Vrydag 22 Februarie 2019

WIE NOOI JY BY JOU AGTERDEUR IN?

So stuur my vriend van Burundi vir my ‘n video en soos die geluk dit wil hê, maak ek dit eers eenuur in die nag oop. Man! Trek ek mos ‘n heimwee op myself wat skrik vir niks. Dis nou amper soos die aand voordat een van my kinders verjaar. Ek hoor my oudste: “Ma, assablieff moet nou net nie daaaar gaan nie!”

Ken jy daardie heimwee? Dis asof die jare wegval en jy oomblikke in jou verlede so helder ervaar asof dit nou gebeur. Mmm, ek sien jy knik met die kop. Maar nee, daar is vir seker ‘n paar van my jonger vrinne wat nie lekker by is nie.

Ek sal (probeer) verduidelik. Daar gebeur iets groots, soos wanneer jou kind verjaar. Onmiddellik is jy weer die jong mammatjie wat haar kleinste, mooiste dingetjie vashou en voed en liefie. Die grootwordjare van hierdie kind val weg. Die swaar wat jy gehad het om hom/haar groot te kry, tel nie op hierdie oomblik nie. Jy onthou. En saam met die onthou, kom weer van nuuts af die vreugde dat hierdie kind juis joune is!

Soms is dit ‘n stukkie musiek wat jou vat na die dag toe jy die liefde van jou lewe ontmoet het. Soms is dit ‘n reuk. Soms is dit sommer net ‘n gedagte wat nes kom maak tussen jou ore.

Om terug te kom by die video ...

Ek maak die video oop. Og, jinne! Clint Eastwoord! As jy nie weet wie hy is nie, is jy eers anderdag gebore en dan het jy baie groot uitgemis, glo vir my. Dis nou die ou wat enige cowboy na ‘n sissie laat lyk het. Later jare het hy romantiese rolle ook gespeel; onder andere saam met Meryl Streep. Ek kan maar net weer innerlik sug van genoegdoening as ek daaraan dink.

Nou wat nou? Wag, ek kom by my punt.

Op die video is Clint wie hy vandag is – oud en vol plooie. Maar, weet jy, ‘n mens kyk dit mis. Jy kyk dit mis omdat jy dit WIL miskyk. Jy onthou hom soos hy was ... en jy is sommer ook weer jonk en vol lewe.

Die video is ‘n kort vertelling van iemand wat op ‘n spesifieke dag saam met Clint golf gaan speel het. Clint sou die Maandag 88 word. Maar, het hy vertel, hy gaan niks buitengewoons doen nie. Hy sou weereens aan ‘n fliek gaan werk het.

Die man wou by hom weet hoe op aarde doen hy dit?

Sy antwoord het my kop aan die dink gesit. “Ek staan elke dag op en ek laat nie die ouman by die deur inkom nie.”

So maklik soos dit! Laat die ouman of ouvrou liewer maar buite bly. Moenie daardie ouderdomding jou baas maak nie.

Die vraag wat gevra word, is: Wat as jy nooit geweet het presies wanneer jy gebore is nie? Met ander woorde, as ek nie geweet het ek is nou so oud of so oud nie.

Sou ek nog die ouderdom as ‘n verskoning gebruik het wanneer ek sekere dinge nie kan of wil doen nie? Sou ek nog gereken het ek is nou nie meer goed vir niks nie? Ek is nou ‘oud en sat der dagen’, soos die oumense altyd gesê het.

Dit voel soms vir my dat ons so saam met die ouderdom, nee, so saam met die jare, ons vreugde so half en half verloor het. Is dit nie so nie? Nou hoe dan nou so? Is dit dat ons nou maar wag vir die lang boompies? Of is dit bloot net nie meer lekker om te wees wie of wat jy is nie ... so asof jy so half en half uitgekuier is met jouself.


Dit is nou net hier wat ek besluit om die ouvrou by die agterdeur uit te hou. Sy het g’n plek in my huis nie, hoor! Dit is sy wat my vreugde en opgewondenheid oor die lewe steel. Sy is ‘n gemene wese wat moet buite bly. 

Ek verkies om bly te wees. Ek wil elke dag met opgewondenheid verwelkom. En meer nog: ek verkies om met dankbaarheid te lewe. Ek wil hom voluit leef en ek wil hom geniet!

Sondag 17 Februarie 2019

AS NIKS MEER SIN MAAK NIE

Ek is so pas deur ‘n merksessie wat ek nog nooit beleef het nie – 785 vraestelle en vyf rooi penne binne drie weke. Mens! Jy moes dit beleef het om dit te kan glo. Maar weet jy wat? As ek weer die kans kry, doen ek dit weer. Dit bly maar net wonderlik om jou vermoëns te strek en te strek, selfs tot daar waar jy nie gedink het dit is moontlik nie.

Jy sal dit dalk vreemd vind, maar die hele tyd wat ek sit en merk, is my kop besig met goedjies ... goedjies wat meer en meer pla. Die jonges sal dit dalk toeskryf aan die grys hare? Ek weet nie, maar dit maak ook nie baie saak nie. Feit van die saak is dat dinge my pla en ek gaan jou nou daarvan vertel.

