Wys tans plasings met die etiket merkwerk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket merkwerk. Wys alle plasings

Dinsdag 23 Januarie 2018

UIT JUFFROU SE DAGBOEK 2

Toe die wekker lui, draai sy nog 'n slag om vir net nog 'n ou klein bietjie in die bed. Dit voel of sy byna niks geslaap het nie. 
Danie is knorrig. "Vrou, jy moet wakker word. Dit is nie nou die tyd vir slaap nie. Toe jy laasnag moes kom slaap het..." gaan hy aan en aan en aan. Sy staan op en stap buite toe vir 'n bietjie vars lug. Dis warm. Dit lyk na reën.
Toe die skoolklok lui, draai sy by die hek in. Ai, dit kom nou van net ‘n bietjie dit en nog net ‘n bietjie dat. Jy weet mos om dit nie te doen nie, raas sy met haarself. En toe moes klein Danie ook juis vanoggend moeilik wees om klein skooltjie toe te gaan.
Die hoof is reeds besig met die afkondigings en Dina skuif verleë tussen die ander verby tot by haar stoel. Sy haat dit om laat te kom!
Die hoof kyk van sy notas af op, reguit in Dina se oë. “Dames en here, ons sal soggens vroeër moet uit die bed uit kom. Ons almal ken die reels, dus word van ons almal verwag om ten minste tien minute voor die klok lui hier te wees.” Dina bloos bloedrooi en belowe haarself dat dit nooit, ooit weer sal gebeur dat sy laat is nie.
Op pad uit, roep die hoof haar terug. “Mevrou, is die notule van gister se vergadering gereed? Ons wil dit graag dupliseer vir almal.”
Sy mompel ‘n verskoning dat dit môre gereed sal wees en storm klas toe. By hierdie tyd breek die lot seker al die mure en deure van die klas af!
Die dag begin in alle erns, maar Dina sukkel om te konsentreer. Sy is moeg. Dit voel nie vir haar of die vakansie so pas verby is nie. Sy weet sy kry te min slaap, maar daar is nie ‘n ander uitweg nie.
Toe die laaste klok lui, onthou sy dat sy nog iemand wou kry om vanmiddag na klein Danie te kyk by die atletiek. Sy kyk angstig rond vir ‘n geskikte dogtertjie, maar almal is atlete en hulle sal nie kan help nie.
Skielik is die sagte stemmetjie hier langs haar. “Kan ek Juffrou se tas dra?” Katryn loop saam met haar tot by haar motor. “Dankie, liefkind.”
En toe weet sy! “Katryn,” roep sy die kind terug. “Sal jy namiddag vir my kom help by die atletiek? My seuntjie is ‘n woelige outjie en ek het iemand nodig om saam met hom bal te skop en rond te hardloop. Sal jy dit vir my asseblief doen?”
Dit lyk of die son opkom op die kind se gesig. “Ja, Juffrou. Ek wil dit baie graag doen.”
Die son is so warm dat die kraaie gaap, maar die kinders moet afgerig word. Die byeenkoms is binnekort en daar is nog baie wat gedoen moet word. Sy is baie dankbaar vir Katryn, want klein Danie is ‘n hele handvol. Op pad na Katryn se huis toe stop sy eers gou vir melk en brood. Op die ingewing van die oomblik koop sy vir die kind koeldrank en ‘n lekkertjie. Haar ogies straal van dankbaarheid toe sy afklim met haar sakkie eetgoed. Sy staan voor die hekkie en waai vir Dina totdat sy om die draai verdwyn.
By die huis is alles nog doodstil. Danie werk seker (soos gewoonlik) laat, maar Petronel moes al by die huis gewees het. Waar sou sy rondloop? Sy neem haar voor om hierdie dogter van haar ernstig aan te praat oor haar huislike pligte. Sy is eenvoudig net nooit by die huis om enigsins met die kleinste takies te help nie. Maar, o aarde, as dit etenstyd is, is die madam mos heel voor in die ry voor die kosbakke!
Koskook. Klein Danie moet gebad kom. Aandete. Opruim en skottelgoed was. Klein Danie in die bed sit. Gesellig met haar man verkeer vir ‘n uur of twee. Laaste koppie drinkgoed vir almal. Koppies was en wegsit.
Uiteindelik. Stilte. Tyd om agter die boeke in te skuif.
Eerste op die lys is die notule vir die hoogsbelangrike baas.
Notule van ‘n personeelvergadering wat gehou is op...
1.    Verwelkoming en skriflesing
2.    Personeel afwesig
3.    Indeling van buitemuurse bedrywighede:
                      I.        Tik van notules en agendas: Mevrou Dina Steyn
                    II.        Koor: Mevrou Dina Steyn en Mnr X
                   III.        Debat: Mevrou Dina Steyn en Mnr X
                  IV.        Atletiek: Al die onderwysers
                    V.        Netbal: soos vroeëer aangewys.  
                  VI.        Rugby: soos vroeëer aangewys.
                 VII.        Boekekamer: Mnr X en Mev Dina Steyn

