maak. En ek dan? Wat is daar wat ek regtig my eie kan noem en kan gedy daarin?

Ek het aan die skryf gegaan en my hart bloot gelê aan elkeen wat wou of nie wou lees nie. Ja, ek moet erken dat dit nog steeds die passie van my hart is, maaaaar! Moenie vir ‘n oomblik dink dat dit ‘n romantiese pad is wat noodwendig tot groot sukses en ewige roem lei nie. Hoegenaamd nie! Om te skryf is, soos met enige ander projek/werk/onderneming, baie harde werk ... baie harde, ondankbare werk, as jy my sou vra. Hier moet jy my mooi verstaan: ek het nooit gedroom oor potte vol geld uit ‘n boek of twee nie, maar het, soos menige jong skrywer, ook geglo dat kits roem dalk om die volgende boekwinkel se rak vir my sou wag.

Die stryd gaan voort met ‘probeer dit’ en ‘probeer dat’, maar die groot, aardskuddende oomblik breek nooit aan nie. Jy bly maar net jy, al probeer jy ook hoe hard.

En so val Boom se blommetjies die een na die ander grond toe – sommiges vinniger, ander ‘n bietjie stadiger. En nou begin wonder jy oor die doel van dit alles. Was jou lewe dan verniet? Gaan jy regtig, egtig niks noemenswaardig vermag in hierdie lewe nie?

En dan, in die laat ure van die nag, kom die openbaring helder en duidelik: Wanneer Boom kaal gestroop is van haar vrugte en sy staan daar so half verdwaas, bly dit nog die mooie boom wat jy sien groei het, sien blomme dra het, sien vrugte dra het, sien voortbestaan het. Sonder Boom sou die tuin net nie meer Tuin wees nie.

Boom het nie haar plek in die tuin verdien deur vrugte te dra nie, sy was lank reeds daar voordat die eerste piepklein vruggies verskyn het. Juis omdat sy Boom was, het sy haar plekkie in die tuin gekry.

En ek dan?

So eenvoudig, maar so moeilik om aldag te aanvaar – nie wat ek doen nie – nie wat ek voortbring deur al my gesloof en geploeter nie – net maar omdat ek EK is!

Vrydag 10 September 2021

MAANLIGSONATE

 

Ek brand vir jou ‘n kersie vanaand, my lief. Ek vier die lewe wat sou wees, maar toe nie was nie. Ek brand vir jou ‘n kersie vanaand, my lief. Weet asseblief dat ek jou diep in my hart bewaar.

