Maandag 29 Januarie 2018

'n BRIEF HUIS TOE

Ek sou so graag, as ek kon, vandag 'n brief wou skryf aan my liefste Pappa en Mamma. Ek skuld hulle so baie, man! Nee, ek skuld hulle nie geld of goeters nie, glad nie.

Nou wat skuld jy hulle, Martha? Jy weet tog hulle is al albei op 'n veel beter plek as hierdie woeste, deurmekaar aarde. Wat is daar wat jy vir hulle kan gee wat hulle nou nodig sou kry?

Kom ek vertel jou wat dit is. Of nee, kom ek skryf die brief, dan lees jy sommer self. Dalk, net dalk, voel ek dan so 'n klein bietjie beter in my deurmekaar, hartseer hart. Net miskien voel ek dan nie meer ek is 'gerob' van 'n groot, groot kans in die lewe nie.

My liefste Pappa en Mamma

Hoe gaan dit met julle? Hehe, dit voel snaaks om vir julle te skryf, man. Dit voel snaaks, want ek het terwyl julle gelewe het ook maar min briewe vir julle geskryf. Ons was mos altyd naby mekaar en die telefoon was soveel makliker as 'n brief.

Dit gaan goed met julle kind, marthamaria. Sy is okay, al is julle nie meer hier nie. Sy het mos die astrante Van Lill-gene gekry wat net aanhou en aanhou selfs al voel dit of die aarde darem nou te vinnig draai. Dan sit jy so 'n bietjie Fouche-bloed by, en kyk wat kry jy! 'n Uithouer en aanhouer van formaat; al moet ek dit nou self sê. 

Pappa het altyd gese: Martha, jy kan! En dan het ek geknik, maar in my hart het ek dit tog maar nooit regtig geglo nie. Toe ek by die skool die matrieks moes vat was ek so in opstand, onthou Pappa? Ek wou nie, want ek het geglo ek kan dit nie doen nie. En dan het ek maar weer 'Jy kan!' gehoor. Ek moes op my tande byt om nie in opstand te skree nie, want ek het mos geweet dat ek nie kan nie! En Pa, toe doen ek dit. Pa het nie regtig geweet hoe dit gegaan het nie, want die kanker het toe kom moeilikheid maak en toe is Pa mos weg. Maar, Pa, ek het dit goed gedoen, ek weet.

En Mamma, daar was nog nooit 'n mens op hierdie aarde wat so trots was op my soos my Mammatjie nie. Sowaar, ek het altyd so besonders gevoel as ons twee saam was. Mamma was die een wat altyd uitgevra en geluister het na my stories by die huis en by die werk. Mamma was altyd so dankbaar vir elke klein dingetjie wat ek gedoen het. Hoe het Mamma my genoem? 'My kind, my vriendin, my suster, my ma.' Ja, uiteindelik het ons twee mos rolle geruil en ek was so dankbaar dat ek my ou kleinste babatjie kon oppas en versorg tot die laaste dag toe. Dankie vir daardie geleentheid, my moederlief.

En as Mamma niks meer gehad het om te sê nie, het Ma vir Pappa aangehaal: "Martha, jy kan!"

Maar vandag wil ek so graag hê dat julle hier saam met my moet wees. Weet julle dat ek 'n boek geskryf het? Ja! Ek sit met my boek in my hande en ek wens so dat julle dit saam met my kon geniet. Ek wonder wat sou my liefpa gesê het daarvan, maar ek weet my Gesie-liefde sou dat ek elke dag vir haar 'n storietjie gelees het. Ag, wat 'n heerlikheid sou dit gewees het vir ons albei!

Nou hoekom voel ek dan gerob? Juis omdat ek dit nie met julle kan deel nie, man. Ek voel ek het myself gerob, sien. As ek hoeka begin het, was spyt nou nie te laat nie.

Maar, noudat julle weet, sal my hart stil word, ek weet. Maar ek sal nog baie keer wonder wat julle sou gesê het oor dit alles.

Ag, ek weet mos julle lees nie meer briefies nie, man. Ek weet! Maar net so dalkies sal daar iemand wees wat die nuus kan oordra?

Ek bly altyd en altyd lief vir julle.

Julle kind

marthamaria



OM TE TRAIN-JUMP OF NIE

Soms, maar net soms, wonder ek oor die lewe en die manier wat ons hom lewe. Is dit regtig nodig dat alles so mooi netjies in kassies geplaas moet wees? Jy weet, alles moet net so of so gedoen word, anders is dit nie reg nie. En alles wat nie so of so gebeur nie, is ook nie reg nie. Dan vra ek myself af waarom dit so moet wees? Kan ‘n mens nie maar die lewe leef soos hy homself aanbied nie?

Ek het probeer om met die volgende beskrywing my stelling te regverdig. Besluit jy nou maar self hoe jy daaroor voel.

Ons is almal maar swerwers van hierdie lewe. Wat die lewe ons bied, is nie altyd wat ons gekies het nie, is dit?

