Dinsdag 31 Desember 2019


Sit ek nou, so op die oujaar, en bedink dinge. Ek en die liefie is alleen tuis en niks, maar heeltemal niks is anders as enige ander aand die afgelope maande nie. Ek hou myself die tyd van die namiddag besig met wat ookal, terwyl liefie die African Grey vermaak.
Want, jy sien, Gracie hou nie van vroumense nie. Miskien het sy darem iewers ‘n sagte plekkie vir my, maar weet nie hoe om dit te wys nie? My ydele hart wil maar so hoop! Sy was ‘n geskenk, met baie liefde, aan my ... na ek jare en jare lank gesmag het om ook ene te hê. Nou het sy vir Liefie aanvaar en ek kry so nou en dan ‘n pik op die kop as ek nie gou genoeg koes nie.
Maar eintlik wil ek jou vertel van oujaar in die Namib. Die lewe was mos anders daardie jare – stadiger en met minder komplikasies, dink ek. Kinders was nog gesien en nie gehoor nie en grootmense se woord was so wragtag as wragtag die begin en die amen. Maar ek dwaal alweer af. My kop is propvol gedagtes en verlangens en smagtings en what ever there may be!
Ek weet dat daar altyd in die dorp groot makietie gehou is op oujaar, maar by ons op die plaas was dit maar stillerig, glo vir my.
En tog het die dag altyd so half anders as die ander dae gevoel. Jy het nog altyd opgestaan en jou dagtakies in die huis gedoen, maar daar was net daardie gevoel wat sluimerend was die hele dag. Teen sononder het ons, opgetof en grênt toegedraai, almal in Pa se plaaskar gebeur. Ons het gaan braai by tannie Magdalena en oom Andy, oftewel Leentjie en Monie.
Wat my laat wonder – het jy ook ooms en tannies vir wie jy nie ‘tannie’ en ‘oom’ nie? So het niemand geweet wie is tannie Dina nie, maar almal het vir Nana geken. Dan nog was tannie Annette ‘n vreemde benaming vir ons liewe Netta. So kan ek nie een na die ander noem – almal met ‘n liefnaampie.

Somersaande in die Namib is magies! Die gekriek en krits van insekte, met die grote hemel vol sterre wat lyk of jy hulle kan pluk, so naby lyk hulle vir jou. Almal, grootmense en kinders, daar om die vuur, met die geblaas van die gaslamp skuins agter ons. Gaslamp? Dis eintlik ‘n vreemde benaming vir ‘n lamp wat met paraffien gewerk het, maar jy moes hom mos so oppomp om hom aan die gang te kry.

Leentjie het geweet van uithaal en wys! Die bykosse by die braai was met groot moeite en baaaaaie kalorieë gemaak. Baie maal was die poeding pannekoek wat so geblink het van die botter en die kaneelsuiker. Hemels!

Ek voel te arm in woorde om myself uit te kan druk hoe om daardie samesyn te omskryf. Liefde. Vrede. Welbehae. Warmte om die hart. En die stilte, ten spyte van die geselskap van die grootmense.
Dit is na daardie stilte in die hart wat ek soms verlang. Kry ‘n mens dit iewers anders soos daar in die Namib met jou geliefdes? Waarom, o waarom kon ‘n mens dit nie maar in ‘n botteltjie sit en saamdra vir die res van die hele ewigheid nie?
Wanneer die kleintjies al slaperig begin raak, het Ma traag aangekondig dat ons huis moet kry. Pa het vir sussie kar toe gedra en op Ma se skoot neergesit. Ek of Ousus het hek oopgemaak. Snaaks dat ek nooit bang was om in daardie donkernag hek oop te maak nie, ha?
Nuwejaar het altyd gevoel soos lekker soet poeding met vla oor. Is regtig so! Ma was altyd op ‘n merkbare stadiger spoed ingestel en Pa het ook net gou die lammers gaan haal en dan by ons kom sit in die kombuis. En dan die lekkerte van alle lekkertes so in die middel van die week! Leetjie-hulle het kom tee drink. Ma het altyd gesorg vir koek so saam met die tee in die middel van die week.
Vervelig? Allermins!
My hart verlang na die vrede en stilte en warmte en allesoorheersende gevoel van geborgenheid ... so in die middel van die week.


