Maandag 23 April 2018

EEN VAN MY KINDERS WOON IN DIE HEMEL

           Ek hoor anderdag iemand sê: Ek het drie kinders – een woon in Kaapstad, een woon in London en een woon in die hemel. En ek dink: Wow! Wat ‘n lieflike manier om na die dood te kyk. Hierdie vrou het baie duidelik deur die ellende van afskeid by die dood gewerk en het totale vrede dat haar kind net ‘om die draai’ woon.
            Ek dink by myself dat ek ook graag so wil voel, wil dink, wil reageer op hierdie groot seer wat een of ander tyd oor elkeen van ons se pad kom. Want dit is tog nou maar eenmaal die een ding in die lewe wat nie een van ons ooit sal kan vryspring nie. Die ding is net, ons almal het hierdie selfsugtige begeerte om asseblief tog maar eerste te kan gaan. Jy sien, op die manier spring ons die seer van die afskeid vry...of so dink ons almal. Hoe verkeerd is ons almal tog nie in hierdie opsig nie!
            Ek het eerstehandse ondervinding dat dit glad nie so maklik is as jy weet jy is die volgende een wat moet vertrek nie. Nee, nie omdat jy bang is vir die dood of omdat jy siek is en al daardie dinge nie, hoor. Ek praat van die feit dat die een wat op pad is, ook moet afskeid neem van almal  hier op aarde. Ja, die van ons wat agterbly, moet van een persoon afskeid neem, maar daardie een moet van ‘n hele skare mense afskeid neem. Ek onthou die groot hartseer wat my pappa ondervind het op ‘n stadium gedurende sy worstelstryd met kanker. Hy sou sommer opeens begin huil en die ou gesiggie met die sakdoek toegooi om sy smart te verberg vir ons. Ja, inderdaad is dit ‘n groot stap om van almal vir wie jy so lief is afskeid te moet neem en om dan alleen te moet vertrek.
            Toe ek die gedig ‘Death is nothing at all’ die eerste maal te lees gekry het, moes ek dit oor en oor lees sodat die woorde sin kan maak in my opstandige kop. Hoe durf hy dit stel asof dit so eenvoudig is? Hoe durf hy voorgee dat hy sommer net hier langsaan gaan wees? Besef hy nie hoe ontsettend dit is om ‘n dierbare te verloor nie? Dis so finaal. Vir altyd en altyd en altyd. Daar is geen omdraai nie – daardie persoon is weg vir ewig en altyd.
            En tog, mettertyd, het ek besef dat die digter so ontsettend reg is. Hy verwoord bloot die woorde van die moeder met die een kindjie wat in die hemel woon.
            Image result for death is nothing at all

Death Is Nothing At All

By: Henry Scott-Holland

Death is nothing at all.
It does not count.
I have only slipped away into the next room.
Nothing has happened.
Everything remains exactly as it was.
I am I, and you are you,
and the old life that we lived so fondly together is untouched, unchanged.
Whatever we were to each other, that we are still.
Call me by the old familiar name.
Speak of me in the easy way which you always used.
Put no difference into your tone.
Wear no forced air of solemnity or sorrow.
Laugh as we always laughed at the little jokes that we enjoyed together.
Play, smile, think of me, pray for me.
Let my name be ever the household word that it always was.
Let it be spoken without an effort, without the ghost of a shadow upon it.
Life means all that it ever meant.
It is the same as it ever was.
There is absolute and unbroken continuity.
What is this death but a negligible accident?
Why should I be out of mind because I am out of sight?
I am but waiting for you, for an interval,
somewhere very near,
just round the corner.
All is well.
Nothing is hurt; nothing is lost.
One brief moment and all will be as it was before.
How we shall laugh at the trouble of parting when we meet again!