Ons kan onsself vergelyk met iemand wat op die dak van die eerste en beste trein spring en swerf van plek tot plek [die Engelse noem dit “train jumping”].  So ‘n persoon weet baie maal nie waar die volgende trein hom heen gaan neem nie.  Soms is dit skrikwekkend om nie te weet waar die trein gaan stop of waar dalk nie, maar meestal is dit uiters opwindend.  Eintlik hang dit maar af van die swerwer self en hoe hy reageer op elke stasie waar hy afspring.

‘n Swerwer gryp elke dag wat die lewe hom bied; hy wonder nie oor die dag wat nog agter die horison lê nie.  Al wat vir hom saak maak is die hier en die nou.  Hy weet hierdie dag is vir hom gegee en hy moet die beste daarvan maak. Hy moet hom leef, want môre is hy weg. Jy kan nie môre eers vandag se lewe leef nie, of kan jy?

Net soms misgis ons onsself.  Die dag was dalk bedoel om saggies en ongesiens verby te glip.  Dan het hierdie swerwer vroegdag sy verfkwaste uitgepluk en die dag met helder kleure gestreep-streep.  En dan, wel…  Dit is dan sulke dae waarop dinge nie so lekker loop nie en jy nie kan verstaan wat op aarde is aan die gang nie.  Jy kan nie verstaan waarom niks reg wil uitwerk vir jou nie en waarom jy so miserabel voel nie.  Jy is dan so positief en probeer dan so hard, wat kon dan verkeerd geloop het?
Ander dae word jy wakker met ligte pastelkleure rondom jou.  Jy ervaar hierdie sagte kleure in en om jou en jy voel die sagte windjie waarin die Here met ‘n fluisterstem met jou gesels.  Dit is op sulke dae wat jy die Here se goedheid en liefde in oorvloed ervaar en sy stem diep in jou hart hoor.  Op hierdie dae is Hy so naby dat jy net jou hand so effentjies kan uitsteek om aan Hom te raak.
Dan, daardie heerlike dae wanneer die lug ruik na nat grond en alles om jou klink soos basuine en trompetgeskal.  Jy kan rondomtalie draai en sing en ver hardloop sonder om moeg te word.  Dit is die mooiste, mooiste dae.  Jy lag en die wêreld lag saam met jou.  Jy wil die ganse skepping omhels, want die lewe is mooi en God is goed.  Dit is wanneer jy lighoofdig raak van die suurstof van die lewe – jy is so vol van leef dat dit jou seermaak.  Dit is sulke tyd wat jy op ‘n huis se hoogste punt wil uitklouter en dit wil uitjubel dat dit wonderlik is om mens te wees.
Ag, en dan is daar mos die dae wat aanbreek in ‘n diep grou kleur.  Eers lyk dit asof die son nooit sy kop wil uitsteek nie en jy voel om jou kop onder die kussing te hou vir die ganse dag.  Jy weet nie waarom die dag moet begin of eindig nie.  Jy wil sommer net so in jou bondeltjie bly lê totdat die donkerte van die oomblik/dag/maand/jaar verbygetrek het en jou alleen gelaat het.  Maar dit werk nie so nie – die lewe sleep jou saam al is hy self ook nie lus vir lewe nie.
Die lewe is ‘n molshoop, ‘n bynes, ‘n ruiker, ‘n grafsteen, ‘n bossie kosmos.
As ‘n mens ‘n molshoop sien, weet jy diep in die grond, onder daardie hopie grond, is ‘n blindemol.  Hier bo die grond lyk dit vir jou asof daar niks, niks aangaan nie.  Dit is vervelig en verbeeldingloos.  Jy staan en aanskou daardie hopie grond en jy wonder waarom die mol hoegenaamd leef.  Dit moet verskriklik wees om sonder oë deur die lewe te moet tonnel en ploeter.  Jy dink so half minagtend aan die mol en sy hopie.  Vir wat is daar goed soos molle?  Dit lyk so totaal onnodig en onsinnig.

Maar is dit onnodig of onsinnig?  Die mol dien ook sy doel in die grond, dan nie?  Wanneer jy nie die kringloop van die plante en grond en humus en wat alles ken en verstaan nie, kan jy amper wonder waarom die Here dan hierdie ding sonder sy twee oë geskep het om so swaar te moet kry.

Die een of ander tyd in ons lewens het ons die tyd van mol-wees nodig.  ‘n Tyd om te delf en te tonnel en stil en onopsigtelik te wees vir almal en alles.  Dit is soms die tyd wat [agterna] die mooiste vrugte in jou lewe voortbring.
 As ons onderdeur ‘n boom loop en ons sien ‘n bynes so tussendeur die takke, is ons dadelik op ons hoede.  Oppas!  Daar’s ‘n bynes!  Dis sekerlik reg so, maar baie maal is daardie nes dolleeg en dan hardloop ons verniet weg van die boom af.  In daardie boom is dalk die mooiste, soetste vrugte denkbaar, maar omdat ons glo die bynes hou gevaar in, gee ons maar liewer pad.  Dis so verkeerd, maar ons staar onsself blind teen iets waaraan ons verkeerdelik glo.  Tog het almal van ons al male sonder tal gesien ‘n bynes kan ook vol bye wees en dan doen nie een van daardie bye ons skade aan nie.  Ons laat ons afskrik deur dinge wat deur die jare in ons koppe gehamer is:  “Oppas!  ‘n By steek seer.  As daar ‘n bynes is, is daar miljoene bye wat jou gaan aanval.  Bly weg.”