Saterdag 28 Desember 2019

MY VOORKOP IS TE GLAD VIR ETIKETTE

Jy woon ‘n byeenkoms by en word saam met vreemdelinge ingedeel by ‘n tafel. Jy maak, soos almal maar doen, geselsies.
“Hallo, ek is Martha.”
“Aangename kennis. Ek is Drien.”
“O? Hallo, Drien.”
“Snaaks dat ons mekaar nog nie raakgeloop het nie. Ons ou dorpie is mos darem nie so groot nie.”
“Ja, ek hou skool by die ABC Skool.”
“Ek is Die en Daai se sekretaresse.”
“O, en jou man?”
“My man is Prokureur Smit.”
****
Ek het voorheen dit nie eens agtergekom dat ons onsself so met etikette beplak nie. Drien hou skool en sy is die vrou van ‘n prokureur. Indrukwekkend! Inderdaad ‘n prestasie wat sy behaal het, of wat?
Toe ek ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede moes aftree, het dit my baie sleg getref. Ek het geglo ek is tuis in my vel en weet presies wie ek is, maar moenie glo nie! Die oomblik toe ek by daardie voordeur uitstap, het my identiteit ook daar agtergebly saam met die werksklere wat ek daar gelos het vir ander om te gebruik.
Opeens was ek so half rigtingloos en, glo my, baie besluiteloos. Ek het nie ‘n plan vir môre of oormôre gehad nie. Waar ek voorheen presies geweet het wat ek gedurende ‘n vakansie sou doen, het ek nou huis toe gekom en hier kom sit soos ‘n mens sonder rigting. Skielik was my dae my eie en heeltemal te lank. Almal het aangemoedig: “Skryf!” maar ek het niks gehad om oor te skryf nie.
Saans het ek gaan slaap met ‘n matelose gevoel van mislukking omdat ek (weereens) die dag vermors het met my niksdoenery en rondsittery. Soggens het ek opgestaan met ‘n uitsiglose dag voor my en heeldag gewag vir die son om onder te gaan.
Hoekom dan so? Waar was die vrou wat so presies geweet het wie sy is en dan nog baie trots ook was daarop? Wat het van haar geword?
Dit het my ‘n lang tyd gevat voordat ek tot die kern van hierdie aaklige probleem van my gekom het.
Ons word van dag een af gemeet en geweeg. Ons word geleer om te presteer en altyd beter te moet doen, anders is daar ‘n paar fronse op ‘n paar gesigte.
“Kyk, Pa, ons kind kan al van daardie trappie af klim! Is dit nie te pragtig nie? En reken, sy het nie eens geval nie.”
Pa kyk van sy koerant af op. “Hmm, ja, maar ek wag vir die dag wat sy hulle twee-twee afspring soos ons altyd gemaak het.”
En net daar voel Sussie sy moet begin oefen om daardie trappies te spring, anders gaan Pappa nooit dink sy is oulik genoeg nie. Sy val haar des dinges, maar spring sal sy daardie trappies spring!
Dan kom ons in die skool. Ek was byvoorbeeld in my Sub A-klas in die Hasies-ry. Ek weet nie wat die eerste ry was nie, maar die laaste ry was die Skilpaaie. Is dit nie verskriklik om so ‘n etiket om ‘n kind se nek te hang nie? Jy is net ses jaartjies oud, maar jy weet reeds dat jy nie goed genoeg is nie.
So gaan dit aan en aan sonder dat dit ooit ophou. Ek verpes ‘n rapport met alles wat in my is! Waarom moet jy punte kry vir iets wat jy glad nie aan kan verander nie? Kan daar nie maar net op die rapport staan Martha slaag hierdie eksamen nie? Wat maak dit saak met hoeveel?
Nog steeds is dit het einde niet. Nou gaan studeer Sannie en sy behaal haar graad en slaan ‘n wonderlike werk los. Maar na ‘n jaar of twee ontmoet sy hierdie outjie en die liefde is allesoorheersend. Nou kom die probleem!
“Haai, Marie, ek hoor jou Sannie is toe verloof?”
Marie word rooi om die kiewe en sy kug ‘n slag of twee voordat sy antwoord: “Ja, dis net jammer die mannetjie het g’n geleerdheid nie ... maak karre reg of iets.”
Liewe hemel, Marie! wil ek gil. Kan jy ‘n kar regmaak? Weet jy ooit waar die ding se enjin sit?
Standaarde, standaarde, VALSE standaarde wat ons onsself mee opsaal en die lewe vir onsself so onaangenaam maak. As jy nie perform nie, is jy nie in tel nie. As jy nie kan wys nie, is jy ‘n nul op ‘n kontrak.
Is dit dan nie maar die rede waarom daar soveel depressiewe en ongelukkige mense op hierdie aardbodem rondval nie? Ek sal gelukkig wees AS dit of dat gebeur. Ek sal gelukkig wees WANNEER ek dit of dat onder die knie het. Ek sal tevrede wees WANNEER ek ...
So gaan die storie aan en aan. En weet jy wat? Wanneer of as jy dan uiteindelik daardie ding kry of behaal, het jy lankal vergeet dat dit jou so gelukkig sou maak. Want, jy sien, jy het jou etiket op jou voorkop al lankal weer verander na die volgende ding wat jy moet baasraak, anders het jy nie jou brood vir die dag verdien nie.
Thich Nhat Hanh skryf die volgende baie waar woorde: “Peace can exist only in the present moment. It is ridiculous to say “Wait until I finish this, then I will be free to live in peace.” What is “this”? A di­ploma, a job, a house, the payment of a debt? If you think that way, peace will never come. There is always another “this” that will follow the present one. If you are not living in peace at this moment, you will never be able to. If you truly want to be at peace, you must be at peace right now. Otherwise, there is only “the hope of peace some day.”
En ek weet ... ek wil my lewe leef sonder daardie etikette. Ek wil vrede en liefde en geluk en tevredenheid smaak in die klein dingetjies rondom my. Ek wil net EK wees en vanaand die dag afsluit met ‘n glimlag in my siel ... want niemand kan meer enige etiket op my voorkop plak nie.