Die woedende gedreun van die branders kort by haar huisie is skaars hoorbaar bo die intense vioolmusiek waarna sy luister. Dit het ‘n daaglikse ritueel geword – een waarsonder sy nie kans sien om te lewe nie...twee glasies wyn op die tafel, die brandende kers op die verste hoek, die musiek, en die een leë stoel.
Toe sy vyf jaar gelede hier kom intrek het, het sy besluit dat sy niemand hier sal toelaat nie. Hierdie is haar vesting, haar heilige skuilplek teen die aanslae van die lewe. Niemand sal hierdie heiligdom kom versteur voordat Len dit nie betree het nie. Len...! Bedags is sy in haar blomwinkel, maar as die winkel gesluit is, wil sy niemand sien of hoor nie.
Lydia en haar laatlamsussie, Emsie, is op pad fliek toe. Pa en Ma en wie almal stel nie belang om fliek toe te gaan as hulle hier by die see is nie. Pa is hier vir die vis. Ma is hier om te rus. Rus? Die res van die familie speel nie ‘n rol nie, dus is hulle ook nie saamgenooi nie. Emsie het die idee dat sus Lydia asseblief tog net ‘n man moet raakloop en tot trou moet kom, want genade! is sy nie al (so halfpad) op die rak nie?
Van die fliek kon die twee agterna niks onthou nie, want voor hulle het die mooiste man (Pa sê altyd g’n man is mooi nie, maar hierdie een was wragtag mooi!) gesit. Hy was onbewus van die tweetjies agter hom, maar het ooglopend geen aandag aan die fliek gegee nie. Dit het selfs op ‘n stadium gelyk of hy sit en slaap – en dit terwyl die held toe uiteindelik die heldin in sy arms neem! Kan jy dit glo!
Dis toe die fliek klaar is, dat die ongeluk die twee tref. Die rooi skedonkie het al sy beste dae gehad en hy besluit toe om daar, reg voor die fliek, te weier om aan die gang te kom. Emsie wil nog vir Pa bel, toe die mooie man aanbied om te help.
“Ek sien julle twee het probleme; kan ek help?” Sonder ‘n glimlag, sonder om homself voor te stel. Sommer net asof dit iets is wat hy asseblief tog so gou as moontlik moet afhandel. Emsie wil nog oeee en aaaa, maar die meneer het nie lus vir gesels nie. Hy help hulle om die motor aan die gang te kry en draai om en loop.
“Hoe durf hy loop sonder om homself aan ons voor te stel? Weet hy nie dat ons vir jou ‘n man soek nie?” mor Emsie kliphard. Lydia is al gewoond aan die sussie van haar se dinge, dus steur sy haar nie daaraan nie. Sy is regtig gelukkig op haar eie en sy dink sy doen goed genoeg vir haarself en geen man is nodig om haar aan die lewe te hou nie, dankie! Om ‘n man te vat beteken waarskynlik dat sy haar blomwinkel sal moet verkoop en daarvoor sien sy glad nie kans nie. Nee, die manne moet tog maar hulle eie vrouens trou en haar los waar sy is.
Dis nog donker en almal slaap. Iets het haar vannag gejaag. Iets het haar wakker gehou. Iets...iemand se donker oë, dalk? Onvergenoeg gooi sy die komberse van haar af en staan op. Sy trek haar drafskoene aan en sluip by die huis uit. Sy kon nog altyd die ‘spoke’ verdryf met ‘n vinnige draffie langs die see.
Toe die son opkom gaan sit sy moeg langs die see. Die silwer sonstrepe op die water verblind haar sodat sy met toe oë sit. Sy skrik toe iemand skielik langs haar praat: “Dit is deesdae gevaarlik om so alleen rond te loop, weet jy?”
Sy maak nie haar oë oop nie. Haar hart klop in haar keel. Sy ken hierdie stem – sy weet dit behoort aan die man met die donker oë. Sy antwoord gemaak vererg: “Jy besef natuurlik dat jy my vrede kom onderbreek, hm?”
“Jy het my vrede reeds gisteraand onderbreek toe jy agter my in die fliek gaan sit het. Ek het vannag van jou gedroom en ek hou nie daarvan om van vreemde vrouens te droom nie,” antwoord hy net so rustig terug. “My vrou sal glad nie daarvan hou as sy moet weet ek en jy het in my drome gedans op die mooiste vioolmusiek nie.”
Hy is dus getroud. Dit kom nou daarvan om jou sussie fliek toe te sleep. Maar nog erger, om na haar te luister dat hy die man van almal se drome is. Vervlaks!
Sy staan op en wil verskoning maak om te loop, maar hy keer haar. “Moenie loop nie, asseblief. Ek sal nie byt aan jou nie. Wees asseblief deel van hierdie mooi oggend. Ek sal mooi soet wees, ek belowe.”
“Ek is Lydia en baie dankie dat jy mooi soet sal wees. Ek hou nie van wolwe en ander vreemde gediertes nie.”
“Len. My naam is Len en ek is nie ‘n wolf nie,” antwoord hy gemaak ernstig. “Dit is my huis daar anderkant...met die blou dak.”
Vir die res van die drie weke wat Lydia en haar mense by die see is, sit hulle twee elke oggend ‘n halfuur, soms langer, daar op die bank. Dit is nie nodig om altyd te praat nie, die blote feit dat hulle daar kan sit en mekaar geniet is genoeg vir albei. Hy vertel haar van sy mooi vrou wat op die oomblik in Europa met ‘n vriendin toer – hulle is gelukkig getroud. Hoekom laat dit haar hart so pyn om dit te hoor?
Op ‘n vreemde manier het albei die vrymoedigheid om hulle diepste gedagtes met mekaar te deel. Dalk is dit omdat albei weet het hulle sal mekaar nooit weer sien nie? Dalk is dit omdat hulle siele nog van altyd af dieselfde taal praat, wie sal weet?
“My mense is vroeg vanoggend terug huis toe. Ek ry môre terug Johannesburg toe,” sê sy een oggend. “Ek moet Maandag by die werk wees.” Sy praat sonder om na hom te kyk. Haar hart huil, maar haar gesig bly emosieloos.
