Woensdag 26 Junie 2019

LIG NA DIE DONKER

"Jy kan die donker, swart hond van jou stoep af gooi ..."

Sjoe, ek moet dit met jou deel! Ek luister na 'n onderhoud met Valiant Swart en sit verstar! Dit is hy wat 'Sonvanger' geskryf het. Hoe kon ek dit nie weet nie? Dit slaan my dronk, want dit is presies wie hy is, nie waar nie?

Die lied is sprekend van sy hart nadat hy gehoor het dat 'n jongman selfdood gepleeg het. Ralph Rabie, beter bekend as Johannes Kerkorrel, was 'n vriend van hom en hy was bewus van die stryd met depressie wat die jongman gevoer het.

Op daardie oomblik gaan sy hart uit na Ralph se ma. Hy wonder hoe sy ooit weer 'die lig' sal sien en ervaar in haar donkerste nag.

Ek is verstom deur soveel rou emosie in so 'n eenvoudige bewoorde liedjie. Hoewel ek nie voorheen die storie agter die liedjie geken het nie, het dit nog altyd iewers 'n snaar in my hart geraak. Dit is asof ek nog maar altyd geweet het dat hierdie lied nie sommer toevallig gebeur het nie.

Dis een van daardie songs wat almal wat Afrikaans sing, al gesing het. Laurika, Theuns, Reventse, Karen Zoid, ek, jy ... wie nog almal? Dit spreek tot so diep in jou hart dat jy onwillekeurig saam moet sing en saam moet soek of jy die son nog kan sien skyn. Jy voel, nee, jy SIEN die pyn wat die verpletterde ma van daardie jongman ervaar het by die verlies aan haar kind.

En tog besef hy dat daar altyd 'n ligkolletjie iewers is. As jy mooi kyk en (waarskynlik) 'n bietjie soek, sal jy die son weer sien skyn.

Sy uiteindelike uitspraak is dan ook: "Jy KAN die donker, swart hond van depressie van jou stoep af gooi en aangaan met jou lewe."

Wow!


Kyk of jy vir my die son kan vang
Daar's 'n kamer in die huis waar ons die son kan hang
Dit is donker by die venster in die middel van die dag
Onthou jy nog hoe helder die kamer kon lag
Kyk of jy vir my die son kan bring
Daar's 'n liedjie in die gange waar die son kan sing
Want dis stil in die hoekie hierdie koue seisoen
Kan jy sien wat die wind en die reën aan my doen

Sonvanger ek vra jou mooi
Laat hom weer vir my kom skyn
Sonvanger laat my verstaan
Hoe 'n somer sommer so in die niet kan verdwyn
En laat hom skyn
Kyk of jy vir my die son kan kry
Daar's 'n huisie in my hart waar die son kan bly
Kyk of jy die son vir my kan steel
Daar's 'n plekkie in die tuin waar die son kan speel
Koor

Bring 'n bietjie lig vir die draaie op my pad
En 'n handjie vol strale vir die donker in my hart

Koor

Woorde & Musiek: Valiant Swart

Sondag 23 Junie 2019

DIE VERHAAL VAN DIE BAIE KOPPIES EN DIE EEN BEKERTJIE


Ek sit vanoggend rys op die stoof en skielik tref dit my: Hierdie koppie waarmee ek so pas die rys afgemeet het, het ‘n storie wat vertel moet word. En toe kom die klein stemmetjie mos: “En wat van al jou ander koppies? Het hulle nie ook die reg om hulle stories te vertel nie?”
As jy hier lees en jy het nie koppies in jou huis nie, weet ek min of meer hoe oud jy is. Want, jy sien, toe ek mens geword het, was die enigste bekers in die huis die blikbekers waarmee my pa vir die werkers op die plaas bruinsuiker geskep het in die rantsoenkamer. ‘n Beker het nie deel uitgemaak van Ma se skottelgoed nie, o nee! Hoewel, later jare het Ma ‘n blou bekertjie gebruik om Pa se moerkoffie in te maak.

