Donderdag 10 Desember 2020

VERLORE VLINDER

 Hoe lank is dit al?

Eers het dit hom nie gepla nie – sy het maar ‘n manier gehad om nie baie oor tyd te traak nie. Sy sal kom; hy weet sy sal kom.
Ongemerk het die horlosie se wysers aangeskuif totdat dit amper oggend was. Hy het, soos dit sy gewoonte was, vir haar op die stoep sit en wag. Sy lyf is styf en koud. Die nag was lank en bitter koud. Jasper en Ounooi vroetel onrustig om sy voete.
Hy staan vermoeid regop. Met ‘n trae beweging vryf hy sy hare agtertoe ... sy het nog nie tyd gehad om dit te knip nie. Haar ure op die verhoog is lank en uitmergelend. Hy neem haar nie kwalik dat sy hom (soms) afskeep nie.
In die stort gaan sit hy op die vloer terwyl die warm water strome oor hom loop. Hemel, hy is so ontsettend moeg! Hy lê met sy kop op sy arms op sy opgetrekte knieë. Sonder dat hy wou, sluimer hy in en skrik wakker toe die stromende water uit die stort koud begin word.
Hy vlieg vervaard op en sonder om hom af te droog, hardloop hy agterdeur toe. Dit kan net wees dat Mercia intussen huis toe gekom het. Sy kan tog nie nou nog ...
Buite verwelkom die twee honde hom al snuffelend en keffend. Hy ignoreer hulle en staan verstom by die wete dat sy gister hierdie tyd by die huis weg is en nou nog nie terug is nie. Waar begin hy soek? Hy weet nie eens by watter ateljee oefen sy deesdae nie – het nog altyd probeer om haar nie te laat voel dat hy indring in haar privaatheid nie.
Ignatius Louw, as jy destyds na jou kinders geluister het ... “Pa, jy is oud en jou hart is nie wat hy moet wees nie, Pa. Los tog maar, toe Pa?”
Jy kan maar erken, die groot verskil in ouderdom tussen jou en Mercia het jou ook gepla, het dit nie? Maar jy was soos ‘n wafferse jongman agter die mooi ballerina aan ... al te veel gevlei dat sy juis in jou belangstel en nie in een of ander jong danser nie. En nou? Nou wil dit mos lyk of sy jou toe uiteindelik laat staan het, wat anders?
“Nou gaan dan hel toe, Mercia!” grom hy en klap die agterdeur hard agter hom toe. Hy vryf sy borskas waar ‘n brandpyn al van gisteraand af sit.
Hy wil die ketel aansit, maar sy foon lui ... onbekende nommer ...
“Ja?” brom hy in die foon. Hy haat dit as vreemdelinge hom bel. Hy gaan sit op die naaste stoel ... die pyn op sy hart is oorweldigend.
“Meneer Louw ... sersant Wiese ... Mercia ... ongeluk ... nooddienste te laat ...”
Hy hyg na asem en probeer konsentreer op wat die man vir hom probeer vertel.
“Sersant Wiese, ek dink ...”
Die foon val op die vloer langs Ignatius Louw.

Skildery deur Herman Cantoni



Woensdag 11 November 2020

DIE KLEIN ONTHOU-OOMBLIKKE

 


Hoeveel van hierdie onthou-oomblikke is daar in jou bestaan? Hoeveel maal per dag gaan jy ‘n oomblik stilstaan en glimlag stil oor ‘n kleinood wat in jou hart kom nesmaak het. Oomblikke wat jou na die een naaste aan jou laat draai en vra: “Onthou jy...?”

Maar ja, daar is ook, deesdae meer as vroeër, daardie oomblikke wat jy onthou, maar met niemand kan deel nie. Hartseer, maar waar!

Kry ek anderdag so ‘n lekker giggeltjie toe ek aan my dae as verliefde jong vrou dink. Daardie tyd was Carike Keuzenkamp hoog op elke trefferlys. Een van haar liedjies was ‘Lang maer blonde man’. Mense, dit was vir my die allerlieflikste liedjie en was op ‘n stadium 24 uur van die dag in my kop. Hoekom? Heheheee! Ek was verlief, man! Die liedjie het begin met: “Ek is verlief op die lang, maer blonde man ...”

Was hy lank? Nee, nie regtig nie. Was hy maer? Nee, ook nie. Was hy darem blond? Hmmm, so ampertjies, dink ek.

Maar dit is nie wat saak gemaak het nie, man. Die feit is dat ek oor en oor kon sing dat ek VERLIEF IS!

Wie onthou vir Francois von Heyningen? Google reken hy was ‘n akteur, maar ek onthou hom net omdat my ouers dol was oor sy sang.

So is ons almal die aand op pad bed toe in ons piepklein huisie daar doer in die Namib. Francois sing luidkeels op die radio in die oues se kamer. “Jy is vir my ‘n melodie van rus ...” en onse pa sing teatraal saam en hou sy arms oop vir Moeder. Sy was nogal nie een om openlik drukkies en soentjies uit te deel nie, dus was sy seker maar ‘n bietjie verleë by die uiterlike vertoon van liefde. En haar antwoord: “Ag, dit lieg jy tog!” voordat sy glimlaggend haar rug op hom draai.

Hoe maak jy as jy iets skelm doen en die noodlot ry jou? Kom ek vertel jou. Ons kry een Kersfees elkeen ‘n fiets – Ousus ‘n grote, myne so ‘n bietjie kleiner en die babasussie s’n ‘n kleintjie. Nou kyk, op daardie stadium kon ek nog glad nie fiets ry nie, dus was dit ‘n hele gedoente om net bo-op te kan bly. Ek het soveel keer geval, dat my ma haar byna morsdood geskrik het toe sy ‘n slag my agterstewe te siene kry. Dit was blykbaar geheel en al potblou van al die harde landings tussen die klippe. Maar as jy wil ry, moet jy seker val ook?

Ek raak toe mettertyd so ‘n bietjie meer tuis op die fiets en ek begin sien kans vir Ousus s’n. Die probleem is net dat Ousus g’n stuk wou toelaat dat ek op haar fiets ry nie ... ek het mos my eie! Nouja, dan maak ‘n mens mos maar ‘n plan.

Sy slaap een middag baie lekker en ek vat vir fiets klippe toe. Waarom ek in my klein koppie kans gesien het vir die rivier, weet ek tot vandag toe nog nie. Moontlik het ek gedink ek sou makliker op die fiets bly as dit self afdraand ry en ek nie hoef te trap nie. In elk geval, dis ‘n redelike diep rivier, dus is die afdraand tot onder nogal nie ‘n grap nie. Om dit erger te maak, is die hele pad so van de klippe, dat ‘n bobbejaan met ‘n kierie sal moet loop daar. Maar Martha sien kans om met die te groot fiets daardie afdraand aan te vat.

Ek dink nie ek was halfpad met die afdraand af nie, toe tref ek (natuurlik!) ‘n klip skeef en daar trek ek en fiets in twee rigtings. Die stomme fiets se wiel is heel skeef geval, maar dis die minste van my ellende op daardie oomblik. My kleintoontjie staan heel in die verkeerde rigting en hy pyn dat ek sterretjies sien. Ek sluip huis toe met skewe fiets en skewe toon en gaan lê maar op my bed en probeer vergeet van die seer toon ... die fiets heel vergete op daardie stadium!