Hy vat haar hand. Sy beur nie weg toe hy haar nader na hom toe trek nie. Hulle sit vir ‘n oneindige paar oomblikke styf teen mekaar. “Kom drink vanaand ‘n glas wyn by my. Ek sal soet wees, ek belowe jou.”
Sy staan op en stap weg sonder om hom te antwoord. Sy weet sy speel met vuur. Sy weet sy is die enigste een wat seer gaan kry. Maar sy weet ook dat sy nie huis toe kan gaan sonder om net hierdie een keertjie so ‘n klein bietjie nader aan hom te kom nie. Sy begeer dit om net een verbode oomblik die warmte van sy lyf te ervaar. Sy wil dit ervaar en in die dieptes van haar hart wegbêre vir later se onthou.
Sy wag tot die son byna onder is voordat sy die deur agter haar sluit. Die see is spieëlglad en stil – asof in afwagting op ‘n groter gebeurtenis. ‘n Verlate seemeeu vlieg laag oor haar kop verby. Sy sien nie die see nie, sy hoor nie die seemeeu se skree nie. Sy weet dat hierdie die begin van ‘n pynlike einde in haar pad is. Na vanaand sal niks ooit weer dieselfde wees nie.
Hy wag vir haar in die straat. Sy stap agter hom aan deur die donker huis. Hulle praat nie. Buite op die patio staan twee glase wyn reeds geskink. Daar is geen ander lig behalwe die een kers op die verste hoek van die tafel nie. Van iewers af hoor sy die sagte klanke van die Maanligsonate. Die vioolklanke huil saam met haar hart.
Hy gaan sit in die leunstoel en wag dat sy langs hom moet kom sit. Sy doen dit nie, want sy is bang vir haarself. Sy weet dat sy hier die sterker een moet wees vanaand. Die wyn is soet op haar tong, byna soos die liefde in haar hart vir die man wat dit geskink het.
Toe hy agter haar kom staan, draai sy om en druk haar kop in sy bors. Hy maak haar toe met die warmte van sy arms. “Bly vannag by my, my lief,” sug hy in haar hare.
Sy het gebly. Vir daardie een stormagtige nag was dit sy en hy in die lig van die kers. Iewers het die vioolmusiek opgehou. Die branders het stil geraak. Die kers se lig het doodgegaan. Later was dit net die liefde wat brandend gebly het tot die oggend se lig oor die see kom skyn het. Sy het woordeloos opgestaan en by die huis uit gestap. Iewers het haar skoene en trui bly lê, maar dit het nie meer saak gemaak of dit warm of koud of wat ookal is nie.
Lydia en haar familie kom ‘n jaar later weer by die stranddorpie aan. Voor Len se huis is ‘n ‘Te Koop’ bordjie. Sy hoor in die kafee dat sy vrou oorlede is. Hy het iewers heen gevlug, niemand weet waarheen nie. Die groot huis sonder sy lieflike vroutjie het te veel vir hom geraak en hy het die pad gevat. Niemand het hom weer gesien nie.
Sy koop die huis. Sy maak dit haar eie veilige vesting. Sy maak dit haar heilige skuilplek teen die verlang en alleen in die lewe. Hier voel sy veilig en die naaste aan die liefde wat sy in haar hart dra. Op die patio staan die tafel en die twee stoele en het sy haar daaglikse ritueel – een waarsonder sy nie kans sien om te lewe nie...twee glasies wyn op die tafel, die brandende kers op die verste hoek, die musiek, en die een leë stoel waarop niemand ooit sal sit nie.
Die blomwinkel is onmiddellik ‘n sukses. Haar kliënte kom van die stad af om haar te ondersteun. Volgens almal is daar net ‘iets’ in haar werk wat hulle by niemand anders vind nie. Wanneer hulle haar vra wat haar geheim is, antwoord sy met ‘n breë glimlag: “Dalk is dit maar die liefde wat sulke dinge aan ‘n mens doen, jong.” En almal lag dan lekker, want Lydia het nog nooit eens ‘n vaste verhouding gehad nie, het sy?
Daar was al mans in haar lewe, ja. Hulle was goeie vriende en dalk goeie troumateriaal, maar Lydia kon nie die belofte aan Len, die belofte dat sy vir altyd vir hom sal wag (het sy dit ooit hardop vir hom gesê?), verbreek nie. Hoewel hulle albei geweet het dat daardie een nag verkeerd was, kon sy dit nie vergeet nie. Len het geen beloftes aan haar gemaak nie, maar haar siel was vir altyd en altyd vas aan hom geweef.
Dit is laat Saterdagnamiddag. Dit was ‘n lang en besige week. Sy sien daarna uit om haar skoene uit te skop en ‘n ver end langs die see te gaan stap. Die see is haar boesemvriend, haar vertroueling, haar enigste toevlug wanneer dit alleen raak in die groot, stil huis.
Toe sy aankom huis toe, is sy dadelik opstandig. Voor haar huis staan ‘n motor. Wie is dit? Hoe durf hulle haar privaatheid so skend? Sy het niemand genooi nie en sy is ook nie van plan om iemand ooit te nooi nie. Sy stap stadig nader – skielik te bang om haar eie voordeur oop te maak, want wie ookal met die motor daar gestop het, is nêrens te sien nie. Sy hoor weereens haar vriende se vermanings dat ‘n mens nie jou huis so kan laat oopstaan nie, dit is glad nie veilig vir ‘n alleenloper soos sy nie.
Sy maak die deur oop en stap stadig in. Eers sien sy niemand nie, maar sy weet iets is anders, iewers is iemand. Sy voel die teenwoordigheid van nog ‘n mens aan. Buite op die patio staan twee glase wyn reeds geskink. Daar is geen ander lig behalwe die een kers op die verste hoek van die tafel nie. Van iewers af hoor sy die sagte klanke van die Maanligsonate. Die vioolklanke jubel saam met haar hart.


