Dinsdag 31 Oktober 2017

DIE SEESTERRETJIE

Dit is laat in die aand. Ek en ‘n goeie vriend wat ver woon gesels so effens op Whatsapp. Effens? Ja, so nou en dan sê die een iets en dan antwoord die ander weer ‘n bietjie later. Ek wil weet hoe kry hy en vroutjie die Vrydagaand om. En net daar vang hy my met ‘n storie!

Jy sien, die laat ure van die aand is mos so half gemaak vir eerlik wees, vir uitkom met die verborge dinge, vir deel jou dieper dinge met ‘n iemand wat dalk sal verstaan. Dit is daardie laat-ure wat my telkens vang en my gedagtes so aanjaag dat daar min kom van slaap en rus. Wie wil dan nou in elk geval rus as jy kan droom, kan geniet, kan waardeer?

Hy stuur my na die storie van die seesterretjie, deur Loren Eiseley. Dit is hierdie jongman wat seesterretjies op die strand optel en hulle terug in die see gooi. Waarom dan? Weet hy nie hoeveel duisende seesterretjies spoel daagliks uit en vergaan daar in die son en wind nie? Ja, hy weet. Hy weet dat hy nooit almal sal kan red nie, maar wat hy wel weet is dat hy ‘n verskil gemaak het aan die een wat hy so pas terug in die water gegooi het.

Hierdie vriend van my en sy vrou se kinders is reeds uit die huis uit. Hulle twee kan dus, volgens David Kramer, stoksielalleen wees op ‘n Saterdagaand. Maar hulle is nie. Hulle het ‘n seesterretjie aan wie se lewe hulle ‘n verskil wil maak. Hierdie mooie kind sou vergaan het in die lewe se ongenadige son en wind en storms, maar hulle het gekies om haar op te tel en op te hef. Hulle het gekies om haar lief te hê en haar te leer om die mensdom weer te kan vertrou.

En ek dan nou? Hoe kan ek ‘n verskil maak? Wat op aarde kan ek doen om ook iewers iemand se lewe aan te raak? Genugtig tog, hoe doen ‘n mens dit? Waar kry ek ook 'n seesterretjie of twee om terug te gooi in die see?

Die antwoord is eintlik heel eenvoudig. Daar is oneindig baie wat ek kan doen sonder dat dit my tyd, my geld, my gemak, my wat ookal! van my gaan vat.

Ek moet, ten eerste, goed wees vir myself. Laat ek myself toe om (soms) foute te maak? Hoe praat ek oor myself? Is ek werklik trots op wie ek is? Besef ek dat ek uniek is?

Hoe volop is die liefde wat ek uitdeel in my huis? Dis mos soms baie makliker om aan die ou op straat liefde te bewys met ‘n brood en ‘n blik konfyt, is dit nie? Dan voel ek tog so goed, want ek het liefde aan my naaste bewys. Dit is so, ja, maar weet my man hoe lief ek hom werklik het? Weet hy dat hy my held is? Weet hy dat ek hom vir niks en niemand sal verruil nie? Maar bo alles: Is ek dankbaar en spreek ek dit uit teenoor my geliefdes? 

Wanneer laas het ek saam met ‘n diep beswaarde vriendin gelag dat die trane loop? Wanneer laas het ek vir iemand (dalk ‘n baie minderwaardige vriendin wat innig verlang na erkenning) ‘n opregte kompliment gegee? Wanneer laas het ek vir iemand wat die dag nie lekker voel nie, ‘n drukkie gegee? Of wanneer laas het ek selfs net vir iemand, sommer so in die verbygaan, my breedste glimlag gegee?

Die ou wyse man en sy seun gaan klim berg. Die seun val en maak sy been seer. Dit is so seer dat hy hardop ‘AAhhhh!’ skree. Die berg antwoord hom met ‘n ‘AAhhh!’. Die seun is verstom, want hy het dit nog nooit gehoor nie.

Die pa sien dit as 'n geleentheid om sy kind 'n lewensles te leer en begin skree op sy hardste.

 “Jy is ‘n wenner!” Die berg antwoord: “Jy is ‘n wenner!”

“Ek bewonder jou!” Die berg antwoord weer: “Ek bewonder jou!”

“Ek het jou lief!” ... “Ek het jou lief!”

Die seun is in verwondering. “Hoe werk dit, Pa?”

En die pa antwoord hom: “Dit is hoe die lewe is, my kind. Dit wat jy uitdeel of uitstuur, kom altyd maar weer terug na jou toe. Gewoonlik is dit dan baie meer as wat jy uitgedeel het. Ons lewens is nie per ongeluk nie. Elke oomblik van die dag kry jy presies daardie dinge terug wat jy so spandabelrig en (soms) so onverantwoordelik uitdeel.”

Wat my mos nou laat wonder – hoeveel seesterretjies het ek vandag in die water gegooi? 

Maandag 30 Oktober 2017

SPIERE SE OUMA KOM HUIS TOE

Ek ry op my fiets om die huis. Om en om en om. Hond wil nie meer saam met my hardloop nie. Ek dink hy is al so 'n bietjie moeg gehardloop. Ek word nie moeg nie. Ek wil nie moeg word nie. Ek ry om en om en om. Diasy het my geroep om te kom pap eet, maar ek het gemaak of ek haar nie hoor nie. Ek het mos al gesê haar pap is baie sleg, maar sy wil nie hoor nie. Sy maak elke dag die pap en dan gooi sy dit later vir hond uit.

Ek wil weet wanneer kom my ouma huis toe, maar simpel Daisy antwoord my nie. Ek wil dit weet, want ek moet dit weet. Daisy kla elke dag dit raak nou vir haar te lank om hier te bly, want wat van haar verlof en wat van haar verloofde? Ek traak mos nie as sy wil ry nie. Sy kan maar ry. Ek en hond sal hier bly en vir Ouma wag.

Om en om en om die huis. Ek probeer om loshande te ry, maar dan raak ek bang ek val. Ek wil nie val nie, my klere moet skoon wees as Ouma huis toe kom. Om en om en om die huis.

"Spiere!"

Maar dis mos nie Daisy wat daar roep nie, is dit? Nee, dit klink soos die ander tannie se stem. Dit klink soos tannie Susan se stem. Het sy my kom haal dat ek by haar huis kan gaan speel? Ek is nie vandag lus vir by haar huis gaan speel nie. Ek wil hier bly en wag vir my ouma. Sy moet maar ry. Ek traak ook nie as sy dalk kwaad vir my is omdat ek nie saam wil gaan nie. 

Ai, nou staan sy sowaar in my pad. Ek is te skaam om sommer so verby haar te ry. Gelukkig lyk sy nie kwaad vir my nie. Die beste ding is om nou maar af te klim en te hoor wat pla haar. Ek moet nou nie so lelik wees dat sy later by my ouma daaroor kla nie. Nee, ek mag nie my ouma se hart seer maak nie. Nooit nie.

Maar die tannie het my nie kom haal om te gaan speel nie. Ons twee gaan sit onder my boom. Jis, sy dink nie sy is te mooi om op die grond saam met my te sit nie. Sy is nou regtig 'n mooi tannie. Ek wens sy was my ma ook. Ek moet onthou dan vra ek volgende keer vir Petrus en Gertjie of dit baie lekker is om so 'n mooi mamma te hê. 

Dit lyk dan nou so half of die tannie wil tjank. Ai, wat is dit met die vroumense dat hulle altyd wil tjank? Maar nee, dalk het hy hom verbeel, want nou is die tannie weer vriendelik.

