Dinsdag 31 Julie 2018

MAAK LOS JOU BOLLA, MAN


Word ek mos anderdag konfronteer met die vraag: Hoe voel jy oor jou werk?

O jinnetjie tog, dink ek, hoe voel ‘n mens oor jou werk? Jy moet mos werk, of jy nou wil of nie. So? Hoe voel ek daaroor? Ek sien myself by die kombuistafel sit so vroeg in die môre, kop in die hand. “Ek het g’n lus nie!” En daarmee bedoel ek sommer ‘n hele klomp dinge: nie lus vir opstaan en klaarmaak nie, nie lus vir asemhaal nie, nie lus vir werk toe gaan nie sommer nog ‘n hele reeks ‘nie lus vir dinge’ nie.

Dit beteken dus ... jip, dit beteken ek is nie altyd so positief oor en so lief vir my werk soos wat ek myself wil wysmaak nie. En dit, broers en susters van die gemeente, is ‘n slegte ding, hoor! Hoe kan jy die grootste deel van jou dag spandeer by ‘n plek waaroor jy nie honderd persent positief is nie? En meer nog, waarvoor jy nie hartstogtelik lief is nie! My ma het ‘n sê gehad wat ek nie hier durf herhaal nie. Dit het te doen gehad met dat dit ‘n sonde vir een of ander kerk is.

Nou hoekom voel ons so oor ons werk? Hoekom is dit nie vir jan alleman lekker om te werk nie? Wat is dit wat ons koppie so laat werk? Nou dink net ‘n bietjie so daaraan – ons is omring met mense wat so voel oor werk toe gaan, ha? Dan is daar nog soveel moets en moenies by die werk ook nog. Baie maal is jy nie eens bewus daarvan nie, want jy trap in elk geval maar in jou spore. Want, wat nou as ek so of so of so? Jy ken mos daardie gevoelentheidjie op die krop van jou maag. Nee, dit en dat sal ek liewer nie waag nie, want wat nou as...! Baie keer is my eie reëls vir die werk nie eens nodig nie, maar dis nou maar eenmaal soos ‘ek grootgemaak is’. Jy ken mos daai een ook, ha?

Nou hoe dan nou verder, vra jy my? Ek hoor hoe jy snork – wat het ek met jou en jou werk te doen. Nee man, dit gaan hier eintlik oor my en my werk en die verpestelike gevoel wat veral op ‘n Sondagaand kom nesmaak op my maag.

Ek’t gesê ons word groot met sekere dinge rondom ons idees oor werk. Nou wat van hierdie een: Jy kry ‘n werk en jy hou vir hom, maak nie saak wat nie. Veral ons ouens met die witter hare het so grootgeword. Jy verander g’n van job as daar nie ten minste elke tweede dag ‘n moord gepleeg word of iemand kopaf gesny word nie. Reg? Nou hoekom sou dit so moet wees? Ek vra maar net... Hoekom moet jy met 'n maagseer sit en skelmpies gaan kots gedurende teetyd, net omdat jy die spanning in die kantoor nie kan hou nie? Hoekom kan jy nie maar net los en laat gaan nie?

‘Werk is nooit speletjies nie, dis waarom dit WERK genoem word.’ Mmmm, nou het ek jou aandag, sien ek.

Vertel net asseblief vir my, as dit MOET voel soos werk, wat dan van onse Nataniel? Dink jy dit voel vir hom soos werk as hy vertel van die antie wat verslaaf was aan hoesstroop. Na ‘n paar jaar het sy ‘n stem soos ‘n nagtegaal – sou sy  nugter genoeg wees om dit te gebruik, natuurlik. Die storie gaan verder hoe hulle vyf keer in die kerk geoefen het en elke keer was sy so dronk soos ‘n rivier. Dink jy dit voel vir hom soos werk? Sowaar, ek dink nogal nie so nie.

Meer nog, as jy dit nie hoef lief te hê nie, waarom is dit dat Neil Diamond reeds sy vyftigste jaar op die verhoog gevier het? Ek meen te sê, die ou is doodseker nie nog besig om te spaar vir sy oudag nie! Ons reken ons ‘lewe’ is saans en naweke, maar hy het $130 miljoen saans en naweke in sy sak gesit. Hoe werk dit dan nou? Was dit sy werk of sy plesier? Ek vra maar net.

‘Hulle’ reken ook dit maak nie saak wat jy doen nie, solank jy net goeie geld maak. Regtig? En wat dan nou van, kom ons noem liewer nie name nie, wat redelik beskeie in sy karavaan vir baie jare gewoon het omdat dit is waarvan hy hou? Intussen was sy musiek volksbesit en het almal selfs heimlik daarna gestrewe om tog ook soos K te kan wees.