ONS HOU BASAAR

Petrina en Gesina is twee susters van die plaaslike gemeentetjie van so kort by die honderd. Almal ken vir almal en almal is lief vir almal ... of so lyk dit gewoonlik. Hulle woon almal elke nagmaal, elke kerkbasaar, elke debat van die kinders, elke wat ookal van wie ookal by.
‘n Regte gesellige ou lotjie, hierdie gemeentetjie!
Maar die gemeente nou daar gelaat. My kop staan na Petrina en Gesina en hulle dingetjies met/agter/sonder/by mekaar. Want, jy sien, die twee verskil soos dag by nag ... of wit en swart ... of chocolate en suurklontjies. Elkeen is goed op sy eie, maar saam kan dit nie altyd werk nie.
Om vir Petrina te ken en te WEET jy ken haar, is ‘n wens wat in baie se koppe is, maar net nooit bewaarheid sal word nie. Petrina is ‘n eiesoortige, half steeks, half moedswillige skepsel. Haar vriende is lief vir haar, maar (so reken ek) ook maar redelik ligvoet vir haar. ‘n Mens weet nooit wat om volgende van haar te verwag nie. ‘n Regte opsternaat mens, sou my oorlede oupa gesê het.
Want, jy sien, Petrina lewe in boksies. Vir elke oomblik van elke dag bou sy haar eie boksies. Sy vat die stukkie karton, meet hom tydsaam en presies af, trek lyntjies waar die voue moet wees, knip mooi op die lyntjies, vou hom dan versigtig toe, smeer die lym en plak baie mooi vas. Maar nee, nou is sy nog glad nie klaar met boksie nie, hoor. Sy moet hom eers mooi sit en betrag en besluit dan wat presies moet in hom kom. Sy pak alles mooi langs die boksie en begin dan meet en pas om alles mooi presies in te kry. Eers as sy tevrede is dat haar berekeninge reg is, sal sy die dit en dat vat en in die boksie pak. En moet net nie dink sy gaan haar steur as jy vir haar wil vertel dat dit en dat nie hoort in die boksie nie, hoor. Dit is HAAR boksie en sy sal vir hom pak soos SY wil.
By die tyd wat boksie nommer een gepak en toegeplak en weggebêre is, is dit al lankal tyd vir boksie nommer twee en drie en vier, en, en, en!
As Petrina die slag haar sê wil sê, moet jy luister en gou luister. Sy hou g’n niks daarvan om ‘n ding oor en oor en oor te moet sê nie. As jy nie mooi gehoor het die eerste keer nie, sal sy ‘n tweede keer probeer en dan maar los. Vir ewig en altyd sal jy nie weet wat presies sy jou wys wou maak nie. Een groot sonde wat sy sukkel om te vergewe, is as jy haar woord in twyfel trek, hoor. Sy reken sy het nou nie juis geld en goete nie, maar sy het ‘n naam wat sy hoog hou en jy moenie kom skuins neuk en haar verdink dat sy nie die waarheid praat nie.
Gesina, aan die ander kant, is ‘n mens wat hou van die oopte. Sy is min of meer soos ‘n ... soos ‘n WAT? Ek weet nie, maar iewers moet daar ietsie wees wat ook soos sy lewe.
Sy steur haar nie aan ruimtes en beperkings en wat alles nie. Waar Gesina is, kan jy weet dit is so ‘n klein bietjie soos ‘n orkaan. Hoe meer ek dink, hoe minder kan ek dink wat in die natuur skarrel so rond soos onse Gesina. Dit vat hier, pik daar, hol dan waarheen en vat weer en pik weer en hol weer. Nooit is daar ‘n stopteken of ‘n punt aan die einde van die sin nie. Nee, Gesina storm voort en word nie moeg of deurmekaar of bang vir haar eie spoed nie.
