Vrydag 17 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE: EK IS DOM ...

 

So ‘n week of twee was dit weer dáárdie tyd van die jaar: Rapporte kom van die skool af huis toe ...

My seun stuur sy dogtertjie se rapport vir Ouma en dit is te mooi om te sien hoe sy deur die jaar gegroei en verbeter het. Ouma is opreg trots op die kleine kind!

Toe badtyd kom, is my gedagtes oral behalwe by rapporte, glo vir my. Ek meen te sê, ek is oud genoeg om nooit weer ‘n rapport te kry nie en my kinders ook. So, waarom sou ek my verknies oor so ‘n bose ding soos ‘n rapport?

Maar helaas, met die salige waters so rondom my, wil my kop nie vanaand maak soos ‘n hom wil laat maak nie. Hy wil al weer skuins neuk rapporte se kant toe ... en toe los ek hom maar dat hy gaan waar hy wil gaan.

Jy sien, Martha Maria was nooit die skerpste potlood in die pakkie nie en géén onderwyser het ooit die kans verby laat gaan om my nie daaraan te herinner nie. En hoor vir my, ek lieg nie nou vir jou nie.

My ma het ons rapporte getrou gebêre en aan die einde van elke liewe kwartaal, skryf elke liewe onderwyser dieselfde ding: Martha doen goed, maar sy kan baie beter doen.

So, daar het jy dit nou: Martha het haar lewe lank lyf weggesteek ... of het sy?

Dit was in die jare toe die IK-toetse die begin en die einde van alles was. Elkeen wat in daardie jare in die skool was, het geweet dat jou hele menswees gemeet is aan die uitslae van hierdie toetse. Is daar ‘n klomp vrae waarvan jy die antwoorde nie weet nie, gaan al die onderwysers glo jy is dom.

Ek het op Mieliestronk.com gaan kyk wat presies die intelligensie-kwosiënt nou rêrig is. Hier is hulle antwoord daarop:

IK of Intelligensie-kwosiënt is ’n syfer wat die verhouding uitdruk tussen ’n persoon se verstandelike vermoëns en dié van die normale, gemiddelde persoon. Dit word deur middel van toetse met ’n reeks vrae vasgestel. Die eerste toetse is in 1905 deur Binet en Simon ontwerp, en die doel was om kinders te identifiseer wat spesiale onderwys sou kon nodig hê weens hul lae intelligensie.

Al die jare loop ek gebuk onder die las wat op my gelê is: Martha is dom! Vreemd dat ek nooit besef het dat hulle my eintlik beskuldig dat ek lui is nie, ha?

Mettertyd het ek egter die insig ontwikkel om te weet dat dit nie regtig waar is nie. Ek weet dat ek weet dat ek weet dat ek altyd my bes gedoen het. Die feit dat ek elke keer met die rapport langs Pa moes staan en verduidelik waarom ek nie my beste gee nie, het ek al min of meer verwerk en vergeet – Pa het nie geweet nie, daarom het hy nie deel daaraan gehad nie.

Dan lees jy die volgende stelling deur wie weet wat raak en dit slaan jou teen die voorkop: Almal was verkeerd! Almal wat hulle vingers na jou toe gewys het, kan maar los, want hulle was te dom om self te weet.

 “Everybody is a genius. But if you judge a fish by its ability to climb a tree, it will live its whole life believing that it is stupid.”

Nou wonder jy seker waarom ek die tyd gemaak het om hierdie seer storie vir jou te vertel?

Ek vertel dit vir jou sodat jy daardie las van jou skouers af kan gooi soos ek dit gedoen het. Gooi hom af en leef jou lewe in vrede.

Nie goed genoeg nie? Nie mooi genoeg nie? Nie slim genoeg nie? Nie maer genoeg nie? Nie ... nie ... nie ... nie! NIE!!!!!

Hei, my maat! Wie het die standaarde bepaal waarvolgens jy jouself meet? Jy? Jou ma? Jou juffrou? Jou man?

Ek vra maar net.

Maandag 13 Desember 2021

OU AAND SE DINKGINGE: EK WIL(!) ONTHOU


Gisteraand was weer een van dáárdie aande – so saam met die terug sak in die saligheid, stroom die gedagtes soos ... soos wat? Nie die wilde perde nie, ook nie soos stormwaters nie ... rustige ... salige ... warm om die hart gedagtes.

Ek lees anderdag iets raak. Die persoon skryf hy wil tog nie hierdie tyd van die jaar dink en onthou nie. Jy sien, die sentiment en die hartseer en alles van die verlede is net te veel vir een persoon om te dra.

Ha-a! Nie ek nie. Ek WIL onthou! Ek WIL daar gaan loop waar die spore al half toegewaai het. Ek WIL die mooi en die lekker SAAM met die seer en die sleg onthou. Ja, ek wil!

Ek hoor jou mor: Ag nee wat, Martha! Vir wat wil jy by die seer en die sleg loop skuur? Dis dinge wat ‘n mens wil vergeet en wat jou tog in elk geval nie goed doen wanneer jy vir gedagtetjie uit die boks uit haal en afstof en oopmaak en bekyk en bedink nie.

Ek is mos maar ‘n anderster siel, jong! My kop werk op vreemde maniere en vreemde laat my op vreemde tye so geborge en tevrede voel. 

Maar terug na daardie dinkdinge wat so kom nesmaak het ...

Die ou wat nie wil dink nie ...!

 Kersfees op die familieplaas. Ses volwasse kinders van die Oupa en Ouma, met hulle gades en kinders. Weet jy hoe klink so ‘n huis met soveel mense op een slag? Weet jy hoe kan dit raas? Weet jy hoe kan dit eet?

Vir ons as kinders was dit die lekkerste lekker wat jy kan beleef. Die ooms speel saam met ons blik aspaai, die tannies kook kos en die Oupa en Ouma sit salig en slaan alles gade. Na al die opwinding van die, soos ons dit geken het, Oukersaand, het ‘Ou Vader’ doer uit die veld uit gekom met die groot, koperklok en sy flitsie. Dan storm ons sitkamer toe en sing kersliedjies en wag vir die ou gryse om sy opwagting te maak. 

Die samesyn. Die liefde. Die ‘behoort’ tussen jou eie mense. Die wete dat hierdie lekkerte nooit, ooit sal ophou nie. Wat meer kan ‘n kind vra?

En tog het die lekkerte mettertyd opgehou. Die oues is dood. Die kinders is groot. Hulle kinders is ook al groot en van hierdie kinders en hulle kinders is ook al dood. Hartseer, ja. Maar onthou, wil ek onthou! Ek wil daardie warm liefde van my eie mense onthou en koester en bewaar in my hart.

Ons Koppie en oom Peter wat Ein treuer Husar sing as Nanna die klavier speel. Ouma wat in haar gasvryheid vir ‘n Duitse besoeker probeer verduidelik watter deel van die pastei die lekkerste is: “Skep hier waar dit so braun iess.” Magata en Josef wat altyd vir Kersvader verduidelik het watter soet kindertjies hulle deur die jaar was. Lida en Koeks en Adri wat Ouma se kosbare roklap stukkend sny om vir hulle bikini’s te maak. Ons kleintjies wat Ouma se sitkamermeubels spring dat hoor en sien vergaan. Vanaand se gaan slaap in die krismisbed saam met die niggies met jou geskenkies styf teen jou hart. Oupa wat laat namiddag langs die koeler roep dat ons moet kom waatlemoen en turksvye eet.

