Vrydag 17 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE: EK IS DOM ...

 

So ‘n week of twee was dit weer dáárdie tyd van die jaar: Rapporte kom van die skool af huis toe ...

My seun stuur sy dogtertjie se rapport vir Ouma en dit is te mooi om te sien hoe sy deur die jaar gegroei en verbeter het. Ouma is opreg trots op die kleine kind!

Toe badtyd kom, is my gedagtes oral behalwe by rapporte, glo vir my. Ek meen te sê, ek is oud genoeg om nooit weer ‘n rapport te kry nie en my kinders ook. So, waarom sou ek my verknies oor so ‘n bose ding soos ‘n rapport?

Maar helaas, met die salige waters so rondom my, wil my kop nie vanaand maak soos ‘n hom wil laat maak nie. Hy wil al weer skuins neuk rapporte se kant toe ... en toe los ek hom maar dat hy gaan waar hy wil gaan.

Jy sien, Martha Maria was nooit die skerpste potlood in die pakkie nie en géén onderwyser het ooit die kans verby laat gaan om my nie daaraan te herinner nie. En hoor vir my, ek lieg nie nou vir jou nie.

My ma het ons rapporte getrou gebêre en aan die einde van elke liewe kwartaal, skryf elke liewe onderwyser dieselfde ding: Martha doen goed, maar sy kan baie beter doen.

So, daar het jy dit nou: Martha het haar lewe lank lyf weggesteek ... of het sy?

Dit was in die jare toe die IK-toetse die begin en die einde van alles was. Elkeen wat in daardie jare in die skool was, het geweet dat jou hele menswees gemeet is aan die uitslae van hierdie toetse. Is daar ‘n klomp vrae waarvan jy die antwoorde nie weet nie, gaan al die onderwysers glo jy is dom.

Ek het op Mieliestronk.com gaan kyk wat presies die intelligensie-kwosiënt nou rêrig is. Hier is hulle antwoord daarop:

IK of Intelligensie-kwosiënt is ’n syfer wat die verhouding uitdruk tussen ’n persoon se verstandelike vermoëns en dié van die normale, gemiddelde persoon. Dit word deur middel van toetse met ’n reeks vrae vasgestel. Die eerste toetse is in 1905 deur Binet en Simon ontwerp, en die doel was om kinders te identifiseer wat spesiale onderwys sou kon nodig hê weens hul lae intelligensie.

Al die jare loop ek gebuk onder die las wat op my gelê is: Martha is dom! Vreemd dat ek nooit besef het dat hulle my eintlik beskuldig dat ek lui is nie, ha?

Mettertyd het ek egter die insig ontwikkel om te weet dat dit nie regtig waar is nie. Ek weet dat ek weet dat ek weet dat ek altyd my bes gedoen het. Die feit dat ek elke keer met die rapport langs Pa moes staan en verduidelik waarom ek nie my beste gee nie, het ek al min of meer verwerk en vergeet – Pa het nie geweet nie, daarom het hy nie deel daaraan gehad nie.

Dan lees jy die volgende stelling deur wie weet wat raak en dit slaan jou teen die voorkop: Almal was verkeerd! Almal wat hulle vingers na jou toe gewys het, kan maar los, want hulle was te dom om self te weet.

 “Everybody is a genius. But if you judge a fish by its ability to climb a tree, it will live its whole life believing that it is stupid.”

Nou wonder jy seker waarom ek die tyd gemaak het om hierdie seer storie vir jou te vertel?

Ek vertel dit vir jou sodat jy daardie las van jou skouers af kan gooi soos ek dit gedoen het. Gooi hom af en leef jou lewe in vrede.

Nie goed genoeg nie? Nie mooi genoeg nie? Nie slim genoeg nie? Nie maer genoeg nie? Nie ... nie ... nie ... nie! NIE!!!!!

Hei, my maat! Wie het die standaarde bepaal waarvolgens jy jouself meet? Jy? Jou ma? Jou juffrou? Jou man?

Ek vra maar net.

Maandag 13 Desember 2021

OU AAND SE DINKGINGE: EK WIL(!) ONTHOU


Gisteraand was weer een van dáárdie aande – so saam met die terug sak in die saligheid, stroom die gedagtes soos ... soos wat? Nie die wilde perde nie, ook nie soos stormwaters nie ... rustige ... salige ... warm om die hart gedagtes.

