Donderdag 22 November 2018

HULLE LAAT MY SO KOMMIN VOEL!

Ek lees die volgende opmerking: “I was made to feel very common.”

O, en toe?

Jy sien, as iemand maak dat jy eenvoudig (eintlik is kommin, met ‘n groot K, ‘n baie lekkerder woord as eenvoudig!) voel, sit ek onmiddellik ‘n vraagteken neer.

Kom ek vertel jou wat jy nou eintlik sê moet bogenoemde stelling: Jou deurklokkie lui. Jy is besig om kos op die stoof te sit, so nou spoel jy gou jou hande af en so met die nat hande draf jy voordeur toe. Jy sluit oop en maak vir jou besoeker die deur oop. Jy groet nie, jy vra nie ‘Nou wat nou’ nie, jy maak eenvoudig net oop vir die vreemdeling wat jou deur die traliehek staan en beskou.

Wat meer is, jy laat nou hierdie persoon binne en jy draf terug kombuis toe. Ja, is! As jy uiteindelik die kos op die stoof het, kom jy terug sitkamer toe. Intussen het hierdie vreemdeling chaos gesaai dwarsdeur jou huis – jou sitkamer is leeg, jou kamer het darem nog ‘n prent of twee teen die mure en in die badkamer hang jou verslete japon ... als is weggedra terwyl jy besig in die kombuis was.

Nou is jy erg moerig, hoor! Hoe durf die dit-en-datse-dit-en-dat dit aan jou doen? Wie het hom die reg gegee om jou goed uit te dra en weg te ry?

Jy het, suster! Jy het oopgemaak en hom vrypas in jou huis gegee. Wil jy met my stry?
Nou kom ek terug by die stelling dat ‘hulle’ gemaak het dat jy so kommin voel ...

Weet jy, daardie ‘hulle’ in jou lewe kan dit slegs regkry indien jy hulle die toestemming daarvoor gee om jou so te laat voel. Slegs as jy jou mag aan hulle oorgee, kan jy so kommin voel, kan jy so kwaad word, kan jy so uitgebuit voel.

Jy is die koningin van jou huis, my ding. Moenie jou mag oorgee aan elke janrap en sy maat nie, want hulle is dit nie werd nie. Dit is so eenvoudig soos dit: hou jou deur gesluit vir elkeen wat jou kommin laat voel, vir elkeen wat jou beroof van jou vrede, vir elkeen wat jou siel omkrap.

Hierdie paleis behoort aan jou ... aan niemand anders nie. Vir wie jy die deur oopsluit, is net jou keuse, niemand anders s’n nie. Binne die mure van jou paleis is jy die koningin en is jy veronderstel om jou kroon te dra.


Nou wonder ek net – kan jy nog onthou waar jou kroon is?

Dinsdag 13 November 2018

DIE LEWE STORM VOORT

Elkeen van ons word daagliks konfronteer met een of ander krisis – sommige klein en niks beduidend, ander te aardskuddend groot om te kan hanteer. Jy moet besluit, jy moet aanvaar, jy moet vergewe ...! Nadat die hou jou (soms) katswink geslaan het en jy 'n keer of wat gesnak het na asem, moet jy teen wil en dank opstaan en voortgaan met die lewe.

Want, jy sien, al voel dit vir jou die aarde is tot in sy fondamente in geskud, gaan die son nog steeds more opkom. Die dag gaan nog altyd kom en gaan en ons het daar geen beheer oor nie.

Aan die ander kant is dit presies dieselfde met wanneer jy iets groots in jou lewe behaal het, is dit nie? Jy is in die oomblik en jy is so opgewonde dat jy uit jou nate kan bars, maar na ‘n dag of wat het die oomblik afgewerk en moet jy doodeenvoudig net aangaan soos voorheen. Niemand gaan oor ‘n dag of twee jou nog daaraan herinner dat jy so oulik was om dit of dat reg te kry nie. Ha-a, dit werk nie so nie.

Ek sit hier in my huis met net die rekenaar as geselskap. Binne enkele ure kry ek twee heeltemal teenstellende boodskappe.

Die eerste een is van klein Dehan wat weg is na sy hemelse Pappa nadat hy vir vier dae ‘n ontsettende lyding moes deurstaan. Ek is hartseer. Nee, eintlik is ek gebroke by die aanhoor van hierdie nuus. Ons almal het geglo ...! Maar ons sien die werking van Sy hand hierin, want derduisende mense het saamgetrek in gebed – derduisende mense het vir vier dae alles opsy gesit en gebid soos nog nooit voorheen beleef is nie.