Ek kan aan- en aan- en aanhou tot in lengte van dae. Jy sien, ek WIL onthou en ek WIL dit beleef ... saam met die einas wat intussen gekom het.

Dinsdag 07 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE - ONS JAAG BIDUUR TOE!

 

Om saam met my pa op die plaas te ry, was ‘n belewenis. Onthou nou net, ‘plaas’ beteken binne-in die Namib met sy mooi, rooi duine.

Geen duin, geen opdraand of afdraand was vir Pa te veel nie. Ek moet byvoeg dat as ‘n mens daardie paadjies wat jy (die meeste van hulle) self uitgery het en pad gemaak het, dan sal dit seker nie ‘n probleem wees nie, sal dit? Pa het hulle gery met die selfversekering wat dit ‘n meester van alle paaie betaam. Dit  het soms vir my gevoel of hy nooit gerem of stadiger gery het nie – met die spoed wat hy wegtrek, jaag hy voort tot waar ookal en weer terug.

‘n Dag wat ek nooit, ooit sal vergeet nie, was die dag wat ons op pad was na ‘n ander plaas toe waar die dag biduur gehou sou word. Maar kyk, daardie dag was ons so ‘n effentjies laat en moes ou Adderjan so ‘n klein bietjie ekstra natgooi.

Die paadjie is klipperig en vol slote, maar ons storm voort. Hy swaai en swenk ... om die klippe ... oor die klippe ... deur die rivierlopie ...oor die bulte en deur die laagtes. Soms is die bosse gevaarlik na aan die pad en moet hy mooi mik om nie sy kar te krap nie.

Ma was nie daardie dag in ‘n baie goeie bui nie. Wat gepla het, maak seker nou ook nie meer saak nie.

Sy sit voor langs Pa – stokstyf en gespanne met die onderlip vasgebyt. Ek het haar dopgehou en het geweet dit gaan een of ander tyd te veel raak vir haar.

Opeens bars die bom: “Moenie so jaag nie!”

Hy vra doodluiters, sonder om stadiger te ry, natuurlik: “Nou hoeveel jaag ek?”

Hy het baie goed geweet dat sy nie daar waar sy sit die spoedmeter kon sien nie! Daarom dat hy so ‘n vermakerige vraag kon vra.

Al wat Ma kon sien, was die aantal revolusies van die motor en sonder huiwering antwoord sy: “Twee duisend!”

“Ek het so gedink, ja,” antwoord Pa doodluiters.

Saterdag 04 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE - DIE DAG VAN DIE SONDE

 

Ek wonder darem wat het van Meneer H en die tannie geword? Sou hulle dalk nog lewe? Hy was darem regtig baie goed vir my, dink ek met ‘n sug toe ek terug lê in die salige waters.

En toe tref die dag met die sonde my mos!

As jy weet wie Suster Theresa, Mark Condor en Ruiter in Swart is, weet ek hoe oud jy is. As dit nie ‘n klokkie by jou lui nie, moenie te veel daaroor wroeg nie, hoor. Dit maak nie so baie saak nie.

In elk geval, dit was in die jare voor TV, selfone, rekenaars en alles wat die lewe beter en vinniger en makliker maak. Ons het buite gespeel, heeldag fiets gery, skelm in die bure se dam gaan swem ... en baie gelees! Hoe anders kry jy die tyd om? Jy lees alles wat jy jou oë op kan sit.

Op ‘n dag kom een van die koshuismaatjies van die huis af ná die uitnaweek. O, wat ‘n wonderlike, heerlike gebeurtenis was dit nie. Sy haal hierdie boekie met groot fanfare uit haar koffer uit en wys dit vir haar beste maatjie. Ons ander staan op ‘n afstand en begeer om ook te kan sien ... ook die boekie in ons hande te kan hou ... ook net een woordjie daarin te kan lees.

Dit was die begin van die era van die fotoverhaal boekies.

Nou moet ek net eers vir jou vertel van hierdie boekies. Om een of ander rede het die meeste van ons begeer om dit te lees, maar sou dit nooit ruiterlik erken nie. Want, jy sien, hierdie boekies was so half as ‘’n sonde’ gesien. Moenie vir my vra waarom nie, want ek sal jou nie kan antwoord nie. Ek weet net dat ek so nooit as te nimmer vir my ma of pa sou vra om vir my so ‘n boekie te koop nie! Dit was in die selfde kategorie gesien as om te swem op Sondag of jou hare te was op Sondag – jy doen dit eenvoudig net nie!

Mettertyd het hierdie sonde-boekies meer en meer geword in die koshuis, maar die geleentheid om een van hulle te kon lees, was baie, baie min. Tot op ‘n dag ...!

Daardie jare was dit glad nie snaaks dat twee standerds in een klas is nie. Ek was in standerd 3 en ons was saam met standerd 4 in die klas. As Meneer met standerd 4 besig is, moet ons ons werk doen en omgekeerd.

Op ‘n goeie dag kry ons weer werk om te doen terwyl Meneer met die standerd 4 klas besig is. En wat gebeur? Die kind wat langs my sit, het wonderbaarlik so ‘n sonde-boekie in haar tas en is so wragtag bereid om dit vir my te leen.

Ek vergeet van die wêreld rondom my. Ek sit vir sonde op my skoot en begin lees. So, so, so vreeslik mooi is hierdie Mark Condor en nog mooier is die meisie in sy lewe. Ek vergeet van alles rondom my. Ek vergeet om asem te haal. Ek vergeet om te luister wanneer Meneer weer met ons groep praat. Ek vergeet van die hele mensdom rondom my.

En toe tref die ellende my!

“Martha!”

Meneer staan langs my bank met sy hand uitgestrek na my om sonde vir hom te gee.

My hele wêreld gaan staan. My ore slaan toe. My hart hou op met klop. My lewe het nie meer sin nie. Want sien, nou sal ek nooit, ooit die einde van hierdie storie kan lees nie.

Meneer praat nie. Hy vat die boekie in die een hand en wys vir my ek moet opstaan. Presies daar waar ek so pas gesit het, sit hy sy een voet op die stoel. Hy tel my oor daardie been van hom en gee my drie ordentlike houe op my sondige ‘behind’. Hy tel my weer af van sy been af, draai om en loop na sy tafel toe.

En ek? Ek kan sowaar nie onthou hoe ek weer op my plek gaan sit het en wat die res van die klas se reaksie was nie. My enigste wete was dat ek nou vir altyd en ewig sou moes wonder of Mark Condor toe die slegte ou uit die weg geruim het of nie.

Vrydag 03 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE

 


Jy kan met my saam praat oor daardie laatnag ure wat die gedagtes jou pak en net nie wil laat los nie. Wat jy ook al doen of nie doen nie, jou kop het sy eie pad wat hy wil loop en jy kan net sowel maar saam loop ...

Ek hou daarvan om te gaan bad net voordat ek bed toe gaan. Is dit twaalfuur of eenuur in die nag, dit maak nie saak nie. Ek kry net eenvoudig nie my lê in die kooi as ek nie eers deur die waters is nie.

Ek sien jy skud jou kop – jy bad in die oggend en voel vars en fris vir die dag. Maar ja, dit maak nie baie saak hoe ons dit doen nie, skoon kom ons mos darem skoon.