Ek lees anderdag iets raak. Die persoon skryf hy wil tog nie hierdie tyd van die jaar dink en onthou nie. Jy sien, die sentiment en die hartseer en alles van die verlede is net te veel vir een persoon om te dra.

Ha-a! Nie ek nie. Ek WIL onthou! Ek WIL daar gaan loop waar die spore al half toegewaai het. Ek WIL die mooi en die lekker SAAM met die seer en die sleg onthou. Ja, ek wil!

Ek hoor jou mor: Ag nee wat, Martha! Vir wat wil jy by die seer en die sleg loop skuur? Dis dinge wat ‘n mens wil vergeet en wat jou tog in elk geval nie goed doen wanneer jy vir gedagtetjie uit die boks uit haal en afstof en oopmaak en bekyk en bedink nie.

Ek is mos maar ‘n anderster siel, jong! My kop werk op vreemde maniere en vreemde laat my op vreemde tye so geborge en tevrede voel. 

Maar terug na daardie dinkdinge wat so kom nesmaak het ...

Die ou wat nie wil dink nie ...!

 Kersfees op die familieplaas. Ses volwasse kinders van die Oupa en Ouma, met hulle gades en kinders. Weet jy hoe klink so ‘n huis met soveel mense op een slag? Weet jy hoe kan dit raas? Weet jy hoe kan dit eet?

Vir ons as kinders was dit die lekkerste lekker wat jy kan beleef. Die ooms speel saam met ons blik aspaai, die tannies kook kos en die Oupa en Ouma sit salig en slaan alles gade. Na al die opwinding van die, soos ons dit geken het, Oukersaand, het ‘Ou Vader’ doer uit die veld uit gekom met die groot, koperklok en sy flitsie. Dan storm ons sitkamer toe en sing kersliedjies en wag vir die ou gryse om sy opwagting te maak. 

Die samesyn. Die liefde. Die ‘behoort’ tussen jou eie mense. Die wete dat hierdie lekkerte nooit, ooit sal ophou nie. Wat meer kan ‘n kind vra?

En tog het die lekkerte mettertyd opgehou. Die oues is dood. Die kinders is groot. Hulle kinders is ook al groot en van hierdie kinders en hulle kinders is ook al dood. Hartseer, ja. Maar onthou, wil ek onthou! Ek wil daardie warm liefde van my eie mense onthou en koester en bewaar in my hart.

Ons Koppie en oom Peter wat Ein treuer Husar sing as Nanna die klavier speel. Ouma wat in haar gasvryheid vir ‘n Duitse besoeker probeer verduidelik watter deel van die pastei die lekkerste is: “Skep hier waar dit so braun iess.” Magata en Josef wat altyd vir Kersvader verduidelik het watter soet kindertjies hulle deur die jaar was. Lida en Koeks en Adri wat Ouma se kosbare roklap stukkend sny om vir hulle bikini’s te maak. Ons kleintjies wat Ouma se sitkamermeubels spring dat hoor en sien vergaan. Vanaand se gaan slaap in die krismisbed saam met die niggies met jou geskenkies styf teen jou hart. Oupa wat laat namiddag langs die koeler roep dat ons moet kom waatlemoen en turksvye eet.

Ek kan aan- en aan- en aanhou tot in lengte van dae. Jy sien, ek WIL onthou en ek WIL dit beleef ... saam met die einas wat intussen gekom het.

Dinsdag 07 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE - ONS JAAG BIDUUR TOE!

 

Om saam met my pa op die plaas te ry, was ‘n belewenis. Onthou nou net, ‘plaas’ beteken binne-in die Namib met sy mooi, rooi duine.

Geen duin, geen opdraand of afdraand was vir Pa te veel nie. Ek moet byvoeg dat as ‘n mens daardie paadjies wat jy (die meeste van hulle) self uitgery het en pad gemaak het, dan sal dit seker nie ‘n probleem wees nie, sal dit? Pa het hulle gery met die selfversekering wat dit ‘n meester van alle paaie betaam. Dit  het soms vir my gevoel of hy nooit gerem of stadiger gery het nie – met die spoed wat hy wegtrek, jaag hy voort tot waar ookal en weer terug.