Daar is een groot, groot eina waaraan ek te bang is om te raak. Jy sien, daardie outjie (dalk was dit ek, dalk was dit jy) wat van skooltyd af as 'dom' afgemaak is. Te dom om asem te haal, man! hoor ek jou kners tussen die tande. Nie goeie punte ooit nie. Nie enige maatjies nie, want niemand wil met die domste in die klas speel nie. Nie 'n goeie cv nie. En daarom nooit 'n goeie werk nie. Goeie dôner man, besef jy dat daardie 'dommie' tussen leeus en olifante kan loop en met hulle kan gesels? En jy noem hom dom? Regtig? Wie het wanneer die standaarde so opgestel dat jy moet kan mooi skryf en moet kan somme maak om slim te kan wees? Stop 'n bietjie die lorrie, my ou! Dit werk nie vir my so nie, hoor.https://www.facebook.com/SustainableMan/videos/10155864292192909/

Nou is dit seker ook hoogtyd dat ek vir jou van myself vertel. Ek was ook een van die 'minder slimmes' in die klas. Ja, lag maar, dis okei met my. Ek is lankal nie meer skaam daaroor nie. Dis hoe dit toe gekom het dat my voorligteronderwyser my ouers aangeraai het dat ek 'n juffrou moet word by die laerskool. Nee, nie soos my susters op universiteit 'n graad nie, ha-a! Nee, sy moet maar liewer kollege toe gaan, dis beter vir haar. En weet jy wat? Ja, die wat my ken weet wat ek toe later in die skool gegee het en julle sal ook weet waar ek nou is. Die domme? Nee, ek dink nie so nie. Die een wat nie verstaan is nie? Gewis en seker!

Nou wat moet ek nou met al hierdie inligting maak? Weet jy, ek moet nou sit en besluit watter van hierdie 'wette' is regtig nodig in my lewe. As hulle nie nodig is nie, vee hulle by die agterdeur uit. So maklik soos dit! Klim uit daardie mensgemaakte kassie uit, my maat. Kom net asseblief vry van jou eie wrede wette, toe?

En dan is dit nou die tyd om jou bolla los te maak en die lewe te begin geniet. Nou vra jy my nou wat dan nou van jou werk? Ai, het jy nie gelees nie? Maak los, man! Kry vir jou daardie joppie wat jou passie is, die ene wat jy selfs saans en naweke ook wil doen. 

Net in my drome? Ag ja, dan droom ek maar voort.

Saterdag 28 Julie 2018

DIE BLOEDMAAN EN ANDER STORIES

Ek sit en merk die merk van ‘n verbete onderwyser asseblief klaar wil kry en die res van die wêreld maak nie regtig saak nie. Dis nou totdat die whatsapps en die facebook-boodskappe begin inkom. Dit hou aan en aan en ek kan later nie meer my nuuskierigheid hou nie. “Kyk jy na die maan?” of “Het jy gesien?” Die foto’s begin inkom, die een na die ander. Ek sit die pen neer en stap buite toe.

Wat ek sien en ervaar kan ek nie beskryf nie. Die grootheid van die groot Skepper! Die onverbeterlike skoonheid van iets so totaal en al buite ons daaglikse ervaringsveld. Dit is ‘n prentjie wat jy nie gou weer gaan sien nie, sê die slim mense. Almal kyk en almal oe en aa!

In die donker duisternis sien ek dit – die rooiste, rooiste ‘ster’! Mars in al sy glorie! Almal sien die maan, maar niemand noem vir Mars nie, dink ek so by myselwers. Vreemd, ha? Dis asof onse Mars so ‘n ekstra bietjie rooier skitter en vra: “En nou wat dan nou van my?”

Opeens is almal oor die aarde aan die gons. Vriende wat lankal nie meer werklik gesels nie, stuur ‘n boodskap: “Kyk julle ook?” Die ou gebondenheid is skielik weer daar ... daar is nou iets om oor te gesels, is dit nie? Ek vra my mater in Burundi of hy ook kyk en ons verwonder ons dat ‘ons na dieselfde maan op dieselfde tyd kan kyk.’ So jammer daar is wolke by hulle, dus sien hy nie die astrante Mars raak nie.

So het elkeen sy eie weergawe van hoe hy die maansverduistering ervaar het ...

