“Dis reg, Ma!” skree hy oor sy skouer terwyl hy wegdraf van die
huis af. Lèon het so pas vir sy ma gelieg. Hy het nog nooit vir Ma gelieg nie,
maar vandag is ‘n ander saak. Sy glo hy werk vanaand ‘n ekstra skof by die
kroeg, maar dit is nie so nie.
Dit was ‘n hartseer dag toe hulle ontslaan is. Eintlik het sy ma
dit verwag die dag toe Mevrou Blanchè oorlede is, want die ouman het nie kans
gesien om alleen voort te gaan op die landgoed nie. “Waarvan moet ons nou
lewe?” is sy ma se versugting van die oggend tot die aand.
Ná vannag gaan hulle nooit weer honger wees nie. Hulle gaan
nooit weer wonder waar kom die volgende stukkie brood vandaan nie. Hy brand van
opgewondenheid om sy ma se gesig môre te sien.
Die manne in die kroeg het nie gedink hy hoor hulle nie. Hy was
besig om glase op te was, toe hy hoor hoe bespreek hulle die kasteel daar op
die berg. Die landheer het glo gevlug vir sy lewe en al sy skatte net daar
gelos. Waarom, het hy by homself gewonder, het niemand dit dan nog ooit gaan
haal nie? Hy kon iets hoor van ‘n vloek wat op die plek rus, maar kon nie
langer daar rondstaan om af te luister nie. Wel, hy gaan nie hierdie kans laat
verbyglip nie, kom wat wil!
In die maanlig sien hy die kasteel. Dit lyk sowaar vir hom of
dit hom nader wink. Lèon, jy moenie nou staan en gek raak nie, maan hy homself
terwyl hy by die boom voor die een deur se takke probeer verby skuur. Hy
verwens homself dat hy so lomp is, want nou het sy hemp sowaar aan een van die
takke gehaak en hy sukkel om los te kom.
“Kom nou, moenie so verwilderd wees nie,” hoor hy van iewers af.
Hy skrik hom morsdood, want hy weet wat met diewe gebeur. Net verlede week het
hy gesien hoe daardie skelm Antoine se kop gerol het onder die valbyl. Wie op
aarde het hom gevolg? Waar is die vrou dat hy haar nie kan sien nie? As dit net
nie so donker was nie!
Hoe meer hy sukkel, hoe meer sit hy vas in die takke. Moedeloos
gaan hy sit om ‘n bietjie te rus. Die sweet tap hom nou af – meer van vrees as
van iets anders.
“Soja, noudat jy rustig is, kan jy na my luister,” sê dieselfde
vrouestem wat hy vroeër gehoor het. Nee, dit kan nie wees nie! Hy skud sy kop
driftig, want hy sweer hy is besig om gek te raak. Geen boom kan praat nie! Dit
kan net eenvoudig nie waar wees nie.
“Kyk na my,” kom die opdrag. Hy kyk stip na die boom. By hierdie
tyd is hy byna teen die boomstam en hy sukkel om regtig iets te kan sien. En
toe sien hy dit! Hier, vlak voor sy oë, sien hy die gesig van ‘n vrou. ‘n
Boomvrou? Hy skud weer sy kop. As hy net kan wakker word! Maar dan besef hy dat
hy mos wakker is en dat dit glad nie ‘n droom is nie.
“Jy moet my asseblief help. Toe my pa hier weg is, wou ek nie
saam met hom gaan nie. Ek was te lief vir hierdie lieflike ou kasteel. Hy was
so woedend dat hy ‘n vloek oor my uitgespreek het. Ek sal eers vry kom van
hierdie boombestaan wanneer ek opregte liefde vind. Asseblief, sien jy kans om
my te help?”
“Hoe op aarde kan ek lief word vir ‘n boom?” Hy spreek dit nie
uit nie, maar haar wese en sensitiewe hart tel dit op. Sy begin weemoedig huil.
Opeens sien hy dat daar die mooiste pers vruggies aan haar takke
hang. Hy pluk daarvan en proe daaraan. Dit het ‘n vreemde smaak, maar hy is so
honger dat hy handevol daarvan eet. Sy praat nie meer nie. Haar takke het nou
ontspan en hy besef dat hy nou vry is om te gaan.
Sy sê niks toe hy opstaan en loop nie. Hy het nou ook nie eens
meer lus om te gaan soek na die sogenaamde skat nie. Hy besluit om liewer terug
te gaan huis toe, want as sy ma moet weet hy is nog nie tuis nie is die duiwel
vierkantig los oor hom.