‘n Dag wat ek nooit, ooit sal vergeet nie, was die dag wat ons op pad was na ‘n ander plaas toe waar die dag biduur gehou sou word. Maar kyk, daardie dag was ons so ‘n effentjies laat en moes ou Adderjan so ‘n klein bietjie ekstra natgooi.

Die paadjie is klipperig en vol slote, maar ons storm voort. Hy swaai en swenk ... om die klippe ... oor die klippe ... deur die rivierlopie ...oor die bulte en deur die laagtes. Soms is die bosse gevaarlik na aan die pad en moet hy mooi mik om nie sy kar te krap nie.

Ma was nie daardie dag in ‘n baie goeie bui nie. Wat gepla het, maak seker nou ook nie meer saak nie.

Sy sit voor langs Pa – stokstyf en gespanne met die onderlip vasgebyt. Ek het haar dopgehou en het geweet dit gaan een of ander tyd te veel raak vir haar.

Opeens bars die bom: “Moenie so jaag nie!”

Hy vra doodluiters, sonder om stadiger te ry, natuurlik: “Nou hoeveel jaag ek?”

Hy het baie goed geweet dat sy nie daar waar sy sit die spoedmeter kon sien nie! Daarom dat hy so ‘n vermakerige vraag kon vra.

Al wat Ma kon sien, was die aantal revolusies van die motor en sonder huiwering antwoord sy: “Twee duisend!”

“Ek het so gedink, ja,” antwoord Pa doodluiters.

Saterdag 04 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE - DIE DAG VAN DIE SONDE

 

Ek wonder darem wat het van Meneer H en die tannie geword? Sou hulle dalk nog lewe? Hy was darem regtig baie goed vir my, dink ek met ‘n sug toe ek terug lê in die salige waters.

En toe tref die dag met die sonde my mos!

As jy weet wie Suster Theresa, Mark Condor en Ruiter in Swart is, weet ek hoe oud jy is. As dit nie ‘n klokkie by jou lui nie, moenie te veel daaroor wroeg nie, hoor. Dit maak nie so baie saak nie.

In elk geval, dit was in die jare voor TV, selfone, rekenaars en alles wat die lewe beter en vinniger en makliker maak. Ons het buite gespeel, heeldag fiets gery, skelm in die bure se dam gaan swem ... en baie gelees! Hoe anders kry jy die tyd om? Jy lees alles wat jy jou oë op kan sit.

Op ‘n dag kom een van die koshuismaatjies van die huis af ná die uitnaweek. O, wat ‘n wonderlike, heerlike gebeurtenis was dit nie. Sy haal hierdie boekie met groot fanfare uit haar koffer uit en wys dit vir haar beste maatjie. Ons ander staan op ‘n afstand en begeer om ook te kan sien ... ook die boekie in ons hande te kan hou ... ook net een woordjie daarin te kan lees.

Dit was die begin van die era van die fotoverhaal boekies.

Nou moet ek net eers vir jou vertel van hierdie boekies. Om een of ander rede het die meeste van ons begeer om dit te lees, maar sou dit nooit ruiterlik erken nie. Want, jy sien, hierdie boekies was so half as ‘’n sonde’ gesien. Moenie vir my vra waarom nie, want ek sal jou nie kan antwoord nie. Ek weet net dat ek so nooit as te nimmer vir my ma of pa sou vra om vir my so ‘n boekie te koop nie! Dit was in die selfde kategorie gesien as om te swem op Sondag of jou hare te was op Sondag – jy doen dit eenvoudig net nie!

Mettertyd het hierdie sonde-boekies meer en meer geword in die koshuis, maar die geleentheid om een van hulle te kon lees, was baie, baie min. Tot op ‘n dag ...!

Daardie jare was dit glad nie snaaks dat twee standerds in een klas is nie. Ek was in standerd 3 en ons was saam met standerd 4 in die klas. As Meneer met standerd 4 besig is, moet ons ons werk doen en omgekeerd.

Op ‘n goeie dag kry ons weer werk om te doen terwyl Meneer met die standerd 4 klas besig is. En wat gebeur? Die kind wat langs my sit, het wonderbaarlik so ‘n sonde-boekie in haar tas en is so wragtag bereid om dit vir my te leen.

