Woensdag 28 Februarie 2018

EK LOOP DIE PAD AL LANK, MY LAM


Presies hoe lank is ‘n jaar nou eintlik? Ja, ek weet. Drie honderd vyf en sestig dae. 8760 ure. Ek weet, ek weet. Maar dit is nie regtig waarvan ek praat nie.
            Elkeen van daardie drie honderd vyf en sestig dae het ‘n namiddag gehad. Elkeen van daardie namiddae het ‘n kuiertydjie tussen vier en ses gehad. En dit is van daardie tydjie in die namiddag wat ek nou praat. Ek voel hom, ek beleef hom, ek beleef hom nog immer.
            Daardie sewe honderd en dertig ure van die afgelope jaar was die langste wat ek nog ooit beleef het. Dit is die tyd wat aan my liefie-moeder behoort het. Elke dag van die week – Maandag tot Sondag. Daar was ander tye ook, natuurlik. Maar my hart brand na daardie twee ure van elke dag.
            Klein geselsies. Niks aardskuddend ooit nie. Net klein bietjies praat en klomp bietjies liefde. Middag na middag. Elke dag van elke jaar.
            ‘Hallo, Ma se kind. Hoe gaan dit? Is my kind moeg? Kom lê hier by jou ma.’ En dan miskien ‘n bietjie later: ‘Weet jy wie het vandag vir my gebel?’ of ‘Weet jy wie het vandag vir my kom kuier?’
            Klein geselsies wat my hart gevul het. Klein geselsies wat my hart nou leeg gelaat het. Klein geselsies wat soos reënwater in die sand verdwyn het. Weg. Sommer net weg. Leë ure. Leë hart.            
            Waar gaan haal ek dit nou? Waar kan ek daarna gaan soek en my leë hart (weer) so ‘n bietjie voller maak?
            En dan lyk dit mos of die ganse heelal vergeet het dat ek met ‘n bloeiende, leë hart rondloop. Die son kom op – presies daar waar hy gister opgekom het. Vanaand gaan hy weer onder – ook op sy gewone plek. En ek? Ek soek en soek en soek na iets wat ek nooit weer sal kry nie.
            Maar voordat jy my begin troos met die ewigheid en alles, wil ek jou gerusstel dat ek weet daarvan. Ek leef ook met die troos dat daar ‘n ewigheid van weersiens is. Ek weet. Wees jy maar rustig.
Dis net my onstuimige hart wat dit nie weet nie, wat dit nie wil aanvaar nie, wat bly soek en soek en soek.
            Dan sing ek saam met Amanda Strydom en ek sien hoe loop jy (halfpad) saam met my  die pad, my lam...

EK LOOP DIE PAD
Ek loop die pad al lank my lam
So kaalvoet deur die kou
Van doerrie kant se Doringveld
En kyk hoe lyk ek nou
Ek loop die pad so sonder hoed
Deur son en wind en grou
So kaalvoet oor die slingerpad
En kyk hoe lyk ek nou
My lam, die gras is soms so groen
Die son is soms so lou
Maar ek loop die pad alleen my lam
En kyk hoe lyk ek nou
Onthou jy nog hoe ons kon loop
So loslyf, so verspot
So vlieg-vlieg oor die koppies heen
‘n Ragab en ‘n Lot
Maar nou loop ek die pad alleen
So kaalvoet deur die kou
En soms, net soms, dan wonder ek
My lam waar is jy nou



Saterdag 24 Februarie 2018

MY PA HET OOK SO 'N GEEL LORRIE

Hulle kom in die grootstad aan. Sy is stukkend. Kindjie is stukkend. Saam is hulle ewe stukkend om verskillende redes. Sy is so pas deur ‘n moordende egskeiding en kindjie is haar stille medestryder in die geveg.
Hulle woon saam met ‘n massa vreemdelinge. Sy moet vir kindjie in die bewaarskool sit. Die geld is min, hoor. Gelukkig het kindjie ‘n oupa en ‘n ouma wat ook nou en dan die nood kan help verlig. Kindjie leer om vir hulle baie lief te wees. Vir Ouma noem sy Ouma, maar Oupa raak sommer Pappa. En Oupa huil elke keer as hy ge-Pappa word.
Sy is eensaam. Die jongmense is te jonk en kan nie saam praat oor egskeidings en prokureurs en siek kindjie en sulke goed nie. Die getroude mense is ook nie ‘n opsie nie. Want sien, die getroude vrouens soek nie ‘n geskeide, alleen vrou naby hulle mans nie. Nee, ‘n geskeide vrou is ‘n pes-ding en ‘n pes-ding los jy waar hy hoort – ver en daar eenkant waar niemand haar kan sien of kan aanraak nie (veral nie haar man nie!)
Sy werk lang ure en kindjie is lang ure in die bewaarskool. Daar is maatjies. Hulle het elkeen ‘n mamma en ‘n pappa. Kindjie sien hierdie dinge, maar sy praat nie daaroor nie. Sy is eintlik nog te klein om daaroor te kan praat. Sy is te klein om te sê waarna haar hartjie verlang. Dit is in elk geval wat die mamma gedink het. Die mamma weet nie van kindjie se hartsbegeertes nie. Sy is te vol van haar eie seer en ellende.
Op ‘n dag ry sy en kindjie in die besige strate van die grootstad. Hulle ry verby ‘n groot, geel lorrie. Kindjie sê: My pa het ook so ‘n lorrie. Sy gooi byna die kar om, want waar kom kindjie aan so ‘n ding? Hulle het nog nooit oor pappas en kindertjies gepraat nie, want sy is so klein en sy vra nooit vrae nie. 
En sy kom tot ‘n ontsettende besef. Haar besluit om nooit weer te trou nie sal nie kan werk nie. Sy het uit haar eie besluit om nooit weer ‘n man te vertrou nie. Sy wil nooit weer trou nie, so het sy besluit. Maar nou? Kindjie het by die bewaarskool by haar maatjies gesien dit is lekker om ‘n pappa te hê en nou wil sy ook so ‘n pappa hê.
Hoe moet sy nou maak? Sy bid. Ja, sy bid dat sy dan seker ook weer eendag sal moet trou om vir kindjie ‘n mooi pappa te kan kry. Dit is seker nie so ‘n groot probleem nie. Wat wel ‘n probleem is, is waar om ‘n pappa te kry wat vir kindjie so lief sal wees soos wat sy vir kindjie is. En sy bid. Sy bid dat hierdie man eerste vir kindjie lief moet wees voordat hy vir haar lief sal wees. Dit sal vir haar die teken wees dat dit die regte man is. Amen.
Tussen die baie mense waar hulle bly is ‘n man. Kom ons noem hom sommer Oom D. Hierdie Oom D is ‘n allemansvriend, maar sy hart behoort eintlik aan niemand nie. Hy laat nie baie mense in sy hart toe nie. Kindjie en Oom D raak maats. Vreemd? Ja, heel waarskynlik. Was sy agterdogtig? Nee, glad nie. Sy hart was skoon en sonder die lelike dinge wat jy vandag op straat kry.
Kindjie en Oom D speel elke aand na aandete. Kindjie weier om haar kos klaar te eet as sy sien dat die oom buite op die stoep is. Nee, sy is nie honger nie, sy wil asseblief gaan speel. Nee, sy is nie dors nie, sy wil asseblief gaan speel. Hulle skop ‘n bal. Of hulle skop ‘n blikkie. Of hulle gooi wat ookal hulle kry om te gooi. Almal wat saam met hulle op die stoep sit juig en klap hande wanneer dit gegooi en gevang word. Die mamma is nooit deel van hierdie spelery nie. Wanneer sy klaar geëet het gaan die twee terug na hulle eie plekkie toe.
Hy kom in hulle lewens in en die drie begin ‘n pad stap. Sommer net so. Niemand het so besluit nie, dit het sommer net gebeur. Kindjie is bly. Kindjie het haar pappa gekry.
Hulle stap by die kerk uit. Kindjie hou haar mamma se hand vas. “Kan ek nou maar vir hom Pappa sê? Kan ek maar vir hom Pappa sê vir altyd en altyd?”
Ja, my liefie, jy kan maar, vir altyd en altyd.


