Vrydag 29 Junie 2018

DIT IS (GLO EK) WAAROM GOD EGSKEIDING HAAT!

Ek sien hoe frons jy. Ja, jy dink by jouself: “Martha Poller, wat weet jy van hoe swaar ek gekry het en wie gee jou die reg om jou mond uit te spoel oor iets waarvan jy niks weet nie?” Kom ek stel jou gerus. Hoe lui die spreekwoord nou weer in die Engelse taal? Been there, done that, got the T-shirt. Ja, ek is ook deel van die klub, jong, jy kan maar ontspan! Ek het die pad geloop, my lam, en kyk hoe lyk ek nou.

Kom ek vertel jou ‘n paar storietjies, dan sien jy waarom ek dink dat ek weet waarom God sê dat Hy egskeiding haat. Dit gaan oor die kinders, man! Die kinders in die huwelik is die mense wat die seerste kry, of ons dit nou wil weet of nie. Die kinders. Ons kinders!
1. Ek woon ‘n begrafnisdiens van ‘n geskeide man by. Ek kyk verward rond. Die naaste familie van die oorledene sit mos gewoonlik voor in die kerk, is dit nie? My oë dwaal van kerkbank na kerkbank, en elke paar treë sit ‘n wenende gesinslid van die oorledene. Jy sien, sy drie kinders by vrou nommer 1 praat nie met mekaar nie. Mmmm, want twee was bly dat Pa weer getrou het en nommer 3 wou niks daarvan weet nie. Nou sit Ma en nommer 3 hier reg voor my en die ander twee sit doer agter en gluur teen Ma se agterkop vas. Regs van my sit vrou nommer twee en heel aan die anderkant van die kerk sit haar twee kinders. Ja, jy’s reg: hulle was kwaad vir Ma omdat sy met hierdie man gaan trou het. Wat ‘n gemors, dink ek by myself. Was dit nou alles die moeite (liefde) werd? wonder ek by myself.
2. Mamma en Poppie woon alleen in die grootstad. Hulle het ‘n rukkie terug vir Pappa gelos om sy eie vreemde pad te loop. As Mamma Saterdag moet werk, moet Poppie Vrydagaand al by tannie Rosa gaan slaap; die tannie verkies dit so. Want sien, naweke is die bewaarskool toe en Poppie moet mos dan nou iewers heen totdat Mamma klaar gewerk het. Mamma weet nie hoe baie Poppie elke Vrydagaand huil nie. As dit slaaptyd is, vat Poppie haar koffertjie saam bed toe. Alles wat sy saamgebring het is in die koffertjie en alles moet saam met haar slaap. Tannie Rosa is baie goed vir Poppie, maar Mamma weet nie wat alles daar gebeur nie. Poppie vertel ook nooit vir Mamma van alles nie. Op ‘n dag droom Poppie ‘n verskriklike droom. Na daardie droom sê tannie Rosa vir Mamma om asseblief ‘n ander plan met Poppie te maak op Saterdae, want hierdie besigheid werk nie uit nie. Dit was die nag wat Poppie gedroom het Mamma en tannie Rosa gryp elkeen ‘n armpie en skree: “Sy’s myne! Los haar uit, sy’s myne!”

3. Klein Bettie se mamma kan nie meer nie. Sy en Bettie trek en los vir Pappa alleen. Maar jy sien, Mamma en Pappa is altwee ewe lief vir klein Bettie. Hoe nou gemaak? Sy is te klein om self te kan besluit en natuurlik bly sy by haar mamma. Maar hoe nou gemaak met Pappa? Hy verlang sy klein Bettie baie en hy wil baie graag net so ‘n klein stukkie van haar liefde hê. Klein Bettie is bang. Verward. Onseker. As ek by Mamma is, sal my Pappa my weer kom haal? En as ek by Pappa is, gaan ek ooit weer vir Mamma sien? Heen en weer, heen en weer. Klein Bettie weet nie meer watter kant toe nie, want Pappa en Mamma het elkeen ‘n armpie...!

Nou vra ek jou: Wonder jy nog steeds waarom ek glo ek weet waarom God egskeiding haat?

Maandag 25 Junie 2018

SOOS WARM 'JOSTERS' IN DIE WINTER

Ek loop met ‘n opgewondenheid in my hart wat ek in geen woorde kan beskryf nie. Ek sien een van die dae weer een van my kleinkinders (aldrie van hulle bly te ver om gereeld te kan kuier) en die vooruitsig het my hart heel omgekeer. Skielik wil ek oor als tjank – nugter weet hoekom! 
My liefiekind wat ek een van die dae gaan sien.
Nou wil jy ook weet hoekom loop en tjank ek, ha? Sommer net, omdat ek kan, man! Is dit nie genoeg rede nie?

Kom ek vertel jou eers ‘n storietjie. Dis sommer ‘n klein, niksseggende storietjie, maar jy sal verstaan as jy hom eers gehoor het.

Dis winter. Dis in die middel van die nag. Dis vrek, vrek koud. Jy is van iewers af op pad huis toe. Jy is koud tot in jou gebeente toe. Niks, maar niks gaan jou nou warm kry nie, dit weet jy. Die kar se ligte boor gate in die ysige nag-koue. Dit voel vir jou die nag is selfs donkerder as gewoonlik, want die koue het alle lig huis toe gejaag. Nêrens is selfs ‘n hasie of ander diertjies op die pad in sig nie – alles skuil teen die diepnag se koue.