Die hele dag kan hy aan niks anders as die boom by die kasteel
dink nie. Hy voel so verward, want wie op aarde dink nou die hele dag aan ‘n
boom? Hy begin nou twyfel daaraan of hy regtig daar was. Was dit nie maar net
‘n simpel droom nie?
Toe sy ma gaan slaap die aand, sluip hy by die huis uit. Hy moet
seker maak of dit regtig waar is. ‘n Boom wat kan praat? ‘n Boom wat hom nie
wou laat gaan nie? Gekkigheid!
Hy sluip saggies nader, maar nie sag genoeg nie. “So, jy het
sowaar weer gekom. Ek het gewonder of jy sal kom. Kom, kom sit hier by my. Ek
was die hele dag so alleen en het jou gemis.”
Hy gaan sit op ‘n klip naby die boom. In die helder maanskyn kan
hy haar nou mooi sien. Hy wonder of sy honger en dors word. Hy wonder of hy mal
is. Hy voel lus om teen haar stam te gaan sit, maar bedink homself. Ingedagte
begin hy weer van die vruggies eet.
Hulle praat nie. Dit voel so half vir hom asof hulle kan gesels
sonder woorde. As sy maats darem moet weet dat hy vanaand by ‘n boom kom kuier
het! Hy onthou van die skat in die kasteel en besluit dat hy dit moet gaan
soek. Is daar regtig goud in hierdie kasteel?
Hy staan op om in te gaan, maar sonder ‘n woord keer Boom hom.
Hy vra nie vir haar waarom hy nie mag ingaan nie. Hy weet in sy hart dat sy hom
op ‘n manier probeer beskerm teen iets of iemand.
Hy gaan dus maar net weer sit – hierdie keer styf teenaan haar
stam. Hulle twee kuier so sonder woorde tot die oggend begin breek en hy moet
huis toe gaan. “Ek kom vanaand weer vir jou kuier, Boom.”
Nou wonder hy nie meer nie, hy weet hy het sy verstand verloor.
Wie op aarde kuier by ‘n boom? Wie het al ooit so half verlief gevoel op ‘n
boom? Hy kan dit amper nie eens aan homself erken nie, maar hy dink hy is
verlief of Boom.
Die dae wat volg werk hy doelbewus baie laat in die kroeg. Hy
probeer verhoed dat hy ‘n gek maak van homself. Maar teen die sesde dag voel
dit vir hom dat hy net eenvoudig van daardie klein vruggies van die boom moet
eet as hy aan die lewe wil bly.
Die son is nog nie onder daardie aand nie, toe hy weer ‘n keer
vir sy ma lieg. Hy oortuig haar dat hy iemand moet gaan sien oor ‘n moontlike
permanente werk. Die werk by die kroeg betaal nie veel nie, dus is sy ma maar
te bly dat hy na ander moontlikhede soek.
Toe hy nader kom, klop sy hart in sy keel. Hy is so bly dat hy
vir Boom gaan sien dat hy sommer die laaste paar treë hardloop. Hy weet dat sy
ook so oor hom voel, hy weet!
Maar? Wat nou? Waar is Boom? Daar waar sy gestaan het, is nou
niks. Hy kyk verslae rond. Die voordeur is oop en daar straal lig van binne af
na buite. Hy koes agter ‘n ander boom en sit en bekyk die storie. Moet hy maar
vir sy ma vra om hom dokter toe vat? Sowaar, nou weet hy dat hy stapelgek is.
Hoe kan hy lief wees vir ‘n boom wat nie eens bestaan nie?
Skielik hoor hy die geliefde stem hier naby hom in die donker.
“Ek het vir jou gewag. Kom asseblief in, Lèon.”
Voor hom staan die heel mooiste meisie wat hy in sy lewe nog
ooit gesien het. Hy volg haar na binne, maar is die hele tyd bewus daarvan dat
sy lewe dalk in gevaar is. Waar kom sy so skielik vandaan? Is sy die rede
waarom niemand nog ooit na die skat kom soek het nie?
In die weelderige voorportaal draai sy na hom toe. “My naam is
Florence. Ek is baie bly dat ons twee uiteindelik kan ontmoet in beter
omstandighede. Sy verwarde brein wil vir hom sê dat dit dan net soos Boom
klink, maar hy spreek dit liewer nie uit nie.
“Lèon, jy is nie gek nie. Ek is Boom. Die oomblik toe jy besef
het dat jy verlief is op my, is die vloek gebreek. Jy kan nou maar ontspan, jy
is veilig, my lief.”
Sy stap in die kring van sy arms in en agter haar sien hy die
glimmende lig van stapels goud...!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking