Saterdag 04 Januarie 2020

KLEINTYD SE DROME


Dis seker maar deel van grootword, want deesdae bly my kop maar neig na vergange se dae. As ek my kom kry, is ek weer veertig/vyftig jaar in die verlede aan die delf. Ek hoor nou my oudste: “Maaaa!” en ek kry lekker lag so by myselwers. Ja, ek weet, ek het al te veel kere dieselfde ou storietjies oor en oor vertel.
Maar een ding wat ek nog net met een of twee mense gedeel het, is my kleintyd-begeerte om tog ook oor die radio te kan praat. Man, dit was nie net ‘n droom nie, dit was ‘n obsessie by my. Dag en nag het hierdie idee by my gespook om ook so te kan vertel en lag en selfs sing op die radio soos ander mense. Ek meen te sê, as hulle kan, hoekom nie ek ook nie?
Die enigste probleem is dat ek glad nie geweet het wat die proses is om hierdie droom van my te bewaarheid nie. Ek het gelukkig ook vir niemand gevra nie, want dan was my drome vroeg-vroeg al daarmee heen.
Ek onthou hoe ek as klein dogtertjie op die swaai gesit en perform het. Ek het aankondigings op die radio gemaak, stories vertel en nou en dan nog vir my gehoor gesing ook. In my klein koppie was dit baie eenvoudig – iewers is daardie ‘iets’ wat jou opneem wanneer jy perform en ek het maar net altyd gehoop daardie ‘iets’ neem my ook op en saai my oor die radio uit.
Baie jare later studeer ek onderwys. Deel van ons praktiese opleiding is om hierdie ou groot bandopnemers te operate. Jy moet die band inryg en dan ‘n stuk lees wat jy moet opneem. Sal die dosent sowaar vir my die mooiste kompliment ooit gee: “Jy het ‘n baie goeie stem vir die radio.”
Ag man, maar die ou droompie is toe so saam met die jare se winde iewers heen gewaai. My roem, weet ek vandag, sal toe nie kom omdat ek so ‘n wonderlike omroepster is nie. Op ‘n manier voel ek so half weemoedig daaroor, maar dis nou maar so!
‘n Ander droom van my wat gebore is toe ek so min of meer tien of elf was, was om ‘n storie van my in ‘n boek te sien. Daarvoor kan ek die Vader dank dat dit toe wel gebeur het. Dit was ‘n lang gesukkel, maar ons het daar gekom.
Hierdie droom is egter nog baie ver van vervulling af, hoor! Soos enige ander skrywer sal ek ook maar  bly glo dat daardie GROTE nog eendag gebore sal word en op die rakke sal pryk. Ydele drome? Watwou! Hou maar dop ... eendag is eendag (vertel my gelowige hart vir my!)
 Vreemd genoeg het ek nooit in my kinderdae begeer om ‘n onderwyseres te word nie. Nooit, ooit was dit deel van my raamwerk nie. Ek wou drama gaan swot en perform van die oggend tot die aand – ‘n droom wat my voorligting-onderwyser met sy mooi, blink skoene in die stof getrap het.
Ek het al baie gewonder hoe my lewe sou verloop, het ek die kans gehad om my droom te vervul. Maar helaas, daardie antwoord sal ek nooit kry nie.

Dit laat my maar net weer dink aan die gedig van Robert Frost ...


