Woensdag 31 Oktober 2018

'n Ope brief aan elkeen wat sonder pryse huis toe gaan.



Liewe kind met die seer hart

Ek wil vanaand vir jou ‘n brief skryf omdat ek weet jou hart is seer. Ek wil my hart met jou deel, my kind. Gaan sit ‘n bietjie eenkant en lees my brief, seblief? Moenie halfpad op hou lees nie, groot seblief.

Jy was by die prysuitdeling van jou skool. Ja, jy moes jou skooldrag aantrek en jou skoene polish en alles. Jy wou nie gaan nie, maar jy moes – die skool verwag dit van jou. Jy het gemaak of als lekker en goed en gaaf is, maar jou hart was opstandig en eintlik was jou bek lekker dik. Reg?

Jy wou al ‘n duisend maal weet waarom presies jy sulke geleenthede moet bywoon, maar niemand kon jou nog tot nou toe die antwoord daarvoor gee nie ... of wou hulle bloot net nie ‘jou gevoelens seermaak nie’? Kom ek sê vanaand vir jou waarom jy gedwing word om daar te wees: Die ding staan nou so, sien ... Die kinders wat pryse kry moet mos ondersteun word en hulle moet presies hoor hoe hard hulle gewerk het en die applous moet oorverdowend wees as hulle van die verhoog af stap.

Ek hoor jou hart, my kind. Elke eksamen sit jy en leer wanneer die ander kinders eers ‘n break vat. Jy leer en leer en leer, want jy wil so graag net een keertjie ook op die verhoog staan en hoor hoe hard het jy gewerk en hoe wonderlik is jy, nie waar nie? Jy wil net een keertjie ook voel hoe dit is om daar met die trappe op te sweef en ewe windgat jou sertifikaat en/of trofee ontvang. Maar verdomp of jou kans ooit kom! Daar is altyd iemand wat beter is en beter punte kry as jy.

Nou moet jy die hele aand in die saal sit en die lofliedere sit en aanhoor van hoe wonderlik hierdie skare is wat so op en af met die verhoog. Jy wil nie, maar jy moet.

Ek weet hoe jy voel wanneer jou hele vriendekring môre breed glimlag oor al die toekennings wat hulle ontvang het terwyl jy maar anderpad staan en staar. Ek weet, my kind, want ek was daar op meer as een manier. By die tyd wat die dux-leerling aangewys word, voel jy al of jy liewer maar onder die stoel as op dit kan sit. reg?

Ek weet jou hart is opstandig. Ek weet hoe jy voel vir weke en weke voor daardie prysuitdeling en nog weke daarna ook. Ek weet, want ek was ook daar.

Het dit van my ‘n slegter mens gemaak? Nee, ek glo nogal nie so nie, hoor. Het ek ook gesukkel om my kop hoog te hou soos jy nou daarmee sukkel? Ja, vir seker het ek! Was ek dom? Nooit nie, hoor. Vandag weet ek dat ek eintlik heel goed gedoen het op skool, terwyl ek ook soveel issues soos jy daaroor gehad het. Die verskil is net dat ek nooit ‘n prys gekry het daarvoor nie. 

Nou brom jy vir my ‘Ja, ja, ja! En wat het dit nou met my te doen?’

Hoor wat ek vir jou sê en onthou dit, asseblief. Niemand weet van die mooi sketse wat jy kan maak nie, want dit is nie ‘n vak wat in die skool aangebied word nie, reg? Niemand weet van jou liefde vir jou medemens en dit wat jy vir ander doen nie, reg? Jy sien, jou hart is so mooi, maar selfs jy glo self nie aan jouself nie. Reg? 

Weet maar net, daar sal ‘n dag kom wat al daardie pryse wat die ander vanaand ontvang het, geen waarde meer het nie. Regtig waar! Niemand gaan meer onthou hoe hulle met dik pakke sertifikate huis toe gesweef het nie. Niemand nie! Al voel dit nou vir jou daardie toekennings is so belangrik, weet maar net dat dit nie vir jou ‘n toekoms kan koop nie.

Wat is dan belangrik, vra jy my. JY is belangrik! Jou wese, wie jy is ... dit is wat tel in die lewe en wat nooit tot niet kan gaan nie. Jou mooi hart, jou liefde vir almal rondom jou ... dit is wat die verskil tussen vandag en die toekoms maak. Daar sal ‘n dag kom wat jy (so bid ek) sal besef dat die dinge wat ons hier rondom ons sien, verganklik is.