"Spiere, jy moet nou mooi luister na wat ek jou wil vertel. As jy ietsie nie verstaan nie, moet jy vir my vra. Sal jy?"

Nou wat nou? Ek knik net en wag vir haar storie. Sy praat en praat en praat en ek kan nie alles onthou nie. Ek weet nie wat dit is wat ek vir haar moet vra as ek nie verstaan nie. Daar is 'n snaakse knoppie op haar wang. Die tannie se een tand is skeef. Sy vat aan my hand. Haar hand is lekker sag. Ouma se hande het plooie. Ek wonder of ons vanaand na Ouma toe gaan.

"Seun, hoor jy vir my?" O gatta, ek het nie gehoor nie. Ek weet nie wat ek moes gehoor het nie. Ek vra die tannie moet eers weer sê. 

En toe luister ek baie mooi. Ouma kan huis toe kom, maar sy sal nie vir ons kan kos maak en ons klere was nie. Ouma se been sal nog baie lank vat voor sy weer kan loop. En nou wil die tannie sowaar dat ek by hulle moet gaan bly. Ek sal dit mos nooit doen nie! Wat moet van my ouma word as sy hier alleen moet bly? Nee, daarvan kan hierdie tannie so wraggies maar vergeet. Ek sal dit nooit ooit doen nie.

En dis toe dat ek soos 'n meisiekind aan die grens gaan. Ek sweer ek wou nie, maar dit het sommer self gebeur. Ek wil nie soos 'n meisiekind tjank nie, maar ek kan ook nie ophou nie.

Die tannie vat my op haar skoot. Ek dink ek sit haar bene plat, maar sy hou my styf vas en ek kan nie wegskuif nie. 

"Hoekom is jy dan nou so hartseer? Ek dink jy het nie mooi gehoor nie, my liefie. Ons gaan vir Ouma haal en dan kom jy en Ouma by ons in die woonstel bly totdat alles weer beter is. Daisy kan nie langer hier bly nie en ons wil nie dat julle tweetjies so alleen wees nie."

Ek sit eers lank en dink. Ek traak nou ook nie meer of ek haar bene in die grond in sit nie. Ek wil nie te gou bly word nie. Het ek reg gehoor? Gaan ek en my eie ouma by die tannie-hulle bly? Jis, maar dit klink mos baie lekker. 

Daisy kom ook by ons staan. Siestog, nou traak niemand met haar nie. Ek sit lekker by die tannie en Daisy moet maar daar staan. Maar ek traak nie, ek hou nie van Daisy nie al het sy by my kom bly. Ek wonder wat sal my ouma van hierdie storie dink.

Toe ek vir die tannie vra of sy lekker pap kan maak, lag sy baie hard. Sy lag so hard dat ek glads skrik. "Dit sal jy maar by Petrus en Gertjie moet hoor, jong," is al wat sy sê.







Saterdag 28 Oktober 2017

SPIERE IS DIKBEK

Spiere is dikbek. Hy is deesdae niks anders as dikbek nie. Hy het gedink sy ouma gaan net vir ‘n klein bietjie in die hospitaal wees. Dit is mos wat sy gesê het toe die ambulans haar kom haal het. Vir wat het sy vir hom gejok? Elke oggend staan hy vroeg op as dit nog donker is. Hy trek vinnig aan en gaan sit buite met die hond. Hy wag vir sy ouma. Vandag sal sy ouma huis toe kom, hy weet.

Daisy maak nie lekker kos nie. Sy weet nie eens hoe ‘n mens lekker pap met suiker en botter maak nie. Ouma se pap is lekker. ‘n Mens voel altyd nog lus vir pap as jy klaar geëet het, maar dan sê Ouma altyd ‘ Hokaai nou, môre is nog ‘n dag’. Eers het hy nie verstaan wat sê Ouma nie, maar nou weet hy sy bedoel eintlik hulle kan nie vandag die pap alles opeet nie, want hulle gaan môre weer honger word.

Daisy roep hom, maar hy maak of hy haar nie hoor nie. Dis g’n lekker as Ouma nie hier is nie. Hy sit liewer buite by die hond. Maar sy roep weer 'n keer – hierdie keer klink sy so ‘n bietjie kwaad. Hy lag kliphard. Hy het al gesien sy word vir hom kwaad, maar dan maak sy kamma of sy nie kwaad is nie. Sy is seker bang hy verkla haar by sy ouma. Hy weet sy ouma sal lekker met haar baklei as sy lelik is met hom.

In die kombuis staan daar ‘n klomp koppies en glase op die tafel. Dit lyk amper soos toe hy verjaar het, maar dis net nie so mooi gepak soos sy ouma dit kan doen nie. Daisy is dom! Sy kan nie eens koppies en glase mooi regsit nie. Daar is sowaar ‘n koek ook! Verjaar hy dan weer? Hy wil nie verjaar as sy ouma nie by die huis is nie.

“Kom, Spiere, ons moet gou vir jou netjies maak, jong.” 

Die vet weet, waarom moet ‘n mens netjies gemaak word as jy koeldrank wil drink? Hy loop sleepvoet saam badkamer toe. Sy vee en vee oor sy een wang wat kamma so vuil is. Van wat? Ag, dit maak ook nie saak nie. Hy het al gesien as hy net stilbly en maak soos sy sê, dan kerm sy nie so baie in sy ore nie.

“Hier kom ‘n tannie en twee maatjies vir ons kuier. Julle kan koek eet en koeldrank drink en dan kan julle lekker buitekant gaan speel. Ek het vir julle elkeen ‘n mooi nuwe karretjie gekoop.”

Hy antwoord haar nie. Hy weet nie van maatjies hier in die dorp nie. Wie vertel vir haar dat hy maatjies het? Ag ja, los tog maar, anders hou sy nooit op met skrop aan sy gesig nie. Of is hierdie storie met die maatjies nou haar plan dat hulle nie vanaand vir Ouma kan gaan kuier nie? Dan sal hy sowaar nooit weer vir haar help om die kombuis uit te vee nie.

Toe die tannie en die twee seunskinders kom, is hy baie bly. Die tannie is baie vriendelik. Sy sê haar naam is tannie Susan en sy het vir Petrus en Gertjie gebring om by my te kom speel. Jis, hulle speel lekker karretjies. Hy was verniet bang dat hulle nie weet hoe om paaie te bou nie. Petrus is al bietjie groot en hy weet hoe om ‘n sterk brug oor die pad ook te bou.

Die tannie roep, want sy wil huis toe gaan. Hy wil nie hê hulle moet ry nie. Hy het nog nooit so lekker gespeel nie. Ai, dis nie lekker as jou maatjies moet huis toe gaan nie. Maar die tannie belowe sy gaan hom kom haal en dan kan hy lekker lank by hulle gaan speel. Nou voel hy beter. Dis ‘n baie gawe tannie, sowaar.

Sy klere is nou so vuil dat hy weer ‘n keer moet gaan aantrek om na Ouma toe te gaan. Hy hou baie daarvan as Daisy hom hospitaal toe vat, want hulle stop elke keer eers om drops te koop.

Ouma sit regop in ‘n stoel toe hulle daar kom. Dit lyk mos of sy beter voel, ha? Hy is te bang om te vra of sy dalk al huis toe kan kom. Hy wil haar tog nie hartseer maak nie. 