Jy weet dat jy nou iets moet doen aan hierdie koue gebeentes van jou. Dis nie meer ver huis toe nie. Jy is moeg. Jy wil slaap. Maar jy is koud!
Uiteindelik is jy tuis. Jy stop en klim stram uit om die hek oop te maak. Jy sluit oop en strompel styf-styf binne toe. Sit die ketel aan. Draai die bad se krane oop. Wanneer jy jou kasdeur oopmaak, sien jy hulle: jou warm flennie nagklere. Nee man, mens praat nie van nagklere nie, ha? Dis jou josters, of jou jamies, of PJs, of wat ookal. Maar eintlik is dit jou beste, este vrinne. Dis hierdie oorgroot, flennie jamies wat jou lyf omhels en troetel en snoesig toemaak. Jy weet presies hoe hulle voel om jou lyf. En jy weet alles sal reg wees as jy hulle eers aangetrek het. Ja, jy hoef nie eers aan te pas of te wurg om dit aan te trek nie. Ha-a, jy weet! Want jy ken!

Jy haal hulle uit die kas uit en druk dit voor jou gesig. Jy asem die bekende reuk van jou beste maters behaaglik in. So ja, amper daar. Jou warm bad laat die ys in jou bloed smelt. Die frons tussen jou oë ontspan. En dan... die saligheid van jou eie, eie warm jamies.

Wanneer jy dan met jou vrinne aan die lyf sit met die beker warmgoed, voel jy welbehaaglik tevrede. Alles is reg. Alles is goed. Die lewe is ‘n warm, salige lied. Jy gaan lê en weet jy gaan slaap soos ‘n kind – sonder sorge en intens tevrede.
Liefste Vivi-kind van my
Nou kom ons terug by die weersiens van die kindjielief een van die dae. Dit is presies hoe my hart daaroor voel vandag: soos met my lekker warm jamies op ‘n ysige koue nag.

Ek vra my maters om hierdie vooruitsig om ‘n geliefde een van die dae te sien vir my te beskryf en hulle laat waai met die antwoorde. Ek deel ‘n paar van hulle met jou.
Marsofine Krynauw: ...water na ‘n tog deur die woestyn
Criselda Adams: Die hemel in jou hart te ervaar.
Tanya Rentzke: Daai eerste lek van ‘n roomys op ‘n hittige somersdag
Marikie Faul Kotze: ...die vlinders te ervaar van ‘n eerste afspraak.
Maryna Gous Schlierkamp: Reën te ruik op die plaasvlaktes
Herien Ward: ...om dankbaar te wees... vir daai voorreg...
Ansie Le Grange Mare: ...my hart buite my lyf te voel dans!
Jeanette Le Hanie: Om te weet jou hart en die ander persoon se hart is steeds in harmonie. ‘n Hemelse gevoel!
Marie Szewzyk: ...jou hart ‘n tonic inspuiting te gee!
Denitia Bosshoff: ...om wakker te word.
Annatjie Sandrock: om weer te lewe

Donderdag 21 Junie 2018

IS VRIENDSKAP DIT (ALTYD) WERD?

Nou die anderdag hoor ek twee vriendinne met mekaar gesels. Nee man, ek het nie afgeluister nie, regtig nie. Kan ek nou help as ek so naby hulle sit dat ek alles kan hoor? Ja, dit is so, ek kon opstaan en loop, maar ek het nie. Mmm, dalk het ek dan mos afgeluister? Besluit maar self.
In elk geval, jy weet mos, ‘n mens kan soms wonder en dink en redeneer oor die mense in jou lewe – moet ek hierdie vriendskap nog ‘n kans gee of moet ek maar links kyk en die pad vat? Nouja, dit was so ‘n gesprek. Kom ons noem hierdie twee sommer Sussie en Sannie, dan vertel ek jou.

Sussie sê vir Sannie: “Ag nee aarde, jy het nou regtig nie vir Loeloe in jou lewe nodig nie, ha? Wil jy vir my sê dat jy toelaat dat sy ‘so en dit en dat’ met jou? Ek sweer ek sal dit nooit aan my laat doen nie. Wragtag is wragtag, ek het haar al hoeka gesus en geso as sy dit die dag met my probeer.” Sussie staan sommer regop soos sy vuiste swaai en beduie.

Sannie antwoord bedees: “Ja, sy maak maar altyd so met my, maar ek weet nie eintlik wat om te maak nie. Jy sien, dis nou glad nie asof ek so baie vriendinne het nie en...” Die stemmetjie is nou glad nie meer so stewig soos toe die gesprek begin het nie en ek moet mooi luister om haar te hoor. (Het ek regtig gesê ek het hulle nie afgeluister nie?)

Sussie antwoord saggies met haar hand op Sannie se skouer: "Dink mooi daaraan, is dit regtig die pyn werd om so 'n vriendskap aan die gang te (probeer) hou?"


Sannie sit net daar. Sy praat nie. Sy weet nie hoe of wat om te antwoord nie. Sussie verstaan baie duidelik nie hoe dit werk nie, ha? As sy nou vir Loeloe afskryf...? Nee, dit kan sy mos nooit, ooit doen nie... of kan sy?

Ek sit en beluister hulle, want ek wonder toe self oor hoe of wanneer jy nou eintlik moet besluit ‘Maar hierdie een het ek nie verder nodig in my lewe nie’. Hoe doen ‘n mens dit? Hoe los jy en laat gaan? Ek het daardie dag daaroor gewonder en ek wonder nog immer daaroor. Ek het nie navraag gedoen om te hoor hoe ver die storie gevorder het nie. Want, jy sien, dit was mos nie my storie nie.

En dit slaan my soos ‘n voorhamer: Sout! “Wanneer die sout dan laf geword het...!”

Matteus 5:13 – Sout-van-die-aarde mense
13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.