Woensdag 21 Februarie 2018

REGVERDIG OF NIE? WIE IS ONS OM TE BEPAAL?

    Image result for die vrou wat aan bloedvloeiing gely het Waarom is dit so dat ‘n mens soms so swaar moet kry ten spyte van die feit dat jy jou alles vir die Here gee? Waarom lyk dit soms of Hy jou nie hoor nie? Waarom lyk dit soms of satan sy sin in alles kry?
 En die vrou met die bloedvloeiing kom by my op. Vir twaalf jaar het sy gely en vir twaalf jaar was sy afgesonder van alle mense. Watter regverdigheid is daar in so ‘n storie? Kan ‘n mens begin om te verstaan hoe swaar dit vir haar moes wees? Sonder man en kinders en naaste, want sy is onrein. Hoe ontsettend! Wat weet ons van haar swaarkry?
     Ek sien hoe sit sy die dag en bedink haar situasie. Sy was by dokters, sy was oral waar moontlike hulp vir haar gebied kon wees – alles sonder sukses. Dalk het sy die punt bereik waar sy gedink het sy sal in hierdie totale eensaamheid sterf, want daar is niks wat niemand vir haar kan doen nie.
     Sy sit skielik regop. Jesus! Ja, Jesus van Nasaret doen wonderlike dinge, het sy gehoor. Maar hoe sal sy by hom kom? Sy mag nie met die mense meng nie, sy mag nie naby hulle kom nie. En Jesus is ‘n man – by ‘n man mag sy onder geen omstandighede kom in hierdie onrein staat waarin sy is nie.
     Maar niemand ken die hart van ‘n desperate vrou nie. Niemand weet tot watter uiterstes kan jy gaan as jy eensaam en alleen en desperaat is nie.
     Ek wonder net, het sy toe reeds in Hom geglo? Hoe kon sy? Sy was nog nooit naby Hom nie, sy het nog nie een van Sy wonderdade aanskou nie. Hoe kon sy in Hom glo?
Of was dit ‘n geval van ‘kom wat wil, hierdie man kan net dalk help’? Hoe sal ons ooit weet?  Uit desperaatheid het mense al baie snaakse goed aangevang, dit weet ons mos almal. Hoekom sou sy nie ook hierdie as ‘net nog ‘n probeerslag’ sien nie?
     Sy besluit: Vandag is die dag! Sy was haar, nee, sy skrop haar oor en oor. Sy weet sy is onrein, maar vandag is die dag! As die Joodse Raad haar met klippe dood wil gooi, is haar lyding op ‘n einde. As hulle haar nie sien nie (hoe KAN hulle haar nie sien nie?) sal sy tot voor hierdie Man gaan en smeek vir genade. Sy sal nie ophou voordat Hy nie aandag aan haar gegee het nie. Langer gaan sy nie so ly nie, dit is al wat sy weet.
     Van ver af sien sy die massas mense. Sy weet dat dit onmoontlik is om naby genoeg aan Hom te kom. Maar hoe nader sy aan die skare kom, hoe meer oortuig is sy dat Hy die een is wat haar gaan gesond maak; Hy is die een wat haar weer vry gaan maak; Hy is die een wat haar haar lewe gaan teruggee vir haar.
     Die mense is te veel. Hulle staan bankvas rondom Hom. Hoe moet sy maak? Hoe gaan sy naby genoeg aan Hom kom? Hoe gaan sy maak dat Hy haar raaksien?
     Sy gee nie om dat sy moet wag nie. Sy gee nie om dat die son haar brand nie. Sy wag al vir twaalf jaar vir hierdie oomblik. Sy heiligheid vul die hele omtrek, daar is geen twyfel by haar dat Hy die een is wat haar gaan reinig nie – as sy net naby genoeg aan Hom kan kom!
Stadig begin sy tussen die mense deur beweeg. Een op ‘n keer, stadig beweeg sy vorentoe. Dit voel vir haar die hele mensdom sien haar raak. Sy verwag die eerste klip elke oomblik – die klip wat haar gaan tref voordat almal klippe optel en haar stenig omdat sy durf waag om tussen hulle in te beweeg.
     As sy net vir Hom kon vra om ‘n bietjie stil te staan, maar Hy is op pad na ‘n siek kind toe, dink sy. Terwyl Hy met die mense praat, stap Hy voort. Sy gaan. Nie. Stop. Nie. Vandag. Is. Die. Dag. Vorentoe, die hele tyd, treetjie vir treetjie, vorentoe.
     Uiteindelik is sy na genoeg aan Hom dat sy Sy stem kan hoor. Wat ‘n vredige, liefdevolle, maar gesaghebbende stem! Sy wil so graag Hom net volg en luister na Hom, maar sy weet sy het gekom om gesond te word. Sy probeer verby druk om voor Hom te kom, maar die skare laat haar nie toe nie. Hulle druk en beur om nader aan Hom te kom. Sy is besig om afstand te verloor tussen hulle.
     Nee! Asseblief tog nie! Kan niemand sien dat ek vandag met Hom moet praat nie? Gun julle my nie net een klein oomblikkie met Hom nie? ‘Seblief?
     Opeens is dit of almal vinniger begin loop. Sy raak desperaat en probeer aan Hom raak. Sy verloor haar balans en struikel en val op die grond neer. Jesus is reg voor haar, maar Hy is op pad.
     Sy gryp sy kleed vas. Sy wil dit nooit weer los nie. Die heerlikheid van die aanraking van hierdie man se kleed is onbeskryflik groot. Haar liggaam reageer onmiddellik en sy voel dat sy gesond is.
     Jesus draai om en vra wie aan Hom geraak het. Sy dissipels dink dit is ‘n lawwe vraag, want kyk net hoeveel mense is rondom hulle. Dit is tog nie snaaks as iemand aan jou raak nie, is dit? Inteendeel, dit is so ‘n gedrang rondom hulle dat jy soms na asem snak. Hulle het beslis nie geweet van die interaksie van die twee se harte met mekaar nie, hoe kon hulle?