As die volgende voetganger dan onder die boom se koelte gaan sit en eet van die heerlike vrugte, is ons bitter jammer dat ons so ver in die warm son moet staan.  Dan is dit egter te laat om terug te draai, want die son is aan die sak en jou pad lê voor.  Kans vir terugdraai in die lewe is daar nooit nie.
 Ons sal altyd bly wonder hoe anders dit sou wees as ons op daardie warm dag ‘n blaaskansie sou vat onder die boom met die bye.  Sou ek nie dalk groot baat kon vind by die vrugte van die boom nie?  Dit sou my dalk die krag kon gee om my pad enduit te loop?  Dit sal ek nou nooit weet nie, sal ek?  Kanse wat ek misgeloop het in die lewe is vir altyd verlore.

 Het jy al gesien wanneer ‘n gegoede werkgewer vir sy sekretaresse blomme gee omdat hy dink sy doen goeie werk?  Hy gee vir haar die mooiste en die duurste ruiker beskikbaar.  Sy slaan haar hande saam en is verstom dat haar werkgewer soveel geld aan haar spandeer.  Sy gooi die bakkie vol water en sit dit op die hoogste plek in haar kantoor – sê nou maar iemand stamp aan die tafel en die ruiker val om!  Wat ‘n skade sal dit tog nie wees as een van hierdie lieflike blomme se stele breek nie.  Dit sal mos die hele ruiker beskadig, sal dit nie?

Hierdie ruiker is saamgestel sodat almal daarna kan kyk en sugte van verwondering kan slaak.  Niemand, maar niemand, mag aan een van daardie lieflike rose raak nie.  Want sien, as jy aan so ‘n roosknop vat, verwelk daardie blaartjie soveel gouer as al die ander roosblaartjies.  Met ander woorde, jy mag kyk, maar nooit raak of ruik nie.
Is dit nie hoe ons die mooi dinge in die lewe hanteer nie?  Ons lewe soos armes, maar hoog op die rak staan die mooi dinge – die beloftes wat ons oorvloediglik van God ontvang.  Ek weet daarvan, ek spog daarmee, maar my eie kan ek dit nooit maak nie.  Waarom nie?  Omdat ek glo ek verdien dit nie?  Of dalk is ek bang dit raak op en dan het ek niks oor vir anderdag nie.

Soms is ons lewe soos die van ‘n persoon wie se geliefde deur die dood weggeneem is.  Jy moet besluit watter grafsteen is die beste en die mooiste vir hierdie liefmens van jou.  Jy spandeer ure aan die uitsoek van die steen en die samestelling van die bewoording daarop.  Dit neem jou dae en weke om te besin daaroor.  Voortdurend is jy besig om weer ‘n lewe saam met die oorledene te leef.  Jy beleef letterlik elke oomblik, elke asemhaling saam, want jy het by die punt gekom waar dit die laaste afhandeling is van ‘n lang lewe saam met iemand na aan jou hart.  Jy kies die grafsteen, jy skryf jou laaste boodskap in jou mooiste handskrif op ‘n stukkie papier en oorhandig dit aan die grafsteenbouers.

Wanneer alles afgehandel is, gaan jy die graf besoek en bewonder jou eie handewerk.  Jy staan weereens ure daar en herleef die tye wat nooit weer geleef kan word nie.  Jy kan jouself nie daar wegskeur nie.  Enersyds omdat jy nie afskeid kan neem nie, maar ook omdat jou gewete vir jou sê dat jou lewe ook verby is bloot omdat jou mens nie meer lewe nie.  Jy staan soggens op en beur deur die dag, net om laatmiddag weer by die graf te gaan staan en die lewe agter jou te probeer asem inblaas.  Dit maak jou grensloos moeg, maar jy glo dit is hoe dit hoort en daarom doen jy dit.  Jy besef nie dat jy in die proses besig is om self te sterf nie, dat jy besig is om die heerlike lewenstrein by jou verby te laat jaag nie.
Hoekom bly ek staan by dit wat agter my is?  Hoekom loop ek so omkyk-omkyk?  Ver voor my is die wenstreep en dit is waarheen ek moet mik.  Ek moet my uitstrek na dit wat voor my lê en die verlede laat staan by die graf van teleurstelling, mislukking, belediging, vernedering, ensovoorts.  Waarom vergewe en vergeet ek nie maar nie?  Om weg te draai van daardie “graf” af en dit te vergeet, is soveel makliker en so heerlik bevrydend.