Waar presies kom die storie van ‘as die sout laf geword het’ van Jesus vandaan? Sout kan mos nie minder of meer sout smaak nie, al wil dit ook. Los dit op in water en laat die water weer verdamp. Wat bly agter? Sout. Sout kan nie verslaan nie. Sout kan nie meer of minder na sout smaak nie, want sout bly sout. Toe moet ek mos gaan soek na ‘n antwoord, man. En toe kry ek my antwoord...!

In Palestina het hulle buite-oonde gehad. Die oond is op ‘n laag teëls gesit. Maar, en dit is nou waar die storie van die sout in kom, onder hierdie teëls is ‘n dik laag sout gegooi. Die sout het gedien as isolasie en die hitte het dus behoue gebly om die oond lekker warm te kry en te hou. Mettertyd, as gevolg van die hoë hitte, het die chemiese samestalling van die sout verander en was dit dan nie meer sout nie. Dit was nou net ‘n grys massa wat niks meer werd was nie. Dit moes vervang word met (ja!) sout. Hulle het hierdie grys massa op die paaie gegooi om daar vasgetrap te word. Lees nou weer die versie van die sout. Maak dit bietjie meer sin vir jou?

Dan is daar ‘n ander dinge wat ek weet, maar weer raakgelees het:
·         Daardie growwe, gelerige sout met die sand in is goed genoeg om ‘n beesvel mee te sout, maar as jy die mooi soutpotjie op jou tafel wil sit, gebruik jy fyn tafelsout, nie waar nie?
·         Daar is kulture waar mense sout saam met mekaar eet as teken van hulle vriendskap.
·         Ons weet ook dat sout ontsmet en preserveer.

Nou kom ek terug by Sannie en haar vriendskap met Loeloe... As ek die storie van die sout lees en ek sit twee en twee bymekaar, kry ek vier. Dit smaak dan nou vir my dat, al klou Sannie met alles wat sy het aan die vriendskap met Loeloe, dit haar niks gaan baat nie, is dit nie so nie? Dit lyk nou asof dit meer van 'n illusie as die ware Jacob is? So, waarom klou die stomme vrou nog aan iets wat nie meer bestaan nie?

Ek dink jy moet my nou eers verskoon, 'seblief. Ek kan nie verder gesels nie. Ek wil vir Sannie gaan soek en vir haar die storietjie van die sout vertel... of hoe reken jy?


Woensdag 13 Junie 2018

WINTER IN DIE NAMIB

Toe ek in die skool was, was veral twee vakansies vir ons as kinders baie belangrik. Die ses-weke vakansie in Desember en die drie-weke vakansie in Junie/Julie. Ja, ons het hulle regtig so genoem, want dit is hoe lank hulle was.

Die somervakansies was die lekkerste. Iewers het ons (soos byna almal in die Namib) Lüderitz toe gegaan vir ‘n week of twee. Ogg, fees der feeste se lekker kuierplek met goiingsakke vol kreef en soveel roomys by die Strand Kafee as wat jy moontlik kan verorber. En dan, natuurlik, was Kersfees ook nog daar.

Die Junie-vakansies was ‘n totaal ander saak. Was jy al in die woestyn in die winter? As jy was, sal jy nou kopknik en saamstem. Koud. Nee, ysig koud. En ‘n wind wat net nooit einde kry nie. Sleg? Nee, glad nie. Ongemaklik? Ja, gewis!

My vroegste herinnering aan wintervakansies, is soggens se warm kombuisie met die koolstoof. Ma jaag aan: “Dek gou die tafel klaar, Pa is al terug van die veld af.” Pa kom van buite af in. Toe die deur oopgaan, hoor jy iewers buite lammers blêr. Hy soen jou. Sy gesig is yskoud. Sy blonde kop is windverwaaid. Sy swart leerbaadjie ruik na veld en buitekant. Ma sit sy koffie voor hom neer. “Hoeveel lammers is daar vandag, ouding?” Ek hoor nie sy antwoord nie. Die pap en worsie is stomend warm. Pa murmureer oor ek suiker en sous oor die pap gooi. “Jou Engelse Jood!” (Dit beteken jy is dommer as dom!) Halfpad deur die ete vra Ma ek moet solank die tee maak. My tee is nog warm in my koppie as Pa die Bybel vat en lees. Hy bid. Ons hou almal hande. Pa is haastig. Dis lamtyd. Hy trek die pelsies self oop, niemand durf hom ooit daarmee help nie. Sy werk is sy werk is sy trots!

Waarom sou dit wees dat daar soveel begrafnisse in daardie vakansies was? Oumense, jongmense, kinders, de lot. Of is dit dalk net ek wat dit so onthou? Die yskoue wind wat om die verwese mense waai by die graf. Stof. Blare. Nog stof. Yskoue smart. Na die tyd het Ma skons en broodjies en lekker warm sop. Opeens is almal hartlik en gesellig in die eetkamer; eintlik die hele huis vol. Iewers het iemand nog ‘n hand of twee gebring om die massas skottelgoed te was na die tyd. En dan, vanaand, die ontsettende stilte in die huis. En my gedagtes wat nie tot rus wil kom oor die mens wat daar buite in die wind en ysige eensaamheid lê nie. Wanneer raak ‘n mens daaraan gewoond dat ‘n dooie ‘n dooie is en dat wind en weer nie meer saak maak nie?