Dis nou as ek so terug gaan lê in die salige waters, dat die gedagtes mos soos wille perde op my af storm. Soms is dit mooi wille perde, ander kere is dit wille perde wat moeilikheid en trane soek.

Jy ken hom mos ook, man. Dis nou daai ding van die onthou van hoe jy jou kind amper verongeluk het omdat hy nie ore het nie. Neuk hom dat hy ore kry! het jy daai tyd geglo. Vandag glo ek so ‘n bietjie anders, maar helaas! Dit is nou te laat om te probeer verander daaraan.

Die bad en die salige waters en die lampie met die lavender kersie op die rand van die bad – niks help om die wille, moeilike onthou-perde weg te gejaag te kry nie. Jy lê stokstyf in daai waters en beleef en herleef en wat alles elke oomblik van daardie drag slae wat die kind (so dink jy nou!) nooit moes gekry het nie.

Klim jy more-aand in die waters, is dit perde van ‘n ander kleur. Jy onthou die mooi en die goed en die lekker en die waters raak sag om jou. Jy sweef in jou onthou-wêreld en lag later kliphard vir die lekkerte van die onthou.

Sulke tye wens ek dat daar nog ‘n siel saam met my wakker is sodat ek kan vra: Onthou jy dié en daai? Onthou jy hoe lekker dit was? Onthou jy die siel saligheid van daardie tyd?

Maar ja, naguile is alleen uile, my maat. Die onthou moet ek maar alleen onthou en (soms) alleen wroeg en (ander kere) alleen geniet.

Ek wil graag in die weke wat kom sommige van hierdie ounag se onthou met jou deel ... maar nét as jy belowe om dan jou ounag onthoue met ons ook te deel.

Laatnag groete

M

 

Dinsdag 05 Oktober 2021

VREEMDELING. HOOFSTUK 2


 

Petrus storm by die klas in. Hy sopnat gesweet en moeg. Hy prewel ‘n verskoning in die rigting van die onderwyser en gaan sit op die enigste oop stoel in die klas. Moet dit nou wragtag heel voor die in die klas wees? Hy hoor vaagweg hoe die kinders agter sy rug sit en giggel.

“As dit mý eerste dag in ‘n nuwe skool was, sou ek ten minste betyds probeer wees het,” brom die onderwyser. “Maar, ja, ons is mos nie almal dieselfde nie, is ons? Hier het jy so pas bewys dat jy nie soos ek dink nie.”

Nou lag almal kliphard. Petrus smyt sy tas langs hom neer, maar antwoord nie. Hy kyk nie op nie, anders sou hy sien dat die onderwyser eintlik met hom ‘n grappie probeer maak het. Sowaar, as dit nie vir sy ma was nie, het hy nou sy goed gegryp en geloop. Hy weet egter dat sy ma sommer die polisie op hom sal sit as hy dit durf waag om weg te loop. Ja, sy ma is nie ‘n antie om mee te sukkel nie, daarvan is hy deeglik bewus.

‘n Maand terug ... nee, hy wil tog net nie nou daaraan dink nie. Kan dit regtig net ‘n maand wees? Daar het soveel intussen gebeur dat dit liewer voel soos ‘n jaar of langer. Shit, as Pa net nie ...! Hy skud sy kop verwoed en probeer fokus op die onderwyser wat intussen met sy les begin het.

“Mense, Graad nege is nie ‘n grap nie. Die tweede kwartaal is al fluks aan die gang en julle weet nog niks! Ek verwag van jou om jou formules te leer en jou huiswerk daagliks te doen. En,” hy kyk die kinders een-een in die oë, “vra tog maar as jy nie verstaan nie, man! Vra was nog nooit ‘n sonde nie.”

Die man se stem gaan aan en aan, maar Petrus hoor hom nie. Sy kop het nou eenmaal ‘daardie’ pad gekies vanoggend en niks kan hom nou keer nie. Hy skud sy kop en vryf sy oë in ‘n poging om op die onderwyser te probeer fokus, maar dit is ‘n vrugtelose poging.

Dit was een van daardie aande wat almal gelag en gesels het. Pa was in ‘n goeie bui en hulle het sit en bordspeletjies speel op die gras. Ma het gaan koeldrank ingooi en Pa het nog lag-lag gekerm dat hy eerder ‘n bier sou wou hê.

Skielik het Pa stilgebly en spierwit om die mond geword. Ma wou nog vra wat’s fout, toe hoor hy dit ook: sirenes. Eers het niemand daaroor getraak nie, want hulle hoor dit dag in en dag uit. Die sirenes het nader en nader gekom en was vir ‘n oomblik oorverdowend. Ma het vies gekla dat dit darem nou heeltemal te erg raak op straat, maar toe spring Pa op en hardloop die huis in.

Eers dog hy Pa maak grappies en gaan aan die lag. “Pa, moenie vir jou laf hou nie, man.”

“Hou jou bek, Petrus, hierdie is nie grappies nie. Kan jy nie sien die cops staan in ons voorhek nie?” het Ma gesnou.

Hulle het nie baie gepraat nie. Hulle het Pa uit ‘n hangkas uit gaan sleep. Hulle het alles in die kaste op die vloer gegooi. Dit was duidelik dat hulle na iets soek, maar na wat?

“Los uit my goed, julle varke!” het Ma geskree.

Die grootste polisieman het haar aan die arm gegryp en gedreig: “As jy nie nou ophou nie, is jy vanaand saam met hom in die tronk, vroumens!”

Die wit sakkies poeier was in sy pa se kerkpak se sakke weggesteek.

“Fok, Pa! Hoe kan jy dit aan ons doen?” het hy gegil. “Is jy bedonnerd?”

Hy wou sy pa aan die keel gaan gryp, maar het homself bedwing en op ‘n afstand bly staan.

O, liewe Here, hulle het hom met die knuppels geslaan en geslaan en geslaan. Sonder einde het die houe geval. Die kasdeur wat heen en weer swaai, het geklink soos geweerskote. Pa se gille. Pa se verskriklike gille. Hulle wou nie ophou nie. Selfs toe hy wat Petrus is, bo-oor hom gaan val, het hulle nie opgehou nie.

Toe sy pa stil word onder om, het hy eenkant toe gerol. Pa se oë was toe. Die asem het geroggel uit sy bors uit. Hy wou hom help. Hy sou so graag wou help, maar hulle het hom gesleep-dra tot by die van. Hy kon nie self inklim nie. Hy wou nie kyk hoe hulle hom ingooi agterin nie. Hy kon nie kyk nie. Hy was te veel van ‘n sissie.

Hy het staan en kyk hoe ry die motor met die blou ligte af met die straat en om die draai. Hy sou so graag liewer dood wou wees. ‘n Ellende, so groot en geweldig soos die hele aarde, het in hom kom nesmaak.

Pa. Is. In. Die. Tronk. Pa. Is. ‘n. Dwelmsmous.

Ma het verstar bly staan en Dorene het soos ‘n maer kat aan die skree gegaan.

“Hou donnerswil net op met tjank!” was al wat hy vir haar kon sê. Eintlik het hy begeer dat hy ook soos sy kon gil en skree en tekere gaan.

Een of ander tyd moes die klok gelui het. Hy kyk op en sien hy is alleen in die klas. Net hy en die onderwyser. Hy staan verleë op en maak sy goed bymekaar om te loop.