Die tweede boodskap is ewe aardskuddend, maar van ‘n heel ander aard. ‘n Familievriend wat met kanker diagnoseer is, is op pad huis toe. Hy is gesond verklaar. Ons dank en juig en is almal dankbaar vir ‘n gespaarde lewe.

Ek lees bogenoemde twee boodskappe en ek dink ver terug aan die dood van my suster. Ek was op haar begrafnis en met my terugkeer het almal simpatie betuig. Almal was simpatiek en jammer oor my verlies toe hulle my sien.

... toe hulle my sien! En daarna? Wat gebeur na so ‘n traumatiese gebeurtenis in jou lewe? Niks nie, my vriend, niks nie. Oor ‘n dag of twee is almal moeg geluister na jou stories oor jou suster. Niemand wil meer hoor hoe brand jou hart nie. Niemand het regtig ook die tyd om te sit en luister na jou nie.

Ek wou, seker ‘n maand na haar dood, die aardbol net ‘n slag stop. Ek wou dit stop en vir almal skree of hulle nog kan onthou van my suster wat dood is? Kan niemand dan nog onthou van my groot verlies nie?

En dit, my vriend, is waar ek en jy nou moet weet hoe om ware vriendskap te bewys. Ek sal probeer verduidelik.

Die Engelse het ‘n mooi sêding: To hold space for somebody. Ek weet glad nie hoe om dit in Afrikaans te vertaal nie, hoor.

Holding space for somebody beteken om met jou hele wese dáár te wees vir iemand sonder om enigsins beheer te probeer uitoefen. Jy gaan luister, luister, luister, sonder om kritiek en/of raad te gee. Jy verklaar jouself gewillig om die pad met hierdie persoon te loop, sonder om te weet waar gaan dit eindig. Jy gee ook nie om waar die pad eindig nie, want dit is nie regtig jou pad nie. Jy laat hierdie vriend van jou toe om haarself te wees ten spyte van wat ookal. Jy hou die deur vir haar oop om deur te stap en die lewe (sonder jou veroordeling) te beleef.

Dalk verduidelik ek nie goed genoeg nie?

Was jy al in jou lewe by iemand wat jou hulp dringend nodig gehad het, maar jy het so totaal en al onmagtig gevoel om te help. Jy weet glad nie wat om te doen om die las vir hierdie persoon ligter te maak nie, nou sit jy (soos dit vir jou voel) met ‘n mond vol tande. Wanneer jy uiteindelik loop, val jou vriendin jou om die nek en bedank jou vir ‘alles wat jy gedoen het’. Ken jy hierdie een? 

Dis presies wat dit is! Jy het hierdie persoon toegelaat om haarself te wees – om ‘n slag uit te pak en haar poppe uit die ‘pram’ te gooi en jy het nie ‘n haar daarna getrek nie. Inteendeel, more en oormore gaan jy weer en jy ‘is’ net vir haar ... jy doen niks en sê niks, jy ‘is’ maar net.

Nou vra ek jou: Are you holding space for a friend?


Dinsdag 06 November 2018

DIE KEUSE BLY JOUNE - DANS JY OF SING JY?

