Sondag 15 Januarie 2023

Ons groot 'n groot gees.

 Ons vriendskap kom ‘n hele paar jaar terug. Dis so ‘n lekker storie dat ek dit sowaar nie sommer net onder die mat kan vee nie.

My oudste wil trou. Sy woon in anderland en Ma kry die order: “Ma, ons wil onder ‘n boom trou. Ma moet asseblief vir ons daardie boom kry. En dit moet asseblief nie in die dorp tussen ander geboue wees nie.”

Goeie, aller aarde! ‘n Boom? In Keetmanshoop se vlaktes? In my verbeelding sien ek daardie vaalgroen boom. Hy staan verstok en verlate tussen ‘n paar graspolle. Elke nou en dan warrel die wind ‘n papier teen hom vas – die enigste kleur wat die boom ooit in sy bestaan sal beleef. Ek sien hoe sit die gaste tussen die klippe en stof. O nee! Help my dat ek liewers iets anders as ‘n mooi boom in Keetmanshoop se velde moet soek.

Met genoeg dryfkrag (van die kind) en uithouvermoë (van ‘n ma wat weet hier is nie uitkomkans nie), kry ons toe die boom. En is dit ‘n mooie boom! Die enigste probleem is nou dat Boom ‘n hele paar kilometers uit die dorp uit is en “Ma moet sommer iemand kry om te cater ook, hoor.”

My enigste hoop en vertroue is dierbare Christie Dry. Op daardie stadium het ek haar regtig maar net van sien in die straat geken.

Ek bel haar en sy is dadelik vuur en vlam. Regtig? Om soveel kos met jou motor aan te ry? Om te sorg vir tafels en stoele en wat als en dis alles daar doer uit die dorp uit? Kan ‘n mens uitsien na so ‘n optog?

Ons ontmoet mekaar by die boom. Die baas van die plaas is nie daar nie, maar ons het toegang tot die kombuis en die allerlekkerste stoep.

Nou, om ‘n lang storie kort te maak – twee potte tee en baie gesels later het ons die hele ding beplan en kan ek daardie aand rustig slaap, want Chrisie is in beheer.

En vandag het onse Christie ons gelos ... Sy is vooruit na ‘n veel beter plek as wat ons hier het met baie mooi bome op die regte plekke en baie potte warm tee.

Ek weet dat daar vanaand bitter baie mense is wat presies soos ek voel: ‘n kosbare vriendin is weg ... ‘n staatmaker ... ‘n voorvatter ... ‘n mens met ‘n hart van goud ... ons is voorwaar vanaand ‘n bietjie armer.

Nou sit ek en bedink alles. Toe ek haar die laaste maal gesien het, was ek so haastig en kon ek nie sit vir ‘n koppie tee nie. En dit terwyl ons mekaar altyd belowe het ons sal weer ‘n alleenstoep kry en baie potte tee sit en drink en alle prate wat agterstallig is, inhaal. Maar ja, daardie dag het toe nooit gekom nie.

En daar gaan my kop! Wanneer laas het ek my buurman gesien? Want, jy sien, ons bou mos mure so hoog soos die berge rondom ons. Daardie groet oor die draad het verdwyn, en saam daarmee goeie buurmanskap.

Ek dink aan al my baie mooi vriendinne. Ek kan nie onthou wanneer laas ek vir elkeen ‘n woordjie geskryf het nie. In vergange jare was dit moeite om kontak te hou. Jy moes ‘n brief skryf en poskantoor toe loop om hom te gaan pos. Vandag vat dit ‘n minuut of twee van jou om daardie hartsvriendin te laat weet jy dink aan haar.

Skuldig! Ek is vir altyd skuldig wat dit betref. Want jy sien, ons lewe mos asof dit vir altyd en altyd gaan wees. Nóú is ek besig, maar dalk sal ek môre tyd hê of lus wees vir ‘n kort oproep of boodskap.

Tot ‘n dag soos vandag jou tref en jy besef ... ek wou nog so en ek wou nog sus. Maar helaas, nou sal ek dit nie meer kan doen nie, self al hét ek tyd of lus daarvoor.

Al wat ek nou kan sê, is Ek groet jou Christi Dry, dit was ‘n voorreg en seën om jou te kon ken.


Sondag 01 Januarie 2023

Die dag van die rooi beursie

 Vir jare praat ek en die man al daaroor: Die huis is te groot, ons het dit nie meer nodig nie. “Ja, dis so,” sal die ander dan beaam en die gesprek daar los. Want, jy sien, dis een ding om te weet jy het dit nie meer nodig nie, maar ‘n ander ding om tot aksie oor te gaan.

Julie 2022 is dit weer so: “Jy weet, ons het nie hierdie groot huis meer nodig nie. Ons sal ‘n plan moet maak,” kom dit ernstig van Pappabeer.

Mammabeer wag al lank vir hierdie gesprek! “Nou wat gaan ons daaraan doen, dink jy?”

En sowaar! “Ons verkoop en ons gaan bly in die woonstel in Walvisbaai.”