Ek vra nooit vir terugvoer nie, maar hierdie keer wil ek graag jou opinie oor my deurmekaar gedagtes hê. Reg so? Ek sal dit baie waardeer, hoor ... soos ek altyd elke op- en aanmerking waardeer.

Stel jou nou voor jy is in ‘n klein dorpie. Die gemeente van die kerk is dus eintlik die dorpie. Alles loop voor die wind, totdat een van die ouderlinge se jong dogter haar kom vestig. Sy is die nuwe juffrou by die hoërskool. Maar, o jittetjie tog! Die mens is heel ‘buite orde’, soos die hoofouderling dit ernstig voor die kerkraad verklaar. Kan sy dan nie wéét dat ‘n mens nie so aantrek nie? ‘n Mens kom mos nie op straat met sulke klein stukkies lap oor jou liggaam nie? “Hemel, Dominee, my vrou moes my lawe toe ek by die huis kom!”

Die stomme Susanna word onder sensuur geplaas nog voordat sy die eerste keer haar voete in die kerk gesit het. Die rede? ‘n Mens weet mos dat jy nie so mag lyk op straat nie. Jy weet ook dat jy die mans in die versoeking lei, dus moet jy maar eers leer aantrek voordat jy dit in die kerk waag. Amen!

Die volgende Sondag is dit weer sulke tyd. Ou Peet van Helsdingen het Vrydagaand weereens homself te buite gegaan by die kroeg. Hy kry Maandag ook sy brief van die geagte kerkraad af: Totdat jy leer hoe om jou te gedra, is jy nie welkom in die gemeente se heilige byeenkomste nie. Amen!

Waarop ek hier afstuur, is bloot dat ek en jy grootgeword het met wat ‘reg’ en met wat ‘verkeerd’ is. Daar is net eenvoudig dinge waarvoor jy nie kan sê ‘Ek het nie geweet nie.’ Dis so maklik soos dit! Jy mag nie vir jou ma jok nie, jy mag nie jou maatjie se potlood vat nie, jy mag nie ... eindelose reekse dinge wat jy net eenvoudig geweet het omdat dit is hoe jy grootgemaak is. Wanneer jy sekere van hierdie moets en moenies oortree, gaan jy tronk toe, dit weet jy sonder dat iemand dit elke dag vir jou moet uitspel.

Nou is daar ‘n ander kant ook. Jare gelede lees ek ‘Things fall apart’ van Chinua Achebe. (Ek weet, dadelik sit my kind die selfoon sommer af!) in die voorgeskrewe klas van my Graad 11’s en 12’s. Daar ontmoet ek vir Okonkwo, die leier van ‘n denkbeeldige ‘clan’ bo in Afrika.

Ek gaan dit nie vir jou aandoen om die storie te herhaal nie, want dit is nie wat my pla nie. Hier ontmoet ek vir Okonkwo en sy mede-stryders. Hulle word groot en ‘weet’ ook sekere dinge. Hulle weet ook wat is ‘reg’ en wat is ‘verkeerd’. Die lys is lank, maar ek noem net enkeles. Hulle weet dat ‘n gebreklike baba in die woud weggegooi word. Hulle weet dat ‘n swakkeling uit eie stam met die kapmes doodgemaak word. Hulle weet dat hulle met die groot feeste alles om hulle verwoes met daardie einste kapmesse.

Ja, hierdie mense het dit geweet en dit was reg en goed vir hulle. Daar was geen vrae daaroor gevra nie, want dit was logies vir hulle soos dat die son elke oggend opgekom het.
Nou is daar nog ‘n ander ding ook wat my pla, en dit is juis wat aanleiding gegee het tot hierdie lang relaas. 

Vir alles het ons standaarde en vasgelegde reëls, nie waar nie? Wanneer jy so of so oud is, moet jy reeds ‘n motor besit, ‘n huis aan die afbetaal wees, vroutjie en kindertjies, ens., ens. Jy moes dit of dat studeer het en jou salaris moet asseblief goed genoeg wees sodat jy gereeld gesien kan word by die ‘blink’ plekke. Reg?

Jou kinders moet almal gaan studeer en dan instap in ‘n werk wat Pappie gewoonlik eers moet goedkeur. Reg? Jy besluit ook so half en half vir Sussie wat sy moet gaan studeer, want ‘sy moet darem na haarself kan kyk tot sy trou’, nie waar nie?

En dis toe mos wat ek aan die Kommunisme dink wat ‘n kind vat en ‘n ballerina of atleet of wat ookal maak. Daardie kind presteer sonder ophou. Hoekom? Is dit nie dalk omdat dit is wat die kind voor aangelê is en wat hy/sy die graagste wil doen nie? Ek vra maar net, hoor.
Sit en merk ek honderde vraestelle en die stomme kind weet nie hoe om ‘continuous tense’ te skryf nie. Hy verloor die punt net daar. Nie omdat hy nie die ‘tense’ kan gebruik nie, net omdat hy dit nie kan spel nie. Hoekom moet dit so werk?