Saterdag 21 April 2018

TERUGBLIK

Ek kry anderdag hierdie foto en ‘n vreemde hartseer oorval my. Ek sit en kyk na myself en ek kry die gevoel dat ek na ‘n ander mens kyk – ‘n jong meisie uit ‘n ander era, ‘n jong meisie wat so onskuldig en onvoorbereid die lewe sou aanpak...het ons dit nie maar almal gedoen nie?
Weet jy, en ek sit en kry haar so jammer vir dit wat alles op haar pad sou kom en waarvan sy glad nie geweet het nie. Sy het eintlik so min van die lewe verwag, maar eintlik so baie. In haar onskuld het sy geglo dat alle mense goed was en dat slegte goed net met slegte mense gebeur. Ja, ek sien jy skud jou kop in ongeloof. Dit is so, sy het redelik oningelig grootgeword en die lewe was ‘n helse skok vir haar.
Daar waar sy so laggend staan, het sy vir geen oomblik gedink dat sy daardie selfde aand nog redelik ernstig deur ‘n vriend ontnugter sou word nie. Wat is ‘n mooi woord, of dan ‘n ‘sagter’ woord in Afrikaans vir sexual abuse? Nee, ek vra maar net, hoor.
Minder as ‘n jaar later is sy in ‘n verhouding wat haar ouers en die skoolhoof en selfs die skoolsielkundige na hulle hare sou laat gryp. Vreemd dat nie een van hulle ooit probeer uitvind het presies waarom dit gebeur het nie. Ek dink, en ek sê dit met groot respek, dat die oumense ook maar redelik die lewe deurgegaan het soos volstruise – kop in die sand. Jy sien, het hulle gereken, hoe minder ons weet, hoe minder hoef ons oor te ‘worry’. Mmm, jaaaaa. Dit is een manier om die lewe te hanteer, is dit nie?
Sy maak, deur die genade (wat anders dan?) matriek en gaan verder studeer. In die eerste week is daar hierdie vreeslike vriendelike skepseltjie wat haar hele hart oorneem. Hy skop op en gaan werk in Windhoek, maar die liefde hou. Hy kom kuier elke vakansie op die plaas. Hy kom selfs in Bloemfontein kuier. Is dit nie edel nie? Natuurlik is sy so getrou aan hom, siestoggies! En hy? Hulle raak verloof en sal trou sodra sy klaar studeer het. En toe? Toe die tyd min begin raak, skryf hy daardie brief wat alles verander. Sy bel. ‘Was daar dan ‘n ander meisie?’ Hy antwoord eerlik: ‘Ja, daar was ander meisies.’ Dom kind, sou jy nou sê. Toemaar, dis presies wat ek ook dink – nou!
Sy gaan hou skool. Die lewe is ‘n lied! Die man is so sjarmant en oorweldigend romanties. Sy trou binne drie maande met hom...en kom agter die lewe is toe nie so ‘n lied soos wat sy gedink het dit is nie.
Om terug te kom na die foto toe. Ek kyk nog altyd na die dogtertjie op die foto en ek voel so innig jammer vir haar. Sy het tog nie gevra vir dit alles nie, het sy?

            Maar, weereens deur die genade van die Here, het sy nie gebly waar sy was nie. Die Here het voorsien in baie, baie meer as waarvoor sy gevra het. 