Wanneer ‘n mens na ‘n lang siekbed uit die bed uit opstaan, is jou bene sonder krag en voel jou hele liggaam of dit in opstand kom teen hierdie skielike beweging.  Jy staan op en probeer ‘n endjie loop, maar jy besef dit is beter om maar eers weer ‘n tydjie te sit en asem te skep.  Jy drink dalk ‘n koppie lekker soet tee.   Later probeer jy weer opstaan.  Jy stap stadig tot by die naaste kas en gaan daar staan om weer te rus.

Terwyl jy daar staan, val jou oog op die gordyne wat dae lank toe was teen die skerp lig.  Jy skuifel nader en trek dit stadig oop.  Jy skreef jou oë teen die helder sonlig, maar kyk nogtans na die [soos jy dit onthou] vaal en verlate aarde om jou huis.
Wat ‘n verrukking!  Die hele veld is oortrek met kosmos en varings.  Jy vergeet van die moeg in jou lyf en hardloop deur toe.  Droom jy?  Jy ruk die agterdeur oop en storm uit.
Die hele wêreld is geverf in skakerings van pienk en wit en groen.  Alles net vir jou om te geniet.  Jy gaan staan ‘n oomblik in ‘n waan van verbystering.  Kan dit waar wees?  Is dit dieselfde wêreld waar nog nooit ‘n grassie of ‘n blom wou groei nie?  Is dit ‘n werklikheid, of is dit net ‘n hemelse gesig wat nou-nou sal verdwyn?  Jy loop tussen die kosmos en voel hulle skuur teen jou bene.

Opeens besef jy dit is jou eie stukkie hemel.  Die res van die wêreld kan dit nie sien nie.  Hulle is te blind vir hierdie skoonheid.  Jy buk en pluk armsvol.  Jy omhels die blomme, druk dit teen jou vas, druk dit tot in jou hart.  Jy skaterlag so by jouself.  Die lewe in mooi en God is goed.

Ek mag nie die kosmos van die lewe misloop nie.  Ek moet elke oggend die gordyne wyd ooptrek en uitkyk na buite.  By watter stasie die trein my ookal afgooi, vir seker wag my lappie kosmos daar vir my.


Sondag 28 Januarie 2018

WANNEER TWEE EN TWEE NIE MEER VIER IS NIE

Twee en twee is mos vier, is dit nie? Mmmm jaaaaa, hoor ek jou antwoord. Jy wonder waarom ek nou enigsins daaraan kan twyfel. Want sien, jy is mos Juffrou Wiskunde en vir jou is daar net een reg en die res is verkeerd. In hierdie geval gee ek jou gelyk, hoor. Twee appels en nog twee appels is gewis vier.

Maar!

Sy sit kruisbeen op haar bed. Die nag is lank en alleen. Sy wag vir die slaap om te kom, maar hy is weg – daar waar niemand hom kan gaan haal nie.

In die kamer langsaan lê hy ook wakker. Hy slaap aan haar kant van die bed, want dan voel die bed nie vir hom so vreeslik groot nie.

Jy sien, hierdie storie kom van ver af. Die man met die rondloper-gene in sy lyf. Die man met die ‘drugs’ in sy sak, in sy kop, in sy lyf. Die vrou met die doring in haar vlees soos 'n Paulus van ouds. Die vrou wat toe besluit het sy is nie goed genoeg vir niemand nie, want kyk hoe maak hy dan nou!

Hy loop weg. Sy sê: Amen! en gaan aan met haar lewe.

En toe kom die groot man en begin stap sommer so half ongemerk saam met haar. Sy sien hoe sy pas in sy skaduwee, in die holte van sy hand, in die liefde van sy hart. Daar is geen blitse en donderende slae toe hy opdaag nie, hoor. Dit was ‘n stil, sagte dag met sagte kleure in die lug. Gewoonlik glip sulke dae ongemerk verby, maar hierdie dag is ingeëts in haar brein, in haar hart, in haar wese. Dit is die dag toe die groot man met die sagte hande saam kom loop het.

Maar nee tog man. Sy besluit dit werk nie so nie. Goed genoeg is nie goed genoeg nie. Hy is ‘n Gucci-man. Sy is ‘n Pep Stores-vrou. Dit kan nie werk nie. Dit sal nooit werk nie. Dit is waarom goed genoeg nie meer goed genoeg is nie. 'n Klavier sonder klawers is mos lankal nie meer 'n klavier nie, dit weet jy tog.
En nou pyn albei. 

En albei wag vir die oomblik wanneer haar skaduwee weer gemaklik in syne sal val en hulle in pas kan stap tot daar waar die eindes van die aarde lê. 