Genugtig, ek kerm die aand om en ek kom nie tot ‘n punt nie.

My vraag is net dit: Wie besluit op wat reg is en wat verkeerd is? Wie stel standaarde op? Wie bepaal wat is nodig sodat ek op my oudag kan sê: Ek het dit gemaak?

Want, jy sien, wat vir jou reg en aanvaarbaar is, is nie noodwendig vir my die standaard nie. 

Nou vra ek weer: Wie bepaal al hierdie dinge?
  

Saterdag 02 Februarie 2019

AS MY KOP MET MY OP LOOP GAAN

So het ek vandag weer ‘n onderonsie (net darem so ‘n ligte enetjie!) met iemand. Niks in die besonder het gebeur nie, dit was net so ‘n paar ongevraagde woorde en dan ... die lyftaal, mos. Jy weet mos, iemand het nog niks gesê nie, maar jy ‘lees’ daardie lyf en jy weet! Nou ja, dis min of meer ook wat gebeur het met my vandag. 

Vyf minute later is ek weer daar waar ek nie wil wees nie. Dis nou daar waar die minderwaardigheid diep inskop en die ellende sommer hoog in die bloei staan. “Vir wat?” vra ek myself af. “Waarom gee jy jou mag aan daardie persoon oor?”

Jy sien, dit is mos nou maar eenmaal so – jy kan nie al daardie negatiewe emosies ervaar as gevolg van iemand anders voor jy nie jou mag aan hom/haar oorgegee het nie. Jy glo my nie? Nou waarom presies kry die mens dit dan met jou reg?

Maar wat ek eintlik op die hart het, gaan nie oor ander mense nie. Ek besef net meer en meer watter ontsettende mag het my gedagtes en woorde op my lewe. As ek toegee en bly sanik oor dieselfde ding, is my ellende geboek!

Op en af. Op en af. Gelukkig. Tevrede. Hartseer. Mismoedig. Weer gelukkig. Weer beneuk.

Dis daardie ‘ding’ in ons kop wat so met ons woer-woer speel. Ek probeer verduidelik ...

Ons vroumense ken dit almal, ek weet. Jy staan mos vanoggend op en gaan staan voor die kas om aan te trek. Vyf minute later is die hoop klere op die bed groter as die alles saam wat nog in die kas oor is. Gister nog was jy doodgelukkig in hierdie toppie, maar vandag laat dit jou lyk soos ‘n ... besluit maar self, hoor. ‘n Mens kan ook nie alles op skrif sit wat jy sulke tyd dink (en dalk miskien nog kwytraak ook) nie.

Nou wat het dan van gister af tot vanoggend gebeur met die toppie? Niks! Heeltemal niks! Dis nie die arme toppie wat jou so verwese op die vloer lê se skuld nie, man. Dis jou kop wat dit aan jou doen.

In ‘n sekere mate kan ons ek dieselfde sê van ons my innerlike vrede ook. Alles gaan goed vir dae, weke, selfs maande ... tot op ‘n dag! Jy staan op met die hele aarde wat op jou skouers rus. “Los my net uit, asseblief!” hoor ek myself sê. “Vandag is net nie my dag nie.”

Maar die ‘vandag’ word ‘n week, ‘n maand, en later is dit nou maar soos dit is. Niks is meer lekker of mooi of goed nie. Die lewe het ‘n las geword – ‘n las wat te swaar is om te dra. ‘n Las wat ek lankal nie meer wil of kan dra nie. “Seblief, Meneer, ag sê tog weer: Is dit die pad wat ons moet môre gaan?”

En jy weet nie meer of jy kans sien daarvoor nie. “’n Stukkie lê hier, en ‘n stukkie lê daar. Die stukkies van my lewe ...”

Nou, hoe nou verder?

Ek luister vanaand na “Lord of the dance” wat Laurike Rauch so dieplik mooi sing en dit kom by my op: Suster, jy is op hierdie aarde en jy moet hierdie lewe dans! Soms dans jy met jou kop in die lug en jou arms hoog daarbo. Ander kere smaak dit mos vir jou of jy liewer moet grondlangs kruip, nie waar nie?

Dan is daar net een oplossing: Wat jou kop en jou hart en wat of wie ookal vir jou sê, speel (eintlik) nie ‘n rol in die lewe nie. Want, jy sien, die son gaan nog altyd opkom en ondergaan en, as dit die Here se wil is, sal jy nog altyd moet dans.

Terwyl ek nou MOET dans, waarom sit ek nie sommer maar 'n smaail op die suur gesiggie nie? 

Eers smaak dit mos vir jou of jou wange gaan skeur, want hulle is nie lus vir smaail nie. Ek weet, suster, ek weet! Soms is dit nodig om 'n bietjie hulp te kry (het jy al 'n wasgoedpennetjie oorweeg?). Ander kere gaan dit makliker om hom daar te hou.

Want, jy sien, daardie smaail maak alles makliker. En mooier. En beter. 

En dan? Voor jy jou kom kry, is jy weer op die voete en dans jy met die kop in die lug.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...