Donderdag 02 Januarie 2020

PIET BESWAARD HOU NUWEJAAR

Vir ou Piet Beswaard was dit nie ‘n maklike jaar nie, hoor. As daar ‘n ding verkeerd kon loop met iemand, dan het dit met ou Beswaard gebeur.
Vat nou maar die keer toe daai swendelaar hier in die dorp kom lol het. Almal het deur sy plannetjies gesien, net nie onse Pieta nie. Nee, hy loop glo toe die man en verloor sy hele lammer-oes se inkomste. Ou Beswaard het vir ses maande geleef van die spesiale kollekte wat Dominee vir hom in die kerk gehou het.
Anderdag weer vat die ou sy bakkie om ‘net ‘n endjie te gaan ry’, maar o wee! ‘n Wolkbreuk tref die dorp en daar gaat bakkie met die rivier af.
Onse Piet se Marie het lankal die pad gevat. Sy kon nie langer aanskou dat alles wat ellendig is die stomme man tref nie. Sy is toe weg met die Engelsman wat boeke of iets by aan die skoolkinders kom verkwansel het. Nou bly hy stoksielalleen met sy makoue en katte daar aan die rand van die dorp.
Niemand weet hoe dit met die ou gaan nie. Niemand is bereid om ‘n geselsie aan te knoop nie. As jy hom (uit ordentlikheid) vra hoe dit gaan, is daar net een antwoord: “Ellendig, my broer, ellendig … het ek jou vertel van die keer toe …”
Die dorp is in rep en roer. Dominee kondig in die kerk af dat almal hierdie jaar gerus ‘n slag as gemeente oujaar kan groet en nuwejaar kan welkom heet. Sal dit nou nie lekker wees nie?
Oujaar val vanjaar mooi op ‘n Vrydag. Die program is mooi uitgewerk: Lekker kuier en braaivleis van vieruur die namiddag af, die kerkdiens is van halftwaalf tot twaalfuur, en dan begin die dans vir die nuwejaar. Wonderlik!
Daar is egter net een haakplekkie, maar Mevrou Dominee sien kans om dit aan te spreek. Almal waarsku haar, maar sy glo sy is die regte persoon vir die takie.
Piet Beswaard is die enigste man met ‘n spitbraai in die dorp. Hy het selfs op ‘n dag ‘n hele bees op sy spit gehad … en was dit lekker! Nou vra jy my wat is dan die probleem met Pieta en sy spitbraai?
Hemel, mens, weet jy nie van die ou se ‘probleempie’ nie? Nee, ek praat nou nie van die ongeluk wat hom so ry nie – dit is ‘n probleem van ‘n ander formaat hierdie keer. Jy sien, wanneer ou Beswaard braai, kan hy dit net doen met die hulp van ‘n botteltjie of twee … of selfs meer. Met die een hand doen hy sy dinge met die spitbraai, maar die ander hand bly besig met die botteltjie.
Eintlik het die kerkraad gestem dat hulle nie vir Pieta daar wil hê nie. “Nee, jinne, Dominee, daai man is ‘n skande vir ons dorp. Los hom dat hy by sy huis bly en ellendig wees op sy eie tyd.” Dit was net die hoof ouderling en Mevrou Dominee wat besluit het dat die man ‘n kans moet kry om ook ‘n klein bietjie geluk te smaak.
Dominee het so ‘n bietjie ongemaklik rondgeskuif op sy stoel voordat hy geantwoord het: “Nou maar reg, kom ons gun die man dit.”
Pieta daag by die kerksaal op met die spit, sy kampstoel en ‘n paar koffieflesse. Hy maak sy vuur, kry die spit aan die gang en skop voete uit op sy kampstoel.
Niemand is bereid om te vra wat in daardie flesse is nie, maar Mevrou Dominee stap later nader. “Pieta, gee dan daar ‘n bekertjie koffie, toe?”
Pieta spring op en skink vir haar ‘n bekertjie koffie. Die twee gesels land en sand oor die wel en die wee van die lewe. Na ‘n uur of wat verskoon sy haarself. “Die koffietjies raak nou ongemaklik baie, jong. Ek is nou terug,” knipoog sy vir Pieta.
Tannie Bessie het al lankal ‘n oog op ou Piet. Sy mik vir die stoel, maar hy keer haar weg. “Dis Mevrou Dominee se plek daai, Bessie.”
Die gemeenste is tevrede dat daar niks buiten koffie in die flesse is nie en dit raak ‘n heerlike kuier. Hier en daar waag een dit om ‘n biertjie te drink, maar dan vat Dominee hom eenkant toe en praat hom aan.
Dis kerktyd. Dis om die draai van die kerksaal af en almal stap sommer soontoe.
Mevrou Dominee is die orreliste. Sy speel altyd die mooiste musiek voor die diens, maar vanaand is sy stil. Dominee raak ongemaklik, want waar is sy liefie dan nou heen? Hy stuur ‘n diaken om te gaan kyk wat van haar geword het.
Hy kry hulle daar waar hulle vroegdag al gaan sit het langs die vuur.
“Mevrou Dominee?” vra hy verstom.
Sy kyk skewekop op. “Sjal onsh vi jou ook ‘n ietshie shkink, ha?”

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...