Saterdag 27 Januarie 2018

KOSHUIS-ESKAPADES

Ek wonder wie almal is soos ek – as jy die meeste werk het, rits jou gedagtes die meeste rond. Dit is nogal ‘n ding wat ek mee sukkel, want van dink kom mos praat, is dit nie? Ek wil sulke tyd so graag die storie in my kop met iemand deel, maar in die proses ly my werk skade. Ek het hope merkwerk, maar die lag sit vlak in my keel.
So, hier is sommige van die goetertjies wat my die hele oggend al pla. Ek hoop dat hulle sal koerskry wanneer ek dit klaar geskryf het.
In standerd ses is ons bondels in elke kamer. Ons is nie stout nie, hoor. Ons is STOUT in daardie kamers. Daar is eenvoudig geen huis te hou met hierdie klomp tieners so saamgebondel in een kamer nie.
Sondagmiddag se slaaptyd is omtrent ‘n eeu lank. Ek dink die stomme onderwyseresse het daardie tyd nodig gehad om uit te rus van die week se ontuimighede, maar ons het hulle nie eintlik die kans gegee om selfs ‘n ou oomblikke rustig te wees nie. Sowat van onbedagsaam!
So kom dit dat ons kamer besluit ons hou vanmiddag troue. Dit is weereens een van die Sondagmiddag se slaaptye wat nie einde kry nie en ons moet eenvoudig iets doen om die dag om te kry. Die bruid en die bruidegom word gekies, die dominee en (ek dink) ‘n orreliste.
Die aantrekkery van die spulletjie is ‘n narigheid, want waar kry ‘n koshuiskind nou alles wat nodig is? Die bruidegom moet ‘n pak dra, maar niemand het ‘n langbroek nie. Ag, dit is nie ‘n probleem nie, hoor. Handdoeke word om die bene gevou en by die broekie se rek ingedruk. Die skoolbaadjie moet doen vir die pak se baadjie. Iewers moes daar ‘n das ook getoor gewees het en siedaar, onse bruidegom is reg vir die troue.
Die bruid moet ‘n ordentlike trourok dra. Almal van ons dra in daardie tyd halflyfonderrokke en elkeen gee hare. Die bruid se rok bestaan uit hierdie onderrokke wat die een bo die ander aangetrek word – elke keer is die volgende een ‘n bietjie laer. Ag, kyk net hoe mooi! Die bruid se rok is die ene valletjies! Die sleep? ‘n Laken sal doen daarvoor, dankie. Die dominee is ook gereed en die troue kan begin.
Die fotograaf neem foto’s dat dit ‘n naarheid is. Almal wil graag foto’s van hierdie geleentheid hê, asseblief. Maande later, toe almal al moeg gewag is vir die foto’s, erken sy dat daar nooit ‘n film in haar kamera was nie. Ai tog!
Jy moet net weet dat die spulletjie teen hierdie tyd al lankal vergeet het dat dit eintlik slaaptyd is en dat jy op jou bed moet wees en, bo alles, jy moet tjoepstil wees. Almal lag en skree en geniet die troue terdeë. Opeens is dit ‘n geskarrel, want iemand het gesien die juffrou op diens is op pad. Almal hol vir hulle beddens, maar die bruid se bene is so verstrengel in die onderrokke dat sy nie kan beweeg nie. Die enigste raad is om onder ‘n bed in te duik dat jy net sleep sien trek. Ek wonder vandag nog waarom die juffrou dit nie gesien het nie, want die kind het oop en bloot op die vloer gelê.
‘n Ander storie i-s toe die een kamer se meisies die aand besluit het om ‘n poeier-geveg te hou. Hulle het elkeen ‘n blik poeier en elkeen kyk of sy die volgende een se kop lekker met die poeier gegooi kan kry. Voeg nou hierby dat die kamer ‘n bruin nelonium-vloer gehad het. Kan jy jou indink hoe die kamer moes lyk toe die juffrou die lig aansit? Ewe skielik lê almal met hulle koppe onder die lakens, maar die lug is wit van die poeier. Hulle vertel dat die juffrou vreeslik geraas het, maar sy moes ‘n keer of wat buite toe gaan om eers klaar te lag voordat sy verder kom raas het.
Of die aand wat ‘n kamermaat badkamer toe wou gaan. Dit was lankal ligte-uit en ons moes slaap. Die kind was baie bang vir die donker en ek besluit om haar ‘n poets te bak. Ek klim op ‘n kas, reg langs die deur. Ek beplan om haar lekker skrik te maak as sy terug kom kamer toe. En wie is dit toe wat die lig kom aansit? Ai, gelukkig het die juffrou nie opgekyk nie en gelukkig het ek betyds besef dit is nie my maatjie wat so pas ingekom het nie.
Of die kere wat ons donkerkamertjie gespeel het. As die kamer nie donker genoeg is nie, word een geblinddoek en die ander moet wegkruip. O hemeltjie tog! Daardie gille wanneer die blindemol jou aan ‘n voeg of ‘n arm beetkry! En dit alles terwyl jy weet die juffrou is net ‘n paar tree met die gang af.

Vandag weet ek dat die koshuis nie altyd so sleg was as wat ‘n mens gedink het nie. Natuurlik het jy huis toe verlang en natuurlik was jy soms honger, maar die vriendskappe wat daar gesluit is kan niemand ooit van jou af wegneem nie. En nou, baie baie jare later, gaan ons mekaar vir die eerste keer weer sien. En kuier. En onthou. En lag. En 'n bietjie huil ook.

