Saterdag 29 Desember 2018

OUD EN SAT DER DAGEN

Shoe, Misery, Mud, Poverty
Ek sien haar een aand so half toevallig. Ons paaie kruis nooit (meer) nie, maar hierdie keer het dit onbeplan gebeur.

Ek kan nie haar gesig in die donker sien nie. Ek weet bloot dit is sy omdat ek haar op daardie oomblik daar verwag het. Al wat ek sien, is haar silhoeët, dus. Die skok tref my soos 'n vuishou op die krop van my maag – is dit moontlik?

Is dit moontlik dat jy op hierdie ouderdom so moeg vir die lewe kan wees? Is dit moontlik dat jou hele liggaamstaal dit uitroep dat jy genoeg gehad het van die lewe en alles wat daarmee verband hou? Is dit moontlik?

Dit is inderdaad moontlik, want ek het dit gesien daardie donker someraand.  

Ek gaan huis toe met die beeld van ‘n mens wat lewensmoeg is ingeprent en vasgebrand. Die beeld van iemand wat dalk te gou te vinnig groot wou wees?

Ek kan nie en ek wil nie vir jou die storie van hierdie mens vertel nie. Dit sal onregverdig wees, aangesien sy nie haarself kan verdedig nie. Ek los haar dus daar in die donker straat, as jy nie omgee nie.

Maar! Die feit van die saak is dat baie van ons jare voor die tyd lyk asof ons gereed is vir die  salige heengaan na ‘n beter plek. Ons spreek dit nou nie eintlik hardop uit nie, maar dit kos nie veel om dit af te lei van jou hele menswees nie.

Jy weet, daar is ‘n verskil tussen ‘om arm te wees’ en ‘om arm te lyk’. Het jy dit geweet? Die deursnit mens het waarskynlik al op ‘n stadium van die lewe gevoel daar is niemand wat armer as jy is nie. Jy tel die sente en jy meet en pas, maar verdomp of jou somme wil klop. Ek weet, ek was ook daar.

Maar ek praat nou van ‘om arm te lyk’. Die oumense het gepraat van ‘oud en sat der dagen’. Dit is ‘n ding wat jy onbewustelik om jou skouers gooi en later so gewoond raak daaraan dat jy nie eens besef jy versmoor onder hierdie aaklige tjalie nie. Hy rem druk jou skouers af tot jy op ‘n plek kom waar hulle lewenslank gaan vasgroei net so langs jou ribbes. Op jou gesig dra jy ‘n masker van suiwer ellende – die mondhoeke mag nooit, ooit lig nie! Nee, hulle moet ‘n stram reguit lyn wees, of, beter nog, hoe laer die mondhoeke hang, hoe baie beter.

En nou vir die cherry op die koek: Nou trek jy aan volgens wat jy in die spieël sien. Alles moet vaal en kleurloos wees, asseblief. Niks van ‘n uitspattige stukkie rooi of geel nie, want dis aaklig! Stemmigheid (lees vaal en verslons) is die wagwoord. En, o groot asseblief, onthou om die haartjies ook so touerig as moontlik te hou, hoor.

En maak die tjaliedraer dan die voordeur oop vir ‘n opgewonde kuiergas, onthou dat hulle nooit mag opkyk nie. Nee, hulle kyk net so links by die persoon verby en fluister-praat met iemand agter die kuiergas.

Ek weet jy dink ek is vandag ‘n regte ou Miesies Bitterbek. Ja, ek weet! Hou net op met kerm daaroor, man. Dit kan net dalk gebeur dat daardie tjalie om jou skouers gaan nesskop ook, hoor.

Ek wil eintlik vandag aan elkeen wat daardie outfit so gewillig dra, vra om ‘seblief nie vies te wees as jou buurvrou nie ook so ‘n tjalie dra nie. Dis nou maar eenmaal ‘n ding van tjaliedraers – hulle haat almal wat nie tjalies dra nie. Hoekom? Ek weet nie, jong, ek weet regtig nie.