Eintlik weet hy nie wat om met Ouma te gesels as Daisy by is nie, want sy hou haar altyd slim oor alles wat hy vir Ouma vertel. Daisy sê hy moet vir Ouma vertel van die maatjies wat by hom kom speel het. Hy wil nog van die brug en alles vertel, toe gaan sy sowaar weer aan die grens. Wat het haar nou oorgekom dat sy daaroor wil staan en huil? Dan sal hy haar maar nie weer iets vertel nie. 

Daisy vertel van die koek en koeldrank wat hulle gehad het en van tannie Susan wat so 'n gawe tannie is. Dit lyk of hulle vergeet het dat hy dit hy is wat eintlik vir Ouma kom kuier het. Traak Ouma dan nie meer met hom nie?

Hy staan op en hy los vir Daisy en Ouma net daar. Hy sal by die kar wag dat hulle kan klaar kuier. 

Niks is nou meer vir hom lekker nie. Hy sal ook nie die simpel drops eet nie. 

Vrydag 27 Oktober 2017

VERLORE VREDE

Ek is benoud. Doodsbenoud. Dit voel of ek stadig besig is om te versmoor. En nee, ek is nie siek nie. Inteendeel, ek is blakend gesond.

Nou wat dan?

Ek is aan die versmoor by ‘n gebrek aan die lewe.

Ek kyk na die nuus op tv. Moord. Diefstal. Optogte waarin motors en besighede aan die brand gesteek word. Nog moorde. Verkragtings. Opstande. Stakings. Bomme. Orkane en vloede.

Ek gaan in op facebook. Plaasmoorde. Molestering. Dieremishandeling. Kindermishandeling. Ontvoerde kinders. Mishandelde bejaardes in tehuise.

Ek sit die tv af. Ek weier om in te gaan op facebook. Nee, ek gaan voortaan kontak hou met my mense op whatsapp. Genugtig tog! Dit verskil geensins van bogenoemde twee nie. Miskien is dit selfs ‘n bietjie erger, want nou hoor ek van persoonlike ondervindings van al die booshede van die wêreld. Elke tweede boodskap is ‘n video met die aardigste inligting. My foon laai dit outomaties af en nou sit ek, teen my wil, daarmee opgeskeep. As ek dit wil afvee, word ek weereens daaraan herinner – totaal en al teen my wil.

Moet ek my huis se deur sluit en nooit weer straat toe gaan nie? Moet ek my gordyne dig toetrek en my vensters nooit weer oopmaak nie? Hoe moet ek maak om gespaar te bly van al hierdie grieselrige inligting?

Verstaan my asseblief mooi, Meneer die Voorsitter, dit is nie dat ek al hierdie dinge (probeer) ontken nie. Ek weet dit is daar. Ek weet dit is ‘n plaag van moord en doodslag, van meer misdadigers as vredeliewende mense op straat. Ek weet dat duisende mense in angs en bewing lewe, want hulle weet nie wanneer is dit hulle beurt nie. Ek hoor hoe grom jy dat ek moet wag en kyk hoe voel ek wanneer dit my oorkom. Ek hoor jou hart! Maar, Meneer, sal jy myne ook nou hoor, asseblief?

Ek soek na die vreugde van menswees wat verlore geraak het tussen al hierdie donker berigte. Ek soek na ‘n vriendekring wat kan lag en kuier en mekaar kan geniet. Ek soek na die rykhalsende uitsien van 'n jongmens na die toekoms. Ek soek na die genot in die klein dingetjies van die lewe. Ek soek na ‘n onverwagse skaterlag van ‘n vriend of vriendin oorkant die straat. Ek soek na die verlore vrede in die hart.

Ons is al so vol gif en agterdog dat ons nie meer na ‘n medemens kan kyk sonder om agterdogtig te wees nie. ‘n Vreemdeling is nie meer ‘n (moontlike) vriend nie. Nee, elke vreemdeling is ‘n (moontlike) moordenaar en dief. Ek kom agter dat elke gesprek iewers opeindig in ‘n ontevrede opmerking oor wie nou weer wat aan my gedoen het.

En nou, Meneer die Voorsitter, wil ek jou uitdaag. Die keuse is joune of jy dit gaan aanvaar, en of jy van my ook ‘n video gaan rondstuur en mense waarsku teen my regse gesindheid. Ek gaan nie aanhou en aanhou hiermee nie. Ek belowe ek gaan dit ook nie elke dag ‘share’ op elke elektroniese medium wat daar is nie. Hoor my hart asseblief, net hierdie een keertjie.

Ek daag jou uit om vir ‘n oomblik terug te sit en te dink aan een (JA, NET EEN) goeie ding wat vandag met jou gebeur het. Wanneer jy dan hierdie een klein dingetjie iewers in die donker opgespoor het, deel dit dan op die media sodat ek dit saam met jou kan geniet.

As elkeen wat hier lees net EEN mooi ondervinding vandag deel, kan jy jou indink wat ons gaan regkry?


Vir ten minste een aand sal almal kan gaan slaap met die wete dat daar nie net sleg in ons mooi wêreld is nie.

Woensdag 25 Oktober 2017

ANGOLA, 1975

Ek is op die oomblik besig met navorsing oor die vlugtelinge uit Angola in 1975. Die burgeroorlog het derduisende lewens geëis en net soveel duisende het gevlug – of na Suidwes Afrika, of terug na Portugal toe. Die volgende is ‘n vinnige kykie in die huis van een so ‘n gesin. Emilio is die sestienjarige seun van ‘n oorlogoffisier.

Pa was nog nooit ‘n man van baie woorde nie en daardie dag nog minder. Ons was besig om te eet. Die spanning in die huis was oordonderend. Vir my het dit kompleet gevoel asof ek dit kon hoor – die skrilskreegeluide van senuweedrade wat tot die uiterste beproef word.

Toe die moeilikheid begin het, is Pa en my twee broers weg om te gaan veg. Pa was toe reeds weke weg en ons het niks van hom gehoor nie. Daardie Sondagoggend toe ek opstaan, sit Pa daar langs die kombuistafel. Ma was besig om eiers in ons borde te skep. Nie een van die twee het gepraat nie. Ons het in stilte begin eet. My twee sussies was, wonder bo wonder, ook doodstil en het nie hulle gewone rusies gehad aan tafel nie.

“Emilio.” 

Doodse stilte. Pa noem my Emil. Pa het my nog nooit op my volle naam genoem nie. Die manier waarop hy nou my naam gesê het, beteken net een ding – moeilikheid!

Ma se vurk val kletterend op haar bord. Sy stamp haar stoel terug en loop by die agterdeur uit. Ek kan hoor hoe sy huil. Sy roep die meisiekinders buitentoe en ek weet dat Pa met my alleen wil praat. Gaan hy my nou oorlog toe dwing? Hy weet mos hoe ek daaroor voel! ‘n Naar kol kom sit op my maag. My kop duisel. Ek knyp my oë toe en sit en wag vir Pa se aankondiging.

“Emilio, kyk vir my.” Pa praat sag. Ek kyk op en sien, net vir ‘n baie kort oomblik, die intense pyn in sy oë. Hy sit sy hand op myne. Ek voel hoe bewe my sterk, dapper pa.

“Vat jou ma en susters Portugal toe.”

Hy staan stadig op en wag dat ek teenoor hom kom staan. Ons kyk mekaar stip aan. Ek probeer sy gesig in my geheue inbrand. Ek weet ek gaan hom nooit weer sien nie.