Wanneer jy moes gaan tee maak, het jy geweet – teekoppies op die skinkbord met almal se ore in dieselfde rigting en die teelepel regs van die oor. Ja? Net so. Die melkbeker en suikerpot het gepas by die koppies (totdat stainless steel uitgevind is, natuurlik.)
Om terug te kom by die ryskoppie. Ek kan nie onthou dat ons uit sulke koppies gedrink het nie, maar dit was seker op ‘n tyd so. Die koppie was (van my geboorte af al?) in Ma se rysblik. Vandag is hy in my rysbak. Hoe anders? Ek wonder net wat van koppie gaan word die dag as ek my amen bereik.

Kom ek vertel jou eers van die amen. Dis die antie wat wou verduidelik vir hoe lank sy nog in dieselfde huisie gaan bly. Uit respek vir die dood het sy baie ernstig gesê: “Ja, hier sal ek bly tot ... amen kom.”
‘n Koppie wat vir my eindelose waarde het, maar vir die volgende een op straat niks gaan beteken nie, is ‘n koppie van die Administrasie van Suidwes Afrika. Ja, ek kan maar erken dat ek dit gesteel het. Ek kon regtig nie anders nie, ek belowe. Ek vertel jou sy storie, dan sal jy verstaan.
Dit was met die geboorte van my oususkind wat dit gebeur het. Die proses was nogal uitmergelend en het ‘n nag en nog ‘n paar ure geduur. Die hele tyd het Ma langs my bed gestaan met daardie koppie in die een hand en ‘n stukkie watte in die ander hand. Oor en oor het sy die stukkie watte in die water gedoop en voor my mond gehou om te suig daaraan. Jy kan maar sê die ouma het my aan die lewe gehou met daardie kosbare voggies in die kosbare koppie. Nou vra ek jou: Wie sou hom nie agterna steel nie?

Dan het ek Ma se teestel met die rose. Og heigenthert! Is dit vir jou ‘n mooi stel! Ma het dit uitgehaal as die dominee en Mevrou Dominee kom huisbesoek doen het. Ja, en natuurlik ook as daar biduur op die plaas was, want dan moes sy elke beskikbare koppie op die tafel dek. Pa het hierdie stel vir Ma gekoop met ‘n spesiale geleentheid en ek is so jammer dat ek nie die storie kan onthou nie. Ek het amper die idee dit was met die geboorte van een van ons, maar slaan my dood as ek dit kan onthou! Waarom is dit so dat ‘n mens altyd te laat besef daar is nog so baie wat jy moes vra?

Jy weet wat? Terwyl ek nou oor hulle praat, besef ek dit is eintlik hoe Ma vir my gelyk het – kosbaar en so mooi soos die mooiste koppie met rose. Kosbaarder as edelstene en alle skatte op aarde. As ek haar ook maar iewers op ‘n rakkie kon sit om te bewaar vir altyd en altyd, sou ek dit gewis doen. Maar dan ... wanneer is ‘altyd en altyd’? Seker dan maar net tot amen kom, dink ek.
‘n Ander stel kom van Ouma af. Dit laat ‘n mens nogal baie aan die Duitse Sammeltassen dink. Weereens, as jy weet wat Sammeltassen is, kan ek jou ouderdom vir jou sê. Die verskil is dat hierdie koppies almal dieselfde lyk, dis net hulle kleur wat verskil. Die een is geel, met ‘n goue randjie om. Die ander een pienk, en so aan. Kosbaar en fyn. Ek weet nie waarom nie, maar om een of ander rede was ek nog nooit werklik lus om my tee uit een van hulle te drink nie. Nie dat hulle nie vir my mooi is nie, hoor. Inteendeel! Dis net of hulle nie so diep in my hart in is soos die koppies met die rose nie.

