Sy bel my een aand baie laat. Sy vra verskoning daarvoor en val sommer met die deur in die huis.
Ek antwoord half onseker: "Goed. Mag
ek sê wie jy is?"
·
Nee
"Mag ek sê waar jy bly?"
·
Nee
"Mag ek iets oor jou gesin sê?"
·
Nee
Goed, ek sal dit dan nie doen nie. Dit is
jou keuse hoe jy dit wil gedoen hê. Dankie dat jy my met jou storie wil
vertrou. Ek hoop regtig ek doen nie afbreek daaraan nie.
Op daardie stadium het ek natuurlik geen
idee gehad waaroor die alles gaan nie. Ek het gespanne sit en wag.
Een laaste ding, voeg sy by: Moet my asseblief nie onderbreek nie en moenie
agterna vrae vra nie. Ek wil dit een maal vertel en dan nooit weer daaroor
praat nie. Reg?
"Reg met my."
Ek
weet jy is ook met fibromialgie diagnoseer. Dit is wat my laat besluit het om
my storie vir jou te vertel. Jy moet ernstig dink daaroor, want die genesing
hiervan lê by jouself.
Ek snak hoorbaar na my asem. Regtig? En geen dokter
het dit nog ooit vir my gesê nie? Ek dink so by myself dat hierdie vrou nou ‘n
vet kans vat, maar ek het belowe om nie in te meng nie. Ek byt dus net my lip
vas en gordel vas om die groot hoor te hoor vanaand.
Wat hier volg is dus haar storie soos wat ek dit
agterna kon onthou. Sy het lank en baie gepraat maar onthou, ek het belowe...!
Ek het
susters en broers gehad. Ek was die tweede oudste van die spulletjie. Iewers,
toe ek nog baie klein was, het dinge in die huis ‘n bietjie skeef geloop. Dit was
so erg dat my ma so half vergeet het van my bestaan. Dis nie dat sy my wou
vergeet het nie, verstaan my mooi. Sy was ‘n baie goeie vrou vir my pa en ‘n
baie goeie ma vir ons kinders. Dis net...glo my maar dat sy dit nie kon help
dat sy van my vergeet het nie.
Nou ken
jy mos kinders. Jyself het mos ook drie kinders. Hulle voel baie gou afgeskeep
en/of verwerp as jy net ‘n bietjie meer aandag aan die een gee as aan die
ander. Nou hoe dink jy het hierdie ding in my kleinkindjiekop gevoel? Natuurlik
het ek, sonder dat ek mos daaroor gedink het, gevoel dat ek nie eintlik plek in
die huis het nie.
Ons was
‘n baie groot familie met baie neefs en niggies. Een keer het my nefie en sy pa
by ons op die plaas gekom. My nefie het my eenkant toe gevat omdat hy wou ‘sien’.
Jy verstaan mos wat hy wou sien? Ek was skaam, maar hy het ‘n gladde bek gehad
en ek het hom gewys. Dit is toe juis die tyd van die kombuisvrou buite toe kom
om iets te kom doen en sy sien dat ons vir mekaar wys. Die volgende wat ek sien
is my ma wat om die hoek kom. My boude het daardie dag gebrand soos nooit voor
dit en ook nooit daarna nie. Wat het daardie pak slae my geleer? ‘n Mens doen
nooit, ooit sulke dinge nie. Dis mos reg dat ek dit geleer het, nê?
Maar! Daar
was ‘n man in die familie wat ook gehou het daarvan dat al ons niggietjies vir
hom moet wys en dan wou hy mos voel ook. Nou sit jy twee en twee bymekaar: Jy
mag dit nooit doen nie, want jou boude brand vir dae daaroor. Sou jy dit dan
vir jou ma vertel het? Ek glo wraggies nie so nie, hoor.
Ek gaan
skool toe onder die druk van verwerping en seksuele misbruik. Nee, ek het nie
daardie woorde geken nie en ek het self ook nie besef dat ek ‘n helse probleem
het nie. Hoe sou ek dit weet? Maar! Ek slaap snags nooit nie – die nagmerries
sorg daarvoor. Nag na nag na nag na nag! Dieselfde droom oor en oor en oor. Die
vrees waarmee ek gaan slaap het elke aand is onbeskryflik, want ek het geweet
die droom wag vir my sodra ek aan die slaap raak. Ek besef vandag eers waarom
ek nooit op skool presteer het soos my broers en my susters nie. Ek was
eenvoudig te moeg om behoorlik te konsentreer in die klas.
Ek gaan
deur al die standerds met hierdie aaklige, aaklige gevoel van ‘ek pas nie in
nie’ en ‘ek is nie so goed soos hulle nie’. Ek voel ontuis tussen my maats. Ek voel
ontuis in my ouerhuis. Ek voel ontuis in my eie vel. Ek haat my eie bestaan.