Woensdag 18 April 2018

DIE SKAPE KEN DIE SKAAPWAGTER SE STEM

             Image may contain: sky, mountain, outdoor and nature Ek en Pa ry veld toe. Dis baie, baie warm in die Namib. Ek dink nie daar was eens kraaie om te gaap nie, hoor. Niks beweeg of steek kop uit wanneer dit so warm is nie. Ons kom op ‘n duin en Pa hou so half afdraand stil. Hy beduie vir my na iets aan die oorkant.
            “Nee, man,” sê Pa, “die man loop te vinnig, die skape kry nie tyd om te wei nie.”
            Ek sit verstom. Voor die streep skape stap die skaapwagter. Nee, hy stap nie, ek kan van ver af sien dat hy loop en speel. Eers is dit ‘n wawiel, dan spring hy oor ‘n bossie, dan weer sommer twee wawiele...terwyl die skape hom volg.
            “Haai, Pa? Raak hulle nie weg as hy nie loop en omkyk en sorg dat hulle in ‘n trop bly nie?”
            Pa beduie net vir my om te kyk, dan sal ek glo. Hulle (dis nou die skape) is so rustig agter hom. By elke graspol stop dit eers en ‘n bekvol gras word afgevreet voordat dit verder gestap word. Ongelooflik! Ek verkyk my aan dit wat voor my oë gebeur.
            Later vertel Pa dat dit darem ook nie sommer vanself gebeur nie. Die skape moet die herder ken. Hulle moet sy stem ken en hoor as hy roep.
            En opeens maak Psalm 23 vir my ook sin. Ek moes dit self sien daar tussen die duine sodat ek dit kon verstaan.
            Die enigste verskil is natuurlik dat Dawid se skape in die berge gewei het. Dit was baie gevaarlik. Hoë rotse, diep skeure, afgronde...die pad waarlangs die herder hierdie skape moes laat wei het, was allermins ‘n maklike een. En tog, die skape was nooit bang nie, want hulle het rustig agter die skaapwagter aan geloop. Hulle het ook geweet dat hulle iewers langs die pad by die water sou uitkom. Daar kon hulle rus. Daar kon hulle hulle lekker vol suip en rustig wees.

O ja! Hulle moes eers water drink en rus, want die terugtog was nie ‘n grap nie. Af, af, af met die kranse en tussen die skeure deur moes hulle gaan om uiteindelik onder te kon kom. Hulle loop stadig, versigtig, van klip na klip. Soms kraak en breek die takke, die klippe rol los onder hulle en rol verder met die berg af. Dit is nie ‘n maklike tog nie, maar hulle voel sterk. Hulle voel veilig. Hulle hoor die Herder se stem...en volg Hom.
            Maar aan die voet van die berg was dit waar die moeilikheid was. In die laagtetjie tussen twee berge, daar waar die meeste bossies en plantegroei is, daar waar dit veronderstel is om makliker te wees vir die herder met sy skape, juis daar is die onheil. Jy sien, die jakkalse en slange en alles wat onheil belowe, skuil tussen daardie plantegroei. Dit is waar hulle die maklikste hulle prooi in die hande kan kry.

            Maar? Ons skapies is uitgerus. Hulle is verkwik daar hoog bo in die berg. Onthou jy? Die goeie Herder het gesorg dat hulle versterk is voordat hulle die pad ondertoe gevat het.
            Hulle weet, o ja, hulle weet, die Herder is nooit ver nie. Hulle hoor sy stem en hulle volg hom blindelings, selfs al sien hulle Hom nie so tussen die bosse deur nie. Soms is dinge donker, die son kom nie lekker deur die takke en blare nie, maar altyddeur luister hulle net na DIE STEM. Voordat hulle die getjank van ‘n jakkals hoor, is die Herder daar. Voordat die lammervanger ‘n lammertjie kan beetkry, is die Herder daar. Daar is niks te vrees nie, want hulle luister na die stem...
            En dan, wanneer die nag van vrees verby is, kom hulle skielik in die oopte van ‘n klein vallei. En voor hulle staan die Herder.
            Hy wag vir hulle. Hy het ‘n fees vir hulle berei en die jakkalse en die lammervangers en die uile en watter pes ookal in die nag wandel, sal net kan toekyk en nie kan deel in die fees van onse God nie.


Saterdag 14 April 2018

REPOS AILLEURS - DIE RUS IS ELDERS



Totius: Repos ailleurs (Die rus is elders)

In die eensame veld staan ’n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
’n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: "Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn."

Naas die eensame tent staan ’n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
"Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn".