Wintertyd is jagtyd. Ons plaas lê langs die uitgestrekte bittereindes van die Namib met geen grensdrade tussenin nie. Ou Tilla gaan jag daar waar ons nie mag jag nie. Die gras is hoog en die grassade maak hopie onder die motor op die spaarwiel. Toe hy vir hom kom kry, is die veld aan die brand. Daardie dag sien ek hoe gee mens vir mens om, hoor. Almal jaag met dromme water en sakke en ekstra hande, want die vuur moet dood. Ek en Ma en ousus moet die springbokke aan die hake onder die boom ophang. Ons is nog klein, man, en die arms wil nie saamspeel nie. Ma draai die springbok se stertjie om haar hand om ‘n lekker stewige greep te kry vir die optelslag. Maar ai! As ons so optel, peul die bokdrolletjies so uit en ek en ousus laat val die bok – ons lag te veel, sien. Ma raas, maar dit help nie, ‘n drolletjie is ‘n drolletjie en dis vrek snaaks!

Kinders word nie in die badkamer gebad nie. Dis ‘n baie ou plaashuis en die badkamer is op ‘n stoepie amper so half buite die huis. Saans word die sink badjie ingedra kamer toe. Warm water in die badjie. Kindjie word gebad en (onthou om die gaatjie toe te maak!) warm aangetrek voordat ons by Pa en Ma in die kombuis gaan sit.


As die wind waai soos hy vandag gewaai het, dan is ek weer kind op die plaas. Ek sit in die kombuis en ek hoor hoe huil die wind om die huis se hoeke. Ek wil tee gaan maak en vir Pa gaan gee daar waar hy die velletjies staan en ooptrek. Ek wil hoor hoe hy “Dankie, Mart-Marie.” Ek wil binne-toe loop en vir Ma tee vat en kyk hoe sy die een rok na die ander vir ons sit en maak. Ek wil, al was dit koud en soms onsmaaklik, so graag net eenmaal weer kind wees in die winter. Seblief tog, toe?

Vrydag 08 Junie 2018

ONS S'N (GELEEN) VIR ALTYD


Ons ken almal so ‘n gesin. Of, dalk IS julle so ‘n gesin? Ek sal verduidelik, dan besluit jy maar self. Ek ken meer as een so ‘n gesin, maar om nie seer te maak of aanstoot te gee nie, is hierdie storie suiwer fiksie.


Hulle troudag is ‘n feestelike affêre en die hele kontrei is genooi. Wie sal dan nou nie Danie en Krummeltjie se troue wil bywoon nie? Hulle is alombekend en twee lieflike jongmense. Danie het die plaashuisie mooi opgeknap en alles is reg dat Krummeltjie kan kom intrek na die troue. Krummeltjie hou skool, maar sy maak net hierdie semester klaar, en dan word sy boervrou. Wat ‘n vreugde! Wat ‘n mooi verhaal. Almal slaan die hande saam oor hierdie lieflike twee jongmense.

Uiteindelik is Krummeltjie ook op die plaas. Danie boer heeldag en Krummeltjie het haar hoenders en tuin wat haar besig hou. Saans kuier die tweetjies op die stoep tot laat. Hulle is so ontsettend ief vir mekaar!

Na die eerste goeie lamer-oes begin die tweetjies praat van ‘n pienkvoet. Ja, dit is wat nog kort in hulle huisie – ‘n babatjie! Krummetjie bel haar ma en deel die goeie nuus: Ons het ‘n bestelling ingesit vir ‘n klein Danie. Ag, as dit ‘n klein Krummeltjie is, sal hulle net so bly wees, hoor.

Maar die maande, en later jare, sleep verby en die bestelling word nooit afgelewer nie. Danie se twee jonger boeties is al lankal pa van hulle eie broedseltjies en Krummeltjie se sussie het ook al ‘n kleintjie. Elke keer as Danie en Krummeltjie by die nagmaal kom, vra almal by die kerk of hulle dan nie ook vorentoe wil boer nie. Krummeltjie het elke keer ‘n ander antwoord, maar die mense glo haar lankal nie meer nie...dalk wil sy net eenvoudig nie vorentoe boer nie, ha?

Op ‘n dag wil Krummeltjie nie dorp toe gaan vir die nagmaal nie. Danie is ontsteld! “Skaam vir jou, Krummeltjie, jy kan mos nie so kom staan en maak nie. Natuurlik gaan ons nagmaal toe.” Maar Krummeltjie het klaar besluit, sy gaan nooit weer nagmaal toe voor sy nie ‘n baba het nie. Want sien, die mense se vrae maak haar tog so bitterlik hartseer. Sy weet lankal nie meer hoe om dit te beantwoord nie, nou sal sy liewer maar by die huis bly. En net daar besluit Danie dat hy dan maar saam met Krummeltjie by die huis sal bly.

Die dominee en die kerkraad en die voorsitter van die skoolraad (Krummeltjie was mos ‘n juffrou!) en wie almal kom plaas toe en kom praat mooi, maar die tweetjies het klaar besluit. Hulle bly by die huis totdat...!

Drie jaar later is Danie en Krummeltjie weer by die nagmaal. Danie dra die mooiste ou babatjie die kerk binne. Almal oe en aa, want dit is dan ‘n yslike groot kind en hulle het nie geweet dat Krummeltjie in die ander tyd was nie. Hoe het dit nou gebeur? Maar Danie en Krummeltjie se monde is gesnoer. Hulle het hulle eie ou broedseltjie en dit is al wat belangrik is. Waar hulle vir KleinDaan gekry het? Wat maak dit saak, ha? Hulle glimlag van oor tot oor, want nou kan niemand meer ongemaklike vrae vir Krummeltjie vra nie.

                                               
Danie is ‘n flukse boer en sy boerdery brei mooi uit. Hy bou vir Krummeltjie haar droomhuis en sy lê ‘n groot tuin aan. KleinDaan word nou groot en moet skool toe gaan. Krummeltjie se ogies raak hartseerder by die dag, want waarom is daar nog nie ‘n klein Krummeltjie nie? Die huis met die baie slaapkamers raak doodstil toe KleinDaan koshuis toe gaan.