Gaan kyk vanaand ‘n slag in jou spieël en bepaal self of die tjalie om jou skouers pas of nie. Toets of jou skouers nog lekker regop kan trek. En, die belangrikste, kan jou mond nog glimlag? Of bêre jy daai glimlag in die donker tjalie se sak?

Ek vra maar net, hoor. 

Woensdag 19 Desember 2018

BOTTELTJIES DROME

Liewe Vader Krismis
Ek skryf vandag vir jou omdat ek nie weet vir wie anders om te skryf nie. Moet tog maar nie die briefie opskeur nie, ‘seblief. Lees hom maar en sit hom iewers neer waar iemand wie se hart soos myne voel, dit ook kan lees.
Jy sien, die saak staan nou so: Ek weet jy bestaan nie regtig nie. Ja, my pa het my dit vertel. Ek onthou nou nog die teleurstelling van daardie aand. Ons het juis weer gewag vir ‘Ou Vader’ se liggie daar doer in die veld. As ons die liggie gesien het, het ons ook die groot klok gehoor wat hy loop en lui het. Sulke tyd het ons almal sitkamer toe gestorm en in groot afwagting gaan sit en kersliedjies begin sing. Dis toe daardie tyd wat my pa my op sy skoot tel en vertel dat dit eintlik maar hy is wat die klere aantrek en speel-speel maak of hy Vader Krismis is. Ai, ek sou so graag nog vir altyd en altyd wou glo dat jy regtig bestaan!
Maar ja, ek moet my hart leeg kry, dus skryf ek maar vir jou. Reg so? Dit is dan seker ‘n kamma-briefie aan ‘n kamma-mens? Of wat ookal ...!
Almal skryf altyd vir jou met lysies van geskenke wat hulle begeer. Ek het ook ‘n lysie, Vader Krismis. Ek weet jy kan dit nooit vir my bring nie, maar ek sal maar vir altyd en altyd bly hoop. Dis nie soseer goeters wat geld kos wat ek begeer nie. Dis oomblikke wat ek na smag – kosbare oomblikke wat ek graag nog net een ou keertjie sou wou ervaar as dit enigsins moontlik sou wees. Dalk, as jy dit kan doen, kan jy dit elkeen vir my in ‘n botteltjie bring? Dan noem ons dit ‘Oomblik in ‘n Bottel’. Dit klink goed, ha? Ek is seker jy kan skatryk word as jy dit begin verkoop, hoor.
Die eerste oomblik waarna ek verlang, is om net weer een slaggie daar langs my ma op haar bed te gaan lê. Ek moes so skuif-skuif inwikkel tussen haar en die muur. En as ek gaan lê, was haar handjie op my kop en het ons kopstukke gesels. Ons hoef nie te gesels nie, hoor. Ek wil net weer een keertjie daardie gevoel van geborgenheid ervaar. Ek wil net nog een keertjie voel hoe dit voel om kind te wees.
My pa was ‘n baie besige man, maar daar was tye wat ons so baie, baie na aan mekaar was. Ek sou so graag weer saam met hom op die grasperk agter die huisie in die Namib wou sit ... en sy stem hoor. Nee, eintlik wil ek sy hárt hoor terwyl ons daar sit. Ek het soveel wysheid gemis deur nie altyd naby hom te wees nie. Sou jy dit vir my kon bring, ‘seblief?
Oomblikke met my kinders is ook op my lysie. Hulle is nou groot en elkeen het sy of haar eie lewe. Ja, ek hoor gereeld van hulle, dit is nie die probleem nie. Maar ‘n ma se hart is mos ‘n vraatsige hart, nie waar nie? Hierdie ma-hart wil nog baie-baie van haar lammers hoor en baie-baie met hulle kuier. Ek is seker jy sal ten minste hierdie versoek vir my kan bring? Toe, ‘seblief? Een botteltjie vol, ‘seblief?
Weet jy wat sou ek ook graag wou vra? ‘n Botteltjie vol van daardie tyd toe my liefman by my begin kuier het. Die liefde het toe mos heel anders gevoel as vandag, 36 jaar later. Ek sal dan, as jy dit bring, die botteltjie so nou en dan oopmaak sodat daardie geur deur die huis kan sprei en ons weer jonk en opgewonde kan voel oor die lewe met mekaar.
Jy weet, Vader Krismis, ek het nog so baie oomblikke op my lysie, maar ek is bang jy raak moedeloos en gooi die briefie weg. Ek sou nog wou vra vir ‘n botteltjie met my jeugdige voortvarendheid, enetjie met die onthou van ons (Pa, Ma en susters) in die plaasdam, ‘n groot bottel vol met oomblikke saam met kosbare vriende, en, en, en ...!
Jy sien, ek besef self jy sal ‘n hele fabriek se bottels moet koop om my wense waar te maak. Ek sal dan berus by die paartjies wat ek bo genoem het.
Ek glo nie jy het my adres nie, Ou Vader. Ek sal dit vir jou baie maklik maak, hoor. Jy kan dit sommer daar neersit waar ou Klasvakie sy slaapsand gaan optel. Ek is seker hy sal nie omgee om die botteltjies vir my te bring in my drome nie.
Dink jy nie ook dis ‘n baie goeie plan nie? Ek kan dan nag vir nag droom oor my dierbares. Ek kan die botteltjies een-een oopmaak en naglank daaraan ruik en dit beleef.
Vader Krismis, dankie dat ek vir jou kon skryf. Baie dankie dat ek nog soos ‘n kind in die klein wonders van die lewe kan glo. Dankie dat jy en Klasvakie ‘n plannetjie sal uitwerk hoe om my botteltjies by my te kry.
Met groot liefde en afwagting
M