Dina begin sommer kliphard lag. Ja nee, van nou af stel sy haarself as ‘Badprop Steyn’ voor. Sy besef nou eers dat sy voorwaar vier bene en twaalf hande sal moet hê om alles te kan behartig. Dit sal haar nou leer om nie altyd so gewillig vir werk te wil lyk nie.
Sy voel moeg, maar die toetsies van vandag moet eers gemerk word. Die kinders kan nie verstaan as sy dit nie dadelik merk en uitgee nie. Merk. Merk. Merk.

Die horlosie in die gang slaan twee harde slae toe sy uiteindelik in die bad klim.

Dinsdag 16 Januarie 2018

UIT JUFFROU SE DAGBOEK

waarmee hou onderwysers hulle besig wanneer die klok eenuur lui?
Dina gaan sit by haar tafel en, sonder dat sy dit beplan, borrel die vraag oor haar lippe. “Vertel ‘n bietjie vir my wat dink julle is ‘n regte juffrou.”

“Juffrou, juffrou!” skree almal gelyk. Elkeen wil asseblief vertel wat hy of sy dink ‘n juffrou is.
“Kom nou, julle. Elkeen sal ‘n beurt kry om te antwoord. Ons gaan nie vandag wiskunde doen nie, ons gaan net gesels. Is julle nie bly nie?” Die groepie voor haar is in ekstase, want hulle hou daarvan om met hulle juffrou te gesels.

Elkeen het ‘n ander antwoord en juffrou skryf dit op die bord. Vir ‘n tienjarige is ‘n juffrou iets uit ‘n ander wêreld, kom sy gou genoeg agter. Juffrou is slim. Juffrou is goed. Juffrou ken alles. Juffrou gee drukkies. Juffrou ruik lekker. Die lys hou aan en aan. Sommige van hulle laat sak eenvoudig nie die hande nie, want hulle wil nog en nog en nog antwoord.

Toe klein Pieter egter begin vertel van die mooi juffrou wat sy oom van vertel het, stop sy hom dadelik. Sy ken daardie oom van Pietertjie en sy wil glad nie sy stories hoor nie.

Heel agter in die klas sit Katryn. Sy het nog nie ‘n woord gepraat vandag hulle oor juffrou gesels nie. Sy sit met haar ken op haar hand gestut en staar voor haar uit.

“Katryn, en wat dink jy is ‘n juffrou?” daag Dina haar uit.

Katryn lyk vir ‘n oomblik heel verwilderd. Nee, sy kan regtig nie voor al hierdie baie kinders antwoord nie. Juffrou staan later hier langs haar en por haar aan om ook te antwoord.
“Juffrou,” begin sy saggies. “Ek wens net Juffrou was my mamma.”