“Net so ‘n oomblik,” keer die onderwyser hom. “Dit lyk mos vir my iets pla jou. Wil jy met my daaroor praat?”

Petrus trek sy skouers regop en antwoord astrant: “Ek het g’n probleme nie. Wat laat Meneer so dink?” Hy draai om deur toe en antwoord oor sy skouer: “Ek is fine, Meneer. Ek is fine.”

Nee, Meneer, eintlik is ek nie fine nie, maar dit sal ek nooit vir jou sê nie. Eintlik sal ek nooit weer fine wees nie, maar wat traak dit jou hoe ek voel? Wie traak oor hoe dit voel om te weet jou pa, jou held van alle helde, sit in die tronk? Nee, Meneer, uit my uit sal jy dit nooit kry nie. Jy kan maar daarvan vergeet.

Die dag draal verby. In elke klas besef hy net meer en meer dat dit byna onmoontlik is om op hierdie stadium van die jaar die verlore werk te probeer inhaal. Dit sou soveel beter gewees het as hy daar in die Kaap kon bly en eers die jaar voltooi, maar verdomp of sy ma wou toegee!

Die klok lui aan die einde van die laaste periode en ‘n seun stamp liggies aan hom. “Kry jou buite by die hek.”

“Vir wat?” vra hy agter die seun aan. Die kind antwoord hom nie.

Petrus is nie van plan om enigiemand by die hek te kry nie. Hy is haastig om weg te kom van hierdie plek af. Vanaand is die aand wat hy en sy ma sal moet praat. Waarom moet hy skool toe gaan as hy in elk geval weet hy gaan druip? Die laaste rapport wat hy in die Kaap gekry het, was vol rooi kringe. Wat verwag sy ma van hom? ‘n Wonderwerk? Gmf!

Hy sien die seun by die hek staan en wag vir hom, maar hy ignoreer hom. Hy het nie lus vir geselskap nie.

“Hei, ek het mos gesê jy moet vir my wag,” kom hy agterna gedraf.

“En ek het jou nie geantwoord nie, het ek?”

“Ek is Djoster[1] Wat is jou naam?” vra die kind vriendelik. Dit is duidelik dat hy Petrus van naderby wil leer ken.

Petrus gaan botstil staan en kyk die lastige seun in die oë. “Ek is Petrus Lambert. So, nou weet jy wie ek is. Noudat jy weet, wat wil jy daarmee maak?”

Afgehaal draai Djoster om en kies sy eie koers. Watter vlieg sou oor hierdie ou se lewer geloop het? Stupid ding!

Petrus loop koponderstebo die straat af. Dis die mislikste plek met die mislikste skool wat sy ma uitgekies het om in te kom bly. Liewe hemel, kon sy nie aan ‘n ander plek gedink het om te gaan bly nie? Daar is soveel plekke in Suid-Afrika waar hulle sou kon gaan bly, maar nee, ‘Keetmanshoop is ons toekoms, my kind.’

Toekoms? Watter toekoms?

Petrus stap by hulle nuwe blyplek in. Hy is op die oorlogspad. “As Ma net probeer werk kry het daar in die Kaap, maar nee! Nou moet ons hier kom vergaan van ellende. Besef Ma hoe dit voel om hierdie tyd van die jaar in ‘n nuwe skool te begin? Nee, natuurlik nie. En wie gee nou eintlik om?”

Sy ma antwoord hom nie; dit sal tog nie help nie. Sy wonder self waarom sy hom nie maar ook by die familie in die Kaap gelos het soos vir Dorene nie. Maar sy weet hoekom nie: Dorene is die stil een; die harde werker. Dit is baie meer as wat sy van Petrus kan sê.

“Hier is vir jou ‘n broodjie en koffie, my kind,” bied sy aan.

Hy ignoreer die skinkbord wat sy na hom toe uithou. “Is dit hoe ons etes van nou af gaan lyk, Ma? In die oggend is dit koffie met brood en in die middag is dit brood met koffie. Dis nou ‘n wonderlike spyskaart wat Ma uitgedink het, sowaar. Wat is daar vir vanaand? Koffie of brood?”

Hy kan sien dat hy sy ma kwets met sy woorde, maar dis asof hy homself nie kan keer nie. Hy is kwaad en hy wil hê dat almal dit moet weet. Iemand moet betaal vir hierdie mislike gevoel wat hy saam met hom in sy hart dra.

Toe sy ma uiteindelik die lig afsit, hoor hy dat sy huil. Al wat hulle twee van mekaar skei, is ‘n bont gordyn. Die kamertjie is te klein vir meer meubels – die twee beddens, ‘n klein kombuistafel met ‘n tweeplaatstofie en ‘n paar stoele. Die stort en toilet is, dank Vader, apart. Dit is nou wel buitekant op die stoep, maar dit is beter as niks.

Die plek ruik benoud. Sy ma is paranoïes oor rondlopers en vreemdelinge, dus staan die deur nooit oop nie. Die enkele klein venstertjie wat daar is, is te min om genoeg vars lug te voorsien. Jig! Hoe slaap ‘n mens in so ‘n benoude plek?

“Ma, kan ons asseblief die deur oopmaak? Ek kan nie slaap nie, dis te bedompig hier binne,” kla hy.

“Petrus, wat wil jy maak as jy vannag wakker word en hier staan ‘n mens met ‘n mes voor jou bed? Nee, natuurlik gee jy nie om nie, ek weet. Meer nog, wat wil jy maak as jy opstaan en ek lê dood hier?” antwoord sy temerig.

Hy antwoord haar nie. As sy klink soos sy nou klink, kan sy maklik aanhou kerm tot die son opkom. Hy staan saggies op en gaan sit ‘n rukkie buite op die trappie. Die nag is warm en drukkend. Dit lyk of dit gaan reën.

Sy snork soos sy slaap toe hy terug in sy bed klim. Dankie tog daarvoor. Hemel, hoe kon sy in ‘n paar weke so verander het? Hy het die vriendelikste, mooiste ma in Kaapstad gehad en hy was intens trots op haar. En nou? Al wat oorgebly het van haar, is hierdie kermende, klaende wese wat niks goeds in die lewe sien nie.

Petrus staan vroeg op sorg dat hy meer as betyds by die skool is. Hy is nie van plan om weer in elke klas heel voor te gaan sit nie. Dit vol kompleet vir hom of al die onderwysers net vir hom raaksien en net op hom pik so heel voor.

Hy wag nie tot die klok lui nie. Hy storm by die eerste klas in en gaan sit by die heel agterste bank. So ja, dis nou baie beter.

“Dis my plek, staan asseblief op,” kom dit effens onseker van die meisie langs sy bank.

“Is dit so?” vra hy smalend. “En wat gaan die vettie aan my doen as ek nie haar bank vir haar gee nie?” Hy kyk Maria minagtend op en af terwyl hy sy boeke doodluiters sit en uitpak.

“Sê askies!” Sy steek haar hand uit om hom aan die skouer te vat, maar hy klap dit weg.

“Askies? En waarvoor nogal, Vettie?”

Sy bars in trane uit en gaan sit op ‘n ander plek. Die volgende een gaan sit weer op die volgende een se bank, tot groot frustrasie van die onderwyser. Die hele klas is in chaos, want skielik het niemand meer die bank waar hulle gereeld op sit nie. Petrus hoor en sien niks, want hy het sy bank agter in die klas gekry. Hy glimlag tevrede.