Iewers in die veld sit die drie geharde manne en gesels. Die dag was lank en die werk baie. Hulle moes die skape kyk en die lammertjies versorg ... en toe loop neuk die een ram mos van die berg af ook! Die vuurtjie is halfpad uitgebrand, want dis amper tyd vir kooi toe gaan. Abram sit met sy koffie en wil ‘n sluk vat. Hy vryf ‘n slag oor sy oë. “Hei, nee djong, wat issit da nou met my se ooge? Smaak my da ek sien nie so lekke nie, ha?” Die ander twee wil eers vir hom lag, maar toe sien hulle dit! Die maan is da anie wegraak, man! Skielik is dit ‘n geskarrel soos min – die koffie maak nie meer saak nie, want hiers groot moeilikheid! Jefta kry ‘n kombers beet, maar Sem het hom aan die ander punt beet. Dit ruk en pluk en spook, want sowaar weet, hiers groot moeilikyt vinaand. Een skop ‘n beker koffie by die vuur om en toe’s dit stikdonker om die lotjie. Uiteindelik het elkeen ‘n kombers oor die kop. Hier sil hille nou le en wag virrie maan om wee yt te ko.

Oupa Janneman en ant Malie gaan vroeg saans inkruip. Die bene en die koue willie lekker vrinne wesie, sien. Toe Janneman hier teen sesuur sy laaste koppietjie tee vra, murmureer ant Malie: “Jy weet baie goed wat gaan vannag weer gebeur, Jantjie. Ek gee nie om as jy opstaan en buitetoe loop nie, maar jy maak my elke keer ook wakker en dis vir my ‘n probleem!” Mor-mor maak sy in elk geval die koppie tee vir hom. (Haar ma het haar geleer sy moet nooit haar man enigiets weier nie, want wie sê hy word môre weer wakker? “Spyt is niemand se maat nie, my kind!” het Ma dan altyd bygelas.) Ou Jantjie verduur die gekerm, want hy weet sy Malie gooi sawens nog ‘n bietjie ekstra suiker ook by. En dis toe net soos Malie voorspel het! Hier iewers by agtuur se kant staan die ou sugtend en steunend op. Maar opeens is daar darem ‘n baie vreemde gevoelente om hom. Hy loop voel-voel buitetoe. “Malie! Kom kyk hier! Malieeeee!” skree hy dat tot die poue en die hoenders wakker word en saam skree. Die honde meen Janneman het hulle geroep en hulle kom al blaffend om die hoek. Malie storm uit en sien hoe staar ou Janneman boontoe. “Kom, kom, my man! Ons moet gaan bid, hierie is niks anders as die einde van die wêreld nie.” Mina kry hulle toe vanoggend nog net daar – voor die bed, op die knieë, maar altwee vas aan die slaap.

Denitia en Kallie kyk ook na die maan. Hy is vol stories, soos gewoonlik. “Ek weet hoekom lyk die maan so!” reken hy. “Dis Jesus se selfoonliggie daai. En die battery is pap oor hy nie gecharge is vandag nie!”

James is op pad van die kantien af. Soos gewoonlik is hy laat en hy weet, so waar as vet, vanaand slaan sy vrou hom morsdood. Nou vat hy die pad deur die begraafplaas, want dis ‘n bietjie korter. Hy is bang, jong! James was nog nooit ‘n ou vir die donker nie en as jy nou praat van begraafplaas EN donkerte, dan het jy ‘n lelike storie hier beet. Om nie so alleen toe voel nie, besluit hy om te sing. “Sjuike bosh ek wil jou hêêêê!” Hy spring eenkant toe toe hy sy eie stem hoor. “Hiert, amper het ek nou lekke geshkrik.” Hy lag half senuweeagtig en stap ‘n bietjie vinniger. “Da loop onsh sho onner deurie maaaaaan,” kom die stemmetjie effens temerig. Hy probeer kyk ‘n slag op na die maan toe, maar verloor sy balans en val oor ‘n klip. Hy kom regop en sing verder. “Oepsie! Ma da loop onsh sho onner deurie ...” hy bly verward staan. “Het onsh da nou jeel weg vannie maan af geloop?” Hy kom uiteindelik huil-huil by die huis aan, want hy het die maan verloor en waar gaan hy en shy liefie dan nou loop?