Woensdag 11 Desember 2019

VISVANG OF HENGEL?


Ek ken nie ‘n mens wat nie van visvang hou nie. Hetsy dit ernstige hengel is, of bloot visvang omdat jy langs die see is en dit is mos wat ‘n mens langs die see doen. Ons Namibiërs is maar so, jong. Jy glo jy moet Desember see toe gaan en jy glo jy moet huis toe kom met ‘n rits foto’s van die vis wat jy uit getrek het.
So van vis uit die water uit trek gepraat! Gaan ek, my liefie en ons klein snip des jare gelede ook see toe vir ‘n paar dae. Kom ons terug, vra die vriende vir snipkind: “En het jou pa baie vis gevang?”
Sy antwoord eerlik en opreg: “Nee, hy steek elke keer die stok in die water, maar hy haal niks uit nie.”
Dis dalk juis met hierdie storietjie in gedagte dat ek nie heeltemal so skaam is om my visvang-ervarings met jou te deel nie.
Ons is ‘n hele spul langs die see – Pa, Ma, elkeen van my en my susters se manne en nog die spruite ook. Ouma het soos maar die gewoonte was, gesorg vir alles wat geëet en gedrink kan word. Almal hou almal se kinders in die oog en die manne vang vis. Let net daarop dat ek nie sê hulle het gehengel nie, hoor. Hengel is wanneer jy nie net die stok in die water steek en met niks opeindig nie.
Ek bekyk die manne so op ‘n afstand en ek dink by myself: Ek het al ‘n duisend maal probeer om ‘n vis gevang te kry, maar vandag is sowaar die dag! Ek kan nie eendag hierdie ondermaanse verlaat met geen vis op my kerfstok nie. Wat moet my kinders van my dink? Maar meer nog: hoe moet ek oor myself voel? ‘n Mens het mos ook ‘n hart, ha?
Ek stap doelbewus water toe en kommandeer vir liefie op om vir my ‘n stok reg te kry. Het hy dalk onderlangs gesug? Ek kon sweer dit klink so, maar die water raas ook so dat ek nie met sekerheid kan sê dit is so nie. Dalk het hy my rekord van ‘niks uit die water uitgehaal nie’ onthou? Ek maak maar net of ek niks hoor nie en wag angstig vir die stok.
Nou moet jy net weet, terwyl ek gaan vis, moet een van die manne geduldig by die Ouma en kleingoed gaan sit. Daar is nie stokke wat rondlê nie, dus moet die ongelukkige een maar net wag totdat ek met my fonds van die water af kom.
Liefie is baie geduldig ... behalwe mos nou vir daardie lang sug! Hy beduie mooi vir my hoe ek moet maak. En ja, die eerste gooi doen hy ook sommer vir my. Ek staan en wag en wag, maar daar gebeur niks nie. Ek staan so halfbeen in die water en die branders spoel soms redelik gevaarlik hoog teen my op.
Ek sien die manne wag ook net so ‘n rukkie, dan katrol hulle die lyn in en gooi weer in. Nou maar hoekom nie? Ek skrik mos nie vir koue pampoen nie, man. Ek probeer ‘n paar keer, maar dit werp geen vrugte, of is dit nou visse, af nie. Ek moet net weer probeer, dit moet net werk!
