Sondag 28 Julie 2019

SÊ NOU MAAR EK VAL?


My lewe lank het ek ‘n probleem met hoogtes ... o jimmeltjie tog! Moet my net nie vra om daar of daar op te klim nie, hoor. Ek is baie gewillig om baie dinge te doen, maar as ‘n ding ‘n bietjie hoër is as my kniekoppe, weier ek baie maklik; ordentlikheid en my goeie opvouding ten spyt.
Die dag wat ek saam met my suster en maatjies was en almal spring van die muurtjie af tot op die gras, was een van daardie dae. Almal spring, maar hierdie kind staan en beskou die spulletjie van ‘n afstand af.
Die muurtjie agter ons ... 
“Kom, spring jy ook. Dis nou jou beurt,” moedig een aan.
Ek weet ek is vas. Ek het nou geen keuse nie. Ek maak reg en spring. Ek weet ek moet uithaal om nie dalk myself teen die muur te pletter te val nie. Ek spring. Ek trek vir ewig deur die lug. En, o liewe genade, ek val myself in ‘n ander bloedgroep in. My wind is uit en ek lê en hyg na asem. Almal koer en kloek om my, want Ma mag nie sien wat nou hier gebeur het nie.
Ek staan daar op en ek weet: van daardie muurtjie af spring ek nooit, ooit weer nie.
Maar die lewe het ‘n manier om nie op te hou met ‘n bangbroek nie. Dit gebeur keer op keer. Weer spring ek. Weer val ek my des moers.
Die L.O.-klas in die skool was my nagmerrie. As ons die dag daar instap met ons blou outfits en die perd en die brug staan reg, dan weet ek hier kom moeilikheid. Flippit, kan dit dan nie ophou nie?
Die een dag, soos baie ander, moet ons in ‘n ry staan. Elkeen kry ‘n beurt en niemand mag oorgeslaan word nie. Sien nou asseblief hierdie prentjie en kry seblief tog ‘n klein bietjie meegevoel met die bang kind.
Jy moet hardloop, op die wipplank land, en in die hardloop kry jy dan hoogte om oor die perd te spring. So maklik soos roomys eet in die somer, nie waar nie?
Ek gaan staan heel voor. Ek reken as ek eerste is, doen ek dit gou en dan is dit oor en verby. Maar ai, toe juffrou Lilla roep, sien ek nie kans nie. Ek skuif een plek terug. En weer. En weer skuif ek terug. Op die ou einde staan almal eenkant en net die kind met die lam bene staan nog daar om te hol, wip en spring.
Almal moedig aan. Almal wag. Almal is haastig dat die bewende stuk jellie klaar moet kry sodat hulle iets anders kan doen wat ewe lekker is.
Ek hardloop. Ek land met ‘n slag op daardie wipplank. Ek trek hoog deur die lug. Iewers in die vaart kry ou Lilla my een arm in die hande. Ek swaai deur die lug, maar die arm bly hier by Lilla. Moet ‘n swaai tot by die maan land ek met ‘n slag voor haar voete.
Ek staan daar op en ek weet: oor hierdie ding spring ek nooit weer nie.
Mettertyd raak dit so ‘n bietjie makliker – jy kan self besluit of jy wil opklim of nie. jy kan self besluit of jy gaan spring of nie. Ja, reg geraai – ek het nooit weer iewers opgeklim nie en nooit weer iewers afgespring nie. Ek is vas en stewig op die aardkors geanker en niemand oortuig my anders nie. (Nee, ek gaan nie nou vertel hoeveel maal ek in my lewe bloot neergesloeg het op die grond nie!)
Vanaand, jare later, besef ek hoeveel ek in hierdie lewe gemis het. Ek kyk na ‘n program en die aanbieder vertel van ‘n omie van tagtig wat valskermspring ten bate van kinders met kanker. Hyself het ook kanker, maar hy glo dat hy te veel het om te doen om nou op ‘n hopie te gaan sit.
Die aanbieder bely: “Vandag het my hele lewe verander. Ek kan nie meer dink ‘Sê nou maar ek val’ nie. Van vandag af is my leuse: Sê nou maar ek vlieg?
Is dit nie ‘n openbarende gedagte nie? As ek nie waag nie, sal ek nooit wen nie. Die spreekwoordelike muurtjie waarvandaan jy moet spring, kan dalk jou lewensdroom wees wat jy nog altyd te bang was om mee te begin. Dink ‘n bietjie daaroor, dis uiters bevrydend.
So het ek twee jaar terug uiteindelik met bewende vingers my eerste sin begin tik aan my eerste boek. Vir my was dit baie hoër en baie erger as die hoogste muurtjie, maar ja, ek het gespring en ... toe vlieg ek!