Sondag 22 Julie 2018

HANNA GAAN TROU

ʼn Mens wat alleen is en voel hy of sy het niks om te verloor nie. Uitstekend met diertjies huis toe dra en voëltjies uit die mond uit grootmaak. Happy go lucky, die lewe is ʼn lied. Almal verdien ʼn tweede kansie en elke klein dingetjie moet ʼn mamma hê. So is ek toe mos net so anderkant 30 en gretig om die wêreld beter te maak, een charity  case op ʼn slag, want ek kan mos.
Pleks ek my net by boesmankinders en rondloperkatjies bepaal het, maar nee, toe moet ek mos ʼn jammerte loop kry vir ʼn mansmens en dis hoe Hanna toe tot trou gekom het. 
Liefde? Ag nee, ek was te oud vir liefde, maar nog dom genoeg om te glo dat as ek hard genoeg probeer, ek elke stukkende ding op Gods aarde heel kan maak.
Ek moes daai eerste dag wat hy deur my voordeur gekom het sout op sy spoor gegooi het op pad uit. Maar ek het nie en net daar het die ding my gevang. Net daar het jare se trane in my toekoms in kom rol, strome, riviere, amper soos daai sewe oseane liedjie, net meer soos stormwater, maar dieper en donker soos dreinwater.
Dit was sommer so ‘n vinnige storie. Ek dog nog dis trooswoordjies en boodskappies van bemoediging om ʼn gekwelde siel weer op te help, toe’s dit 'I do's' voor die kansel pleks van 'I don’t's'!
Dames, daar’s ʼn rede hoekom die goed "afvlerkvoëls" genoem word. Want sy arm is deur ʼn ander vrou met ʼn besem kranklik geslaan en sulke geweld word gewoonlik veroorsaak ook deur ‘n voël of iets dergeliks! Sies ja! Bietjie kras, maar let’s call a spade a spade vandag. Dis ʼn ding wat lankal by sy naam genoem moes word en vir die onthalwe van ons nageslag sal ek dit nou maar vandag op my bors vat.
Dogters, kleindogters en agter-kleindogters, laat ek nou maar die waarste waar met julle deel en luister mooi, want Die Groot Boek sê die waarheid sal julle vry maak. Iewers met al die gelyke regte en ‘ek kan alles net so goed soos enige man doen’ het ons vrouegeslag onsself in die polfy geskiet.
Ons het onsself soos fênsie matjies oopgegooi voor die deure van lui lummels wat versorg wil wees soos babas terwyl ons kaalvoet, swanger en ʼn snotneusie aan die sy voor die stoof staan.
Nee, hulle word nie skreeuend met vuil doeke voor ons deur afgelewer deur die ooievaar nie.  Hulle kom met ʼn skewe glimlag en nat oë in ons lewens in. Begin altyd as ʼn heel onskuldige vriendskap of troos soek oor die lewe hom ʼn oorveeg gegee het en ons moederlike natuur skop net daar viervoetig in. Die onregverdigheid van die lewensstories roer ons mos maar, veral as jy self al telkemaal die kortste end van die stok beetgekry het.

Ja ek weet ek klink nou vreeslik ongevoelig, maar glo my, ek het gevoel. Ek het eerstehands gevoel hoe pik so ‘n slang. Jy help mos, want jy moet, dis jou plig, dis jou goeie daad vir die jaar. Pleks jy kry eerder ʼn stokperdjie soos ander mense, maar nee, jy kry vir jou ʼn afvlerk voël.
Ek het so geglo dat daar altyd uit goedhartigheid net goed kan kom, hoe dan anders? Ons is mos mooi geleer in die Sondagskool van die barmhartige Samaritaan. Almal moet gehelp word. Almal verdien ʼn tweede kans. Wag, daai was die verlore seun, dink ek. Maar maak nie saak nie, ons is besig met goeie werke, so dit maak mos nie saak nie?
Iewers in my binneste het hy my geraak. Ek was nooit een vir love letters en butterflies nie,  ek was altyd op een of ander mission om my onafhanklikheid te verklaar – uit te basuin aan die wêreld dat ek alles kan aandurf en elke avontuur sou beleef, eerder as trou. Koskook en skottelgoed was het my min gepla, veral omdat ek dit iewers in my kop gekry het dat dit vir dom vroutjies was. Ek het so neergesien op die needy vroumens wat vas geglo het sy moet ʼn boyfriend of ʼn man hê om deel te wees van die samelewing. Mos altyd gesê ek het geen man nodig om my volwaardig vrou te laat voel nie en ek gaan ook nie soos my ma wees nie. Ek gaan nie vir ʼn man wat gedurig lyk soos ʼn donderwolk, koffie aandra nie, dreun en raas en donder terwyl sy rondskarrel om die vrede te bewaar tussen haar kinders nie. Nee. Ek was slim. Ek was sterk. Nie ek nie.
O, Here, hoe moes ek daardie woorde sluk. Hoe moes ek, grootbek, perfeksionis, daai woorde sluk.
Die lewe het ʼn manier om jou bek stil te maak. Tjoepstil.
Alles was mos nie altyd net sleg nie. Daardie paar woorde het my male sonder tal weer laat terug gaan met my trots in my sak. Min het ek besef ek was eintlik besig om myself in ʼn swart sak te versmoor. Die Ek, wat alles kon doen en geglo het geregtigheid is my skerpste wapen. Watter geregtigheid sit en dink ek nou? Die lewe was vroeg in die huwelik lankal nie meer swart en wit nie, iewers het daar ʼn groot stuk grys ingesluip.