            Ek wonder of dit net ek is? Of ken jy ook die gevoel van ‘As ek nou dáár of dáár kon wees... Of as ek nou dit of dat kon doen, sou ek ... Ek kan glad nie na ‘n vliegtuig in die lug kyk sonder om te wens dat ek daarin kan wees op pad waarheen ookal nie. Die heimwee spring sommer so op in my hart en ek verlang na mense en plekke wat ek glad nie ken nie. Man!
            Ken jy dit? Voel jy ook (soms) so?
            Of jy luister na ‘n liedjie en iewers slaan ‘n snaar ‘n emosie raak en daar gaat jy! Jy raak weg in die onthou en die ‘nou’ en die ‘hier’ is ver, ver weg. As iemand skielik met jou praat dan hoor jy nie, sien jy nie, weet jy nie. Jy gaan draai ver. Jy gaan draai daar waar daar niemand is vir wie jy kan sê ‘Onthou jy nog?’ nie. En jy beleef ‘n ver verlang wat die res van die dag in jou hart huiwer soos ‘n sagte donskombersie in die winter. Jy wil hom koester en vashou, want hy bring jou naby aan die dinge en die mense wat naaste aan jou hart is.
            So luister ek al vir twee weke elke nou en dan na Dana Winner se Lied van Hoop. Ek sê vir my liefie hierdie lied praat met my. Die lied wil iets vir my sê, maar ek hoor dit nie. Die hart luister, maar die kop wil nie hoor nie. En van Dana af gaan dit net aan en aan en aan en ek gaan draai by die songs van lank, lank gelede...elkeen met sy eie storie.
            Picking up Pebbles van Cornelia laat my pa onmiddellik teenoor my sit, ons elkeen met ‘n koppie koffie. Ek sien hoe knik-knik hy saam met die ritme van die liedjie en ek sien die blink in sy oë as hy na my kyk. Want, jy sien, dis net hy wat onthou het hoe mal ek oor die liedjie was toe ek nog klein was en so ampertjies nog op sy skoot kon pas.
            Ek luister na Ivan Rebroff se Wolgalied en ek is so bitter jammer dat ek nie my eie weergawe daarvan nog net een ou keertjie vir my ou Gesie-mammatjie gespeel het nie. Sy het so graag daarna geluister en aan die einde van elke keer het sy gesê: ‘Jy moet dit weer vir my speel, dit is vir my baie mooi.’
            En die gedagtes loop in vreemde draaie en met ver paaie. Dan dink ek weer aan die vliegtuig daar hoog bo en ek wonder – is hulle almal wat daar bo vlieg gelukkig? Is hulle tevrede dat hulle op pad is waarheen en daarheen? Of is daar dalk, net dalk, een wat nou af grond toe kyk en wens, Ag, as ek maar lekker daar onder kon wees en aangaan met die dinge van die dag.
            Dan kom die besef maar uiteindelik weer dat ons, nee ek, moet dankbaar wees vir dit wat ek nou en hier het. Die nou en die hier is wat tel, is dit nie? môre sal vir homself sorg, dit het ek mos al baie lank terug geleer.
            En ek sug... Dankie, Heer, vir die genade van hierdie dag. Amen. 