Woensdag 10 Julie 2019

'n LEEFTYD WAT VOEL SOOS GISTER.


Sewe-en-dertig jaar gelede ...  
Dit voel soos gister, maar dit is ‘n leeftyd terug. Sewe-en-dertig jaar gelede het my lewe vir altyd en altyd verander. Sewe-en-dertig jaar gelede het my lewe, so kan jy maar sê, voor begin. Ja, die dag voor dit en die dag daarna kan jy nooit, ooit met mekaar vergelyk nie.
Die oggend het baie deurmekaar begin. Skielik was ek die taxi wat een en elk by die haarsalon moet besorg. Ha-a, vergeet van die bruid wat voete omhoog nog so ‘n bietjie laat kan lê in die kooi. Vergeet van die bruid wat rustig haar naels verf en sielsalig ‘n koppietjie tee met ‘n broodjie geniet. Nee jong, daar van niks van sulke dinge nie. Almal is besig en die bruid moet haar kant bring! Dalk was dit ‘n goeie ding, want daar was nie tyd om te dink en (dalk) koue voete te kry nie.

Sewe-en-dertig jaar gelede het ek aan die arm van my pappa kerk toe gestap. Dit was ‘n emosionele oomblik vir albei van ons. Hy, omdat hy nie sy kind wil sien seerkry nie, sy omdat sy sy hart gelees het. Hy het ‘n kort oomblik gaan staan en saggies gefluister: “Liewe Jesus, vat asseblief my kind se handjie.”

Ek het nie geantwoord nie, want my woorde was te min. Hy het dringend gevra: “Het jy gehoor?” Ek het net my kop geknik, want die trane het baie vlak gelê.
Sewe-en-dertig jaar terug het ek, my liefie kindjie en my pappa die paadjie kansel toe geloop. Ek onthou my moeder se groot, wyd-oop oë toe ons verby haar loop. Ek kon sien dat die trane glad nie ver is nie.
Sewe-en-dertig jaar terug het daardie dogtertjie, tot ontsteltenis van haar ouma, op die mat voor die preekstoel rondgekruip. Die dominee het sy preek onderbreek met ‘n “Los haar maar, sy pla nie.”
Sewe-en-dertig jaar gelede het ek die heel laaste keer my handtekening gemaak met ‘n ander van. Van daar af was ek trots op my nuwe van. Vandag nog teken ek dit met trots in my hart!

Sewe-en-dertig jaar gelede het daardie dogtertjie saam met my die kerktrappies afgestap. “Kan ek nou maar vir oom Duitser ‘Pappa’ sê?” wou sy opgewonde weet.
‘n Leeftyd terug het hy my daar op die kerktrappie gesoen. ‘n Leeftyd later soen hy my nog altyd met groot liefde en omgee en respek.

Sewe-en-dertig jaar wat voel soos vir altyd en altyd ...
En tog ...
Tog voel dit soos gister.