     Maar Jesus het geweet van haar. O ja, Hy het beslis geweet!


Blinde geloof kan jou vreemde dinge laat doen soms. Hierdie vrou het alles op die spel gesit omdat sy geglo het...en sy is genees.


Vrydag 16 Februarie 2018

MY GEMAKSONE, OF OVERGESETSYNDE, DIE GROEF WAARIN EK IS

         Het jy al ooit gewonder waarom party mense so maklik (dit lyk so maklik!) die hoogste sport bereik, terwyl ander hulle lewens lank bly waar hulle is? Dit maak nie saak hoe hulle smag na die boonste sport nie, hulle bly maar hier onderlangs rond. Wat is die verskil? Is daar dan ‘n verskil? 
     Kan jy nog onthou toe jy in Graad 1 was en julle moes die eerste keer resies hardloop? Goed, die meeste van ons sou dit liewer graag wou vergeet, ne? Maar daar is 'n paar van ons wat dit onthou as die begin van 'n wonderlike tydverdryf, stokperdjie, of selfs 'n loopbaan. Ek kan my dit indink dat die juffrou almal in 'n lyn laat staan het en mooi verduidelik het dat sy wil sien wie kan die vinnigste hardloop. Dalk was jy die een wat nie wou hardloop nie, want jy was te bang dat jy sou verloor. En toe wen jy! Kan jy onthou hoe bly jy was? Kan jy onthou hoe het jy vir almal vertel dat jy die vinnigste gehadloop het? En toe? Mettertyd het jy so gewoond geraak aan wen dat dit later nie meer snaaks of opwindend was nie. Jy wen omdat jy gewoond is aan wen, is dit nie?
     Of wat van die fotograwe tussen ons. Jou eerste foto was vir jou die mooiste ding wat al ooit met jou bebeur het. Jy het hierdie mooi kamera by Pa en Ma gekry vir Kersfees en jy was baie opgewonde, maar ook baie bang om foto's te neem. Sal ek dit kan doen? Hoe gaan dit lyk? En toe die foto ontwikkel is (ja, dit was nog die jare van foto's en negatiewe) moes almal dit sien, almal moes oeeee en aaaaah daaroor. Jy kon nie slaap daardie nag nie, want jy het die mooiste, mooiste foto's geneem en almal is mal daaroor. En vandag? Voel jy nog so daaroor? Wat is jou reaksie wanneer mense op- en neerslaan oor jou mooi foto's? Waarskynlik bedank jy hulle hoflik, maar in jou hart weet jy dat dit mos maar so hoort, of hoe?
     Miskien was jy die een met die 'probleemvoetjies' en die dokter het ander skoene voorgeskryf. Jy moes kies tussen die nuwe, vreemde skoene wat soos niemand anders s'n lyk nie, of om dieselfde as al die maatjies te lyk, met voetjies wat elke oomblik van elke dag pyn. Wat sou jy kies? Wat sal jy vandag kies as dit jou voete is?
     Waarop stuur ek af, sou jy kon vra.
     Ons gemaksone bestaan uit die dinge wat ons gewoond is om te doen. Om dan skielik dinge te doen wat ons nog nooit voorheen probeer het nie, of om selfs net daaraan te dink, kan redelike angs en of spanning in ons binneste veroorsaak. En tog weet ons dat niks nuuts kan voortspruit uit hierdie heerlike, rustige gemaksone waarin ons is nie. Om te wil groei is dit nodig om uit te breek en die 'onbekende' aan te durf. Dit beteken dat ek redelik gereeld soos die 'odd one out' moet voel tussen my vriende wat nie gepla is om dag na dag dieselfde dinge te doen en nooit so 'n klein bietjie die onbekende aan te durf nie.
     Hoe het jy gevoel op die eerste dag van jou nuwe werk? Het jy weggehol daaroor? En met jou eerste afspraak by die nuwe dokter? Of die eerste keer toe jy 'n groep mense moes toespreek? Nee, jy het deurgedruk, want dit was vir jou belangrik, was dit nie?

Water wat nie vloei nie het 'n manier om vrot te raak.
Related image                                                           Related image
     Het jy al ooit iets aangepak en gevoel asof die ganse aarde nou op jou fokus? Jy voel totaal en al 'weird' en jy wens jy kan verdwyn? En toe hou jy op? Regtig?
     Kom ek deel met jou 'n geheim, toe? Ons moet ophou traak oor wat ander van ons dink. Ons moet ophou probeer om deel van die groep te wees, man. Moenie probeer om 'normaal' te wees nie. Wat beteken dit in elk geval om 'normaal' te wees? Doen wat jy voel jy moet doen. Doen dit gereeld totdat jy gemaklik voel daarmee en dit selfs geniet.
     En nou? Wonderlik! Jou gemaksone het so pas verbreed en vergroot. Jy het uit die ou patroon beweeg en vir jouself nuwe horisonne geskep. Dit is heerlik. Bevrydend!
     Orison Swett Marden se wyse woorde: "We lift ourselves by our thought. We climb upon our vision of ourselves. If you want to enlarge your life, you must first enlarge your thought of it and of yourself. Hold the ideal of yourself as you long to be, always everywhere." 
Related image
Ek wil jou uitdaag om VANDAG nog te begin - een treetjie op 'n slag. Jy sal sien, oor 'n week of 'n maand kyk jy terug en weet... wow! ek het dit gedoen! En wat meer is, dan kom dit eintlik so half tweede natuur vir jou. Regtig, ek lieg nie.
Image result for comfort zone quotes                                           Related image
Kan ek so 'n klein ietsie uit my persoonlike lewe met jou deel?
     Hierdie skrywery van my kom mos al baie, baie jare. Maar! Ja, jy het reg geraai. Ek was altyd so half ongemaklik met die idee dat ander mense dit moet lees. Wat gaan hulle dink? Gaan hulle vir my lag? Gaan iemand dit ooit wou lees?
     Soms het 'n mens net so 'n klein stootjie van iemand nodig om jou aan die gang te kry. Jy weet, soos met 'n motor wat te koud is in die oggend en die battery is ook nie so lekker gelaai nie. Maar as hy gevat het, kan jy hom nie keer nie, weet ons.
     Net so was dit met my. Riana, my oudste, karring al jare aan my om 'n blog te begin. Ek wou, ja...! En ek sou, ja! Maar ek het nooit!
     Toe ek die aand my eerste inskrywing maak, was ek regtig baie senuweeagtig. Ek was bang soos 'n kind in die donker. Wat as? En toe hoor ek die stemmetjie: Wat as WAT? En ek skryf hom en ek deel hom sommer op Facebook ook.
      Ai, ai, ai! Vandag is my vraag: 'Waarom, Martha Poller, het jy nie jare terug al begin nie?'
      Dit lyk my ek het maar redelik gereeld 'n stootjie in die regte rigting nodig. Ek moes teen alle baklei en redenasies van my kant af vir Graad 11 en 12 Engels gee. Ek het eenvoudig geglo ek kan dit nie doen nie. Toe ek aan die gang is en die eerste eksamen was agter die rug, kon jy my nie keer nie, hoor. Ek het geweet ek kon dit goed doen en ek het geglo in myself. Waarom dan het ek eers geweier? Swak selfbeeld, as jy my vra.
     Die Engelse stel dit so mooi: You should push your limits, my dear, push it!