In elke klas is dit min of meer dieselfde gesprek: “Waar is jou huiswerk, Petrus?”

“Ek het dit ongelukkig nie gedoen nie, Meneer. Ek het nog nie boeke nie. Ek is mos nuut hier, onthou Meneer nie?”

“Sorg dat jou huiswerk môre alles gedoen is, of anders ...”

“Of anders wát, Meneer?”

Net een onderwyser het hom geantwoord: “Of anders bliksem ek vir jou, mannetjie.” Die res van die onderwysers het verkies om hom liewer te ignoreer.

Die klok lui vir pouse. Petrus is honger, maar hy het ‘n plan. Hy staan net buite die deur en wag. Uiteindelik kom Maria uit. Hy vat hy haar hardhandig aan die arm. “Nou hoe lyk dit, gaan die vettie vir my haar broodjie gee? Jy het mos nie nodig om dit te eet nie, het jy?”

Sonder ‘n woord gee Maria haar brood vir hom. “Baie dankie, Vettie, dit is nou baie vriendelik van jou.”

In die Afrikaanse klas gaan die onderwyser die boeke een-een na. Hy loop nie die banke na nie. Elkeen word vorentoe geroep sodat hy hulle huiswerk by die tafel kan merk. Dit is Petrus se beurt, maar hy staan nie dadelik op nie. Hy is blykbaar onbewus van die onderwyser se vraende blik. Die kind agter hom stamp hom in die ribbes. “Vat jou boek, jong.”

Hy wag totdat die onderwyser anderpad kyk en staan dan stadig uit sy stoel uit op. Hy vat doodluiters die meisie oorkant hom se boek en stap daarmee na die onderwyser se tafel toe.

“Meneer!” wil sy beswaar maak. Petrus gryns vir haar en trek sy vinger stadig dwarsoor sy nek. Sy verstaan baie goed wat hy daarmee bedoel. As sy een woord verder praat, sal hy haar keel afsny. Beangs hardloop sy uit die klas uit terwyl Petrus met ‘sy’ boek by die onderwyser se tafel gaan staan.

Na skool stap Petrus stadig huis toe. Dit was nou ‘n lekker dag! Die onnies wat hom uitgevang het, moet maar net geduldig wees totdat hy lus voel om sy huiswerk te doen. Hy vertel vir sy ma van al die vriendelike kinders en onderwysers. Daar is selfs ‘n meisie wat haar kosblik met hom gedeel het, kan jy dit nou glo! Sy ma luister verlig na al sy stories. Dankie, Vader, die kind het baie gouer aangepas as wat sy in haar wildste drome kon dink.

Slapenstyd sit Petrus op sy bed en blaai deur ‘n lêer met sy musieksertifikate. Vies vee hy die trane van sy wange af. Sissie! Wil jy nou tjank omdat jy na jou klavier verlang? Sissie! Watter seun speel in elk geval klavier? Sissie! Sissie!

Wanneer hy uiteindelik aan die slaap raak, is sy drome deurmekaar en onsamehangend. Sy pa is by die huis, maar hy het nog altyd sy tronkklere aan. Hy weier om dit uit te trek, want die ander mense moet hom nie sien nie. Sy ma het skielik in ‘n padda verander wat aanhou kwaak, kwaak, kwaak. Hy speel nou selfs rugby en die hoofmeisie is verlief op hom.

Hy word moeg en gefrustreerd wakker. Watter snert om van te droom! Alhoewel, Ma klink nogal baie soos ‘n padda met haar ewige gekwaak oor sy skoolwerk en sy vuil klere wat op die vloer bly lê as hy klaar gestort het. Hy grinnik by homself oor die padda en sy ma.

Sy groet hom by die deur: “Tatta, Petie. Jy moet soet wees vandag.”

“Ma! Moet my asseblief nie alewig ‘Petie’ nie. Ek is g’n blerrie ‘n baby nie. Kan Ma dit asseblief nou in Ma se kop kry? En as Ma vir my ‘Petie’ voor ander mense, so wragtag sal ek Ma ignoreer, hoor. Ek is Petrus, Ma.”

“Ma’ Petie ...” probeer sy verdedig, maar hy kyk nie links of regs nie. Stywerug stap hy straat af.

Sy staan hom handewringend agterna en kyk. Wat het van haar Petie-kind geword? Gister was hy nog Petie, vandag is hy ‘n hardegat kind wat glo Petrus genoem moet word.

Gmf!

As die kind maar net met haar wil praat oor sy pa en al die ander dinge wat hom pla, maar hy is stom. Sy bid soveel keer dat sy asseblief in die oggend wakker moet word en dat alles net ‘n nare droom was.

Andries Lambert, weet jy wat jy aan my en die kinders gedoen het?



[1] Rondloper

Vrydag 01 Oktober 2021

VREEMDELING. HOOFSTUK 1

 


Hy sit wydsbeen op die man se borskas. Sy vingers boor in die ou man se strot. Hy wag al so lank vir hierdie kans ... “Vrek, bliksem, vrek!”

Die man onder hom hyg na sy asem en spartel onbeheers om los te kom, maar hy kan sien dit gaan nie meer lank wees nie. Eintlik moet hy ‘n stadige dood sterf, maar daarvoor is Petrus te ongeduldig. Hy wil die man dood hê, en die tyd daarvoor het uiteindelik aangebreek.

“Jy het gedink jy gaan loskom, ha?” grom hy bloeddorstig in Andries Lambert se beangste gesig ... ‘n gesig wat nou blouerig begin skyn. “Jy het gedink jy sal vir altyd kan hardloop, ha?” smaal hy terwyl hy sy greep om sy slagoffer se nek verstewig. Hy grinnik toe hy sien hoe die gesig onder hom van blou na byna swart verander.

Mettertyd raak die spasmas minder en die liggaam verslap onder hom. Hy lig die ou man se kop, maar verslap nie sy greep op sy strot nie. Hy kap en kap en kap die kop op die teer totdat die bloederige pappery uit sy hande glip. Nou is hy tevrede dat hy gedoen het waarvoor hy gekom het. Hy staan van die dooie man af op en stap argeloos af met die straat.

Petrus skrik natgesweet en verward wakker. Hemel, hoeveel keer moet hy nóg sy pa vermoor? Hoeveel maal moet hy nóg die satisfaksie daarvan smaak voordat dit genoeg is? As die drome net wil ophou ...!

Hy kyk op sy horlosie en besef dat dit byna opstaantyd is. Daar is geen nut in om weer te probeer slaap nie – hy sal dit in elk geval nie regkry nie. Hy kon nog nooit gewoond raak daaraan dat dit nooit regtig stil is in ‘n hotel nie. Hy staan dus op en maak vir homself ‘n koppie koffie.

Hy sit bedremmeld met sy kop in sy hande. Goeie genade tog, vandag is ‘n groot dag met belangrike onderhandelinge, hy durf nie voel soos hy voel nie. Hy skud sy kop driftig in ‘n poging om die mislikheid af te skud, maar dit het geen effek op hom nie.

Fokkit tog! Kom net reg, Petrus Lambert! Die lewe skuld jou niks.

Na ‘n derde koppie koffie sien hy min of meer kans vir die dag. Daar is ‘n ligte kloppie aan die deur. “Room service.”