Ek kan nie onthou wat die uiteinde van die storie was oor die fiets en my sus nie, maar wat ek wel onthou, is dat daardie gebreekte kleintoontjie my weke se ellende besorg het ... ellende wat ek uit vrees vir ‘n loesing, nie by Ma of Pa kon of wou gaan bekla nie!

My droom om ‘n beroemde aktrise te word, is in die laerskool in Maltahöhe gebore en het ook min of meer daar gesneuwel. Dit was groot opwinding in onse skooltjie – ons sou ‘n operette hou. Mensig man, dit was nie bietjie groot nie, dit was grooooot! Ons is dan ook vir oudisies geroep in die aande nadat ‘die grotes’ klaar studie gehad het.

Eintlik was dit meer die ‘groot kinders’ wat daarin opgetree het, maar daar was twee klein dogtertjies in die storie en so is ek toe ook een aand geroep om my beste voetjie voor te sit. Wat ons moes doen, kan ek glad nie onthou nie, maar dat ek die rol verower het, is ‘n feit.

Og, dit was heerlik om elke aand te gaan konsert hou, man. Tannie Muriel (ek hoop ek spel haar naam reg) het daardie klavier gemoker en ons het gesing dat hoor en sien vergaan.

“Soetkoek” was nie sommerse storietjie nie, hoor. Die hele plaas se diere was daar ... hoenders wat eiers lê en koeie wat melk gee en wat nog alles. Ek onthou van die een aand wat die koei my moes jaag en ek moes skree van skrik. Ai man, hoe skree ‘n mens nou vir twee seuns wat nou ‘n koei is? Jy weet mos, die een buk agter die ander en hou die voorste een om die lyf vas. Die voorste een het ewe sy vingers hier langs sy kop soos die horings staan. En skree kan ek nie skree nie, want ek lag te veel.

Dis toe dat Meneer Otto besluit daardie koei sal my op daardie verhoog jaag totdat ek skree! Ek kan net onthou van hoe ons al in die rondte gehardloop het totdat ek toe later regtig bang is hierdie twee groot seuns hardloop bo-oor my en daar los ek toe ‘n bloedstollende gil ... tot groot plesier van die grootmense.

Maar helaas, soos reeds genoem – my loopbaan op die planke het nie baie lank geduur nie en het ook geen roem en/of groot koerantopskrifte gebring nie.

Maar ‘n mens weet nooit wat volgende om die draai vir jou wag nie, weet jy?

Saterdag 07 November 2020

MY PENNE IS WEG!

 

“Ek soek na my penne, man!” kerm ek.

“Watter penne? Kyk, hier op jou tafel lê handevol penne. As jy wil skryf, skryf met hierdie een of daardie een, of vat sommer die potlood. Wat makeer hulle dat jy nie met hulle wil skryf nie?”

Ek sug lank en hard. Kan niemand dan verstaan dat ek nie sommer enige ding kan gryp om mee te skryf nie? Kyk, elke tweede een se ink is op, of die punt is gebreek, of die ding is pleinweg net nie meer bruikbaar nie.

Ek weet ook nie waarom ek nog nie elkeen van hulle gevat en weggegooi het nie. Wat maak ‘n mens in elk geval met goed wat jy nie meer (kan) gebruik nie?

Dalk is dit pure sentiment, of dalk ‘n soort van ‘n selfsugtigheid wat my daarvan weerhou om die penne in die drom te gooi. Want, jy sien, die klein bietjie twyfel is tog mos nog daar agter in my kop: wat van as een van hulle net dalkies nog kan skryf? Wat van as ‘n wonderwerk gebeur en ek staan een oggend op en almal van hulle is splinternuut en ek kan weer met hulle skryf dat die spoeg so spat? Wat van? Wat van AS?

Nou los ek hulle eers doodstil daar op die tafel en ek loop so nou en dan daar verby en bekyk hulle en belowe hulle ...!


Maandag 21 September 2020

DAARDIE TYD VAN DIE JAAR!


“Baie geluk met jou verjaardag, my maat!” of “Alles wat mooi is vir die toekoms.” Of “Mag daar nog vele wees.”

Dit begin vroeg-oggend, nog so deur die slaapnewels en hou nie op voordat jy vanaand – helaas! – jou kop in die kussing verberg nie.

Nee, kyk, ons almal hou mos daarvan om aandag te kry, nie waar nie? Jy voel so high and mighty vir die enkele paar ure en jou skouers is sommer ‘n bietjie meer regop en jou smile dreig om die son te oortref.

Maar ...!

En dis ‘n baie groot maar daardie.

Jy het gisteraand al gaan slaap met hierdie ding wat jou nie wil los nie. En ja, hoe ouer jy word, hoe knaender is daardie treitering in jou binneste.

Dis ‘n ding wat jou ál terug in die verlede in wil laat neuk. Hoe jy ookal probeer vorentoe kyk, bly jou kop (en hart) terug dwing na gister en eergister en dae en dinge wat was.

Vir wat?

Wil ek mos ook weet, man. Vir blerriewil wat!

Tot jy maar toegee en stil gaan staan en omdraai.

Ja, kom ons kry dit maar oor en verby, dit help tog nie om dit te wil ontken nie, ek is ‘n sentimentele skepsel en eintlik wil ek ook nie anders wees nie.

Die pad lê op hierdie stadium al redelik lank agter jou. Jy kan dit ook maar erken – terug is baie langer as wat vorentoe is. G’n mens weet hoe lank nog vorentoe nie, maar dit kan regtig nie meer so baie wees soos dies wat agter is nie.

Bakens. Versperrings. Triomfe. Neerlae. Vuurwerke. Vloede en brande. Noem dit, en dit was daar.

Nou hoekom is dit dan dat die neerlae en vloede en brande en alles wat duister is, altyd vorentoe dring, terwyl die mooi en lekker so half sku in die donker bly staan? Vir wat is dit dat ‘n mens altyd die negatiewe loop uitgrawe en vergrotings daarvan wil maak? Hoekom is dit dat jy die mooi en die lekker so half soos ‘n klein toffietjie in die kies sit en net so terloops suig-suig daaraan?

En toe tref dit my soos ‘n voorhamer voor die kop! Dis so selfsugtig soos ‘n mens (of is dit net ek?) gebore is, man. Jy glo die goeie moet mos maar altyd daar wees, maar eintlik verdien jy nie die swaarkry wat soms soos doringdraad oor jou pad gespan lê nie. Dit maak dat ek die lekker en die mooi baie maal nie eens raaksien nie, want wees moet dit mos daar wees! Die swaarkry voel allesoorheersend, want ek verdien dit g’n om so te moet ly nie.

Stry?

Net daar neem ek ‘n besluit ... ‘n besluit waarby ek, kom wat wil, gaan hou in die toekoms. Ek sal daardie klein toffietjies suinig in my kies koester. Ek sal hulle suig en rondrol op my tong, totdat die volle smaak vir altyd en altyd in my mond en hart en siel gevestig sal wees. Ek sal hulle een-een uithaal en met groot eerbied, maar ook groot lekkerte, hulle suig en proe en geniet.

En die doringdraad?