Dinsdag 10 April 2018

DIE EERSTE NAG TUIS


Ek en Denitia is hard aan die werk aan haar storie. Hier is nog 'n kykie in haar lewe as Parkinson's lyer.              
Daar ry hulle nou – my ouers en my kinders. Dit voel opeens vreemd stil rondom my. Die bank voel koestersag onder my. Wat ‘n dag! Dit is dalk goed dat die kinders nie nou hier is nie, ek moet net so ‘n bietjie rus. Ek weet dat ek netnou beter sal voel; ek moet net eers ‘n bietjie rus.
            “Waar kom jy nou vandaan?” Ek weet ek klink nie baie vriendelik nie, maar sowaar, ek voel ook nie baie vriendelik nie. Die hele middag lank soek al wat leef en beef na hom, maar hy is weg soos ‘n groot speld. Weg!
            “Ek het geslaap.”
Regtig? Terwyl ek deur die krisis van my lewe gaan, lê en slaap hy. Al die tyd dink ek hy is te besig met werk dat hy die foon kan antwoord, en nou moet ek sien Meneer het lê en slaap. Hy slaap terwyl my hele lewe inmekaar tuimel. Hy slaap terwyl ek veg vir oorlewing. Hy slaap terwyl ek in ‘n vreemde liggaam sit en wonder wat het van Denitia geword. Hy slaap! My dapper held het geslaap.
As hy net iets wil doen of sê, maar hy sit en staar my aan. Nou kyk tog maar, liewe Meneer selftevrede, kyk tot jy klaar gekyk het. Hy wonder seker nou of die aarde dan vergaan het terwyl hy geslaap het. Dit kan nogal snaaks wees, ha? Gaan slaap en my vrou makeer niks  nie, staan op en my vrou lyk soos...! Soos wat?
               “My vrou is stukkend, sy is ‘n koolkop.” Hy lyk nie eens skaam om dit te sê nie. Hy sê dit so half terloops, so asof hy oor die weer of oor vleispryse praat.
               Ek gee ‘n kekkellaggie. Hy lag. Ons sit en kyk vir mekaar en lag. Daar is niks anders om te doen as om te lag nie. Ek weet ek moet dalk iets sê om hom gerus te stel, maar ek is nie in staat om aan enigiets te dink nie. Hoe ironies is dit nie – ek sit in die grootste gemors, maar ek probeer om aan iets te dink om hom te troos. Wat ‘n gemors! Wat ‘n verskriklike, ellendige gemors! Gelukkig kan ek nog lag. Die Here is goed vir my. Ek kan nog lag.
            Ek is honger. Ek is, om die waarheid te sê, rasend honger. Ek moet iets eet, en gou ook. Aahhh! Pizza. Hoe kry ‘n mens hierdie stuk kos by jou mond? Hoe het ek dit altyd daar gekry? Dink, Denitia, dink hoe jy dit gedoen het en doen dit presies net so. Nee dankie, ek is nie lus vir tee of sop of ‘n stukkie roosterbrood nie, man. Ek wil hierdie pizza eet, want dit is presies waarna my honger maag nou skree. Pizza! Ek hoor jy kerm dat ek siek is en dat pizza nie die ding is vir ‘n siek mens om te eet nie. Nou wil ek asseblief by jou weet waarom jy so dink? My liggaam het ‘n probleempie, maar dit beteken mos glad nie dat my maag ook moet siek wees nie.
      As my tande net nie so wil klap nie, sal dit seker makliker wees om te hap. Ek moet net konsentreer om te hap. Aahh! Dit is sowaar baie lekker, hoor. Ek sukkel redelik, want my gesig voel skeef en ek weet nie mooi waar om te hap nie. Ek hap en hap en hap en kou aan die heerlike pizza. My gesig wil nie lekker saamspeel nie, maar ek dink ek kom redelik goed oor die weg. Nee, sies man, kyk hoe mors jy, Denitia. A nee a, jong, jy is mos ‘n groot meisie. Eet mooi, toe? Here, baie dankie vir iets wat so lekker is. Baie dankie vir pizza.