Hoe lees ons nou weer in die Woord? ‘En nou bly geloof, hoop en liefde, maar die grootste van hierdie drie is die liefde.

Hou vas aan wat jy het, my kind!

Dinsdag 30 Oktober 2018

EK DOEN DIE RIEL ... GRONDLANGS!

Fish, Tank, Aquarium, Water, Aquatic
Presies waarom, weet ek nie, maar opeens is daardie een dag helder voor my. Ek, hoogswanger, en my oudste is op straat. Sy moet, sy wil, sy sal ‘n visbak hê en ek het so pas vir haar een gekoop. Jy ken mos daardie ronde visbakke van plastiek? Ek glo dat daar nie ‘n mens op hierdie aardbodem is wat nog nooit een van hulle op ‘n tafel iewers in die huis gehad het nie. Maar nou gaan dit nie oor die visbak nie, dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Ek en sussa is op straat en ons hou hande. Kry nou die prentjie mooi: Hoogswanger. Kind aan die een linkerhand. Visbak in ‘n plastieksak in die regterhand. Die skoene is so hoog dat jy ‘n leer nodig het om op hulle te kom. (Waarom doen ‘n mens dit aan jouself?) Ons tweetjies is op pad straat af. Maar nou moet jy weet, sussa is nie ‘n gewone kind nie, hoor. Sy sien alles en wil van alles alles weet.

Ons het ‘n lekker spoed opgebou en drafstap deur ‘n arkade. Die hele plek sit vol mense in die buitelugkafee. Links van ons sit die mense en regs van ons is winkelvensters.  Sal hierdie kind mos nou iets in ‘n winkelvenster sien wat sy onmiddellik vir Ma moet wys! Sy loop voor my in om by die winkelvenster te kom. In die proses ruk sy my van balans af ...!

Die gevolg? Hierdie vrou hardloop handeviervoet vir die volgende tien meter. Maar nou moet jy nie die visbak in die plastieksak vergeet nie, asseblief. Dit slinger saam en met elke tree wat my hand die grond tref, klap hy soos ‘n geweerskoot hier langs my op die grond. 

Ag, jimmele behoed my tog! Ek wonder vandag nog oor al daardie baie mense wat links van ons sit en eet het – hoe moes die prentjie vir hulle gelyk het? Om dinge nog erger te maak en die aandag lekker op my te vestig, het ek natuurlik sulke lang gille ook nog gegee terwyl ek die riel so grondlangs doen.

Wat my nou laat onthou van die ouma wat die dag so geval het. Hoor hier, daardie ouma kon ‘n storie vertel dat jy sowaar saam met haar op die grond neerslaan.

Ouma moet ‘n vroutjie gaan sien om een of ander rede. Sy stap by die hekkie in en sien die vroutjie staan reeds vir haar en wag op die stoep. Sal ons ouma nou sowaar struikel toe sy die trappie moet op en sy slaan in haar volle lengte voor die vrou op die stoep neer.

Konsternasie! Vroutjie help vir Ouma op en vra ewe besorg of sy nie seergekry het nie. Ouma stel haar gerus: “Nee wat, alles is reg,” maar intussen het die bril met die valslag 45 grade skeef gedraai. Ouma praat nog so, toe vra die vroutjie: “Kan ons nie maar die bril eers reg skuif nie?”

So het elkeen ‘n storie van die dag wat jy op die grond neergeslet het, nie waar nie? Net anderdag het ‘n vriendin van my ook vieslik seer geval. Toe sy dit die aand vir my vertel is ek eers baie ontsteld, maar later skree ek soos ek lag vir haar beskrywing daarvan. Wie sal nou nie lag as jy hoor hoe jou maat in die donker oor die hond val en in die proses die arme hond skop dat hy vir ure iewers gaan skuil nie? 

Haar antwoord toe ek so lag? "Jy is nie ‘n vriendin se gat werd nie, man!” Gelukkig het sy intussen darem weer besluit dat ek nie so heeltemal onbruikbaar as vriendin is nie.

Vrydag 26 Oktober 2018

EK EN MY WIT GRAFFIES

Ek het ‘n groot probleem. Jy sien, wanneer ek kwaad word, raak my woorde weg. Hoeveel maal het ek al by myself gedink: ‘Martha, jy kon mos dit en dat geantwoord het, man. Maar toe staan jy met jou bek vol tande ...’

Klink dit vir jou bekend?