Ek vergeet van die wêreld rondom my. Ek sit vir sonde op my skoot en begin lees. So, so, so vreeslik mooi is hierdie Mark Condor en nog mooier is die meisie in sy lewe. Ek vergeet van alles rondom my. Ek vergeet om asem te haal. Ek vergeet om te luister wanneer Meneer weer met ons groep praat. Ek vergeet van die hele mensdom rondom my.

En toe tref die ellende my!

“Martha!”

Meneer staan langs my bank met sy hand uitgestrek na my om sonde vir hom te gee.

My hele wêreld gaan staan. My ore slaan toe. My hart hou op met klop. My lewe het nie meer sin nie. Want sien, nou sal ek nooit, ooit die einde van hierdie storie kan lees nie.

Meneer praat nie. Hy vat die boekie in die een hand en wys vir my ek moet opstaan. Presies daar waar ek so pas gesit het, sit hy sy een voet op die stoel. Hy tel my oor daardie been van hom en gee my drie ordentlike houe op my sondige ‘behind’. Hy tel my weer af van sy been af, draai om en loop na sy tafel toe.

En ek? Ek kan sowaar nie onthou hoe ek weer op my plek gaan sit het en wat die res van die klas se reaksie was nie. My enigste wete was dat ek nou vir altyd en ewig sou moes wonder of Mark Condor toe die slegte ou uit die weg geruim het of nie.

Vrydag 03 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE

 


Jy kan met my saam praat oor daardie laatnag ure wat die gedagtes jou pak en net nie wil laat los nie. Wat jy ook al doen of nie doen nie, jou kop het sy eie pad wat hy wil loop en jy kan net sowel maar saam loop ...

Ek hou daarvan om te gaan bad net voordat ek bed toe gaan. Is dit twaalfuur of eenuur in die nag, dit maak nie saak nie. Ek kry net eenvoudig nie my lê in die kooi as ek nie eers deur die waters is nie.

Ek sien jy skud jou kop – jy bad in die oggend en voel vars en fris vir die dag. Maar ja, dit maak nie baie saak hoe ons dit doen nie, skoon kom ons mos darem skoon.

Dis nou as ek so terug gaan lê in die salige waters, dat die gedagtes mos soos wille perde op my af storm. Soms is dit mooi wille perde, ander kere is dit wille perde wat moeilikheid en trane soek.

Jy ken hom mos ook, man. Dis nou daai ding van die onthou van hoe jy jou kind amper verongeluk het omdat hy nie ore het nie. Neuk hom dat hy ore kry! het jy daai tyd geglo. Vandag glo ek so ‘n bietjie anders, maar helaas! Dit is nou te laat om te probeer verander daaraan.

Die bad en die salige waters en die lampie met die lavender kersie op die rand van die bad – niks help om die wille, moeilike onthou-perde weg te gejaag te kry nie. Jy lê stokstyf in daai waters en beleef en herleef en wat alles elke oomblik van daardie drag slae wat die kind (so dink jy nou!) nooit moes gekry het nie.

Klim jy more-aand in die waters, is dit perde van ‘n ander kleur. Jy onthou die mooi en die goed en die lekker en die waters raak sag om jou. Jy sweef in jou onthou-wêreld en lag later kliphard vir die lekkerte van die onthou.

Sulke tye wens ek dat daar nog ‘n siel saam met my wakker is sodat ek kan vra: Onthou jy dié en daai? Onthou jy hoe lekker dit was? Onthou jy die siel saligheid van daardie tyd?

Maar ja, naguile is alleen uile, my maat. Die onthou moet ek maar alleen onthou en (soms) alleen wroeg en (ander kere) alleen geniet.

Ek wil graag in die weke wat kom sommige van hierdie ounag se onthou met jou deel ... maar nét as jy belowe om dan jou ounag onthoue met ons ook te deel.

Laatnag groete

M

 

OU AAND SE DINKDINGE: EK IS DOM ...

  So ‘n week of twee was dit weer dáárdie tyd van die jaar: Rapporte kom van die skool af huis toe ... My seun stuur sy dogtertjie se rappor...