Ag, en dan is daar die bruin pottery stel. Ek wou bitter graag so ‘n stel hê en het dit toe ook as trougeskenk gekry. Maar weet jy wat? Ek gebruik dit nooit nie. So mooi soos hulle vir my is, so onbruikbaar is hulle. By die tyd wat jy die koffie in die ketel en dan in die koppies gegooi het, is die koffie yskoud. Nou wat is dan die doel daarvan? Koue koffie uit mooi koppies? Ha-a, dit werk net nie vir my nie. Nou staan hulle doer bo in die kas en vergaar stof.
Nou vra jy my nou waaruit drink ek dan nou my koffie? Mmmmm, my beker, my skat, my beker.
So glo ek mos die manier waarop jy koffie en tee aan ander mense bedien, vertel boekdele van wie jy is. Is! Moenie stry nie, jy weet dit is waar.
Ek is een van die skuldiges wat vir ‘n vriendin sommer die melkboks sal gee om melk in haar koffie te gooi. My ma sou die horries kry as sy dit sien. Sjoe, ‘n mens maak mos nie so nie, jong. Jy dek die skinkbord en dan, eenkant in die skinkbord, is altyd nog die bakkie koekies. En ek? Ek het nie eens koekies in die huis nie, wat nog van koekies saam met jou tee. Sies, ek behoort my te skaam, sowaar.
... maar nee, ek doen toe nie. Ek is tuis in my vel en gelukkig met wie ek is, baie dankie.


Donderdag 06 Junie 2019

EK GROET JOU, MY BEMINDE


My liefste Winter Liewe Winter
Ek dreig al so lank om vir jou te skryf, maar elke keer bedink ek myself. Elke keer dink ek dat ek jou nog net een kans gee – een kans om te bewys dat jy my nie verraai het nie. En toe, uiteindelik, besef ek dat dit nooit weer soos voorheen kan wees nie. Uiteindelik moes ek dit aan myself erken: Jy het my verraai!
Ai, man, hoe kon jy dit aan my doen? Het ons twee se liefdes-pad dan vir jou niks beteken nie? Het jy dit doelbewus gedoen om my te verlei, of is dit maar in jou aard om speel-speel van die een verkluimde wese na die volgende te dartel? Was dit dan nooit by jou ‘n saak van hartstog en passie soos vir my nie?
Ek was elke keer so opgewonde, net by die gedagte dat jy op pad was. My hart klop nou nog vinniger as ek dit onthou – mooi, warm truie en wolmussies; warm lakens en verekomberse; lekker dik sop en ‘n broodjie met regte plaasbotter. Ja, jy weet mos, die liggaamlike behoeftes is altyd maar daar by ons vroumense.
Wanneer ek deesdae gaan slaap, smag my hart na hoe jy was, jare gelede. Jy was liefdevol en geheimsinnig. Ek wou jou indrink en net vir myself hou. Ek onthou hoe ek soggens uitgestorm het om jou te gaan ontmoet. Jy het my nooit teleurgestel nie; nooit nie. Met jou ysige hande het jy my gesig kom liefkoos ... passievolle soene op my wange en mond. Die bloed het deur my are gebruis en my jong liggaam het gedy onder jou aanraking. Onthou jy? Wanneer ander murmureer het oor jou, het ek stil geglimlag. Ek het jou bemin, my geliefde. Ek het jou bemin.
Wanneer die tyd dan gekom het dat jy my moet verlaat, het ‘n diepe heimwee in my hart kom lê. Ek wou jou nie groet nie, my beminde. Ek wou jou by my hou, maar jy het stil-stil weggegaan elke keer.
Maar iewers op ons pad (ek weet nie wanneer presies nie) het jy venynig begin raak, my geliefde. Dit was asof jy my nie meer so liefgehad het soos voorheen nie. My gesig het begin skrynerig voel wanneer jy my liefkoos. My liggaam het rebelleer teen jou vrypostige aanraking. Ek het begin wegskram wanneer ek jou gewaar.
Wat het dan skeefgeloop? Waarom het jy my nie meer so lief soos voorheen nie? My geliefde, antwoord my, toe?
My rumatiek-lyf smag na die bruising van krag en energie met jou eerste verskyning. Maar, helaas, jy het my verraai.
Dan groet ek maar met innige verlange
Jou liefde van sewentig jaar gelede.



OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...