Maandag 28 Januarie 2019

EK KYK OP NA DIE BERGE ...

Ek sit en luister na almal wat groet op Mengelmoes. Die boere groet een-een ... elkeen met ‘n hartseer stem. “Dit gaan goed, maar ...”

Ek, kind van die Namib, kry die donker beeld van rooi duine, hier en daar ‘n pikswart graspol, uitgeteerde diere en hitte wat ‘mirages’ maak op die vlaktes. Ek ruik die droogte! Ek proe die droogte wrang op my tong ... en ek huil!

Ek is weer kind in die Namib-huisie. Pa is vroegdag veld toe – nie om lammers te gaan haal nie. Pa is veld toe om te gaan kop-af sny wat nie meer verder kan loop nie. Ma praat lankal ook nie meer nie. te gaan kop-af sny wat nie meer verder kan loop nie. Ma praat lankal ook nie meer nie. 
Hoeveel?” vra Ma sag.
“Dertien,” antwoord Pa. Hy eet nie verder nie. 
ns eet in stilte klaar. Pa sug en beduie na die Bybel op die kas.
Iemand staan op en gee dit aan. 
Pa kug, sit sy oop hande weerskante van die Bybel op die tafel en begin lees. 
Psalm 121 – Op pad.
1 ’N BEDEVAARTSLIED.
Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?
2 My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
3Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.
4Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.
5Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.
6 Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie.
7Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.
8Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.
Ons vat hande ... ‘n gewoonte wat net maar altyd daar was in ons huis – as ons bid, vat ons hande. Met toe oë wag ons dat Pa moet bid. 
Hy sit met geboë skouers – so moedeloos, so oorwonne en verslaan.
Hy kug weer. Met ‘n seker stem bid hy: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp, ja Here, mý hulp, is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Amen.”
Toe Pa opstaan om buite toe te gaan, lyk hy opeens anders. Dit lyk kompleet of hy so pas baie goeie nuus gekry het. Is dit ‘n glimlag wat ek op sy gesig sien?
En ek weet: My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het!

Woensdag 23 Januarie 2019

AS DIE WÊRELD OP SY KOP GAAN STAAN

Vreemd hoe ‘n mens se opinie oor dinge kan verander ... dis nou dinge wat jou diep raak en wat jou (waarskynlik) meer as een nag se slaap kan kos. Ander dinge kan jou op die oomblik so ontstel dat jy ‘n kabaal opskop dat dit gehoor word tot aan die eindes van die landsgrense (of selfs verder).
Die dag toe my koshuisvader my na sy kantoor toe geroep het, was vir my asof die dood self op my neergedaal het. Ek was in standerd drie (Graad 5) en hy was my klasonderwyser. Ek onthou sy ontevrede gesig. Ek onthou my natgeswete hande en die benoudheid op my bors. Hy was doodstil. Het my net om die lessenaar na hom toe gewink en afgekyk op my vraestel. Daar het dit in duidelike blou ink gestaan. Ek het 16 uit 60 gehad vir die Junie-eksamen. Vandag maak dit nie meer saak nie, maar daardie dag was, soos ons altyd gesê het, dit nag vir my. My pa en ma was nog minder beïndruk as die onderwyser. Ek mag vir die hele somer nie geswem het saam met die ander koshuiskinders nie – moes glo daardie tyd geskiedenis leer.

Ek dink nou aan die dag toe ek as jong ma saam met my man op pad kerk toe was. Ons motor was stukkend, dus het ons sommer gestap. Ons het in Maltahöhe gebly, dus was stap eintlik nie ‘n probleem vir ons nie. Die ding is net dat ons so pas ‘n baba ryker geword het en die orde en roetine in die huis was glad nie meer soos voorheen nie. Ons gesels al die pad kerk toe – ek met die baba, hy met die Bybel en Gesangboek. Voor die kerkdeure wil ek my hare darem ‘n bietjie reg vryf. So met die een hand hou ek vir baba en die ander hand moet nou ... Hemele val op my! Ek het nooit my hoed op my kop gesit nie! Nouja, wat ek als gesê het, weet ek nou nie meer nie. Ek kan net onthou dat my man (wat mos moes GESIEN het ek het nie ‘n hoed op nie!) die hoed moes gaan haal en bring.