Ek stap weer ‘n entjie in die water in, maar dit voel darem vir my so half vlakkerig. Moet ek nie maar nog dieper ingaan nie? Dit sal mos darem help dat die lyn dieper en verder kan gaan? Want sien, vandag is die dag wat ek hulle almal gaan wys hoe hengel ‘n mens!
Ek kry my staan en ek bring die stok lekker hoog bo my kop en nog so ‘n bietjie na agter toe. Hierdie gaan ‘n gooi wees wat gaan trek tot halfpad oor die wye oseaan. Ek voel hoe my hele lyf saamtrek van inspanning toe ek daardie lyn gooi ... sowaar as vet is dit ‘n mooi gooi!
Ek wag om die klein plonsie te sien waar hy op die water land, maar niks gebeur nie. Dit kan nie wees nie! Hoe lank trek so ‘n hoek en aas voordat hy op die water land? Ek buk so half vorentoe, met die hand oor die oë om die son te keer. Ek wag in groot afwagting. Ek kyk ook nie hier vlak voor my nie, hoor. Ek kyk doer oor die water, want dis waar hy gaan land.
Die volgende oomblik tref iets my op my stuitjie. Wat op aarde?
Nee, jy is nie verkeerd nie, my maat. Jy het reg geraai. Daardie hoek en sinker wat vir die diepwaters bedoel was, het hemel toe en terug getrek en op my behind kom land.
En ek?
Ek het met wroeging in my hart die visstok gaan afgee. Ek moes vrede maak met die feit dat my kinders en kleinkinders vir altyd en altyd sal lag oor hulle ma wat toe nooit ‘n vis uit die water uit kon trek nie.
My ego is vir ewig en altyd geknou deur daardie slag op my agterkwart, glo my maar. En as iemand my nou sou vra of ek al ooit ‘n vis gevang het, is my stroewe antwoord: “Ek verpes visvang!”


Saterdag 07 Desember 2019

OOR 'LEGACIES' EN ANDER DINGE


Ons gesels oor dinge wat saak maak en dit pla hom dat hy niks gaan nalaat wat saak maak wanneer hy die dag heengaan nie. Jy sien, dis mos maar hoe die samelewing ons gebreinspoel het – as jy dit nie kan sien en daaraan kan vat en bewonder nie, is dit mos eintlik maar ‘niks’ nie.
Ek is seker jy het ook al gewonder oor die feit dat jy niks gaan nalaat vir jou kinders nie. Reg? Hmm, ja, dis nou ‘n gemors, jong. Dit sal net ‘n dag of twee wees, dan het jou voetspore toegewaai en niemand weet meer dat jy ooit bestaan het nie.
Wanneer iemand sterf en, tot almal se ontsteltenis, vind sy geliefdes uit dat hy net ‘n powere bankbalans en geen skatte en besittings nagelaat het nie. En dit nogal terwyl almal gedink het hierdie ou is ‘n geldmagnaat! Kan ons dan aflei dat hy geen legacy agtergelaat het nie? (Dis seker by hierdie persoon wat die gesegde Brandarm, maar windgat ontstaan het.)
Een verklaring wat die woordeboek gee van ‘legacy’, is: an amount of money or property left to someone in a will. (My grandmother died and unexpectedly left me a small legacy)