Elke keer wat jy stilbly en maak asof alles okay is, kom daar meer grys by. Elke keer wat jy die lieg vir jouself wegpraat, raak die grys net meer...

Vrydag 20 Julie 2018

DIE RAGAB BINNE MY...!

Ek is dwalend. Bekommerd. Beangs, eintlik! Ek voel dat my liggaam aan die ingee is en ek kan daar niks aan doen nie. Want sien, soos wat so baie maal met elkeen van ons gebeur, staan ek voor ‘n toe deur wat enige oomblik gaan oopswaai en ek weet nie wat anderkant hierdie deur vir my wag nie. En dit is presies waarom ek so worry, sien?

Neem jy my kwalik? Ek weet, ja. ‘Wat dan van jou geloof, Marthamaria? Waar is jou geloof dan nou?’ Ja, ja, ja! Ek weet...! En dink net, Martha, bla bla bla!

Het jy ook al so gevoel? Ek weet jy het. Kom loop dan nou saam met my na Ragab, die sedelose vrou, toe. Ja, kom maar net saam, jy sal later verstaan hoekom ek gisteraand juis by haar deur gaan aanklop het.

Ragab, die Kananiet, is ‘n bekommerde vrou. Meer en meer hoor sy van hierdie volk wat op pad is om Jerigo oor te neem. Elke soldaat wat by haar huisie in kom, bewe van vrees. Sy vra vrae. Sy luister. En sy weet! Hierdie volk se God is geen gewone god nie. Hierdie volk se God is die ware, enigste God.

Sy is besig om haarself voor te berei vir die aand se werk. Bad. Hare was. Olies invryf. Grimering. Parfuum. Soja, amper klaar...

Ai, net party keer wil ‘n mens ook maar net ‘n bietjie rus, sug sy. Dink nou net as hier ‘n man en kinders was, ha? ‘n Man om vir my te sorg en kinders wat kan lief wees vir my. Ja, ja, ja! Ek kla nie omdat ek nooit gebrek ly nie! Dit is nie die probleem nie – glad nie! Dis net ... ai ... waarom moet my hart weer vanaand loop skeef neuk? ‘Ragab,’ raas sy met haarself, ‘aanvaar asseblief net vir eens en altyd dat jy anders is as ander vrouens. Aanvaar asseblief dat geen man ooit met daardie oog na jou sal kyk nie. En jy, verraderlike hart, kom tot rus!’

Die sagte kloppie aan die deur is onverwags. Dit is nog heeltemal te vroeg vir haar gereelde kliënte, Die son sit nog hoog en die manne wag tot die donker hulle insluk voordat hulle kom. Sy wil dit eers ignoreer, maar die klop raak dringender en harder.

Sy skrik en gee ‘n kort gilletjie toe sy die twee vreemde mans buite die deur kry. Hulle gee haar nie kans om die deur voor hulle toe te slaan nie.  Hulle druk by haar verby en trek haar binnetoe. “Bly net stil, ons sal jou niks maak nie. Sjuut, asseblief!” praat die een dringend met haar toe dit lyk of sy alarm gaan maak.

“Wat wil julle van my hê? Loop asseblief liewer, julle lewens is in groot gevaar en as ons koning se soldate julle hier kry, is dit sommer klaarpraat met my ook!”

“Nee, wag nou, Dame. Ons sal jou geen kwaad doen nie. Ons is gestuur om te kom kyk hoe sterk die stad is. Kan jy ons asseblief help?”

Opeens is daar ‘n donderende geklop aan die deur. ”Ek is besig om te bad, kom asseblief later weer!” skree sy deur se kant toe. Intussen beduie sy vir die manne om dak toe te hardloop. Daar steek sy hulle weg onder bondels vlas.