Wanneer Gesina aan’t gesels gaan, klink dit min of meer so: “Ek moet nog vir Kleinkoos dokter toe vat met die toon wat hy so nerwe af geval het. Hy wil mos nie hoor as ek vir hom ... net die anderdag hoor ek mos dat Willemina van annerkant die spoor glo ‘n kleintjie anie kom het. Genade, mens! Hoeveel is genoeg vir die twee arme ... ek moet nog die kool op die stoof kry – Egbertus hou nie van rou kool nie, maar gee hom koolbredie ... wanneer laas het ek ‘n baba so hoor skree soos daai een wat nou daar op die hoek sit ... og, hierdie somer gaan ons weer dood brand in hierie son!”
Nou vra ek jou: Wat om dese aarde is dit wat vir Gesina en Petrina so onlosmaaklik van mekaar gemaak het? Om hulle saam te sien, is om van moeg te word!
So hou die gemeentetjie toe laasjaar kerkbasaar. En, soos jy seker nou ook al kon raai, staan die twee se tafels langs mekaar ... nee, teen mekaar ... nee, amper OP mekaar! Petrina se tafel is vol boksies – boksies met lekkers, boksies met koekies, boksies met biltong, boksies met alles onder die son. Die tafel is oorlaai met boksies van alle kleure onder die son. Dis net dat niemand weet wat in die boksies is nie, want Petrina het alles mooi netjies toegeplak!
Gesina se tafel is ‘n fees vir die oog! Dit kreun onder die koeke, lekkers, biltong, koeldrank, chips en wat nog als. Kort-kort moet sy keer, of ‘n bondel val van die tafel af. Die mense is mal oor haar tafel en koop dat dit klap.
Na ‘n tydjie kan Gesina dit nie meer hou dat haar vriendin se tafel so stil is nie. Sy vra iemand om ‘n bietjie haar tafel dop te hou en skuif langs Petrina in. So met die gaan staan slag gryp sy die eerste boksie en ruk hom oop. Dis net kraletjies wat spat oor die aarde.
Petrina gil in ontsteltenis: “Kyk wat het jy aangevang!”
Sonder om verder aan Gesina aandag te gee, begin sy die krale optel en terug in die boks te sit. Die aarde vergaan om haar, maar hierdie boksie moet heel kom en mooi kom en toe kom ...
Dis eers toe sy vir boksie terug op die tafel sit, dat sy sien Gesina het al die ander boksies ook verwoes, sodat die inhoud nou alles op die tafel lê. Die hele gemeente staan asemloos en wonder wat nou gaan gebeur. Gaan sy Gesina te lyf gaan? Gaan sy histeries aan die gil gaan? Wat gaan sy doen?
Petrina het een kyk na die chaos op haar tafel gegee en met ‘n sug in ‘n floute verval – natuurlik plat op die stowwerige vloer. ‘n Groot gehyg gaan deur die gemeente, want wat nou?
Die dokter kom. Oom Kerneels met sy klein bakkie met die kappie op en die matras agterin – die plaaslike ambulans. Die brandweer. Die suster van die kliniek. Die enigste ‘speedcop’ van die dorp. Ja, almal staan om Petrina en elkeen probeer om haar uit haar floute te kry, maar verniet.
Opeens klink die geweldige stem van Gesina tussen die skare op: “Petrina Petoors, laat staan jou twak en staan op! Jy het ‘n tafel vol goed wat die mense wil koop!”
En ja?
Petrina vlieg orent en vee die stof van haar rok af. “En wat soek julle almal hier? Het julle nie werk om te doen nie?” snou sy al die barmhartige Samaritane toe.
Nodeloos om te noem dat haar goed toe ook verkoop het – amper beter as Gesina s’n. Dit het haar ‘n week of twee geneem om Gesina te vergewe, maar daaraan het ou Gesie haar min gesteur.
Nou staan die gemeentetjie weereens voor ‘n basaar en almal wonder: Waar gaan Gesina en Petrina se tafels hierdie jaar staan?

 

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...