My maag trek onmiddellik op ‘n knop. Dis nie van vandag af wat ek wonder oor die dag wat ek jare der jare se opgaargoed sal moet opruim nie. Ek kan nie eens voorgee dat ek dit nie verwag het nie, want ‘n mens lewe mos saam met jou goed. Ek is baie bewus daarvan dat ek kompulsief goed opgaar en nooit, maar nóóit weer daarna kyk nie ... dit moet maar net daar wees!

Ons begin met die nodige papierwerk en ek skud my vere reg vir die groot opruim. Dit kan nie te moeilik wees nie, kan dit?

Ek gaan slaap die aand met die vaste voorneme om môre ten minste die linnekas leeg te maak.

Die oggend is ek slaggereed en dit pak uit, sorteer en maak hopies: weggooi, weggee, verkoop, vat saam (die kleinste hopie). Die spoed waarteen ek dit doen, maak dat ek nie regtig oor dingetjies kan dink nie. Hier en daar skree ‘n handdoek op my: “Jy het my by die en daai gekry, jy kan my nie weggee nie!” Dan druk ek hom ‘n oomblik teen my hart en sit hom op die verkoophopie. Sonder emosie, sonder nadenke, sonder simpatie moet hulle uit en weg!

Teen die middag is die vier kaste linne verminder tot een kas. Ek voel goed, man! Hoeveel maal in die verlede het ek gewonder oor wat sal gebeur as ek die pad moet vat en my kinders moet hier kom opruim. Sulke tyd het ek my kop geskud in skaamte en ‘n oomblik van stilte gehad in simpatie met my kinders.

Ek besef dit is lekker om op te ruim, uit te sorteer, weg te gooi, weg te gee, of dalk te verkoop. Dis ‘n gevoel van geweldige bevryding wat kom nesmaak in my hart. “Mooi so, Martha. Wel gedaan!” prewel ek elke aand vir myself.

‘n Koper daag op! Nou begin dinge spoed optel, hoor. Jy weet nou waarom jy besig is om weg te gooi, weg te gee, of soms te verkoop. Dit smaak soet op my tong!

Die huis wil my laat dink aan ‘n klein dogtertjie wat haar tande verloor het – oral waar meubels was, is gate en oral waar skottelgoed was, is gate.

Ek visualiseer gereeld oor die eerste oggend wat ek in daardie woonstel wakker word. Ek kan reeds die sug van genoegdoening smaak: “Uiteindelik is ons hier!”

En dan, op ‘n dag ...!

Hy kom by my met die Ouma se rooi beursie wat nog al die tyd veilig weggebêre was. ‘n Groot vraagteken op sy gesig toe hy dit voor my neersit.

En dis toe daar wat die werklikheid my tref: Ek is besig om álles wat tot nou toe vir my belangrik was, van ontslae te raak. Ouma se beursie, Oupa se blou koffiebekertjie, die suster se laaste tissue ... alles wat my nog aan die verlede herinner het. Alles!

Want sien, in die woonstel is daar nie plek vir gister nie!

Die trane stroom ongevraagd oor my wange. Die gedagtes (is dit verwyte?) dwarrel deur my kop. Wat is ek besig om te doen? Ek is mos wragtag besig om my hele verlede uit te wis! Hoe durf ek? Hoe durf ek jare en jare se harde werk net so op die ashoop gooi? Hoe durf ek elke kosbare herinnering aan my ouers en ander sommer net so weggooi?

My kop maak my mal en die trane hou nie op met loop nie. Die gedagtes (nogal direk uit die Bybel uit!) voel soos sekelhoue op my seer hart.

Alles kom tot niks, sê die Prediker. Alles kom tot niks!

Tevergeefs dat jy vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan daarmee te maak ...

Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!

Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie.

Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?

Sjoe! hoor ek jou sê.

Maar ja, die genade is dat ‘n mens kan praat oor die dinge wat jou pla. Soms sien jy later self dat jy op ‘n dwaalspoor is, of soms help iemand anders jou daarmee.

Ek kry ‘n video van ‘n goeie maat van my. Ék wat nie sommer goed oopmaak wat ‘geforward’ is nie, maak dit oop en lees elke woord met aandag.

Dis Nuwejaar en die Oujaar is iets van die verlede. Gaan jy met die ou dinge voort, of begin jy nuut? Jy moet vandag nog daardie besluit neem! Jy is nooit te oud om nuut te begin of nuwe drome te hê nie. Voor jou lê ‘n boek met 365 skoon blaaie – wat gaan jy daarop skryf? Dis nooit te laat om oor te begin en gelukkig te wees nie.

En nou? Wat van die rooi beursie? Wat van al die onthou? Is alles nou sommer net weg?

My hart sing, want ek besef niemand kan ooit my onthou van my af wegvat nie. Niemand kan dit koop nie. Ek kan dit vir niemand weggee nie. Ek kan dit ook nie weggooi nie.

Want sien: Ek is wie ek is as gevolg van al die mooi en lekker en kosbaar in my lewe.

Nou kan ek met vrede in my hart vra: Wie wil die rooi beursie hê?


Ons groot 'n groot gees.

  Ons vriendskap kom ‘n hele paar jaar terug. Dis so ‘n lekker storie dat ek dit sowaar nie sommer net onder die mat kan vee nie. My oudst...