Saterdag 15 Desember 2018

SPAAR JOU TRANE VIR JOU TROUDAG

Ken jy ook daardie uitdrukking? Ag, ek het my ma moedeloos gehad met al die ewigdurende trane, man. As iemand skeef na my kyk, was dit ‘n tranedal. Nou vra ek jou, watter ma kan ‘n grensbalie hanteer? Wees verseker, my moeder kon nie.

“As jy wil ‘n rede hê om te skree, sal ek jou ‘n rede gee...” was haar standaard dreigement. 

Of ‘n ander beproefde gesegde: “Kom dat ek jou rede gee om te skree.”

Dink jy dit het gehelp? Nie in die minste nie! Tjankbalie was ek doerie tyd en tjankbalie is ek immer nog.

Mettertyd het die redes vir my tjankery natuurlik verander. Vandag steur ek my nie meer aan afjakke en sulke dingetjies nie. Natuurlik, vir ‘n oomblik of twee is my asem weg daaroor, maar dan skud ek dit af en gaan aan. (Ek is eintlik baie trots om dit te kan sê, hoor.)

Maar, o jittetjie tog, tjank moet daar getjank word!

‘n Vriendin sê op ‘n dag laggend: “Martha, jou trane loop mos nie soos ‘n ander mense s’n nie. Dit spat sulke strome reg vorentoe.”

Einste! Dis nou van lekker tjank wat dit so spuit.

Nou waaroor grens jy dan alles, Martha?

Kom ek vertel jou:

-Die gewone regte, egte tjank-redes is mos maar daar. Jy ken hulle ook, glo ek. Groot teleurstellings, seerkry (in jou hart of in jou lyf), die dood, siekte, woede, en al daardie slegte goed. En so gepraat van woede – ek en ‘n paar van my susters (dalk is jy ook een!) tjank mos as ons so kwaad word. Hoe hard jy ookal probeer, jy kry nie ‘n woord uit nie, maar die vrekselse trane wil en sal uit!