Hy strompel deur toe en maak dit oop. “Baie dankie vir die ontbyt, maar ek sal dit nie vanoggend eet nie.”

But you ordered it last night,” keer die kelner.

Hy stuur hom met ‘n fooitjie in die hand weg. Hy weet hy gaan later jammer wees omdat hy ontbyt gemis het, maar die naar gevoel op sy maag laat hom gril as hy dink hy moet nou ‘n eier in sy keel afwurg. As hy net kan ophou droom! Hy gaan was sy hande oor en oor, want hy is seker daardie bloederigheid is nog steeds daar.

Toe die straler uiteindelik laat die namiddag vanaf die O R Tambo Lughawe sy neus in die lug steek, stuur hy vir Ina ‘n sms: Sien jou netnou, my lief. Ons is op pad.

Hy leun terug teen die weelderige sitplek en trek sy das los. Ina se beeld verskyn voor hom – die vrou van sy lewe! Hy kan hom nie ‘n lewe sonder haar voorstel nie. As daar een konstante faktor in sy lewe is, is dit Ina. Hy weet dat hy nêrens sou kom sonder Ina in sy lewe nie. Die lewe is inderdaad baie goed vir hom.

Hy voel in sy sak na die klein pakkie en knik tevrede dat dit nog daar is. Sowaar, sy sal hom dit nie vergewe as sy die idee moet kry dat hy vergeet het nie. Die ring het ‘n redelike gat in sy beursie gemaak, maar hy gee nie om om geld op sy vrou te spandeer nie.

Ina is nie ‘n vrou vir fieterjasies nie, maar sy het ‘n oog vir ‘n goeie ding. Hy kan hom telkens verbaas wanneer sy met ‘n stokou meubelstuk by die huis kom. Hy het al geleer om nie te vra wat sy daarmee wil maak nie, want hy weet dan is hy in die moeilikheid. By al haar dinge, het sy die vermoë om ou meubels te restoureer dat dit lyk soos nuut. Waar sou sy dit geleer het?

Petrus glimlag wrang. Ina het haar hande vol met hom gehad aan die begin. Hy wou alles koop wat sy oë sien. Hy en sy ma moes met so min oor die weg kom, dat selfs ‘n lekker groot kombuistafel en -stoele vir hom ‘n luukse was. Ina het hom ‘n slag terug winkel toe gestuur om ‘n sitkamerbank wat hy gekoop het, terug te gaan gee. Hemel! Dat hy hom nie dood geskaam het daardie dag nie!

Toe hulle in Kaapstad land, kan hy nie gou genoeg buite die lughawegebou kom en motor toe draf nie. Dit was ‘n lang week sonder Ina. Hy glimlag as hy dink dat die besigheid in Johannesburg een van die dae verkoop sal word. Hm, dit sal dinge darem baie makliker maak, sowaar. As hy nie so gereeld tussen Kaapstad en Johannesburg hoef te pendel nie, sal dit hom soveel meer tyd by die huis en saam met Ina gee.

Soos gewoonlik verwag Petrus die getroue Cassie by die motor. Hy frons liggies toe Cassie nie uitklim om hom te help met sy bagasie nie, maar hy maak nie ‘n bohaai daaroor nie. Cassie sal wel ‘n rede hê waarom hy nie op sy pos langs die motor is nie. As dit net nie weer die ou se rumatiek is nie! Laas keer het die dokter hom mos sommer ‘n maand afgeboek ...

Hy sit sy tas in die kattebak. “Ou Cas-man ...” begin hy terwyl hy inklim.

“Meneer wou gesê het?” vra Ina glimlaggend.

“My lief! Wat ‘n verrassing! Jy is die mooiste ding wat nog vandag met my gebeur het. Waaraan het ek die eer te danke ... en waar is Cassie?”

Sy leun oor om ‘n soentjie te bedel. “Ek het geweet jy sou vergeet watter dag dit is, daarom het ek Cassie vanaand afgegee. Ek het gekom om jou te herinner aan ons groot dag.”

Hy frons gemaak verward en krap sy kop. “Hmm, help my reg?”

Sy trek haar asem diep in om hom te antwoord en frons verontwaardig.

Petrus bars hy uit van die lag. “Dommies, natuurlik weet ek dat dit vandag ons troudag is. Hoe sal ek ooit kan vergeet?

Hy leun oor na haar toe en druk sy kop in haar hare. “Aah, jy ruik lekker,” sug hy in haar oor. “Nou weet ek hoekom ek so haastig was om by die huis te kom – jy bly maar my roos van die Namib, my lief,” sug hy behaaglik.

Sy druk hom speels weg. “Kom, ons tweetjies het ‘n afspraak, jong ... of is jy baie moeg?” voeg sy half huiwerig by. “Ons kan die ete altyd uitstel na môre of oormôre?”

“Natuurlik is ek moeg, maar nooit te moeg om saam met jou te kuier nie, my lief. Ek is so honger, ek kan ‘n bees verslind. Kom ons ry dat ons daar kom.”

Ina kyk bekommerd na Petrus. Hy lyk regtig moeg en glad nie homself nie. Sy oorweeg om hom daarna te vra, maar bedink haarself. Hy sal wel die een of ander tyd uitkom daarmee, sy weet. Sy brand ook om te hoor of die onderhandeling om die besigheid te verkoop, goed verloop het, maar dit kan ook maar wag tot môre. Vanaand wil sy net met haar liefde kuier, niks anders nie.

Petrus haal sy selfoon uit en skakel dit aan. Ina murmureer luidkeels daaroor: “Ag nee man tog, kan ons nie net vanaand sonder die foon kuier nie?”

Petrus wil haar antwoord, maar die selfoon maak hom stil. Die boodskappe wat deurkom, moet ten minste tien wees, besef hy. Verontwaardig probeer hy die foon weer afskakel, maar hy sien dat al die boodskappe van dieselfde nommer af is.

“Ai, nou wat dan tog nou?” kla hy.

Ina draai na hom toe: “Dit is presies waarom ek nie wou hê dat jy die foon aansit nie, Petrus. Dit is hoe dit altyd gaan – eers kom die werk en jou foon, dan ek en heel laaste dalk nog Junior ook.”

Hy weet hy is nou in die moeilikheid by sy vroutjie, maar maak in elk geval die boodskappe oop. Hy laat sy oë vlugtig oor die skerm gaan. Hy steek vas by die laaste een: Meneer Lambert, skakel ons asseblief dringend. Ouma Lambert is vanoggend vroeg oorlede.

“En?” vra Ina, die ongeduld hoorbaar in haar stem.

Hy sug swaar en vee deur sy hare. “Dis my ma ... sy vanoggend is oorlede.”

Sonder ‘n woord verder skakel Ina die motor aan en ry huis toe. Hy sit verwese langs haar. Hulle praat nie – wat is daar om nou te sê? Sy kan hom verwyt met “Ek het jou mos ‘n duisend maal gesê kom ons ry na haar toe,” maar sy doen dit nie. Nou is nie die regte tyd daarvoor nie, dit weet sy.

By die huis klim hy woordeloos uit die motor en strompel die donker tuin in. Ina parkeer die motor en gaan staan in die voordeur. Sy krimp ineen toe sy hom hoor gil van ingehoue emosie.