Die een storie oor my ma waaroor ons baie gelag het agterna, was die dag met die bak kerriekos. En hoor nou vir my, as daar een is wat kerriekos kon kook, was dit nou die Ouma. Ons klomp kinders met ons aanhangsels was daar en daardie bak was gelykvol met die lekkerste skenkelbeentjies en wat nog alles. Toe sy nou vir bak wil vat en tafel toe dra, glip hierdie bedryf uit haar hande uit. Die genade is dat sy so op en wakker was. Op ‘n manier druk sy vir bak teen die oond se ruit vas. Al wat Ouma kon sê, was iets soos: “My bak, my bak!” Jy moet my tog nie vra hoe nie, maar sy het daardie kooksel gered en ons het almal genoeg gehad.

Ek is seker jy het baie voorbeelde van sulke dingetjies wat op die oomblik ‘n krisis was, maar agterna toe eintlik nie die ergste was nie.

Daar is mos die storie (ek sweer in elke familie is iemand wat dit oorgekom het!) van die vrou wat op pad winkel toe was. Sy is op hierdie besige sypaadjie tussen hoevele mense. Opeens voel sy die onderrok se rek het meegegee. Nouja, toe hy grond toe gaan, skop sy dit bloot eenkant en stap verder. Wie het almal gesien? Ag, wie traak dan nou daaroor?

‘n Baie onlangse krisis in my lewe was toe ek afgelê is by die werk. Dit was sommer nou die dag, hoor. Ek is letterlik deur elke stadium van opstand, woede, selfbejammering, swak selfbeeld, twyfel in myself, wantroue, noem maar op! Sowaar, dit was regtig nag vir my! Die wêreld het vir my op sy kop gaan staan en niks was reg of goed of mooi nie.

Ek hoop jy het dit raakgelees dat ek dit in die verlede tyd skryf. Ek WAS in ‘n toestand! Ek HET jammer gevoel vir myself!

En nou? Wat het dan nou verander? Niks nie, hoor. Alles is nog dieselfde as wat dit daardie dag was. Ek is nog altyd by die huis. Ek gaan nog altyd in die vroeë oggendure slaap. Ek doen nog altyd niks anders as voorheen nie.

Nou wat het dan verander?

Ek. Ja, ek het verander. My kop en my hart het omgeswaai en die wêreld weer mooi in die oë begin kyk.

En toe?

Toe raak dit lekker en ek besef net een ding: My identiteit hang nie af van wat ek reg of mooi of goed kan doen nie. Glad nie.

Ek is ek, al draai die aarde op sy kop..

Saterdag 12 Januarie 2019

OM NUUT TE BEGIN

En so is dit alweer die einde van nog ‘n week in 2019 – die jaar waarna baie van ons rykhalsend uitgesien het. Diep in ons harte wil ons tog maar altyd glo dat dit môre beter sal gaan as gister, nie waar nie? Ja, dit is waarop ons geloof ook gegrond is – om te glo in dit wat jy nou nog nie kan sien nie.

Nee, ek wil glad nie hier skryf oor enige nuwejaarsvoornemens nie. Dit is lankal ou nuus, glo ek. Jy besluit hierdie groot ding op die laaste dag van die jaar, en 24 uur later het jy reeds daarvan vergeet. Ha-a, ek het baie lankal opgehou om myself daarmee te flous, glo vir my.

Voor ek verder skryf, wil ek ‘seblief verskoning maak vir die Engelse aanhalings wat ek gaan gebruik. Soos met enige taal, het Engels ook ‘n manier om sekere dinge net beter uit te druk as enige ander taal. Dalk stem jy nie met my saam nie, maar verdra my maar hierdie een keertjie, asseblief. Hoe sou jy byvoorbeeld 'new beginnings' uitdruk? Ek weet regtig nie.