Vrydag 26 Januarie 2018

UIT JUFFROU SE DAGBOEK 3

Alles is in rep en roer by die skool. 'n Afvaardiging van die Ministerie van Onderwys het onverwags opgedaag. Natuurlik is almal gespanne, want wat kom maak hulle hier? Waarna soek hulle? Wie het oor wat gekla?

In die personeelkamer heet die hoof die besoekers welkom en gaan doodnormaal aan met sy vroeg-oggend ritueel. Hy is nou nie 'n man wat skrik vir koue pampoen nie. As hulle wil sukkel met hom, besluit hy, sal hy net so hard sukkel met hulle.

Met die eerste oogopslag sien Dina dat Katryn nie in die klas is nie. Die sekretaresse het ook niks gesê nie, dus neem Dina aan dat die kind seker net laat is. Sy open met haar gewone klein storietjie uit die Bybel en vra vir Isak om te bid.

"Juffrou, ek wil nie bid nie. My ma het gisteraand gesê 'n mens met so 'n vuil bek soos ek moet liewer nooit weer bid nie," kondig hy aan. Dina is so verslae dat sy sommer self bid en aangaan met die dag se werk.

Teen pouse is Katryn nog nie by die skool nie. Waar sou die kind wees? Waarom laat niemand iets weet nie?

Toe die klok na pouse lui, klink dit soos oorlog voor Dina se klas. Dit is Isak en Willem wat besig is met 'n vuisgeveg. Dit lyk regtig vir haar of hierdie 'n geveg tot die dood toe is, want albei seuns se neuse bloei en Willem se hemp hang in toue aan sy lyf. Sy moet drie keer op die twee skree voordat hulle die bakleiery staak.

"Nou toe nou, mannetjies, kan ek asseblief hoor wat hier aan die gang is? Van wanneer af gedra ons ons soos barbare op die skoolgrond? Waar kom julle daaraan om so te baklei?" raas sy.

Willem probeer verduidelik, maar die volgende oomblik is Isak weer op hom. Dina sleep behoorlik die seunslyfie van Willem af.

"Isak! Dit is nou genoeg!" gil sy dit uit. Sy besef sy kan nie (ook) soos 'n barbaar optree deur so te gil nie, maar hierdie ding is nou buite beheer. Sy stuur 'n ander seun om die hoof te gaan roep. Te laat besef sy dat die 'grootbase' mos ook hier is vandag.

Die hoof en twee van die ander menere kom aangestap en die twee seuns begin albei huil. Die hoof vra vir 'n verduideliking van die twee. Willem gluur net na Isak, maar hy is te bang om sy mond oop te maak. Hy is bang dat Isak hom weer gaan beetkry, want hy het gesê hy slaan hom vandag morsdood.

Isak kyk die hoof reguit in die oë toe hy antwoord. "Meneer, ek wou nie vanoggend in die klas bid nie. Nou spot Willem my dat ek nooit hemel toe sal gaan nie. Meneer, sê asseblief vir hom om sy bek van my besigheid af te hou, anders gaan ek hom sleg seermaak."

Dit kos groot oorredingsvermoë van die hoof om Isak te kalmeer. Hy stuur albei huis toe om te gaan afkoel voordat hulle weer mag skool toe kom. En wanneer hulle dan skool toe kom, moet hulle sorg dat hulle ouers ook saam kom. ‘n Mens baklei nie so en dan verwag jy dat daar niks met jou moet gebeur nie.

Die kinders in die klas is almal so ontsteld dat Dina sukkel om hulle aandag te kry en te hou. Sy begin sommer kyk wie se boeke nog nie oorgetrek is nie. Daar is 'n hele paar skuldiges en sy dreig hulle met groot moeilikheid as dit nie teen Maandag oorgetrek is nie. 'n Paar gaan aan die kla en mor.

"Juffrou, ons het nie meer bruin papier nie," kerm een. Koos, die belhamel onder die lot, antwoord baie astrant: "Juffrou, my pa het gesê Juffrou kan dit self doen. Waar moet hy die geld vandaan haal om al die papier en plastiek te koop?"

Dina byt op haar tande om nie te antwoord nie. Sy neem haar voor om die naweek genoeg papier en plastiek te koop om almal se boeke netjies te kry. Dit is per slot van rekening nie die kind se skuld as die pa dit nie wil doen nie, is dit?