Ja, ja! Ek kom by my storie. Ek wil jou vertel van my spesialiteite wat tjank aan betref.

1.  -Wanneer ‘n baba gedoop word. Man, ons staan nog op om die gesang te sing vir wie ookal nou die babatjie vorentoe moet bring, dan spat hulle sulke strome teen die vrou hier voor my se rug. Jip, dis ‘n gunsteling van my. Voel ek vandag lus vir huil? Ag, dan gaan ek net gou ‘n bietjie kyk hoe word ‘n babatjie gedoop.

2.  -Troues. O, sondetjie tog! Troues van bekendes en onbekendes en almal wat die gier kry om voor die kansel te gaan ‘I do’. Die eerste note van die troumars is die teken dat ek die krane wyd oop moet draai. Mmm, ek weet hoe, jong. Ek het al gewens hulle wil lakens by die deur uitdeel ... sulke wit katoenlakens wat jy so van die een punt tot by die ander punt kan behuil.

3.  -Sentiment. Ja, dis nou ek daai. Dink aan die maatjie van 1960 daar langs my op die skoolbank, en hulle spattt! Hoor ek ‘n goeie kennis se stem onverwags, en hulle loop riviere. Ek sukkel om die selfoon droog te hou – mos bang vir ‘n kortsluiting of iets hier in my hand – maar keer kry ek hulle nie gekeer nie. 

4.  -Hoe weet jy wanneer ek innig bly is? Natuurlik, dis glad nie moeilik om te raai nie. Hulle loop riviere vol. Jy kan my nie verras nie, suster, want dan is dit snot en trane vir ‘n week en ‘n half.

5.  -Daarby sluit natuurlik dankbaarheid aan. Ogggg, dit lyk of ek ween omdat jy vir my die verkeerde geskenk gegee het, maar intussen juig my hart op die enigste manier wat hy ken – trane!

Dis nou alles goed en wel dat ek so grens, maar het jy al gedink hoe lyk ek lewenslank? ‘n Mens se gesig gaan mos in ‘n spasma dat jy lyk soos laasweek se nagmerrie. Ek het al probeer oefen (ek kry genoeg kans om te oefen) om my gesig so normaal as moontlik te hou wanneer die krane oopdraai, maar moenie glo nie! Hoe meer ek probeer, hoe erger raak dit. Om nou nie te praat van die konstante snotstreep oor my wang nie.

En dan is daar nog daai een wanneer jy nog so lekker lag, dan kom jy skielik agter jy is hoeka al aan die grens. Ek onthou die laaste keer wat ek my eksamenuitslae op ‘n kennisgewingbord moes gaan kyk het. Daar was geen twyfel dat ek sou slaag nie, maar ‘n mens weet mos nooit! My ouers het vir my staan en wag voor die koshuis terwyl ek gou geloop het om te gaan kyk. Alles was reg, tot ek weer voor my ma kom staan. Ek gaan aan’t snot dat hoor en sien vergaan. My een vriendin staan simpatiek nader, want ‘Ai, het Martha dit toe nie gemaak nie?’, tot sy sien dat ek eintlik probeer lag so tussendeur.

Ai, vriendin, as jy nie deel in my sentiment van ‘Tjank terwyl die son skyn nie’, wees tog maar dankbaar. Dit het regtig sy voordele om ‘n bietjie te kan terughou met die trane.

Maar vir julle wat hier saam met my sit en ween, kan ek dalk een bemoedigende woordjie gee: Iemand het eendag gesê dat trane eintlik so half soos ‘n tonic werk op jou siel. As jy gereeld ‘n stukkie tjank, bly jy blykbaar langer jonk. Maar ja, as ek in die spieël kyk, het ook stellig hieroor my bedenkinge!

Ai, amper tjank ek nou sommer daaroor ook!