‘n Vriend stuur vir my hierdie almanak van1895. “Moet tog nie die moeite doen om ‘n nuwe almanak te koop nie, gebruik sommer hierdie een.”
Ek kyk ‘n slag daarna en wil net verder gaan, toe dit my tref: Alles wat is, was reeds. (‘n Aanhaling/gesegde van my onderwyser in standerd 5) Ja? Ek sien jy frons liggies hieroor. Die jonges sê almal gelyk: Issie! Die modes van vandag was nog nooit voorheen nie. Regtig? Dink jy regtig dit het nog nooit voorheen bestaan nie? Kyk ‘n bietjie na hierdie skepping uit 1930 en dan stry jy weer met my, toe?
Stephen King: “Sooner or later, everything old is new again.”
 
Ons het dus anderdag die einde van 'n jaar gevier, maar ook net daarna die begin van 'n nuwe een. Einde? Begin? In dieselfde sin?
Marianne Williamson: “Every ending is a new beginning."

Ja. Ons kon leer uit die ondervindings van die jaar wat verby is, maar ons kan ook uitsien na die een voor ons. Ons kan bou op dit wat agter is. Sommiges was sleg, ander dalk baie sleg. Maar die goeie dinge het nie agtergebly nie, dit is seker.

TS Elliot: "What we call the beginning is often the end. And to make an end is to make a beginning. The end is where we start from."
Maak die stelling van Elliot vir jou enigsins sin? Dink 'n bietjie daaroor. Ek het hom 'n paar maal oor die tong laat rol voordat dit lekker ingesink het.

Ons kom baie maal in ons lewens by 'n punt waar ons totaal en al wil oorgee. Jy glo daar is geen uitkoms nie. Jy weet hierdie is die einde vir jou ... niks kan jou weer uit hierdie ellende haal nie! Wat meer is, daar is niemand wat verstaan en/of kan help nie. Jy is alleen in jou ellende en pyn.

Was jy al daar? Ek was. Glo my maar. Ek was!

En dan? Hoe nou verder?

Wanneer jy later terug kyk, sien jy dat daar toe tog 'n uitkoms was. Wat vir jou soos die einde gelyk het, was toe al die tyd die begin van 'n nuwe hoofstuk in jou lewe. En hierdie nuwe hoofstuk is so mooi, man! Dis baie beter as wat jy ooit kon vra voor. Dis sulke tyd wat jy prewel: "As ek maar net voor die tyd geweet het ..."

Ek wil aan elkeen wat 'aan die einde' gekom het, vanaand hierdie boodskap gee: 'Seblief, hou vas! Moenie oorgee en moed verloor nie. Want, jy sien, daar MOET eers 'n einde wees voordat daar 'n (nuwe) begin kan wees. 

Dink maar aan die skoenlapper in die aaklige papie. Dink aan die saadjie wat jy in die lente in die grond gedruk het en wat nou 'n pragtige plant is. Dink aan jouself toe jy die laerskool met al jou vriende moes verlaat ... net om 'n paar weke later nuut te begin in 'n nuwe skool met selfs beter vriende as voorheen.

Ek glo die enigste geheim aan dit alles is dat ons 'n streep moet trek wanneer ons by die einde gekom het. Ons moenie daar vassteek en bly staan nie. Hoe kan ek nuut begin as ek nie vorentoe beweeg nie?

En dan! Alles wat voorheen was, is nog steeds. Selfs al lyk dit vir jou of jy alles verloor het, is dit nie regtig die waarheid nie. Die dinge wat saak maak IS NOG ALTYD.