Krummeltjie se suster kom kuier op die plaas. Sy huil. Haar man het haar gelos en die baba is maar nog net tien maande oud. Hoe moet sy vir Santjie sorg? Sy kan nie eens vir haarself sorg nie, man. Toe sy huis toe gaan, bly Trientjie by Krummeltjie en Danie agter. Krummeltjie kan weer lag!

So word die groot, stil huis vol met ander mense se kinders. Die dorp se posmeester verongeluk en die vrou sit met drie orrelpypies. Danie bring een van hulle plaas toe om ‘vir eers’ by hulle te bly. Die een na die ander kom trek hulle in om ‘net eers ‘n rukkie ‘ te bly. Die plaashuis lyk soos ‘n koshuis as dit vakansie is, maar dit is die gelukkigste ‘koshuis’ wat nog ooit bestaan het. Hulle is nie altyd almal daar nie, want hulle gaan (soms) na hulle eie ouers toe vir ‘n vakansie.

Op ‘n dag is daar ‘n rusie tussen die meisiekinders. Die een skree vir die ander: “My ma het gesê ‘n mens mag dit nie doen nie!” Die ander een skree terug: “Maar my ma het gesê ‘n mens mag dit doen, jy moet net jou perke ken.” Janneman gryp die meisiekinders elkeen aan ‘n arm. “Jou ma het DIT gesê, nê?” sê hy vir die een. “En jou ma het DAT gesê, ha?” sê hy vir die ander een. “Nou kom ek vra nou vir julle net een vraag. Net een! En julle hoef my nie te antwoord nie, julle moet net daaroor dink voordat julle verder rusie maak. Reg?” Hy wag totdat hy albei se aandag het voordat hy vra: “En wat, liewe susters, sê Ma Krummeltjie daaroor?” Hulle kyk hom groot-oog aan, want hulle besef, eintlik het hulle maar net vir Pa Daan en Ma Krummeltjie.

Die kinders word groot. Hulle eie ouers kan nog altyd nie help nie, maar hulle weet dat Pa Daan sal sorg...soos altyd maar. KleinDaan word ‘n predikant. Santjie het geleer vir ‘n rekenmeester. Trientjie het nie gaan leer nie, sy werk in die bank. Janneman het gevra Danie moet hom help om sy eie stukkie grond te koop sodat hy ook so ‘n goeie boer soos Pa Daan kan word. Driekie is nou ‘n verpleegster en Petrus het ‘n natuurbewaarder geword.

Die groot huis is weer stil, maar Krummeltjie en Danie is tevrede. Die lotjie het nou byna elkeen sy of haar eie gebroedsel en as hulle kom kuier is dit ‘n aardigheid hoe oupa en ouma koer oor die ou kleintjies.


En toe tref die groot hartseer hulle. Pa Danie se hart was nog altyd ‘n probleem, jy weet. En een oggend word hy toe maar net nie weer wakker nie. Krummeltjie se hart is gebreek. Wat moet nou van haar word? Wie sal na haar kyk? KleinDaan (die enigste eie kind) het dit ook maar nie breed nie en hy sal nie vir haar kan sorg nie.

Die dag met die begrafnis is die huis te vol vir al die begrafnisgangers. KleinDaan lei die diens. Toe hy die bedankings namens die familie wil doen, staan Santjie, Trientjie, Janneman, Driekie en Petrus soos een man op en kom staan by hom. Janneman het iets op die hart: “Ma Krummeltjie, ons het vir Pa Daan kom groet vandag. Maar weet jy, Ma Krummeltjie, nou is dit ons beurt om terug te gee – ons wat hier saam met KleinDaan staan, ons belowe vandag dat ons na jou sal kyk.”


Maandag 04 Junie 2018

WANNEER MY LUISTER OPGERAAK HET

Was jy ook al daar? Jy weet, daardie oomblik wanneer jy voel maar nou het jy genoeg geluister vir vandag – jou luister het so pas opgeraak. 

Nog nooit? Nee man, ek glo dit nie. Dit gebeur gereeld met my dat ek in ‘n geselskap sit en besef ek moet nou onmiddellik vlug vir ‘n paar oomblikke se stilte, of anders...! Of anders wat? Ek weet nie, want ek het nog nooit probeer uitvind nie.

Ons kuier en gesels dat die spoeg spat en almal is tog so gesellig en gelukkig, maar iewers in my binneste begin ietsie (iemand?) in opstand kom. Nee, kom nou Martha, dis nou genoeg vir vandag. Jy kan môre of anderdag verder kuier. Om vredesnaam, kom nou net asseblief weg uit hierdie geselskap (lees: geraas) uit.

Ek dink dit is sulke tyd helder en duidelik op my gesig geskryf dat my ore intussen albei bottoe geslaan het. Of dalk is dit nie noodwendig my ore nie, hoor. Dalk is dit die kop wat nou so vol van die ‘geraas’ is dat hy niks meer kan of wil inneem nie. Die opstand kom staan in hoofletters tussen my en die res van die geselskap en doen wat ek wil, ek kan nie verder luister nie.

Ek kom dit deesdae al meer en meer oor. Dit maak my erg verleë, maar ek het nie beheer daaroor nie. Ek meen te sê, as my ore nie hoor nie, dan hoor hulle nie! Wat is daar om te doen daaraan?