“Julle het drie dae tyd. Kry geld; kry soveel as wat julle moontlik kan kry. Pak lig in. Moet asseblief met niemand hieroor praat nie.” Sy opdragte klink soos geweerskote. Ek knik stom.

En toe, vir die eerste maal in my lewe, soen my pa my op my mond. Ek gryp hom vas en byt op my tande om nie te huil nie. Hy maak my hande los en draai om en loop buitentoe.

Dit is hoe ek hom sal onthou – met sy regop rug en besliste voetstappe op pad om sy lewe te gee vir die saak waarin hy bo alles glo.




Maandag 23 Oktober 2017

IS OUMA DAN DOOD?

Spiere is omgekrap. Hy is dikbek, om die minste daarvan te sê. Ouma het gesê Daisy sal voor middagtyd hier wees en sy is nie. Hy sit by die hek en wag vir haar. Hy wil sien as sy kom. Sy moenie dink sy gaan alleen in Ouma se huis ingaan en maak soos sy wil nie. Hy sal kyk dat sy ook nie omkrap nie. Hy en die hond wag al heel oggend, maar sy kom nie.

Die meisiekind van hierdie huis is ook lekker simpel. Sy dink sowaar hy gaan saam met haar karretjies speel. Is sy nou laf? Sy staan hier langs hom en wil nie eens op die grond sit om te speel nie. Hoe wil ‘n mens nou staan en karretjies speel? Hy het haar liewer nie geantwoord nie. Hy het sommer gemaak of hy haar nie hoor nie en toe loop sy maar weer.

Hy wonder wat maak die hond so alleen by hulle huis. Hy was al lus en gaan kyk gou of die hond nie dalk honger is nie, maar hierdie simpel mense het ‘n slot aan die hek gesit. Vir wat? Dink hulle miskien hy sal wegloop? Maar ja, as die hek net oop was sou hy seker langsaan toe geloop het.

Toe Daisy kom is hy baie bly. Nou kan hulle na sy ouma toe gaan. Ouma het mos gesê Daisy sal hom hospitaal toe vat dat hulle vir haar kan gaan kuier. Maar moenie glo nie! Sy is kamma moeg en wil eers tee drink en dan wil sy uitpak en stort en wat alles. Hy weet sommer sy is besig om vir hom te jok.

Hy wonder of sy ouma ooit nog lewe. Hoekom anders wil niemand hom hospitaal toe vat nie? Sy ouma is dood en nou sal die hond seker ook doodgaan so alleen by die huis. Hy soek die verste hoekie agter die huis en gaan sit daar. Ai, as die hond net hier was, man. Hond verstaan as hy tjank, hy lag nie vir hom nie. Hy wil g’n dat die mense sien hy grens alweer nie. Hulle sal seker vir hom lag oor hy huil oor sy ouma. Hy dink nie Daisy is lief vir sy ouma nie, so waarom sal sy traak?

Hier kom daai meisiekind alweer. Hoekom kan sy hom nie uitlos nie? Sy dink seker sy is mooi. Hy dink glad nie sy is mooi nie. Net sy ouma is vir hom mooi. Maar nou is sy ouma dood.

“Daisy roep vir jou. Sy sê julle moet hospitaal toe gaan. Maar ek dink jy moet eers jou voete gaan was, want jy is vuil. Sies, kyk hoe lyk jy.” Sy draai om en loop en los hom net daar. Hy wonder of sy jok oor sy ouma, maar nee, daar roep Daisy sowaar vir hom.

Daisy help hom om sy voete te was en kom sy hare plat. Sy kop is sopnat. Ouma sal raas daaroor. Nat koppe in die wind maak ‘n mens siek, sê sy altyd. By die winkel mag hy kies watter lekkers hulle vir Ouma kan koop. Hy kies die drops, want hy hou ook baie daarvan. Ouma sal dit seker vir hom gee, want sy kla altyd haar tande pyn van soetgoed. Dit lyk of Daisy ryk is, want sy koop piesangs en lemoensap ook.

By die hospitaal is dit baie, baie stil. Dis net die mense met die wit klere wat almal so haastig loop. Hy wonder waarom is hulle so haastig? Toe hy vir Daisy vra, lag sy net. Nee, sê sy, hulle is nie haastig nie, hulle loop maar net so vinnig om hulle werk klaar te kry.

Sy ouma is in ‘n groot kamer saam met ‘n klomp ander mense. Amper het hy haar nie gesien nie, maar toe roep sy hom. Hy hardloop na sy ouma toe. Hy wil so graag sy kop in haar nek sit, maar die bed is te hoog. Daisy tel hom op dat hy langs sy ouma op die bed kan sit.


Hy en ouma kyk vir mekaar en altwee gaan aan die grens. Vir wat? Hy weet sowaar nie hoekom sy ouma huil nie. Ag, en hy traak ook nie dat hulle sien hy tjank nie, want hy is by sy ouma wat toe nie dood is nie.

Saterdag 21 Oktober 2017

SPIERE SE OUMA KRY SEER

Wat was dit nou? Wat? Waar? Hy draai om en probeer weer slaap, maar hy kan sweer iemand het hom geroep. Dis dan nog donker, wie sal hom nou wil staan en roep?

En toe hoor hy dit weer. “My kind, kom help vir my, asseblief. Hoor jy my dan nie?” Dis sy ouma, hoor hy nou. Nou vir wat slaap sy nie nog nie? Sien sy nie dis nog donker nie?

Hy is nog moeg, hy gaan nie nou opstaan nie. Ouma moet haar nie staan en snaaks hou nie. Maar nou skrik hy hom amper tot op die vloer. Ouma is nou sowaar baie kwaad vir hom. Sy skree kliphard op hom. 

Toe hy opspring uit die bed, val hy oor die hond. So wraggies, as sy ouma moet weet hy het nie die hond laat uitgaan gisteraand nie! Sy sal hom seker nooit weer kos gee as sy dit moet weet nie. Die ander keer toe sy die hond in sy kamer gekry het, het hy die oggend nie koffie gekry nie. Sy het gesê dis sy straf oor hy nie ore het nie.

Hy sukkel van die vloer af op en hardloop na sy ouma se kamer toe. Hy kan haar nie sien nie, maar hy weet mos waar die bed staan. En amper val hy weer ‘n keer! Ouma lê op die vloer voor die bedkassie. Nou vir wat lê sy hier? Oumas is ook maar snaakse goed, wragtag. 

“Kind, maak vir ons lig en kom help my.”

Hy sukkel nog met die lig, toe praat Ouma weer. “Jy moet nou ‘n groot seun wees, my ou Spiertjies. Ouma het seergekry en kan nie self opstaan nie. Ek weet dit is baie donker buite, maar jy moet die mense langsaan gaan roep. Sal jy dit vir my kan doen?”

Hy is te verstom om te praat. Hy het te groot geskrik toe Ouma so op die vloer lê. Hy antwoord haar nie, maar hy weet hy moet nou ‘n plan maak. Hy sal vir Hond saam met hom vat, dan hoef hy nie bang te wees nie. Ouma het anderdag ook gesê sy wil nie ‘n dief wees wat in hierdie jaart in kom nie, want die hond sal hom lewendig opvreet.

Toe die mense van langsaan kom, is die huis skielik propvol ander mense. Waar kom hulle so skielik vandaan so in die donker? Hy hou nie daarvan dat hulle so baie is nie. Hy hou ook nie daarvan dat hulle so met sy ouma sukkel daar in haar kamer nie. Sy huil dan sommer kliphard. Wat maak hulle nou met haar? Hoekom huil sy dan nou so? Blerrie. Nou huil hy ook sommer.