As ek kwaad word, is daar een van twee reaksies: Of ek byt op my tande en gee voor dat dit my nie raak nie, of ek is so ontsteld dat ek liewer aan die tjank gaan en omdraai en loop. Teen slapenstyd is ek so boos vir myself oor my papbroekigheid dat ek weereens kook van woede.

Ken jy daardie een? Jy weet, leer kan ek ook nie leer nie – dit is elke keer weer dieselfde storie oor en oor. Hoe meer ek besluit ek sal volgende keer my man staan, hoe minder kry ek dit reg. En wanneer ek jou weer sien, verkies ek gewoonlik om die ding van gister as afgehandel te beskou en nie weer daaroor te praat nie. My ma het altyd gepraat van die graffies wat agter haar lê. Hierdie graffies is waar sy al die onregverdighede teenoor haar begrawe en (probeer) vergewe het.

Ek weet op aarde is daar net twee soorte mense:
·        * Die eerste groep is hulle wat hulle man staan en onmiddellik reageer en nie ‘n duit omgee vir die ander ou se gevoelens op daardie stadium nie. (Jy het my seergemaak, nou moet jy vat wat jy kry!)
·       *  Die tweede groep is hulle met die graffies agter hulle.

Ek glo jy ken die storie van die slang en die saag, maar ter wille van hulle wat dit nog nie gehoor het nie, vertel ek dit.

Op ‘n dag is Slang op soek na kos. Hy gaan by ‘n timmerman se werkswinkel in op soek na muise. ‘n Vorige keer het hy hom lekker dik geëet aan hulle en vanaand is hy ekstra honger. Hy storm vervaard die werkswinkel binne.

Ongelukkig kyk hy nie mooi waar hy seil nie en hy skuur teen ‘n saag verby. Die saag maak hom baie seer en hy is onmiddellik woedend! Hy laat nie met hom mors nie, hoor. As jy met Slang sukkel, moet jy weet jy kry dit dubbeld en dwars terug. Ja, dis nou maar Slang, daai.
Hy draai om en byt die saag met mening. Natuurlik kry hy weer ‘n keer seer en nou is hy opgecharge vir ‘n lekker oorlog met die saag. Hy reken dat as die saag so onredelik wil wees en hom sommer so uit die bloute wil kom staan en aanval, sal hy vandag vir hom wys wie’s baas.

Slang draai homself om Saag en druk vir al wat hy werd is. Ja, vandag is dit die einde van Saag. Hy wat Slang is gaan die lewe uit hom uit druk ...

Nodeloos om te sê dat Slang die stryd teen Saag verloor het. Slang het te laat besef dat dit nie die moeite werd is om so te oorreageer nie.

Toe ek nou so sit en lees van die ontydige heengaan van oorlede Slang, besef ek dat alles ook nie regtig altyd lyk soos wat ons glo ons sien nie. Ek het hierdie storietjie al weke terug gelees, maar hy wil my nie los nie. 

Dus! Ek loop die pad vorentoe, my lam. Wat netnou en gister en voor dit gebeur het, gaan my regtig nie (meer) aan nie. Ek besluit om nooit terug te kyk of daar (dalk) ‘n graffie of twee is wat ek kan gaan oopmaak en lykskouing hou nie. Ha-a, ons los dit vir die ander ouens wat hou van derms ryg.


Nou vra jy my nou wat as ek weer teen Saag vasloop en die velle waai? Weet jy, ek hoop ek sal weereens my woorde verloor en maar net aanhou loop ... altyd vorentoe!

Woensdag 17 Oktober 2018

VOLG JOU HART

Have the courage to follow your heart and intuition ...

Dit klink so edel – so half verhewe bo ons aardse wesens, dink jy nie ook so nie? Ja, dit is goed en mooi en wonderlik om dit vir iemand te sê wanneer so ‘n persoon twyfel oor die toekoms. Ek is seker jy het dit ook al vir wie ookal gesê en agterna vreeslik chuffed gevoel met jouself. Stry?

Maar nou ...! Sien nou hierdie prentjie voor jou: Jou kind is agtien jaar oud. Sy wil so baie graag gaan drama swot, maar die Meneer by die skool reken sy moet liewer ‘n juffrou word. ‘Ja, ‘n juffrou in die laerskool,’ knik hy vol genoegdoening.

En wat doen Pa en Ma? Hulle wag vir die eerste uitnaweek wat die kind van die koshuis af kom en die aankondiging word gemaak: “Meneer het gesê jy moet ...!"

