Maandag 04 Januarie 2021

STROME VAN SEËN VAN BOWE

 


Vreemd hoe ‘n mens se gedagtes met jou kan loop! Die heerlike, milde reen wat nou al dae so val, laat my telkens dink aan ‘n kraan wat iemand oop vergeet het. Dit val so egalig en sonder ander bygeluide uit die hemel – so sonder om van klank te verander, sonder donderslae en blitse.

En meteens onthou ek ‘n geselsie van baie, baie jare gelede met my oudste, wat toe nog sommer baie klein was.

Sy het vir die eerste keer reën gesien en was eers heel verskrik oor die water wat so op haar koppie val. Toe die grootste skok verby is, het sy hierdie slim redenasie gehad.

“Mamma, ek weet waar kom die reën vandaan!”

“Regtig, Ma se kind, waar kom dit vandaan?”

“Dis liewe Jesus wat ‘n kraan oopgedraai het en toe vergeet het om dit weer toe te draai.”

Ek het haar nie probeer reghelp nie, want hoe verduidelik ‘n mens aan so ‘n klein mensie van water en kondensasie en wat alles?

Vandag, nou hier waar ek sit, besef ek dat sy ‘n punt beet gehad het. Dit is weliswaar liewe Jesus wat die krane van oorvloed oopgedraai het, ja. Dit kan ons nie mee stry nie, kan ons?

Die enigste verskil is dat Hy nie die kraan met lopende water oop vergeet het nie, dink ek. Hy het dit oopgedraai oor ‘n aarde wat, amper soos voor die skepping, woes en leeg is – geen weiding, niks groen en geen rede om oor bly te wees nie.

Hy het dit oopgedraai uit die goedheid van sy genade, sodat ek en jy kan weet dat Hy ons nie vergeet het nie.

Stem jy saam?

Die ou Halleluja liedjie, Strome van seën van bowe kom spontaan by my op en ek is diep dankbaar oor krane wat oopgedraai is.

Sondag 03 Januarie 2021

AS PA PRAAT, ANTWOORD JY NOOIT TERUG NIE


 Ma het ons klere alles self gemaak. Met drie dogters in die koshuis – een in die laerskool, een in die hoërskool en een op Universiteit, het dit haar ‘n hele Desember vakansie gevat om elkeen se boude toe te kry.

Hoe vervelig dit vir haar moes wees om daardie skoolrokke te maak, wil ek nie weet nie. Dink jou dit in: vier rokke wat presies dieselfde patroon en kleur het! Dit moes ‘n sieldodende werk gewees het, man.

My klerekas het min of meer so gelyk: ‘n Wit rok (vasgestelde patroon) vir kerk in die somer, ‘n bou rok (vasgestelde patroon) vir kerk in die winter, vier skoolrokke en agt ‘drarokke’ vir deur die week. Ja, dit moes agt wees, want vier is hierdie week in die was en die volgende vier dan volgende week.

Ma het, soos dit vir my voel, vir ewig voor daardie naaimasjien gesit. Met die voetjies wat daardie masjien hier onder trap-trap-trap en die handjies wat die materiaal behendig voer onderdeur die naald. Ek het daarvan gehou om kos op die tafel te kry – solank ek kon maak soos ek wil, natuurlik. Vandag besef ek dat my arme pa baie dae disse moes eet waarvan hy glad nie gehou het nie, maar hy het nooit gekla nie.

Ek het dit verpes as Ma my roep om te kom aanpas. (Weet jy dat ek nooit die behoefte gehad het om in die spieël te gaan kyk hoe lyk die rok aan my nie? Kan ‘n mens so sonder belangstelling wees?) Jy moes min of meer soos ‘n houtpop staan met die arms wyd van die lyf af sodat Ma kon steek en knip. Ag genade tog, en dis warm! Onthou, ons het in die hartjie van die Namib gebly en daardie somers is nie speletjies nie.

Twee of drie van hierdie aanpas-sessies, en die rok is klaar. Nou nog net vir die afsteek van die soom. En dis waar die ellendes begin het! Twiggy was die mode-ikoon en haar rokkies se some was nie baie ver van haar panty se rek of nie. En ek het presies geweet waar Ma die soom moet afsteek ... as my hande langs my sye hang, moes die soom presies in die eerste lid van my middelvinger wees.

Ma steek die soom en ek is dood in my noppies. Sy werk hom vas en stryk hom mooi glad. Ek het ‘n nuwe rok!

Maar moenie glo nie, hoor. As Pa vanaand van die veld af kom, is dit tyd vir die laaste episode van die nuwe rok. Om een of ander rede was alles nie afgehandel as Pa nie die rok inspekteer het nie. Trek die rok aan. Stryk hom plat teen jou lyf af met die hande – dis nou dat hy so ‘n bietjie langer moet lyk, want jy weet!

Jy loop stokkerig tot voor Pa. Hy sit en betrag jou met ‘n emosielose gesig. “Draai om,” kom die bevel. Jy draai om en jy weet!

“Hy’s te kort!” kom die doodstyding.

Jou hart sink in jou skoene. Die opstand is soos die golwe van ‘n woedende see, maar jou mond is gesnoer.

Ma maak die rok langer – so lank dat dit vir jou voel of jy jou winter-japon aan het. Maar jou mond is gesnoer. Want, jy sien, as Pa praat, antwoord jy nie terug nie - nooit nie! 

Jy sweer by jouself jy sal in jou hele lewe nie hierdie rok dra nie.

By die koshuis besef jy dat jy nie ‘n keuse het nie, want hierdie rok sal gedra moet word. Wat anders moet jy dra? Goed, dan moet daar ‘n plan gemaak word voordat rok aangetrek word.

Jy vou doodeenvoudig die soom ‘n slag om en werk hom vas.

Nou is rok se soom regtig nader aan jou panty se rek as wat Twiggy s’n ooit kon wees, maar dra sal hierdie rok gedra word.


OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...