Die klas raak doodstil. Niemand roer nie. Almal weet dat Katryn al klaar ‘n ma het. Maar almal weet ook dat Katryn se ma baie maal saans in die strate loop en raas.

Dina is self ook ‘n oomblik te uit die veld geslaan om te antwoord, maar gee die kind ‘n drukkie voordat sy omdraai na haar tafel toe. Sy besluit om tog maar later 'n bietjie met haar daaroor te gesels.

Sy kom by die huis, pootuit en glad nie lus vir vanmiddag se vergadering nie. Aan die etenstafel wil haar man goedig weet: “En wat pla vandag, Juffrou Dina?”

“Ag, sommer dit en dat,” antwoord sy ontwykend. Sy kan vir Katryn nie uit haar kop uit kry nie, maar sy weet ook dat sy haar liewer moet bepaal by haar eie dinge. Mense wat voorheen wou help het sleg tweede gekom by die pa van die huis.

Toe haar man klaar geëet het, los sy die res van haar toebroodjie en staan op om af te dek en op te ruim. Sy het regtig nie tyd om te mors nie, sy is ook nie lus vir eet nie.

Die namiddag kry sy nie veel gedoen nie, want die vergadering hou toe baie langer aan as wat sy gehoop het dit sou. Sy moet jaag om vir klein Danie by die bewaarskool te gaan haal. Sy maak verleë verskoning dat dit alweer so laat is, sy weet hulle maak eintlik al halfdrie toe. Die altyd vriendelike hoof van die skooltjie lyk skielik ook nie meer so vriendelik nie. Dina besluit om aan die einde van die maand maar vir haar ‘n ietsie ekstra te betaal vir al haar moeite en verdriet.

Petronel bespring behoorlik haar ma toe sy by die huis stop. “Ma het geweet ek moet hokkie toe gaan! Ma het dit alweer gedoen! Hemel, Ma, hoe dink Ma moet ek in die span bly as ek nooit gaan oefen nie?” Sy loop gillend en huilend voor haar ma by die voordeur in. Sy gooi die hokkiestok dat hy trek in die gang af. Die volgende oomblik klap haar kamerdeur en Dina weet dat hulle haar nie vanaand weer gaan sien nie.

Graad 8 en vol buie! Sy wens sy kon die kind ‘n klap gee, maar die klein wysneus is in staat om haar te gaan aankla, dus los sy maar liewer.

Mismoedig stap sy kombuis toe om die kos op die stoof te kry. Danie hou nie daarvan dat hulle te laat eet nie, want hy wil nog gym toe gaan na die tyd. Klein Danie moet gaan bad ook nog, want na ete raak hy gewoonlik sommer daar op die bank aan die slaap. Net toe sy begin dink die dag het eintlik heel rustig verloop, lui die telefoon.

Dis Danie. "Vrou, ons kry vanaand gaste. Die grootbaas van Johannesburg is hier. Hulle is ses mense. Sal jy vir ons iets lekkers kan maak?" Voordat sy kan antwoord, sit hy neer.

Daar is nou geen ander genade nie. “Petronel!” gil sy die gang af, maar sy weet reeds dat die kind nie gaan reageer nie. Sy storm die gang af en ruk Petronel se deur oop. Dina haal die kind se oorfone sonder seremonie van haar ore af. Sy kyk gesteurd op waar sy op die mat met haar selfoon besig is.

“Kom kombuis toe, jy moet my kom help.”

“Ma! En wat dan van my huiswerk? Ma weet mos hoe baie werk ons het,” kla sy. Haar ma gee nie aandag daaraan nie, want sy weet dat die kind altyd ‘n antwoord terug het.

Die ete was 'n sukses. Grootbaas en sy gevolg het die een na die ander 'n klomp komplimente oor haar kookvernuf gehad. Danie is in sy noppies. Sy bevordering is voor die deur.

Almal slaap. Die kombuis is opgeruim. Die huis is stil.


Dina trek die hoop boeke nader. Gelukkig is die nag nog lank, dink sy by haarself.

“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...