Woensdag 05 Desember 2018

MY BRIEF AAN JOU

Hoe begin die belangrike briefskrywers ‘n brief as hulle nie weet aan wie om dit te rig nie?

AAN WIE DIT MAG AANGAAN

Nou, daar het jy dit! Hierdie brief kan dan selfs vir jou ook wees, nie waar nie? Maar ha-a, ek wil nie ‘n brief wat ek vir jou skryf, so amptelik begin nie. Kom ek begin weer voor, dan lyk dit dalk beter.

Liewe mens wat hierdie Kersfees alleen gaan wees!

Ek sit met ander dinge, maar my kop wil nie vanaand regte, egte goed doen nie. My kop wil ‘n slag my hart volg – die ver paaie van alleen-wees en (soms) alleen wil wees. Ek wil daardie paaie loop en kyk wie ontmoet ek daar. En dalk, net groot miskien, kan ons twee mekaar so ‘n klein bietjie opbeur?

‘n Goeie skoolmaat werk in annerland. Hy kry vanaand die nuus van ‘n familielid wat uiters siek is en die dokters is raadop. Hy is stoksielalleen, sou onse David Kramer sing, maar sonder die vrolike riel wat daarmee gepaard gaan. Hy soek vanaand na die warmte van sy huis en sy mense. Want sien, as die lewe druk, wil jy mos méns voel rondom jou. Sulke tyd help die telefoon en die internet g’n niks om jou beter te laat voel nie. Jy wil jou liefde in die oë kyk en jou prate praat ... of dalk sommer net sit en jou dinke dink, so saam met jou geliefdes.

Maar ek dwaal af, sien ek. Eintlik is ek mos op pad, of hoe het ek dit nou?

Ek kry my vriend van annerland so amper half onder ‘n bos ingebuk. Ja, hy wil my nie eintlik aankyk nie, maar sy hart roep na ‘n klein bietjie bekendheid van iewers af. Ek sien dadelik ek moenie talm hier by hom nie, want dit is nie wat hy vra nie. Ek kry darem kans om hom ‘n bemoedigende tikkie op die skouer te gee – ‘Niks nader as dit aan my nie!’ waarsku sy hele houding. Ek loop omkyk-omkyk verder, maar hy is reeds weer kop-onder-sy-eie-bos besig met sy eie dinge.

Ek sien hom van ver af al. Hy sit asof hy die ganse heelal besit en asof niks op aarde hom nog ooit gepla het nie. Mmmm, dink ek by myself, hierdie ou het nie my afdraai langs die pad nodig nie.

Ek is amper al verby toe ek in daardie oë kyk. Ai tog man, ‘n alleen-mens se oë lyk mos anders as ander mense s’n. Het jy dit al opgemerk? Jy weet, dis net asof daar so ‘n amperse verslaentheid iewers daar ver agter skuil. Nie dat hulle dit aan jou sal erken nie, hoor.

Hy is nie veronderstel om alleen te wees nie, maar die lewe het hom ‘n lelike streep getrek toe hy dit die minste verwag het. ‘Nou vat ek dit soos ‘n man,’ laat hy my gou genoeg hoor. Ek gaan saam met hom sit en ons gesels kort voor lank dat die biesies bewe. Dis lekker om met hom te gesels, maar weereens is die skerm om die hart so dig dat jy onmoontlik daar kan uitkom.

So loop ek hulle een vir een raak. Die vrou wat liewers in ‘n kamer bly as by haar man wat haar so ongenadiglik verniel. Die man wat dag in en dag uit by sy siek kind in die hospitaal sit, al het hulle hom gewaarsku dat kindjie nooit weer daar sal opstaan nie.

Die ouers wat hier net voor die vakansie hulle baba-kind verloor het aan die dood. O hemeltjie tog, hoe stop ‘n mens en gesels met hulle? Hoe kan jy ooit probeer verstaan as jy self nog nooit op daardie pad was nie?