Maandag 08 Julie 2019

ONS BOU 'N HUIS


Ons is ‘n groepie wat woel en werskaf om gereed te kom vir die Radiothon van Kanaal 7. Hoe langer ons so saam is, hoe meer verstom dit my hoe ons as (in sommige gevalle) totale vreemdelinge vir mekaar, so maklik kan inskakel en saam werk. Die een is bedrewe met dit, die ander weer met dat. Die eindproduk is keer op keer verstommend suksesvol.
Hoe werk dit? Hoe gebeur dit dat almal byvoorbeeld nie goed is met broodbak en niemand kan biltong maak nie? Dit slaan my totaal en al dronk, hoor.
En toe hou ons ‘n heerlike tee. Die plek is gepak van die Keetmanshopers. Dit gesels en kuier dat die spreekwoordelike spoeg so spat. Almal voel tuis en almal is bly om daar te wees. In my hart het ek so ‘n klein bietjie twyfel oor dit wat moet gebeur – mense wat hulle ‘stories’ vir ons gaan vertel. Wat nou as daar een opstaan en volksvreemde goed staan en praat? Wat nou as een besluit dit is tyd dat die ou lotjie wakker geskud moet word met ‘n storie wat die bloed in jou are laat stol?
Maar nee. Een na die ander staan hulle op en deel hulle hartsdinge met ons en keer op keer voel dit vir my asof dit maar my eie storie ook kon gewees het. Al die stories het een doel voor oë – die Here is groot en Hy sorg vir sy kinders.
Skielik breek die lig vir my deur. Aardetjie, Martha, hoe kon jy dan so dom wees? Hoe kon jy dit vergeet wat die Woord vir ons uitspel? “Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis ...”
Ons is dus ‘n eenheid, maar elkeen het sy eie doel, nie waar nie? Ek wil so ver gaan deur te sê, geestelik of nie geestelik nie, waar mense in ‘n groep saam is, vorm dit noodwendig ‘n eenheid ... of dan ‘n huis in hierdie geval.

Dis toe wat ek die prentjie van die boumateriaal sien. Stene, sement, hout- en staalbalke, plafonne, bouklip, verf, gras vir die grasdak en wat nog alles. Ek loer by ‘n stoorkamer in en sien groot kartonne opmekaar gestapel. Die inhoud is duidelik op elke karton geskryf: snoesige lakens; groot, sagte handdoeke; luukse gordyne; satynkussings; vadoeke. Ek hou op met lees, want ek besef dit gaan my heeldag vat om alles in te neem.
Ek sug by myself. Sjoe, hierdie is ‘n grote, jong. Ons wil soms asseblief tog die grootste en die sterkste wees, nie waar nie? Ander kere wil ons die mooiste en die slimste wees. Jaloesie is baie maal ‘n mens se grootste vyand wat dit betref.
En tog! Wat as die bouklip wat in die fondasie gebruik moet word, nou skielik besluit dat hulle liewer op die kombuisvloer wil wees. Of as die sinkplaat wat op die dak moet kom besluit hy wil vanaand plekke ruil met die sagte wolkombers op baba se bed. Kan jy jou dit indink? Watter chaos sou dit veroorsaak as elkeen self kon kies waar en hoe hy gebruik wil word? Dink jou dit in as die vadoek besluit dit is sy beurt om vanaand op ouma se bed te wees en satynkussing moet kombuis toe trek. Mmmm, ‘n groot gemors, sou ek reken.
Nou hoekom is dit dan dat ek soms die sinkplaat en dan die vensterruit en dan daarna die wolkombers wil wees? Hoekom kan ek nie tevrede wees om bloot te wees dit waarvoor ek gemaak is nie? Hoekom gun ek nie die pikante teepot op die tafel haar fleur en skoonheid nie? Dit is tog waarom sy op die tafel is, ha? In elk geval, noudat ek daaraan dink, sy vat ook maar daagliks die hitte wat na haar kant toe kom, nie waar nie? Ek dink nie ek sou staan om vol kookwater gegooi te word nie, hoor.

Ek het, soos elke ander keer, afgedwaal van my storie af. Wat ek wou eintlik maar net wou sê is dat dit verstommend is hoe so ‘n klomp siele so ‘n mooi eenheid, of in hierdie geval, so ‘n mooi huis kan vorm ... sonder foute, sonder water wat deur die dak drup of mure wat gebars is.
Verstommend! Voorwaar verstommend.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...