     

Maandag 12 Februarie 2018

'n NUWE HARTJIE VIR KLEIN ETHAN

Ek kyk onlangs na 'n program waarin Chris Barnard, die hartman, genoem word. Dit jaag my toe om te gaan soek na die 'menslike' kant van die groot operasie. Hierdie storie is losweg gegrond op een van die gesinne wat deur so 'n operasie is.

Sy lê terug en slaak ‘n sug van verligting. Kan dit dan selfs lekker wees om op die harde doktersbed te lê? Sy is moeg en hierdie paar oomblikke by die dokter is ‘n welkome ruskansie. Die twee kleintjies hou haar regtig besig by die huis.
Dis so jammer dat Hans nie vandag saam kon kom nie; hy geniet die sonars elke keer net so baie soos sy. Sy is reeds vier-en-twintig weke swanger en moes kom vir ‘n opvolgondersoek.
“En nou, Dokter John?” vra sy toe die dokter ‘n vreemde frons op sy gesig kry. Hy is besig om te luister na die kleintjie se hartjie, maar nou skarrel hy darem net te veel rond.
“Marieta, hier is iets nie reg nie, jong. Ek wil jou nie ontstel nie, maar ons sal moet kyk hierna.”
Sy snak hard na haar asem en wil sommer regop kom, maar hy druk haar saggies terug op die bed. “Kom ons hoor eers wat die slim mense sê voordat ons opgewonde raak, toe?” is hy weer sy rustige self.
Dit voel nou vir haar soos eeue terug, want soveel dinge het intussen gebeur van daardie dag af. Al wat sy vir seker weet, is dat die lewe nooit weer dieselfde vir enige van hulle sal wees nie.
Hans moes kom dat hulle saam die ginekoloog kon gaan sien. Die uitslag was nie mooi nie: Die baba se hartjie het nie goed ontwikkel nie en in kort kom dit daarop neer dat die linkerkant van die hartjie glad nie ontwikkel het nie.
“Meneer, Mevrou,” het hy begin, “dit is nie nodig dat julle voortgaan met hierdie swangerskap nie. Ons kan dit beëindig, daar is genoeg mediese redes voor.”
Hulle twee was stil; daar was niks om oor te praat nie. Hulle is huis toe om te gaan nadink en te besluit wat om te doen.
Tog snaaks dat ‘n mens nooit so iets verwag nie. Aangesien dit baba nommer drie is en die ander tweetjies sonder probleme gebore is, het nie een van hulle vir ‘n oomblik gedink dat daar nou ‘n probleem sou kon wees nie. Alles het nog altyd so goed gegaan! En eintlik was hierdie enetjie boonop glad nie beplan na die boetie en sussie nie. En nou dit!
Hulle sit by die kombuistafel – elkeen met sy eie gedagtes besig. Die dokter se bevinding is so ‘n ontsettende skok vir albei dat woorde nou onmoontlik is. Sy maak koffie en vir ‘n lang tyd is dit net die geluid van die koffiebekers op die tafel wat gehoor word. Hy roer sy koffie om en om en om. Hy weet nie eens dat hy dit doen nie. Om en om gaan die teelepel totdat sy haar hand op sy hand sit.
Hulle begin gelyk praat. “Nee, ons kan dit nie doen nie. Aborsie is sonde.”
“Ons mag nie moord pleeg nie, jy weet dit tog.”
Stilte. Dis asof hulle by mekaar probeer raad vra, maar nie een het ‘n antwoord vir hierdie groot gewig wat opeens op hulle kom lê het nie.
Die nag slaap nie een van die twee nie, maar hulle praat nie met mekaar nie. Hulle rol rond in die bed en kort-kort sug een kliphard. Sy staan later op en gaan maak koffie. Hy volg haar kombuis toe. Stilte. Nie een het die moed om te praat nie. Nie een het die durf om dit uit te spreek wat in hulle gedagtes omgaan nie. Nee, dit is sonde om moord te pleeg.
Toe die son opkom kry hy haar buite onder die groot bloekomboom. Sy lyk so ontsettend breekbaar en hy druk ‘n warm soentjie op haar kop. Sy leun teen hom aan, te bang om hom in die oë te kyk.
“My lief, ons moet die baba laat verwyder. Ons durf nie selfsugtig wees nie. Hierdie ding gaan nie oor ons nie, dit gaan oor ‘n klein lewetjie wat ons in die wêreld wil bring sonder dat hy vra daarvoor. Dink jou in watter lyding die ou dingetjie sal moet deurgaan? En hoe lank, dink jy, gaan hy lewe? Is dit regtig wat ons wil hê?”
Hy antwoord haar nie, maar dit is dieselfde wat hy ook deur die nag gedink het. Durf hulle dit aan ‘n klein mensie doen net omdat hulle selfsugtig is? Nee, hulle moet maar die ou dingetjie laat verwyder, sy is reg.
Maar nog altyd loop albei met hierdie wroeging oor dit wat hulle beplan. Is dit reg? Kan hulle hulself regverdig? Sal hulle ooit weer vrede in hulle harte hê as hulle dit laat doen?
Toe hulle die dag weer voor die ginekoloog sit, is hulle nie meer seker van hulle besluit nie. Hulle weet nie meer of hulle dit regtig wil laat doen nie. Die dokter, ‘n ou gryskop en propvol wysheid, het dit verwag en hy het ‘n paar voorstelle. Toe hulle uiteindelik by die spreekkamer uitstap, het hulle vrede met dit wat hulle so pas besluit het. Hulle sal die baba behou, hulle sien kans vir die toekoms. Daar is wonderlike hartspesialiste en Oudok het reeds die saak met een bespreek. Hy is gewillig om hulle te help.
‘n Week later ontmoet hulle die hartspesialis. Hy verseker hulle dat dit niks nuuts is vir hom nie en dat hy die hartjie tot so ‘n mate kan herstel dat die baba gemaklik sal kan lewe. Hulle albei voel tevrede toe hulle by die huis kom. Dankie, liewe Heer, vir wyse mense in ons lewens. Dankie vir hierdie man wat weet hoe om ons baba te kan help.
Toe klein Ethan die dag gebore is met ‘n keisersnee, was die datum vir sy eerste operasie alreeds bepaal. Hy is so bitter klein en die hele ou lyfie, maar veral sy gesiggie, is so ‘n grysblou kleur. Ai, ons ou babatjie kry baie swaar!
Die operasie vind ‘n paar dae later plaas en kindjie lyk sommer stukke beter. Natuurlik is hy baie klein en het geweldig baie aandag nodig, maar op die oog af lyk dit of die operasie ‘n sukses was. Die dokter probeer aan hulle verduidelik wat hy gedoen het, maar hulle berus daarby dat, al verstaan hulle nie al die mediese terme nie, hulle kindjie nou baie beter is.
Ongelukkig is alles nie altyd soos dit lyk nie, en klein Ethan is glad nie so gesond soos wat verwag is nie. Sy toestand gaan by die dag agteruit en twee maande later is hy terug in die intensiewe eenheid. Nou is dinge glad nie meer so lekker nie. Pa en die twee kleintjies moet noodgedwonge terug huis toe, en Marieta moet ‘n plekkie huur om naby klein Ethan te kan wees.
Klein Ethan het ‘n nuwe hartjie nodig. Gou! Die beplande verdere operasies om die hartjie te herstel sal nie kan plaasvind nie, want hy is te swak. Net ‘n nuwe hartjie sal hom nou kan red.
Die dae langs sy bedjie word weke. Dit is net die ventilator en swaar medikasie wat die ou lyfie nog aan die gang hou. Sy mamma sit hulpeloos langs die bedjie van dag tot dag. Sy kan niks doen om dit vir hom beter te maak nie. Die lang ure kry sy om deur met hom te gesels en vir hom liedjies te sing. Soms sit sy en skryf in ‘n joernaal. Sy teken alles op – sy vordering, haar gevoelens en belewenis van die situasie, alles skryf sy neer.