Sondag 06 Januarie 2019

EEN PLUS EEN IS EINTLIK MOS MAAR EEN

En toe beleef ek dit vandag. Kan jy dit glo? Ek, gebore en getoë Namibier, sien toe vandag die heel eerste keer ‘n Welwitschia mirabilis. Hoe is dit dan moontlik, kan jy my vra. Ag, daar is seker meer as een rede daarvoor, dink ek. Maar die eintlike rede daarvoor is dat ek nog nooit gedink het dat ek ooit in my lewe die voorreg sal kry om dit van naderby te kan besigtig nie.
Want, jy sien, dit is mos hoe dit werk. Bloot omdat ek nog nooit die wens uitgespreek het nie, het dit nog nooit gebeur nie. Ons loop mos met hartsbegeertes rond en glo die goeie fee sal dit vir ons waar maak. Ha-a, dis nie hoe dit werk nie. Maak net ‘n slag jou mond oop en spreek jou hartsbegeertes hardop uit en kyk wat gebeur. Is! Moenie stry nie!
Ons stop en ek stap oor die kaal vlaktes na ‘n kleinerige een toe. My asem sit vlak in my keel van opgewondenheid. Regtig? Gaan ek sowaar vandag een van my grootste wense bewaarheid kry?
Ek gaan staan so endjie van hom af. (Natuurbewaring/iemand het met klippe ronde sirkels om elkeen gepak om hierdie kosbare plante te probeer beskerm teen vandale.) Dit voel of jy in ontsag so ‘n bietjie sagter moet asemhaal. In kort: dit is ‘n gesig wat ek tog nie kan beskryf nie, want eintlik is dit iets wat jy met jou hart, meer as met jou oë, ervaar.
Een plant met baie name: Die Namas noem hom Kharos, of Khurub. Die Damaras praat van Nyanka en die Hereros noem dit Onyanga. In Afrikaans word soms verwys na die Tweeblaarkanniedood.
Tweeblaarkanniedood. Net twee blare ... wat aanhou groei en amper vir ewig voortbestaan. Sjoe! Indrukwekkend, is dit nie? My seun merk op dat as hierdie een 1 500 jaar oud is, dit min of meer begin groei het in die tyd van die apostels van Jesus. Dit laat jou besef hoe kosbaar die plant werklik is.
Hoewel dit net twee blare het, vorm dit deur die jare so ‘n netwerk dat jy glad nie kan sien dit is net twee blare nie. Dit vorm ‘n eenheid wat dit moeilik vir die oog maak om te onderskei waar en hoe dit vandaan kom.
Vanoggend sit ek en my liefie koffie drink. Ons gesels nie juis nie; dis net sulke een-een woordjies en/of frases. Jy weet mos, as iemand jou hart ken, is daar nie baie woorde nodig nie. Julle gesels amper meer met die harte as met woorde. En ja, dis ook asof julle verbintenis al vir eeue lank aankom.
Ek noem dit vir Liefie dat dit darem baie vreemd is om so daaraan te dink – twee totaal en al verskillende mense wat iewers ‘n raakpunt het en hulle is vir ewig gegom aan mekaar. Weet jy wat antwoord hy my? “Dis net jammer dat baie mense weghardloop voordat die gom behoorlik droog geword het.”
Nou hoor ek jy vra my hoe ek nou die storie van die Welwitschia en twee getroudes bymekaar kan bring.
Dis (vir my) baie logies. Die twee blare wat ‘n kosbare eenheid vorm en vir eeue en eeue ‘n boodskap uitdra aan die wêreld: Kyk wat doen ons in ‘n woestyn – ons groei en gedy en laat onuitwisbare indrukke by elkeen wat langs ons verby stap.
So is twee siele wat ‘gegom’ is in ‘n eenheid ook. Die liefde tussen die twee mense is onuitwisbaar vir eeue en eeue – eintlik tot in ewigheid. Selfs al sou een of albei sterf, kan niks ooit daardie eenheid tussen die twee vernietig nie. Dit leef voort in jou kinders en eintlik in almal wat jou lewe met jou deel. 
Nou is my vraag (meer aan myself as) aan jou: Presies wat lees ander mense in jou verbintenis met jou dierbares? Is dit ook soos die Welwitschia wat ander asemloos en verwonderd laat? Of laat dit dalk juis mense (selfs jou kinders) besluit dat dit nie die moeite werd is om lief te hê en te trou nie?
Ek vra maar net, hoor.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...