Die hond kom sit by hom by sy bed. Gelukkig tog het hy die hond, anders was hy nou heel alleen. Vir wat mag hy nie by sy ouma wees nie? Hulle sukkel nou lelik met hom, sowaar. Hy is sommer lus en jaag hulle almal huis toe. Hulle moenie met hom sukkel nie. As sy ouma net nie so gehuil het nie, man.

Die antie van langsaan se huis kom by sy kamer in. Vir wat?

“Spiere, jou ouma het baie seergekry toe sy geval het. Sy sal nou eers ‘n bietjie in die hospitaal moet gaan bly. Trek gou jou klere aan, dan kom jy saam met ons na ons huis toe.” 

Hy wil nie. Hy sal hier saam met die hond wag tot Ouma huis toe kom. Hy bly net so op sy bed sit. Hy sal haar wys hy gaan nie saam met haar nie. Wat as sy ouma later huis toe kom en hy is nie hier nie? Nee, hy bly net waar hy is. Sy moenie dink sy kan kom staan en maak of sy die baas is hier nie.

Die ambulans kom sy ouma haal. Hy staan en kyk hoe sit hulle haar agterin die amblans. Sjoe, dit lyk of dit lekker is om daar binne te kan lê. Hy wens hulle wil hom ook so inlaai op sy bed.

“My kind moet nou baie soet wees, hoor. Ouma sal gou weer kom. Gaan saam met die tannie na haar huis toe. Voor dit middagtyd is sal Daisy hier wees. Jy en Daisy kan vir my kom kuier daar in die hospitaal. Toe, toe, toe! Gaan trek vir jou aan, jong. Hoekom moet ek so met jou sukkel?”

Ouma klink weer soos altyd. Nou is hy tevrede. As sy ouma nog kan raas is sy nie te erg siek nie. Dit sal lekker wees as hy en Daisy vir Ouma in die hospitaal kan gaan kuier. Hy was nog nooit in die hospitaal nie en nou kan hy ook sien hoe dit daar lyk.






Donderdag 19 Oktober 2017

MY POT GOUD AAN DIE EINDE VAN DIE REËNBOOG

Elke keer as ek hierdie gedig lees, wonder ek. Ek wonder, maar ek WEET!

Ek is in matriek en ek wil drama gaan studeer. Ek weet dat ek my hele lewe lank toneel wil speel. Ek weet dat ek niks anders en nêrens anders wil wees nie. Ongelukkig is daar goed soos voorligtingonderwysers wat namens jou besluite neem. Nee, jy kan dit nie gaan doen nie, jong. Jy het te ‘n sensitiewe gees en jy sal dit nooit oorleef nie. Nee, kind, jy is ‘n laerskoolonderwyseres. Ja, jy moet skool gaan hou vir die kleintjies. Jou ouers is in hulle noppies dat hy jou so mooi help en daar is geen keer nie – kollege toe vir drie jaar.

Ek is ‘n jong onderwyseres en het nog nooit met die verkeerde kant van die lewe te doen gehad nie. Ek glo nog almal. Ek vertrou nog almal. My lewe het tot nou toe glad en gelyk geloop. Skielik is hierdie ontsettende aantreklike man in my lewe. Hy belowe my die maan en die sterre. Mense waarsku my. Moenie! Los uit! Kan jy nie sien nie? Maar ek besluit doelbewus om nie te luister nie. Ek ken sy diepste wese en ek weet hy is die man vir my. Die dag toe hy my ouers vra of ons kan trou, daardie aaklige dag het ek bo alle twyfel geweet ek maak ‘n fout. My ‘gut’ het vir my gesê dit is verkeerd, ek moet omdraai. Ek het nie omgedraai nie. Die oggend voor ons troue het ek geweet ek kan nie voortgaan daarmee nie. My mond wou nie sê wat my hart geweet het nie. Ek was stom. My hart was propvol storms, maar my mond was stil.

Ek is die ma van die mooiste eenjarige dogtertjie. Ek is ‘n geskeide vrou met ‘n bleek toekoms voor my. My ouers stel voor ek gaan terug kollege toe en doen nog ‘n jaar. Dit sal goed wees vir my. ‘n Mens moet jouself bou en waar is ‘n beter plek as om verder te gaan studeer? Ek weet dit sal goed wees. ‘n Mens moet jouself bekwaam en bereid wees om op te offer vir die beter dinge in die lewe. Ek weet dit is die regte ding om te doen, maar ek kan nie. Ek sien nie kans daarvoor nie. My mooi babakindjie sal vir ‘n volle jaar nie by my kan bly nie. Sy sal nie saans by my in my bed kan slaap nie. Ek sal haar nie kan bad en aantrek en liefie nie. Ek sal nie haar warm lyfie teen my kan voel vir ‘n verskriklike lang jaar nie. Hoe weet ek of sy my sal onthou wanneer ek uiteindelik weer huis toe kom? Ek kan nie. Ek sien nie kans om hierdie groot sprong te waag nie. Ek sê dankie, maar nee dankie.

En dit is nou waar Robert Frost se twee paaie by my spook. Daardie pad wat ek gekies het en geloop het was nie ‘n maklike pad nie. Daardie pad het baie male deur die donkerste woud denkbaar geloop. Dit was soms so donker dat ek myself nie kon vind nie. Ek het myself verloor in woeste, donker storms.

Maar daar was ‘n klein, helder liggie wat my aan die lewe gehou het – daardie liefdogtertjie van my het gesorg dat ek nie iewers onder ‘n donker bos gaan inkruip nie. Daardie dogtertjie was die rede waarom ek aanhou loop en loop en loop het op ‘n pad wat geen einde gehad het nie. Sy het my hand styf vasgehou en my voortdurend aangemoedig om aan te hou loop. Altyd vorentoe. Aanhou. Aanhou. Vorentoe. Nie agtertoe kyk nie, net vorentoe.

Die donker bospad het opeens, onverwags, doodgeloop in die mooiste sonskynveld oortrek met vreugdeblommetjies en ‘n reënboog wat  vanuit die hemel tot op die grond gestrek het. Dit het my asem weggeslaan! Soveel skoonheid. Soveel vrede. Soveel liefde en geluk.

Jare later het die doelloosheid van hierdie pad sin gemaak. As ek nie juis hierdie pad gekies en geloop het nie, sou ek waarskynlik nooit die wonderbaarlike nuwe stukkie aarde ontdek het nie. Hierdie stukkie hemel het net een ingang – dwarsdeur die donker pad deur die bos, tot in die helder sonskyn.

Ek kyk vandag terug en ek weet dat ek dit nie anders sou wou hê nie. As ek weer by die vurk in die pad sou kom, sou ek weereens dieselfde keuses maak.

Hoekom dan so? Die antwoord is baie eenvoudig. Ek twyfel nie vir ‘n oomblik dat daardie pot goud aan die einde van die reënboog spesiaal net vir my daar gewag het nie.  


THE ROAD NOT TAKEN – Robert Frost
Two roads diverged in a yellow wood,
And sorry I could not travel both
And be one traveler, long I stood
And looked down one as far I could
To where it bent in the undergrowth;

Then took the other, as just as fair,
And having perhaps the better claim,
Because it was grassy and wanted wear;
Though as for the passing there
Had worn them really about the same,

And both that morning equally lay
In leaves no step had trodden black.
Oh, I kept the first for another day!
Yet knowing how way leads on to way,
I doubted if I should ever come back.