Selfs sosiale media raak (by tye) vir my te veel en dan vlug ek so 'n bietjie. Almal verstaan dit nie en baie neem hewiglik aanstoot, ek weet. Maar hoe moet ek maak as ek nie nog net een woord (prentjie/grappie/mooi versie) kan inneem nie? Dalk moet jy net so 'n klein bietjie briek en net nou en dan vir my 'hallo' of 'howzit'? Ek weet nie, hoor. Ek dink maar net aan my ore wat so ongeskik raak by tye.

Nee, dit het nie te doen met jou of met wie ookal nie, dis my luister-ore wat nie meer wil luister nie. Jy weet mos dat ‘hoor’ nie altyd ‘luister’ is nie, ha? Jy hoor, maar jy luister lankal nie meer nie. Dis seker hoekom die oumense die sêding gehad het: Daar is niemand so doof soos hy wat nie wil hoor nie.

Dit begin my toe pla dat ek so totaal en al ongeskik is wat die luister aan betref en ek begin soek om te sien (hoor?) of daar meer van hierdie ongeskikte spesies op aarde is wat soos ek is. En sowaar, ek is toe nie alleen nie. Daar is regtig ‘n hele kamer vol mense wie se luister ook redelik gereeld by die venster uit vlieg.

Sulke tye wil jy asseblief alleen wees. Dit is goed om alleen te wees, man. Nee, nou nie vir altyd en altyd nie, maar dikwels genoeg sodat jy net weer by jouself kan uitkom. Sodat jy jou binnekant so ‘n bietjie buitekant toe kan uitdop en bekyk en, waar nodig, ‘n bietjie salfies kan smeer of dan net ‘n bietjie aandag kan gee. Ons het nodig om lief te wees vir onsself en ons moet, soos ons graag met ander mense doen, na onsself kyk en ‘luister’ na die pyne en seerplekke wat soms ontstaan. Net so moet ons ook hoor as al ons sintuie opeens in opstand kom teen, in hierdie geval, ‘n te woelige geselskap.
            

Iemand was gaaf genoeg om ‘n bietjie raad te gee oor hierdie dowe ore wat nie wil luister nie: Dit is goed om doelbewus jou alleentyd te beplan en te geniet – tye waarin jy jouself, soos die Engelse so mooi sê, kan ‘pamper’ en lief kan hê. Tye waarin jy kan leegmaak van die gejaag, en weer kan volmaak met die mooi en die goed van die lewe. Ek praat nie van op die bed lê en lees (soos wat ek ook graag doen nie), ek praat van doelbewus sit en binnetoe kyk...en dankbaar wees SONDER om te kerm en kla. Jy kan selfs, as jy sukkel met alleentyd, ‘n joernaal hou en gedurende jou ‘self’tydjies, jou skatte neerskryf. Dit help jou om te fokus, maar dit is ook goed vir wanneer jy dalk anderjaar weer daarin lees.

Saterdag 02 Junie 2018

ONS PAK HARTE UIT

Ek dink jy versinnebeeld baie van jou lesers se eie drome. EN met baie van jou skryfsels sien ek (en ek dink baie ander lesers) hoe jy my eie hart omdop en uitskud op die tafel (soos jou handsak op soek na karsleutels of 'n lipstiffie). Dis hoekom ons lees. Wat jy skryf is nie hoogdrawende letterkunde, filosofie of teologie nie. Dis mensgoete. Jy praat in ons harte, gedagtes en siele in en dis goed. Dankie. Hou aan. Ons sal lees so lank jy skryf. Vader, hou asb aan om vir Martha te seën. U weet beter as ons dat sy dit verdien.

Ek kry hierdie boodskap van lief-Petro en daar gaat die gedagtes! Jong, dis mos vreemd hoe die een ding kan lei tot die ander. Mense vra my soms waar kry ek alles waaroor ek skryf, dan antwoord ek (gewoonlik): Jy moet oppas, as jy ‘n ding sê, raak jy later ‘n storie. En dis nou net so, hierdie een maak toe ‘n ding hier bo in die grysstof los en ek besluit ons moet harte uitpak.

Ons is ses vriende rondom die tafel met die spierwit tafeldoek. Elkeen sit met wit handskoene – alles is skoon en kiemvry. Want sien, ons moet harte uitpak en dis ‘n ernstige storie. Daar mag nie kieme en goggas en goete rondloop nie. Hierdie moet ‘n silwerskoon ding wees – ons wil nie besoedel word nie, regtig nie.

Eers is almal huiwerig, maar dan doen ons dit. Elkeen haal daardie kosbare hart uit en sit dit op die spierwit tafel neer. En daar lê die ses mooi harte voor ons. Ons kyk met ontsag na die harte...is my hart dalk swarter as die ander s’n? Lyk myne dalk meer misbruik as die ander harte? Dis vreemd en ongemaklik, jong. ‘n Mens wil nie jou hart so blootstel aan ander mense nie. Nee man, netnou net sien hulle daardie goed wat ek so hard probeer om weg te steek. Sê nou maar hulle sien...? Ek is sidderend van spanning, want ek was nog nooit so blootgestel voor my vriende nie. Sowaar, dis nie ‘n grap hierdie nie!

En dan! In die middel van die tafel lê die ses dissekteermessies. Ons steek ons hande gelyk daarna toe uit en elkeen vat ‘n blink, nuwe messie. Ons weet presies waar ons die eerste sny moet maak. Jy sien, ons wil sien! Ons wil oopmaak en kyk of ons regtig, egtig so oulik is soos wat ons dink ons is. Dis mos maklik om ander mense om die bos te lei en jy lieg lekker vir jouself. Dit het ek al baie gesien – ek lieg so erg vir myself dat ek dit vir evangelie verkondig. Wragtag, dis nie ‘n grap hoe ‘n mens kan lieg vir jou eie, eie hart nie.