Na skool ry sy gou by Katryn-hulle se huis aan. Alles is doodstil. Die voordeur is gesluit. Nou wat de...? Hier is sowaar 'n groot skroef los, dink sy by haarself. ‘n Buurvrou loer oor die muur en is gou om ‘n storie aan Dina te verkoop. “Jong,” hyg sy deur haar asmabors, “ek is seker die man het weer die vrou en kinders beetgehad laasnag. Hulle was nog almal hier toe ons gaan slaap het, maar vanoggend is die huis so stil soos jy hom daar sien. Ek sê jou, hy het weer sy hande seergemaak op die arme vrou en die kinders.”
Dina knik net in haar rigting en besluit dit is beter om nie nog in te vra ook nie. Hoe sal die vrou nou weet wat gebeur het as sy in haar eie huis aan die slaap was die hele nag?
Met middag-ete is Danie die ene opgewondenheid. Hy het toe sy bevordering waarvoor hy so lank gewag het, gekry. “En my vrou, ek het die hele lotjie genooi om vanaand saam met ons te gaan eet by die hotel,” kondig hy selfvoldaan aan. Dina se moed sak in haar skoene, want die werk is baie. Sy glimlag egter vir hom en gee hom selfs ‘n liefdevolle drukkie.
“Petronel, dan is jy en jou boetie vanaand alleen hier by die huis, jong. Daar is nie nou nog tyd om te reël vir iemand om hier te kom bly nie.”
Petronel antwoord nie. Sy kyk nie eens van haar bord af op toe haar ma met haar praat nie. Dina gaan onverstoord voort om haar toebroodjie te eet, maar in haar hart is ‘n vae kommer oor haar kind wat besig is om in ‘n stil, donker mens te verander. Wanneer, o wanneer sal daar dan tyd wees dat hulle twee (ma en dogter) kan sit en gesels en weer soos vroeër lief kan wees vir mekaar?


Dinsdag 23 Januarie 2018

UIT JUFFROU SE DAGBOEK 2

Toe die wekker lui, draai sy nog 'n slag om vir net nog 'n ou klein bietjie in die bed. Dit voel of sy byna niks geslaap het nie. 
Danie is knorrig. "Vrou, jy moet wakker word. Dit is nie nou die tyd vir slaap nie. Toe jy laasnag moes kom slaap het..." gaan hy aan en aan en aan. Sy staan op en stap buite toe vir 'n bietjie vars lug. Dis warm. Dit lyk na reën.
Toe die skoolklok lui, draai sy by die hek in. Ai, dit kom nou van net ‘n bietjie dit en nog net ‘n bietjie dat. Jy weet mos om dit nie te doen nie, raas sy met haarself. En toe moes klein Danie ook juis vanoggend moeilik wees om klein skooltjie toe te gaan.
Die hoof is reeds besig met die afkondigings en Dina skuif verleë tussen die ander verby tot by haar stoel. Sy haat dit om laat te kom!
Die hoof kyk van sy notas af op, reguit in Dina se oë. “Dames en here, ons sal soggens vroeër moet uit die bed uit kom. Ons almal ken die reels, dus word van ons almal verwag om ten minste tien minute voor die klok lui hier te wees.” Dina bloos bloedrooi en belowe haarself dat dit nooit, ooit weer sal gebeur dat sy laat is nie.
Op pad uit, roep die hoof haar terug. “Mevrou, is die notule van gister se vergadering gereed? Ons wil dit graag dupliseer vir almal.”
Sy mompel ‘n verskoning dat dit môre gereed sal wees en storm klas toe. By hierdie tyd breek die lot seker al die mure en deure van die klas af!
Die dag begin in alle erns, maar Dina sukkel om te konsentreer. Sy is moeg. Dit voel nie vir haar of die vakansie so pas verby is nie. Sy weet sy kry te min slaap, maar daar is nie ‘n ander uitweg nie.
Toe die laaste klok lui, onthou sy dat sy nog iemand wou kry om vanmiddag na klein Danie te kyk by die atletiek. Sy kyk angstig rond vir ‘n geskikte dogtertjie, maar almal is atlete en hulle sal nie kan help nie.
Skielik is die sagte stemmetjie hier langs haar. “Kan ek Juffrou se tas dra?” Katryn loop saam met haar tot by haar motor. “Dankie, liefkind.”
En toe weet sy! “Katryn,” roep sy die kind terug. “Sal jy namiddag vir my kom help by die atletiek? My seuntjie is ‘n woelige outjie en ek het iemand nodig om saam met hom bal te skop en rond te hardloop. Sal jy dit vir my asseblief doen?”
Dit lyk of die son opkom op die kind se gesig. “Ja, Juffrou. Ek wil dit baie graag doen.”
Die son is so warm dat die kraaie gaap, maar die kinders moet afgerig word. Die byeenkoms is binnekort en daar is nog baie wat gedoen moet word. Sy is baie dankbaar vir Katryn, want klein Danie is ‘n hele handvol. Op pad na Katryn se huis toe stop sy eers gou vir melk en brood. Op die ingewing van die oomblik koop sy vir die kind koeldrank en ‘n lekkertjie. Haar ogies straal van dankbaarheid toe sy afklim met haar sakkie eetgoed. Sy staan voor die hekkie en waai vir Dina totdat sy om die draai verdwyn.
By die huis is alles nog doodstil. Danie werk seker (soos gewoonlik) laat, maar Petronel moes al by die huis gewees het. Waar sou sy rondloop? Sy neem haar voor om hierdie dogter van haar ernstig aan te praat oor haar huislike pligte. Sy is eenvoudig net nooit by die huis om enigsins met die kleinste takies te help nie. Maar, o aarde, as dit etenstyd is, is die madam mos heel voor in die ry voor die kosbakke!
Koskook. Klein Danie moet gebad kom. Aandete. Opruim en skottelgoed was. Klein Danie in die bed sit. Gesellig met haar man verkeer vir ‘n uur of twee. Laaste koppie drinkgoed vir almal. Koppies was en wegsit.
Uiteindelik. Stilte. Tyd om agter die boeke in te skuif.
Eerste op die lys is die notule vir die hoogsbelangrike baas.
Notule van ‘n personeelvergadering wat gehou is op...
1.    Verwelkoming en skriflesing
2.    Personeel afwesig
3.    Indeling van buitemuurse bedrywighede:
                      I.        Tik van notules en agendas: Mevrou Dina Steyn
                    II.        Koor: Mevrou Dina Steyn en Mnr X
                   III.        Debat: Mevrou Dina Steyn en Mnr X
                  IV.        Atletiek: Al die onderwysers
                    V.        Netbal: soos vroeëer aangewys.  
                  VI.        Rugby: soos vroeëer aangewys.
                 VII.        Boekekamer: Mnr X en Mev Dina Steyn