“Maak dadelik oop, of jy slaap vanaand op straat!” skree een van die soldate van buite af. Ragab ruk haar hoofbedekking en mooi oorrok af en gooi dit in die kamer. Toe sy die deur oopmaak, staan sy byna kaal voor die soldate.

“Sies, man, kyk hoe lyk jy! Het jy nie respek vir jouself nie?” bulder die grootste van die soldate voor haar deur.

“U het aangedring dat ek die deur oop moet maak, het u nie?” antwoord sy smalend. "Ek was besig om te bad en julle wou nie hoor nie."

“Ons soek na die twee manne wat hier by jou in die huis is. Ons het rede om te glo dat hulle hier is, so jy moenie vir ons lieg nie, vroumens!”

Sy oortuig hulle dat daar wel manne was, maar dat hulle ‘n tydjie gelede na die berge se kant toe gevlug het.

Toe die soldate weg is, gaan sy na die twee spioene toe. Hulle bedank haar vir haar hulp, maar sy het ‘n dringende versoek.

“Ek het gehoor van julle God. Ek weet dat Hy die enigste ware God is daarom weet ek dat julle ons stad gaan kom oorneem. Ons het gehoor hoe Hy julle deur die see laat trek het en hoe julle vir Sihon en Og oorwin het. Ons almal is lam van vrees vir julle.” Sy kyk die manne stip aan voordat sy verder praat. “Ek sal julle help ontsnap, op voorwaarde dat julle belowe om my en my familie nie dood te maak nie. Asseblief, kan julle dit vir my belowe?” vra sy bewend. Die trane stroom oor haar wange en sy bewe so groot soos sy is.

“Dame, help ons om te ontsnap, en ons sweer vandag dat jy niks sal oorkom nie – nie jy nie en ook nie jou familie nie,” antwoord albei plegtig.

Sy het ‘n lang, rooi tou wat sy by die venster laat uitsak aan die buitekant van die muur. Ja, haar huis was bo-op die muur van Jerigo. Sy beduie vir hulle waarheen om te vlug en hoe om veilig te skuil vir ‘n paar dae.

“Dame, hierdie rooi tou wat nou hier deur die venster hang... Los dit dat dit daar bly hang wanneer ons kom. Ons sal die tou sien en ons sal weet om hierdie huis se mense niks aan te doen nie. Wanneer ons kom, bring jou ouers en broers en susters in die huis in en maak die deur toe. Moet dit vir niemand oopmaak nie en moet ook dat niemand uitgaan nie. Verstaan jy mooi wat ek vir jou sê?” vra die spioen terwyl hy al halflyf by die venster uit is.

Sy beaam saggies voordat hy met die tou afgly tot onder. Sy wag nie om te kyk of hulle veilig is nie, want sy is heeltemal te bang iemand sien haar daar by die venster.

Hagar stuur ‘n broer van haar om die hele familie te laat kom. Toe hulle almal daar is, praat sy ernstig met hulle: “Ek het julle laat roep om ‘n baie belangrike saak te bespreek. Julle almal weet van die volk wat op pad is ... die volk wat die groot God aanbid. Luister asseblief mooi na my ...” Sy verduidelik haarfyn wat van hulle verwag word wanneer die vyand hulle verskyning maak voordat almal terug huis toe gaan om voorbereidings te tref.

Elke dag wag Ragab gespanne. Tot groot frustrasie van baie mans maak sy nie meer oop wanneer hulle vir haar wil ‘kom kuier’ nie. Sy staan byna permanent voor haar venster om te kyk wanneer die vyand opdaag. Sy het gehoor die stadsdeure is gesluit sodat die vyand nie kan inkom nie, maar sy weet van beter...!

En toe gebeur dit. Sy word wakker van die gedreun van voetstappe en die geblaas van ramshorings. Sy storm venster toe. Hulle stap rondom die stad. Soldate voor, sewe manne met ramshorings wat skel klink in die oggendstilte, dan kerkmense met ‘n houtkis op die skouers en agter hulle aan loop die hele volk.

Kort-kort is daar ‘n dringende klop aan haar deur. Sy maak elke keer doodseker dat dit haar familie is voordat sy die deur oopmaak. Almal is ewe haastig om by die venster te kom kyk wat aan die gang is. Dit neem nie lank nie voordat haar hele familie by haar in die huis is nie. Hulle maak seker dat die deur dig toe is en maan die kinders om stil te wees.

Almal hou asem op. Wat kom volgende? Maar toe die volk van die Here een maal rondom die stad is, stap hulle in stilte terug na hulle laer toe. Hulle moes laer opgeslaan het gedurende die nag, besef sy.