Voordat ons aan die sny gaan, moet jy weet hoe dit gaan werk. Elkeen sny haar eie hart en elkeen se hart het sy eie (probleem)kamertjies. Ons sny net daar waar daar probleme is vandag. Die gesonde kamertjies kan wag vir anderdag.

Iemand gee die opdrag: Sny!

Die eerste sny is diep en seer. Daar is nie bloed nie – nog nie. Ek sit en kyk na hierdie oop hart. Nee, alles lyk nog redelik reg. Alles lyk nog skoon. Of nie?

Ek hoor dat een van my vriendinne kla oor die swart kolletjies wat sy sien in haar eerste kamertjie. Mmm, dit werk maar so, jong. Ons weet nie altyd hoe lyk ons vir ander mense nie, ha?

Ek is hier in my vriendelikheid kamertjie. Ek is regtig geskok wat ek hier sien. Ons dink ons loop altyd met hierdie groot smaail, maar intussen sit die frons van frustrasie so heel dwars-oor ons mooi gesiggies. Ek vat die wit lappie en vryf-vryf aan die kolletjies. Dit lyk my hulle sit asof hulle nie wil afgevee word nie. Ai! Gelukkig is ek nie die enigste een wat sit en vryf met die lappie nie.

Die tweede sny maak so ‘n bietjie seerder. Ons gaan nou ‘n bietjie dieper in hierdie mooi harte van ons. Daar is ‘n effense teken van bloed ook. Eina, man, dis seer om so gedwing te word om die binnekant te bekyk. Waar is ons nou? Hierdie een se naam is ‘Agterdog’. Nou hoekom moet daar so ‘n kamertjie wees, vra ek. Dit gaan jou  mos nie aan as ek jou nie vertrou nie, of wat?

Ek sit en kyk geskok na my hart. Hier is ‘n pikswart besigheid aan die gang. Is ek regtig so agterdogtig teenoor almal? Is dit nou regtig so dat ek niemand vertrou nie? Nee, man, dis nie waar nie. Ek vat vir wit lappie en skrop dat dit bars, maar dit lyk nie of dit werk nie. Die swart kolle raak ligter, maar hulle sit vasgebrand in my hart.

Ek kyk ‘n oomblik op na my vriendinne. Niemand traak meer oor niemand nie. Elkeen sit en staar in afgryse na haar eie besoedelde hart. Ek is dus nie die enigste een wat probleme het nie. Dankie tog vir hierdie stukkie genade.

Ons hoor weer die opdrag dat ons moet sny. Ek sny. Dis baie, baie seer. Die bloed loop nou. Ek sien nie my hart nie. Daar is net een swart massa. Liefdeloosheid. Jy lieg vir my! Ek sweer ek het almal rondom my lief. Sowaar soos vet, man. Ek kyk mooi om te sien of dit regtig my hart is, want dit kan nie waar wees nie.

Ek probeer nie eens skoonvryf nie. Ek sit net en staar in afgryse na hierdie gemors hier voor my. Iewers huil iemand. Dis toe my vriendin haar hand op my skouer sit dat ek besef dat dit ek is wat so huil.

Sny!

Nee, ek kan nie verder gaan nie. Ek weier om die messie op te tel. Iemand sit dit in my hand en ek sny.

Nee, ek weier om verder te gaan met hierdie speletjie. Dis lankal nie meer ‘n speletjie nie. Dit was nog nooit ‘n speletjie nie.

Ek kyk op. My vriendinne sit verstar. Elkeen het haar eie wroeging oor dit was sy so pas moes aanskou.

Ons tel ons verwonde harte op en sit hulle terug waar hulle hoort. Ons praat nie oor dit wat ons so pas gesien het nie. Want jy sien, dis seer. Dis dodelik seer. Onbeskryflik seer.


Toe alles opgeruim is kyk ons na mekaar met ontsag en liefde. Opeens het jy hierdie geweldige liefde en respek vir jou susters in die lewe. Jy het gesien...en nou kan jy verstaan.

Vrydag 01 Junie 2018

MY DROOMBOEK

Het jy ook ‘n droomboek? Nee, ek bedoel nie ‘n boek waarin jy soggens skryf oor alles wat jy vannag gedroom het nie. So ‘n boek sou ek liewer ‘n droomjoernaal noem, ha? Ek praat van ‘n boek waarin jy alles skryf waarvan jy nog net droom, maar wat jy hoop eendag waar gaan word. Nee, ek moet myself korrigeer: Dit is die boek waarin jy daardie dinge skryf wat jy GLO almal waar gaan word. Mmm, iemand noem die begrip die ‘bucket list’. Ja, dis dalk meer so iets, maar ook nie heeltemal nie.

Nou het ek jou verwar, sien ek. Kom ek verduidelik vir jou waarvan ek praat. Gaan lees ‘n bietjie die volgende vers en dan dink jy daaroor vir ‘n oomblik of twee.

Hebreërs 11:1 (Afr83)


Goed. Nou kan ons verder gesels. Ek vertel jou sommer van my boek, dan weet jy waarvan ek praat.

Ek het baie lank gelede by iemand die idee gekry om hierdie boek te begin. Ongelukkig, soos dit met baie ander dinge gaan, vergeet ek soms sommer vir ‘n baie lang tyd dat die boek in die rak staan.

In hierdie boek is ‘n hele paar blaaie wat ek al kon afmerk en met ‘n groot glimlag terugdink aan die dag wat ek die spesifieke ding daar geskryf het.