Na skool
gaan dit so effens beter, maar toe was daar weer ander probleme wat nie nou ter
sake is nie. Die feit van die saak is dat ek my skooljare wou toemessel en
nooit, ooit weer iets daarmee te doen wou hê nie. Ek het geen kontak gehou met
enige van my skoolmaats nie. Waarom sou ek dit nou wou doen? Hulle het nie
getraak met my nie (dit is wat ek vas geglo het) en ek wou dit net uit my
verstand uit brand met iets soos seepsoda of wat ookal. Vir altyd en altyd wou
ek dit vergeet.
Mettertyd
het ek met walging begin dink aan my skooljare. Was dit werklik so sleg? Ek weet
nie meer nie. Al wat ek weet is dat dit die tyd was wat ek nie weer wou beleef
nie – nooit ooit nie.
En toe
gaan hou ons mos reünie. Ek het besef dat ek sou moes gaan sodat ek hierdie
laaste hekkie (soos wat ek dit gesien het) moes oor. Ek moes met julle vrede
gaan maak. Nee, ek moes met myself gaan vrede maak daar. Op die ou einde was
ons ‘n hele paar wat erken het dat ons bitter onseker van onsself was, dat ons
nie baie goeie herinneringe van ons skooljare het nie. Martha, jy het dit ook gesê
daardie Sondagoggend, onthou jy?
Dit is
waar ek jou weer na al die jare gesien het. Jy het vir my vertel van fibromialgie
en ek het vir jou gesê ek het dit ook. Onthou jy? Ek het vir jou vertel hoe ek
pyn wanneer ek spanning het en jy het dit beaam.
Wat ek
jou nie vertel het aan die einde van die naweek nie, was dat ek toe reeds besef
het dat my pyn die helfte minder was. Ek het die Saterdag of Sondag besef dat
ek nie pyn het nie. Ongelooflik, ha?
Nou
hoekom dan so? Weet jy, ek wou julle nie ‘face’ nie. Ek wou nie een van julle
ooit weer sien nie. Ek was mos nie goed genoeg en slim genoeg en mooi genoeg en
wat alles genoeg nie. En ek kom daar tussen julle almal en almal is so bly om
my te sien. Wat ‘n antiklimaks. Ek kon my eie oë en ore nie glo toe ek almal
groet en ek besef maar ek ‘is dan deel van almal’ nie. My kop het half gesukkel
om dit te verstaan, weet jy. Daardie Vrydagnag was die pyne so erg dat ek byna
nooit geslaap het nie. Ek staan die Saterdagoggend onder die stort en ek weet
nie hoe gaan ek deur hierdie dag kom nie...
Ek ry
Maandag huis toe en ek voel so goed oor myself. Ek glo nou het ek alles wat
agter my was, oorwin. Maar nee, daar was nog die ding met daardie man in die
familie. Ek gesels met iemand – ons noem haar sommer my ‘private shrink’. Sy begin
vrae vra. En sy druk haar duim bo-op die seerste plek in my hart. En sy
hou daardie duim daar. Sy wil hom nie oplig nie en sy wil hom nie wegvat nie.
Sy vra
vir my: “As jy kon, wat sou jy vandag vir daardie klein dogtertjie wat
gemolesteer is (dis nou ek daai!) sê? Ek is onmiddellik so kwaad dat ek hyg na
my asem. Ek antwoord haar dat ek niks, maar niks vir daardie kind te sê het
nie. Sy vra vir my hoekom ek so oor die kind voel en ek antwoord dat die kind
te simpel en te dom en te wat alles was om haar mond oop te maak en vir iemand
te vertel wat aan die gang is. En sy hou daardie duim daar, man. Dit pyn later
oral, maar sy hou nie op nie. Sy preek nie vir my nie, hoor. Sy vra vrae en ek
is kwaad vir die kind. Veel, veel later los sy my en ek gaan slaap.
Die wonderwerk
van dit alles is wat die volgende dag met my gebeur het. Ek het nou nie juis
die hele dag daaraan loop en dink nie, glad nie. Maar iewers deur die dag daal
die gedagte op my neer: Die kind het nie geweet nie! Die kind was regtig nie
skuldig aan daardie daad nie. Sy was onskuldig die hele tyd. En ek besef: Hoe
kan jy haar haat as sy nie van beter geweet het nie?
Ek is
nou moeg, maar ek moet my storie klaar vertel. Ek moet vir jou sê dat ek
sedertdien nog nooit weer die pyne van fibromialgie gehad het nie. Ja, die
ander probleme wat voorheen daar was, is almal nog daar, maar nie die erge
simptome van daardie groot monster nie.
Dit is
waarom ek dit vir jou wou vertel, Martha. Jy moet vir die wêreld vertel dat
daar genesing is vir fibromialgie. Jy moet my glo. Almal moet my glo. Wanneer jy
die woede en die haat van jou kinderjare afskud, is jy vry van pyn.
Glo jy
my? Groot asseblief, glo jy my?