So kry ek die lieflikste klein video van 'n goeie vriend van my. Ek kry dit nie hier geplak nie, maar ek deel iets soorgelyks met jou.
Ek sit en verkyk my daaraan. Wat ek sien, is twee klein-klein figuurtjies op fietsies wat so woerts-warts op ‘randum’ strepe. Saam daarmee is die mooiste musiek.
Ek vra: “Ons lewensreis?”
          Hy antwoord, half verward (dink ek): “Sinkronisasie. Ek het dit al meer as tien keer gekyk.”
Ek laat my nie oortuig nie: “Nee man, kyk die oppe en die affe. Die outjies op hulle fietsies wat so ry ... Dis ons lewens daai.”
Hy is ‘n bietjie stil en ek stoom voort: “Ek skryf sommer ‘n opstel daaroor.”
          Hy stem in dat dit (dalk) ons lewens kan wees en dis toe mos al wat ek nodig het om aan die dink te gaan. Man, hoe meer ek die video kyk, hoe sekerder is ek dat die een outjie sowaar soos ek lyk ook nog ... dis vir seker my lewe wat ek voor my sien, glo ek.
Ons hoor baie maal die gesegde: “Die lewe is ‘n lied!” en soms voeg iemand dan so half sarkasties by: “...sing hom!”
Ja? Dis nou alles goed en wel om hom te sing terwyl alles voor die wind gaan; daarmee stem ek saam. Dis lekker om hom sulke tyd te sing! Maar! Moet ek hom sing as hy doer onder in die gramadoelas gaan draai? Jy sien, my stem kan nogal laag, maar soms (net sommms) is daai (lewens)noot so laag dat ek liewer nie sal probeer nie. Want ja, in die proses sal ek moet op die knieë staan om daar by te kan kom en hoe moet ek weer regop kom? So, dalk is dit beter om maar liewer nie daardie treurmare te probeer sing nie. Ek glo mos as jy hom nie sing nie, gaan hy dalk ongesiens verby – wat dalk ‘n klein bietjie volstruispolitiek is?
Ander kere is die lewe ‘n mooi, mooi lied met mooi, mooi rustige note. Jy staan menigmaal in verstomming omdat dit so mooi is. Jy is te bang om asem te haal, want wat nou as jy ‘n oomblik wegkyk en jy verloor al hierdie mooi? Dis asof jy so omring is deur die mooi dat jy te oorweldig voel om 'n geluid te maak. Jy is in 'n euforie van geluk en tevredenheid. Niks, maar niks kan jou geluk van jou steel nie ... of so glo jy.
Soms, maar regtig net soms, is jy totaal en al alleen op hierdie reis van jou. (meermale is dit maar net die gevoel dat jy alleen is, want eintlik is ‘die ander’ maar altyd daar!) Jy sukkel om te oorleef, want dit gaan woes, hoor. Jy voel letterlik hoe die lewe jou heen en weer slinger en gooi – daar is geen einde aan die ellende nie en jy weet dat jy dit hierdie keer nie gaan oorleef nie. Jy sal weet waarvan ek praat, want jy het dit ook al ervaar, weet ek.
Maar, dan staan jy een oggend op en die son is ‘n heerlike salige lig rondom jou. Die voëltjies sing asof hulle nog nooit ophou sing het nie en die lewe is van voor af ‘n lied.
Jy kan natuurlik besluit dat die lewe eerder gedans wil wees. Bernard Colasurdo vertel van hierdie dans dwarsdeur die goeie, sowel as die slegter tye. 
Wat ek gevind het is dat jy baie makliker die ritme van jou dans opvang wanneer jy die dag met dankbaarheid aanpak. Vir my voel dit kompleet of die danse van dankbaarheid verskillend is. Soms is dit ‘n stil, stadige wals, soos wanneer ek aan my kinders en kleinkinders dink. Wanneer ek dankbaar is omdat ek iewers groot sukses behaal het, grens dit byna aan ‘n foxtrot of ‘n vastrap. Die onthou-dae klink vir my byna soos die veraf klank van reën in die bome ... jy is bewus daarvan, maar dit is meer 'n sagte, gerusstellende ervaring. 
Nou vra ek jou net hierdie een vraag: Gaan jy hom dans of gaan jy hom sing? Want, my vriend, ons weet nie wanneer dit ons laaste keer gaan wees nie, ha? Wat nou as jy besluit jy wil in die donkerste donker hoekie gaan sit tot die storms verby is en daar breek toe nie 'n nuwe dag aan nie? Wat van as jy ewe skielik op 'n punt kom waar jy eenvoudig nie kan verder sing of dans nie?
Kom dans saam met my, toe? Môre, oormôre is hy verby ... en dan?

We Danced Through Life

©  

We danced amongst the stars that night
when joy had fallen far from sight 

We danced under the sun so bright
And when all seemed lost, we held on tight

We danced to the music of hummingbirds
And we danced in the silence when there were no words.

We danced in the shadows of fear and doubt
And we danced when we questioned what life’s about

We danced amongst the evergreens
That posed for painters winter scenes.

We danced in the winters bitter chill
And when we danced our world stood still.

For that’s what love was meant to be
To find the dance when we cannot see.

To write a new song when the music stops
With lyrics that caress every tear that drops.

For when the rhythm changes and tempo slowed
We’re called to dance with the seeds we sowed.

For life is hard, there is no doubt
But Dancing through it, is what life’s about.

'n LEEFTYD WAT VOEL SOOS GISTER.

Sewe-en-dertig jaar gelede ...    Dit voel soos gister, maar dit is ‘n leeftyd terug. Sewe-en-dertig jaar gelede het my lewe vir altyd e...