Die personeel in die intensiewe eenheid is lieflik en so hulpvaardig. Daar is baie wat moet gedoen word, maar nie een maal hoor jy dat een van hulle kla daaroor nie. Soms dryf hulle simpatieke houding haar tot trane, want waar in die lewe kry jy soveel onselfsugtigheid soos juis hier in die intensiewe eenheid? Dit voel kompleet of hulle nooit moeg of moedeloos word nie, want hulle gaan net aan en aan en aan met goeddoen. Dit is ‘n intense, ewigdurende ritme van x-strale van die bors soggens, die monitor van vog op die longetjies, die neem van bloeddruk, medikasie per drup direk na die hartjie toe, voeding deur buise, ewigdurende monitor en kontrole van elke klein stukkie detail. Hy word baie gereeld ook omgedraai om bedsere te voorkom. Die roetine hou net aan en aan, dag en nag, oor en oor dieselfde dinge.
Soms voel dit vir haar of die lewe buite die hospitaal nie meer bestaan nie. Dit is net wanneer Hans naweke met die ander tweetjies kom kuier, wat sy voel dat sy nog iewers anders ook asem kan haal. Die besoeke van die kinders en lieflike Hans hou haar aan die gang en help haar om, soos sy glo, nie mal te word nie. Die ergste is wanneer sy saans haar liefiekind moet groet en moet gaan slaap. Sy mag nie by hom slaap nie, maar dit sou in elk geval ook nie gewerk het nie. Die roetine hou nooit op in die hospitaal nie en sy sou nie kon slaap nie, al wou sy ook.
Die hartspesialis kom gereeld inloer en hy het eindelose geduld met al haar baie vrae. Hy is nooit te haastig om eers ‘n bietjie met haar buite in die tuin te gaan sit en gesels nie. Wat ‘n wonderlike mens is dit tog nie, dink sy gereeld. Hy benadruk gereeld dat sy nie haastig moet raak vir ‘n oorplanting nie, want dit kan tot vier maande neem om ‘n skenker te kry – ás hulle enigsins gelukkig is om een te kry.
En as hulle nie gelukkig is nie? Wat gebeur dan? Sy wil nie so ver dink nie, want dit maak haar desperaat om te dink dat hulle dalk daardie dag sal bereik wat die ou lyfie nie meer verder kan aangaan nie. Al wat dus oorbly is om te bid en te hoop, besef sy. Moet net nie te veel dink nie! herinner sy haarself honderd maal op ‘n dag.
So kom sy te wete dat baie klein babatjies, soos hulle ou kleintjie, se bloedgroep nie noodwendig ‘n rol speel by ‘n hartoorplanting nie. Hulle immuunsisteem is nog nie ten volle ontwikkel nie en daarom pas die liggaampie gou genoeg aan. Wat wel saak maak, is die grootte van die hartjie. En dan, die ergste van alles om aan te hoor, is die feit dat daardie skenkertjie moet breindood verklaar word binne-in die hospitaal. As daardie moontlike skenkertjie buite die hospitaal sou sterf, soos in ‘n motorongeluk, sal die hartjie onbruikbaar wees vir oorplanting.
Die hospitaalsielkundige kom haar ook besoek. Hulle bespreek die gevolge van so ‘n operasie en die verantwoordelikhede wat daarmee saam gaan. Sy besef dat die operasie glad nie die einde van die pad is nie. Inteendeel, dit is die begin van ‘n heel nuwe pad wat hulle as gesin saam met klein Ethan sal moet loop. Die enigste verskil is dat hulle ou seuntjie nie meer akuut siek sal wees nie, maar nou sal dit ‘n chroniese siekte wees met baie probleme.
Sy hoor ook dat geen mens besluit wie watter hart moet kry nie. Dit stel haar nogal gerus, want sy het gewonder oor die moontlikheid dat daar ‘n hartjie is en hulle moet kompeteer met ‘n vooraanstaande of bekende mens. Die rekenaar sif die pasiente volgens sekere vereistes, byvoorbeeld hoe dringend die operasie is, hoe lank die pasient al siek is, waar in die land die skenker en pasient is, ensovoorts. Jy vind nie die geskikte hart nie, sê hulle. Die geskikte hart vind die pasiënt.
Met al hierdie inligting behoort sy eintlik gerus te voel, dan nie? Maar soms, net soms, pak die paniek haar beet en kan sy haarself nie beheer nie. So betrap sy haarself een aand dat sy ‘n vreeslike gebed bid; ‘n gebed waaroor sy glad nie trots is nie.
“Liewe Heer, U sien mos my kindjie hier langs my. U sien hoe vreeslik siek hy is. Waarom help U ons dan nie? Waarom is dit nodig dat hy so ly? Waarom is daar nie iewers ‘n dronk bestuurder wat ‘n groot ongeluk veroorsaak sodat ons kindjie ‘n nuwe hartjie kan kry nie? Vertel asseblief vir my waarom U dit nog nie gedoen het nie, Here! Hoeveel maande moet ons nog wag?”
Sy skrik haar morsdood vir haar eie woorde en vra dadelik dat Hy haar moet vergewe vir haar onbesonne woorde. Sy durf nie weer vra dat ‘n ander gesin moet deur pyn en lyding gaan net sodat haar klein Ethan kan lewe nie. Sy durf nie! Al wat sy moet doen is om te wag en te hoop vir die Voorsiening.
Een aand, so by tien uur, stap die dokter by die kamer in. Sy skrik baie groot, want dit is glad nie ‘n normale ding om hom in die aand in die hospitaal te sien nie. Behalwe natuurlik wanneer daar groot krisis is iewers.
“Mevrou, kom ek en jy gaan drink ‘n koppie koffie hier langsaan in die kaffeteria.”
Sy stap stom agter hom aan. Wat is nou aan die gang? Weet hy iets wat hy nie vir haar wil vertel nie? Bewend gaan sit sy saam met hom by die tafeltjie met haar koppie tee.
“Mevrou, ons het ‘n hartjie gekry vir klein Ethan. As alles goed verloop, doen ons die operasie later vannag of baie vroeg more-oggend.”
Die verligting! Die vreugde! Maar die volgende oomblik oorval ‘n ontsettende groot hartseer haar. “Liewe Here, wees asseblief met die gesin wat nou hulle ou kindjie moet afstaan aan die dood.”
Teen twaalf uur gee sy self haar grysblou babakindjie vir die suster wat hom kom haal. Sy onthou dat sy hartseer was toe hulle die ander twee se mangels moes uithaal en sy moes hulle teater toe laat gaan. Die gevoel in haar is egter nou heeltemal anders. Dis asof sy wil sê: Hier is my siek kindjie, maak hom asseblief vir my gesond. Sy weet dat hulle die hartjie vyf uur die oggend verwag en tot dan moet sy bid. Ja, sy moet bid vir haar klein Ethan, maar ook vir die gesin wat hulle babakindjie verloor. Here, help ons asseblief!
Die hele nag sit sy en luister gespanne na ambulanse, helikopters op die hospitaal se dak, nog ambulanse, personeel wat op en af beweeg... Hoe gaan die hartjie hier kom? Of is dit dalk al hier? Sy weet dat die hartjie gehaal moet word en dat daar groot voorbereidings is wat gedoen moet word en sy wag die wag van ‘n desperate mamma.
Wat sy nie geweet het nie, is dat die hartjie binne minder as vier ure in die hospitaal was. Die siek hartjie kon toe eers verwyder word en vervang word met die hartjie van iemand se liefkindjie wat vroeër vanaand gesterf het.
Uiteindelik, ‘n hele paar ure later, kon sy haar klein Ethan sien. Vir die eerste keer in sy kort lewetjie het sy velletjie ook pienk geskyn soos ander babatjies s’n.
Vir altyd en altyd sal sy daardie aand onthou toe sy gehoor dat haar liefkindjie ‘n nuwe hartjie gaan kry. Maar vir altyd en altyd sal sy hartseer wees oor die groot offer wat iemand anders moes maak sodat haar liefkindjie kon bly lewe.