I shall be telling this with a sigh
Somewhere ages and ages hence:
Two roads diverged in a wood, and I –
I took the one less traveled by,


And that has made all the difference.


Sondag 15 Oktober 2017

WAAROM SKRYF JY, MARTHA?

Iemand vra my anderdag waarom skryf ek? Vir wie skryf ek? Met ander woorde, is daar ‘n doel agter my skrywery?

Dis glad nie so ‘n eenvoudige vraag nie, hoor. Dit het my vir ‘n oomblik laat frons, want wat dan nou? Waarom sou iemand so iets vir my vra?

En toe weet ek!

Ek skryf omdat ek eintlik hopeloos verslaaf geraak het daaraan binne ‘n week of twee. Dit voel soms vir my die baie goeters in my kop is net eenvoudig te veel en hulle roep, nee hulle skree op my om asseblief uit te kom.

Vir jare en jare het ek goed op papiertjies en toe later op die rekenaar geskryf en gebêre. Op ‘n stadium het ek ‘n boek gehad vir die skryfseltjies, maar dit het ook nie lekker gewerk nie. Waar ek ookal geskryf het, die goed het later verlore geraak. Dit laat ‘n mens so half ‘leeg’ voel, want waar is al die gedagtes dan nou heen?

Riana, my oudste, karring al baie lank aan my om ‘n blog te begin. Vir ‘n dag of twee het ek dit dan oorweeg, en dan maar weer gelos. G’n mens weet waarom ek nie haar raad van dag een af gevolg het nie. Vandag is ek innig dankbaar dat sy nie moed opgegee het met my nie.

Die tweede deel van die vraag was vir wie ek skryf. Het ek iemand in gedagte wanneer ek skryf? Ja, beslis het ek. Hoe dan nou anders? ‘n Mens kan tog nie met niemand gesels nie, kan jy? Wanneer jy gesels, is daar altyd iemand wat moet hoor; iemand wat moet verstaan.

Nou, vir wie skryf ek dan nou eintlik? Iewers in die groot heelal is ‘n siel soos myne - amper soos 'n tweede 'ek'.  Daardie siel verstaan hoe ek dink en wat ek voel. Daardie siel ken die woorde van my hart nog voordat dit regtig op skrif is. En ja, dit is vir daardie siel wat ek dit skryf. 

Jy sien, sommige van ons is groepmense, ander is 'loners'. Jy is 'n 'loners' bloot omdat jy nooit weet wie verstaan regtig die draadwerk wat jou hart en siel en kop aan die gang hou nie. Jy wil nie altyd 'n 'loner' wees nie, maar jy weet nie hoe om anders te wees nie. Maar die meeste van die tyd geniet jy dit in jou eie hoekie met jou eie gedagtes.

Jy sien dus, hoewel ek dit graag met ander mense ook deel, is dit vir my belangrik dat ek altyd getrou sal bly aan daardie wese iewers in die heelal wat my ken en verstaan. En nee, dit beteken nie dat ek nie traak wanneer iemand my skryfsels geniet nie, geensins nie. Ek is mens en ‘n mens het dit nodig om nou en dan so ‘n klappie van bemoediging op die skouer te kry. En dan geniet ek dit net soos enige ander mens dit sou geniet. Maar, en dit is ‘n groot maar, selfs al sou niemand dit geniet nie, sou ek nie kon ophou nie en sou ek ook nie probeer om te skryf om iemand anders bly te maak nie.


Die slotsom van dit alles is dus om altyd en altyd getrou te bly aan wie ek is en aan dit  waarin ek glo.



Saterdag 14 Oktober 2017

MY KEUSES IN DIE LEWE

Nie lank gelede nie was daar ‘n pop, ‘n bril en ‘n stoel. Hulle drie het op ‘n ashoop gewoon.

Eers was dit net die stoel. Hy het daar beland omdat sy dierbare eienares oorlede is en haar kinders het geen doel gesien om die stukkende stoel op te laai en saam te vat huis toe nie. Stoel was hartseer en alleen. Stoel het nutteloos en ellendig oor homself gevoel. As daar net iemand anders was om die eindelose dae mee te spandeer!

Op ‘n dag is daar ‘n oplewing in die dooie bestaan van die ashoop. ‘n Groot, blink bakkie stop en ‘n groot, vet man klim uit. Hy is ongeduldig, want die vlieë is baie en die sweet tap hom af. Hy gryp die een karton na die ander en gooi hulle op die ashoop. Die hele ashoop is in afwagting vir die nuwe aankomelinge – almal kan sien dit is nie net gewone huisrommel nie. Die een karton bars oop toe dit op die grond land...

Bril rol ‘n endjie en beland reg langs stoel. Hy lê daar en weet vandag is dit sy einde. Niks en niemand kan nou meer traak oor sy bestaan nie. Ai, dat alles dan nou so moet eindig. Waarom was hy nou eintlik op aarde? Net om op die ashoop te land? Regtig?

Toe die bakkie weg is, hoor bril ‘n sagte stem: “Bril, ek is so bly jy het gekom. Ek was so bitter alleen, maar nou is jy mos darem ook hier.”

Bril lê doodstil. Waar kom die stem vandaan? Toe hy opkyk en vir stoel sien, is hy baie bly. Dankie tog, nou het hy ‘n maatjie. Onmiddellik is die twee groot vriende. Hulle is gelukkig by mekaar en skinder selfs oor die stukkende mat en die bottels sonder proppe. Ja, die twee is nou beste vriende en belowe mekaar ewige trou.

Die namiddag toe pop gekom het was ‘n moeilike dag. Dit het gereën en alles en almal was papnat. Hulle kon niks om hulle sien nie, want dit was byna pikdonker van die wind en die reën.

Toe die son weer skyn die volgende oggend, sien hulle vir pop hier reg langs hulle. Nou is die vriendekring voltallig, besluit hulle. Hulle verwelkom vir pop en die drie van hulle is sielsalig gelukkig in mekaar se geselskap.

Op ‘n dag besluit die ashoopkoning dat daar asiel verleen gaan word aan ‘n paar van die bewoners. Hy verduidelik mooi aan almal dat, indien jy asiel kry, jy weer ten volle herstel gaan word en weer opgeneem sal word in die samelewing. Die enigste voorwaarde is dat jy vol vrede en liefde moes leef  vir so lank as wat jy al op die ashoop is.

Die drie beraadslaag en besluit dat hulle gaan aansoek doen. As hulle weer mooi en heel is en ‘n nuwe blyplek kry sal hulle vreugde in die lewe soveel meer wees, nie waar nie?

En dit is toe net daar wat die moeilikheid en die rusies begin.

Bril wil hê dat hulle drie in ‘n sportman se huis moet gaan woon. Sportmanne is ryk en hulle kyk mooi na hulle besittings. Stoel kan al klaar sien hoe staan hy weer in ‘n ouma se huis en ouma olie sy hout gereeld en hulle almal kuier gereeld saans voor die lekker warm kaggel saam met die ouma. Natuurlik wil pop niks daarvan hoor nie. Pop wil in ‘n huis gaan bly waar daar ‘n klein dogtertjie is wat gereeld met haar speel. Sy wil weer mooi kleertjies dra en saans kan hulle almal langs die dogtertjie slaap.