Stilte! Niks gebeur vir die res van die dag buite Jerigo nie. Binne die mure van die stad skarrel die soldate om paraat te kom. Kort-kort hoor jy ‘n bevel wat geskree word, of die klank van soldate wat verby masjeer.

Net voor sonsopkoms die volgende dag is dit weer dieselfde ding. Die dreuning van voete wat stamp in die grond. Die geskel van ramshorings. Die volk praat nie, dis of hulle stilte ter hemele skree vir dié wat dit moet aanskou en nie weet wat volgende gaan gebeur nie.

Dag drie. Dag vier. Vyf. Ses. Elke dag dieselfde ding. Ragab se broers raak opstandig. Hulle wil hier uit! Hulle wil gaan gereed maak om te veg. Ragab vermaan hulle stil: “Dit is jou keuse, maar ek het jou gewaarsku...”

Dag sewe. Die volk loop weereens agter die ramshorings aan. Maar wat dan nou? Nog ‘n keer en nog ‘n keer... hulle hou nie op nie. Almal weet dat hierdie dan nou die dag is... wat wát gaan gebeur? Die vyand kan onmoontlik nie by die stadspoorte inkom nie, dit weet hulle maar al te goed. Maar onthou, hulle God laat hulle dwarsdeur die see loop!

Ragab staan en tel. Drie keer om. Vier keer. Vyf. Ses. Die sewende keer bars die hel self los. Die volk gaan aan die skree dat dit klink of die hemel gaan oopskeur daarvan. Saam met die geskreeu begin die huis eers liggies bewe. Ragab gryp verskrik ‘n kind of twee teen haar vas.

En dan hoor hulle dit: die mure van die stad is besig om inmekaar te tuimel. Die stof, die skudding van die huis waarin hulle is en die geskreeu van die vyand is meer as wat ‘n mens kan verduur. Die hel self het in ‘n oomblik losgebreek in en om Jerigo.

Baie baie later word dit stil buite. Wat nou verder? Moet hulle binne bly of probeer uitgaan? Hulle staar mekaar verskrik aan. Iemand vra: “Ragab, hoe nou verder?” Sy trek haar skouers op – sy weet ook maar nie.

Daar is beweging buite. Mans wat met mekaar praat. 'n Dringende klop. Die deur gaan oop. 

Die twee bekende gesigte beduie na buite: “Kom saam met ons, Ragab, jou geloof het jou gered.”


 

Woensdag 11 Julie 2018

WIE KYK VIR MY?

So ‘n tydjie gelede hoor ek die storie van die boemelaar met die hond by ‘n vriend. Dit sink diep in en ek besef dat dit ‘n lewenswysheid is wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Hoor wat sê hy:

Hierdie ou boemelaar het niks. Hy het iewers ‘n trollie van ‘n winkel in die hande gekry en daarin is alles wat hy besit. Heelwaarskynlik is dit gister se laaste slukkie brandewyn en ‘n stukkie droë brood. Wat anders kan in die trollie wees? Hy het niks en hy is ook niks. Dit is winter, dus het hy seker ook ‘n paar stukke karton waarop en waaronder hy snags slaap in sy trollie. Nog iets? Dit kan nie veel wees nie, sowaar!

Ou Peet slaap in die stegie langs die Portugese winkeltjie. Hy het al gesien dit is waar die wind hom die minste bykom en daar is ook die minste ‘voete’ deur die nag. Hy voel redelik veilig daar in die stegie en elke dag eindig sy roete deur die strate maar weer daar.
Hy het ‘n vaste roete wat hy daagliks loop. As die Portugees sy winkel seweuur oopmaak, gooi hy gewoonlik gister se oorskiet tjips en worsies sommer weg. Peet wag net tot hy weer in sy winkel is voordat hy dit uit die asdrom gaan opdiep. Teen tienuur is dit pouse by die laerskool en soms kry hy ‘n broodjie wat een sommer in die grond neergooi. (Weet hulle ma’s hoe hulle mors?) By die groentewinkel is daar soms oorryp vrugte wat buite langs die asdrom gesit word vir die asdromlorrie om dit op te laai. Sulke dae is Peet in vervoering, want hy kan kies en keur tussen alles wat hy net van kan droom. Wanneer Peet dan laatnamiddag terugdraai na sy hoekie toe, het hy dalk ‘n rand of twee om ‘n halfjekkie ook mee te kan koop. Hy troos homself daarmee dat hy dit eintlik net koop om warm te bly – dan is dit mos nie sonde nie, is dit?