Nee, los hom dat hy homself uitwoed, dit is die beste, besluit sy. Maar opeens ruk sy regop: Wat nou as hy weer aan die suip gaan? Hoe gaan hulle dit oorleef as hy net weer aangaan waar hy ‘n paar jaar gelede opgehou het?

Sy storm op die drankkabinet af en soek naarstigtelik na die sleutel. Ja, sluit die ding, dan kan jy gerus wees. Of? Wat was dit nou weer wat hy daardie laaste dag, glas in die hand, vir haar gesê het? Sy versteen voor die drankkabinet toe sy daardie dag onthou.

Sy het laat geslaap en eers by tienuur uit die kamer uit gekom. Tot haar skok het hy op die sonstoep gesit met ‘n glas drank.

“En dit nou, Petrus?” wou sy, so kalm as wat sy die woorde kon uitkry, by hom weet.

“Nou mag ‘n man nie meer by sy eie huis doen soos wat hy lus is nie? Van wanneer af is jy toe die polisie om my dop te hou?”

Ina het gestol in haar spore. Petrus was nog altyd lief vir sy drankie, maar by tye het dit buite beheer geraak. As hy hierdie tyd van die dag reeds met ‘n sleeptong praat, kan jy nou maar net weet die moeilikheid is op pad.

Vandag weet sy dat sy dit nie moes doen nie, maar op daardie oomblik het sy alle beheer verloor. Sy het op hom af gestorm en die drankbottel probeer gryp.

“En dit nou?” het hy ysig gevra, terwyl hy haar aan haar arm beetkry. “Jou wou sê?” het hy uittartend gevra.

Sy het los geruk en, in plaas van om die bottel te gryp, het sy sy glas omgestamp. Hy was sopnat van die drank, maar dit het hom nie gepla nie.

“Luister nou mooi vir my, Ina’tjie, jy mag dit nooit weer doen nie. Het jy my gehoor? ‘n Mens mors nie so met drank nie,” het hy gedreig en vir hom nog ‘n glas geskink.

“Petrus, ek ken jou mos nie so nie!”

“Nou hoe ken jy my dan? Ek en jy het mos ontmoet toe ek op my beste was, dan nie? Onthou jy dan nie, my liewe vroutjie? Onthou jy nie meer die dae toe jy vir my en Goliat kom kuier het nie?”

Sy het stil omgedraai en uitgestap. Die Petrus wat sy nou gesien het, was nie die man met wie sy getroud is nie. Hierdie is ‘n vreemde skepsel wat saam met die brandewyn by haar huis ingekom het.

Hy het kamer toe gegaan en sy roes af gaan slaap. Sy was dwalend, maar het besef dat sy iets drasties sou moes doen as sy haar huwelik wou red. Sy wou toe ook die kabinet sluit en hy het haar daar betrap.

“Ina,” het hy met ‘n hartseer stem en geboë skouers gefluister, “as jy my nie kan vertrou nie, wat maak ons dan nog in dieselfde huis ... kamer ... bed? Jy sal saam met my moet glo dat ek die drankduiwel kan oorwin, anders veg ek ‘n verlore stryd.”

“Maar jy ...” het sy begin verweer.

“Nee, ek niks nie, my vrou. Ek vra jou dat jy my moet vertrou,” het hy oor sy skouer gesê toe hy reeds amper by die deur uit was.

Sy het hom in die kombuis voor die wasbak gekry. Die reuk van alkohol het swaar in die lug gehang. Sy was net betyds om te sien hoe hy die laaste bietjie van die brandewyn in die wasbak uitgooi. Hy het gemaak of hy haar nie sien nie ... dalk wou hy haar nie sien nie? Eers het hy die bottel buite in die asdrom gaan gooi en toe die glas tydsaam onder die kraan kom staan en was. Sy het die glas by hom gevat, dit afgedroog en in die kas gebêre.

Teenstrydig met wat in haar hart aan die gang was, het sy hom getroos: “My lief, my sterk man, my hero! Natuurlik vertrou ek jou. En ja, natuurlik sal ek hierdie pad saam met jou stap.”

Hoe lank gelede was dit? Ina skud haar kop en trek haar skouers vasberade regop. Ina Lambert, jy sal hierdie een ook kan oorwin. Niks was nog ooit groter en erger as die liefde tussen jou en Petrus nie. Kalmeer net en wees rustig ...

Buite, in die tuin, worstel Petrus met hewige selfverwyt en hartseer. As hy net asem kan kry! Hy wurg die das af en laat dit net daar op die grond val. Hy sukkel-sukkel met sy boonste knoop en in ‘n desperate poging om dit los te kry, pluk hy die hemp oop dat dit met ‘n skeurgeluid meegee onder die geweld waarmee hy dit doen.

Sy liggaam ruk vooroor in ‘n pynlike spasma. Hy word naar op die gras en val in sy eie braaksel neer.

Here! Hoe kon ek dit toelaat dat sy alleen sterf? Waarom moes dit so gebeur? Sy was tog immers my ma, Here!

Hy krul hom op in ‘n klein bondeltjie op sy sy en snik sy selfverwyt en magtelose hartseer uit.

Hy raak snikkend aan die slaap en skrik wakker met die voëls wat kwetter in die bome. Die son gooi ‘n sagte gloed oor die tuin. Vir ‘n oomblik is hy totaal en al gedisoriënteerd en probeer hy uitmaak waar hy is ... tot dit hom met ‘n hamerhou tref: Ma is dood! Hy bly eers so lê en luister na die voëls. Hoe wens hy nie vandag dat hy ook so vry in die bome kon sit en kwetter nie. Maar helaas, daardie soort vryheid was hom nog nooit gegun nie. Hy staan styf-styf op en stap stadig huis toe.

Ina wag in die kombuis. “Kom, hier is vir jou ‘n koffietjie, my man,” bied sy aan. Sy byt op haar tande om nie histeries aan die huil te gaan nie. Kyk hoe lyk haar groot, sterk man.

Sy het ophou tel hoeveel koppies koffie sy deur die nag gedrink het. Sy kon eenvoudig nie gaan slaap terwyl haar man daar buite in so ‘n toestand is nie. Sy wou hom gaan wakker maak vroeg vanoggend, maar het daarteen besluit – hy moet self opstaan en huis toe kom wanneer dit vir hom reg is.

Dit verstom hom dat sy so kalm kan wees terwyl sy kop so deurmekaar is. Het sy hom dan nie gehoor dat Ma dood is nie? Hoe kan sy so normaal optree op so ‘n dag?

“Jy het seker baie lekker geslaap, ha?” vra hy sarkasties.

Ina antwoord hom nie. Hy hoef nie te weet dat sy nie geslaap het nie. Hy sal ook nou nie verstaan dat sy baie jammer is vir hom en alles moontlik sou doen as sy hom net asseblief hierdie hartseer kon spaar. Sy gaan stilweg haar gang in die kombuis.

Opeens besef hy dat hy totaal en al onredelik is. Ina het Ma net skrams ontmoet voor die troue en daarna nooit weer gesien nie. Kan hy regtig van haar verwag om emosioneel betrokke te wees?

Hy leun met sy elmboë op die tafel. Hy kyk nie op toe hy met haar praat nie. “Ek sal begrafnis toe moet gaan ... of ek wil of nie ... ek wens dit was nie nodig nie.” Hy vryf ingedagte oor die litteken op sy wang.