Saterdag 10 Februarie 2018

AS DIE HERE WIL/NIE WIL NIE

Hanna bespiegel die hoekoms van die lewe. Sy gee vir ons 'n kykie in haar deurmekaar, maar liefdevolle hart.

‘As die Here wil.’

Ek hoor dit so baie tussen ons. 'n Ou sinnetjie tussen ons kerkmense wat so orals bygevoeg word. Voor en agter, bo en onder. Maar wat nou as Hy nie wil nie? Party mense hou net aan en sê, ‘Hy sal. As jy aanhou vra en glo, dan moet Hy.’

Moet Hy?

Die Skepper van hemel en aarde: moet Hy? Omdat ek wie is? Sy kind?

Omdat ek wát gedoen het om my sin te kry in alles wat ek wil hê?

As my kinders my vra vir iets en ek buig my rug breek om dit te gee, word daar gou gevra: ‘Hoekom doen jy so alles vir die kind? Jy bederf hom, hy kan nie altyd alles kry wat hy vra nie.’

Maar hy’t my gevra en ek probeer maar altyd. Dis my kind, ek wens ek kon hom meer gee as waarvoor hy vra, so as ek kan, dan doen ek dit.

‘Hy is bederf, jy maak daai kind vir die hel groot. Hy gaan nooit leer om op sy eie voete te staan nie.’

Ek draai dan maar my kop so half weg dat hulle nie die ergernis sien kepe maak tussen my oë nie. ‘Die kind is g’n bederf nie,’ praat ek maar teë in my kop, maar ek klap liewer nie my tong nie want dan wakker ek net hierdie vuur aan.

Genadiglik is dit gewoonlik die wat nog groen koring op die lande het, so ek weet hulle gaan nog self die pad stap, laat hulle maar praat. Ek tik die kind baie, maar ek wil nie altyd slaan nie. Ek sê baie ‘Nee, ek het nie,’ of ‘Mamma kan nie nou nie, maar as ek later sien jy was soet en ek het ietsie om af te knyp, dan sal mamma kyk of ons ʼn plan kan maak.’  

Nou wonder ek so by myself – die goed wat ek so vra as ek my hande vou om te bid saans, is dit bederfgoed wat ek vra? En as dit lyk of ek nie my sin gaan kry nie, is dit omdat ek stout was? Wat is Sy wil vir my? Is al die wille dan dieselfde vir al Sy kinders deur die bank, of sien Hy ons as individue raak? Elke saak word mos op sy eie meriete beoordeel? Of nie?

Jesaja skryf dan "Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne".

Al my dae was opgeteken voor die grondlegging van hierdie aarde, of is almal se dae dieselfde?

Ek is siek Here, hoor my tog en kry my, U kind, tog jammer asseblief. Ek kan nie meer nie, wees my dan genadig, My Vader, en genees my. Maar niks gebeur nie.

Wil Hy my nie red uit hierdie ding uit nie of leer Hy my om Hom lief te hê, te vertrou en te gehoorsaam al kry ek nie altyd my sin nie? Dalk later? Dalk glad nie?

Vir my maak dit geen saak nie. Ek het Hom lief omdat Hy my eerste lief gehad het. Ek wil Hom dank want ten spyte van my omstandighede sien ek Sy genade-hand in my lewe. Ek prys Hom wanneer ek daardie onverdiende bederfies kry waaraan ek eintlik net gedink het en nie eens voor gevra het nie.

Al bewe my hand en al struikel my voet, nogtans sal ek my vuis in die lug gooi want elke dag is ʼn oorwinning. So, as die Here wil, dan sal ek sing van Sy grootheid, juig oor Sy mag en hinkepinke opstaan en die nuwe dag nes ek is tegemoet gaan.

As die Here wil. Amen.

@Hanna 11 Feb. 2018


Donderdag 08 Februarie 2018

12 Ways to Create More Self-Love

Increase your CONFIDENCE by Changing Your THOUGHTS! POWERFUL VIDEO!