En tussen dit alles deur het die hond sy verskyning gemaak. Peet kan nie meer onthou wanneer of waar nie, hy het maar net iewers opgedaag en begin om saam te loop. Dan sit hy ‘n paar treë weg en hou Peet dop as hy iets gulsig kou en afsluk. Eers was Peet al te aardig daaroor. Jy sien, die hond lyk ook maar soos Peet: maer, uitgehonger en verwaarloos. Peet kon eenvoudig nie iets eet as die hond hom so sit en bekyk nie. “Voertsek!” of “Hierjy, jou rondloperding!” het niks gehelp nie. Ignoreer het selfs minder gehelp. Hond het gesit as Peet sit en geloop as Peet loop. Soos ‘n skaduwee het hond vir Peet gevolg. Oggend. Middag. Aand. Mettertyd het hy selfs ‘n endjie weg van Peet geslaap ook in die nag.

Op ‘n dag sit die twee mekaar en bekyk. Peet draai sy kop skeef. Hond draai sy kop ook skeef. Peet staan skielik op. Hond staan ook haastig op. Peet gaan sit en natuurlik gaan hond ook weer sit. En toe sien Peet dit in die hond se oë. Eers wou hy dit nie glo nie. Ha-a, dit kan nou wragtag nie waar wees nie. Dit lyk dan of die hond met respek in sy ogies vir hom wat Peet is sit en kyk. Ha? Vir my wat Peet is? Respek? En ou Peet trek sy skouers ‘n bietjie meer regop en stap voor hond uit na hulle volgende bestemming...!

Nou wonder jy waarop stuur ek af? Dis eenvoudig, hoor. Hond het ou Peet slaafs gevolg, want hy het geglo in Peet. Hy was oortuig daarvan dat Peet die beste ding is wat nog ooit met hom gebeur het, selfs al het Peet nooit sy kos met hom gedeel nie.

My vraag aan jou is nou dit: Weet jy dat daar een of twee of selfs baie mense is wat jou dophou en jou volg? Nee, wag nou, ek sien jy skud jou kop en klap jou tong vererg vir my. Hoor my nou eers enduit en dan stry jy weer met my ... as jy kan, natuurlik.

Ek is seker iemand het al vir jou gesê “Weet jy, ek het nog nooit so of so daaraan gedink nie, dankie dat jy dit nou gesê het. Ek sal dit nooi weer vergeet nie.”
Of wat van die keer wat jy die wag by jou motor met ‘n broodjie beloon het en skielik sien jy meer en meer mense doen dit nou gereeld?
Of die keer toe jou kind per ongeluk ‘n glas gebreek het en jy het, hoewel deur geklemde kake, vir haar gesê:  “Dit maak regtig nie saak nie, dis wêreldsgoed.” ‘n Dag of wat later ry jy per ongeluk oor haar mooiste pop en sy troos jou, hoewel met ogies vol trane: “Toemaar, Mamma, dis wêreldsgoed.” Waar, dink jy, het sy die voorbeeld gekry?
Juffrou, jy wat by die laerskool ‘n klassie het, weet jy dat die dogtertjies selfs hulle hare soos Juffrou s’n wil knip?
En jy, Meneer die Bankbestuurder, besef jy dat die seniors in die bank die klerke onder hulle presies behandel soos wat jy hulle behandel?
Mevrou, dra jy soms ‘n vuil koppie kombuis toe of moet Mina maar met al die vuil matte, skottelgoed, wasgoed, stoepe, vensters, wat alles! sukkel van dag tot dag? Gee jy nie dalk vir haar die idee dat dit nie vir jou belangrik is of jou huis netjies is of nie? Is jy nie dalk die oorsaak waarom sy ook maar net doen waarvoor sy lus is in jou huis nie? Want jy sien, Mevrou traak tog ook nie met wat ek doen nie. Oepsie! Regtig?
Mamma, het jy al geluister as jou dogtertjie en haar maatjie huis-huis speel? Met watter stem praat sy? Is sy vriendelik met haar vriendin in hierdie grootmens-wêreld, of praat sy neerbuigend met haar? Waar, vra ek jou, hoor sy dit?


Nou vra ek jou weer: Weet jy dat daar iemand is wat jou dophou en jou slaafs volg? Weet jy dat jy die beste ding is wat nog ooit met daardie mens gebeur het? En besef jy dat jou doen en late daardie persoon kan maak of breek?

Nee, ek vra maar net, hoor.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...