Dina begin sommer kliphard lag. Ja nee, van nou af stel sy haarself as ‘Badprop Steyn’ voor. Sy besef nou eers dat sy voorwaar vier bene en twaalf hande sal moet hê om alles te kan behartig. Dit sal haar nou leer om nie altyd so gewillig vir werk te wil lyk nie.
Sy voel moeg, maar die toetsies van vandag moet eers gemerk word. Die kinders kan nie verstaan as sy dit nie dadelik merk en uitgee nie. Merk. Merk. Merk.

Die horlosie in die gang slaan twee harde slae toe sy uiteindelik in die bad klim.

Saterdag 20 Januarie 2018

DIE SKEWE POTLOOD EN DIE GLADDE PAPIER

Ons glo graag dat elke pot sy deksel kry. Hier is 'n klein storietjie van Potlood wat haar Papier gekry het. 

Daar was eendag ‘n stuk papier wat so mooi was dat niemand daarop wou skryf nie. Dit was ‘n blinkgladde, spierwit blad – te mooi om sommer iewers rond te lê en te mooi dat dit sommer kan bekrap word met klein notatjies of ander onnodige krapseltjies. Nee, hierdie papier was gemaak vir ‘n spesiale doel, sien.

Maar, juis omdat die papier so mooi was en niemand daarop wou skryf nie, was Papier bitterlik eensaam. Niemand het dit geweet nie, maar Papier het daarna gesmag om iewers sy doel te kan dien. Papier is gemaak om op geskryf te word, maar niemand wou op hierdie mooie blad skryf nie.

Papier kry ‘n plan. Hy gaan ‘n bietjie rondgaan en seker maak dat elke pen en elke potlood hom raaksien. Want, het hy gereken, op die manier sal daar wel ‘n skryfseltjie op sy mooie lyf geskryf word. Hy het later nie meer omgegee of dit ‘n duur potlood of ‘n goedkoop pen was nie, solank hy net raakgesien en raakgeskryf  kan word.

En so kom dit toe dat Papier ‘n lelike reputasie begin opbou. Die arme ding was nou nog meer in die moeilikheid. Wanneer Potlood of Pen sien dat Papier op pad is, gee hulle onmiddellik pad. Geen ordentlike pen of potlood wou naby Mooi Papier gesien word nie. Want, het hulle gereken, hulle is nie sommerse skryfgoed nie en hulle gaan nie hulle laat swartsmeer deur met Mooi Papier gesien te word nie.

En Papier is eensaam! ‘n Mens kan amper die eensaam met groot, swart letters uitkrap met Duur Potlood. As, bygesê, Duur Potlood jou sou toelaat.

Intussen was daar iewers op hierdie aardbol ‘n potlood. Dit was ook nie ‘n sommerse potlood nie, hoor. Eens op ‘n tyd was dit ook Duur Potlood, maar toe gebeur daar ‘n klomp goed met haar en sy is nie meer Duur Potlood nie. Nou noem almal haar sommer Skewe Potlood. Dit lyk glad nie of sy meer kan skryf nie, want die wind en die weer het haar beetgehad en sy lyk so half... anders. Ek weet ook nie of ‘anders’ die woord is vir ‘n potlood nie, maar dat sy nie jou gewone potlood was nie, is gewis en seker.

Niemand wou met Potlood skryf nie. Sy hou haar lyf eenkant. Sy vertel vir haarself dis beter dat sy eenkant is, want sy WIL eenkant wees. Maar sien, geen potlood is gemaak vir eenkant wees nie. Sy het eintlik vir haarself gelieg oor die eenkantwees, want dit was die maklikste om te aanvaar. Sy het ook vir haarself vertel dat gaan papier ooit deur haar bekrap sal wil word nie.


Ja, jy het reg geraai. Uiteindelik kom Skewe Potlood en Mooi Papier toe op dieselfde tafel te lande. En Potlood skryf of Mooi Papier. Sy skryf die mooiste, mooiste storie op Mooi Papier. So mooi is die storie dat dit vir eeue daarna nog oorvertel word deur al wat ‘n papier en potlood is.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...