BETTIE EN DIE VRYLEKKERS

Bettie hou van vrylekkers. Van haar kleintyd af was sy verlief op elke lekkertjie wat sy uit die papierkardoesie haal. Hulle praat met haar. Hulle vertel vir haar die mooiste liefdesverhale van helde en heldinne in kastele en paleise. Eendag, weet sy, sal sy ook een van daardie heldinne wees.
Sy vergeet skoon dat sy by die werk is. Sy sit en sorteer hulle in hopies – pienk, geel, oranje, wit, en ligpers. Die pienk harte kom spesiaal op een hopie apart van die res. Hulle is die heel, heel mooiste. En hulle woorde is ook die heel, heel mooiste. Sy mag nog nie een van hulle eet nie, want eers moet hulle sorteer word en apart van mekaar gebêre word. Eers dan mag sy een van die oranjes eet.
“Juffrou Smit, hoe lank nog voordat ek die brief kry wat jy vir my moet tik? As dit te moeilik is vir jou, praat net. Daar is baie ander mense in die straat wat soek na werk.”
Sy skrik haar lam, want as die baas se stem klink soos hy nou daar klink, is haar moeilikheid geboek. Sy weet, want sy was al daar. Baie maal. Sy is net benoud vir die dag wat hy nie meer gaan waarsku nie, maar haar sommer in die pad gaan steek. Sowaar, mag daardie dag asseblief tog nooit kom nie.
Sy oortree haar eie reel en sit ‘n geel lekker in haar mond. Waarom, o waarom moet hulle sulke lekker lekkers maak? Haar ma is bekommerd oor haar figuur, maar wanneer sy vrylekkers kry, gee sy nie ‘n snars om vir wie ookal se figuur nie. Lekker is mos lekker!
Sy tik die brief gou klaar en skuif reg agter haar lessenaar. Solank dit lyk of sy besig is, sal die baas nie kla nie. Sy begin die vrylekkers sorteer. Geel, oranje, ligpers, wit, en laaste die pienkes. Nou word hulle weer ‘n keer sorteer, want die hartjies mag nie saam met die ander gebere word nie.
Sy pak al die hartjies in ‘n ry. Is dit nie lieflik nie! Kyk hier, hier is glad een wat sê ‘Trou met my’.
Sy giggel by haarself. Wie sal nou ooit vir haar so ‘n lekker met daardie toorwoorde gee? Wie wil in elk geval met Bettie Bos trou? Sy het Bettie Bos geword toe sy nog klein was en haar hare elkeen hulle eie rigting gestaan het. En vandag is sy nog altyd Bettie Bos. Nie Bossie of Bossietjie nie, sommer net Bos. Lelik.
Dis toe sy die hartjies begin sorteer, wat sy iets baie vreemd opmerk. Dit lyk kompleet of die letters op die lekkertjies al herderder word wanneer sy daaraan vat. Nee, sy verbeel haar dit. Dit kan nie wees nie, sy raak nou lekker laf. Sy giggel saggies vir haar eie lawwe gedagtes.
Kom kuier by my. Ek droom van jou. Jy is pragtig. Soen my. Ek het jou lief. Trou met my.
Haar asem jaag. Haar ore gloei van opgewondenheid. Dis kompleet of hierdie lekkertjies met haar praat. Nee, dit kan nie wees nie. Sy vee die lekkers van die tafel af in haar ander hand en gooi dit sonder seremonie in die sakkie. Sy moet sowaar haar kop laat lees, hoor. As Ma moet weet van die lekkers wat nou met haar praat, koop sy sowaar nooit weer vir haar vrylekkers nie. Ma stuur altyd vir haar vrylekkers van die dorp af, want hier in die stad kry ‘n mens dit glad nie meer te koop nie.
            Vir die res van die namiddag probeer Bettie Bos nie na die lekkers kyk nie. Sy is baie lus vir een of twee, maar sy het besluit om hulle eers uit te los. Nee, sy kan nie dat iets soos ‘n vrylekker haar kop vir haar kom omkrap nie.
            Die baas is baie in sy noppies toe sy sommer nog drie ander briewe ook klaar tik en vir hom vat om te teken. “Haai, en toe? Wat het vandag met onse Bettie gebeur? Jy is regtig ‘n voorslag as jy die slag lus voel. Baie dankie, Juffrou Smit.”
            Ai, net toe sy dink die baas gaan uiteindelik vergeet van ‘Juffrou Smit’, toe is hy weer terug daar. Hy is regtig soms ‘n pyn in die arm. Hy is vir haar so bitter mooi, maar ai, hy is so dom met vroumense! Kan hy nie sien hoe lief sy vir hom is nie?
            Toe sy die volgende oggend by die werk kom, wag die baas reeds vir haar in sy kantoor. Hulle moet praat, sê hy.
            Sy bewe so groot soos sy is. Is dit vandag die dag dag hy haar gaan wegjaag? O hemeltjie tog, wat sê sy vir haar ma? Haar pa sal haar sowaar dwing om terug huis toe te trek en dit sal die einde van haar lewe beteken.
            “Meneer, gee my asseblief nog net een kans. Ek belowe ek sal van nou af harder werk. Asseblief, Meneer,” prewel sy saggies.
            Hy kyk verbaas na haar. Wat gaan in die vroumens se kop aan? Wie het nou ooit gedink om haar weg te jaag? Wat sal van hom en sy kantoor word sonder Bettie?
            “Ai, Bettie, waarom moet jy so dom wees?” vra hy laggend. Hy gaan sit op die rand van die lessenaar, heeltemal te na aan Bettie. Sy skuif ongemaklik ‘n klein endjie terug.
            “Bettie, kyk vir my,” sê hy dringend.
            Sy kyk op en sy kan sweer sy oë praat die woorde wat die lekkers gister met haar gepraat het. Sy skud haar kop en knip haar oë ‘n paar maal om net mooi helder te kan kyk. Nee, sy moenie nou aan die lekkers en hulle stories dink nie, sy moet luister na wat die baas met haar wil praat.
            Hy steek sy hand in sy sak en haal sowaar ‘n vrylekker uit. Hy hou dit uit na haar toe. “Kyk, jy het gister hierdie een laat val en ek wil dit graag vir jou gee.
            ‘Trou met my,’ skree die lekker vir haar.
            Skaam-skaam vat sy die lekker uit sy hand. Sy lees die woorde oor en oor voordat sy dit in haar mond druk. Toe sy opkyk na hom toe, sit hy met nog ‘n lekker in die hand.
            ‘Ek is lief vir jou.’

            

Dinsdag 06 Februarie 2018

HASIE, DIE BEHEERVRAAT, LOOP HAAR VAS

Wat is 'n beheervraat? Ek het gaan naslaan en die volgende antwoord gekry:
'n Beheervraat is 'n neerhalende term vir 'n persoon wat poog om te dikteer hoe alles rondom hom gedoen moet word.[1] Die woord is vir die eerste keer in die laat 1960's geformuleer[2] — 'n era toe spanning met beheergevegte geassosieer is by persone wat poog om ander mense se optrede te beïnvloed.[3]
Beheervrate wil tot elke prys in beheer van ’n situasie wees. Hulle is meestal perfeksioniste wat wil hê dat alles nét reg moet wees. Hulle stel gewoonlik nie belang in ander se menings nie, behalwe as daar met die beheervraat saamgestem word. So 'n persoon kan byvoorbeeld vergaderings oorneem, die heel tyd in werknemers se nekke afblaas, of konstant sy lewensgenoot kritiseer en afbreek.
Persone wat hieraan lei voel normaalweg onderliggend angstig en onseker van hulleself. Dit manifesteer as die persoon voel dat hy nie in beheer van sy lewe is nie, en dan oorkompenseer deur alles rondom hom te probeer beheer.
Related image
Hasie is ‘n bekommerde wese. Koning Leeu het ‘n boodskap gestuur dat al die diere van die veld namiddag bymekaar moet kom onder die groot boom langs die waterkuil. Niemand weet presies waaroor die gaan nie, maar Hasie weet dit het met haar te doen.