Ja, en my ouma was nog nie ses maande onder die grond nie, toe is daardie legacy ook in sy maai. Vandag kan ek niks wys wat Ouma vir my nagelaat het nie, want haar legacy is in die plaaslike supermark se kasregisters opgeneem.
Aaklig! Het Ouma dan verniet gelewe?
Kom ons draai dit nou om. Gestel alles wat jy vandag kan sien en bewonder en gebruik, raak weg en jy sien dit nooit weer nie. Maar! Alles wat jy vandag nie kan sien nie, kry lyf en jy kan dit op die rak sit, of gebruik (sonder dat dit opraak, natuurlik), of jy kan dit bloot saam met jou dra van dag tot dag.
Ek wil my pa as voorbeeld gebruik. Almal weet dat hy nie ‘n welgestelde man was nie. Almal weet dat dit broekskeur gegaan het om sy drie dogters te laat leer. Almal weet dat hy nooit die voorreg gehad het om wild en wakker met vakansie te gaan en sy vrou en kinders bederf nie. En tog is hy dood as die rykste man op aarde en het ek dus skat-, skatryk geërf.
Hoe dan nou so? As jy nie geld geërf het nie, het hy mos niks nagelaat nie, ha? Dan was sy lewe ook so half sonder doel, nie waar nie?
Glad nie! Kom ek vertel jou van Adriaan Pieter se legacy.
Ek het geweet dat hy my lief het met die diepste liefde wat bestaan. Niks, maar niks kon of sou my beroof van daardie liefde wat hy uitgestraal het wanneer ons mekaar gesien het nie. Hy het die diepste dieptes van my diep hart verstaan sonder dat dit vir my nodig was om te please explain waarom ek so of so optree. Ek het dit geweet, al het hy dit weinig male so uitgedruk. By hom het ek veilig gevoel – veilig soos ‘n klein kindjie wat slaap in haar mamma se arms.
Hy het my vertrou. Hy was trots op my. Hy het geweet wat in my steek, al het ek dit eers baie jare na sy dood self ontdek. Hy het geglo dat ek in staat is tot baie, baie hoogtes. Male sonder tal het hy my aangepor: “Martha, jy KAN!”
Hy het my blindelings vergewe vir alles wat ek aangevang het in my jong dae. Toe ek op sy siekbed hom vra om my asseblief te vergewe vir al daardie dinge, weet jy wat sy reaksie was? “Pa weet glad nie van dinge wat jy gedoen het wat my hartseer gemaak het nie!”
Ha? Is dit nie allesoortreffende liefde en vergifnis nie? Daarmee het hy my selfrespek herstel en my bevry van skuldgevoelens wat hemelhoog op my skouers gerus het.
Hy het, deur sy voorbeeld, vir my geleer om nooit moed op te gee nie. As jy sukkel en handdoek wil ingooi, kyk net ‘n slag op en hoor “Martha, jy kan!” en probeer weer ‘n keer ... iewers sal jy dit regkry en met genoegdoening terug kan staan.
Ek kan boeke vol skryf oor hierdie mooi pa van my, maar ek volstaan hiermee. Sy legacy, wat my aan betref, is wat hy in my wese ingebou het. As ek dit sou mos uitpak, sou dit te veel wees om in een plek te huisves, glo my. Maar ja, ek dra dit in my hart. Om die waarheid te sê, ek is ek as gevolg van hierdie nalatenskap van my liefste, liefste pappa.
Nou vra ek jou, moet tog nooit weer sê jy het niks om agter te laat nie, toe?

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...