Ek het op hierdie stadium nie geweet dat die frase “Ek is honger” my slagspreuk sal word nie. Ek het dit so gereeld gesê, dat dit ‘n grappie begin word het tussen my geliefdes en my vriende. Maar, verstaan my mooi, die meeste van die tyd bedoel ek dit regtig. Ek is ewig en altyd honger. Miskien is dit omdat ek so baie bewe dat my liggaam alles vinniger verbrand? Ek weet nie, dit is maar spekulasie. Ander kere, is dit ‘n maklike, spontane antwoord wanneer iemand iets vir my vra. As my ma byvoorbeeld vir my vra of ek nie dink ek moet ‘n bietjie gaan le nie, sal ek antwoord: “Ja, maar ek is honger.” My vriende vra vir my of ek ‘n goeie dag gehad het en ek antwoord: “Ja, dankie, maar ek is honger.” Iemand vra of ek dorp toe wil gaan en ek antwoord: “Nee, ek is te honger.” Of, as ek wel wil dorp toe gaan en hulle vra vir my na watter winkel toe wil ek gaan, is ek sommer woedend. “Ek gee nie om nie, onthou ek is net baie honger.”
Ek weet dit is ‘n baie dom antwoord om altyd te gee en ek wens ek kon aan iets anders dink sulke tyd. Ek weet, maar ek doen dit oor en oor. En wanneer ek dit sê, is dit soos om ‘n klokkie te lui sodat almal aan die lag kan gaan. Maar nou wil ek vir jou vra, was jy al ooit so honger dat jou brein aan niks anders wil dink nie?
Die meeste van ons steek mos maar ons begeertes weg. Ons praat nie sommer oor iets wat so ‘n allesoorheersende begeerte is nie. Nee, dit is net nie reg om al jou diepste dinge so voor almal uit te blaker nie, is dit? Maar daar is ‘n paar dinge waarna ons almal smag, hoewel ons die meeste van die tyd die hele mensdom probeer oortuig dat ons daarsonder kan klaarkom. Ons almal smag na liefde, aanvaarding, troos, samehorigheid. Dalk verskil jou lysie van myne, maar feit bly dat ons dit meestal ontken omdat ons nie swak en ellendig wil lyk vir ander nie. Vandag weet ek een ding vir seker: Vir die eerste ses en dertig jaar van my lewe het ek ook geglo ek het niemand nodig nie en ek kan alles self doen. Wat ‘n skok! Die groot P kom leer vir my dat geen mens alleen kan lewe nie. Ek dank God dat ek honger is, ek dank Hom dat ander vir my kan voorsien.
            Ek wil nie gaan slaap nie, maar ek is so bitter moeg. Dit was ‘n baie lang dag. So baie dinge het gebeur vandag. Hoe kan ‘n mens se lewe so ewe skielik verander in een onsinnige oomblik? Nee, moenie slaap nie, asseblief. As ek slaap sal ek dood gaan. Ek weet ek sal dood gaan die oomblik wat ek aan die slaap raak. Die TV was nog nooit my grootste vriend nie, maar vanaand is dit ‘n uitkoms. Ag genugtig, rugby? Ek haat rugby, maar ten minste hou dit my wakker. Namibië is besig om te speel en hulle sal my ondersteuning waardeer. Ek is so moeg, asseblief!
            Ek moet wakker bly. Daar is so baie dinge wat ek nog moet doen, so baie dinge wat ek nog vir my geliefdes wil sê. Ek wil so graag nog vir my kinders sê hulle moenie bekommerd wees nie, hulle mamma sal okay wees. Ek wil hulle styf teen my vasdruk en my gesig teen hulle druk en hulle lyfies ruik. Ek wil ruik hoe ruik hulle. Ek wil voel hoe voel hulle. Ek wil daar wees as my liefies grootword. Ek wil sien dat hulle die lewe geniet en volwassenes word. Ek wil daar wees as hulle in die nag wakker word en dors is. Of bang is. Of siek is. Ek wil by my kindertjies wees, Here. Ek mag nie slaap nie, want ek gaan dan nie weer wakker word nie. Here, net U kan my help daarmee. Asseblief, Here, U moet my help om wakker te bly.
            Iewers moes ek aan die slaap geraak het, want skielik skyn die son. Die son skyn en ek is nie dood nie. Dankie, Here, vir die lewe. Dankie vir die nuwe dag!


OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...