Hoe meer die drie rusie maak, hoe stiller raak dit op die ashoop. Hulle vergeet skoon dat hulle eintlik die rede is waarom die koning die asiel ingestel het. Hulle het in liefde saamgelewe en mekaar met foute en al aanvaar. En kyk nou net! Skielik is die ashoop ‘n plek van sieklike onmin. 

Die koning word baie kwaad en hy verbied almal om te praat. Hulle moet stilbly. Hulle moet ‘n bietjie selfondersoek doen en tot die besef kom dat dinge nie altyd is soos wat dit op die oog af lyk nie. As julle nie tot 'n ooreenkoms kan kom nie, bly julle waar julle is!

Dikbek bly almal stil. Vir ‘n hele week lank praat nie een nie. Almal dink. Doodse stilte.

Een oggend begin die drie ewe skielik praat. Elkeen wil eerste praat en die koning moet weereens tussen beide tree. Een op ‘n slag, asseblief.

Bril vra eerste verskoning. Hy besef dat stoel en pop nie soos hy is nie en dat hulle nie sal inpas in die ryk sportman se huis nie. Toe is dit pop wat mooi askies sê, want pop weet dat stoel en bril nie speelgoed is nie. Sy kan nie verwag dat bril en stoel dieselfde lewe as sy moet leef nie, hulle verskil heeltemal te veel van mekaar. Stoel staan net alles en beaam, want dit is presies soos hy ook voel. Stoel besef dat pop en bril totaal en al nutteloos sal wees in die ouma se huis, hulle sal altyd wonder oor die doel van hulle lewens.

Die ashoopkoning knik tevrede. Hy kan sien dat almal nou ‘n les geleer het. Soms moet ons uit ons gemaksone beweeg. Vriende kan ons soms weerhou daarvan om ons volle potensiaal uit te leef...vriende is nie altyd alles nie.

Ongelukkig bly die keuse maar my eie – gaan ek aanbeweeg of gaan ek sit waar ek sit?


Woensdag 11 Oktober 2017

SPIERE VERJAAR

Spiere kan nie slaap nie. Dit voel vir hom hy kan in die donker in hardloop sodat die son gouer kan opkom. Hy is baie haastig dat hy moet verjaar. Hy wonder hoe voel dit om te verjaar? Maar sê nou maar net sy ouma het nie regtig bedoel hy verjaar nie? Hy is seker sy het dit sommer maar net gesê om te kan ophou sing. Sy het mos toe al gesê dis slaaptyd, maar hy wou nog ‘n keer vir Jesus roep my vir ‘n sonstraal gesing het. Ag, wat maak dit tog nou ook saak?

“Boetatjie, jy moet nou opstaan, Ouma se kind.”

Is dit dan al oggend? Sjoe, nou kan hy voel hoe dit voel as ‘n mens verjaar. Hy kyk rond om te sien of Kerrie en Jannas al daar is, maar dis net hy en sy ouma in die kamer. So wraggies het sy vir hom gejok. Ja, hy moes haar nooit geglo het nie. Dit sal hom nou leer om bly te raak oor ‘n storie van jou ouma. Sies, hy is baie vies vir haar.

Hy staan dikbek op. Hy wil nie pap eet nie. Sy het mos vir hom koek belowe, man. Hy sal nie die blerrie pap eet nie. Hy gaan nooit weer pap eet nie, hy sal haar wys.

Maar die ouma steur haar nie aan sy kwaai gesig nie. Sy is die ene laggies en gesels land en sand met hom. Hy antwoord haar nie. Hy sal ook sommer nooit weer met haar praat nie. As dit weer donker is... Ja, as dit weer donker is, loop hy weg. Hy en die hond sal wegloop kinderhuis toe. Hy sal weer by Kerrie en Jannas gaan bly.

Hy gaan sit met die hond onder hulle boom. Die hond weet ook hy is kwaad. Hy lek-lek aan sy oubaas se hande om hom te troos. Dit laat Spiere ‘n bietjie beter voel. Hy wonder wat doen sy ouma nou daar in die huis. Het sy ooit gesien hy het buitekant toe geloop? Miskien traak sy nie eens nie.

Toe hy ‘n slag opkyk, staan Kerrie en Jannas in die agterdeur. Eers dink hy dat hy dalk droom en hy vryf ‘n slag oor sy oë. Maar nee, hulle twee staan sowaar daar in die deur. Hy staan stadig op en loop na hulle toe. Hy is so bly om hulle te sien, sy oë wil sommer huil. Ai tog, dis oor hy so lank al by sy ouma bly dat hy ook sommer wil grens oor niks nie. Hy vee sy oë droog met sy hempsmou en hardloop na sy maters toe.

Miskien het sy ouma nie gejok oor verjaar en die koek nie, ha? Hier is sy eie, eie maatjies dan nou by hom. Maar hy weet ook nie, dit voel dan nie soos verjaar nie. Maar presies hoe voel verjaar? Hy weet ook nie... Miskien moet hy sy ouma vra hoe voel 'n mens as jy verjaar.

Ouma roep hulle binne-toe. In die kombuis ruik hy iets waarvan hy niks hou nie. Hy kan sweer dis alweer daardie antie met die stink goed aan haar lyf. Nee man, hy wil haar nie sien nie. Nie vandag nie. Nooit weer nie.

Sy sit in die sitkamer. Ouma het die sitkamer vreeslik mooi skoongemaak gister. Op die tafeltjie staan daar nou ‘n groot koek en glase met koeldrank. Hy is baie lus daarvoor, maar hy is nie lus om naby die antie te kom nie. Sy klou mos so aan hom en los hom nie weer nie. Sy hou mos aan tot jy voel jy kry nie meer asem nie. En dan stink jy agterna net soos sy. Sies.

Kerrie en Jannas is eerste by die koek. Hy staan nog in die deur en besluit wat om nou te doen. Maar dit lyk nie vir hom of die antie vandag weer so gaan maak nie. Sy sê net hallo en gesels verder met sy ouma. Hy stap stadig nader en gaan saam met sy maatjies op die mat sit; elkeen het ‘n groot stuk van die lekker koek en ‘n groot glas koeldrank. Jis, dit is lekker om te verjaar. Hy wonder wanneer kan hy weer verjaar?

Skielik staan die antie op. Sy lyk of sy nou gaan ry. Sy hoef nie te ry nie, dis eintlik lekker as sy so met Ouma gesels. Hy hou baie daarvan as sy ouma met iemand gesels en lag. Haar gesig is vir hom baie mooi as sy so lekker lag.

“Spiere, daar is iets wat ek en jy nog moet regmaak, jong,” sê die antie hier langs hom. Ai tog, wat is dit wat sy nou wil regmaak? Dis mos ‘n baie lekker dag en sy maatjies het kom kuier. Hy wil hulle nog gaan wys waar hy paaie gebou het daar onder die boom. As hulle karretjies gebring het kan hulle mos daar gaan speel.

Die antie traak nie dat hy nie wil opstaan nie. Sy trek hom liggies aan die arm op. “Kom, ek wil vir jou iets gaan wys.”

Ouma en Kerrie en Jannas staan ook op. Nou moet hy seker saam met die antie loop. Hy is nie lus nie. Hy het nog nie sy koek klaar geëet nie. En hy wil nog van die rooi koeldrank ook hê, dis baie lekker saam met die koek. Ouma sien dat hy na die koek kyk en belowe hom dat hy nog baie kan kry as hy klaar saam met die antie geloop het.