Daar is byvoorbeeld die muur rondom ons huis. Ek het iewers in 2009 ‘n prentjie in die boek geplak van ‘n groot erf met ‘n baie hoë muur rondom. Sien, ons het net ‘n draadheining gehad en dit was ‘n groot ellende. Al wat ‘n hond is het óf binnetoe (dis nou hulle wat buite was) óf buitetoe (hulle wat binne was) onderdeur die draad gegrawe. Ons was elke hoe lank met klein hondjies opgesaal. Niks, maar niks kon hulle keer nie. Die dag toe ek daar langs die prentjie geskryf het: Ons het ‘n baie hoë muur rondom ons erf, kon ek behoorlik die muur sien met my ‘binneste’ ogies. Ek kon voel hoe bly ek is dat die muur uiteindelik gebou is. Ja, ek het ook sommer dankie gesê dat die muur daar is. En toe, so twee jaar gelede, kon ek uiteindelik my regmerkie langs daardie een maak.

Daar is ‘n bladsy met die prentjie van die lugverkoeling in ons kamer. O aardetjie tog! In Keetmanshoop kan jy mos nie lewe sonder ‘n lugverkoeling nie. En tog het ons meer as dertig jaar lank net met waterverkoelertjies oor die weg gekom. Toe ek die inskrywing gemaak het, het ek gevoel hoe lê ek in die koelte in my kamer. Ek het gevoel hoe trek ek later die komberse oor my, want dit raak te koud. En dan, wanneer ek weer op ‘n dag deur die boek blaai, het ek elke keer die koelte gevoel rondom my en elke keer het ek opreg dankie gesê vir die voorreg om lugverkoeling in die huis te hê.

Jy frons? Jy moet mooi verstaan dat ek nie ‘n soort van ‘n feëverhaal vir myself geskep het en dan elke nou en dan daarin verdwyn het nie. Dit is glad nie die geval nie. Gaan lees gerus weer die vers in Hebreërs 11. “Dit is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Feëverhaal? Nee, glad en geheel nie. Ek noem dit vertroue.

Dan is daar die gesegde wat vir my net lekkerder in Engels as in Afrikaans klink en sê: What you say is what you get. Ons almal weet mos dat ons skep met ons woorde.

Staan nou maar in die oggend op en jy besef jy het verslaap. Jy vlieg uit die bed uit en niks loop reg nie. Jou bloes is nie gestryk nie en nou het die yster skielik ‘n skeet en dit weier om warm te word. Jy wil jou skoene aantrek, maar die hond het een gevat en wie weet wat daarmee gemaak dat jy dit nêrens kan kry nie. Jou eerste woorde is dan gewoonlik: Vandag is weer een van dáárdie dae. Nou kan ek maar net vir jou sê, dit sal vir seker een van DAARDIE dae wees want jy het dit so pas vir jouself toegeëien.

Nou, as bogenoemde waar is, waarom kan die positiewe sy daaraan nie ook waar wees nie? Waarom kan ons toelaat dat woorde ons dag of selfs ons lewe bederf, maar ons wil nie erken dat woorde ons ook positief kan beïnvloed nie?

Jy vra my wat alles is nog in die boek wat nog nie waar geword het nie? Jong, ek het so ‘n lang lys dat ek seker vir altyd en altyd en nog ‘n hele rukkie langer sal moet lewe. Daar is die bottelgroen BMW. (Ek klim in hom en ek ruik daardie leersitplekke!) Die bootreis. Die kuier in Duitsland. Die African Grey het ek twee jaar terug by my kind gekry, dankie tog. Daar is ‘n hele klompie wat reeds afgemerk is, maar nog meer wat nog wag om te gebeur.

Nou moet jy ook weet dat, wanneer jy dit daar skryf en jou prentjie plak, moet jy asseblief nie begin redeneer oor hoe en waar en wanneer nie. Jy hoef nie al die planne in plek te hê nie, hoor. Dit is mos in elk geval nie jou ‘worries’ nie, is dit? Ek gesels vandag met ‘n vriendin. Sy wil so graag nog verder studeer, maar...! Sy wil baie graag haar eie besigheid begin, maar...! Los jy maar die ‘maars’ en die ‘hoe’s’ en die ‘wanneers’. Hulle sal self uitwerk op hulle eie tyd.

En so met die blaai deur my boek vandag, kom ek op ‘n inskrywing af wat ek in 2010 gemaak het. Dit is min of meer die volgende: My boek is gepubliseer en dit is ‘n weghol sukses. In 2012 het ek weer ‘n inskrywing gemaak: Ek het my boek voorgelê aan ‘n uitgewer, maar dit is afgekeur. Daar skryf ek toe die volgende: Vraag aan self – Wanneer gaan jy die stories wat in jou kop is begin neerskryf?

Nou hoef ek nie verder te verduidelik nie, hoef ek? Ongelukkig het dit my tot 2016 gevat voordat ek die stories in my kop begin neerskryf het. Uiteindelik! Waarom ek so lank gewag het kan ek jou sowaar nie antwoord nie, jong. My boek met kort blog-inskrywings is gepubliseer en my roman is intussen ook publiseer. Van die weghol sukses is daar nog nie ‘n teken nie, maar intussen gaan dit voorgelees word op Kanaal 7, die christelike radiostasie in Namibië. Dit is vir my so 'n groot opgewondenheid dat ek jubel en juig daaroor. Ek kan net die Vader dank vir sy goedheid en guns oor my lewe, wat meer?

En nou het ek jou van my boek vertel en hoe ek die regmerkies die een na die ander kan maak. Ek skryf steeds nuwe dinge ook by, want wie wil nou stagneer en nie nuwe drome en wense hê nie?



En nou vra ek maar net weer: Het jy ‘n droomboek?

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...