Die ding het ‘n tydjie terug gebeur. Almal was tevrede en rustig, maar skielik het almal na Hasie begin staar. Eers het sy gemaak of sy dit nie sien nie, maar later, toe dinge te erg begin raak, het sy op ‘n dag met Meerkat gaan gesels.

“Meerkat, kom sit hier voor my. Nee, sit plat en luister na my.” Meerkat vervies haar bloedig, want dis ‘n ou ding van Meerkat om so baasspelerig te wees teenoor almal.

 “Wat is dit met julle almal? Dit voel kompleet vir my julle skinder agterlangs van my.”

Meerkat het ge-hierdiekant en ge-daardiekant, maar later moes sy maar uitkom met die waarheid.

“Jy sien, Meerkat, ons het gehoor dat Boer se vrou ons almal gaan doodmaak.”

Hasie sit ‘n tydjie en dink voordat sy antwoord. “Nou wat het dit met my te doen? Waarom laat julle my skuldig voel oor iets waarvan ek tot nou toe niks geweet het nie?”

Meerkat is nou baie versigtig, want sy het al te doen gekry met Hasie se vurige humeur.

“Hasie, dit is nie dat ons dink jy het ietsie verkeerd gedoen nie, hoor. Dis net...”

Hasie wag nog dat Meerkat klaar praat, toe is Meerkat weg. Daar hang nie eens ‘n stoffie in die lug nie, so vinnig is sy daar weg.

Hasie skud haar kop en stap aan. Daardie Meerkat sal maniere geleer moet word, besluit sy. Sy gaan huis toe en, soos haar gewoonte is, gaan staan sy eers voor die spieël en bewonder haar spierwit stertjie. Sy waai hom so effentjies deur die lug en gooi nog ‘n bietjie wit poeier op. Haar stertjie is haar trots!

Nou skree sy op die kinders omdat die huis so deurmekaar is. Haar man kom ook verby, want sy het hom mos uitdruklik gevra (of gesê?) om die ingang na hulle huisie weer ‘n slag op te vul nie? Genugtig, moet sy altyd met almal sukkel? Waarom het niemand ore nie? Is dit dan net sy wat hou van orde?

Opeens weerklink Leeu se brul deur die bos. Almal weet hulle moet nou vergadering toe gaan, maar Hasie ignoreer die oproep. Sy laat haar nie hiet en gebied nie, selfs ook nie deur Leeu nie. Hy het gesê namiddag, en nou is dit nog nie namiddag nie. Besef hy nie dat al is jy die koning van die diere, jy moet hou by jou tye nie? Sy is besig en het nie nou tyd vir onsinnige vergaderings nie.

Meneer Haas het mooi gepraat en gedreig, maar Hasie gee nie bes nie. Toe Leeu die derde brul gee, gryp Meneer Haas vir vroutjie aan haar pragtige stertjie en sleep haar vergadering toe.

Leeu het nie lus vir baie praat nie. “Hasie, Meneer Boer se vrou soek ‘n poeierkwassie. Jy moet jou stertjie gee dat ons ander veilig kan wees.”

Sy spring regop en vertel vir Leeu presies wat sy van hom en al die ander onopgevoede diere dink. So nooit as te nimmer sal sy haar stertjie afstaan nie. Oor haar dooie liggaam!

Leeu verduidelik mooi vir haar dat hulle almal se lewens in gevaar is. Boer is van plan om almal dood te skiet uit pure frustrasie. Sy vrou kerm dag en nag oor ‘n poeierkwassie en Hasie se stertjie is perfek – so skoon en spierwit! Dit behoort vir haar ‘n groot kompliment te wees, dan nie?

“Nee! Ek sal dit nie doen nie. My stert is my stert en ek deel dit met niemand nie. Net soos my huis my huis is. Die wortelbedding in Boer se tuin is ook myne, julle dink verniet ek het nog nooit gesien hoe steel julle my wortels daar nie. As julle dit net netjies sal los agterna, maar moenie glo nie! Sowat van chaos... Ek hou van orde en dissipline, maar dit lyk my iemand van julle kan dit in julle koppe kry nie.”

Nou val sy sommer vir Koning Leeu ook aan. “Wat het geword van jou beplanning? Waarom moet ons op die hitte van die dag hier kom staan en vergadering hou? Geen dier met selfrespek laat hom so mors nie! Kry ‘n slag jou dinge reg, dan sal dit ook beter met ons almal gaan.”

Die hele skare is doodstil. Leeu is woedend. Hierdie beheervraat van ‘n Haas het nou een te ver gegaan.

Met een wink van sy poot staan twee vlakvarke weerskante van Hasie. Sy wil haar nog vervies vir die twee se stank, toe is alles oor. Met ‘n vinnige kap van die groot voortande lê Hasie se stertjie eenkant.

Almal juig en skree, want hulle is nou veilig.

En Hasie? Sy is verwond – die ego meer as die lyfie waar die stertjie afgekap is. Om te dink dat niemand kan sien sy is ver beter as hulle almal nie. Wat ‘n vernedering!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------


KYK GERUS OF JY OOK ‘N BEHEERVRAAT SOOS ONSE HASIE IS.

Beantwoord hierdie vrae om te kyk hoe oop jy vir oorgee is:
1. Ek erken dat ek nie alles kan beheer nie.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
 2. Nadat ek my bes gedoen het om iets te laat gebeur aanvaar ek die uitkoms sonder ’n stryd.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
3. Ek is in staat om liefde te gee en te ontvang.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
4. Ek voel suksesvol afgesien van my werk of bankrekening.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
5. Ek is fisiek aktief, want dit voel goed en ek wil gesond bly.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
6. Ek gebruik my intuïsie om my moeilike besluite te help neem.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
7. Ek laat myself pyn en hartseer ervaar sonder om my gevoelens te onderdruk.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR
8. Ek kan erken wanneer ek verkeerd is.
MEESTAL WAAR         |           MEESTAL ONWAAR

Wat jou antwoorde beteken:
Om jou telling te kry, tel die kere wat jy “meestal waar” geantwoord het bymekaar.
7-8 = Jy het algehele vertroue in jou intuïsie.
4-6 = Jy vertrou oor die algemeen dat dinge uiteindelik sal uitwerk.
3 of minder = Jy sukkel om beheer van situasies oor te gee.
0 = Jy vind dit baie moeilik om beheer op te gee.



OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...