En daar staan sy fiets! Sy eie, eie fiets! Hy kyk na die antie en hy kyk na die fiets. Is dit nou hierdie keer regtig syne? Of gaan sy weer wegry met hom? Hy het nog glad nie vergeet dat sy anderdag die fiets gegee het en toe nie gegee het nie.

“Spiere, Ma se kind, kyk wat het ek vir jou gebring. Jy kan hom hier hou en elke dag met hom ry.”

Hy draai stadig om en loop na die antie toe. Hy gaan staan styf teen haar. Snaaks, maar sy stink ook nie meer so baie nie. Hy dink hy hou van hierdie antie wat sê sy is sy ma.

Saterdag 07 Oktober 2017

BY DIE DOOD VAN 'N KIND

Ek het grootgeword met die wete my sussie is dood. Sy is dood. Sy is in die hemel. Sy is by liewe Jesus. Weg. Ek gaan haar nooit weer sien nie. Sy is dood vir altyd.

Die storie agter die storie het my nooit gepla nie. Ek was te klein. Ek was in elk geval nie deel van die storie nie. My ma was ‘n geslote stuk hartseer. My pa was maar net my pa. Ek kan nie onthou dat hy anders was in daardie tyd nie. Hy was mos maar sy lewe lank ‘n geslote boek vir die ganse heelal. Dankie tog dat ek hom later ontdek het. Ek het sy diepste, dierbaarste hart leer ken en dit het my laat besef – hier is ‘n hart soos myne.

Sy was die derde dogtertjie. Pragtig en gesond. Sy was ‘n min-moeite kind, het die ma altyd gesê. Hulle het by die oupa en ouma gebly. Die pa het begin boer en hulle het nog nie hulle eie plekkie gehad nie. Daar was nie baie tyd vir die babatjie nie, maar sy het nooit gekla nie. Sy was groot vir haar nege maande. Groot en gesond.

In 1957 was telefoniese kommunikasie nie baie gevorderd nie. Jy kon nie ‘n telefoon optel en vir wie ookal bel nie. As jy Suid Afrika toe wou bel, ag, as jy selfs Windhoek toe wou bel, het jy die oproep bespreek. Jy het ure gewag om met iemand te kon praat. As jy vanaand ‘n oproep bespreek, was dit glad nie snaaks as jy eers more met jou mens aan die anderkant kan praat nie.

Die oupa in Suid Afrika bel. Die ouma is baie siek. Nee, dit lyk nog nie so sleg nie, hy sal weer laat weet as dit nodig is. Ma loop met ‘n donker hart want haar ma is siek en sy is bekommerd. ‘n Mens is mos maar bekommerd oor jou ma as sy siek is. Dan bel die oupa weer, die ouma is baie siek. Ma moet kyk of sy kan kom.

Wat ‘n frustrasie! Jy wag ure vir ‘n oproep na ‘n lughawe en jou hart brand in jou. Die vliegtuie is skaars, die grondpaaie is ver. Jy wag en wag vir uitkoms.

Uiteindelik kry jy ‘n plek op ‘n vliegtuig. Daar moet reëlings getref word. Die baba kan nie by die oupa en ouma op die plaas bly nie. Hulle kan regtig nie na die baba kyk nie. Die pa eintlik ook nie. Hy boer en is heeldag buite in die veld. Hoe dan nou gemaak?

Dankie, Heer, die skoonsuster sal vir baba kyk. Sy sal mooi kyk, sy is ‘n flukse vrou. Ma is ‘n bietjie bekommerd om vir baba so te los. Baie kinders in die omgewing het masels, maar gelukkig tog is baba gesond.

Pa vat vir ma weg Windhoek toe, lughawe toe. Sy belowe om gou terug te kom. Sy moet net eers gaan kyk na die ouma wat siek is.

‘n Vreemde ding gebeur. Toe sy daar kom, is die ouma glad nie so siek as wat sy gehoor het nie. Sy is kwaad. Sy is woedend. Sy gee nie aandag aan die ouma nie, want sy voel bedrieg. Waarom, o waarom moet sy hier wees? Sy kan nie verstaan waarom hulle so aangedring het dat sy moet kom nie. Was dit nou regtig al die baie moeite werd? Wat is die doel van dit alles?

Die telefoon lui. Dis die pa. Baba is siek. Hulle weet nie wat is fout nie, maar sy is glad nie lekker nie. Hulle het nou die dokter gebel. Hy het raad gegee en hulle hoop die medisyne sal help. Nee, moenie onrustig wees nie, sy sal nou beter raak.

Nog later lui die telefoon weer. Die pa en skoonsuster vat nou vir baba Mariental toe. Sy is baie siek en niks help nie. Hy vra dat die ma maar moet kyk of sy nie kan huis toe kom nie. Hulle het haar nou nodig.

Wat ‘n stryd om ‘n plek op ‘n vliegtuig te kry. Die enigste plek is op ‘n vlug van Johannesburg af. Die grondpad is eindeloos voor hulle. Die ma voel of sy vooruit kan hardloop want haar kind is siek. Haar kind het haar nodig. Here, help asseblief!

Lang, lang ure op die pad. Uiteindelik is hulle by die lughawe. Die vlug sal netnou vertrek. Sy moet net eers inboek.

En dan! Sy hoor haar naam oor die luidsprekers. Sy hoor dat sy gesoek word. Sy hoor haar naam en sy weet...!

Die personeel staan in ‘n halfmaan en wag vir haar. ‘n Man tree vorentoe en gee vir haar ‘n telegram. O God, my kind is dood. My baba is dood. Hoe nou verder, Here?

Die vlug is eindeloos. Eindelose nikswerd ure van rou smart en wanhoop. By die lughawe wag die pa se broers vir haar. Hy wag by die kar. Hy het nie die moed om haar te kom haal nie. Sy kry hom daar. Rou, rou smart.

Op die plaas het iemand baba se goedjies alles weggepak. Geen spoor dat hier ooit ‘n baba in die huis was nie. Niks nie. Almal troos – moenie so baie huil nie, toe? Sy vlug weg van almal af. Sy loop haar vas teen die varkhok se muur. Die ou mamma-vark kyk op toe sy die ma hoor huil. Die klein varkies suip-suip aan die mamma-vark. En die ma huil! Die vark het haar kleintjies, maar myne is weg vir altyd en altyd. Ag Here, net U kan nou help.

Al die jare bly hierdie seer ‘n kloof tussen die pa en die ma. Sy wil weet wat het gebeur, maar sy vra nie. Hy praat nie, want hy weet nie hoe nie. Hy is self te seer, hoe kan hy daardie smartlike storie vir haar vertel?

Pa is siek. Sterwend. Ek weet daar is nog hierdie groot, groot storie wat gepraat moet word. Ek probeer hulle aan die praat sit, maar dit werk nie. Sy vra nie. Hy vertel nie. Toe vra ek. Hy vertel. Ek vra nog en nog, hy moet vertel, want die mamma wil so baie graag alles hoor.

Dit het hulle twee en veertig jaar gevat om uiteindelik te praat oor die seerste seer wat tussen hulle lê. Uiteindelik was ook hierdie berg tussen hulle platgevee. Uiteindelik is daar ‘n vredige stilte tussen hulle twee. Sy weet nou. Die vrae is beantwoord.

Vandag is hulle albei al weg. Ek is alleen. Net ek weet van hoe hy beduie het oor die ou ogies wat nie meer reguit gekyk het nie. Net ek weet van die intense smart op sy gesig toe hy vertel het. Net ek weet. 


En ek sou dit so bitter graag nie wou weet nie.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...