Die kind is stom. Sy weet nie wat dit is om in opstand te kom teen haar ouers of die ‘Meneer’ nie. Sy aanvaar eenvoudig die verdict en berus daarby ... en word ‘n juffrou in die laerskool.

Vreemd hoe die lewe sy eie paaie loop, is dit nie? Die kind spandeer ‘n jaar of wat in die laerskool en daar gaat sy reguit hoërskool toe. Dis nou nie asof sy in haarself geglo het nie, maar sy weet mos nie van murmureer nie – ook nie teen die lewe nie.

Vandag wonder ek oor hierdie mens wat so half willoos deur die lewe gesleep het. Agge néé man! Sies man! Jy het asem en asem is verniet. Gebruik dit net en kry ‘n bietjie grip in die lewe. En wat van jou ambisies? Het jy nie sulke goed nie? ‘n Mens kan hierdie wese amper byloop en ‘n oorveeg gee, dink jy nie ook so nie?

En nou, soveel jare later, sit hierdie kind ... vandag ‘n volwasse vrou (sommige sou reken ‘n ouvrou) en sy moet weereens ‘n keuse maak oor die toekoms.

Nou is Pa en Ma en Meneer nie meer daar om te besluit nie. Die kind moet nou self dink en doen. En ja, sy WIL dink en doen!

Waar is die drome om drama te swot? Waar is die klein dogtertjie wat op die swaai gesit het en groot toesprake gehou het in die geloof dat die radio haar ook opvang en uitsaai? Waar is die kind wat vir een en almal stories vertel het? ... die kind met die drome in haar hart en die smagting om net so ‘n klein bietjie anders as die res te wees? Het sy intussen verdwyn? Is die begeertes doodgedruk en van die baan af?

Weet jy, dit laat my dink aan die kere wat ek uit die winkel uit kom en vir ‘n oomblik vergeet waar ek netnou my motor parkeer het. Jy ken mos daardie gevoel? Jy wil nou nie openlik staan en soek na jou motor nie, nou maak jy maar of jy vir iemand wag of so iets. Ja, vir ‘n oomblik of twee steek jy vas daar op die sypaadjie en jy weet nie watter kant toe nie. Maar onthou, dis net vir ‘n oomblik!

Dis wat in my hart aan die gang was die laaste week of twee/drie. Ek het so ‘n bietjie vasgesteek en gewonder ‘Wat nou?’ en ‘Waarheen nou verder?’ Eintlik het ek nie net ‘n bietjie nie, maar redelik erg verdwaal en bevange vasgesteek in my spore.

En toe?

Toe breek die lig deur, my lam. Toe besef hierdie vrou met die hart van ‘n kind dat die lewe regtig nog voor my lê. Hy wag om gelewe te word, man!

Ek sal hom loop soos wat ek hom wil loop, dankie!  Want jy sien, I have the courage to follow my dreams and intuition ...!

Maandag 08 Oktober 2018

OM TE WROEG OF NIE

To be, or not to be: that is the question:
Whether ‘tis nobler in the mind to suffer
The slings and arrows of outrageous fortune,
Or to take arms against a sea of troubles,
And by opposing end them? Shakespeare's play Hamlet, 1602 

Hamlet wroeg oor die lewe en oorweeg selfmoord – sal dit beter wees of nie? Maar dan weet hy nie wat vir hom anderkant die graf wag nie, dus is hy nie so seker of hy dit moet doen of nie.

Voor jy bekommerd raak oor my – nee! Ek en Hamlet is glad nie in dieselfde bootjie nie. Ek het net vanaand met die idee gespeel: Om te wroeg of nie te wroeg nie, daarom die verwysing na Hamlet.

Om te wroeg is nou ‘n ding wat ek goed kan doen, hoor. Ek dink ‘n mens kan amper die trappe van vergelyking doen daarmee:
1.    Jammer wees oor iets;
2.    jouself verwyt oor iets;
3.    en dan kry jy vir my wat al wroegend sit en nie tot slaap kan kom nie.

Ek is seker jy sal so hier en daar saam met my kan stem. Nou begin dink jy mos aan iemand wat twee maande terug nie so lekker gevoel het die dag nie. Jy het gevra: “Kan ek jou help hiermee?” en haar antwoord was: “Ek sal regkom, dankie.” Opeens klink haar antwoord vir jou soos: “Los my net uit, ek sal dit self doen!” en daar hardloop jou gedagtes soos die wilde perde van die Namib. Niks kan jou nou keer nie! Jy voel benadeel en veronreg en sit letterlik op die ashoop.