Is dit nie dalk die kruks van die saak nie? As ek nie in jou skoene daardie pad geloop het nie, kan ek nooit as te nimmer vir jou sê dat ek verstaan hoe jy voel nie, kan ek?

Maar! Vanaand wil ek graag vir jou vra om, terwyl jy daar langs die swaarkry-pad sit, net ‘n slaggie op te kyk. Kyk op en sien die ander voetgangers – elkeen op sy eie, vreemde pad.

Kyk, daardie een sit vir jou ‘n blommetjie neer. Nee, hy sal nie nader kom nie, hoor. Maar daar op ‘n afstand het hy tog  vir ‘n oomblik gestop uit eerbied vir jou ... en die blommetjie vir jou gelos vir later se optel. Iemand anders het reeds vir jou ‘n koel lafenis gelos. Daar oorkant is een besig om vir jou ‘n plekkie in die skaduwee te maak.

Jy sien, ons kan nie jou pad namens jou loop nie, maar tóg probeer elkeen op sy eie manier vir jou die swaar pad makliker maak.

Ek rus ‘n oomblik en, sowaar! hier stop iemand by my en gee vir my die mooiste glimlag. Net dit. Die glimlag. Niks anders nie. Net die glimlag.

Opeens voel ek uitgerus en reg om my pad vorentoe te loop.


Jy wat so alleen jou sit daar eenkant sit, kyk net so ‘n klein bietjie op, sal jy?

Sondag 02 Desember 2018

DIE HELE DORP BEHOORT AAN JOU ... OF NIE?

Ek kry die volgende storietjie by ‘Chicken Soup for the Soul’ en ek wil dit baie graag met jou deel.

Klein Samantha is in Graad 1 en is so ontsettend selfbewus en minderwaardig. Sy weier om pouses met haar maatjies te gaan speel, ‘Want,’ reken sy, ‘niemand wil in elk geval met my speel nie.

Die juffrou sien daar is groot fout en hou haar ‘n oomblik terug terwyl die ander maatjies gaan pouse hou.  

“Sammy, wat gaan aan? Hoekom wil jy dan nie met die maatjies gaan speel nie?” vra sy belangstellend.

Sammy is dadelik onder trane. Sy antwoord hartseer: “Ek kan nie touspring nie, Juffrou. Al my maatjies kan, maar ek kan glad nie. Ek het al baie probeer, maar dit werk nie.”

Juffrou dink ‘n oomblik voordat sy antwoord: “Hoor nou mooi vir my, Sammy. As jy nou by daardie deur uit loop, dan loop jy asof die hele plek aan jou behoort.”

Sammy glo nie werklik dat dit sal help nie, maar sy het in elk geval niks om te verloor nie. Sy trek haar skouertjies regop, hou haar kop hoog en stap buitentoe.

En wat gebeur? Die coolste seuntjie in die klas keer haar voor: “Ons is seerowers. Wil jy saam met ons kom speel?”

Sammy was die beste seerower op die speelgrond, al kon sy nie touspring nie. Van daardie dag af het dit haar glad nie meer gepla dat dit die een ding is wat sy nie kon doen nie.
Hoeveel maal loop ek en jy met ‘n minderwaardigheid rond waarvan niemand anders bewus is nie? En hoeveel maal weerhou dit ons van die mooi dinge rondom ons?

En weet jy, hierdie minderwaardigheid maak dat ons ‘n muur om onsself bou en niemand anders binne toelaat nie. Jy is die eensaamste wese, maar jy weet nie waarom nie. Reg?

Nou daag ek jou uit – stap by jou huis uit asof die hele dorp aan jou behoort en kyk wat gebeur.


Ja, dit is so, daar is seker nie ‘n seerower wat jou gaan saam nooi op hulle reis oor die woeste oseaan nie, maar aan die anderkant, wie sal ooit weet?

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...