Wat daarvan? Ek kan oor ‘n rol doringdraad klouter en klim ... met my toffietjie in my mond!

 

Saterdag 12 September 2020

GEE MY JOU RESEP!

Ons het mos maar almal ‘n gunsteling dis by iemand. Jy weet mos – as ek by die of daai gaan kuier, vra ek vooruit: “Ag, maak tog weer vir my van jou lekker …” Sy lag tog al te lekker en jy weet dat sy jou nie teleur sal stel nie.

My kinders weet dat ek weke voordat hulle kom kuier, vir hulle vra wat hulle graag sal wil eet. Afhangende van die tyd wat hulle kuier, sorg ek dat daar ten minste een van daardie versoeke op die dag se spyskaart is. En intussen ruil ons resepte uit dat dit ‘n naarheid is, want ons wil, wanneer ons verlang, daardie lekkerte maak en sommer nog meer verlang terwyl jy eet.

My tannie Leentjie het ‘n paar sulke spesialiteite gehad. Maar jy moes vir Leentjie geken het om dit te kan waardeer. Jy sien, sy was ‘n gasvrou van formaat ... niemand kon by haar kers vashou nie. Onder andere het sy geglo dat dit ‘n verleentheid vir haar is as ons eet en iemand skep ‘n bak leeg. Ja! Dit het eenvoudig vir haar beteken dat haar kos nie genoeg was nie. Groot bakke kos. Groot bakke lekker kos!

My ma se pannekoek was baie lekker, maar Leentjie s’n was lekker in die oortreffende trap. As jy daardie bak oopmaak, het dit gelyk of pannekoek se kind so half dryf in die suikerstroop. Dit was natuurlik (dit weet ek vandag) die baie kaneelsuiker en groot hompe botter op elke pannekoek. Man! Dan was daar mos meer as genoeg ook – niemand mag honger huis toe gaan nie – en jy kon kry soveel soos jou hart begeer.

Nog ‘n ding wat sy beter as my moeder kon doen, was om ‘n sjokoladekoek te versier met ‘n botterversiersel wat om wraak geroep het. Ma s’n het altyd nog so ‘n ‘suikerige’ tekstuur gehad, maar Leentjie s’n was glad en sag soos ... ja! sag soos botter. Noudat ek self koek bak en versier, weet ek dat botter nie ‘n geringe rol gespeel het in daardie hemelse samestelling op die koek nie. Maar dis nie al nie, hoor. Ek weet mos hoe lank ek my icing klits om daardie gladde tekstuur te kry! Die verskil is dat Leentjie nie ‘n elektriese klitser gehad het nie. Nou hoe dan so? Hoe het sy dit gedoen? Iets wat my ma nie gehad het nie, maar Leentjie wil, was Maria, oftewel Marja. Ek kan net dink hoe die stomme Marja staan en klits het tot die blou wolke spat. Maar eet het ons gevreet aan daardie koek!

Elke, elke, elke keer wanneer ek kerriekos maak, dink ek aan my moeder. Die kinders het gepraat van geelkos, want dit het nooit gebrand nie en dit het so ‘n lieflike geel kleur gehad. Onthou soos ek wil, weet ek nie hoe sy daardie spesifieke smaak in haar geelkos gekry het nie. Ek moes baie maal die mengseltjie aanmaak en oor die vleis gooi, maar vandag wil my mengseltjie nie maak soos Ma s’n gemaak het nie. Die kambeentjies, almal ewe dik deur Ma met die hand gesaag, kwart aartappels en dik wortelringe was die lekkerste lekker op aarde. Met lepelsvol van daardie sous op jou reis, het die hemel self voor jou oopgegaan.

So van Ma gepraat – as sy moet weet hoe lyk my daaglikse spyskaart, sal ek sweerlik in baie groot moeilikheid wees. Ma het elke dag van die week ‘n spyskaart vir ‘n koning gehad. Vleis, reis (altyd!) halwe aartappel vir elkeen in die vleis, twee groentes (een sout en een soet) en ‘n slaai. Ha? Is waar, ek lieg nie. En dit op ‘n plaas daar diep in die Namib waar nie so dikwels dorp toe gegaan is nie. Groente het sy self geplant en slim plannetjies is baie gemaak.

Iets wat ek nog net by my ouma en my ma geëet het, is macaroni met kaneelsuiker oor. Weet jy hoe lekker is dit? Ek neem aan dit was Ouma Lida se uitvindsel en Ma het net voortgegaan daarmee. Nou wonder ek net hoeveel van julle wat hier lees, gril nou tot in jou tone daarvoor. Moenie! Probeer dit self en proe – dis vrekkens lekker, my maat.

Lang, lang jare gelede het ek my een tannie bloediglik beledig. Sy was besig om, soos ons dit geken het, transportkos te maak. Dit is niks anders as vandag se potjiekos nie. In my kinderlike onskuld het ek hierdie storie so staan en betrag en by myself gedink dat dit darem ‘n vreeslike deurmekaar spulletjie is. Die naaste waaraan ek kon kom, was nie juis vir my tannie Miesie ‘n kompliment nie. “Dit lyk soos opgooi,” het ek saggies gesê. Wat sy gedoen of gesê het, kan ek nie meer onthou nie. Al wat ek weet, is dat ek dadelik besef het dat dit nie ‘n mooi ding was om te sê nie.

Pa kon ‘n niertjie en vetderm braai dat jy wens daar was nog baie, baie meer. En ja, die stukkies lewer ook nog. As hy so sit en braai het, het ek heeltyd gewag vir daardie opstaan en vir my ‘n stukkie van dit of dat kom gee. Niks is mos lekkerder as wanneer jy dit so reguit van die rooster af eet nie.

Dan is daar my groot onthou van koffie in die bed by Oupa en Ouma. Die gewoonte het later jare uitgesterf, seker toe ons lotjie heeltemal te veel geword het. Dit was nog nagdonker wanneer Boesman (dit was regtig sy naam, al was hy nie ‘n Boesman nie) voor jou bed kom staan met ‘n koppie koffie ... lekker soet en spierwit van die plaasmelk. Manne, manne! Jy slurp hom in en raak net daar weer aan die slaap. Vandag is ek jammer dat Boesman so vroeg moes opstaan om ons almal te kom bederf met koffie. Jy moet weet dat hy, om daardie koffie te kon maak, eers die vuur in die stoof aan die gang moes kry en als ...

‘n Gereg wat ek met groot vrymoedigheid maak, is aartappelslaai. Ma het altyd gesê myne is die lekkerste op die hele wêreld. Maar dan luister ek so na ander mense en ek wonder by myself of myne nou werklik so lekker is? Om mee te begin, reken die aartappelslaai foendies mos jy moet, moet, moet kondensmelk ingooi. Dit is glo die wet van Mede en Perse. En tog doen ek dit nie. Nou wil jy by my weet hoe maak ek dan aartappelslaai? Heheheee! Ek gaan jou nooit my geheim vertel nie, jy kan maar los.

En dan is daar my eie liefie se patties! Wat hy alles in daardie mengsel gooi, is om enige huishoudkundige ‘n hoe bloeddruk van te gee. Mince (afgeweeg), eiers, brood, meel, uie, en sy geheime spices. Ek het eers gekeer, want brood EN meel? Maar nee, hy is seker dis hoe sy Mutti dit gemaak het en dis hoe hy dit maak. Ons het later uitgevind dat skoonma dit g’n so gemaak het nie, maar teen daardie tyd was Liefie al so tuis met sy resep, dat niks meer verander kon word nie. En so van ons kinders gepraat – hulle kan nie huis toe gaan as hulle nie van Pa se patties gehad het nie. Saam daarmee maak hy die lekkerste, fynste mash en gewoonlik soet ertjies. Jy kan maar kom sit en eet, hoor! Hy weet wat hy doen. Oja, die mash is ook ‘n resep op sy eie met onder andere melk EN poeiermelk saam met die homp botter.

Dis nou die ou wat op ‘n stadium geglo het hy kan niks anders as roereiers maak nie. Op ‘n slag was ek op pad iewers heen. My seun was diep bekommerd. “As Ma weer huis toe kom, is ons almal geel van al die eiers.”

So het elke huis seker maar sy eie stories oor of van kos. Gelukkig hoef ons nie van die flops te vertel nie, hoef ons? Of dalk is dit ‘n storie vir ‘n ander dag.

Intussen: Lekker eet!

 

 


 

Donderdag 10 September 2020

ONS GROET VIR EERS ...

 Dink soos ek wil, maar ek kan nie onthou wánneer hy in my lewe gekom het nie. Vir my voel dit of hy maar net altyd deel van my lewe was. Nee, dis nou nie dat ons beste vriende of iets was nie, hoor. Dis net ...

Net wát, Martha? Jy wou sê?

Ek moet erken dat ek sit en wroeg om hier te kan skryf. My hele hart roep om hulde te bring aan hierdie man – hierdie allemansvriend – ja tog was hy ‘n vriend van my ook.

Hy was die voorbeeld vir elke onderwyser met wie hy te doen gehad het. Ek is seker hy sou, as hy moes, enige vak denkbaar kon aanbied. Hoe dan so? Bloot omdat die lewe nooit, ooit vir hom ‘n las was nie. As daar ‘n berg voor hom was, het hy hom geklim met mening. Afdraandes? Man, al moes dit gly-gly gaan, hy sou die pad voluit loop.

Kerkman. Gesinsman. Vriend. Noem maar op!

As ou Coets in ‘n vertrek gestap het, het jy geweet: Hier is ou Coets. Glad nie omdat hy luidrugtig was of opgedruk het nie, hoor. Bloot daardie persoonlikheid wat niemand mis kon kyk nie.

Jare terug verloor hy sy been. Ek is behoorlik in sak en as. Wat gaan nou van hom word? Hoe gaan hy dit verwerk? Hoe gaan hy hierdie krisis oorleef?

Toe ek nog dink hy is in die hospitaal, of ten minste by die huis in die bed, loop ek hom raak iewers. My hart gaan aan die klop en ek is kortasem. Hoe maak ek nou? Jy weet mos, ‘n mens soek so half na die ‘regte’ woorde vir die ‘regte’ situasie.

Ek loop nader met ‘n bedrukte gesig. En ou Coets? Die glimlag op sy gesig is so helder soos ons son daar buite. Hy loop, man, hy loop ... en hy lewe!

Soos met enige vriend wat gaan, kan ‘n mens jouself oorgee aan ‘As ek maar dit ...’ of ‘As ek maar dat ...’. As jy soek, kry jy altyd ‘n goeie rede om jouself met daardie swepie op die rug by te kom tot die bloed in strale loop.

Maar nee, los daardie selfverwyt, man. As jy mooi dink, gee hy nie nou ‘n snars om oor my en my worries nie. Hy is vol vreugde en liefde en alles wat mooi en heilig is.

Dus ...! Kom ons vier die lewe wat ons saam met ‘n vriend geken het. Kom ons onthou die mooi en die goed en bou daarop voort.

Ou Coets, dit was goed om jou te ken!




Maandag 24 Augustus 2020

OM AFSKEID TE NEEM VAN OU VRIENDE

 

Sy staan en kyk na die drie van hulle en ‘’n groot weemoed pak haar beet. ’n Hartseer so groot soos die hele heelal kom maak sy lê in haar hart. “Dit is dan die einde van my pad met julle drietjies,” mymer sy. Dit voel kompleet vir haar soos om afskeid te neem van ‘n geliefde lid van die familie.

Sy was sommer nog nat agter die ore toe hierdie drie deel van die gesin geword het. Pa was nog ‘n jong boer en geld was nie te volop nie. Jou ja, soos ons weet, as geld skaars is, ly ‘ekstras’ gewoonlik skade. As jy ‘n veeboer wil wees, koop jy skaap, nie waar nie? Meubels is beperk tot die mees noodsaaklike items ... die res moes wag vir anderdag.

Baie goeie huisvriende pak op en verhuis na Suid-Afrika. Hulle het nie plek vir hierdie drietjies nie en gevolglik word Ma en Pa gebless met hulle. Pa het, teen sy beterwete, sy hand diep in sy sak gesteek om Ma se droom waar te maak. Ma smile van oor tot oor ... sy voel soos ‘n ryk vrou met hierdie drie in haar huis.

Nadat Ma met hulle klaar is, sou jy nooit sê hulle kom al ‘n hele paar jaar aan nie. Hulle het vier klein kindertjies oorleef, maar nou pryk hulle in Ma se heiligdom – die sitkamer.

Pa vertel dat die bal-en-klou ontwerp dateer uit die vroeë 1900s en die Hollanders het in die Kaap begin om die riempie-stoele te maak. Vir ‘n ou wat laas week nog gekla het oor hoe onnodig hierdie geld uitgee nou eintlik is, lyk hy nogal heel in sy noppies, dink sy by haarself.

En nou is hulle op pad iewers heen. Sy wil graag glo dat, wie hulle ookal oorneem, ook so trots op hulle sal wees soos Ma was. Dat hulle ook so lief vir hulle sal wees soos wat sy van kleins af was ... en nog altyd is.

Dit is op hulle wat die gesin elke Sondagoggend op die plaas kerk geluister het. Dit is op hulle wat sy en Pa soms sit en gesels het tot ou nag toe. Dit is op hulle wat die dominee en ouderling gesit het wanneer hulle op die plaas was vir huisbesoek. Dit is op hulle wat sy haar eie kleintjies slaap gemaak het wanneer hulle by Pa en Ma gaan kuier het. Die lys is lank. Die heimwee is groot.

Jy kan maar nuwe kussings op sit, Mevrou die nuwe eienaar, maar nooit nie, ooit nie, sal jy my onthou kan wegvat nie.

Mag hulle jou hart vol kom lê en mag jy sag sit en lekker kuier op hierdie klein stukkie van my hart wat nou daar by die deur uitgedra word.

Saterdag 08 Augustus 2020

DIE HERE IS MY HERDER

 

Die Here is my herder

(

Lees hierdie stukkie met die gedagte dat die skape waarvan Dawid in Psalm 23 praat, hoog in die berge gaan wei het. Dit was bergwêreld en hulle moes dus op en af teen die berg vir weiding)

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Lank voor ek vra of selfs DINK om te vra, het U reeds geweet wat ek nodig het.

Daar kom tye in my lewe wat dit so goed gaan – dis byna soos die stil geklots van water in ‘n poel water wanneer die wind liggies daaroor waai. My lewe is stil en rustig en ek ervaar U goedheid in oorvloed. Dit is die tyd wat U my laat rus in groen weivelde. My siel is vol vrede en heerlike vreugde in U nabyheid.

Die stilte in my siel is voelbaar, want niks, maar NIKS kom by die lieflike voorsiening uit U hand nie.

U weet egter, lank voordat ek dit besef, dat daar swaar paaie berg-af voorlê en dit is juis vir hierdie swaar paaie wat U my nou troetel en versorg. U gee my nuwe krag vir die pad wat voorlê ... selfs al weet ek nie daarvan nie. U doen dit tot die eer van U heilige Naam.

Maar Here, dan kom die dag wat ek weer berg-af moet strompel-val. Die dag wat ek nie meer hier langs die poele van vrede en stilte kan bly nie.

U stap langs my. U is die goeie herder wat weet wanneer hierdie kind van U gaan struikel en val op pad af van die berg van vrede af. U stok en U staf hou my regop en lei my deur die donker dieptes en doodskaduwees. Ek sal nie vrees nie, want al kan ek U nie sien in die donkerte nie, weet ek dat U met my is. Of ek val en of ek opstaan, U is met my. Ja, U is die goeie Herder. In U hande is ek veilig, Here.

En dan, ewe skielik, is ons deur die donker dieptes en die son skyn weer. My Here! Het U dit vir my gedoen? Daardie tafel wat tot oorlopens toe vol is? Is dit vir my? Is hierdie nuwe kleed vir my bedoel?

Sy stem kom sag: Welkom in My huis, my kind. Jy is die eregas aan hierdie tafel. Ek het dit vir jou gedoen, my dierbare kind. Kom,  kom ons gaan sit aan by die feesmaal.

My antwoord hierop kom uit ‘n hart vol vreugde: U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in U huis tot in lengte van dae.

Sondag 05 Julie 2020

OM 'N WENNER TE WEES OF NIE

Ek weet nie van jou nie, maar ek kan nogal so nou en dan vasval op youtube en my tyd erg verspeel daar. Nee, ek kyk nogal nie grappies en goeters nie, maar ek stry nie dat ek my tyd baie beter kan gebruik as om rond te blaai tussen die video’s nie.

In elk geval, so beland ek toe anderdag by Britain’s Got Talent. Hierdie spesifieke video is oor kinders wat uitsonderlike vertonings gelewer het en dan is daar mos daardie gesogte knop wat gedruk word sodat die goue vlokkies in hulle miljoene op die kunstenaar neerdaal.

Man! Hulle het my behoorlik in trane (regtig!) gehad. Die kind huil op die verhoog, die ouers huil agter die skerms, en soms huil die beoordelaars ook sommer saam. Great stuff!

En daar gaat my kop weer met my! Want, jy sien, dit is glad en geheel en al glad nie wat ooit in my lewe met my gebeur het nie. Ek het, soos elke ander kind of grootmens, mos ook my strewes en begeertes gehad, maar helaas ...!

Wenners! Daardie kinders is uit en uit wenners en verdien al daardie aandag en applous en pryse en wat nog alles. Is mos, ha? Dit is hulle goeie reg dat die ouers trots spog met hulle! Ek meen te sê, as jy goed is, is jy goed!

Maar hoor hier, wat van die enetjie wat ook na daardie einste kompetisie toe gegaan het met sterre in die ogies, maar wat nie verder as die eerste paar oomblikke van die eerste oudisie gekom het nie? Daardie enetjie wat huil-huil by Pa en Ma aangekom het? Ek vra jou: Wat van hom? Maak dit hom nie ook ‘n wenner omdat hy ten minste probeer het nie? Maar wie traak?

Maar die kompetisie daar gelaat ...

Ek hoor anderdag van ‘n man wat ‘n reus in sy bedryf is – hy is nou werklik sukses in hoofletters. Iemand maak die opmerking: Op skool sou jy dit nooit gesê het nie. As daar ooit ‘n bullebak en nikswerd was, dan was dit hierdie mens. O ja? En nou? Wat sê jy nou van hierdie einste niksnuts wat vandag by verre jou meerdere is? Want, jy sien, toe hy op skool was, het niemand omgegee dat hy soggens doodmoeg by die skool opdaag nie. Doodmoeg as gevolg van die pa wat homself elke dag besimpeld drink en niks vir niemand omgee nie. Het die Meneer of Juffrou ooit probeer uitvind waarom Seun so opstandig en mislik was? Ek glo nogal nie so nie, hoor.

Wat nou van die kind wat elke prysuitdeling wat bestaan het in twaalf jaar, bygewoon het in die hoop dat daar iewers ‘n prys na sy kant toe sal kom? Daardie kind wat elke nag, ná elke prysuitdeling, met leë oë in die donker dak lê en vaskyk met ‘n moedeloosheid wat so groot soos die heelal is? Dis nou daardie kind wat waaragtig hard probeer het, maar nooit goed genoeg is nie? Is hierdie kind nie ‘n wenner nie? ‘n Wenner wat, ten spyte van teleurstellings keer op keer, maar net weer en weer probeer het?

Wat van die pa en ma wat met ‘n gestremde kindjie straat af stap en almal oe en aa, maar so met die wegstap dan jy die Here dat so iets jou gespaar is? Weet ek en jy van die nagte van kommer en sorge, omdat hulle nie herwaarts of derwaarts weet met hierdie sonskynkindjie van hulle nie? En tog sal jy hulle nooit hoor kla of murmureer nie. Is hierdie ouers nie geregtig op erkenning en respek en bewondering vir die grootse werk wat hulle met hulle liefkindjie doen nie?

Wat van jou buurman met olie besmeerde hande en klere, wat daglank onder sy motor lê sodat hy asseblief tog net môre sy kinders betyds by die skool kan kry? Na my mening verdien hy ‘n medalje, in teenstelling met my en jou wat vroeg gaan inkruip en môre-oggend net die sleutel draai en woerts, daar gaat ons!

Wat van die antie wat elke dag van elke week van elke maand op die hoek van die straat staan en braaivleis verkoop? Het jy al vir haar gevra hoekom sy nie ‘n ander (en makliker) werk doen nie? Nee, ons loop liewers neus in die lug verby as om aandag te gee, nie waar nie? As jy die moeite sou doen, sou jy hoor dat haar man jare terug oorlede is en haar gelos het met vier klein kindertjies. Sy het geen opleiding nie en moes uitspring om die kinders in die skool te kan hou. Nou spaar sy geld om haar huis af te los en volgende is ‘n eie karretjie sodat sy nie so ver hoef te loop van die lokasie af nie. Ek haal my hoed af vir haar! Ek eer haar vir die onbaatsugtige werk wat sy lewenslank doen ter wille van haar kinders.

Ek kan vir ewig aanhou met ‘wat van die’ en ‘wat van daai’, maar ek dink jy verstaan nou my hart. Jy verstaan dat ek eintlik in opstand is teen enige pryse en ophemel en groot fanfare van enige aard.

Ek haat enige vorm van kompetisie en die gepaardgaande vergelykings wat daar sulke tyd noodwendig tussen mense getref word. Ek haat vandag eksamens en toetse in die skool met ‘n passie. Ek haat dit dat daar vir twaalf jaar op my rapport geskryf is dat ek nie goed genoeg doen nie ... goed genoeg vir wie? Goed genoeg volgens watter standaard? Goed genoeg om WAT mee te maak?

Ek weet vandag dat elkeen van ons, ja EK ook, ‘n wenner is. Die meeste van ons sal nooit ons name in die koerant sien of daar sal nooit goue vlokkies op ons neerdaal nie, nie waar nie? Ongelukkig glo ons dan ook later ons is nie goed genoeg nie en ons lewe dan maar ook met ‘n houding van ek is ook maar net hier ... waarvoor weet ek nie regtig nie.

Ek is net so baie, baie dankbaar dat ek iewers langs die pad geleer het dat ek niemand bly hoef te maak om ‘n wenner te wees nie. Ek weet, deur die genade van die Here, dat ek ‘n wenner in eie reg is.

Weet jy al dat jy ‘n wenner is?

Ek vra maar net.


Maandag 08 Junie 2020

JY VANG MY NIE 'N TWEEDE KEER SO NIE!

O lockdown, o lockdown!

Kyk, nou het ek alles gehoor en gesien. Ek het lanklaas so lekker gelag soos netnou.

Ek glo jy het so pas besluit dat jy as-ha-blieff nie nog een enkele storie of skryfsel of wat ookal oor die lockdown wil hoor nie ... ek ook, ja ... tot ek hierdie een met my eie ore gehoor het.

Jy sien, die storie begin eintlik toe die toemakery ‘n tyd terug begin het. Iewers in onse land is ‘n klein dorpie en die nuus trek baie ver en baie stadig voordat dit daardie dorpie se inwoners bereik. Soos met baie van ons, is daar ‘n vredevolle gesinnetjie waarvan die pa en ma saans ‘n ou rooietjie geniet. Maar, skade op skande! Hulle hoor toe eers van die toesluitery toe alles al klaar toe is.

Die ellende was hoog in die blom by daardie huis, hoor. Vroutjie was ontsteld dat geen een van haar goeie vriende haar gewaarsku het nie, maar helaas ...! Nood leer bid en van iewers af het hulle darem geholpe gekom vir een of twee aande se rooi plesier.

Hoor ons mos nou vanmiddag weer dat daardie selfde ou dorpie, saam met die res van die streek, natuurlik, alweer bot-, bot-, bottoe is saam met alles wat rooi is, natuurlik. Ek kry die tyding hier in die suide en skree ontsteld: “Bel die vrou in die klein dorpie! Bel haar dadelik!”

Ek gee ‘n uur of twee kans voordat ek vir vroutjie bel. Heigent hert! Ook maar goed ek was so opdringerig dat sy moet gebel word.

“Was jy by die bottelstoor?”

“Ja! Ek het opgestock.”

Ek sug verlig, want nou sal alles mos darem mooi glad loop in die twee weke wat volg, dan nie?

Sy vertel my van haar besoekie. “Ek kom daar en sien vyf ou vriende wat ek maande laas gesien het. Ons kuier daar in die winkel dat dit bars, hoor. Intussen moet die Mary agter die till ons goedjies opslaan. Nee, ons het lekker gekuier, hoor.”

Sy lag. Ek was die enigste vrou in die winkel – dis nou mos behalwe Mary, maar dit het my nie ‘n oomblik getraak nie.

Van langsaan van die winkel af, kom Ansie vervaard ingestorm. “Hei julle, gaan hulle die sigarette ook toesluit?”

“Nee, Ansie, jy is orraait, hulle sluit nie jou goed toe nie.”

Ansie draai in haar spore om en stap (dalk met ‘n klein bietjie vaster tred?) terug winkel toe om haar werk te gaan doen.

Mary vryf haar hande in genoegdoening saam. “So wraggies waar, vandag het ek die Dominee loshande gebeat, hoor. Kyk die karre voor my shop, en dan kyk jy die karre Sondag voor die kerk!”

In elk geval, met die rooies in die kar – nogal op die voorste sitplek! ry sy versigtig huis toe – hand op die kosbare rooi voggies sodat dit tog nie kap of dalk van die sitplek af rol nie, sien.

Sy onthou van ‘n vriend wat die vorige keer ook hewig in die nood was. Nee, hy is iewers op pad en die ontvangs is ellendig. Bel weer. En weer. Hy MOET weet dat hy moet sorg dat hy voor toemaaktyd by die dorp kom!

Ag ja, so sit vroutjie donkeraand by die huis met die goedjies nog altyd op die voorste sitplek van die motor. Want, jy sien, haar man is ook nie by die huis nie en sy maak nie daai bottel oop as sy alleen is nie.

Wat ‘n antiklimaks, ha?


Sondag 07 Junie 2020

DIE AAND VAN DIE POEDING


 Hulle hou vergadering vanaand. En hoor hier, dis nou glad nie ‘n hierjy se vergadering nie ... ek sê maar net sodat jy mooi kan verstaan. Daar moet groot, groot, groot goed bespreek word en onse voorsitter is behoorlik gegear daarvoor. Jy weet mos hoe dit gaan, ha?

Hy weet hy het te doen met ‘n klomp vroumense (en vroumense kan baie praat!) en hy sal reg van die begin af moet ferm optree om orde te hou tussen die spulletjie.

Dit begin glad nie soos hy dit beplan het nie! Dit gesels en deel nuus uit vir ‘n vale, want intussen was daar mos ‘n lockdown en die ou lotjie het mekaar (so voel dit vir hulle) jare laas gesien. Hy het dit dalk verwag, want hy laat dit begaan ... tot op ‘n punt, natuurlik.

Ons word tot orde geroep en hy kondig losweg die agenda aan. Ons moet ‘n spyskaart vir die week se Radiothon opstel en ons sal dit stap vir stap doen. “Hou asseblief by die punt,” word ons gemaan.

Alles het goed verloop, tot hulle die woord ‘poeding’ gehoor het. Jy ken mos ‘n klomp vroumense om een tafel? Elkeen het ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi. Gou genoeg is daar ‘n paar lekker idees wat bespreek kan word en Meneer die Voorsitter skryf dat dit bars om by te hou.

Net een ding laat hom in die twyfel: "Hoe groot is daardie goedjies wat jy wil bak?"

Jy sien, ons het 'n manier van praat wat die manne nie altyd verstaan nie. Elkeen probeer verduidelik en voorbeelde gee van die hoe en die wanneer van daardie poeding. Uiteindelik het ons mekaar en ook ons voorman oortuig dat ons van dieselfde ding praat, al het elkeen 'n ander naam vir hom.

“Goed, dan is dit afgehandel. Kom ons praat oor die braaivleis,” kondig hy rustig aan. "Ek dink ons moet ..."

“Gaan ons vla oor die poeding gooi?” val een hom wreed in die rede.

Hy kyk skuins op. “Ons praat nou van braaivleis.”

“Maar ek wil net weet van die vla ...” kom dit selfvoldaan. (Ek meen te sê, dit is mos belangrik of daar vla op die poeding gaan wees, ha? Wie wil nou poeding sonder ‘n lekker vla’tjie eet?)

“Ja,” antwoord een. “Ons sal vla moet bedien saam met die poeding.”

“Goed, mense, die braaivleis ...” probeer ons voorman weer die leisels styftrek.

“Gaan daar dan net een poeding die hele tyd wees? Wat van ‘n lekker appeltert?”

Nou raak ons voorman so effentjies rooi om die kiewe. Hy sit sy pen neer en kyk ons die een na die ander in die oë. “Kom ons maak nou die poeding-onderwerp klaar, asseblief. Gaan daar een of twee poedings wees?”

Een probeer verduidelik: “Johanna gaan mos daardie goetertjies bak en dan ...”

Ongelukkig is die Johanna ter sprake nie teenwoordig nie, maar daar is wel ‘n Johanna saam met ons om die tafel. Sy skud haar kop heftig, want sy sal NIE daardie goed bak nie.

Voorman verduidelik dat dit die ander Johanna is wat gaan bak, en hierdie Johanna raak weer rustig.

Die voorstel van die appeltert? Ek sweer ek kan nie meer onthou nie, hoor. Maar dit maak seker op hierdie oomblik nie so baie saak nie.

“Goed mense, ek hoop ons is nou klaar met die poeding. Ons het nou drie poedings (hy noem al drie op en ook wie daarvoor verantwoordelik is) en kan ons nou maar voortgaan met die braaivleis?”

Almal knik instemmend en hy begin gewigtig sy saak oor die braaivleis stel: “Ons sal elke dag ...”

Iewers van die dwarste af kom ‘n huiwerige stemmetjie: “Ek weet ek gaan nou seker die verkeerde ding sê, maar ek wou nog weet van daardie poeding ...”

Chaos breek los! Meneer Voorsitter het die stryd verloor teen hierdie klomp Evas wat opsluit vanaand net oor poeding wil praat.

Iewers het hy toe wel gepraat gekry oor braaivleis en alles wat daarmee saam gaan. Ek glo stellig hy kon sin maak deur al die poedings heen, want aan die einde van die aand het hy darem nie vir my té poedingrig gelyk nie.

 



Vrydag 08 Mei 2020

ONS SOEKIE JOU GELD BY ONSIE

Ek sit op hete kole. Gaan sy my nou antwoord op my sms? Elke kort-kort gryp ek die foon en kyk of daar nog nie ‘n boodskap is nie – so ál of ek dit nie sou hoor nie! Sowaar, as sy hierdie boodskap van my ignoreer, is dit klaarpraat met ons vriendskap.

Ek wil later winkels toe en my hare vra dringend aandag. Ek los vir foontjie op die kombuistafel en drafstap badkamer toe. Ek wag nou al so lank, wat is die moontlikheid dat die sms juis nou sal deurkom?

Maar ja! Ek het nie rekening gehou met my vriend Murphy nie. Ek staan koponderstebo en alles is nat, toe ek die foon hoor. Nee, tog man! Ek druk die hare ‘n slag met die hande om die ergste water uit te kry en maak vir die kombuis. So ver soos ek loop, drup die water op die vloer. Ekself is ook sopnat by die tyd wat ek met bewende hande die foon oop het en die boodskap kan oopmaak.

Maar helaas! Dis nie die een waarvoor ek gewag het nie. Dis my bank wat vir my ‘n aanmaning stuur. Ha-a, nie soos jy dink nie, hoor. Ek is nie oortrek nie en ek is ook nie laat met ‘n betaling nie. Ek weet in elk geval nie of jy my gaan glo as ek jou vertel waaroor hierdie ontydige aanmaning gaan nie.

Jy sien, ek het ‘n jaar of wat ‘n rekening by die bank oopgemaak. Op hierdie rekening word ‘n baie spesiale geldjie inbetaal. Dit is nie so gereeld nie, maar betaal word daar betaal. Nou het iemand (ek wens ek kon weet wie daardie iemand is!) besluit dat dit darem te lank neem voor ek weer ‘n slaggie iets inbetaal. Die gevolg is dat ek die volgende boodskap kry: U rekening sal gesluit word indien daar nie beweging is binne die volgende paar dae nie.

Wat? My rekening sluit omdat ek MY geld by HULLE bêre? Hoe werk dit?

Dink ek mos aan die ou dae toe ‘n bank nog ‘n bank was. Die bankbestuurder was min of meer die burgemeester van die dorp en die voorsitter van die skoolkomitee en hoof-ouderling op die kerkraad en ... en ... en! Belangrik met vrou en al, ja. En bewaar jou siel as jy opgekommandeer word om hom te gaan sien!

Op daardie dag het jy jou Sondagskepping aangetrek en jou hare laat doen. Jy het gesorg dat daar ‘n paar lekker stukkies vet tussen die gekerfde biltong is wat jy vir hom saamneem. Jy was gewapen met elke verskoning in die gids oor waarom jy ‘n week laat was met die betaling van dit of dat. Die sweet het ook nie ophou tap voordat die man nie tevrede agteroor gaan sit en sy breë glimlag vir jou gooi nie. Want sien, dis ‘n mens met invloed hier voor jou en jy moet tot op die einde respek betoon.

As hy net tot ‘n punt wil kom! Waaroor het hy my aangesê om hom te kom sien? Ek sweer ek weet nie van ‘n tjek wat gehop het nie ... of het daar? Wat anders kan dit wees? Waaroor anders sal hy my so dringend wil sien?

En dan, uiteindelik! “Mevrou, ons hier by die bank het mos die gewoonte om vir gewaardeerde kliënte ‘n klein geskenkie te gee so elke vyf jaar. Ek het na jou rekening gekyk en ek is regtig beïndruk met die manier waarop jy dit hanteer. Jy het nou wel nie gereeld geld inbetaal nie, maar jy het al ‘n allemintige bedraggie op die manier vergader.”

Jy kan my met ‘n veer om tik! Hier verwag ek die grootste ellende en wat kom kry ek? ‘n Geskenk? Omdat ek geld gespaar het? Sjoe, dis nou ‘n verrassing van ‘n ander aard, hoor vir my.

---

Nou vra ek jou met trane in my navy blue eyes, wat het intussen verander? Eens op ‘n tyd was dit goed en reg om jou geldjies by hulle te bêre, maar nou nie meer nie?

Dalk is dit die teken waarop ek al lank gewag het – sit die geld onder die matras en weet dit is veilig daar.


Sondag 05 April 2020

VINCENT VAN GOGH - MAL, OF BITTER ALLEEN?