Sy gaan staan langs hom en vryf sy rug soos ‘n mens ‘n baba tot kalmte sal probeer bring. “Liefde, ek sal saam met jou gaan. Jy hoef nie hierdie ding alleen aan te pak nie.”

Hy val haar hard in die rede: “Ina, jy moet asseblief mooi verstaan dat hierdie nie een of ander sosiale geleentheid gaan wees nie. Ek moet my ma gaan begrawe ... en ja, ek moet Keetmanshoop weer in die oë gaan kyk.”

“Petrus, jy is mos nou baie onredelik, dink jy nie so nie?”

Hy slaan hard op die tafel met sy oop hand. “Hemel, vroumens ...” sis hy, “los my liewer net uit, asseblief. Ek raak dalk dinge kwyt wat kon gebly het.”

Sy draai geraak weg van hom af. Sjoe, sy is mos nie so onnosel om te dink hy wil gaan ontspan op Keetmanshoop nie! Sy byt haar lip vas om die woorde wat dreig om uit te kom, te keer. As hy in hierdie bui is, los jy hom doodstil uit, dit weet sy uit dure ondervinding. Haar oupa het mos altyd gesê: “My kind, ‘n toe bek is ‘n heel bek.” As daar nou al ooit wyse woorde was, dan was dit hierdie sêding van daardie liewe ou korrelkop.

Sy maak die ontbyt in stilte. Af en toe hoor sy Petrus sug, maar hy praat ook nie. Sy geboë figuur is ‘n stil getuie van die wroeging in sy hart.

“Hier is jou ontbyt. Ek het omelet gemaak soos wat jy daarvan hou.”

Hy skud sy kop ‘n slag voordat hy opkyk. “Ek is nie honger nie, dankie.”

“Petrus?”

“Ek moet gaan inpak. Ek ry Keetmanshoop toe. Daar is baie wat gedoen moet word voordat die begrafnis kan plaasvind.”

Hy stap tot by die gangdeur en steek vas. “Ina ...”

Sy stap in sy arms in en klou soos ‘n drenkeling aan hom. “Petrus, moenie my uitsluit nie, my man. Ek het jou te lief om jou nou te verloor.”

“Ek is binne ‘n week weer terug, jy sal sien. Laat my net asseblief toe om hierdie pad nou op my eie te loop, Ina. Ek het jou lief en niks kan ooit daaraan verander nie.”

Sy hoor sy voetstappe met die gang af en dat hy met iemand op die foon praat. Opeens is haar geliefde Petrus ‘n vreemdeling vir haar.

‘n Halfuur later staan sy hom verslae agterna en kyk. Hy was so haastig, dit het kompleet gevoel hy weet nie eens dat hy haar groet nie. Sy strak gesig het darem ‘n oomblik versag toe hy haar skrams op die wang soen.

Sal hy ooit weer huis toe kom? Wat as hy weer ... Sê nou maar hy doen dit weer? Nee, asseblief tog, Here, net nie dit nie! Help asseblief my Petrus dat hy kop sal hou en huis toe kom as alles klaar is.

Ina stap tuin toe. As sy voel soos sy nou voel, moet sy haarself besig hou. Dit was nog altyd haar behoud – om besig te bly en nie te veel te top oor dinge nie. Petrus het vanoggend sonder sy skoene, baadjie en das huis toe gekom. Sy moet dit optel voordat die hond dit in die hande kry, weet sy. Sy tel die baadjie op en skud die dooie grassies af. Sy verbeel haar dat sy iets hoor val iewers, maar steur haar eers nie daaraan nie. Dis eers toe sy voel dat sy op iets trap, dat sy af kyk en die klein boksie op die gras sien lê.

En dit nou? wonder sy. Sy wil dit eers net weer terug in die baadjie se sak sit, maar besluit om tog te loer wat dit is. Die ring laat haar snak na haar asem. Sy maak die boksie toe en sit dit terug in die baadjie se sak. Petrus het nog altyd goeie smaak gehad, maar hierdie keer oortref hy homself, knik sy met ‘n teer glimlag.

Petrus kyk op sy horlosie toe hy die buitewyke van die stad bereik. Hy behoort teen laat vanaand reeds in Keetmanshoop te wees. Hy sit die radio aan, maar byna dadelik sit hy dit met ‘n ergerlike gebaar af. Hy het stilte nodig, nie die geklets van mense wat nie weet waaroor die lewe gaan nie.

Hy laat homself geen tyd toe om af te trek en ‘n bietjie te rus nie. Wanneer hy brandstof ingooi, koop hy ‘n koppie koffie en sigarette. Hy glimlag wrang by die gedagte oor hoe Ina sal reageer as sy moet weet dat hy sit en rook. Sy het hom jare terug oortuig om op te hou, maar vandag het hy ‘n bietjie meer nodig as net ‘n koppie sterk, swart koffie.

Toe hy Keetmanshoop se liggies in die verte sien, trek sy maag op ‘n knop. Sowaar, hy het die hele pad tyd gehad om homself voor te berei op hierdie ding, maar nou is dit opeens vir hom te erg.

Petrus Lambert, jy is mos nie ‘n sissie nie. Wat makeer jou nou? Ruk jou reg, man. Papbroek wat jy is ... kan nie eens ‘n ou plattelandse dorpie met plattelandse mense face nie. Sies, man, sies vir jou!

Sy voet is swaar op die rem as hy in ‘n stofwolk van die teer af trek. Hy gooi sy kop op sy hande wat krampagtig om die stuurwiel klou.

Ek het meer tyd nodig om te dink, ek kan nie hierdie ding doen nie. Ek kan nie die mense in die oë gaan kyk nie ... en dan is daar nog Ma in die lykshuis ook ...

Op langelaas besluit hy om in ‘n gastehuis net buite die dorp te oornag. Dit skep darem nog ‘n klein bietjie afstand tussen hom en die ... die wát? Ergerlik skud hy sy kop. Jy is eintlik niks beter as jou sleg pa nie, weet jy? Jy het drooggemaak en net soos hy, het jy die pad gevat en aanhou hol.

Petrus kry ‘n wrang trek op sy gesig. Hy slaan met sy handpalms op die stuurwiel en skree op homself: “Jy is ‘n man, Petrus Lambert, nie ‘n muis nie. Ruk jou reg en face jou verlede. Hier sit jy en grens en sanik oor stupid mense en wat hulle mag dink, maar wie sê vir jou dat hulle ooit nog in die dorp is? Vir al wat jy weet, het die hele ou spulletjie al lankal hulle goed gevat en getrek ... wie wil nou in elk geval lewenslank in so ‘n gehuggie bly?”

Maar slapenstyd is die spoke terug in sy kop. Ten spyte van die feit dat hy eintlik baie moeg behoort te wees, is daar geen sprake van slaap nie. Hy gaan sit buite op die kamer se trappie en staar die donker nag in. Dit is hier in hierdie dorp waar sy lewe vir altyd en altyd verander het. Dit is hier wat hy die wrede kant van die lewe leer ken het. Dit is hier wat hy geleer het dat liefde nie regtig deel van sy woordeskat is nie. Dit is hier wat hy geleer het dat jou vriende toe eintlik jou vyande is.

Hoeveel kan nou eintlik in dertig jaar verander? Dit is ongelooflik hoe kort dit voel, maar aan die anderkant voel dit ook soos eeue gelede ...


 

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...