Tog
snaaks dat jy ‘n lied ‘n honderd maal op die radio kan hoor en dit het totaal
en al geen invloed op jou nie. Tot op ‘n dag. Tot op ‘n bepaalde, onverwagse
oomblik! Ai, dan kom sny hy mos dieper as waar bloed kan vloei. Dis ‘n vuurwit
vlam wat in jou hart en siel kom brand en jy het geen ander keuse as om toe te
gee aan die herinneringe wat dit bring nie. Dit pyn, hoor, maar jy beleef elke
kosbare oomblik van jare gelede.
Die ou
tweetjies was vyftig jaar getroud. Eintlik vyftig jaar en nog ‘n bietjie, dink
ek. Ek dink as jy so lank getroud is, word jou hart later syne en sy hart
joune. Julle dink en praat en voel dieselfde dinge.
En toe
word hy siek. Siek soos in ... doodgaan. Weggaan. Weg van sy Aster af. Die
hartseer om die tweetjies te sien afskeid neem het my hart gebreek. Natuurlik het
elkeen dit op sy eie manier gedoen.
Sy het
aan die werk gegaan. Dit was maar altyd so – as die emosies te veel raak, kry
sy iets om haar mee besig te hou. Dit was vir haar ‘n uitlaatklep en ‘n manier
om die seer op die agtergrond te sit.
Hy weer,
het stiller en stiller geraak. In onbewaakte oomblikke kon ek die seer sien. Dit
was nie vir hom maklik om haar te los nie, hoor.
Ons drie
sit aan die etenstafel en gesels vrolik. Vir daardie kort tydjie dink ons nie
aan die dinge wat voor die deur lê nie. Ons geniet mekaar se nabyheid en ek
koester die samesyn in my hart. Ek gaar die skatte in my hart op om dit later
(soos ek vanaand onwillekeurig gedoen het) uit te haal en af te stof en weer te
kan beleef.
Die radio
speel op die agtergrond, maar nie een van ons luister eintlik daarna nie. Tot
daardie lied begin speel ... die lied wat vanaand weer my hart laat bloei het.
Sy staan
haastig op en sit die radio harder. “Wil jy dans, Karina” vul die hele vertrek.
Hy sit met sy rug na die radio toe, dus sien hy nie dat sy opeens klein en
verwese in die middel van die vloer staan nie. Hy sien ook nie die hartseer
lyfie nie. Hy sien nie die trane nie.
Ek tik
liggies op sy hand en wys vir hom. Ai!
Hy staan
op en stap na haar toe. Sonder ‘n woord vou hy haar styf in sy arms toe. Hulle skuifel-skuifel
op een plek. Ja, met haar kop teen sy bors dans hulle die heel laaste dans wat
hulle ooit sou dans.