Dis laat-laat in die aand en iemand deel die liedjie Vincent, dalk beter bekend as Starry, starry night. Behalwe dat dit mos ‘n hartroerende mooi lied is, is dit so al asof die woorde so ‘n soort van ‘n krapperigheid in die keel veroorsaak – so al asof jy skielik so half moet kug-kug om die ou gemoed te kalmeer, sien.
Ek weet nie van jou nie, maar al wat ek van Vincent van Gogh weet, is dat dit ‘n mal ou was wat sy eie oor met ‘n lemmetjie afgesny het. Hmmm, wys jou nou net, ha? Die meeste van ons het al daardie skildery met die woeste, donker lug met die helder oggendster en die klein, gesellige huisies in die dorpie daaronder gesien  – huisies wat nie bestaan het nie, maar vir hom die prentjie voltooi het.
Vincent was op daardie stadium in ‘n sielkundige inrigting om te (probeer) herstel van ‘n sielkundige probleem. Hy was alleen en het niemand en niks gehad om hom geselskap te hou nie. Selfs as hy buite die gebou wou gaan sit, moes ‘n chaperone hom vergesel. Hy mag nie in sy kamer geskilder het nie en moes noodgedwonge hierdie nagtelike prentjie skilder volgens dit wat hy onthou het.
Omdat hy daarvan gehou het om die objek wat hy skilder, voor hom te , het hy nie veel meer geskilder as wat hy deur die tralies van sy kamer kon sien nie. Hy het Starry night soveel as 21 keer geskilder en het, tragies genoeg, die eindproduk as ‘n mislukking beleef. ‘n Jaar later het hy selfmoord gepleeg daar in sy sel.
‘n Alleensiel met die begeerte na die warmte en liefde van ‘n tuiste ... ‘n afleiding wat ek maak omdat hy die huisies geskilder het met lig wat warm daaruit skyn in die donkerte van die nag.
‘n Mislukking in sy eie oë, daarom het hy maar liewer ‘n einde aan sy lewe gemaak.
Ai, en vandag? Vandag weet ‘n ieder en ‘n elk van daardie skildery wat hy so direk met die buise verf op die doek geskilder het. Sou hy tog net miskien ‘n klein bietjie meer van homself gedink het as hy dit kon beleef? Sou hy dalk, net miskien! ‘n gelukkiger lewe gehad het as daar iemand op hierdie aardbodem was wat aandag en liefde en waardering getoon het?
Dis nadat ek Vincent se storie gelees het, wat ek maar net weereens besef het dat ek dalk, miskien, per geluk, toevallig ... noem dit wat jy wil! iemand se lewe kan red ...
Net ‘n glimlag op die mees onverwagte oomblik, of ‘n oproep, of ‘n kort boodskap (net om liefdes ontwil nie ‘n prentjie wat ek forward nie!) kan dalk die wa deur die drif sleep.
Maar weet jy wat? Nog ‘n dag is verby en ek kon nie daardie voorneme van my gestand doen nie.

Now I understand
What you tried to say to me
And how you suffered for your sanity
And how you tried to set them free
They would not listen, they did not know how
Perhaps they'll listen now


Maandag 16 Maart 2020

KWARANTYN BLY KWARANTYN, VRYWILLIG OF NIE


Jy hoor dit eers net hier en daar en as jy, soos ons, nie tv kyk nie en dus geen of baie min nuus kyk, is die nuus rakende die virus eintlik minimaal. Maar soos die dae – ure? – aanstap, hoor jy meer en meer daarvan, totdat dit sowaar AL is wat jy hoor.
Ek hoor jou sug! Ja, so wraggies sit ek ook my pen op papier oor die virus. Maar moenie te erg stress nie, jy gaan nie ‘n mediese verklaring kry of aanwysings hoe om dit vry te spring nie.
‘n Mens is mos ‘n snaakse ding, jong. Maar aan die ander kant, ek dink hierdie een eienskap deel ons met die diereryk ook: veg of vlug. Is mos so, ha?
In elk geval, toe die ding begin lyk of dit ernstig kan wees, raak my kop aan die hol. Kan ‘n mens iewers heen gaan om voorsorg te tref? Kan ‘n mens iewers ietsie kry om jou te vrywaar van die virus en sy nagevolge? Of nog beter: Kan ‘n mens iewers heen vlug om dit totaal en al te ontkom?
Op al my vrae was die antwoord negatief. Nee, Marthamaria, jy sit gestrand en jy sal moet face wat na jou kant toe kom. Want, jy sien, hierdie virus het nie gunstelinge of vyande nie – almal is gelyk voor hom ... president, straatveër, ma of pa of kind of ouma of oupa.
Ek soek na inligting en luister vraatsig na elke praatjie wat my meer ingelig kan laat voel. Dan begin ek die inligting sif en sif en sif. Nie almal praat die waarheid nie en nie almal bedoel dit ewe goed met die mensdom nie. Luister, Martha, en dink mooi voordat jy jou move maak.
Die slotsom waartoe almal kom, is vrywillige isolasie. Hmm, dit klink darem maar te maklik, ha?
Maar dis regtig so – bly by jou huis en wees rustig.
My geliefde met wie ek al (byna) lewenslank getroud is, is baie sinies oor die hele storie en laat hom nie sommer op hol jaag nie. Dis sekerlik waarom ons twee moes trou – die een hou die ander so ‘n bietjie in toom, sien. Dis nou veral waar dit by die emosies kom. Hierdie ekke is ‘n ander een met gevoelens wat soos warrelwinde kan swiep deur die hart sodat jy teen vanaand stokflou en ooreis op die bed neerslaan. Nie omdat jy so hard gewerk het deur die dag nie, maar oor alles wat in jou kop gebeur het heeldag lank.
Ek wil nie ‘n lang storie van die storie maak nie, want niemand het tyd om nou stories te lees nie. Almal is te besig om die virus dop te hou, sien.
Wat ek toe vanoggend ervaar, is hierdie groot vrede en rustigheid oor alles. Dink ‘n bietjie mooi oor wat aan die gebeur is en jy sal saamstem met my.
Om vrywillig of onwillig by die huis te bly, dwing jou terug na jou binneste toe. Jy word, vrywillig of onwillig, gekonfronteer met hulle wie die naaste aan jou is. Daar is nie plek vir buitestaanders nie, want elkeen van hulle word ook terug huis toe gedwing.
Hmm? En nou? Nou is dit ek en my naaste liefdes en my eie gedagtes. Skielik jaag niemand meer vinnig hiernatoe of daarnatoe nie. Jy word gedwing om stil te raak en te fokus op die dinge hier by jou ... dis amper of die buitewêreld nou nie meer bestaan nie, ha? Dis nou nie asof ek volstruispolitiek beoefen nie, maar as ek nie meer strate toe kan gaan nie, kan hulle mos net sowel nie meer bestaan nie.
Waaroor gaan my hele relaas dan nou eintlik?
Maar net dit: Ek is stil en rustig in my eie nessie. Ek het skielik baie meer tyd om my dinge te bedink en my geliefdes sommer dubbeld lief te hê. Ek het selfs genoeg tyd om jammer te voel vir die ‘wilde perde’ daarbuite wat glo hulle kan nie lewe as hulle nie rondjaag en rondkuier nie.
My raad aan jou? Maak toe die hek, trek toe die deur en geniet wat rondom jou is! Lees daardie boek waarvoor jy nooit tyd het nie. Beproef daardie resep waarvoor jy altyd wegskram omdat jy nie die tyd het daarvoor nie. Maak die koffie, gaan sit met jou geliefde en kuier tot die koppies yskoud is en jy nog moet gaan maak.
Gebruik die tyd, my maat. En bo alles – wees rustig, want net so min soos jy die wind kan beheer, kan jy hierdie virus beheer.
My wens aan jou is dat selfs hierdie vrywillige of onwillige kwarantyn sal geniet en skatte in jou hart sal vergaar vir die dag wanneer jy weer moet jaag en hardloop en tyd het vir niks nie.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...