Ek
wonder wie almal is soos ek – as jy die meeste werk het, rits jou gedagtes die
meeste rond. Dit is nogal ‘n ding wat ek mee sukkel, want van dink kom mos
praat, is dit nie? Ek wil sulke tyd so graag die storie in my kop met iemand
deel, maar in die proses ly my werk skade. Ek het hope merkwerk, maar die lag
sit vlak in my keel.
So,
hier is sommige van die goetertjies wat my die hele oggend al pla. Ek hoop dat
hulle sal koerskry wanneer ek dit klaar geskryf het.
In
standerd ses is ons bondels in elke kamer. Ons is nie stout nie, hoor. Ons is
STOUT in daardie kamers. Daar
is eenvoudig geen huis te hou met hierdie klomp tieners so saamgebondel in een
kamer nie.
Sondagmiddag
se slaaptyd is omtrent ‘n eeu lank. Ek dink die stomme onderwyseresse het
daardie tyd nodig gehad om uit te rus van die week se ontuimighede, maar ons
het hulle nie eintlik die kans gegee om selfs ‘n ou oomblikke rustig te wees
nie. Sowat van onbedagsaam!
So
kom dit dat ons kamer besluit ons hou vanmiddag troue. Dit is weereens een van
die Sondagmiddag se slaaptye wat nie einde kry nie en ons moet eenvoudig iets
doen om die dag om te kry. Die bruid en die bruidegom word gekies, die dominee
en (ek dink) ‘n orreliste.
Die
aantrekkery van die spulletjie is ‘n narigheid, want waar kry ‘n koshuiskind
nou alles wat nodig is? Die bruidegom moet ‘n pak dra, maar niemand het ‘n
langbroek nie. Ag, dit is nie ‘n probleem nie, hoor. Handdoeke word om die bene
gevou en by die broekie se rek ingedruk. Die skoolbaadjie moet doen vir die pak
se baadjie. Iewers moes daar ‘n das ook getoor gewees het en siedaar, onse
bruidegom is reg vir die troue.
Die
bruid moet ‘n ordentlike trourok dra. Almal van ons dra in daardie tyd
halflyfonderrokke en elkeen gee hare. Die bruid se rok bestaan uit hierdie onderrokke
wat die een bo die ander aangetrek word – elke keer is die volgende een ‘n
bietjie laer. Ag, kyk net hoe mooi! Die bruid se rok is die ene valletjies! Die
sleep? ‘n Laken sal doen daarvoor, dankie. Die dominee is ook gereed en die
troue kan begin.
Die
fotograaf neem foto’s dat dit ‘n naarheid is. Almal wil graag foto’s van
hierdie geleentheid hê, asseblief. Maande later, toe almal al moeg gewag is vir
die foto’s, erken sy dat daar nooit ‘n film in haar kamera was nie. Ai tog!
Jy
moet net weet dat die spulletjie teen hierdie tyd al lankal vergeet het dat dit
eintlik slaaptyd is en dat jy op jou bed moet wees en, bo alles, jy moet
tjoepstil wees. Almal lag en skree en geniet die troue terdeë. Opeens is dit ‘n
geskarrel, want iemand het gesien die juffrou op diens is op pad. Almal hol vir
hulle beddens, maar die bruid se bene is so verstrengel in die onderrokke dat
sy nie kan beweeg nie. Die enigste raad is om onder ‘n bed in te duik dat jy net
sleep sien trek. Ek wonder vandag nog waarom die juffrou dit nie gesien het
nie, want die kind het oop en bloot op die vloer gelê.
‘n
Ander storie i-s toe die een kamer se meisies die aand besluit het om ‘n poeier-geveg
te hou. Hulle het elkeen ‘n blik poeier en elkeen kyk of sy die volgende een se
kop lekker met die poeier gegooi kan kry. Voeg nou hierby dat die kamer ‘n
bruin nelonium-vloer gehad het. Kan jy jou indink hoe die kamer moes lyk toe
die juffrou die lig aansit? Ewe skielik lê almal met hulle koppe onder die
lakens, maar die lug is wit van die poeier. Hulle vertel dat die juffrou
vreeslik geraas het, maar sy moes ‘n keer of wat buite toe gaan om eers klaar
te lag voordat sy verder kom raas het.
Of
die aand wat ‘n kamermaat badkamer toe wou gaan. Dit was lankal ligte-uit en
ons moes slaap. Die kind was baie bang vir die donker en ek besluit om haar ‘n
poets te bak. Ek klim op ‘n kas, reg langs die deur. Ek beplan om haar lekker
skrik te maak as sy terug kom kamer toe. En wie is dit toe wat die lig kom
aansit? Ai, gelukkig het die juffrou nie opgekyk nie en gelukkig het ek betyds
besef dit is nie my maatjie wat so pas ingekom het nie.
Of
die kere wat ons donkerkamertjie gespeel het. As die kamer nie donker genoeg is
nie, word een geblinddoek en die ander moet wegkruip. O hemeltjie tog! Daardie gille
wanneer die blindemol jou aan ‘n voeg of ‘n arm beetkry! En dit alles terwyl jy
weet die juffrou is net ‘n paar tree met die gang af.
Vandag
weet ek dat die koshuis nie altyd so sleg was as wat ‘n mens gedink het nie. Natuurlik
het jy huis toe verlang en natuurlik was jy soms honger, maar die vriendskappe
wat daar gesluit is kan niemand ooit van jou af wegneem nie. En nou, baie baie jare later, gaan ons mekaar vir die eerste keer weer sien. En kuier. En onthou. En lag. En 'n bietjie huil ook.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking