Woensdag 30 Oktober 2019

GAAN GROOT OF GAAN HUIS TOE!


Weke voor die tyd, kom die nuus: Ons gaan ‘n potjiekos-dag by Ons Tuiste hê. Ek sug innerlik. Ai, ek weet dan die oues is nooit lus vir niks nie, nou wat nou? Want, jy sien, dis nie net vir gaan sit en eet nie, hoor. Daar word allerhande dinge beplan om die oues van dae mee besig te hou en te vermaak.
Ek lug nie my mening nie, want woorde het krag! As ek nou gaan staan en sê, “Nee los tog maar, want dit gaan nie werk nie’, dan gaan dit mos regtig nie werk nie. So, met my beswaarde gemoed belowe ek nog ek sal met die wyses en gryses gaan praat oor die groot aand ... wat ek ook gedoen het en baie min positiewe reaksie op gekry het.
Ons hou vergadering, want daar is dinge wat gedoen moet word. Ons stel ‘n kort programmetjie op en beplan die eetgoed wat saam met die potjie bedien sal word.
“Ek maak ‘n warm poeding.” “Ek maak twee koue poedings. “Ek maak ‘n warm poeding en ‘n koue poeding.” Die lys word net langer en langer.
Iemand keer: “Nee, dis te veel poedings, jong.”
Iemand anders skud die kop. “Nee, daar moet lekker baie poeding wees. Die oues moet lekker kan eet.”
Toe ek my kom kry, is dit die groot dag. Ons ruk soos een man op om by ons oupas en oumas te gaan kuier. Uitgevat in hulle mooiste outfits, wag hulle vir ons in die eetsaal. Die tafels is buite toe uitgedra en die stoele staan al langs die mure. In die middel van die eetsaal is die rooi mat – spesiaal vir die okkasie geleen by ‘n vriendelike ondersteuner.

Nou moet jy weet, daar moet vanaand op hierdie einste rooi mat geparadeer word. Die tannies en omies moet meeding vir die kroon: Mevrou Diamant en Meneer Sjarmant moet uit hierdie mooi mense gekies word. In my hart sê ek dankie dat ek nie hoef te kies nie, want ek is sommer al klaar jammer vir die outjies wat nie gaan wen nie.
Elke kandidaat wat (onder protes) ingeskryf het, kry ‘n groot nommer aan die lyf vasgesteek. Hulle sit met groot, bevreesde ogies die mensdom en bekyk. Toe hulle uitvind ek gaan vir hulle vrae vra, is die een en elk se dringende versoek: “Moet asseblief nie vir my moeilike vrae vra nie!” Natuurlik belowe ek vir elkeen dat ek dit nooit sal doen nie. Ek gaan net vra wat is jou naam en hoe lank is jy al in die ouetehuis. Dit laat hulle so ‘n klein bietjie rustiger asemhaal.
Eers moet daar gespeel word. Ek moet erken, toe daar by ons vergadering besluit is op Musical chairs, het ek ernstige bedenkinge gehad. Regtig? Musical chairs met die oues van dae? Nooit gesien nie!
Ek bekyk hulle so en ek wonder! Baie sit met looprame en ander is selfs in rystoele. Hier en daar sien jy ‘n kierie ook. Hoe gaan ons hulle oortuig om saam te speel?
Dirk is nie ‘n ou wat skrik vir koue pampoen of ja, vir oues met kieries nie. Hy gee ‘n lang, skril fluit om die aandag te kry. Onmiddellik is hulle stil, want die hoofman het gefluit.
“As jy kan loop, staan op!” bulder hy.
Ha-a, hulle staan nie op nie. Inteendeel, die ogies is alweer so groot soos pierings. Hy roep weer: “As jy kan loop, staan op!” Niks gebeur nie.
Toe tref dit my: Hulle dink almal van hulle moet nou op die rooi mat kom loop en hulle wil nie. Of hulle is nog nie gereed nie. Of wat?
“Dirk, hulle dink hulle moet nou paradeer vir ons, jong,” fluister ek.
Dirk bulder: “Dis nie vir modeparade nie, ons wil speel. Staan op as jy kan loop!”
En sowaar, die een na die ander kom regop – party kry dit maklik reg, maar ander kom so half in sarsies regop. Jy weet mos, as die rug nie wil nie of as die knieë te stram is, sukkel so ‘n skielike opstanery mos maar.
Hy verduidelik mooi hoe dit gaan werk en almal knik die kop. Ja, hulle verstaan mooi hoe dit werk. Daar is net een ding wat vir Dirk pla: die rooi mat waaroor hulle moet loop. Ek dog hy is jammer vir die mat en probeer hom troos dat dit mos darem nie duisende voete is wat die mat gaan tref en verrinneweer nie.
Ek gee die teken en die musiek begin. Asof dit ‘n trein is wat eers spoed moet vat, begin die oues stadig in ‘n kring beweeg. Dis toe wat Dirk weer skree: “Moenie val nie! Moenie val nie!” en ek besef waarom hy so ontsteld was oor die mat op die vloer.

Ag, was dit ‘n fees om dit te aanskou! Dit lag en jil en stap met ‘n spoed van stoel na stoel. Elke keer wanneer die musiek stop, is dit ‘n geskarrel uit ‘n ander wêreld om ‘n stoel te kry. Hulle gaan sit selfs op mekaar se skote om asseblief net ‘n sitplekkie te kry. Dan is dit tot groot vermaak van die res dat daardie een moet hoor sy/hy is nou uit die speletjie uit. So kom dit toe ook dat oom Piet sommer op die rooi mat gaan sit toe hy nie ‘n stoel het nie.
Uiteindelik het ons ‘n wenner! Oom Hennie was die bittereinder en kry toe sommer ‘n prys ook. Op my vraag of hulle nog ‘n keer wil speel, kom die onderlangse antwoord van een: “Ons is nou moeg, man. Môre gaan ek spierpyne hê.”

En toe is dit etenstyd! Afvalpot en skaappot: Watter een sal ek nou kies? Og, albei lyk dan so lekker ... Die poeding kry toe nie so ‘n groot aftrek as wat ons gedink het nie, want die potjiekos was meesterlik gekook.
Die kroning van Meneer Sjarmant en Mevrou Diamant lewer die mooiste liefdesverhaal op. Tannie Grieta het twaalf jaar terug haar man verloor en in ‘n woonstel by die ouetehuis kom bly. Met die jare het oom Arthur hierdie mooie meisie gesien en nou en dan kom inloer. Hyself het nog in die dorp gewoon. Ses jaar later kom trek hy ook in. Hy bly in ‘n kamer en tannie Grieta in haar gerieflike woonstel. En weet jy wat? Minder as ‘n week later besluit die ou tweetjies hy hoef nie in daardie verkrampte ou kamertjie te sit nie en hulle haak af. Op my vraag aan die omie, wat die mooiste ding is wat die ouetehuis vir hom opgelewer het, was sy antwoord: “My vrou, natuurlik!”
Die tweetjies is eenparig gekies om die kroon te dra. Skaam-skaam het hulle op maat van Fires en oom Piet se musiek vir ons ‘n paar danspassies gemaak voordat hulle weer uitasem by die tafel gaan sit het.

Na alles kan ek maar net sê: Dankie, julle mooi gryses, vir ‘n wonderlike aand. Julle maak die lewe die moeite werd.


Donderdag 17 Oktober 2019

‘n DANKIE WAT AGTERWEË GEBLY HET.

Die Burger :: Suid-Afrika word 'n Republiek :: 31 Mei 1961

Sê iemand anderdag dat as jy nog altyd verwys na Suidwes en/of Die Republiek, gee jy jou ouderdom sleg weg. Want, jy sien, die aarde is deesdae propvol republieke en vandag se kinders sal nie weet waarna jy verwys nie. Suidwes is net 'n geografiese ligging, nie waar nie?
Hmm, is so, ja. Maar ek het nie ‘n probleem dat jy weet hoe oud ek is nie, dus kan ek jou maar vertel oor die tye wat ons nog Republiek toe gery het vir vakansie en agterna terug moes ry Suidwes toe. Ek was nog ‘n tjokkertjie van sewe, toe die hele ding begin het.
Ek kan nie onthou dat ons as skoolkinders vreeslik daarmee gemoeid was nie, maar wat ek wel onthou, is dat dit vir die onderwysers ‘n baie, baie belangrike dag was. 1 Mei 1961 word die Unie mos toe ‘n republiek. Ons is opgeline en het met groot ogies die gedoente beskou toe daardie Oranje, Blanje, Blou die eerste maal gehys is. Iewers wil my kop my dit wysmaak dat ons ‘n lied of twee voor die tyd geleer het en dit toe daar gesing het ook.
Toe kom die dinge van die ponde, sjielings en pennies en wat rand en sent word. Jy weeg toe ook nie meer soveel of soveel pond nie, dis nou kilogramme. Vir jare daarna moes ons nog in die wiskundeklas die goete omsit van die en na die ander.
Maar dit nou daar gelaat. Ek het onlangs te doen met iemand wat dinge sommer so as vanselfsprekend aanvaar. Jy weet mos, daardie ouens wat nooit daaraan dink dat dankie dalk gepas sou wees op daardie tydstip nie. O jinne, my maat, as iets my nou erg moerig maak, dan is dit so ‘n ondankbare houding!
En so loop ek die ver paaie en dit tref my hoeveel maal ek ook maar so opgetree het. ‘n Mens besef dit net gewoonlik te laat en dan is omdraai te laat. Want ja, gaan jy jare later terug na iemand toe en bedank hom of haar innig vir ‘n ding van dertig/veertig jaar gelede, skryf hy jou sowaar net daar af ... en stuur jou vir seker na ‘n plek van veilige bewaring.
My storie gaan oor die groot fees in 1966. As dit moontlik was, was dit ‘n groter fees as in 1961. Die Republiek was ‘n volle vyf jaar oud en dit moes gevier word, my maat! Geen moeite of verdriet is gespaar vir daardie geleentheid nie. Die hele Suidwes het opgeruk na die groot fees in Windhoek.
Maar ek loop nou die storie vooruit, man. Maande voor die tyd hoor ek op ‘n dag ons is viertjies wat saam met Juffrou en Meneer van Maltahöhe of Keetmanshoop toe gaan ry. Hoekom? Eers het ek nie geweet nie, maar in Keetmanshoop het ek gou genoeg uitgevind. Ek en Maretha moes die dogters se roetine aanleer en Braam en Riaan die seuns s’n. Terug by die huis moes ons dan weer ons maatjies leer.
Ons het daagliks geoefen aan hierdie mooie ding – elkeen met twee stukkies besemstok wat jy so kliek, klak bo jou kop kap by tye. Links, regs, kliek en klak, op, af, draai, kliek en klak, en so voorts. Die hele ding was seer sekerlik nie moeilik nie, maar ons moes oefen dat dit klap. Probeer soos ek wil, maar ek kan nie meer onthou hoe lank die roetine was nie.
Dieselfde het vir die seuns gegeld. Hulle het weer ander trieks gehad wat hulle moes aanleer. Oefen. Oefen. Oefen.
Toe kom die groot optog Windhoek toe. Ek sweer ek kan nie onthou hoe ons almal daar gekom het nie, hoor. Dit is seker ook nie van baie belang nie, is dit?
Daar gekom, het ‘n ander wêreld vir ons oopgegaan. So ver soos die oog kon kyk, was daar tente opgeslaan. My kop wil my wysmaak dit was nie so baie ver van die huidige Olimpia af nie, op pad stad toe. Tente, tente, tente! In hierdie streek is die laerskooldogters, daar is die seuntjies, anderkant die groot dogters en nog verder die groot seuns. Waar het die juffrou en meneer gebly? G’n mens weet nie!
Ons is in die tente gebondel en die leviete voorgelees. As die luidsprekers begin kraak, moet jy jou blikbord en -beker vat en maak vir die rye. Ons kos is in die grootste potte (dromme?) op die oop vuur gemaak. Ek onthou vandag net die brandsmaak wat alles gehad het. Jik! Kos wat een keer in ‘n week brand, is een ding, maar as jy vir hom moet eet soggens, middae en saans, is dit nie meer snaaks nie.
Soggens, donkertyd, het die luidspreker begin kraak en dan het die kwaaiste mansstem ons gebied om op te staan. Jy sukkel tussen die slaapsak en die skaafsels wat op die grond is, om jouself op en aan die gang te kry. Oral is skaafsels. Alles is stowwerig. Maar wie traak? As jy net eers wakker is, is als okei ... dit is nou behalwe vir die gebrande pap wat jy moet loop afwurg.
Mense! Ek wens vandag ek kon daardie vertonings sien wat daar gelewer is op die groot dag. Ons kleintjies het leotards gedra – oranje, wit en blou – wat mos die vlag uitbeeld. Ons het die rugbyveld volgemaak met ons rye en rye lyfies, elkeen met haar twee stokkies. Op maat van die musiek het ons gekliek en geklak dat dit bars.
Natuurlik het ons eintlik die hele show gemis, want ek weet die groter kinders het onder andere volkspele gespeel en gimnastiek gedoen. Die pawiljoene was gepak met die res van die nasie wat nie aan die vertonings deelgeneem het nie.
Een aand het ons Maltahöhe kindertjies op Juffrou se boyfriend se bakkie gery en inry toe gegaan.  The sound of Music het pas verskyn en die ganse tentedorp se kinders het op komberse die movie gaan kyk. Ai, was dit ‘n mooie storie! Vandag nog, as ek July Andrews hoor sing, is ek terug op die kombers in Windhoek se inry. Ek onthou selfs dat Juffrou se vriend ‘n slab tjoklits vir ons gegee het. Elkeen kon ‘n blokkie afbreek en aanstuur vir die volgende een.
Die laaste oggend het aangebreek op ‘n heel ander toon. Die kwaai oom se stem was stil, my maat. In plaas van die gewone “Julle moet opstaan!” het Doris Brash vir ons gesing. Hmm, ja, jy het reg geraai. “Opstaan, opstaan, dis ‘n heerlike dag ...”
Nou wat het Republiekdag van 31 Mei 1966 met dankie te doen, vra jy my?
Alles!
Dink jou in hoe daardie stomme onderwysers vir ‘n week lank gesukkel en geswoeg het met so ‘n massa kinders? Dink jy wraggies dit was vir hulle ‘n heerlike uitstappie Windhoek toe? Nee, gewis nie. En, vra ek jou nou, wie het agterna gegaan en dankie gesê? Nie ek nie!
Dus! Vandag wil ek elke juffrou en meneer wat hulle dae omgeswoeg het met ons klomp, uit my hart uit bedank vir hulle ontsettende geduld en liefde. En laat my seblief toe om spesiaal haar naam te noem, toe? Juffrou June, dankie vir jou liefde en omgee vir ons klomp gebroedseltjies in daardie tyd. Ek sal jou nooit vergeet nie.

Vrydag 11 Oktober 2019

AS DIE PUT SKIELIK LEEG IS


My hart is seer, man. Hmm, een van daai wat so ‘n dowwe pyn hier diep in jou borskas veroorsaak. Jy ken hom ook – dis so ‘n dowwe seer waarvan jy net eenvoudig altyd, soms minder en ander kere weer meer, bewus is. Jy kan doen wat jy wil, as jy jou kom kry, sit jy alweer met dowwe oë die aarde en bekyk.
My groot pyn is oor ‘n verlore vriendskap. Jy ken my. Ek het nie honderde intieme vriende nie, net so ‘n paar wat vir altyd en altyd in my hart sal bly. Sommige van hulle sien ek byna nooit, maar afstand en tyd het niks te doen met omgee en vertroue nie, het dit?
In elk geval, ek kom op ‘n dag agter dat daar ‘n groot gat in my hart is waar voorheen ‘n hartsvennoot was. Ek dog eers ek verbeel my, maar ‘n mens ken mos die tekens van die tye. Probeer soos ek wil, daardie mater van my het skielik ‘n klip hart gekry.
En dis nou my dilemma! Wat nou gemaak?
Ek sit en werk, maar hierdie mater van my spook by my. Wat gebeur het, weet nugter alleen, hoor. Dis nie asof ons ‘n vreeslike misverstand of rusie of wat ookal gehad het nie. As dit so was, kon ek mos iets daaraan doen, dan nie?
En toe tref dit my! Aardetjie, Marthamaria, dat dit jou altyd vir ewig moet vat om die lig te sien! Dit kan jou ure (maande?) se ellende gespaar het, liewe mens.
As my pa op die plaas uitgevind het die water in ‘n spesifieke gat het opgedroog, het hy eenvoudig gaan sit en beplan waar hy die volgende gat gaan laat boor. Hy het nie langs daardie windpomp gaan sit en huil en smeek en beloftes maak nie. Nee, hy het nie eens die moeite gedoen om vir Windpomp te vra waarom hy nie meer water pomp nie. Hy het dit aanvaar en aangegaan met sy lewe.

Jesus het vye aan die boom gesoek. Wat dit vyetyd? Ek weet nie! Ek dink Hy was honger, daarom dat hy vye wou pluk. En toe? Hy kon, as Hy wou, die boom beveel om onmiddellik groot, ryp vye te dra. Hy kon ... as Hy wou! Maar Hy het nie. Die boom was kaal en hy het hom vervloek en aanbeweeg.
So, wat doen ek nou met die mater wat opgedroog het?
Beweeg aan, Marthamaria.
Beweeg net aan.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...