Jy dink aan iemand anders wat (dis gewoonlik maande gelede) die dag effens gefrons het toe jy haar gegroet het. Nou lyk daardie frons vir jou soos “Maak nou weer jou bek oop, dan klap ek hom vir jou toe.”

Is jy by my? So gaan die wroegings van erg na erger. Jy voel of jy in hierdie middernagtelike ure die vliegtuig kan klim en iewers op ‘n eiland kan gaan skuil, want die ganse heelal het teen jou gedraai.

Belaglik? Ja, ek weet dis belaglik. Ek weet!

Maar daar is ander wroegings wat ‘n bietjie meer sin maak as wat ek nou genoem het. (Maak wroeging ooit enige sin?) Wroegings wat kom oor dinge wat jy dalk anders kon doen in jou lewe, maar nou het jy nie meer die kans om dit reg te stel nie. Nou wonder jy oor daardie dinge – sou die lewe dan anders geloop het as ek dit liewer so of so gedoen het? Ek stapel die onnoembare verwyte en gedagtes die een op die ander totdat dit so 'n berg is dat ek verwond sit en wonder waarom ek soveel foute kon maak in my lewe. 

Ongelukkig het ‘n mens mos net een kans om jou lewe te leef. As die oomblik verby is, is hy verby en jy kan daar niks aan verander nie.

Dus? Waarom op hierdie aarde moet ek dit aan myself doen? Kan ek iets daaraan verander met hierdie elke keer se onnodige ellende? Nee, natuurlik nie. Kan ek 'n el by my lengte voeg met al hierdie gedagtes? Nee, natuurlik nie! Nou waarom op aarde doen ek dit aan myself?

Jy staan môre met ‘n hoofpyn op en jy wonder hoekom voel jy so ellendig ... tot jy besef: ek het dit weereens aan myself gedoen!

As ek net kon leer dat die dinge wat verby is, vir altyd verby is. Onse Langenhoven se gediggie sê dit alles: Met die water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie. Uit die assies op die vuurherd sal jy nooit geen vuur weer haal nie.


Maandag 01 Oktober 2018

MARTHA, WAAR IS JY EN JOU PENNE?

Jy weet, soms kom daar tye in ‘n mens se lewe wat so totaal en al onverwags en uit die bloute op jou afkom dat jy skoon sonder woorde is vir ‘n tydjie. Ken jy daardie skrik wat jou sonder woorde los? Daardie skrik wat jou eintlik sonder asem los, hoor ek een byvoeg. Ja, dis nou hy daai!

Dit is presies wat met my gebeur het. Ek dink ek skuld jou dit om te verduidelik waarom my pen skielik sonder ink geraak het. Ja, ek het hulle al almal probeer, maar nie een wil lekker loop op die papier nie.

Jy sien, ek het altyd, wanneer iemand my vra tot wanneer gaan ek werk, gesê dit hang af tot wanneer die Here my wil laat werk. En ja, ek moet nou aan jou erken, dit was baie makliker gesê as gedaan. Die dag toe ek besef hierdie is nou die einde, was dit vir my soos ‘n baie harde skop reg in my wind.

Ek het dadelik die pikswart potlood uitgeruk en gedink ‘vandag is die dag!’. Ek was reg vir lekker raas en baklei dat jy dit vir baie ver sou kon hoor, maar dit het nie gewerk nie. Ek het vir hoe lank met hierdie dik swart potlood gesit en wag vir die woede-woorde om te kom, maar helaas! Ek wag nog immer vir swart potlood om sy ding te doen, maar potlood het die wyk geneem, lyk dit my.

Toe probeer ek die opgewekte en vrolike pienk pen. ‘n Mens moet mos opgewek en vrolik wees, anders loop jy die pad alleen, dan nie? Ek het redelik goed begin, maar hoor vir my, so na die tweede of derde pienk sinnetjie loop my pen toe ook leeg.

Dalk die geel pen vir lekker warm sonskyn? Ha-a, dolleeg!

Die witte vir vrede en liefde? Nog altyd dolleeg.

Nou wat nou, hoor ek jou grom. En ek kan jou ook maar net antwoord dat ek op pad is om hulle almal te vervang. Hulle sal weer skryf, dit belowe ek jou. Op die oomblik is hulle droog en dor, maar hou maar dop – skryf sal ek weer.


OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...